Om siende blind te wees.

OM SIENDE BLIND TE WEES

Skriflesing: Mark 10: 46 – 52

‘n Mens kan siende blind wees. Dit beteken, dat jy wel letterlik kan sien, maar geestelik heeltemal blind is vir jou foute.

slave-ship-bannerJohn Newton is in 1725 in Londen gebore. Hy is gedwing om in die Britse vloot te dien. Hy het gedros, is gevang en het ‘n loesing voor 350 matrose gekry. Na sy ontslag het Newton begin werk as slawehandelaar in Wes Afrika. Op ‘n stadium het hy die kaptein uitgetart en spottende liedere oor hom gemaak. Dit het gemaak dat hy toe selfs op ‘n stadium slaaf geword het van die slawekaptein. Hy is egter later vrygelaat.

Mike Haywood

In Maart 1748 het die 23 jarige Newton aan boord van die slaweskip Greyhound gewerk toe ‘n groot storm losgebreek het. Die slaweskip was op die punt om te vergaan. Newton het vir die eerste keer in sy lewe tot God geroep en met hom onderhandel.

Foto krediet: Mike Haywood

Die storm het bedaar en hy het wonderbaarlik oorleef. Dit was die begin van sy belangstelling in die Christelike Evangelie. Daarom was 10 Maart 1748 sy eerste bekeringsdatum. Hy het begin raaksien, dat die Bybelverhale wat sy moeder vir hom gelees het waar is. Hy het opgehou dobbel en drink en begin om ‘n geestelike lewe te lei. Tog het hy nie sy beroep as slawehandelaar op gegee nie. Hy het nog steeds met slawe handel gedryf. Later het hy selfs die kaptein van ‘n slaweskip geword. ‘n Mens kan as’t ware sê dat hy siende blind was. Hy het nie raakgesien dat slawerny verkeerd is nie.

JohnNewtonColourLater het Newton sy slawehandel gestop as gevolg van siekte en gaan leer vir ‘n predikant vir die Anglikaanse Kerk. Op die ouderdom van 39 jaar is hy tot die bediening toegelaat. Newton het self later verklaar dat met sy eerste bekering in die storm, het hy hom nog nie heeltemal oorgegee aan die Here nie, want hy was siende blind gewees vir die sonde van slawerny. Newton het later ‘n bondgenoot geword van William Wilberforce om slaweny verbied te kry in Brittanje. In 1807 het Newton beleef toe die Britse parlement, slawerny verbied het. Al hierdie dinge het ‘n diep indruk gemaak op John Newton.

Hy was dan ook die skrywer gewees van van “Amazing Grace”, wat hy in 1779 geskryf het. Dadelik herken ‘n mens die lewensverhaal van John Newton in die eerste vers van die lied.

Amazing grace! How sweet the sound

That saved a wretch like me.

I once was lost, but now am found,

Was blind but now I see.”

blind-bartimeusIn ons gelese gedeelte lees ons van Bartimeus, seun van Timeus wat blind sit op die pad van Jerigo. Bartimeus se Aramese betekenis is “seun van onreinheid.” Hy is ‘n bedelaar, al wat hy besit is sy bokleed. Toe hy hoor Jesus kom langs die pad verby skree hy”Jesus, Seun van Dawid, ontferm u tog oor my. Twee maal skree hy die woorde uit. Die Griekse woord vir skree is dieselfde woord wat gebruik word vir ‘n kraai se skril geroep. Dan lees ons dat baie mense met hom geraas het en gesê het dat hy moet stilbly. As’t ware was die mense wat hom wou stil maak, ook siende blind. Hulle kon nie sien dat Jesus by magte was om vir Bartimeus gesond te maak nie. Dan sê Jesus dat hulle hom moes nader roep. Hy los as’t ware sy bokleed, al wat hy nog besit het en het opgespring om by Jesus te kom. Jesus vra hom toe wat Hy vir hom moes doen. Hy roep uit: “Raboenie, dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom, dat hy maar kan gaan. Sy geloof het hom gered. Dan lees ons dat hy dadelik kon sien en al agter Jesus aan gegaan het.

Jesus het Bartimeus se liggaanlike blindheid genees en ook die geestelike blindheid, van die omstanders wat die man wou stilmaak. Bartimeus en die omstanders is van hulle blindheid genees.

Bijziendheid

So dikwels kan ons ‘n Christen wees, soos John Newton maar nog vir jare geestelik blind wees vir die goed wat in ons lewe verkeerd is. Dikwels is ons die seun of dogter van onreinheid, met ons eie geestelike blindheid om die sonde in ons lewe raak te sien.

Eers is 1807 is die geestelike blindheid genees in Brittanje toe slawerny afgeskaf is. Eers die afgelope 3 dekades is die geestelike blindheid genees, toe vroue begin het om hulle regmatige plek in die samelewing in te neem. Eers in 1994 is die geestelike blindheid genees in Suid Afrika toe apartheid afgeskaf is. So is daar in die geskiedenis honderde voorbeelde van toe mense en nasies se geestelike blindheid teenoor onreg genees is.

Paulus was op die pad van Damaskus ook met blindheid geslaan, sodat hy ‘n paar dae later helder kon sien dat die Here hom geroep het. Hy wat blind was vir Christus en die Christene, kon nou skielik die verhoogte Christus herken en ‘n ywerige apostel word van die Here Jesus Christus.

In die Middeleeue het die Rooms Katolieke kerk die pad byster geraak, deur goeie werke en boetedoening deur aflaatboetes te verkondig as manier om verlos te word. Hulle het die Skrif weggesteek vir die gewone mense en die kerk het as’t ware korrup geword. Dan lees ons van Martin Luther se eerste sien in die donderstorm, dan die tweede sien in sy ontnugtering in Rome en dan sy derde sien toe hy begin het om die Romeine brief en die Brief aan Galasieërs te lees en die vrye genade van die Here ontdek het. Deur Luther en die kerkhervormers het God die blindheid van die kerklui in die Roomse kerk, openbaar gemaak sodat die mense kon sien dat dit net Christus Jesus is wat jou kan red.

Maar so kan ‘n mens ook ‘n Christen wees en geestelik blind wees vir jou eie foute. Dikwels het ‘n mens ‘n broer of suster nodig om vir jou bewus te maak van die sonde in jou lewe waarvoor jy blind is.

Jy kan dalk blind wees vir jou eie humeur, of blind wees vir jou eie bitterheid en wrokke. Jy kan dalk blind wees vir die swak dissipline in jou lewe, as dit kom by geestelike sake. Jy kan dalk blind wees vir jou eie veroordelende persoonlikheid of dat jy mense afsydig behandel. Jy kan dalk blind wees vir jou eie geskinder of vir jou vloektaal. Jy is dalk blind vir jou eie hoogmoedige geaardheid of vir jou selfsug.

m1nxediaidqa_wd640Somtyds het ‘n mens ‘n bril nodig om jou bysiendheid weg te neem. Die Woord van die Here en ‘n selfondersoekende gebedslewe kan die bril word wat jou duideliker laat sien. Ons moet ook dikwels vir die Here vra: “Raboenie, dat ek kan sien!”

Daarom is dit veral die werk van die Heilige Gees, om ons blinde oë oop te maak om te kan sien, wat in ons lewe verkeerd is.

Mense het gewoonlik ‘n paar bekerings in hulle lewe. Net soos Newton ook in sy lewe ‘n paar bekerings gehad het. Hy het eers baie later homself losgemaak van slawerny en sodoende van sy blindheid genees. So kry ‘n mens dikwels ook later in jou lewe skaam vir die tipe mens wat jy vroeër was, voordat jou oë oopgegaan het.

‘n Oogarts beveel gewoonlik aan dat ‘n mens elke twee jaar moet gaan vir ‘n oogtoets. Net so moet ons ook onself aan die Here en Sy Woord onderwerp, sodat Sy Gees ons bril kan verander, sodat ons nie bysiende is vir ons eie foute en tekortkominge nie.

Raboenie, dat ek kan sien!”

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)


Wie is die belangrikste?

WIE IS DIE BELANGRIKSTE?

Teks: Johannes 13: 1 – 17 en Johannes 13: 34 – 35

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra, wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ‘n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ‘n maaltyd.

jesus-washing-the-feet-calvin-carterHierdie maaltyd is dan ook die geleentheid gewees, waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer oor die naderende kruisdood van Jesus, is hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is? Wie bedien sal word en wie sal dien? So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ‘n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die selfgesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ‘n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ‘n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ‘n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ‘n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid gewees om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:

* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.

* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.

Wie so ‘n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Kan ‘n jakkals van snaar verander?

KAN ‘N JAKKALS VAN SNAAR VERANDER?

Skriflesing: Luk 9: 51 – 55 en Hand 8: 4 – 8, 14 – 17

Kan ‘n mens regtig verander? Ons het mos ‘n spreekwoord, wat as volg lei: “ ‘n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.”

Kan ‘n mens regtig verander:

  • ou gewoontes wat sondig is, afleer.

  • selfsug na offervaardigheid

  • Hoogmoed na nederigheid

  • vyandskap na liefde.

Ons gaan egter stilstaan by die laaste: Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?

Telkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ‘n vete van meer as 1000 jaar en dit het al hoe erger geword. Kom ek verduidelik u ‘n bietjie van die vete:

  • Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem aanbid nie. (Dink aan die Samaritaanse vrou se vraag in Johannes 4.)

  • Die Jode het die Samaritane as onrein beskou, as minderwaardig beskou. Daarom het Jood en Samaritaan nie ‘n beker gedeel nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Johannes 4.)

  • Die Jode en Samaritane het nie by openbare plekke gemeng nie. (Verbasing van Jesus se dissipels in Joh 4, toe hulle Jesus by die put sien, saam met die Samaritaanse vrou.)

  • Die Jode het die Samaritane ook verag omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.

Dit was dus ook die gebruik gewees dat die Jode ‘n ompad om die land van Samaria geloop het as hulle oppad was om in Jerusalem te gaan aanbid.

2011894_univ_cnt_3_xlTog volgens Luk 9, gaan Jesus op sy tog na die paasfees in Jerusalem nie met ‘n ompad langs verby Samaria nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ‘n Samaritaanse herberg vir Hom en sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ‘n Jood op pad na die verkeerde tempel.

Onmiddelik was Jesus se dissipels woedend. “Here” vra Jakobus en Johannes, “Wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer.” Die twee seuns van die donder, twee van die verregses in Jesus se groepie was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.

Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.

  • Jesus moes ‘n politieke Bevryder word.

  • Jesus moes ‘n republiek stig.

  • Daarom baklei hulle so wie is die belangrikste – wie gaan die kabinetsposte kry.

  • Hulle Christenskap was vol politieke agendas.

Daarom kan ‘n mens verstaan waarom die twee seuns van die donder, vuur en oordeel oor hulle vyande wou afbid. ‘n Mens kan inderdaad vra” Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?

Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christene kan radikaal verander, omdat Christus hul verander.

revival_fire-817x1024

Die seuns van die donder, wou vuur afbid op hul teenstaanders, maar op Pinksterdag, bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos tonge op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg, naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.

In Handelinge breek die vervolging van Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ‘n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikste dinge: Lammes en kreupeles word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!

SeenNog wonderliker: Toe die tyding in Jerusalem aankom, was die dissipels daar ook bly. Trouens, hulle stuur niemand minder as Petrus en Johannes – Johannes wat nog weke tevore helvuur op die Samaritane wou afbid – om die Samaritane te gaan seën en om die vuur van die Heilige Gees op hulle af te bid.

So verkrummel ‘n 1000 jaar se vyandskap. Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap.

Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ‘n mens werk, vind daar bevrugting plaas, word ‘n nuwe lewe verwek en ‘n nuwe mens gebore: ‘n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.

Dit is waarom die Jesusgroepie in Hand 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldbidders in mense wat seën.

Toe verander die haat van ‘n 1000 jaar binne ‘n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees oorskadu te word?

Begryp ons dat ‘n mens ‘n naloper van Jesus kan wees, sonder om ‘n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het honderde kilometers al agter Jesus aangeloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aangeloop.

Glo jy regtig in Pinkster? Glo jy regtig in die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor jou lewe gekom? Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons, ons vyande lief het en seën. Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ‘n Christen te wees is maklik. Is jy ‘n naloper of ‘n navolger? Bid jy vuur of seën op jou teenstaanders?

[Die hoofgedagtes van die preek het ek êrens raakgelees. Die oorspronklike prediker het ek vergeet.]

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Die maal die Here se eiendom.

DRIE MAAL DIE HERE SE EIENDOM.

Teks:  Genesis 1: 26 – 31; Romeine 8: 31 – 39 en Mattheus 10: 29 – 31.

Die Here het ons drie keer Syne gemaak.  Ons almal hou van stories.  Seker een van die beste maniere om ‘n boodskap tuis te bring is deur ‘n storie.

maxresdefaultEenmaal wat daar ‘n seuntjie wat vir hom self die pragtigste draadkar gemaak het.  Met sy eie hande het hy die draadkar  gemaak. Toe hy egter eendag met die draadkar in die veld speel, het die draadkar weggeraak in ‘n diep donga.  Hy het baie gehuil oor sy kar. Die volgende week gaan besoek hy saam met sy ouers die winkel op die dorp.  Daar in die winkel-venster sien hy toe sy eie draadkar staan.  Hy sê toe vir die winkelier:  “Oom, daardie draadkar in die venster is my draadkar. Ek het homself gemaak.  Mag ek hom asseblief terug kry?” Die winkelier sê toe: “Nee ou seun, dit is nou my kar.  As jy die kar wil terughê moet jy vir hom betaal.”  Die seun is toe weg huis toe om sy geld te gaan haal.  Hy het al sy geld gaan haal.  Toe hy terug is by die winkel het hy al sy geld vir die winkelier gegee.  Die winkelier gee toe die draadkar vir die seun.  Toe die seun uitstap by die winkel se deur, druk hy die draadkar teen sy bors en sê:  “Draadkar, jy is nou tweemaal myne.  Ek het jou gemaak en toe jy weggeraak het, het ek jou teruggekoop.  Ek het jou dus baie lief.”  Toe hy by die huis kom vind hy uit dat die draadkar darem baie verniel is.  Hy buig die drade toe weer reg en nadat hy die draadkar reggemaak het, sê hy:  “Draadkar, jy is nou drie keer myne.  Ek het jou GEMAAK, GEKOOP en HEELGEMAAK.  Ek het jou baie lief. Dit is ‘n baie mooi storie.  Maar weet julle ons is ook drie keer die Here s’n.

  • Die Vader het ons gemaak.
  • Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed.
  • Die Heilige Gees wil ons heelmaak.

Ons kyk na al drie hierdie sake:

  1. DIE VADER HET ONS GEMAAK:

In Genesis 1: 26 – 31 lees ons hoe God die mens gemaak het.  God het die mens goed en mooi gemaak.  Ons is gemaak na die beeld van God.  Dit beteken ons vertoon sommige eienskappe van God.  Die mens kan byvoorbeeld dink, liefhê, en onderskei tussen goed en kwaad.  Verder het God die een mens verskillend van die ander een gemaak. God  wat ons gemaak het, staan ook Pa vir ons.  Hy is ons Vader.  God is nie soos sommige aardse pa’s nie.  Sommige aardse vaders maak kinders maar loop dan weg.  Nee, God het die mens gemaak en in Mattheus 10: 29 – 31 lees ons hoedat God Vader oor ons lewe is.  Hy versorg en beskerm ons.  Hy lei vir ons. Soos die seuntjie sy eie draadkar gemaak het, het God dus die mens self gemaak. Maar soos die draadkar verlore geraak het in ‘n diep donga, so het die mens weggeloop van God.  Die mens het sonde gedoen.  So het die mens verlore geraak.  Wie sal tog die mens verlos en terug koop uit die sonde?

Dit bring ons by die tweede saak:

  1. DIE SEUN, JESUS CHRISTUS HET ONS GEKOOP MET SY KOSBARE BLOED:

Toe die draadkar wegraak moes die seuntjie daarvoor betaal in die winkel.  Hy moes met al sy geld betaal. Toe ons weggeraak het in ons eie sonde en ons eie pad geloop het, moet God ‘n duur prys betaal om ons terug te kry.  Hy het betaal met sy Seun, Jesus Christus.  Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy kruisdood. Dit was ‘n duur prys, sodat ons losgekoop kan word vanuit die sonde en doodsbestaan.

Nou vir die derde saak:

  1. DIE HEILIGE GEES WIL ONS HEELMAAK

Nadat die seuntjie sy draadkar weer gekoop het, het hy dit heelgemaak.  In Galasiërs 5 lees ons hoedat die Heilige Gees ons lewe weer wil heelmaak.  In Galasiërs 5: 19 – 21 lees ons hoe die sonde ons lewe verniel het.  Dit het haat, naywer, jaloesie, dronkenskap en verdeeldheid gebring. Die Heilige Gees wil egter weer ons lewe heelmaak, sodat daar vrede, liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan wees (Galasiërs 5: 22 – 26). God wil vir jou vasdruk teen Hom en vir jou sê:

My kind ek het jou baie lief!  Jy is drie keer myne.

  • Ek het jou gemaak.
  • Ek het jou gekoop.
  • Ek is besig om jou heel te maak.

Ons het dus gesien: Die Vader het ons gemaak.  Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed. Die Heilige Gees wil ons heelmaak. Voorwaar, die Here het ons baie lief.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)