SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34
Bekommernis kan verlammend inwerk op ’n mens se lewe. Soos die ware verhaal wat ek eenmaal gelees het van ’n sekere vrou wat doodsiek was en gereeld elke week ’n afspraak by die dokter en sielkundige gehad het. Elke dag moes sy duur medikasie gebruik. Haar probleem was dat sy met haarself geworstel het. Sy was angstig en bekommerd oor wat van haar en haar gesin gaan word. Hoe meer sy geworstel het met haarself en haar probleme, hoe sieker het sy geword.

Een koue wintersaand is sy egter op pad na die kafee om brood te koop. Toe sy by die robot stop en wag dat die lig moet groen word, vind sy die grootste ontdekking van haar lewe. Terwyl sy wag, sien sy koerantverkopertjies kaalvoet op en af spring om hulself warm te hou. Sy kry hulle ontsettend jammer en dink hoe sy hul lot kan verlig. By die huis aangekom maak sy dadelik vir hulle sop en toebroodjies en neem dit vir hulle. Die aand gaan slaap sy rustig, want vir een aand kan sy van haarself vergeet. Die volgende oggend het sy vir hulle truie begin brei. Teen die einde van daardie week was sy ’n gesonde mens, want sy het geleer om haarself te vergeet. Sy het begin lewe vir ’n saak groter as haarself.
Sien, toe die vrou ingekrimp het in haar eie leefwêreld, het haar gees en sin vir die lewe gesterf. Toe sy na buite – na die straatkinders – gegroei het, het sy gegroei in haar gees en die sin van die lewe. Skielik het haar lewe sin gemaak. Sy het ’n doel gehad om voor te lewe. Interessant is dat Henry Nouwen daarop wys dat bekommernis die mens in homself laat inkrimp, terwyl kinderlike vertroue in God se versorging, ruimte skep vir liefde en diens na buite.
Haar verhaal laat my dink aan die twee soorte kragte wat daar is, naamlik middelpuntsoekende krag (soos ’n draaikolk in ’n rivier) en middelpuntvliedende krag (soos die planeet aarde wat met middelpuntvliedende krag weg van die son af wentel). Middelpuntsoekende krag loop uit op die dood in die draaikolk. Middelpuntvliedende krag beteken daar kan lewe wees op planeet aarde.

Die vrou in ons verhaal het haarself middelpuntsoekend vasgedraai in haar bekommernis. Toe sy begin wegleef het van haarself en vir ander begin omgee het en ’n barmhartigheidstaak aangepak het groter as syself, het sy begin leef.
In verse 25 – 32 lees ons van mense wat besig is met middelpuntsoekende godsdiens. Hulle is bekommerd en begaan oor hulle eie klein koninkrykies. Oor God se Koninkryk is hulle nie in die minste bekommerd nie. In vers 33 lees ons van hoe ware lewendige godsdiens behoort te lyk. Middelpuntvliedende godsdiens is nie bekommerd oor die self nie, maar is bekommerd oor God se Koninkryk.
Ons mense is geneig om ons eie koninkryke se soek en te bou. Vers 25 tot 32 handel oor die mense se bekommernis oor sy mees basiese behoeftes. Om te eet, drink en aan te trek is lewensnoodsaaklik vir die mens. Die gevaar is egter as ek begin leef net vir my behoeftes. Wanneer my polisse, my duur motor, my groot huis, my familieplaas, my kinders, my goeie naam, my gemaksug, of my geluk my enigste prioriteit word in my lewe, dan gaan die rooi ligte aan. Of wanneer ek my dankoffer swaar begin gee. Wanneer my status belangriker word as God se eer. Wanneer ek meer tuis is in my eie huis as in God se huis, dan is daar iets groots verkeerd.
Wie so besig is om aan sy / haar eie empire – sy / haar “koninkrykie” – te werk, is met sy eie middelpuntsoekende godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernis.
Vandag beleef ons ook ’n stuk doodsheid in ons kerke omdat gemeentes net ingestel is op hul eie behoeftes. Solank dit net goed gaan met die plaaslike gemeente en met die sieleheil van sy lidmate, is alles reg. Ons is bekommerd oor ons eie gemeente en daar eindig dit. Elke gemeente vir homself. Dit is middelpuntsoekende godsdiens in sy uiterste vorm.
Eenmaal is daar aan ’n skilder gevra om ’n skildery te maak van ’n kerk wat dood is. Hy het lank gedink en eers na ’n jaar terug gekom met die skildery. Hy het ’n ongelooflike mooi en duursame kerk geskilder, maar skokkend was die spinnerakke oor die sendingskatkis. Wanneer die kerk so bekommerd is oor sy eie behoeftes, oor sy eie klein koninkrykie, dan is die kerk dood. Middelpuntsoekende godsdiens is selfsugtig. Dit hou God se genade net vir myself en wil dit nie deurgee na ander nie.
Vers 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader-gebed bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go”. Laat U Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat U koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”?
Ons bedoel daarmee dat die Here grondgebied sal wen in my lewe. Dit beteken om hoe langer hoe meer onder die heerskappy van God te lewe. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergaan, die neerlaag van ons eie koninkryke.
Dit beteken dat ons dissipels word van God se Koninkryk, soos Dietrich Bonhoeffer (1906–1945) leer. Hy sê: “Die dissipel leef nie uit sekuriteit nie, maar uit gehoorsaamheid.” Volgens KI beteken dit vir hom “dat die dissipel die toekoms aan God oorlaat. Hy skryf dat bekommernis eintlik die toekoms probeer beheer voordat God dit gee.”

KI haal Martin Luther (1483–1546) aan: “Bekommernis is eintlik ongeloof wat God van sy amp as Vader probeer onthef.”
Verder skryf Martin Luther: “God gee aan die voëls hulle kos, maar Hy gooi dit nie sommer in hulle neste nie.” (Luther se aanhaling, volgens KI). Met ander woorde God sorg vir ons soos wat Hy vir die voëls sorg, maar ons moet self ook arbei en werk daarvoor.
Daar is geen moeiliker gebed as dit nie. Met hierdie gebed verlaat ons die klein kring van ons eie koninkryke, maar ook ons binnekamers en ons kerkmure en gaan ons oog wêreldwyd oor die lande wat wit is van die oes, na Singapoer en Saigon, na Rusland en Roemenië, oor die ongelowige miljoene tot by die uithoeke van die aarde. ’n Gebed wat verder uitreik as hierdie een, kan ons beswaarlik bid.

’n Gemeente wat die Koninkryk van God soek is meer begaan oor die sieleheil en liggaamlike nood van heidene op sy drempel as oor sy eie behoeftes. Daarom moet sendingwerk en liggaamlike nood van mense ’n baie groter prioriteit by ons wees as die behoeftes van die plaaslike gemeente. Wie sy eie Koninkrykie verloën en God se Koninkryk soek, maak daarmee ook ’n einde aan sy / haar wederstrewige wil en stel God aan as die Pottebakker van sy lewe.

Verlang u na ’n lewende geloofslewe? Verlang u daarna om ’n lewende gemeente te wees? Dan sal ons Mat 6: 25 – 34 moet gehoorsaam. Dan sal ons die fisika-wet van die middelpuntsoekende en middelpuntvliedende krag moet gehoorsaam.
Wie middelpuntsoekend bekommerd is oor sy of haar behoeftes sal geestelik doodgaan. Hy / sy sal doodgaan in die draaikolk van sy / haar eie selfsugtige wil en behoeftes. Wie egter middelpuntvliedend besig is om hom / haar te bekommer oor God se Koninkryk en oor hoe God se Koninkryk ’n groter staanplek in sy / haar lewe en in die wêreld sal kry, sal geestelik lewe.
Versprei die Woord, gee sop, brei truie, gee voedsel, gee ’n Bybel, versprei ’n traktaatjie, besoek iemand wat siek of moedeloos is, help iemand, en die Koninkryk van God kom in jou lewe.

Klein kuddetjie, bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe God se Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se hele instelling om oor julle bekommerd te wees.
Here, laat u Koninkryk kom. Maranata! Kom Here Jesus! Kom wen grondgebied in ons harte! Kom wen grondgebied in die wêreld. Kom eis op wat alreeds aan U behoort. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
Erkenning: In die voorbereiding van hierdie preek is ChatGPT (OpenAI) as navorsings- en taalhulpmiddel onder andere gebruik. Verskeie teologiese en akademiese bronne en kommentare, wat wetenskaplik artikels insluit, is ook gebruik. Alle eksegese, hermeneutiek, teologiese beoordeling, en finale formulering bly die verantwoordelikheid van die prediker.
