Lok Vlinders, Nie Brommers nie

SKRIFLESING: 2 Kor 2: 14 – 17

Wonderskone blomme met ’n aangename reuk lok pragtige skoenlappers wat help om die blomme te bestuif.

Ons as kinders het altyd met die vlinders gespeel en hulle probeer vang met ’n sagte net, maar ons mag hulle nie seermaak nie. Ons mag hulle net versigtig vashou en dan weer loslaat, om hulle goeie werk voort te sit, naamlik om die blomme in my ouers se tuin te bestuif.

Vetplante se blomme wat sleg ruik soos vrot vleis, lok weer die vuil brommers wat die vetplante bestuif. Ons is altyd gewaarsku om weg te bly van brommers en vlieë. Hulle dra kieme en siektes. Hulle moet met die vlieëplak doodgeslaan word en dan moet jy jou hande gaan was voor jy tafel toe gaan om te eet.

’n Aangename reuk lok vlinders en ’n slegte reuk lok brommers.

Paulus sê as’t ware in 2 Kor 2: 14 – 17 dat ’n mens uitwendig mooi kan lyk, maar dat jou siel stink. Jou siel stink as jy in onvrede, bitterheid, kwaadwilligheid, onvergewensgesindheid en in sonde lewe. Die agtergrond van ons gelese gedeelte gaan oor die vraag of jy sonde in jou lewe oorwin het. In die voorafgaande verse word melding gemaak van liefde en vergifnis vir die oortreder. Daarom moedig Paulus ons aan om sonde in ons lewe te oorkom. Dan is ons op ’n triomftog en versprei ons ’n aangename geur. Die konteks van die gedeelte gaan oor die Romeinse gebruik om na ’n oorwinning deur die stad te marsjeer met groot vertoon. Gewoonlik word die vyand met minagting deur die strate aangejaag. Óf die vyand word slawe óf hulle word doodgemaak in die openbaar. Met so ’n triomftog word gewoonlik ook wierook gebrand. Vir die oorwinnaars is dit ’n aangename reuk. Maar vir die vyand wat verslaan is, is dit ’n doodsreuk. Hulle verwag die ergste, naamlik die dood. Net so, as die gelowige die sonde in sy of haar lewe oorwin, word ’n aangename geur versprei vir almal om te ruik. Maar as jy in die sonde volhard, versprei jy ’n doodsreuk, ’n stinkende slegte reuk.

In vers 17 word in die heel nuutste Afrikaanse vertaling gepraat van mense wat met die Woord “smous”. Dit beteken om die Evangelie af te water. Dit is soos ’n mes of swaard wat stomp geword het. Gelowiges kan dikwels die skerp kante van die Evangelie stomp maak. Dit beteken dat die tweesnydende Woord van die Here sy skerp kante verloor en as’t ware nutteloos word. So kan die mens die Woord van die Here afstomp en verwater.

Hoor wat sê Eugene Peterson in The Message: No – but at least we don’t take God’s Word, water it down, and then take it to the streets to sell it cheap. We stand in Christ’s presence when we speak; God looks us in the face. We get what we say straight from God and say it as honestly as we can. Dit is die probleem van die post-moderne mens, ons maak die Woord stomp, omdat ons die Evangelie afwater om akkommoderend te wees.

Dan versprei ons ’n stinkende onaangename reuk. Alles word as reg en aanvaarbaar voorgehou. Die Evangelie word afgewater as ’n “ou boek” wat vandag niks meer sê nie. Mense se etiese waardes het verwater. Die Here se naam word misbruik as ’n vloekwoord, om elke draai en hoek. Godsdienstige waardes word as outyds voorgehou. Uitwendig is ons dikwels soos pragtige vetplantblomme, maar inwendig kan ons siele stink van ’n afgewaterde Evangelie, wat al sy skerpte verloor het.

Die ergste is dat mense met hierdie Evangelie smous vir geld – dit noem ons die sogenaamde Welvaartsteologie of kultus-predikers. Predikers verkondig nie die Woord om siele te bekeer nie, maar om ryk, skatryk te word. Welvaartsteologie verkondig net rykdom, gesondheid en voorspoed. As jy arm of siek is, sê hulle dit is omdat jy sonde in jou lewe het of nie reg glo nie. Jou verlossing word dan aan jou geloof en goeie lewe gekoppel.

Die kerk word dan soos ’n besigheid bestuur om ’n sekere winsgrens te behaal, sodat die charismatiese prediker met duur karre, baie spoghuise, spoggerige klere  en ’n straalvliegtuig ’n uitspattige lewe kan leef. Die charismatiese prediker manipuleer gelowiges, deur te smous met die Woord. Hulle verkondig net voorspoed en nie dissipelskap nie.

Eenmaal het die Here Jesus Christus, in Johannes 13, die stinkende voete van die dissipels gewas. Hy het van stinkende voet na stinkende voet beweeg en elke voet gewas, om die Joodse reinigingswet te onderhou. Eintlik was dit die simbool dat Jesus aan die kruis ons stinkende harte en lewens sal skoonwas, sodat ons weer welriekend kan wees.

Ek het êrens gelees dat die gebruik van ’n bruidsruiker sy ontstaan in die Romeinse Ryk gehad het, maar dat dit in die Middeleeue die doel gehad het dat die bruid lekker kan ruik, omdat daar in daardie tyd nie seep en parfuum was nie. Mense het in daardie tyd ook baie minder gebad as vandag. So kon die bruid lekker geruik het vir haar bruidegom op hul groot dag. Nie Old Spice of Jóvan se Black Musk, kan ons siele laat lekker ruik nie. Geen bruidsruiker kan ons stink lewe verdryf nie. Die teksgedeelte sê uitdruklik Christus neem ons op ’n triomftog. Hy verlos ons. Hy maak ons weer welriekend. Wanneer ons die sonde in ons lewe oorwin, dan versprei ons ’n welriekende geur. Daarom mag ons nie gemaklik in ons eie sonde voortploeter nie. Christus neem ons mee op Sy triomftog.

Sommige vetplante se blomme ruik baie sleg om brommers aan te trek om hulle te bevrug. ’n Slegte reuk trek brommer- en vlieë-vriende, nie egte ware vriende nie. Wanneer jy ’n slegte reuk versprei, versamel jy soos in Psalm 1 die spotters, wat met God en ander mense spot. Psalm 1 noem hulle die goddeloses.

Blomme wat aangenaam ruik, trek skoenlappers aan, wat ware en goeie vriende is. Vers 17 sê ons moet in opregtheid praat en leef, asof dit vanuit God kom. Dit beteken om geen kompromieë te maak nie. Watter reuk versprei jy? Ruik jy lekker vir jou man of vrou? Ruik jy lekker vir jou gesin of vir jou ouers? Ruik jy lekker vir jou werksmense of kollegas? Versprei jy ’n aangename geur in die Adelaide- en Fort Beaufort-gemeenskap? Old Spice, Lux of Jóvan se Black Musk gaan jou nie red nie. Dit gaan jou siel, woorde, dade en optrede nie laat lekker ruik nie. Net Christus kan jou vernuwe om totaal nuut en vars te ruik. In Christus is jy ’n nuwe mens, wat anders en welriekend leef.

Somtyds word ons as volwassenes en kinders gespot oor ons geloof. Daar is ook elke dag Christene wat doodgemaak en onthoof word in Arabiese Moslemlande. As ons opstaan en bereid is om gespot en verneder te word, is ons soos blomme wat gekneus word om ’n aangename geur te versprei. Ons word as’t ware soos potpouri-blare gekneus en gedroog, om ’n welriekende geur vir Christus te versprei. Dit is juis die martelare in die vroeë kerk wat die wonderlike geur van Christus versprei het oor die hele wêreld.

By my ouerhuis van jare gelede het daar ‘n katjiepieringstruik gestaan, by die voordeur. Op somersnagte het dit die heerlikse geur versprei. Jy kon dit meters van die struik al ruik. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. So moet ons ook katjiepieringstruike wees wat ’n welriekende geur versprei, wat op ’n afstand geruik kan word deur almal rondom jou. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Erkenning: In die voorbereiding van hierdie preek is ChatGPT (OpenAI) as navorsings- en taalhulpmiddel onder andere gebruik. Verskeie teologiese en akademiese bronne en kommentare, wat wetenskaplik artikels insluit, is ook gebruik.   Alle eksegese, hermeneutiek, teologiese beoordeling, en finale formulering bly die verantwoordelikheid van die prediker. Sommige fotos kan ook deur ChatGPT  (OpenAI) gegenereer wees.

‘n Lewe wat Na Binne Krimp of Na Buite Groei

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34

Bekommernis kan verlammend inwerk op ’n mens se lewe. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou wat doodsiek was en gereeld elke week ’n afspraak by die dokter en sielkundige gehad het. Elke dag moes sy duur medikasie gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword.

Een koue wintersaand is sy egter op pad na die kafee om brood te koop. Toe sy by die robot stop en wag dat die lig moet groen word, vind sy die grootste ontdekking van haar lewe. Terwyl sy wag, sien sy koerantverkopertjies kaalvoet op en af spring om hulself warm te hou. Sy kry hulle ontsettend jammer en dink hoe sy hul lot kan verlig. By die huis aangekom maak sy dadelik vir hulle sop en toebroodjies en neem dit vir hulle. Die aand gaan slaap sy rustig, want vir een aand kan sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy vir hulle truie begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n gesonde mens, want sy het geleer om haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak groter as haarself.

Sien, toe die vrou ingekrimp het in haar eie leefwêreld, het haar gees en sin vir die lewe gesterf. Toe sy na buite – na die straatkinders – gegroei het, het sy gegroei in haar gees en die sin van die lewe. Skielik het haar lewe sin gemaak. Sy het ’n doel gehad om voor te lewe. Interessant is dat Henry Nouwen daarop wys dat bekommernis die mens in homself laat inkrimp, terwyl kinderlike vertroue in God se versorging,  ruimte skep vir liefde en diens na buite.

Haar verhaal laat my dink aan die twee soorte kragte wat daar is, naamlik middelpuntsoekende krag (soos ’n draaikolk in ’n rivier) en middelpuntvliedende krag (soos die planeet aarde wat met middelpuntvliedende krag weg van die son af wentel).  Middelpuntsoekende krag loop uit op die dood in die draaikolk. Middelpuntvliedende krag beteken daar kan lewe wees op planeet aarde.

Die vrou in ons verhaal het haarself middelpuntsoekend vasgedraai in haar bekommernis. Toe sy begin wegleef het van haarself en vir ander begin omgee het en ’n barmhartigheidstaak aangepak het groter as syself, het sy begin leef.

In verse 25 – 32 lees ons van mense wat besig is met middelpuntsoekende godsdiens. Hulle is bekommerd en begaan oor hulle eie klein koninkrykies. Oor God se Koninkryk is hulle nie in die minste bekommerd nie. In vers 33 lees ons van hoe ware lewendige godsdiens behoort te lyk. Middelpuntvliedende godsdiens is nie bekommerd oor die self nie, maar is bekommerd oor God se Koninkryk.

Ons mense is geneig om ons eie koninkryke se soek en te bou. Vers 25 tot 32 handel oor die mense se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter as ek begin leef net vir my behoeftes. Wanneer my polisse, my duur motor, my groot huis, my familieplaas, my kinders, my goeie naam, my gemaksug, of my geluk my enigste prioriteit word in my lewe, dan gaan die rooi ligte aan. Of wanneer ek my dankoffer swaar begin gee. Wanneer my status belangriker word as God se eer. Wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, dan is daar iets groots verkeerd.

Wie so besig is om aan sy / haar eie empire – sy / haar “koninkrykie” – te werk, is met sy eie middelpuntsoekende godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernis.

Vandag beleef ons ook ’n stuk doodsheid in ons kerke omdat gemeentes net ingestel is op hul eie behoeftes. Solank dit net goed gaan met die plaaslike gemeente en met die sieleheil van sy lidmate, is alles reg. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente en daar eindig dit. Elke gemeente vir homself. Dit is middelpuntsoekende godsdiens in sy uiterste vorm.

Eenmaal is daar aan ’n skilder gevra om ’n skildery te maak van ’n kerk wat dood is. Hy het lank gedink en eers na ’n jaar terug gekom met die skildery. Hy het ’n ongelooflike mooi en duursame kerk geskilder, maar skokkend was die spinnerakke oor die sendingskatkis. Wanneer die kerk so bekommerd is oor sy eie behoeftes, oor sy eie klein koninkrykie, dan is die kerk dood. Middelpuntsoekende godsdiens is selfsugtig. Dit hou God se genade net vir myself en wil dit nie deurgee na ander nie.

 Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader-gebed bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go”. Laat U Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat U koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”?

Ons bedoel daarmee dat die Here grondgebied sal wen in my lewe. Dit beteken om hoe langer hoe meer onder die heerskappy van God te lewe. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergaan, die neerlaag van ons eie koninkryke.

Dit beteken dat ons dissipels word van God se Koninkryk, soos Dietrich Bonhoeffer (1906–1945) leer. Hy sê: “Die dissipel leef nie uit sekuriteit nie, maar uit gehoorsaamheid.” Volgens KI beteken dit vir hom “dat die dissipel die toekoms aan God oorlaat. Hy skryf dat bekommernis eintlik die toekoms probeer beheer voordat God dit gee.”

KI haal Martin Luther (1483–1546) aan: “Bekommernis is eintlik ongeloof wat God van sy amp as Vader probeer onthef.”

Verder skryf Martin Luther: “God gee aan die voëls hulle kos, maar Hy gooi dit nie sommer in hulle neste nie.” (Luther se aanhaling, volgens KI). Met ander woorde God sorg vir ons soos wat Hy vir die voëls sorg, maar ons moet self ook arbei en werk daarvoor.   

Daar is geen moeiliker gebed as dit nie. Met hierdie gebed verlaat ons die klein kring van ons eie koninkryke, maar ook ons binnekamers en ons kerkmure en  gaan ons oog wêreldwyd oor die lande wat wit is van die oes, na Singapoer en Saigon, na Rusland en Roemenië, oor die ongelowige miljoene tot by die uithoeke van die aarde. ’n Gebed wat verder uitreik as hierdie een, kan ons beswaarlik bid.

’n Gemeente wat die Koninkryk van God soek is meer begaan oor die sieleheil en liggaamlike nood van heidene op sy drempel as oor sy eie behoeftes. Daarom moet sendingwerk en liggaamlike nood van mense ’n baie groter prioriteit by ons wees as die behoeftes van die plaaslike gemeente. Wie sy eie Koninkrykie verloën en God se Koninkryk soek, maak daarmee ook ’n einde aan sy / haar wederstrewige wil en stel God aan as die Pottebakker van sy lewe.

Verlang u na ’n lewende geloofslewe? Verlang u daarna om ’n lewende gemeente te wees?  Dan sal ons Mat 6: 25 – 34 moet gehoorsaam. Dan sal ons die fisika-wet van die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende krag moet gehoorsaam.

Wie middelpuntsoekend bekommerd is oor sy of haar behoeftes sal geestelik doodgaan. Hy / sy sal doodgaan in die draaikolk van sy / haar eie selfsugtige wil en behoeftes. Wie egter middelpuntvliedend besig is om hom / haar te bekommer oor God se Koninkryk en oor hoe God se Koninkryk ’n groter staanplek in sy / haar lewe en in die wêreld sal kry, sal geestelik lewe.

Versprei die Woord, gee sop, brei truie, gee voedsel, gee ’n Bybel, versprei ’n traktaatjie, besoek iemand wat siek of moedeloos is, help iemand, en die Koninkryk van God kom in jou lewe.

Klein kuddetjie, bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe God se Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself  bekommerd wees nie. Dit is immers God se hele instelling om oor julle bekommerd te wees.

Here, laat u Koninkryk kom. Maranata! Kom Here Jesus! Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan U behoort. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Erkenning: In die voorbereiding van hierdie preek is ChatGPT (OpenAI) as navorsings- en taalhulpmiddel onder andere gebruik. Verskeie teologiese en akademiese bronne en kommentare, wat wetenskaplik artikels insluit, is ook gebruik.   Alle eksegese, hermeneutiek, teologiese beoordeling, en finale formulering bly die verantwoordelikheid van die prediker.

Wat Sien Jesus aan Ons Boom?

SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9 en Mat 28: 16 – 20

Daar is ’n groot verskil tussen ’n passasierskip en ’n handelskip. Hulle verskil hemelsbreed van mekaar, want hulle take verskil. Die passasierskip is gemaak om passasiers te vervoer en die handelskip is gemaak om mee handel te dryf.

Omdat die passasierskip getaak is om passasiers te vervoer, is die skip dan ook gerieflik ingerig. Gewoonlik baie weelderig, met al die gemak wat passasiers oor ’n lang seevaart verlang. ’n Handelskip is weer ongemaklik met min gerief, want die skip is nie gebou om op te ontspan nie, maar om houers en vragte te vervoer.

Op ’n passasierskip werk net die bemanning. Die honderde passasiers ontspan op die skip en word bedien. Op die handelskip is almal op die skip getaak met ’n opdrag. Niemand word bedien nie.

Waarmee sal u die kerk vergelyk? Met ’n passasierskip of ’n handelskip?

Vir baie lidmate moet die kerk soos ’n passasierskip wees. Die kerk moet gerieflik wees en deeglik in hul behoeftes omsien. Die dominee en die kerkraadslede moet soos die kelners op die passasierskip wees, wat rondhardloop om almal tevrede en versorgd te hou. Dan is die kerk op haarself gerig. Dan leef die kerk bloot vir eiebelang en is na binne gerig.

Veel eerder moet die kerk soos ’n handelskip wees. Die kerk is die Here se handelskip waarmee Hy die wêreld wil bereik. Die kerk as handelskip moet liefde, vriendelikheid, gasvryheid, liefdadigheid en al die gawes van die Gees vervoer en dit aan die wêreld lewer.  Daarom het die Here Jesus dan ook met sy hemelvaart vir die kerk sy visie, sy missie, uitgespel naamlik om dissipels te maak.

Die vyeboom is die heel eerste boom wat by naam genoem word in die Bybel. Ons lees hoedat Adam en Eva na die ontdekking van hulle naaktheid na die sondeval vir hulle klere van vyeblare gemaak het. Die vyeblare moes hulle naaktheid (sonde) bedek. Hulle het skaam gekry en hulle het hulle sonde weggesteek. Interessant hoe die Here later nie maar net blare gesoek het wat jou sonde bedek nie, maar vrugte van bekering, wat wys op die wedergeboorte.

In die Ou Testament is die vyeboom en die wingerdstok natuurlik ook die metafore van die volk Israel.  Daarom word daar gepraat van die vyeboom wat in die wingerd geplant is. Die vyeboom is simbool van die Here se vrede en voorspoed oor sy volk. So moet ons as God se Israel, as Nuwe Testamentiese kerk, ook die Here se vrede en voorspoed na die wêreld bring.

Daarom het die Here Jesus dan ook die gelykenis van die vyeboom vertel. Die Here Jesus kom by die vyeboom en vind ’n pragtige blaredos, maar vind geen vrugte daaraan nie. Dit waarvoor die vyeboom aangeplant is, naamlik om vye te dra, daarin misluk die vyeboom.

Interessant is dat die eienaar jaar na jaar gekom het om vrug te soek aan die vyeboom. Nooit het hy iets gevind nie. Die eienaar wou dit uitkap, maar die tuinier het gepleit vir uitstel van nog ’n jaar. Dadelik het die eienaar uit genade nog ’n genadejaar gegee. So is die Here  ook genadig met sy oordeel. Maar daar kom ook ’n tyd wanneer die Here se genade tot ’n einde sal kom.

Die vyeboom is soos ’n luukse-passasierskip, met ’n pragtige blaredos, waaronder die lidmate in die koelte sit. Maar die vrugte, die vye ontbreek. Daarom is die Here erg ontstel. Die vyeboom voldoen nie aan die doel waarom dit aangeplant is nie.

Die vyeboom  is bemes en natgegooi en versorg, maar nog dra dit geen vrugte nie. So het die Here Jesus ook sy kerk geplant, bemes en natgegooi en versorg. Die Here het vir sy kerk die Woord gegee en ampsdraers en gawes, maar nog steeds dra die Here se kerk nie vrug nie. In plaas van dissipels te maak, sit ons in die koelte van die vyeboom, sit ons op ’n gemakstoel op die passasierskip.

Jona in die Bybel het ook op ’n passasiersboot geklim,  om so ver as moontlik weg te vaar van sy sendingopdrag om Ninevé te waarsku oor God se waarskuwing dat hulle hul moes bekeer. Na al sy wedervaringe op die see en in die groot vis, beland hy toe wel in Ninevé. Na sy bitter kort preek, gaan sit hy buite die stad op ’n heuwel om te sien hoe die stad vernietig gaan word. Die Here gee toe vir hom ’n plant (sy gemakstoel), waaronder hy kan sit om hom te beskerm teen die warm son. Die Here red toe die stad en Jona se koelteplant verwelk in die son. Toe is hy bitter kwaad. Die Here spreek hom daarna aan oor hy meer bekommerd is oor sy gerief en gemak, as die duisende mense en diere van Ninevé. So is ons ook dikwels meer ingestel op ons gerief in die kerk, as oor die redding van die baie siele in Adelaide en Fort Beaufort. Die kerk en die erediens moet wentel rondom ons gemak en voorkeure – so glo ons. Die erediens en die missie van die kerk mag nie verander word  om ander ook te akkommodeer nie – so glo ons.

Kyk die Here Jesus nie dalk ook vanoggend na sy vyeboom, sy kerk op Adelaide en Fort Beaufort en wonder Hy of Hy nie maar die gemeentes moet uitkap nie? Vir baie dekades  het Hy al die vyeboom, die gemeentes, versorg en bemes en natgegooi, maar tog ontbreek die visie nog om dissipels te maak vir die Here. Ons is so ingestel om almal binne die kerk gelukkig en tevrede te hou, in die koelte te hou, dat ons vergeet het van ons oorspronklike visie, naamlik om dissipels vir die Here te maak.

Onderhou ons nie dalk vanoggend ’n passasierskip in plaas van ’n handelskip nie?

U sien, in Mat 28: 19 gee die Here Jesus die volgende opdrag, naamlik: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. In die Grieks staan daar letterlik: “Maak dissipels al lopende en lerende.”

Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan vir sy lede nie, maar vir sy nie-lede. Die kerk bestaan ter wille van die wêreld en die ongelowiges wat nog tot redding moet kom.

God se teiken is dus nie die kerk nie. Sy teiken is die wêreld: “ Gaan na die nasies toe.” Die kerk is die handelskip wat liefde verhandel aan die wêreld. Die kerk is die handelskip wat die liefde bring na die mense en die nasies. Die kerk is die draer van die liefde van Jesus Christus.

God werk in die wêreld. Wanneer die kerk in die wêreld werk, dan werk God in die kerk.

Johannes 3:16 sê nie: “God het die kerk so lief gehad nie”, maar “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het.” Natuurlik beteken dit dat God vir jou en my ook liefhet, maar dit beteken ook dat hy die ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook liefhet, en dit is ons taak om van hulle dissipels te maak.

Ons moenie vra: “ Hoe gaan dit met julle kerk?” nie. Ons moet eerder vra: “Hoe gaan dit met die wêreld daar waar julle kerk is?” Want God mik op die wêreld.

Is ons huwelike, ons gesinne, ons lewens, ons prioriteite, ons woorde, ons dade, ons geaardhede, ons persoonlikhede ’n lewende getuie van Jesus Christus? Hierdie bose wêreld waarin ons lewe sal nie beter word deur dit net te kritiseer nie. Nee, ons moet dit eerder evangeliseer.

Dit help nie ek kla oor die arbeiders in my diens nie, ek moet hulle by die Woord uitbring. Het hulle ’n Bybel? Herinner ek hulle aan eredienste in hulle taal? Gesels ek met hulle oor die Bybel? Hou ek in die oggende vir hulle godsdiens? Deur ons barmhartige dade maak ons ook dissipels vir die Here Jesus. Iemand se dade tel meer as sy woorde.

Leef ek elke dag korrek voor God, voor my huweliksmaat, voor my arbeiders en voor my medemens? Dra ek vrugte?

U sien, ek moet self eers ’n dissipel wees voor ek van ander dissipels kan maak.

Eintlik is dit nie so moeilik om dissipels van mense te maak nie. Ek moet net die saad saai, die regte voorbeeld stel, korrek lewe en bemoeienis maak met ander mense. God verander mense. God gebruik my lewe en getuienis om dissipels van mense te maak. Wat waar is, is dat ongelowige mense meer ons lewens lees as wat hulle die Bybel lees!

Is u en ek nog effektief? Maak ons nog dissipels?

Dra ons nog vye of gee ons net koelte vir die lidmate om onder te sit? ’n Vyeboom word nie aangeplant vir sy koelte nie, maar vir sy vye. Die kerk is geplant nie om koelte te gee vir lidmate nie, maar om vye te dra, dissipels te maak.

Die kerk is nie ’n passasierskip wat ons moet vervoer deur hierdie lewe na die hiernamaals nie. Nee, die kerk is die handelskip wat al God se Geestesgawes uitdeel aan die wêreld. Dit is om iets van die hemel nou alreeds waar te maak in hierdie wêreld.

Kom ons gemeente wees nie maar net vyebome wat koelte vir lidmate gee nie, maar eerder ’n vyeboom wat vrugte dra, wat die opdragte van die Here uitvoer, en wat dissipels vir die Here maak. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)  

Brag jy of confess jy?

SKRIFLESING: Lukas 18: 9 – 14 en 2 Kor 12: 1 – 10

Ek het die staaltjie gehoor wat in die goeie ou Kaap tydens ’n evangelisasieveldtog afgespeel het. ’n Persoon het geleentheid gehad om sy persoonlike getuienis te lewer.

Hy het begin deur breedvoerig te vertel hoe ’n groot sondaar hy was. Voorts het hy vertel hoe hy tot bekering gekom het en watter groot hoogtes hy as bekeerde Christen bereik het. Na sy getuienis het iemand agter in die gehoor opgestaan en baie verontwaardig gevra: “Mister, confess jy nou of brag jy nou?” Sommige godsdiensprogramme wat op TV-kanale uitgesaai word, laat ’n mens ook dink dat daar eerder ge-brag as ge-confess word.  Daar word luid handegeklap en toejuigings gedoen op getuienisse. Met geloofstoertjies kan die prediker die hoorders “emosioneel manipuleer” en uit sy hand laat eet. Godsdiens wat manipulerend is, is geen egte godsdiens nie.

Die Here Jesus vertel die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, vanweë “sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het”. (Luk 18:9) Daar is in die kerk nie plek vir geestelike hoogmoed nie. Die Fariseërs was die geestelike elite van die Jode. Hulle was gesteld daarop om geen wet van Moses te oortree nie. Hulle het perfeksionisme nagestreef om nie die Wet en die bepalinge te oortree nie. Hulle was byvoorbeeld so erg dat ’n man op die Sabbat nie ’n vlooi in sy baard mag dooddruk nie, want dan jag hy. ’n Man mag ook nie op die Sabbat sy baard skeer nie, want dan oes hy. Hulle het tientalle reinigheidsgebruike ook gehad, net om rein te bly. Hulle het as’t ware in die gemeenskap met hulle godsdienstigheid gespog deur in die openbaar lang gebede op te sê. Hulle was hoogmoedig oor hulle geestelike vermoëns.  Die tollenaars, aan die ander kant, het die belasting vir die Romeinse owerheid ingesamel. Hulle het as’t ware by die poorte van elke stad gesit en die tolgeld ingesamel. Die meeste van hulle was skelm en het meer as die normale belasting ingevorder en die geld in hulle eie sak gesit. Dan vergelyk die Here die gebede van die Fariseër en die tollenaar met mekaar. Die Fariseër het hoogmoedig gebid: “God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien.”(Luk 18: 11 – 12)

Die tollenaar se gebed was egter ’n nederige gebed. Daar staan in Luk 18:13: “Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ”Dan sê die Here Jesus dat die laaste man huis toe gegaan het en dat sy saak met God reg is. In Luk 18:14 staan daar: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”Die Here soek nederigheid in ons geloofslewe.As jy  jouself op die skouer klop en sê “Ek doen goed in my geestelike lewe …”, dan spog jy. Dan is jy hoogmoedig.

Maar as jy alleen maar vandag kan sê: “Omdat God se genade vir my genoeg was, omdat God iets met my stukkende lewe reggekry het … ” , dan is jy besig met ’n eerlike confession of eerlike belydenis.

Die gelykenis van die Fariseër en tollenaar word opgevolg in Luk 18:16 – 17 met die Here se woorde dat ons klein en nederig soos kindertjies moet word. Daarom staan daar: “Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle.  Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ ”

Dit is een van die geweldigste versoekings waaraan die kind van God blootgestel kan word, naamlik dat hy / sy geestelik hoogmoedig kan word. Die lis van die Bose is dat hy elkeen van ons op ons swakste plek aanval. Die oortuigde Christen sal dikwels nie so maklik ten prooi val van allerlei versoekings van ’n growwe aard nie. Miskien sal die Bose hom nie eens in hierdie opsig probeer versoek nie. Hy onderwerp die kind van God egter aan ’n veel gevaarliker soort versoeking, naamlik om te begin roem in sy / haar geestelike voortreflikhede.  Dit is soveel gevaarliker, omdat ’n mens dan in jouself roem en nie meer in Christus nie. Daarom gebeur dit ook so dikwels dat Christene roem in hulle geestelike ervaringe, maar eintlik vol van hulleself is.  Hoogmoediges maak gewoonlik op die volgende vermoëns staat, soos my goeie lewe. Ek het Jesus aangeneem. Ek het my bekeer. Ek glo … ek twyfel nie. Hoor jy die gevaarlike “ek”? Dan maak ek op myself staat en op my keuses en nie meer op God se genade nie. Dan gee ek alle eer aan myself en maak nie eers melding van die werk van die Heilige Gees nie. Dan word ek ’n meewerker van my verlossing.

Paulus weet dat God se genade genoeg is om gered te word. Juis dit is die inhoud van die hele Evangelie. Dit is God wat ’n mens uitverkies in Sy groot genade. Dit is God wat onweerstaanbaar red. Dit is God wat ons aanneem om Sy kinders te wees. Dit is God wat die geloof en die bekering in ons harte bewerk. Daarom kan ons oor niks roem, of spog of brag nie – dit is alles God se genadige werk. Daarom kan ons alleen maar confess of bely dat God se genade vir my genoeg is. Paulus weet egter hoe maklik dit kan gebeur dat ’n Christen hoogmoedig kan raak. Hy is daarvan bewus hoe maklik dit gebeur dat ’n mens jouself kan verhef, selfs oor die wonderlike genadegeskenke van God in jou lewe. Daarom dank Paulus vir God oor die doring in sy vlees. Ons weet nie presies wat hierdie doring was nie. Ons weet egter dat dit vir Paulus op sy knieë gehou het.

Paulus het verstaan dat swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikhede ter wille van Christus hom ten goede kom, sodat Christus se krag sterk kan wees in hom. Dit is ’n geweldige les om te leer. Ons natuurlike neiging is om lyding, leed, beledigings en vervolgings van ons af weg te bid. Ons wil dit nie graag ervaar nie. Ons kla daaroor as dergelike dinge oor ons kom. Ons pleit in die gebed by die Here om dit tog van ons weg te neem. En tog kan juis beledigings, miskenning, teenspoed, laster en al die dinge wat Paulus ervaar het, ook vir ons van die allergrootste betekenis wees, omdat juis sulke dinge ons uitdryf na Christus en na die genade alleen.

Die fokus van jou verlossing moet jy nie in jouself soek nie, maar buite jouself in Jesus Christus se soenverdienste. Die boot word nie geanker deur die anker op die dek te los nie. Die anker moet buite die boot in die diepblou see gegooi word om geanker te kan word. Jou ankerpunt is nie jouself en jou goeie eienskappe nie, maar lê buite jouself in Christus Jesus. Vanuit Christus se soenverdienste skenk die Gees vir my die geloof en die bekering om as verloste mens te lewe. Dan verstaan jy die Evangelie. Kom dan, kom bely dan vandag dat jy uit genade gered is deur Jesus Christus se soenverdienste.

“God gebruik stukkende goed. Dit verg gebreekte grond om ’n oes te produseer, gebreekte wolke om reën te produseer, gebreekte graan om brood te gee en gebreekte brood om krag te gee. Dit is die gebreekte albaste-fles wat parfuum voortbring. Dit is die gebroke Petrus, wat bitterlik huil, wat terugkeer na groter mag as ooit.” (Anonieme aanhaling)

Toe iemand vir St. Franciskus van Assisi gevra het hoekom hy soveel kon bereik, het hy geantwoord: “Dit is dalk hoekom: Die Here het uit die hemel op die aarde neergekyk en gesê: ‘Waar kan ek die swakste, die kleinste, die geringste mens op die aarde kry?’ Toe sien Hy my en sê: ‘Nou het ek hom gekry, en ek sal deur hom werk. Hy sal nie trots wees daarop nie. Hy sal sien dat ek hom net gebruik weens sy kleinheid en onbeduidendheid.’ ”

F.B. Meyer het eenkeer gesê: “Ek het vroeër gedink dat God se gawes bo mekaar op die rakke was, en dat hoe groter ons in Christelike karakter gegroei het, hoe makliker kon ons dit bereik. Ek vind nou dat God se gawes op die rakke onder mekaar is. Dit is nie ’n kwessie van langer word nie, maar van laer buig; dat ons moet afgaan, altyd af, om Sy beste gawes te kry.”

“By een geleentheid het ’n orkes Handel se ‘Messias’ so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger boontoe beduie, stilweg, dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: ‘Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.’” (Anoniem aangehaal) In die Christelike lewe is daar nie plek vir brag nie. Alles, maar alles, is slegs genade. Ons kan maar slegs confess dat wat ons is, is uit genade.

Wie klein oor homself / haarself dink en optree, sal groot wees in God se Koninkryk.                                                                            AMEN 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)