Die Here gee ’n ongewone uitkoms

SKRIFLESING: Rigters 4: 6 – 7 en Rigters 5: 7

Ons skriflesing speel af in die Rigterstydperk, voor daar konings was. Ehud was ’n goeie rigter en het die volk op die regte pad gelei. Die volk het as’t ware “rus” beleef in sy tyd as rigter. Maar toe sterf Ehud en die volk het soos die omliggende volke in afgodery verval, wat ’n gruwel in die oog van die Here was.

Daar volg toe ’n tydperk van 20 jaar, waartydens die Israeliete geteister word deur die Kanaäniete, wat  900 strydwaens gehad het onder Sisera. Sisera en sy weermag het die Israeliete erg onderdruk. Jabin was die koning van Kanaän wat hulle onderdruk het en Sisera was sy militêre generaal. Die Israeliete is onderdruk as gevolg van hulle sonde en die aanbidding van afgode. Dit was ’n tyd toe die volk geen leiers gehad het nie.

Intussen was daar ’n uitsonderlike vrou met die naam Debora, wat ’n profetes was. Sy het onder die palmboom gesit en haar profetiese vermoëns met haar volkgenote gedeel. Die volk Israel het van heinde en verre gekom vir haar regspraak, wysheid en profetiese vermoëns. Sy was hoog geëerd onder die Israeliete. Dit was ongewoon dat ’n vrou in Israel se geskiedenis as profeet opgetree het. Maar daar is ook ander vroue wat as profete opgetree het in die Bybel.

Dit is interessant dat sy haarself die “moeder in Israel” noem in Rigters 5: 7. Daar staan: “Krygers het ontbreek; in Israel het hulle ontbreek, totdat jy, Debora, opgestaan het, totdat jy, ’n moeder in Israel, opgestaan het.” Sy was die moeder in Israel toe die volk leierloos was. Daarom is sy wyd gerespekteer.

Dit was ’n groot dag vir Israel toe Debora die skaduwee van die palmboom verlaat het en noordwaarts gegaan het om Barak te ontmoet om die Israeliete te verdedig. Debora was inderdaad in ’n bevelvoerende posisie, aangesien Barak dadelik op haar woord gereageer het. Hy het dadelik ingestem, op voorwaarde dat Debora saamgaan. Barak kon 10 000 soldate mobiliseer. Maar die Israeliete was swak bewapen en het nie ’n kans gestaan teen die 900 strydwaens van Sisera nie.

Enige regdenkende mens sou onmiddellik onttrek en nie deelneem aan die slag nie. Die kans op oorwinning was gering. Maar die volk het Debora se profetiese vermoëns so gerespekteer, dat hulle geglo het daar sal ’n uitkoms en oorwinning wees. Daarom kon Barak 10 000 mans bymekaar kry. Dit was as’t ware ’n roekelose geloof dat God sou help deur ’n wonderwerk. Hoe die wonderwerk sou uitspeel, dit het hulle nie geweet nie.

Die slag het plaasgevind by die waters van Megiddo, wat ’n gelyk terrein is en die Kanaäniete het in alle opsigte alle voordeel aan hulle kant gehad. Dan vertel Josefus, die geskiedskrywer, en die Lied van Debora in Rigters 5, dat God ’n ysreën en hael gestuur het, sodat die strydwaens gegly en vasgesit het. Die Kison-spruit het ook gerys en ’n sterk stroom water laat afkom. Die Kanaäniete is totaal verras deur die God van Israel. Hierdie seldsame verskynsel het op die presiese dag en tyd plaasgevind toe Israel in sy grootste nood was. Inderdaad het ’n wonderwerk plaasgevind. Die strydwaens het nou niks meer beteken nie en die Israeliete het die Kanaäniete oorrompel en totaal en al verslaan.

Sisera, die Kanaänitiese bevelvoerder, het ook gevlug. Hy het na ’n tent toe gevlug om weg te kruip. Daar het Jael, die vrou van Geber, vir Sisera toe hy geslaap het, met ’n tentpen en hamer doodgemaak, deur die tentpen in sy kop te slaan tot in die grond.

Absoluut ’n ongewone uitkoms. Dit laat ’n mens dink aan die keer toe Israel uit Egipte getrek het en Farao en sy strydwaens vir hulle agterna gesit het. Die Israeliete was as’t ware vasgevang tussen die duiwel en die diep blou see. Daar was geen uitkoms nie. Die Here het op ’n ongewone wyse die Rooi See laat oopgaan, sodat die Israeliete kon deurstap. Die Egiptenare het almal verdrink.

In die winter van 2018 was ek op ’n baie slegte plek in my lewe, met intense persoonlike probleme. Ek het geen uitkoms gesien nie. Ek het nie eers vir uitkoms gebid nie, want ek het geweet daar is geen uitkoms nie. En toe gebeur die ongewone. My situasie het binne twee maande drasties verander, sodat ek weer hoop en lig gesien het. Die Here het my gehelp, ten spyte daarvan dat ek nie eers daarvoor gebid het nie. Wonderlik is dit  hoe God op ongewone maniere vir ons uitkoms gee uit ons probleemsituasies.    

Debora het ná die stryd – in Rigters 5 – ’n wonderlike loflied geskryf oor God se goedheid en guns omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het, sodat die oorwinning Israel s’n kon wees.

Daarna was daar 40 jaar lank vrede en rus vir Israel in Kanaän.

Wat kan ons leer uit die skrifgedeelte en uit Debora se lewe?

Moet nooit dink jy is in ’n vasgeloopte situasie nie. Die Here kan op ongewone maniere vir jou uitkoms gee uit jou situasie of probleme. Toe die Here die ysreën en hael beskik het oor die gevegsterrein tussen die Israeliete en die Kanaäniete, was dit iets totaal ongewoons, wat veroorsaak het dat die strydwaens waarop die Kanaäniete staatgemaak het, niks beteken het nie. Daarom glo ons dat God veral ook in die “ongewone” werk.

Debora was ’n besondere vrou, want sy was een van die min profete in die Bybel wat vrouens was. Sy was so spesiaal in Israel, dat sy genoem word die “moeder in Israel.”  Elkeen van ons kan ook in ons beskeie lewensruimte ’n  “moeder” of ’n  “vader”  wees.  Daar staan Debora het “opgestaan” – bedoelende opgestaan vir haar volk wat so verdruk word. Soos Debora, staan op, verander jou leefwêreld ten goede. Soos Debora, neem verantwoordelikheid vir dit waarvoor God jou geroep het om te doen.

In die Ou Testament is net sekere mense tot profeet geroep en hulle was min. Maar in die Nuwe Testament is ons almal geroep om as profete op te tree. Ons almal moet as Debora’s die probleme en onreg van die wêreld aanspreek.

As jy dalk vandag voel jy is in ’n vasgeloopte situasie in jou lewe of jou probleme oorweldig jou – dink aan die verhaal van Debora. God gee op ongewone maniere uitkoms uit moeilike situasies. Vasgelooptheid is vir God ’n geleentheid om Sy almag en liefde te toon.

God gee ongewone uitkomste, as ons Hom vra.                         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance.) Destiny Image. Kindle Edition.

Spangler, Ann. Women of the Bible. Zondervan. Kindle Edition.

Miller, Kathy Collard. Women of the Bible (The Smart Guide to the Bible Series). Thomas Nelson. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die wêreld kort goeie vaders

SKRIFLESING: Luk 15:20-24

Die wêreld kort goeie vaders. Ons lewe in ’n wêreld waar ons die rolmodel van goeie vaders kort. Die samelewing word gekenmerk deur vaderlose kinders en afwesige vaders. In baie huise is daar wel vaders, maar dit gebeur te dikwels dat vaders nie goeie rolmodelle is nie.

’n Vaderlose samelewing veroorsaak allerlei gemeenskapsprobleme soos misdaad, dwelmmisbruik, afhanklikheidsverslawing, geweld teen vroue en kinders, gedragsprobleme, bendegeweld en nog vele ander euwels.

Kom, laat ons sommer reg aan die begin sê dat goeie pa’s net so belangrik soos goeie ma’s is. Vaders het ’n enorme invloed op hulle seuns en dogters se lewens. Dogters moet droom om eendag te trou met mans soos hulle pa’s. Seuns, weer, moet begeer om eendag volwasse mans te word soos hulle vaders se voorbeeld. Pa’s speel ’n enorme rol in hulle kinders se emosionele welsyn.   

In die ouer samelewings is gesinne gedefinieer as ’n huis met ’n pa en ’n ma en kinders wat saamgebly het. Maar baie dinge het verander.

Dekades gelede was die swart bevolking in Suid-Afrika se gesinslewe baie gesond. Toe kom die myne en tienduisende mans moet in kampongs lewe ver van hulle gesinne af. Vir die myne was dit ’n goedkoper opsie as om vir elke gesin van ’n mynhuis te voorsien. Dit het tot gevolg gehad dat die swart gesinne hulle vaders net so twee keer per jaar gesien het. Die kinders het pa-loos grootgeword. Die kinders het hulle identiteit verloor en so het misdaad en geweld deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword.

Die onlangse wetgewing dat elke ma R350 per kind ontvang as ’n kindertoelaag, was ook ’n verkeerde besluit. Jong tienermeisies sorg dat hulle swanger word om die R350 se kindertoelaag te ontvang. Die kinders word gebore sonder ’n huis en sonder ’n pa. Jong manne loop rond om meisies swanger te maak, maar wil nie die verantwoordelikheid van ouerskap aanvaar nie. Daar word bitter min kinders binne die huwelik in Suid-Afrika gebore. Die meeste is buite-egtelik en waarvan die pa’s wegstap van hulle verantwoordelikheid.   

Die Westerse samelewing wat geskoei is op produktiwiteit, het ook die gevolg  dat vaders lang ure werk en dikwels min tyd het vir hulle kinders. Dit skep ook weer sy eie probleme.

Ons land beleef ’n groot maatskaplike probleem wat misdaad, geweld, dwelmsindikate, afhanklikheidsverslawing, verkragting en geweld teenoor vroue en kinders betref. Die rede daarvoor is hoofsaaklik omdat kinders nie meer die gesonde rolmodel van ’n vader het nie.

Deur navorsing is gevind dat 99% van misdadigers wat in Amerikaanse tronke vir ernstige misdaad is, geen goeie verhouding met hulle pa’s gehad het nie.  

Pa’s wat liefdevol betrokke is by die opvoeding van hulle kinders, skep jongmense wat stewig op die grond staan. Pa’s is vir die samelewing lewensbelangrik. Ons moet die waarde van vaders herontdek. Die Here het beslis nie net vaders gemaak om kinders voort te plant nie. ’n Pa het ’n morele verantwoordelikheid vir elke kind wat hy in die wêreld gebring het. Dit is sy heerlike voorreg om hulle vader genoem te word.    

Ons gaan vanoggend in Lukas 15 kyk na die gelykenis van die verlore seun. Baie word gemaak van die verlore seun en ook selfs van die opstandige seun wat nie bly was oor sy broer se terugkoms nie. Vandag gaan ons na die vader kyk.  Elkeen van die karakters leer belangrike lesse vir Christene. In Luk 15:20-24 leer ons ’n paar dinge oor die vader wat Christenvaders moet navolg terwyl hulle probeer om hul kinders groot te maak in die opvoeding en vermaning van die Here.

1. Die vader was geduldig – Alhoewel die seun lankal weg was, het die pa nog steeds na hom gesoek en was hy voortdurend op die uitkyk vir hom. Die vader se oë was gedurig op die pad, daarom kon hy toe sy seun nog van ver aankom, na die seun toe hardloop. Sy oë het nooit moeg geword daarvoor om na sy eiesinnige seun te soek nie.

2. Die vader was liefdevol – Toe hy sy seun sien kom, het hy na hom gehardloop. Hy kon nie wag dat sy seun na hom toe kom nie. Hy het dadelik sy seun omhels en gesoen. Die pa het nie eens gevra vir ’n verduideliking van waar hy was of wat hy gedoen het nie. Hy het nie vir hom ’n lesing gegee oor “jy moes van beter geweet het,” of  “ek hoop jy het jou les geleer,” nie.  Die vader was buitengewoon liefdevol teenoor sy seun. Dit was nie ’n voorwaardelike liefde nie, maar totaal onvoorwaardelike liefde wat geen grense ken nie.

3. Die vader was vergewensgesind – Ons weet hy was vergewensgesind omdat sy optrede dit gedemonstreer het. So angstig was hy om sy seun te vergewe dat hy sy seun nie toegelaat het om sy pleidooi te voltooi nie. (In Luk 15:18-19 beplan die seun om sy pa te vra om hom ’n dienskneg te maak. Maar die pa verhoed hom om verder te praat in Luk 15:21-22). Die vader het sy eiesinnige seun op sy oorspronklike plek herstel. Vergifnis is die belangrikste element in verhoudings. As daar nie vergifnis is nie, word wrokke gekoester, wat jou lewenslank kan treiter.

4. Die vader het sy prioriteite op die regte plek gehad – Die belangrikste ding was nie dat sy seun gesondig het nie, nie dat hy sy vader uitgebuit het nie, nie dat hy sy vader ongekende hartseer veroorsaak het nie; die belangrikste was dat sy seun gelewe het en huis toe gekom het. Die terugkeer van die verlore seun was die enigste fokus van die vader. Daarin het sy blydskap gelê.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kind kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kind moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die kind moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  Daarom moet die kind al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ’n afspraak het. Die kind moet leer dat daar ’n oggendgebed is en dat daar in die aand boeke gevat word, deur stiltetyd te hou. Die vader as geestelike leier van sy huis moet hierin die voorbeeld vir sy kinders wees.

’n Klein seuntjie het gefrustreerd en naby aan trane gesit. Hy het probeer om ’n vlieër te bou, maar hy kon dit nie in die lug kry nie. Sy pa het gekom en tydsaam die vlieër reggemaak en vir sy seun geleer om die vlieër in die lug te kry. Die seuntjie was dankbaar vir die liefdevolle en hulpvaardige belangstelling wat sy pa getoon het. Vir die res van sy lewe sal hy daardie dag van kwaliteit-aandag van sy vader onthou.

Ons sal in hierdie wye en droewige land moet leer om die Rubicon oor te steek, waar vaders weer hulle regmatige plek inneem, om weer pa te wees vir hulle kinders in die volste sin van die woord. (“Rubicon” beteken om ’n grens oor te steek wat dapperheid vra en waar daar geen terugdraai is nie – die woord het sy oorsprong in Julius Caesar se geskiedenis.) Alleen dan sal Suid-Afrika gered kan word van sy totale maatskaplike verval.

Afwesige vaders = maatskaplike verval. Betrokke vaders = maatskaplike opbou.

Cecil Taylor het die volgende gesê oor om ’n Rubicon oor te steek:  “Een enkele besluit kan toekomstige geslagte beïnvloed. In 1940 het my ma en pa Christene geword. My pa het gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal die Here dien!” Omdat my pa besluit het om Christus te volg, het ek ’n Christen geword. Omdat ek ’n Christen is, het my kinders Christene geword. Omdat my kinders Christene is, word my kleinkinders Christene. Een besluit wat in 1940 geneem is, het vier generasies en 75 jaar en waarskynlik meer beïnvloed. ’n Besluit wat vandag geneem word, kan dinge vir toekomstige geslagte bepaal.”

Daar word gesê dat enige man ’n pa kan word, maar dat dit ’n spesiale soort man vra om ’n Pa te wees! Die ideale vader is meer as om bloot deel te hê aan die voortplanting van die kind; hy help om die kind regdeur sy groeijare te vorm deur ruim hoeveelhede kwaliteit liefde, leiding, regstelling, vergifnis en lof uit te deel. Gelukkig is diegene wat ’n pa gehad het met wie hulle so ’n persoonlike verhouding gehad het.

Pa’s moet so leef dat hulle kinders op hulle trots is. Dit is nie ’n trots gebou op sukses, geleerdheid of finansiële welvaart nie, maar eerder ’n trots op die karakter van hulle pa.

Ons kan nou al die vader-kind-verhouding ervaar wanneer ons God as ons hemelse Vader ervaar. Daarom leer die Onse Vader vir ons: “Ons Vader wat in die hemel is ……”

Wees ’n pa en ’n oupa wat ’n persoonlike verhouding met jou kind of kleinkind het.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Illustrations (AMG International Inc)

Taylor, Cecil. Cross this Rubicon!

Vraatsug teenoor vrygewigheid

SKRIFLESING:  Gen 3: 1 – 10

Adam en Eva het met God in harmonie geleef in die Paradys. Dit was soos ’n tipe  huwelik. Elke aand het God die mensepaar kom opsoek in die laatmiddagkoelte. Hulle was tevrede om van al die bome in die tuin te eet, behalwe van die middelste boom. Maar toe word Eva vraatsig en sy wil meer hê as wat haar toekom. Sy is verlei deur die duiwel om van die verbode vrug in die middel van die tuin te eet. Sy verlei toe ook haar man om gulsig te wees en hy het ook geëet van die verbode vrug.

Vraatsug (om meer te wil hê as wat gesond is) het die groot egskeiding in die Paradys laat ontstaan. Adam en Eva het meer gevat as wat vir hulle nodig was. Hulle was nie tevrede met genoeg nie, hulle wou meer as genoeg hê. Adam en Eva moes die Paradys verlaat. Hulle was nou Godsverlate.

Oorspronklik is vraatsug beskou as oormatige besteding tot die punt van verkwisting. Dit was die idee van verkwisting wat vraatsug ’n sonde gemaak het, aangesien so baie mense oor die wêreld daarsonder moes klaarkom.

In ’n sekere sin gaan vraatsug oor ons – ons liggame, ons behoefte aan meer ervarings, meer vakansies, meer klere, meer versamelstukke, meer goed. Maar soos alle uitdrukkings van sonde, gaan vraatsug hoofsaaklik daaroor om ons eie behoeftes hoër te stel as die behoeftes van ander mense. Vraatsigheid is die versoeking wat die meeste daarin slaag om  indirek iemand anders te laat honger ly.

As ons in hierdie wêreld meer verbruik as wat ons nodig het, lei dit tot ’n gebrek aan kos, water en medisyne. Met die onlangse Covid-pandemie het sekere lande genoeg entstof aangekoop om drie keer hulle bevolking te laat inent. Armer lande moes toe nog ’n paar maande wag vir toegang tot die entstof.

Daar is in talle studies opgemerk dat as net Amerikaanse Christene die tradisionele tien persent van hul inkomste weggee (eerder as die huidige gemiddelde van 2,6 persent), kan ’n mens in ’n kort tydjie byna alle wêreldhonger uitskakel. Die buitensporige lewenstyl van net Amerikaanse Christene laat die res van ons planeet indirek in hongersnood. Dan het ons nog nie eers begin praat van die Europese Christene nie. Ook in Suid-Afrika word die verskil tussen ryk en arm al groter.

Ook wanneer met hulpbronne gemors word, kan ’n mens praat van vraatsigheid. Daarom het ons altyd as kinders geleer jy mors nie met kos nie, want daar is miljoene kindertjies wat nie kos het nie. Alles word opgeëet en die orige eet die honde. Om te mors met die skaars hulpbronne in die wêreld, is ’n belediging vir die armes of vir diegene wat nie toegang daartoe het nie.

Vraatsug skei ons van die lewe wat God vir ons bedoel het om te lewe. In plaas van op te gaan in God, gaan ons op in ons eie behoeftes. Dit maak dat ons ook nie meer ander se behoeftes kan raaksien nie.

Die eerste Adam was vraatsugtig en het ongekende verskeurdheid en gebrokenheid gebring in die Godsverhouding maar ook in die wêreld. Die laaste Adam is Jesus Christus. Hy was opofferend, die teenoorgestelde van vraatsig en het die wêreld gedien sonder beursie, of ryding of huis. Hy het Homself opgeoffer aan die kruis. Hy het Homself leeg gemaak, sodat ander vol kan word.

Daar is geen tyd vir vraatsug terwyl jy die kruis van die Here dra nie. Die Here vra van ons ’n opofferende ingesteldheid, deur vraatsugtigheid te oorwin, sodat ons ook in die behoeftes van ander kan voorsien.

Die teenpool van vraatsigheid is vrygewigheid. Om geregtigheid na te jaag is wanneer indiwidue, maatskappye en lande hulle beywer om skaars hulpbronne met ander te deel.

Christene behoort te minimaliseer, deur dit wat oorbodig is, weg te gee of te verkoop aan ander mense wat dit dalk meer nodig het. Die goue reël is dat as daar iets in jou kas is wat jy vir twee jaar nie gebruik nie, is die kans dat jy dit ooit weer sal gebruik amper 0%. Waarom dan nie liewer weggee of  verkoop aan ander nie? Besittings moet jou nooit besit nie. Jý moet besittings besit en dit reg bestuur.

Jesus wou die vernietigende effek van vraatsug wegneem. Hy wou die skepping nuut maak. Daarom moes Hy gekruisig word. Die soldate met swaarde het die Seun van God uit die tuin gelei – net soos Adam en Eva uit die Tuin van Eden gelei is. Soos God ses dae lank gewerk het om die wêreld te skep, so het Jesus ses uur aan die kruis gehang om dit weer te “restart” in die oorspronklike “default” wat dit was voor die sondeval. Voor die sondeval, was daar geen vraatsug nie.

Waar die huwelik tussen Adam en Eva met God skipbreuk gely het as gevolg van die vraatsugtigheid van Adam en Eva, het Jesus weer ’n nuwe huwelik met sy kerk kom werklikheid maak aan die kruis. In Genesis lees ons hoedat God uit Adam se ribbekas vir hom uit ’n rib ’n vrou gemaak het en hulle saamgevoeg het as man en vrou. Toe Jesus dood aan die kruis gehang het, het die soldate ook ’n spies in Sy sy, tussen Sy ribbes, gesteek en daar het tussen Sy ribbes bloed en water uitgekom. So het God vir hom ’n ewige bruid, die kerk, geskep – met die spiessteek tussen Jesus se ribbes.

As ons die stryd teen vraatsug wil wen, sal dit ons goed doen om van die laaste woorde van Christus te onthou. Aartsbiskop Sheen het verklaar dat Christus se woorde “Ek is dors” gespreek is ter bevegting van die sondes van vraatsug. Daar staan in Johannes 19: 28 die volgende: “ Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: ‘Ek is dors.’”

Daarom moet ons nie vraatsugtig wees nie, maar na hulle omsien wat dors het of ’n behoefte het. Nou verstaan ons Jesus se woorde in Mat 25: 35 – 40 beter: “Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’  Dan sal die regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as ’n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’”

Vraatsug teenoor vrygewigheid. Wat kies jy? Jesus het vir ons die voorbeeld gestel.                                         

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.

Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.

Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Book 1. Unknown. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die dood is die saaisak, om saad te saai vir God se somer

SKRIFLESING:  1 Kor 15: 35 – 58

Prof Johan Cilliers vertel dat sy oupa begrawe lê op ’n familieplaas in die omgewing van Kuruman. Sy ouers vertel hom dat op ’n stadium, lank nadat die familieplaas verkoop is, die familie besluit het om ’n besoek te bring aan die familie-kerkhof, wat in ’n rustige uithoek van die plaas geleë was. Groot was hulle skok om te sien hoe verwaarloos dit was. Die ergste was die gesig van ’n jong boom wat in die middel van sy oupa se graf gegroei het. Die boom was so groot dat die voëls al kon nesmaak en die boom het al ’n skaduwee oor die graf gegooi. Dit kon mos nie. Hoe kon ’n boom in die middel van ’n graf opkom? Hulle ontsteltenis het later plek gemaak vir verwondering. Is dit nie juis die simbool dat die liggaam wat dood is, ’n wederopstanding beleef in ’n nuwe gedaante nie? Daar kom lewe uit die dood. Dit is immers die roemtaal van Paulus in 1 Kor 15: 35 – 58.

Die hele natuur sing uit die lewendmakende herskeppingswonder van die natuur. Al die plante, gras, bome en struike wat jou tuin so mooi maak, was eers ’n ander gedaante. Dit moes van gedaante verander om te kan lewe. Daarom beskryf Paulus dat ons van gedaante moet verander, soos wat ’n koringkorrel in die grond val en sterf en in ’n nuwe gedaante, in die gedaante van ’n plant, opkom. So wonderbaarlik soos dit is, so wonderbaarlik is die opstanding uit die dood.

Luther het dikwels na die begraafplaas as God se saailand verwys. Met die dood word die mens se ou liggame gesaai in die grond, sodat dit in ’n nuwe geestelike liggaam verrys.

Luther het aangrypend hieroor geskryf in ’n reeks preke oor 1 Korintiërs 15, tydens die Adventstyd van Desember 1532. Luther skryf dat tydens die saaityd dit lyk of die saad verlore gaan, uitgelewer word aan wind en weer en die wurms van die aarde en die voëls van die lug, maar laat die somer net kom en jy sien hoe dit groei.

Martin Luther skryf voorts: “ Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklike dóód nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek van somerbelofte …”  (Johan Cilliers)

“God is groter as enige saaier op aarde. Die saad wat Hy saai, is die mense. Hy dra ’n saadsak, gevul met mense-saad van Adam tot op die laaste dag. Wanneer ons mense sien sterf, is dit God wat Sy hand in die saaisak sit en ’n handvol om Hom op die grond gooi.” (Johan Cilliers)

So het Jesus Christus met sy kruisdood ook in die grond geval en gesterf. Maar Hy het ’n groot oes ingebring. Daarom staan daar in Joh 12: 24 die volgende: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.” Daarom is Christus die eersteling van die oes. Jesus is die eerste saad wat gesaai is en opgestaan het uit die dood, om vir ons die pad voor te berei na God se ewige somer.

Uitdruklik verklaar Paulus dat ons liggame van vlees en bloed nie deel kan kry aan die Koninkryk van God, mits ons verander in nuwe geestelike liggame nie. Paulus verklaar ook dat die nuwe baie beter is as die oue. Paulus verduidelik dit as volg in 1 Kor 15: 42 – 44, naamlik: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid;   wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word,   is ’n geestelike liggaam.   As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Dit is ons blye versekering, ons is God se somersaad. Ons is bedoel om in God se somer te blom. God se somer wat geen einde het nie. 

Daarom moet ’n kerkhof of ’n begraafplaas ons nie morbied laat nie. Sê eerder saam met Kohlbrugge, ’n predikant uit die vorige eeu: “Daarom, wanneer ek sterwe ……. en iemand vind my skedel, laat hierdie skedel dan aan hom verkondig: ek het geen oë nie, nogtans sien ek Hom; ek het geen brein of verstand nie, nogtans ken ek Hom; ek het geen lippe nie, nogtans kus ek Hom, ek het geen tong nie, nogtans prys ek Hom ….. Ek is ’n harde skedel, nogtans is ek gesmelt in sy liefde; ek lê hier op God se akker, nogtans is ek in die paradys.”

Eugene Peterson stel dit so mooi in The Message: “Death is swallowed by triumphant Life! Who got the last word? Oh, death? Oh, death, who’s afraid of you now?”

Op daardie eerste Paasoggend is die dood van sy oorwinning beroof.

Jerry Sittser vertel dat in die herfs van 1991 ’n motor wat deur ’n dronk bestuurder bestuur is, in sy baan ingeslinger en kop-aan-kop  in sy minibus vasgery het. Sittser en drie van sy kinders het oorleef, maar Sittser se vrou, vierjarige kind en ma is in die ongeluk dood. Oor die jare het Sittser ’n paar diepgaande besinnings oor verlies, hartseer en lyding aangebied. In sy boek “A Grace Revealed” deel Sittser die volgende storie oor hoe sy seun David op die tragiese ongeluk gereageer het. Sy seun het eenkeer terwyl hulle op pad skool toe was, skielik gevra: “Dink Pa dat Ma ons nou sien?” Jerry Sittser het stilgebly om te dink. “Ek weet nie, David. Ek dink miskien sien sy ons. Hoekom vra jy?” David antwoord: “Ek sien nie hoe sy kan nie, Pa. Ek het gedink die hemel is vol geluk. Hoe kan sy dit verduur om ons so hartseer te sien?”

“Ek dink sy sien ons wel,” het Jerry Sittser uiteindelik gesê. “Maar sy sien die hele storie, insluitend hoe dit alles goed gaan uitdraai. En dit is vir haar pragtig. Dit gaan ‘n goeie storie wees, David.”

Sittser het in die nadenke daaroor in sy boek bygevoeg: “Ek sal nie waag om die aantal kere wat ek gevra is, te skat nie: “Hoe spreek die Christendom die probleem van lyding aan?” … Die Christelike antwoord op lyding [is] Christus se lyding [en] Christus se opstanding …. God ken pyn in Homself; God ken vreugde in Homself. Hy ken die hele storie as een, insluitend hoe dit alles uitdraai, wat inderdaad heerlik is.”

So ken God ons sterwe en ons hartseer, maar Hy weet ook hoe dit alles gaan uitdraai. God weet die dood loop uit op die ewige lewe.

Die dood is ons vyand, maar, soos die wet, is dit ook ’n skoolmeester wat ons na Christus lei. Die dood se harde les ontbloot die ware aard van sonde. Inderdaad, die wet en die dood is vreemde bondgenote in hierdie geheimsinnige werk om ons na Christus te lei. In die hande van God spoor die wet en die dood ons aan om na Christus te draai vir verligting van die dood se angel.

Daarom is die dood soos die Begrafnisformulier dit stel, ’n herinnering dat jou eie dood ook kom en dat jy daarom in gebondenheid met die Here moet leef. Jy hoef egter nie in vrees te lewe nie. Die dood is oorwin. Die dood is die saaisak om saad te saai vir God se somer. Jy is God se saad, geroepe tot die ewige heerlikheid.

Ook Oom Rex het deel aan hierdie heerlikheid. Lewenslank was hy ’n boer  wat reg onder die Winterberg geboer het. Sy vee was sy trots en veral vir beeste was hy baie lief. Hy was ook ’n goeie kenner van beeste. Waar Oom Rex geboer  het op Zwakfontein, is een van die mooiste gedeeltes in ons distrik. Die teoloog Karel Barth het op ’n stadium aan die Switserse Alpe besoek gebring en gesê: “Dit is so mooi hier, jy het nie ’n eskatologie nodig nie.” (Eskatologie is die vakrigting wat die eindtyd en hiernamaals bestudeer.) Waar Oom Rex geboer het, het jy amper ook nie ’n eskatologie nodig nie. So mooi is dit daar. Maar ja, Oom Rex het die hemel nodig. Daarom het hy soos saad in die grond geval om ’n nuwe geestelike liggaam in die hemel te verkry.

Ek sal Oom Rex onthou as die stil, beskeie man wat nie baie gepraat het nie. Hy het as’t ware eers gedink voor hy praat. Hy was nederig van geaardheid en opreg. Toe sy oorlede vrou, Tannie Lettie, siek geword het van Altzheimers het hy haar geduldig en teer versorg. Die laaste paar maande van haar lewe was Tannie Lettie in Huis Corrie Dreyer. Daar het hy haar gereeld gaan besoek en lang rukke by haar gaan sit. Hulle is geseënd met twee kinders, Louis en Elmarie, asook twee skoonkinders, Christené en Niel. En dan natuurlik Oupa Rex se oogappels, sy vier kleinkinders Lee-Marié, Chrisli, Cornel en Simoné.

Vir Oom Derick, die broer van Oom Rex, is hierdie ’n swaar slag. Vir ’n leeftyd het hulle saam gespeel, skoolgegaan, geboer en ook saam oud geword. Sy skoonsuster Elza gaan hom ook mis.

Maar ons moet die tydelike met die ewige verwissel. Daarteen kan ons nie baklei nie. Ons moet die wêreld nie te lief kry nie. Dit het Oom Rex se tyd geword om die ewige binne te stap. Nou het hy geen pyn en lyding meer nie.

Die saad het reeds geval en ontkiem. Oom Rex het reeds sy nuwe volmaakte geestelike liggaam.

Daarom kan ons getroos wees.                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

BRONNELYS:     

Cilliers, Johan, 2022. Ons sal sterwe. Ons sal lewe. Wellington: Barnabas Uitgewers. 

Stone, Dave. Death Is Life.

Jerry Sittser, A Grace Revealed (Zondervan, 2012), pp. 138-139

John Koessler, “Death: Our Enemy and Teacher,” on his blog A Stranger in the House of God (6-30-10)

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3849). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Gedeelde smart en gedeelde blydskap

SKRIFLESING:  1 Kor 15: 35 – 58

Daar word vertel van ’n vrou uit die lae stand van die samelewing wat getrou het met ’n man uit ’n hoë stand in die samelewing. Haar skoonfamilie het haar nie erken nie en haar nog steeds as ’n slaaf behandel. Toe kom die dag dat sy geboorte gee aan haar seun. Skielik het haar skoonfamilie haar anders behandel. Sy is nou met respek hanteer, want haar seun sou die familienaam voortsit. Sy het nou gewaardeerd voel. Maar toe gebeur ’n tragiese ding, haar seun sterf. Eerstens sit sy met die geweldige seer van haar seun wat dood is, maar ook gaan haar skoonfamilie haar weer verwerp. Sy het deur die strate geloop met die liggaampie van haar seun en vir almal gevra om asseblief  haar seun wakker te maak. Sy kom eindelik by ’n priester uit en hy sê toe vir haar om oral in die dorp navraag te doen en ’n huis te vind waarin nog niemand gesterf het nie. Dan moet sy by die huis waar niemand gesterf het nie, ’n paar mostertsaadjies vra.  Sy het die hele dorp deurgegaan en by geen huis gekom waar daar nog nie iemand gesterf het nie. Na ’n tyd het daar vir haar lig opgegaan. Sy was nie die enigste met die hartseer en pyn van die dood nie. Elke huis het al sy beurt gehad met die hartseer van die dood. Skielik was haar pyn gedeelde pyn. Gedeelde pyn is verligte pyn.

Daarom het die Here die kerk  geskep. Daarom bely ons in die Credo van die kerk: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Die kerk is die plek waar ons leed met mekaar deel, maar ook die blydskap met mekaar deel. In hierdie gemeenskap waar ons alles met mekaar deel, vind ons troos in die Here en ook by mekaar.     

Die kerk as gemeenskap van gelowiges is die kaggel waar ons hitte, samesyn, kuier en koinonia met mekaar kan deel. Voor die kaggel is die lekkerste plek in die huis. Daar word die mooiste herinneringe gebou. So vind ons ook met die dood, dat die gemeenskap van gelowiges ons kaggel is. Dat die dood ligter gemaak word met die besef dat ander gelowiges saam met my voel en my las help dra. Die gemeenskap van gelowiges gee ’n warm kaggelhitte af, wat die koudheid van die dood verdryf. Dan word die dood nie meer so koud nie.

Gedeelde smart is verligte smart.

Gedeelde blydskap is feestelike blydskap.

Die dood is nie net smart nie. Dit is blydskap ook. Die oue het verby gegaan. Die aardse sorge is verby. Die dood is ’n geneesmiddel. Die dood maak heel dit wat op die aarde stukkend is. Die dood is soet.

In 1 Kor 15: 54 – 55  staan daar: “En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: ‘Die dood is verslind in oorwinning. Dood, waar is jou oorwinning?  Dood, waar is jou angel?’ ”

Die dood is soos ’n by sonder ’n angel. Dit kan nie meer seermaak en die ewige dood veroorsaak nie. Die dood het met ander woorde nie meer “’n byt” nie.

Die dood verander ons verganklike liggame in geestelike liggame wat nie uit vlees en bloed bestaan nie. Daarom kan ons ewig lewe. Daar staan in 1 Kor 15: 44 –  “Wat gesaai word, is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word,is ’n geestelike liggaam. As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Met ander woorde, ons hoef nie te wonder oor die nuwe geestelike liggaam nie. Dit sal in verheerlikte vorm wees, sonder pyn, seer, siekte, dood en lyding.

Dietrich Bonhoeffer, die groot Duitse Christenmartelaar, wat weens sy verset teen die Nazi’s gevange geneem is, is daarna ’n paar dae voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. Terwyl hy weggeneem is om in ’n konsentrasiekamp tereggestel te word, het hy hierdie woorde gesê: “Dit is die einde. Vir my, die begin van die lewe.”

John Rogers, die Protestantse martelaar, is in 1555 vir sy geloof verbrand op die brandstapel. Die destydse Franse ambassadeur het hom op pad na sy teregstelling waargeneem. Hy het huis toe geskryf en gesê Rogers lyk “soos ’n man op pad na sy troue.”

Soos ons die dood nader, weet ons dat dit nie die einde is nie. Dit is eintlik ’n reis deur die dood na die ewige lewe saam met God. Daar is hoop. Daar is betekenis. Daar is blydskap. Hierdie lewe is nie net ’n kort reis van niks na niks nie.

Op ’n grafsteen staan daar gewoonlik ’n geboortedatum aangedui met ’n * (sterretjie) en die sterfdatum word aangedui met ’n ┼ (kruis.) Dit klink en lyk neerslagtig. Eintlik moet ons die ┼ (die kruis) as die begin van die ewige lewe beskou. Die gelowige se lewe het ’n begin, maar nie ’n einde nie. Die dood is slegs die deur om deur te stap na die ewige lewe. Die dood is slegs ’n komma. Dit is nie ’n punt nie. Nog beter gestel, daar moet op jou grafsteen staan * vir geboorte en vir die begin van die ewige lewe. Die simbool ∞ beteken ewigheid.

Marius Zietsman se grafskrif behoort eerder so te lyk:

Daarom het Jesus se ┼ die ∞ gebring. Daarom kan ons selfs blydskap ten spyte van sterwe beleef. Die dood open die deur na die ewige lewe. 

Martin Luther het by die sterfbed van sy dertienjarige dogtertjie Magdalene gebid: “Here, ek het haar baie lief. Maar as dit U wil is dat U haar wil neem, wil ek my troos in die wete dat sy by U is.”

By haar begrafnis sê hy nie veel nie, net ’n enkele kort en kragtige belydenis: “Daar is ’n opstanding van die dode.”

Johan Cilliers skryf tereg: “Ons sal sterwe, Ons sal lewe.”             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)

 BRONNELYS:     

Vaughan Roberts. Good News When You’re Confronted by Death

Cillers, Johan, 2022. Ons sal sterwe. Ons sal lewe. Wellington: Barnabas Uitgewers. 

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3849). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

Wellustigheid teenoor suiwerheid van hart

SKRIFLESING:  Mat 5: 27 – 30 en Mat 5: 8

In Richard Foster se bekende boek “Sex, money and power”, beskryf hy die drie gode van ons tyd.

Dit is die drie gode wat die hele wêreld beheer. Een daarvan gaan ons vanaand behandel, naamlik seks in ’n negatiewe sin, soos wanneer dit wellus word.

Deel van die ondergang van die volk Israel was dat hulle gedurig afgode aanbid het, onder andere Baäl. Baäl was ’n vrugbaarheidsgod en die godsdiens het self ook baie tempelprostitute gehad en menigtes het hulle rug op God gedraai en hulle na wellus gewend. Lees onder andere hoe Elia die Baälprofete doodgemaak het en Isebel gepoog het om ook Elia se lewe te neem.

Baäl-aanbidding was meer ’n kultus as ’n godsdiens. Seksuele orgies het plaasgevind in die naam van godsdiens. Daarom het God telkemale vir Israel gestraf.

Een so ’n keer was die jaar 586 v.C. toe leërs uit Babilon Juda binnegekom het. Die Babiloniërs het twee jaar lank vir Jerusalem beleër en die stad uitgehonger. Hulle het toe die stad ingeneem,  die Joodse tempel vernietig en die stad aan die brand gesteek.

“ Die Babiloniërs het die koning van Juda gevange geneem, wat die laaste afstammeling van Dawid was wat oor Israel geregeer het. Hulle het die koning se seuns voor hom doodgemaak, toe sy oë uitgesny en hom in kettings na Babel vervoer. Na al die bloedvergieting is die liggame van die gesneuwelde Hebreërs – van wie baie God vir Baäl verwerp het – in die Ben-Hinnom-vallei gegooi, dieselfde vallei waar Baäl-aanbidders kinders vermoor het en hul bose praktyke uitgevoer het.

Teen Jesus se tyd is die naam van hierdie vallei tot Gehenna verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlate. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ‘n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)

Gehenna is letterlik ’n plek van brandende liggame en smeulende afval, wat ’n verduideliking bied  oor wat Jesus oor losbandige seksuele lewens gesê het. Jesus het bedoel dit is beter om ’n oog of ’n hand te verloor as om in die hel (Gehenna) te kom, oor seksuele sondes. Jesus het dus geleer dat Gehenna so aaklig is dat ’n wyse persoon met graagte ’n oog sal verruil om te verhoed dat hy in die aakligheid van Gehanna beland.

Wellus is  die lewe van gedisoriënteerde drange. Dit kom uit in dinge soos owerspel, ontrouheid, flirtasies, om klere van ’n vrou se lyf af te kyk, pornografie, molestering, seksisme en enige ander vorm van seksuele losbandigheid. Wellus is ook om vuil seksuele grappe te vertel. Menige huweliksonthaal is al ontsier deur vuil seksuele grappies.

Wat ook vandag op sosiale media ’n ondeug is, is die stuur van wulpse boodskappe of foto’s oor sosiale media. Jou selfoon en jou rekenaar moet so skoon wees, dat jy jou lewensmaat enige tyd toelaat om daarin te kyk.

Pornografie sien altyd die ander persoon as ’n objek en nie as ’n persoon nie en die pornografiese handeling is meganies, maar nie liefdevol of outentiek menslik nie. Wellus is in wese ’n ingebuigdheid op die self.

Sondes van onwelvoeglike wellus kan baie verleentheid en skande bring, want daarin laat mense hulle toe om op diervlak te funksioneer, gelei deur die genot van sensasie, eerder as die redelikheid van gesonde en mooi seks, wat menslik is.

Seks is iets skoons, iets van die hemel, maar dit hoort net in die huwelik. Daarbuite is dit wellus, wat uitloop op die “hel”  (Gehenna.) Die Bybel vra nooit vir ’n mens om nie te begeer nie. Maar ons begeertes moet reg en skoon wees. Ons is nie Platoniste nie en beslis nie Gnostici nie. Daarom mag ons begeer, maar moet ons begeertes skoon wees, dan sal ons vir God sien, soos die Saligspreking lei.

Ons liggame is tempels van die Heilige Gees. Daarom mag ons nie ons liggame opoffer vir onwelvoeglike wellus nie.

Mense het seksuele behoeftes, wat goed en reg en mooi is. Maar as dit nie getem is nie, sal dit jou soos ’n perd afgooi. Jy sal seerkry.

Die Onse Vader-gebed is ook ’n kragtige wapen teen wellus. Christus beveel ons om te bid: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.”

CS Lewis beskryf die tempering van wellus in sy boek The Great Divorce as volg:  “ ’n Man naby die hel staan ​​met ’n klein rooi akkedis (wellus) op sy skouer.

Die akkedis verlei die man met wellustige seksuele plesier, maar hulle laat hom ook  swak en vasgeketting aan ’n lewe wat hy haat. Die akkedis verteenwoordig skynbaar wellus en onwelvoeglike seks en fluister allerhande sielvernietigende dinge in die man se gedagtes in. Die man is gedurig op ’n fantasie van seksuele begeertes. In hierdie verhaal konfronteer ’n engel die  man en vra toestemming om die akkedis dood te maak. Die man, aanvanklik hoopvol, vra of die akkedis se dood hom sal seermaak, en die engel knik. Dit is ongewens; die man wil nie die pyn hê nie. Hy wil nie die angs van amputasie hê nie, en hy begin verskoning na verskoning voorhou. Die akkedis rig ook sy pleidooi, beding vir sy toekoms – trouens, skree om gespaar te word. Maar die engele kom terug na dieselfde vraag: “Mag ek dit doodmaak?” “Mag ek dit doodmaak?” Uiteindelik gee die man toe en die swaard val op die wellus-akkedis. In ’n fantastiese wending sterf die akkedis nie. Dit muteer. Dit begin groei tot ’n lewende, energieke hings. Die perd staan ​​sterk en koninklik, en die man, wat voorheen ’n slaaf was, word moreel verander terwyl hy agter-op die hings klim en na ’n groot lig ry. Nou versterk, nou ten volle lewend, reis hy na die plek van vreugde, na die berge waar hy die aangesig van God kan sien. “(JV Cook)

“What is a Lizard compared to a Stallion? Lust is a poor, weak, whimpering, whispering thing compared with that richness and energy of desire which will arise when lust has been killed. (CS Lewis) 

Daarom moet elke gelowige elke dag bid in die woorde van Ps 51:10–12: “Create in me a clean heart, oh God,  and put a new and right spirit within me.  Do not cast me away from your presence.  And do not take your Holy Spirit from me.  Restore to me the joy of your salvation  and sustain in me a willing spirit”  

In Mat 4: 8 staan daar:  “Gelukkig is dié wat suiwer van hart (begeerte) is, want hulle sal God sien.”                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Lewis, Great Divorce, 99-107.

Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.

Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.

Foster, Richard. Sex, money and power.

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Wraak verander in vrede

SKRIFLESING:  Mat 5: 38 – 41 en Mat 5: 43 – 48

In die klassieke Nagmaalsformulier is gelowiges opgeroep om voor hulle die Nagmaal gebruik, eers hulle harte te ondersoek of daar nie onvrede of wraakgedagtes is teenoor iemand anders nie. Anders moet hulle eers gaan vrede maak voor hulle aan die Nagmaalstafel kan aansit.

Die mensdom en die wêreld is vol wraak of ten minste vol emosionele wraakgedagtes. Ek moet die persoon terugkry wat my kwaad aangedoen het. Boontjie moet sy loontjie kry. ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand, was die ou “Ius talionis” beginsel (vergeldingsreg) van die Ou Testament. Dieselfde nadeel wat jy iemand laat oorkom, moet jy ook mee gestraf word. In die Afrika-reg is ook die beginsel van as jy my drie beeste skade laat ly, dan moet jy vir my drie beeste teruggee.  

Alles behoort aan God. Wanneer ons “myne” sê, is dit ’n illusie. Dikwels is die ding waaroor ons die kwaadste raak, iemand wat “ons” goed vat. Hulle het my parkeerplek, my idee gevat. Hulle het my lied gesing. Hulle het my in my baan in die verkeer afgesny. (Dan word ons tog so kwaad.) Hulle het my tyd gemors.

Maar niks daarvan is ons s’n nie – dit is alles God s’n. Dit het unieke implikasies wanneer ons na wraak kyk. Want diegene wat uit woede teen hul vyande optree, sal nie meer soos kinders van God lyk nie: “ Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê, en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees.(Mat 5: 43 – 45)

’n Mens mag woede openbaar wanneer ander mense verontreg word in die lewe of wanneer die Koninkryk van die hemel benadeel word. Dit is ’n heilige woede, teenoor ’n verkeerde woede:  dít ontstaan wanneer  jy self selfsugtig kwaad raak oor jou eie goed. Daarom was Jesus se woede in die tempel ’n heilige woede, want Hy was oor die regte goed kwaad. God het telkens in die Bybel kwaad geraak vir sy volk, vir mense, vir die Fariseërs en skrifgeleerdes oor al die regte redes.

Die beste raad is om die persone teen wie jy wil wraak sweer, te seën met die goedheid van God se gawes. Dan sal jou hart vrykom van hierdie doodsonde van wraakgierigheid. Veronderstel jy is woedend vir ’n onverskillige taxi-bestuurder, en jy wil wraak neem deur hom te vloek of skel, kan jy hom seën en bid dat die Here hom veilig by sy bestemming bring, aangesien hy so onverskillig bestuur. 

Daar is iets soos geïnternaliseerde woede wat aangevuur word deur teleurstelling, gewonde trots, teleurstelling met ’n mens se situasie in die lewe, of  persoonlike beledigings wat ’n persoon moes verduur, en ander trauma. Dit noem ’n mens gewoonlik passiewe aggressie wat verskuil is in jou lewe, teenoor aktiewe aggressie wat sigbaar is en sigbaar na vore kom.

Ons moet  leer om te vergewe. As ek en jy God wil weerspieël, moet ons eerstens vredemakers wees. Ons moet die wraak besweer.

Jesus se mees gedetailleerde verhaal van sy Vader word gevind in die gelykenis van die verlore seun, en in hierdie verhaal beeld Jesus die vader uit wat net twee dinge doen – die verwelkoming van diegene wat hom seergemaak het en weggeloop het en die versoening van diegene wat mekaar verag. Die pa in hierdie gelykenis van die verlore seun is die vredemaker. 

Sagmoedigheid is nie om swak te wees nie. Sagmoedigheid is soos ’n sterk hings wat rus. Dit is krag onder “beheer.”

Met Jesus se arrestasie in die Tuin van Getsemané het Petrus sy swaard uitgetrek en Malgus se oor afgekap. Jesus het vir Petrus gesê dat hy sy swaard moet terugsit en Hy het Malgus se oor weer gesond gemaak. Jesus het nie gekom om Sy Koninkryk op ’n wreedaardige wyse te bring nie.

Hy het Sy Koninkryk op ’n sagte wyse gebring, deur self die slagoffer aan die kruis te word. Die wêreld se koninkryke kom altyd op ’n gewelddadige manier, soos wat Rusland nou weer vir Oekraïne binnegeval het. Maar God se Koninkryk kom sag en dramaties anders.  

Daarom, as die Here Jesus sê dat ’n mens nie jou vyand moet terugslaan nie, word dit nie van swakkelinge gevra nie, maar van mense wat moed het. Die drie klassieke uitsprake van die Here, wat handel oor teengeweld, is natuurlik die volgende:

a.) As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang.

Die Here Jesus het dié uitspraak gemaak om vir mense raad te gee wat in ’n persoonlike geskil met iemand betrokke is.

Waarom word daar spesifiek na die regterwang verwys? Dit was destyds ’n skande om enige taak met jou linkerhand te verrig. As jy dus met ’n swaard wou veg of wou slaan, het jy dit met jou regterhand gedoen. Wanneer ’n mens iemand met jou regterhand op die regterwang wil slaan, moes jy dit met die rugkant van jou regterhand doen, wat natuurlik ’n vernederende klap was. Dit is ’n klap waarmee kinders, slawe, vroue en ondergeskiktes gewoonlik geklap is. Die persoon wat geklap is, kon op twee wyses reageer:

* òf jy gryp jou kop vas, deins terug en hoop daar kom nie nog klappe nie – soos ’n lafaard.

* òf jy slaan terug, hard en sekuur – dan maak jy soos die wêreld maak, wat alles met geweld wil oplos.

Jesus kies nie een van die twee nie, nie die weg van die lafaard en ook nie die weg van die wêreld nie.

Jesus sê draai die ander wang. Wanneer die ander wang gedraai word, word die slaner gedwing om dié soort klap wat tussen gelykes gebruik word, te gebruik of natuurlik om met die vuis te slaan. Dit beteken dat ek nie toelaat dat ek verneder word nie, maar ook sal ek nie terugslaan nie. Om die ander wang te draai, beteken dat jy vir die slaner sê: Probeer weer, jou eerste klap het nie sy doel bereik nie. Ek weier om jou die mag te gee om my te verneder. Ek is ’n mens soos jy. Jou status, geslag, rykdom, ouderdom of wat ook al, verander niks daaraan nie. Jy kan my nie verneder nie.

b.) Gee ook jou boklere

Hierdie uitspraak het die Here gegee om daarop te wys hoe ’n mens moet reageer op ekonomiese uitbuiting. In plaas van terug te steel of te roof, soos Robin Hood, moet ’n mens eerder die geweldlose uitweg soek, naamlik: Gee ook jou boklere. Die situasie waarvan Jesus hier praat, het in die eerste eeu dikwels voorgekom. As gevolg van droogtes en onregverdige belastings, het kleinboere in Palestina desperaat in die skuld geraak. Geldskieters en ryk landhere het hulle dan hof toe gevat en ook hulle laaste besittings – hulle onderkleed – van hulle geëis.

Ook in dié situasie was daar twee moontlike reaksies. Òf ek gaan hof toe en gee my onderkleed, òf ek weier om hof toe te gaan en knoop ’n geveg aan. Jesus kies nie een van die twee nie. Jesus stel ’n derde weg voor: Gee jou onderkleed vir die onregpleger, maar gee dan sommer ook jou bokleed, sommer net daar in die hofsaal. Gee hom al jou klere en stap kaal daar by die hofsaal uit. Naaktheid was taboe vir die Jode. Dit sou vir die uitbuiter ’n geweldige verleentheid wees om te aanskou hoe hy die mens kaal uitgetrek het. Stel vir u die prentjie voor. Die persoon stap nakend uit die hofsaal!  Almal in die straat sal geskok vra wie al sy klere gevat het, wie hom nakend gelaat het. Op die ou end kom al die vernedering neer op die uitbuiter en hy voel skaam oor sy uitbuitery.

c.) Dra dit ook ’n tweede kilometer

Hierdie uitspraak van die Here hou verband met politieke onreg.

Dit was algemene gebruik dat soldate in die Romeinse weermag iemand kon opkommandeer om sy goed vir hom te dra. (So byvoorbeeld is Simon van Sirene opgekommandeer om die kruis van die Here te dra.) Dus kon enige Romeinse soldaat enige kleinboer wat op sy land gewerk het, oproep om sy pak vir hom te dra. Omdat die Romeine wou verhinder dat die saak hand uitruk, het hulle ’n reël gemaak dat die draer ná een kilometer weer teruggestuur moes word na sy land, anders sou daar later niemand meer op die land wees om kos te produseer nie en dan sal die Romeine ook doodgaan van die honger. Die Here Jesus gee egter ander raad: Moenie gedwee en gedienstig na een kilometer omdraai nie. Nee, daag die soldaat uit om sy pak vir hom nog ’n tweede kilometer ook te dra. ’n Mens kan jou weereens die toneeltjie voorstel. Die soldaat staan ongemaklik rond. Hy mag nie toelaat dat ’n kleinboer vir ’n tweede kilometer sy pak vir hom dra nie. Hy sal in die moeilikheid kom. Wat nou gemaak? Miskien kry hy skaam. Miskien sien hy met watter onreg hy besig is.

U sien dus in al drie hierdie uitsprake het die Here dit teen geweld, maar ook teen ’n slap, lafhartige houding. Christene mag nie neutraal wees nie. Hulle moet standpunt inneem teen onreg, maar altyd sonder geweld. Hulle kan en moet weerstand bied teen onreg, maar sonder die swaard. Maak mense skaam, maar moenie hulle seermaak nie. Maak hulle skaam, nie om hulle te verneder nie, maar sodat hulle tot ander insigte kan kom.                           

 Daar is ’n veelseggende verhaal uit die woestyn oor ’n rustelose monnik wat in ’n gemeenskap woon waar hy dikwels deur sy mede-monnike geïrriteer is. Hy het besluit om alleen te gaan woon, omdat hy geglo het dat hy vrede sou vind wanneer hy nie met ander kon kommunikeer nie. Maar hy het homself mislei. Eendag het hy sy kruik vol water gemaak en dit op die grond neergesit. Skielik het dit toevallig omgeval. Hy het dit weer gevul, en weer het dit geval. Dit het ’n derde keer gebeur. Hy het woedend die kruik opgeraap en dit stukkend geslaan. Toe hy tot sy sinne gekom het, het hy geweet dat die demoon van woede hom bespot het, en hy het gesê: “Hier is ek alleen, en hy het my geslaan. Ek sal terugkeer na die gemeenskap. Waar jy ook al woon, jy het moeite en geduld nodig en bowenal God se hulp.” Hy staan ​​toe op en gaan terug.  (Ward, The Desert Fathers 7.33, p. 71.)

Van die sewe laaste woorde van Christus, was die eerste toe Hy gespreek het om nie wraak te neem nie – “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk 23: 34)                                                       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Cunningham, Lawrence S.. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.

Tilby, Angela. The Seven Deadly Sins: Their origin in the spiritual teaching of Evagrius the Hermit. SPCK. Kindle Edition.

Ward, The Desert Fathers 7.33

Tilby, Angela. The Seven Deadly Sins: Their origin in the spiritual teaching of Evagrius the Hermit. SPCK. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.