SKRIFLESING: Ps 121: 1 – 8
Ons sê dikwels: “Die lewe lê soos ‘n berg voor my …… ek sien nie daarvoor kans nie.” Hierdie berge kan enigiets wees. Dit kan “oud word” wees. Dit kan siekte wees, eensaamheid, huweliksprobleme, ouer-kind probleme of finansiële probleme of vele ander gestaltes van menslike pyn.
Ja, my probleme lê soos ‘n berg voor my!
Dan begin koning Dawid hierdie Psalm met die woorde: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Ons as gelowiges leef dikwels sonder moed en lewenskrag, asof die berge groter as God is. Inderdaad het Johannes Calvyn geskryf: “Daar hoef maar net ‘n blaartjie iewers te ritsel, dan begin ons te bewe asof God van ons vergeet het.
Koning Dawid het ook met die skryf van Psalm 121 rondgerol van bekommernisse en vrees. Ons lees dit is ‘n pelgrimslied. Met ander woorde Dawid het dit geskryf toe hy oppad was. Waarskynlik was dit in die nag toe hy rondgerol het van bekommernisse en vrees.

Sien in u verbeelding die situasie waarin Dawid was. Hy was waarskynlik op ‘n lang en gevaarlike reis na Jerusalem. Daar was die gevaar van roofdiere en veral van rowers. Hy het rondom die vuur gelê en die bekommernisse het hom wakker gehou. Hy het nog die vrees gehad dat koning Saul hom nog wil doodmaak. Dan sien hy die wag, wat by die vuur waghou. Dan spoel daar ‘n vertroue en gerustheid oor hom en hy komponeer die Psalm op sy harp.
Die lied, die Psalm begin met: “Ek kyk op na die berge: Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”
Die geloof het destyds bestaan dat die gode op ‘n berge in die noorde woon. Die Israeliete het immers gereeld op die sogenaamde “hoogtes” geoffer, omdat hulle waarskynlik ook deur hierdie ou geloof beïnvloed is. The Living Bible vertaal dit so mooi: “ Shall I look to the mountain gods for help?”
Hoor hoe antwoord Dawid: “ My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Vir die Skeppergod is alles moontlik.
In vers 1 – 2 is “hulp” die sleutelwoord en in vers 3 – 8 is “bewaar” die sleutelwoord. Daarom het die Psalm as’t ware twee dele:
Verse 1 – 2: Die Here is my helper.
Vers 3 – 8: Die Here is my bewaarder.
En hoe ‘n bewaarder is die Here nie!
In vers 3.a staan daar dat Hy nie sal toelaat dat jy struikel nie. In die Hebreeus beteken dit “om nie te waggel nie”. Jy sal nie eers amper val nie.
In vers 3.b en vers 4 staan dat die een wat jou beskerm, slaap nooit nie. Daar staan die Beskermer van Israel slaap nooit nie. Is dit nie wonderlik nie. Toe ek Nasionale diensplig gedoen het, moes ek dikwels in die oggendure tussen 04h00 en 06h00 wagstaan. Dit is net jy en jou geweer en jou radio om met die bevelskamer te praat. Dit is die tyd net voor die son opkom. Dan is jy op jou heel vaakste. Dan moes ek hard met myself gepraat het om wakker te bly. Sou hulle jou vang slaap, sal hulle jou van die offisierskursus afgooi. Dit was erg. Ja, wagte kan aan die slap raak. Die stad Sardis in die Bybel is ook twee keer binnegeval, omdat die wagte geslaap het. Maar onse Here slaap nooit. Ons Beskermer is altyd wakker om ons te beskerm, teen watter gevaar ons ookal bedreig.
Vers 6.a handel oor die wyse van beskerming. Die son sal jou nie steek nie. Dit herinner aan die uittog van Israel uit Egipte toe die Here ‘n wolk as beskutting gegee het teen die gevaar van sonsteek in die woestyn.
Vers 5 staan daar Hy bewaar jou van alle gevare. Die Here vul die ruimtes waar jy die kwesbaarste is. So byvoorbeeld is die soldaat se regterkant die kwesbaarste. Sy skild is aan sy linkerkant om sy hart te beskerm. Sy regterkant is onbeskut, want hy hou sy swaard vas. Daarom is die kwesbaarste ruimte die regterkant. Maar ook in daardie kwesbaarste ruimte is God.
Vers 6.b staan daar dat die Here jou snags sal beskerm en dat die maan jou nie kwaad sal aandoen nie. In die antieke tyd het hulle geglo dat daar maansiektes was soos epilepsies en koorssoorte wat kom van die Sjin die maangod. Ook van dié gevaar sal die Here jou beskerm.
Dan word die Psalm afgesluit met verse 7 en 8, wat weereens bevestig dat die Here jou sal beskerm. Daar word beklemtoon , dat Hy jou lewe (jou siel) sal beskerm. Jou lewe (siel) is jou kosbaarste. Hierdie Psalm sê nie dat die lewe nie probleme sal hê nie. Die lewe is egter vir almal ‘n reis vol gevare en elkeen se lewenspad is moeilik. Maar in alles sê Dawid is die Here vir ons ‘n Helper en ‘n Bewaarder.
Die lewe is een groot pelgrimsreis, vol gevare. Maar op hierdie pelgrimsreis is die Here met ons, om ons te lei en te beskerm. Ons pelgrimsreis vat ons nou deur die donker dieptes en ongekarteerde pad van COVID-19. Die gevaar is nou groot. Daar is ekonomiese insinking, werksverliese en menslike ellende. Maar alle donker tye eindig. JAHWEH, die Here se naam in Hebreeus beteken: “Die Here red.” Die Here red op verskillende maniere. Somtyds maak die lewe nie sin nie, maar daar is ‘n groter prent daaragter.

Wanneer jy ‘n enkele legkaartstuk vashou, sien jy geen prent nie. Eers later wanneer dit in die groter legkaart geplaas word, kry die prent fokus. Nou verstaan ons nie, maar later sal ons verstaan.
Word kalm, kry lewensmoed, word rustig en weet: Jy het ‘n Helper en ‘n Bewaarder.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
Dankie Here ek het hierdie boodskap nodig gehaat vanaand
LikeLike