Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is ….. (Mat 5: 6)
Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.
Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense los gewoonlik ‘n blywende indruk op ander se lewe.
In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “ ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het.
Die 4 de Saligsprekinge is gebou op die 3 de Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie.
Die Lewende Bybel vertaal die 4 de Saligspreking met ”’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”
Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie.
Luister wat sê Mat 23:23: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie.”
Die Farisieërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.
Luther se bekende uitspraak: “Hoe heiliger, hoe sondiger” word ook in die lig verstaanbaar. Hoe nader ‘n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ‘n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou werknemers billik behandel.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou beste gee vir jou werkgewer.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy mense nie ekonomies uitbuit nie.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word.
‘n Mens is honger en dors na wat reg is, as jy jou ontferm oor die arme en die randfigure in die samelewing.
Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. Toe hy in die hel was het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ‘n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien nie, terwyl Lasarus buite sy poort gelê het.
As ‘n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ‘n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie. Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe.
Maar die saligspreking het ook betrekking om te honger en te dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14:4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie.” In Joh 6:35 sê Jesus dat hy die brood van die ewige lewe is en dat elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie.”
Toe die verlore seun honger was het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die 4 de saligspreking praat.
Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors.
Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons sy geregtigheid met ons hele hart najaag.
AMEN
BRONNELYS
MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)