Op die vlerke van ‘n arend ….

SKRIFLESING: Deut 32: 11 – 12

Die winde van verandering waai strormsterkte oor Suid Afrika en oor die wêreld. Na COVID-19 gaan niks meer dieselfde wees in Suid Afrika of in die wêreld  nie. Almal is bang en onseker.  Wat gaan van ons word? Wat hou die toekoms in? Ons weet nie eers, hoe gaan dinge volgende week, wat nog van volgende maand lyk?

Natuurkenners sal jou vertel: Arende maak nes baie hoog in die berge. Wanneer hulle hul kuikens wil leer om te vlieg, skop hul doodeenvoudig die kuikens uit die nes. Nadat die kuikens ‘n ent geval het, swiep die ma-arend onder haar kuikens in en vang hulle met haar vlerke en dra hulle terug tot in die nes. Die proses word ‘n paar keer herhaal totdat die kuikens geleer het om te vlieg.

Die skrywer gebruik die beeld van die arende om te beskryf hoe God met Israel en met ons as Sy kinders doen.  Hy verwys dan ook spesifiek na die volk Israel wat God uit Egipte geskop het, weg van die vleispotte van Egipte.

Die Israeliete het in vrees geval. Die Rooi See voor hulle, die vyand agter hulle, broodsgebrek, water tekorte, verdwaal, sonsteek en talle vyandelike volke. Die val uit Egipte was vreesaanjaend.

Maar telkens het Jahweh, onder hulle geswiep en hulle gevang. Elke keer het God hulle gevang. Hy het die Rooi See oopgemaak, Hy het die Egiptenare laat verdrink, Hy het manna en kwartels gestuur en water uit ‘n rots. Hy het ‘n vuurkolom snags gestuur en ‘n wolkkolom in die dag. Hy het vir hulle oorwinning oor vyandelike volke gegee.

Die Here wou vir Israel leer om Sy gehoorsame volk te wees. Daarom het Hy die volk op ‘n ompad van 40 jaar deur die woestyn geplaas. Hulle moes leer om Hom as die enigste Heer en God te bely.

Miskien voel dit vir u of ons ook uit die nes geskop word. Die afgelope paar maande het ons baie trauma beleef.  Ons het die ergste droogte in 100 jaar gehad. Ons het bek-en-klouseer gehad. Die wolpryse en vleispryse het in duie gestort. Nou het ons by die res van die wêreld aangesluit met COVID-19. Daarmee saam ook al ‘n paar bevestigde gevalle van COVID-19 in ons klein dorpie Adelaide.  Die wêreldekonomie het in duie gestort. Besighede op Adelaide toegemaak.

Ja, die Here het ons ‘n bietjie uit ons nes geskop, want Hy wil vir ons leer, dat geestelike waardes belangriker is as wêreldse sekuriteite. Hy wil ons leer wat die word “afhanklikheid” beteken. Ons was te selfversekerd van ons. Die goeie jare in die boerdery van 2011 tot 2017 het ons te selfversekerd gemaak. God het ons geleer om met minder tevrede te wees. God het vir ons geleer om weer “te gee” en vir mekaar om te gee. Die Here het ons weer geleer om nie te afhanklik van ons planne te wees nie. Ons moet eerder sê D.V. (Deo Volente), as dit die wil van die Here is sal ons dit of dat doen.

Beteken dit dat God ons vergeet het? Allermins! Kom ek verduidelik dit so vir u. Dit is nie God se wil dat daar droogtes, armoede en siektes soos COVID-19 en ander slegte dinge oor ons kom nie. God is ‘n immers ‘n God van liefde. Hy het dit nie daar gestel nie. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld as gevolg van die sondeval.

Maar God draai ons nie in watte toe nie. Hy oorbeskerm ons nie. Hy stel ons daaraan bloot, om ons sterker te maak. Daar word vertel dat Koning Henri VII van Engeland as kind nooit bloot gestel is aan kieme nie. Hy het nooit ‘n weerstand ontwikkel nie. Hy is toe jonk in sy lewe oorlede van ‘n eenvoudige siekte, omdat hy geen weerstand ontwikkel het nie.

Jakobus praat in hoofstuk 1 van beproewinge wat ons soos gelouterde staal sterkmaak. Goud kom uit goud erts wat teen helse temperature verhit word. Daarom stel God ons bloot aan allerlei beproewinge, omdat hy ons sterker wil maak en in die proses iets wil laat leer. Daarom moet ons ook in hierdie tyd van COVID-19 ‘n leerbare gees hê, om te leer om iets goeds te vat uit hierdie siekte. Johannes Calvyn het gesê ons moet altyd “a teachable mind” hê. Dan kan ons groei in Godsvrug en in geestelike rypheid.

Ja, God skop sy kinders uit die nes, ook in hierdie tyd van COVID-19 om ons iets te leer. Hy stel ons bloot aan die gevaar en die swaar, sodat ons dieper en mees Geesvervulde mense sal wees. Ons vier immers vandag Pinksterfees. Maar Hy sal ons nooit laat val, te pletter teen die grond nie. Hy sal telkens inswiep en ons vang as ons besig is om te val.   God skop ons uit ons gemaksones, sodat Hy ons kan leer om te vlieg. Hy wil ons geloofsvlerke sterker maak, sodat ons geloofsvolwasse kan word.

Maar onthou die woorde van die Here Jesus Christus, dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Dat Hy al die dae van die wêreld tot die voleindig by ons sal wees.

Hoor wat sê Jesaja 43: 1-2: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie”

Liewe gemeente, julle is God se verbondskinders. God se beloftes geld vir een en elk van julle. Julle is God se arendskuikens.

Klein kuddetjie van Adelaide, moenie vrees nie. God sal altyd by julle wees. Julle sal op arendsvlerke veilig gedra word. AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die eerste sal laaste wees en die laaste eerste!

SKRIFLESING: Mat 19: 30 – 20:16

Die Here Jesus het dikwels vir die mense stories vertel as Hy hulle iets wou leer. Jesus was ‘n bobaas-storieverteller. Maar snaaks, baie mense het glad nie van Sy stories gehou nie, want of hulle het dit nie verstaan nie of hulle het wel verstaan, maar kwaad geword.

So ‘n storie. So ‘n gelykenis was die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. Kom ons vertel weer die gelykenis, maar dan in ‘n taal wat by ons streek pas.

‘n Boer moes ‘n klomp skape skeer. Hy het skeerders nodig gehad. Vroegoggend, dou voor dag staan hy op en neem ‘n paar skeerders op die dorp in diens teen ‘n vasgestelde loon van R200 ‘n dag. Teen 11h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 12h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 15h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 17h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 18h00 stop die boer die skeerdery en roep almal byeen om hul daaglikse loon te betaal. Almal kry R200. Ook die wat laaste kom werk het, kry ook R200. Die skeerders, veral die wat eerste ingeval het, was vir die boer woedend kwaad gewees. Soos ek ook kwaad word as ek in ‘n ry staan in ‘n groot winkel en iemand kom druk voor my in. Ons glo mos in geregtigheid. Elkeen moet kry wat hy verdien. Elkeen moet sy beurt afwag.

In die lewe staan ons mos altyd in rye voor en agter mekaar. In die skool staan die slimste eerste. Ons onderskei tussen geleerd en ongeleerd. Ons klassifiseer mekaar op grond van jou aansien in die gemeenskap. Jou velkleur, jou gewig, jou skoonheid, jou bekendheid en nog vele ander eienskappe, maak dat ons mense in rye plaas van voor na agter.

In die kerk staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus Christus nie. Want luister wat sê Mat 20:16:  … die eerstes sal laaste wees en die laastes eerste.”

Kom ek verduidelik vir u: As ek ‘n paar kinders vorentoe roep en vir hulle sou sê om ‘n kring te vorm en mekaar se hande te vat. Watter een is eerste, en watter een is laaste? Dan sal u sê: Eintlik is niemand eerste of laaste nie! Almal is ook eerste en laaste! ‘n Mens sou by enige plek in die kring kon begin en sê daardie een is eerste, of sou net sowel kon sê hy is laaste.

Almal in die kring is eerste en almal is laaste. Almal is gelyk.

Netso, as ek in die middel van die kring staan, sal almal ewe ver en ewe naby my staan. Niemand sal nader of verder staan nie. Netso, staan Jesus Christus in die middel van die kring. Hy is die koning van die kerk en almal staan ewe ver en ewe naby aan hom. Hy is die Verlosser wat almal gelyk behandel. Die Vader is die Vader van al sy kinders.

Daar is ‘n Joodse geskrif wat sê dat mense in ‘n kring dans, dan is die laaste een nie agter nie en die eerste een nie voor nie. Die Jode het in van hulle Joodse vieringe ‘n dans waar die mans in kringe dans, met hulle hande op die volgende persoon se skouer.

So werk dit ook in die Koninkryk van God: “Die eerste sal laaste wees en die laastes eerste. Geliefdes in die kerk van Jesus staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus nie – sommiges is nie voor en sommiges nie agter nie.

In die kerk van Jesus vat ons almal hande en maak ‘n kringetjie rondom die kruis. Onder God se kinders is daar nie witbroodjies nie, maar ook nie swartskape nie.

Want Hy handel met ons, nie volgens wat ons verdien nie, maar uit genade. Hy gee ons nie ons verdiende loon nie, Hy gee ons genadebrood omdat Hy goed is. Niemand is geregtig op voorkeurbehandeling nie.

Vir iemand wat reken op voorkeurbehandeling is hierdie natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Interessant Petrus het hierdie voorkeur-behandeling verwag. Luister wat sê hy in Mat 19: 27: Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?” 

Jesus ontken nie dat daar loon sal wees nie, maar let wel: Nie verdiende loon nie, maar genadeloon. Vir ons wat miskien onbewustelik tog reeds ‘n bietjie gedink het dat ons senior amptenare in die Koninkryk van God is, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Ja, die vreemde geregtigheid van God gee sommer aan daardie laatkommer aan die kruis, ‘n man wat nooit in ‘n kerk of ‘n biduur was nie, sommer die paradys verniet weg.

U sien genade maak ons gelyk met die grond. En as almal in die kerk eers gelyk is met die grond, dan is ons uiteraard ook gelyk met mekaar.

Juis daarom is ons mekaar se broers en susters en mag ons nie oor mekaar baasspeel nie. Die kerk is nie ‘n plek van magspeletjies nie. Die kerk is ‘n plek van verlostes wat mekaar dien.

Pinksterfees beteken ons is almal deur dieselfde Gees gedrenk. Deur dieselfde Gees moet ons nie die een op die ander neersien nie. Daarom maak die Pinkstergees onder nederig aan mekaar.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Waar sal my hulp vandaan kom?

SKRIFLESING: Ps 121: 1 – 8

Ons sê dikwels: “Die lewe lê soos ‘n berg voor my …… ek sien nie daarvoor kans nie.” Hierdie berge kan enigiets wees. Dit kan “oud word” wees. Dit kan siekte wees, eensaamheid, huweliksprobleme, ouer-kind probleme of finansiële probleme of vele ander gestaltes van menslike pyn.

Ja, my probleme lê soos ‘n berg voor my!

Dan begin koning Dawid hierdie Psalm met die woorde: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Ons as gelowiges leef dikwels sonder moed en lewenskrag, asof die berge groter as God is. Inderdaad het Johannes Calvyn geskryf: “Daar hoef maar net ‘n blaartjie iewers te ritsel, dan begin ons te bewe asof God van ons vergeet het.

Koning Dawid het ook met die skryf van Psalm 121 rondgerol van bekommernisse en vrees. Ons lees dit is ‘n pelgrimslied. Met ander woorde Dawid het dit geskryf toe hy oppad was. Waarskynlik was dit in die nag toe hy rondgerol het van bekommernisse en vrees.

Sien in u verbeelding die situasie waarin Dawid was. Hy was waarskynlik op ‘n lang en gevaarlike reis na Jerusalem. Daar was die gevaar van roofdiere en veral van rowers. Hy het rondom die vuur gelê en die bekommernisse het hom wakker gehou. Hy het nog die vrees gehad dat koning Saul hom nog wil doodmaak. Dan sien hy die wag, wat by die vuur waghou. Dan spoel daar ‘n vertroue en gerustheid oor hom en hy komponeer die Psalm op sy harp.

Die lied, die Psalm begin met: “Ek kyk op na die berge: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”

Die geloof het destyds bestaan dat die gode op ‘n berge in die noorde woon. Die Israeliete het immers gereeld op die sogenaamde “hoogtes” geoffer, omdat hulle waarskynlik ook deur hierdie ou geloof beïnvloed is. The Living Bible vertaal dit so mooi: “ Shall I look to the mountain gods for help?”   

Hoor hoe antwoord Dawid: “ My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Vir die Skeppergod is alles moontlik.

In vers 1 – 2 is “hulp” die sleutelwoord en in vers 3 – 8 is “bewaar” die sleutelwoord. Daarom het die Psalm as’t ware twee dele:

Verse 1 – 2: Die Here is my helper.

Vers 3 – 8: Die Here is my bewaarder.  

En hoe ‘n bewaarder is die Here nie!

In vers 3.a staan daar dat Hy nie sal toelaat dat jy struikel nie. In die Hebreeus beteken dit “om nie te waggel nie”. Jy sal nie eers amper val nie.

In vers 3.b en vers 4 staan dat die een wat jou beskerm, slaap nooit nie. Daar staan die Beskermer van Israel slaap nooit nie. Is dit nie wonderlik nie. Toe ek Nasionale diensplig gedoen het, moes ek dikwels in die oggendure tussen 04h00 en 06h00 wagstaan. Dit is net jy en jou geweer en jou radio om met die bevelskamer te praat. Dit is die tyd net voor die son opkom. Dan is jy op jou heel vaakste. Dan moes ek hard met myself gepraat het om wakker te bly. Sou hulle jou vang slaap, sal hulle jou van die offisierskursus afgooi. Dit was erg. Ja, wagte kan aan die slap raak. Die stad Sardis in die Bybel is ook twee keer binnegeval, omdat  die wagte geslaap het. Maar onse Here slaap nooit. Ons Beskermer is altyd wakker om ons te beskerm, teen watter gevaar ons ookal bedreig.

Vers 6.a handel oor die wyse van beskerming. Die son sal jou nie steek nie. Dit herinner aan die uittog van Israel uit Egipte toe die Here ‘n wolk as beskutting gegee het teen die gevaar van sonsteek in die woestyn.

Vers 5 staan daar Hy bewaar jou van alle gevare. Die Here vul die ruimtes waar jy die kwesbaarste is. So byvoorbeeld is die soldaat se regterkant die kwesbaarste. Sy skild is aan sy linkerkant om sy hart te beskerm. Sy regterkant is onbeskut, want hy hou sy swaard vas. Daarom is die kwesbaarste ruimte die regterkant. Maar ook in daardie kwesbaarste ruimte is God.

Vers 6.b staan daar dat die Here jou snags sal beskerm en dat die maan jou nie kwaad sal aandoen nie.  In die antieke tyd het hulle geglo dat daar maansiektes was soos epilepsies en koorssoorte wat kom van die Sjin die maangod. Ook van dié gevaar sal die Here jou beskerm.

Dan word die Psalm afgesluit met verse 7 en 8, wat weereens bevestig dat die Here jou sal beskerm. Daar word beklemtoon , dat Hy jou lewe (jou siel) sal beskerm. Jou lewe (siel) is jou kosbaarste. Hierdie Psalm sê nie dat die lewe nie probleme sal hê nie. Die lewe is egter vir almal ‘n reis vol gevare en elkeen se lewenspad is moeilik. Maar in alles sê Dawid is die Here vir ons ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

Die lewe is een groot pelgrimsreis, vol gevare. Maar op hierdie pelgrimsreis is die Here met ons, om ons te lei en te beskerm. Ons pelgrimsreis vat ons nou deur die donker dieptes en ongekarteerde pad van COVID-19. Die gevaar is nou groot. Daar is ekonomiese insinking, werksverliese en menslike ellende. Maar alle donker tye eindig. JAHWEH, die Here se naam in Hebreeus beteken: “Die Here red.” Die Here red op verskillende maniere. Somtyds maak die lewe nie sin nie, maar daar is ‘n groter prent daaragter.

Wanneer jy ‘n enkele legkaartstuk vashou, sien jy geen prent nie. Eers later wanneer dit in die groter legkaart geplaas word, kry die prent fokus. Nou verstaan ons nie, maar later sal ons verstaan.

Word kalm, kry lewensmoed, word rustig en weet: Jy het ‘n Helper en ‘n Bewaarder.

AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om grense te verskuif ….

SKRIFLESING: Luk 15: 1- 10

Daar was ‘n diep gelowige Katolieke Christenvrou wie se seun in die 2 de Wêreldoorlog gesterf het. Die weermag het die seun se lyk na sy moeder terug gestuur om begrawe te word. Die seun was egter ‘n jongman wat alreeds voor die oorlog ‘n Protestant geword het.

Die Katolieke het nie toegelaat dat Protestante in hulle kerkhowe begrawe word nie. Die moeder het egter probeer en na haar priester gegaan en gevra of haar seun in die begrafplaas begrawe mag word. Die priester was in ‘n dilemma, want die kerkwet sê dat geen Protestant in hulle kerkhof begrawe mag word nie. Hy moes na die moeder gaan en vir haar sê, hy is jammer, maar hy kan nie aan haar versoek voldoen nie. Die priester was baie ontroerd deur haar teleurstelling en het nie nag sleg geslaap en baie gedink. Die volgende oggend het hy ‘n plan. Hy sê vir die moeder: “Begrawe jou seun, net aan die buitekant van die begrafplaas se muur”. Sy sê toe: Maar ek wil hom nie buitekant die begrafplaas se muur begrawe nie, ek wil hom binnekant begrawe.” Die priester sê toe vir haar : “Vertrou vir my”. So het die vrou toe haar seun net buite langs die begrafplaas se muur begrawe. “n Week later is sy verbaas toe haar seun se graf aan die binnekant van die begrafplaas is, want sien die priester het die muur herbou om ook die graf in te sluit. Vervolgens sê die priester: “Die kerkwet sê dat die seun nie in die kerkhof begrawe mag word nie, maar daar is geen wet wat verbied dat die kerkhof se grense verlê mag word nie. Omdat die priester vir die vrou omgegee het, en vir haar jammer was, het hy ‘n plan beraam.

God maak ook so! Sy liefde maak dat Hy die wêreld sal omkeer om ons te red. Hy het inderdaad aan die kruis ook die wêreld omgekeer om vir ons te red.   God se liefde is grensverskuiwend!

God is soos die Herder wat sy 99 skape los, om die een te soek wat verlore is. God is soos die vrou wat haar huis omkeer om een verlore penning te soek.

Daarom die tema vanaand: Om grense te verskuif….  

Ons gaan kyk na die gelykenisse van die verlore skaap en die verlope penning.  Kom ons kyk heel eerste na die verlore skaap. Jesus vertel die gelykenis, juis na aanleiding van die Farisieërs se lelike opmerking omdat Jesus saam met sondaars eet. Deur hierdie gelykenis wil Hy aantoon dat God se genade en barmhartigheid geen grense het nie. God se genade is nie beperk tot die 99, die vroom groepie, die beter klas nie. Nee, God gaan na die verlorenes.

Jesus Christus het grense verlê om ook die nie Jood, die prostituut, die diewe, die sondaars in te sluit. Wat wonderlik is, is dat nie die skape die herder soek nie, maar dat die herder die verlore skaap soek. Nie mense soek God nie. God soek mense! En hierdie sekerheid van die heil is die onvervangbare basis van ‘n gesonde Skrifbeskouing – daarsonder is dit ‘n vertoning van goeie werke.

Maar is dit nie dom van die herder om 99 skape te los en net 1 verlorene te gaan soek nie? Nee, dit is juis die sekuriteit van die 99. As God soveel vir die enkeling omgee, sal God ook vir my kom soek of vir enige een van die 99 wat dalk verlore sal raak.

Juis daarom kan ons die vreugde verstaan as die enkeling, die enkele skaap gevind word. In Palestina was die eiendom die besit van die hele familie. Die verlies van 1 skaap is die verlies van die hele groep. Juis daarom moet God se vreugde oor die redding van ‘n verlorene ook ons vreugde word.

Is dit nie vir u aandoenlik dat God bekommerd is, besorg is, jammer is, bewoë is oor die enkeling – ook oor jou. Juis daarom verstaan ons God se vreugde in die vind van ‘n verlorene.

Dit bring ons by die tweede soort vreugde, naamlik die vind van die verlore penning. Wanneer die vrou na die penning verwys wat sy gevind het, beskryf sy nie die verlore toestand van die penning nie. Sy sê” Die penning wat ek verloor het”. Sy laat die klem val op haar eie skade en verlies. Wanneer die vrou die penning soek, soek sy die penning nie omdat sy vir die penning jammer is nie, maar omdat sy vir haarself jammer is. Sy het iets kosbaars verloor.

Onmiddelik moet ons die doel van die penning verduidelik. Wanneer ‘n vrou in die antieke tyd trou het sy ‘n bruidskat van haar man ontvang. Dit was in die vorm van ‘n halsnoer wat sy om haar nek gedra het. Die halsnoer het verskeie pennings ingehad, afhangende van hoe ryk die man was. As een penning wegraak en uitval, is die halsnoer onvolledig. As die vrou dan die halsnoer sou dra, sal almal vra: “Mevrou, ek sien jou halsnoer is onvolledig. Daar kort ‘n penning.” Sy sou skaam kry. Dit is amper soos vandag se verloofringe met ‘n paar diamante in. As een diamant uitval, is die diamantring ‘n verleentheid.

Wanneer die vrou haar penning vind, vind sy haar heelheid terug. Wanneer God ‘n sondaar soek en vind, herstel Hy die skepping. God maak heel, wat onvolledig is. God maak volledig met sy uitverkiesende genade. Daarom is God vreugdevol. Hy bring sy eiendom tot volledigheid en heelheid.

God is nie ‘n God wat “’n leë-huis-sindroom” kan hanteer nie. Daarom maak Hy sy gesin, sy kerk voltallig.

Pinkster is nie slegs ons vreugde nie. Pinkster is ook God se vreugde. Daarom het Hy sy Heilige Gees gegee om kragtig te werk in hierdie wêreld en vir hom ‘n volk, ‘n kerk te versamel. Pinkster beteken dat God sy kinders terugkry deur die werking van die Heilige Gees.

In albei gelykenisse gaan dit oor grense wat verskuif word. Die herder gaan  soek die 1 verlore skaap. Hy verlaat die bekende en gaan soek elders vir die verlore skaap.

In die verlore penning, word ook grense verskuif. Die vrou keer haar huis om, totdat sy die penning gekry het.

In albei gelykenisse gaan dit oor vreugde. Die vreugde van die herder oor sy verlore skaap en die vreugde van die vrou oor haar verlore penning. Hulle het weer hulle heelheid terug gekry. Die herder het weer al 100 sy skape en die vrou se halsnoer is weer volledig. Al die pennings is nou in haar bruidskat.

In hierdie twee gelykenisse gaan dit oor God se ontfermende liefde. Liefde wat grense verlê en ander insluit. So moet ons as Christene ook wees. Ons moet liefdevol grense verlê, ander insluit en God se Koninkryk tot heelheid bring.

Ons kan so maklik grense trek. Mense uitsluit. Mense afskryf. Maar God se kinders moet grense oorsteek na alle mense. Dan sal ons vir God vreugde verskaf en die engele sal juig oor elke bekeerde sondaar.

Die Pinkster wil ons daaraan herinner dat die Heilige Gees grense oorsteek na alle mense. Ons moet net aansluit by die Heilige Gees se werk.

Dan sal daar vreugde in die hemel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Swakke gebede is soos wierook vir die Here aanneemlik.

SKRIFLESING: 1 Samuel 1: 1 – 19

In ons gelese gedeelte lees ons dat Elkana twee vroue gehad het. Die een was Peninna en sy het vir Elkana baie kinders in die lewe gebring. Die ander vrou was Hanna en sy het geen kinders gebaar nie. Hulle het in Rama gebly en elke jaar ‘n pelgrimstog na Silo se tenttempel onderneem. Wanneer hulle die offermaaltyd gedeel het, het Peninna baie dele gekry en Hanna net ‘n enkele deel. Dan het Peninna vir Hanna elke jaar heftig gespot, sodat Hanna baie emosioneel daaroor was en baie daaroor gehuil het. Tog het Elkana vir Hanna baie liefgehad en haar telkens van sy liefde vir haar verseker. Elke jaar net nog ‘n erger spot.

Dan lees ons hoedat Hanna een jaar die tempel ingevlug het en baie hartseer was en bitterlik gehuil het. Eli het net haar lippe sien roer. Sy het nie hardop gebid nie. Die priester, Eli het gedink dat Hanna dronk was in die tempel en hy het haar aangespreek oor sy dronk was. Sy vertel toe dat sy gebid het om ‘n kindjie en dat sy ‘n gelofte aan die Here gemaak het. Eli het toe verstaan en haar in vrede weg gestuur.

Interressant op Pinkstersondag toe die Gees uitgestort is, het die mense ook gedink dat die dissipels en vroue dronk is. Hanna het werklik in die Gees gebid.

A woman wearing a mask prays during Ash Wednesday Mass at St. Joseph Cathedral in Hanoi, Vietnam, Feb. 26, 2020, amid the coronavirus outbreak. (CNS photo/Kham, Reuters)

Somtyds dink mense dat hoe meer mense bid, hoe meer geneig sal die Here wees om te luister. Daarom maak die mense so baie van Angus Buchan se massabyeenkomste, asof die Here net ‘n skaar van mense se gebede sal verhoor. Dikwels word daar ook dan gespog oor hoeveel mense die gebedsbyeenkoms bygewoon het. In die Bybel lees ons egter dat die Here in albei gevalle gebede verhoor. Of daar 400 000 mense gelyktydig bid en of daar ‘n enkele gebed gebid word, dit het dieselfde impak.

Hanna se gebed was maar stamelend. Sy het alleen gebed (nie in die openbaar nie). Sy het gebid teen alle Joodse gebruike in. Tog het die Here haar gebed verhoor.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat deur God aanneemlik is.

Ek hoef nie soos ‘n Concorde vliegtuig  grasieus en voortreflik te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Gebed verander sake, maar dit verander veral ook die bidder.

Ons lees toe Elkana se familie weer terug was in Rama, het hy met sy vrou Hanna gemeenskap gehad en sy het swanger geword. Met die jaarwenteling het sy haar seun Samuel in die lewe gebring. Hierdie Godvresende vrou Hanna het dan die seuntjie Samuel vir die Here groot gemaak.

Haar eenvoudige / alleen gebed het die geskiedenis van Israel verander. Eli se twee seuns Hofni en Pinehas was nie geskik om hulle pa Eli op te volg as priester nie. Die verbondsark is ook deur die Filistyne buit gemaak.

Die geestelike toekoms van Israel het maar donker gelyk. Samuel sou die nuwe toekoms word as priester en geestelike leier van Israel. Hy sou ook die eerste koning van Israel, naamlik Saul in sy amp salf.

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ‘n enkeling rimpels veroorsaak vir ‘n heel nuwe toekoms.

Natuurlik is daar plek vir massa gebedsbyeenkomste, maar daar is ook beslis plek vir die gebed van ‘n enkeling. Gebed is altyd verootmoediging. Dit suiwer jou hart, gedagtes en lewenswandel. Dit skep orde in jou gedagtegang oor die goed wat jy met die Here wil praat.

Een evangelis het gesê: “Moenie begin om die wêreld te verander nie. Klim self in die sirkel en begin by jou.” Ons moet ‘n lewe van gebed beoefen. Ons moet nie maar net ‘n geleentheidsbidder wees nie. Gebed moet die stuurwiel van jou lewe wees en nie die noodwiel nie.

Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord let your Kingdom COME”, moet ons daarmee saambid: “Lord let my Kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen, waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike “commitment” en toewyding.

Ons moet nie vaskyk in die massa histerie van ‘n massa gebedsbyeenkoms en in die proses die persoonlike intieme gebede van ‘n enkeling miskyk, wat die toekoms van die land kan verander.

Moeder Monica het elke dag vir haar onverskilige seun Augustinus gebid. Augustinus het tot bekering gekom en van die eerste groot kerkvaders van die Christelike kerk geword.

Bid vir jou kinders ….

Bid vir jou eggenoot ….

Bid vir jou familie ….

Bid vir jou vriend …..

Bid vir iemand wat jy ken …..

Bid vir Suid-Afrika in die tyd van COVID-19.

In hierdie tyd van COVID-19 het ons baie gebed en baie gebedsaksie nodig.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om vir die hemel te leef, beteken om baie ernstig vir die hier en nou te lewe.

SKRIFLESING: Luk 16: 19 – 31

Ons dink dat die hemel eers eendag kom. Ons vergeet dat ons nou alreeds “iets” van die hemel, ‘n “stukkie” van die hemel  moet laat kom in mekaar se lewens.

In plaas van vir mekaar ‘n stukkie “hemel” te gee, gee ons vir mekaar dikwels “hel op aarde”. Ja, elke dag stuur ons mense in hulle hel in. So word hierdie lewe vir baie mense “hel op aarde”. In plaas van “hemel op aarde” ervaar mense dikwels “hel op aarde”.

Ons leef vir die hiernamaals, terwyl ons vergeet van die hiernoumaals. Ons leef vertikaal in plaas van horisontaal. Ons kyk op na die Here, sonder om rond te kyk en af te kyk na ander mense.

In die Middeleeue met die hoogbloei van die slawehandel , was daar ‘n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes –  Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het. Hy was ‘n godvresesende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog was daar ‘n ernstige godsdiens-probleem by hom. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ‘n godsdiens na “bo” gehad, maar nie ‘n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle nog boonop sleg behandel. Hy is die ryk man in ons gelese gedeelte, wat ryk geword het uit ander mense.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus, het die ryk man ‘n stukkie hemel weerhou van Lasarus. Hy was ryk, hy kon iets vir Lasarus beteken. Tog het hy niks gedoen nie. Hy het Lasarus in sy aardse hel gelos. Sekerlik kon hy nie die swere op Lasarus se liggaam gesond maak nie, tog kon hy verligting gee. Net so kan ons ook nie al die probleme van hierdie wêreld oplos nie. Tog kan ons verligting gee, mense se hel verlig, vir  mense ‘n stukkie hoop gee, vir mense ‘n stukkie van die hemel laat sien.

Op aarde kan mense nog iets vir mekaar beteken, want Lasarus het by die deur van die ryk man gelê. In die hemel is daar ‘n kloof, is dit te laat om vir iemand iets te beteken. As’t ware struikel die ryk man by sy deur oor Lasarus en beland in die hel.

Daar is vandag baie Lasarusse in ons lewe. Lasarus is enige mens vir wie ek iets kan beteken. Lasarus kan wees, my lewensmaat, my kinders, my ouers, my bediendes, die bejaardes, die armes, die siekes, die vreemdeling by my voordeur, die straatkinders, die ongelowige mens en in vele meer gestaltes.

Lasarus kan self die natuur rondom my wees. Ons mense word ryk uit die natuur, terwyl die natuur soos Lasarus vol swere is. Die natuur is so verniel en bedreig. Wat kan ons doen om die natuur te help?

Die ryk man het sy geleenthede verspeel. Soveel geleenthede by my voordeur, na aan my ….. tog word dit dikwels verspeelde geleenthede. Dikwels leef ons net vir onsself, soos wat die ryk man net vir homself geleef het. Telkens wil die Bybel die vraag vra: “Vir wie leef jy jou lewe?” Vir jouself, jou eie gerief, jou eie sekuriteit of vir ander?

Die profeet Miga gee die korrekte antwoord vir ons in Miga 6: 8 : “ Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor God.”

Die afgelope weke het ek so bewus geword van die goedheid van ons gemeenskap op Adelaide en veral van die boere gemeenskap. Ons is in die midde van die COVID-19 pandemie. Baie mense kry nou swaar. Broodsgebrek in huise is algemeen. Omdat die skole toe is, kry die kinders nie meer voedsel by die skool se voedingskemas nie. Kinders lei honger. So baie boere het tonne wildsvleis geskenk vir die verskillende sopkombuise in ons gemeenskap. Daar is enkele boere wat op hul eie ook vleis voorsien aan minderbevoorregtes. Die Post Retief Boerevereniging het hulle harte oopgemaak vir ‘n ruim donasie, wat miskien volgende maand herhaal kan word. Die Round Table Adelaide 194 gee groot kosdonasies vir die gemeenskap. Families ondersteun mekaar, daar waar iemand in die familie  sy of haar werk verloor het. Dit is ‘n wonderlike verhaal.

Paar maande terug was ons boere in ‘n erge droogte. Van oraloor die land het daar skenkings gekom vir veevoer en veelekke. Die swaarkry wat die boere toe beleef het, het nou hulle harte oopgemaak vir ander mense in die dorp wat nou hongerte ervaar.

Ons gemeente het in die verlede jaarliks, tienduisende rande gegee vir plaaslike barmhartigheid. Ons kan nie meer gee nie, want die kerkeredienste se bankkollektes en dankoffers het nou opgedroog. Gelukkig het die Here op ‘n ander manier voorsien, deur die boere, boereorganisasies en die Round Table.

In die droogte is ons geseënd met 40 x 5000 liter JoJo watertenks van KERK SONDER MURE, wat ‘n gemeente in Centurion is. Wat ‘n ongelooflike verhaal van barmhartigheid.

Gelukkig tree ons gemeenskap nie op soos die ryk man, wat geen gevoel het vir Lasarus nie.

Die ergste is ‘n lewe wat nooit gelewe is. Eintlik het die ryk man in ons gelykenis nooit gelewe nie. Met die lewe kan dit maklik gebeur, soos met ‘n kosbare kledingstuk, wat suinig in die kas weggebêre word, sonder om gebruik te word. Op die einde het die motte dit opgevreet. Die kledingstuk het vergaan, sonder dat dit enige waarde vir die eienaar of vir iemand anders gehad het nie.

Moeder Theressa, die Katolieke non van Kalkutta het haar lewe opgeleef. Sommige mense beskuldig haar dat sy ‘n hoogs immorele dame was. Sy kon haar lewe eerder gewy  het om by die skatrykes van Amerika geld in te samel vir die armes van hierdie wêreld. Sy kon dan tien keer meer vermag het. Tog het sy verkies en was sy op haar gelukkigste as sy in die drek van Indië, ‘n sterwende kind se hand vashou. By haar kan ons leer van empatie en deernis. Medemenslikheid is om iemand se hand vas te hou letterlik of deur my woorde.

‘n Goeie illustrasie is dié van middelpuntvliedende en middelpuntsoekende krag. Middelpuntsoekende krag is inwaartse krag, soos die draaikolk in ‘n rivier. Dit sluk jou in, dit vernietig jou.  So is dit ook met iemand wat net op homself en sy eie selfsugtige behoeftes ingestel is. Dit vernietig jouself.

Middelpuntvliedende krag is lewendgewende krag. Dit is soos die planete wat middelpuntvliedend rondom die son beweeg. Dit skep lewe en orde. Net so ook iemand wat middelpuntvliedend weg van homself of haarself lewe, ervaar die lewe in oorvloed. So iemand word ook ryklik deur die Here geseën. 

Ek glo Moeder Theressa sou bereid wees om die hemel mis te loop, solank sy net ‘n stukkie hemel in die oë van ellendige mense kan bring.

Die hemel begin nou ….. ons moet nou in die hiernoumaals, hemel skep in ander mense se lewens.

Die troos van die Here is dat hulle wat “afkyk” en “rondkyk” na hulle medemens, mag ook “opkyk” na hulle hemelse Vader. Jesus het ook “afgekyk” en “rondgekyk” na die mense toe Hy aan die kruis gehang het, daarom kon Hy “opkyk” en na Sy Vader gaan.

Pinksterfees beteken om met erbarming die liefde van die Here in word en daad met jou medemens te deel. Eers dan het jy gehoorsaam aan die Heilige Gees geword. Dan is jy eers ‘n Pinkstermens.

Die Nagmaalswyn en Nagmaalsbrood bereik eers sy volle betekenis as dit gedeel word met almal. Die brood en wyn word gedeel – net so moet ek my lewe deel met ander op my lewenspad. Ek moet ‘n “engel” vir ander mense word!

Ek is so dankbaar ons gemeentelede op Adelaide en ons boeregemeenskap begin almeer soos “engele” te lyk en op te tree. COVID-19 het ons ten goede verander.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Is Jesus dan weg, met Sy hemelvaart?

SKRIFLESING: Mat 28: 20

Ek lees die volgende interessante opmerking oor Jesus se hemelvaart. Hy het nederig die wêreld ingekom as ‘n buite egtelike baba in ‘n krip in ’n stal, maar het die wêreld triomfantelik verlaat met Sy hemelvaart. So anders as baie van die bekendes van ons tyd wat triomfantelik begin en skandalig eindig.

Maar het Jesus ons régtig verlaat? Beteken dit, dat Jesus nie meer “mens” is nie. Het Sy hemelvaart ‘n einde gemaak aan Sy “inkarnasie” en Sy vleeswording? Waar is Jesus nou? Wat doen Jesus nou?

Wat belangrik is, is dat ‘n mens Jesus nie behoorlik kan verstaan sonder die hemelvaart nie. Ongelukkig is die hemelvaart die “aspoestertjie” en die mees verwaarlooste kerklike feesdag op die Christelike kalender.

Dr Coenie Burger het hieroor deeglik geskryf. Dit sou ‘n groot fout wees om te dink, dat Jesus weg is en nou, net in die hemel is. Dit sou so sleg wees soos as ‘n afrigter van ‘n rugby-span wat op die dag van die wedstryd afwesig sou wees as sy span speel. Hulle sou nie kon staatmaak op sy fisiese nabyheid en morele ondersteuning nie. Hulle sou net kon rugby speel op grond van wat hy hulle geleer het. Maar die span sou maar baie eensaam en alleen die wedstryd moet speel.

Maar hoor wat sê die Bybel in Mat 28: 20: “ Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het, En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Verder sê Mat 18: 20: “…. want waar twee of drie in My Naam is, daar is Ek by hulle.”

Helmuth Thielicke skryf aangrypend oor die hemelvaart van die Here Jesus Christus: “ The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which He has been passes on Christmas night, is just being crossed once again and in a new way.”

Ons lees dat met die bekering van Paulus, dat die Here Jesus self aan hom verskyn het in persoon en ook aan Annanias wat die Here se boodskap aan Paulus moes bring.

Luke Johnson skryf: “ In Acts, the presence of the resurrected Lord is just as strong after the ascension as before; indeed stronger.”

Die hemel is nie ‘n veraf onwerklike plek nie. Nee, die hemel is net in ‘n ander dimensie, baie naby aan ons. Wanneer ons eendag sterf, sal ons wat nou onsienlik is, kan sien met ons nuwe geestelike liggame.

Kom ek verduidelik so aan u. Ons glo aan die twee nature van Christus, naamlik sy Goddelike natuur en sy liggaamlike natuur. Met Kersfees het Christus wat Goddelik is, kom mens word.   Met Sy hemelvaart het Sy liggaamlike persoon opgevaar om te sit aan die regterhand van God. In Sy Goddelike natuur is hy egter nog steeds by ons, al is dit onsigbaar. Dit is natuurlik bevrydend. As Jesus net in Sy liggaam by ons was, was dit beperkend. Hy sou hoogstens by ‘n paar mense op ‘n slag op een plek kon gewees het. Hy sou dan met ander woorde net in Johannesburg kon wees en nie ook by ons hier op Adelaide nie. Die feit dat Hy in sy Godheid by ons is, het die troos dat Hy altyd in alle omstandighede by almal gelyktydig kan wees. Hy kan in Adelaide, Bedford, Johannesburg, Washington, Moskou en op enige plek in die wêreld gelyktydig wees.

Daarom is die Heilige Gees nie ‘n “replacement” vir Jesus nie. Die Gees vervang op geen manier vir Jesus nie, maar maak juis vir Jesus “toeganklik” vir ons. Christus is in Sy Godheid by ons en Hy doen Sy werk in ons.  Christus werk kragtig in ons.

Maar met Sy hemelvaart het Christus, sy kerk op Pinkster Sondag bymekaar geroep, omdat Christus self “’n gemeenskap van gelowiges” bymekaar geroep het en hulle so vertrou het, dat Hy van die kerk verwag om in “Christus se vlees” teenwoordig te wees in dié wêreld. Peterson het geskryf dat die profete en die apostels almal dele van die Bybel geskryf. Maar Christus het geen boek geskryf nie. Hy het egter die “gemeenskap van gelowiges” gestig. Van hierdie gemeenskap van gelowiges verwag Hy om Sy “vlees” te wees op hierdie aarde.

Daarom  moet daar by ons ‘n stuk inkarnasie plaasvind. Ons moet as’t ware meer menslik word, sodat ons goddelik kan optree. Ons moet as’t ware Christus beliggaam of “embody”. Mense moet in ons die lewende en opgestane Christus kan raaksien.

Ons moet Christus se vlees op aarde wees. Ons moet Christus se hande, voete, oë en liggaam wees in die wêreld.

In Europa was daar in ‘n dorp ‘n pragtige begrafplaas met ‘n Christusbeeld in die middel van die begrafplaas. Die beeld het uitgestrekte hande gehad. As gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog het die hande afgebreek. Na die oorlog wou die stadsvaders die beeld afbreek. Want hoe lyk ‘n Christusbeeld sonder arms nou? Een kerkvader het egter die simboliek raakgesien. Hulle het toe ‘n marmerplaat onderaan die Christusbeeld aangebring met die woorde: “Jy is my arms in hierdie wêreld.”

Jesus Christus het opgevaar na die Vader. In sy vlees is Hy by die Vader, maar in sy Godheid nog met ons. Daarom moet ons Jesus se “vleeslikheid” sigbaar maak deur sy hande en voete te wees in hierdie wêreld.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

COVID-19 EN DEO VOLENTE

COVID-19 EN DEO VOLENTE

SKRIFLESING: Jakobus 4: 13 – 17

Aan die begin van 2020 het ons almal vir mekaar met die mooiste WhatssApp boodskappies ‘n geseënde 2020 toegewens. Ons was positief oor 2020. Ons het ook alreeds aan die begin van die jaar aannames en beplanning gedoen oor wat ons alles gaan doen in 2020. Sommiges het ‘n troudatum beplan, ander het ‘n vakansie by die see beplan en ander het ‘n familiebyeenkoms beplan. Ons het beplanning gedoen vir ons werk, ons familie, ons ontspanning, vir die kerk en om dinge saam met ons vriende te doen.

5988555_coronavirus-thumb-img-COVID-01Binne drie maande het alles regoor die aardbol verander. Skielik is al ons planne gekanselleer. Niks wat ons beplan het, gaan gebeur nie. Baie kan nie meer werk toe gaan nie, skole is gesluit, daar is geen kerk of sportbyeenkomste meer nie. Die winkels is toe.  COVID-19 het alles verander.

Die apostel Jakobus waarsku ons in hoofstuk 4: 13 – 17 teen ‘n valse stuk selfvertroue, asof die verloop van die lewe in ons hande is. Jakobus praat van mense wat selfversekerd sê, vandag sal ons in dié stad wees en môre in ‘n ander stad en ons sal sake doen en geld maak.  Ons maak as’t ware die aanname dat ons self sal bepaal wat op die agenda van elke dag is. Jakobus praat van dit, is “grootpratery”. Met ander woorde hy praat van persoonlike trots en hoogmoed. Ons wil die kaptein van ons eie skip en lewe wees. Ons sal alleen bepaal waar ons vandag en môre is. In Esegiël 28:6 staan daar: “Daarom, sê die Here my God, omdat jy jou verbeel het jy is ‘n god…..” Ons verbeel ons, ons is ‘n god wat ons eie tye kan bestuur. Ons wil as’t ware die hart van ‘n god hê, as ons, ons kalendertyd wil beplan.

Hoor ‘n bietjie hoe beskryf Jakaobus sy lesers. Hulle het in die eerste plek ‘n plan gehad. Hulle wou suksesvol wees. Hulle het tweedens ‘n plek gehad. Hulle sal van stad tot stad reis. Hulle het derdens ‘n tydsperiode beplan. Hulle het beplan om vir ‘n jaar op ‘n plek te bly. Hulle het vierdens ‘n program gehad. Hulle sal handel dryf. Vyfdens het hulle ook ‘n doel gehad, naamlik om geld te maak. Die Griekse word vir “geld maak”, beteken in die Grieks om in die ekstreme, tot die uiterste toe geld te maak. So kan gesien word hoe Jakobus se lesers tot in die fynste detail hulle lewe en toekoms met ‘n bravade en sekerheid wat aan arrogansie grens beplan het.

Dan steek Jakobus ‘n stokkie voor die valse selfversekerdheid. Hy skryf in vers 14:  “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.” Jakobus klink hier amper soos Prediker, wat sê dat die menslike lewe en menslike planne maar nietig is. Dit is soos mis wat voor die son verdwyn. Jy kan van niks seker wees nie. Die dood kan jou in ‘n oomblik besoek. 

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ‘n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk  bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ‘n sandkasteel wegspoel met hooggety.

uvm3dws7_400x400Dan gee Jakobus vir ons raad in vers 15: “ Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Daar is die Latynse woorde: “DEO VOLENTE”, wat beteken as dit die wil van die Here is. In my kinderjare het ek dikwels gehoor dat hulle D.V. voor ‘n beplande datum sit. Daardeur is as’t ware verklaar dat ‘n geleentheid beplan word D.V., “as dit die wil van die Here is”. Daardeur is as’t ware erkenning gegee aan die mense se afhanklikheid aan die Here en dat die Here self die tye en geleenthede in Sy hande hou. Veral die Puriteine het begin met die gebruik om D.V. voor ‘n datum te plaas.

Dalk wil die Here ons hier in 2020 tot ‘n halt roep en ons weer daaraan herinner dat ons lewe, geleenthede, beplanning en agenda nie van onsself afhang nie. Ons moet meer afhanklik omgaan met ons daaglikse en jaarlikse beplanning. Ons moet weer die afkorting “D.V.” gebruik wanneer ons ‘n datum beplan.

Daar is ‘n verskil hoe mense van Afrika en die Westerling oor tyd verskil. Vir die mense van Afrika is tyd ‘n reeks van sinvolle gebeurtenisse. Vir die Westerling is tyd om so produktief as moontlik te wees in ‘n sekere tydsgleuf. Daarom is ons so ontstelt dat tyd so vinnig verby vlieg. Vir die Westerling met sy behoefte aan produktiwiteit is 2020 natuurlik ‘n verskriklike slegte jaar. Dit is sekere die onproduktiefste jaar wat die wêreldgeskiedenis die afgelope 100 jaar beleef het. Inderdaad is dit ‘n “annus horribilis”, ‘n horibale jaar, met min goed in hom. Ons kan inderdaad nie meer soos vers 13 sê, van een stad na ‘n andere stad reis om sake te doen of geld  te maak nie.

Dalk wil dié horibale jaar ons leer om nuut te kyk na die betekenis van tyd. Dat tyd nie gemeet moet word slegs in terme van produktiwiteit nie, maar eerder as ‘n reeks sinvolle gebeurtenisse. Ons moet leer dat tyd nie aan ons behoort nie, maar dat dit aan God behoort. Daarom sal God ons ingang en ons uitgang bepaal. Daarom is ons van tyd, van God afhanklik. Ons moet leer om D.V. te sê voor elke beplande datum en tyd.

Koning Dawid sê so mooi in Ps 31:16 se begin:  “My tye is in u hand.” Dit het ons vergeet. Daarom het ons ‘n Korona-virus nodig om ons dit weer te leer.

Die jaar 2020 lê nou skielik onbekend voor ons. Skielik kan ons nie meer handel dryf nie. Ons het nie meer ‘n plan, ‘n plek, ‘n tydsperiode, ‘n program of ‘n doel nie. Ons sandkastele van 2020 wat ons vir ons gebou het, het skielik weggespoel. Ons was te seker van onsself en ons planne vir 2020 gewees.

Nou word ons weer geleer om DEO VOLENTE te sê, as dit God se wil is. Ons word weer geleer om die voorvoegsel D.V. te gebruik as ons ‘n datum wil vasmaak vir die toekoms.

COVID-19 het ons geleer om weer ons plek te ken in die skepping, maar ook om weer ons tyd te plaas in God se ewige en perfekte tyd.

DEO VOLENTE

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)