Geseënd is dié wat treur …..


Geseënd is dié wat treur …..

Mat 5: 4

‘n Groot deel van Karl Marx, die vader van kommunisme se weerstand teen die Evangelie en godsdiens is op ‘n wanvoorstelling gebou. Marx was gekant teen godsdiens omdat hy gemeen het dat dit  die massa soos opium verdoof, teen die onaangename realiteite van elke dag. Niks is egter verder van die waarheid nie. Die Bybel leer ons inderdaad om te treur oor die stukkendheid van die lewe.

maxresdefault

Daarom is daar die Klaagliedere van Jeremia en bykans die helfte van die Psalms het ook ‘n klaagelement in hulle. Dink ook aan die boek Job, wat ook handel oor lyding. Dan is daar ook die treurmares van die boek Prediker. Soos Prediker beklemtoon daar is ‘n tyd vir alles, moet ons verstaan daar is ‘n tyd om te treur en ‘n tyd om met blydskap te leef. Inderdaad sê Jesus in Mat 5:4, geseënd is dit wat treur.

Maar belangrik is, dat ons oor die regte goed moet treur. Dit sou verkeerd wees om te treur oor jou eie selfsugtige behoeftes wat nie bevredig word nie.  Dit is doodeenvoudig selfsug. Dan is jy soos ‘n kind wat ‘n tantrum gooi, as hy of sy nie hul sin kry nie.

Wat Jesus hier bedoel met treur, het veral betrekking oor die sondetoestand van die wêreld en die stukkendheid van die wêreld. Eerstens moet ons treur oor ons eie en die wêreld se sondenood. Voor ek tot bekering kan kom, moet ek eers treur en berou toon oor my sonde. Dawid het in Psalm 51 intense berou oor sy sonde met Batseba en dat hy haar man doodgemaak het. Ons lees hoedat hy sy klere geskeur het en as op sy kop gegooi het. Dit het gelei tot sy bekering. Jy moet eers in ‘n toestand van treur kom, voor jou hart verander kan word. Om te treur bring lewensverandering.

Maar jy moet ook kan treur oor die sondenood van die wêreld. Dikwels is ons soos Jona wat buite Ninevé sit en ons verlustig aan ander se sonde en ondergaan. Wat verkoop nou beter as ‘n heerlike skinderstorie. In plaas van te treur oor ander se sonde, kan ons ons dikwels verlustig in hulle verleentheid. Eers as ek treur oor ander se sondenood, kan ek werklik ‘n getuie van die Here Jesus se liefde wees. Treurendes word die beste dissipels en sendelinge vir die Here Jesus Christus. Omdat jy treur, kry jy ‘n hart vir mense wat verlore gaan in hulle sondenood. Jy word gretig om die goeie boodskap van die Evangelie by hulle uit te bring. Tweedens moet jy ook kan treur oor die stukkendheid van die mensdom en die wêreld. Ons leef in ‘n gebroke wêreld. Daar is politieke nood, ekonomiese ellende, maatskaplike nood, ekologiese bedreigings, huwelik en gesinsprobleme, werkloosheid en so kan die lysie langer word.   Gewone mense se reaksie is om daarvan weg te vlug en die blaam op iets of iemand te plaas. Mense gaan op in die sinlike genot wat die wêreld kan bied. Die reaksie kom nog meer voor in ‘n gemeenskap wat daar matige voorspoed is. Mense word sag. Hulle verleer die vermoë om te ly. So word ontvlugting en vermyding ‘n byna permanente lewenshouding.

Maar slegs deur te treur kom daar lewensverandering. Wanneer jy werklik getreur het, kan jy sagmoedig word en honger en dors word na wat reg is. Eers as jy werklik getreur het, kan jy barmhartig, rein van hart en ‘n vredemaker wees. Deur te treur kry jy ‘n hart vir die wêreld.

Maar om te treur, het ook ‘n vreemde troos. Daarom is die Bybel by uitstek ook ‘n troosboek. In verskillende variasies kom die boodskap na ons toe: “Moenie vrees nie” of “Moenie bang wees nie.” Die troos van die Here het twee kante. Die eerste kant is dat Jesus Christus vir die sonde eens en altyd gesterf het. Die tweede kant is dat met Jesus se wederkoms sal  alles nuut word. Daar sal nie meer gebrokenheid wees nie. Nou kan die lewe ons nog seermaak, maar dit kan ons nie vernietig nie.

Ons moet nie net vra, waaroor kan ek vandag dankbaar en bly wees nie. Ek moet ook vra: Waaroor kan ek vandag treur? Want dit is deur te treur, dat lewensverandering plaasvind. Daarom is daar dankpsalms, lofpsalms en vertrouenspsalms, maar ook klaagpsalms. Ons moet hierdie Psalms nie net lees nie, maar ook bid. Dan sal die vreemde troos en vreemde geluk, deel van ons lewe word.

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s