Geseënd is die sagmoediges ….. (Mat 5: 5)
Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap waaroor die mense in die algemeen oor opgewonde is nie. Daar word dikwels neerhalig van so ‘n persoon as ‘n “sagmoedige Neelsie” gepraat.
Sagmoedigheid as deug is nie so gewild nie, omdat dit verwar word met woorde soos lamlendigheid, pap en ruggraatloosheid. Sagmoedigheid werk nie, want “nice guys come second.” Ons sien dit in die politiek, in die ekonomie en op die sportveld. Daar is die uitdrukking in die politiek en ekonomie, wat as volg bekend is, naamlik: “hond eet hond.” Hierdie uitdrukking is baie waar. Inderdaad is dit waar dat “hond eet hond.”
Nietzsche is gegrief omdat die Evangelie ‘n mens nie sterk maak nie, maar eerder swak. Mussolini het gesê dat as hy kon kies hy eerder een dag ‘n leeu is, as ‘n 100 jaar ‘n lam. Ons glo eerder in begrippe soos manlikheid, selfgelding en selfhandhawing.
Die Skrifgeleerdes, die Farisieërs, die Esseners en die Selote het elkeen hulle eie verwagtings van Jesus gehad. Maar hulle het Hom gesien as ‘n persoon van krag, invloed en wat die Romeinse juk omver kon gooi. Toe Jesus nie aan hulle verwagtinge voldoen het nie en so mak soos ‘n lam voor Pilatus en Herodus was het hulle standpunt verander na: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
Daarom val die woorde van die Here Jesus Christus vreemd op die oor in Mat 5: 5, wat lees: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Selfhandhawers hou nie van hierdie woorde nie. Selfhandhawers is mense wat voel dat hulle alleen is in hierdie lewe en daarom vir hulself moet sorg. Dit is vir selfhandhawers moeilik om sagmoedig te wees, want hulle dink klein oor God. Hulle het nog nie geleer om God in alles te vertrou nie. Daarom baklei hulle maar vir wat hulle wil hê. Eers as ‘n mens geleer het om van die Here afhanklik te wees, kan ‘n mens die deug van sagmoedigheid bemeester. Wie van die Here afhanklik is, vir so iemand is dit maklik om sagmoedig te wees. Maar wat is sagmoedigheid presies? ‘n Ander woord kan miskien wees, sagtheid, saggeaardheid, beheerstheid, respek, nederigheid of ‘n diep egte onselfsugtigheid.
Sagmoedigheid in Grieks beteken, dit is ‘n jong hings wat ingebreek is. Voor dit was die hings gevaarlik en onbruikbaar. Maar nadat die hings ingebreek is, het dit sag en bruikbaar geword vir sy eienaar. Sagmoedigheid breek jou wilde humeur en nukke af en maak jou sag en bruikbaar vir die Here. Jy verloor jou aggressie en word selfbeheersd. John MacArthur skryf: “Meekness is a gentleness and a mildness and a subdued character, but it is not weakness. It is power under control.”
‘n Baie mooi voorbeeld van sagmoedigheid vind ons in Gen 13, waar Abraham by die verdeling van die land, sy selfsugtige nefie Lot eerste laat kies het. Lot het vir hom die beste gedeelte gekies, Maar Abraham was tevrede met sy gedeelte. Hy het nie twis gesoek nie. Daarom is Abraham ‘n voorbeeld van diep en egte onselfsugtigheid. Hy het met vergenoegdheid geleef. Hy het min waarde aan wêreldse goed gehad. Abraham was van God afhanklik en hy het geweet die Here sal vir hom sorg.
Nog Bybelse voorbeelde van sagmoedigheid is Josef, wat deur sy broers verkoop is as ‘n slaaf aan slawehandelaars en toe in die huis van Potifar beland het. Na sy tronkepisode en sy vrylating nadat hy die Farao se drome uitgelê het, het hy gevorder tot die tweede magtigste man in Egipte. Toe daar ‘n 7 jaar hongersnood uitbreek en sy broers kom kos kom bedel in Egipte, kon hy hom hardekoejawel gehou het. Maar nee, hy het in alle sagmoedigheid sy broers vergeef en vir hulle kos en woonplek in Egipte aangebied en so sy familie gered deur sy sagmoedigheid.
Nog ‘n voorbeeld is Dawid wat vir Saul gevlug het. Saul was op hom jaloers en wou hom doodmaak. Terwyl Saul een nag in ‘n grot gaan slap het, het Dawid tot by die slapende Saul gekom. Hy kon vir Saul net daar doodmaak, maar hy het Saul se lewe gespraar en slegs sy spies en waterkruik geneem, om vir Saul te wys hy kon hom doodgemaak het. Dit was ook ‘n daad van sagmoedigheid.
Sagmoedige mense is mense wie se hart iets verstaan van die lyding van die wêreld en wat weet dat hulle, al gebeur wat ook al, niks wil doen om die lyding nog groter te maak nie. Ps 51: 19 getuig dat sagmoedigheid opkom uit ‘n gebroke en verslae hart.”
Sagmoedigheid beskerm nooit myself nie. Daar is egter ook tye van woede soos wat Jesus die tempel in Jerusalem skoongemaak het. Maar dan het Hy dit gedoen vir sy Vader, nie vir Homself nie. Wanneer dit oor “ons” sake gaan moet ons sagmoedig wees, maar as ons opstaan vir ander mense dan kan ons maar op hulle regte staan met ons hele lewe.
Waarvandaan kom die sagmoedigheid? ‘n Mens kan sag en vriendelik wees met ander, in onselfsugtigheid leef, gelate wees oor jou regte; net as jy weet dat jou lewe en jou lot in die sterk veilige Vaderhande van die Here is. Dit is eers wanneer ‘n mens dit doen, wanneer jy die totale lewe radikaal vanuit God en Sy sorg beleef, dat sagmoedigheid vanself inkom in jou lewe.
Ons wil so graag groter prestasies, groter suksesse, groter winste, meer “koninkrykies” vir onsself inpalm. Ons is baie keer soos Alexander die Grote wat net geleef het vir die volgende land wat hy kan verower. Die Here beloof egter dat die een wat sagmoedig is oor sy regte, beloon sal word met die nuwe aarde wat vir ons wag. Dit kan nie verkry word deur daarvoor te baklei nie, maar daarop te wag.
Sagmoedigheid beteken dat jy ander se emosies soos ‘n veertjie sal lees en sensitief sal wees met elke mens op jou lewenspad. Dat jy so sensitief sal wees, dat jy bedagsaam en sag sal optree teenoor elkeen op jou lewenspad.
Christus Jesus is natuurlik die voorbeeld by uitstrek van sagmoedigheid. Hy het homself totaal en al verloën tot aan die kruis. Hy het nie op sy regte gestaan nie, maar die heil van die wêreld op Sy hart gedra. Die Here sorg vir ons. Ons hoef nie te baklei vir iets nie. Wie van God afhanklik is, kan sagmoedig wees!
BRONNELYS
MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)