SKRIFLESING: Rom 11: 16 – 24
By die doop vind ‘n ineëntingsproses plaas.

Paulus skryf aan die Christene in Rome en verduidelik dat die Christene (die wilde olyflote) ingeënt word op Christus die wortelstok van die mak olyf. Die swaartepunt val op die wortelstok wat die belangrikste is. Die wortelstok moet gesond, sterk en bestand teen siektes wees. Sonder ‘n sterk wortelstok, kan daar nie ‘n suksesvolle ineëntingsproses wees nie.

Christus Jesus is die sterk, gesonde wortelstok, waarin ons as gelowiges ingeënt word by ons doop. In ons doop word ons deel van die geslag van Abraham die vader van die geloof. Daarom word ons in ons doop almal kinders van Abraham. Ons word deel van die Christelike geloof. Daarom is die doop die teken van die inlywing van die Christelike kerk en deel kry van al die beloftes wat God vir sy kinders in die Bybel opgeteken het.
Ons wat in Christus gedoop is, het almal deel van die gemeenskaplike wortelstok van Jesus Christus. In vers 17 staan daar dat party van die olyfboom se takke is uitgekap. Dit beteken dit is die Jode wat nie tot geloof in Christus gekom het nie. Hulle was dooie takke. Hulle moet plek maak vir heidene wêreldwyd om ook ingeënt te word in Christus.
Ons is die ingeënte lote wat moet vrug dra vir Christus. Die wortelsap vloei van die wortelstok deur al die ingeënte lote. Sonder die wortelstok, kan die ingeënte lote nie groei en vrug dra nie.

Vanoggend word Nico-Noah ingeënt in Christus die wortelstok. Hy kry deel aan Christus en al Sy weldade. Dit is nie die dopeling wat die keuse maak, sodat die mens daarop hoogmoedig moet raak nie. Dit is God wat uit vrye iniasitief vir Nico-Noah kies om deel van Sy verlossing te word. Dit is nie die dopeling of die loot wat die wortelstok dra nie. Dit is die wortelstok wat die loot dra.
Maar hierdie ingeënte dopeling moet leef uit die goedheid van God. Soos wat daar groot moeite gedoen word met die inentingsproses, moet die doopouers groot erns neem met hulle doopbelofte. Dit is ‘n belofte voor God. Ek moet my kind lei om in geloof te antwoord op al die toeseggings en beloftes van die doopverbond.
Johannes Calvyn het gesê dat die twee vernaamste elemente van geloofsopvoeding moet liefde en strengheid wees. Liefde kweek geborgenheid en strengheid kweek sekuriteit. Met geborgenheid en sekuriteit het ‘n kind alles om ‘n suksesvolle grootmenslewe eendag te betree.
‘n Jong boompie moet ook konstant gesnoei word om vorm aan te neem. As ‘n Kareeboom gelos word, word dit ‘n bos. Wanneer ‘n Kareeboom gedurig gesnoei word, word dit ‘n pragtige boom waaronder jy kan sit en waaronder kinders kan speel. Daarom snoei die Here ons, ook elke dag van ons lewe om Godsmanne en Godsvroue te word. Daarom moet ‘n ouer ook bereid wees om die snoeiskêr in te lê, sodat hulle kinders eendag goedgevormde jongmense word. Daarom is om jou kind te tugtig, baie belangrik veral in die Spreukeboek van die Bybel.
Psalm 1 praat van ‘n vrugteboom wat by waterstrome geplant is. Die waterstrome laat die vrugteboom welig groei en die boom lewer vrugte op sy tyd. So moet ons ook ons kinders by die waterstrome grootmaak. Hulle moet in die kerk grootgemaak word. Hulle moet met Bybelverhale uit die Kinderbybel grootgemaak word. Hulle moet met tuiskategese grootgemaak word. Die ouers moet moeite maak met hulle belydenisaflegging. Hulle moet op Christelike kampe groot word. Jy moet jou kinders grootmaak in die poorte van die Here se huis. As hulle sien dat kerkbywoning vir hulle ouers belangrik is, gaan hulle ook eendag ywerige kerkgangers en voorbeeldige Christene wees. As hulle soos jong boompies by die waterstrome groot gemaak word, sal ook hulle vrugte dra. Die leraar Timotheus het sy geloof ontvang van sy ouma Loïs en sy ma Eunice. Daarom is die doel van die doop dat daar oordrag van geloof moet plaasvind. Dat die jong kindjies ingelyf word in die geloofsgemeenskap.
Dit kos net een geslag om ‘n heiden groot te maak. Maak jou kind sonder die Here groot en jy kweek ‘n heiden.

Somtyds sal die lewenstorme van jou lewe, jou lewensboompie omwaai. Maar as jou wortelstok Christus is, sal daar altyd weer ‘n nuwe loot uitloop. Jy sal elke oggend weer nuwe krag van die Here ontvang. Soos ‘n wortelstok geanker is in die grond, so moet jy geanker wees aan Christus Jesus, dan sal jy die storms van die lewe kan trotseer.
Kom ons wees soos lote wat ingeënt is in die wortelstok. Christus is ons wortelstok. In hom kan ons vrugte dra en ‘n Godvresende lewe leef.
Die inenting van jou gesin in Christus die wortelstok, bepaal jou gesin se toekoms. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)