Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is ….. (Mat 5: 6)

Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is …..  (Mat 5: 6)

Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.

judge-gavel2Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense los gewoonlik  ‘n blywende indruk op ander se lewe.   

In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “ ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het.

Die 4 de Saligsprekinge is gebou op die 3 de Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie.

Die Lewende Bybel vertaal die 4 de Saligspreking met ”’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”

Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie.

Luister wat sê Mat 23:23: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.” 

Die Farisieërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.

Luther se bekende uitspraak: “Hoe heiliger, hoe sondiger” word ook in die lig verstaanbaar. Hoe nader ‘n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ‘n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”  

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou werknemers billik behandel.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou beste gee vir jou werkgewer.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy mense nie ekonomies uitbuit nie.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word.

‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou ontferm oor die arme en die randfigure in die samelewing.

Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. Toe hy in die hel was het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ‘n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien nie, terwyl Lasarus buite sy poort gelê het.

As ‘n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ‘n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie.  Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe.

Maar die saligspreking het ook betrekking om te honger en te dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14:4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie.” In Joh 6:35 sê Jesus dat hy die brood van die ewige lewe is en dat  elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie.”

Toe die verlore seun honger was het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die 4 de saligspreking praat.

Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors.

Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons sy geregtigheid met ons hele hart najaag.

AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is die sagmoediges ….. (Mat 5: 5)

Geseënd is die sagmoediges …..  (Mat 5: 5)

Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ‘n persoon as ‘n “sagmoedige Neelsie” gepraat.

Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, pap en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want “nice guys come second.” Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie, wat as volg bekend is, naamlik: “hond eet hond.” Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.”

Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ‘n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ‘n leeu is, as ‘n 100 jaar ‘n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.

Die Skrifgeleerdes, die Farisieërs, die Esseners en die Selote het elkeen hulle eie verwagtings van Jesus gehad. Maar hulle het Hom gesien as ‘n persoon van krag, invloed en wat die Romeinse juk omver kon gooi. Toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie en so mak soos ‘n lam voor Pilatus en Herodus was het hulle standpunt verander na: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” 

maxresdefaultDaarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5, wat lees: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê. Eers as ‘n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ‘n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ‘n Ander woord kan miskien wees, sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ‘n diep egte onselfsugtigheid.

Sagmoedigheid in Grieks beteken, dit is ‘n jong hings wat ingebreek is. Voor dit was die hings gevaarlik en onbruikbaar. Maar nadat die hings ingebreek is, het dit sag en bruikbaar geword vir sy eienaar. Sagmoedigheid breek jou wilde humeur en nukke af en maak jou sag en bruikbaar vir die Here. Jy verloor jou aggressie en word selfbeheersd. John MacArthur skryf: “Meekness is a gentleness and a mildness and a subdued character, but it is not weakness. It is power under control.”

‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land, sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, Maar Abraham was tevrede met sy gedeelte. Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ‘n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.

Nog Bybelse voorbeelde van sagmoedigheid is Josef, wat deur sy broers verkoop is as ‘n slaaf aan slawehandelaars en toe in die huis van Potifar beland het. Na sy tronkepisode en sy vrylating nadat hy die Farao se drome uitgelê het, het hy gevorder tot die tweede magtigste man in Egipte. Toe daar ‘n 7 jaar hongersnood uitbreek en sy broers kom kos kom bedel in Egipte, kon hy hom hardekoejawel gehou het. Maar nee, hy het in alle sagmoedigheid sy broers vergeef en vir hulle kos en woonplek in Egipte aangebied en so sy familie gered deur sy sagmoedigheid.

Nog ‘n voorbeeld is Dawid wat vir Saul gevlug het. Saul was op hom jaloers en wou hom doodmaak. Terwyl Saul een nag in ‘n grot gaan slap het, het Dawid tot by die slapende Saul gekom. Hy kon vir Saul net daar doodmaak, maar hy het Saul se lewe gespraar en slegs sy spies en waterkruik geneem, om vir Saul te wys hy kon hom doodgemaak het. Dit was ook ‘n daad van sagmoedigheid.  

Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Ps 51: 19 getuig dat sagmoedigheid opkom uit ‘n gebroke en verslae hart.”

Sagmoedigheid beskerm nooit myself nie. Daar is egter ook tye van woede soos wat Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het. Maar dan het Hy dit gedoen vir sy Vader, nie vir Homself nie. Wanneer dit oor “ons” sake gaan moet ons sagmoedig wees, maar as ons opstaan vir ander mense dan kan ons maar op hulle regte staan met ons hele lewe.

Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ‘n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte; net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ‘n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.

Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower.  Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.

images1Sagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ‘n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen op jou lewenspad.

Christus Jesus is natuurlik die voorbeeld by uitstrek van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra. Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is dié wat treur …..

Geseënd is dié wat treur …..

Mat 5: 4

‘n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ‘n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

maxresdefault

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ‘n klaagelement in hulle. Dink ook aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ‘n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ‘n tyd om te treur en ‘n tyd om met blydskap te leef. Inderdaad sê Jesus in Mat 5:4, geseënd is dit wat treur.

Maar belangrik is, dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie.  Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ‘n kind wat ‘n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ‘n toestand van treur kom, voor jou hart verander kan word. Om te treur bring lewensverandering.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergaan. Wat verkoop nou beter as ‘n heerlike skinderstorie. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid. Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ‘n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ‘n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huwelik en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas. Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ‘n gemeenskap wat daar matige voorspoed is. Mense word sag. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ‘n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors word na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ‘n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ‘n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ‘n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ‘n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus vir die sonde eens en altyd gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms sal  alles nuut word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra, waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Geseënd is die wat afhanklik is …

Geseënd is die wat afhanklik is …..  Mat 5: 3

Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanlik te maak. Van banke, motors, geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om vir jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, groot mense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle afhanklikheid gaan verloor.

Daarom is dit harde woorde van Jesus, wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien suksesvol, beteken vir ons om van niemand afhanklik te hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ‘n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ‘n sandkasteel wegspoel met hooggety.

afhanklik-585x401

Die eerste saligspreking, begin met geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Geluk, begin by ‘n heel spesifieke sort armoede, naamlik “die wat arm van gees is.” (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders.

Dirkie Smit skryf, dat dit nie oor ‘n triomfantelike geloof, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevols of rustig aan hierdie geloof nie. Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees”, vertaal met “the desperate”. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ‘n soort verleentheid, verslaenheid, en radeloosheid met hulself.  Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ‘n kandidaat maak van ‘n vreemde geluk. 

God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.

Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ‘n vreemde hemelse seën en geluk.

Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ‘n stadspoort wat laag gebou is, sodat ‘n kameel nie die stadspoort kan binnehardloop in ‘n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë, nadat sy vrag afgelaai is deur die stadspoort kruip. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: ““You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”

Sal boeke soos: “How to Be Nothing? of “How to Be a Nobody?” verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.

John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive.”, na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe die heuning gekom. Uit dit wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.

In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.

Die hakkelende Moses, word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou ‘n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy ”As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.

Dit bly vir ons as mens ‘n moeilike saak om regtig total en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ‘n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink jy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid van God.

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)