SKRIFLESING: Gen 3: 1 – 10
Adam en Eva het met God in harmonie geleef in die Paradys. Dit was soos ’n tipe huwelik. Elke aand het God die mensepaar kom opsoek in die laatmiddagkoelte. Hulle was tevrede om van al die bome in die tuin te eet, behalwe van die middelste boom. Maar toe word Eva vraatsig en sy wil meer hê as wat haar toekom. Sy is verlei deur die duiwel om van die verbode vrug in die middel van die tuin te eet. Sy verlei toe ook haar man om gulsig te wees en hy het ook geëet van die verbode vrug.
Vraatsug (om meer te wil hê as wat gesond is) het die groot egskeiding in die Paradys laat ontstaan. Adam en Eva het meer gevat as wat vir hulle nodig was. Hulle was nie tevrede met genoeg nie, hulle wou meer as genoeg hê. Adam en Eva moes die Paradys verlaat. Hulle was nou Godsverlate.
Oorspronklik is vraatsug beskou as oormatige besteding tot die punt van verkwisting. Dit was die idee van verkwisting wat vraatsug ’n sonde gemaak het, aangesien so baie mense oor die wêreld daarsonder moes klaarkom.

In ’n sekere sin gaan vraatsug oor ons – ons liggame, ons behoefte aan meer ervarings, meer vakansies, meer klere, meer versamelstukke, meer goed. Maar soos alle uitdrukkings van sonde, gaan vraatsug hoofsaaklik daaroor om ons eie behoeftes hoër te stel as die behoeftes van ander mense. Vraatsigheid is die versoeking wat die meeste daarin slaag om indirek iemand anders te laat honger ly.
As ons in hierdie wêreld meer verbruik as wat ons nodig het, lei dit tot ’n gebrek aan kos, water en medisyne. Met die onlangse Covid-pandemie het sekere lande genoeg entstof aangekoop om drie keer hulle bevolking te laat inent. Armer lande moes toe nog ’n paar maande wag vir toegang tot die entstof.
Daar is in talle studies opgemerk dat as net Amerikaanse Christene die tradisionele tien persent van hul inkomste weggee (eerder as die huidige gemiddelde van 2,6 persent), kan ’n mens in ’n kort tydjie byna alle wêreldhonger uitskakel. Die buitensporige lewenstyl van net Amerikaanse Christene laat die res van ons planeet indirek in hongersnood. Dan het ons nog nie eers begin praat van die Europese Christene nie. Ook in Suid-Afrika word die verskil tussen ryk en arm al groter.

Ook wanneer met hulpbronne gemors word, kan ’n mens praat van vraatsigheid. Daarom het ons altyd as kinders geleer jy mors nie met kos nie, want daar is miljoene kindertjies wat nie kos het nie. Alles word opgeëet en die orige eet die honde. Om te mors met die skaars hulpbronne in die wêreld, is ’n belediging vir die armes of vir diegene wat nie toegang daartoe het nie.
Vraatsug skei ons van die lewe wat God vir ons bedoel het om te lewe. In plaas van op te gaan in God, gaan ons op in ons eie behoeftes. Dit maak dat ons ook nie meer ander se behoeftes kan raaksien nie.
Die eerste Adam was vraatsugtig en het ongekende verskeurdheid en gebrokenheid gebring in die Godsverhouding maar ook in die wêreld. Die laaste Adam is Jesus Christus. Hy was opofferend, die teenoorgestelde van vraatsig en het die wêreld gedien sonder beursie, of ryding of huis. Hy het Homself opgeoffer aan die kruis. Hy het Homself leeg gemaak, sodat ander vol kan word.
Daar is geen tyd vir vraatsug terwyl jy die kruis van die Here dra nie. Die Here vra van ons ’n opofferende ingesteldheid, deur vraatsugtigheid te oorwin, sodat ons ook in die behoeftes van ander kan voorsien.
Die teenpool van vraatsigheid is vrygewigheid. Om geregtigheid na te jaag is wanneer indiwidue, maatskappye en lande hulle beywer om skaars hulpbronne met ander te deel.

Christene behoort te minimaliseer, deur dit wat oorbodig is, weg te gee of te verkoop aan ander mense wat dit dalk meer nodig het. Die goue reël is dat as daar iets in jou kas is wat jy vir twee jaar nie gebruik nie, is die kans dat jy dit ooit weer sal gebruik amper 0%. Waarom dan nie liewer weggee of verkoop aan ander nie? Besittings moet jou nooit besit nie. Jý moet besittings besit en dit reg bestuur.
Jesus wou die vernietigende effek van vraatsug wegneem. Hy wou die skepping nuut maak. Daarom moes Hy gekruisig word. Die soldate met swaarde het die Seun van God uit die tuin gelei – net soos Adam en Eva uit die Tuin van Eden gelei is. Soos God ses dae lank gewerk het om die wêreld te skep, so het Jesus ses uur aan die kruis gehang om dit weer te “restart” in die oorspronklike “default” wat dit was voor die sondeval. Voor die sondeval, was daar geen vraatsug nie.
Waar die huwelik tussen Adam en Eva met God skipbreuk gely het as gevolg van die vraatsugtigheid van Adam en Eva, het Jesus weer ’n nuwe huwelik met sy kerk kom werklikheid maak aan die kruis. In Genesis lees ons hoedat God uit Adam se ribbekas vir hom uit ’n rib ’n vrou gemaak het en hulle saamgevoeg het as man en vrou. Toe Jesus dood aan die kruis gehang het, het die soldate ook ’n spies in Sy sy, tussen Sy ribbes, gesteek en daar het tussen Sy ribbes bloed en water uitgekom. So het God vir hom ’n ewige bruid, die kerk, geskep – met die spiessteek tussen Jesus se ribbes.
As ons die stryd teen vraatsug wil wen, sal dit ons goed doen om van die laaste woorde van Christus te onthou. Aartsbiskop Sheen het verklaar dat Christus se woorde “Ek is dors” gespreek is ter bevegting van die sondes van vraatsug. Daar staan in Johannes 19: 28 die volgende: “ Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: ‘Ek is dors.’”

Daarom moet ons nie vraatsugtig wees nie, maar na hulle omsien wat dors het of ’n behoefte het. Nou verstaan ons Jesus se woorde in Mat 25: 35 – 40 beter: “Want Ek was honger, en julle het vir My iets te ete gegee; Ek was dors, en julle het vir My iets te drinke gegee; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My as ’n gas verwelkom; Ek was nakend, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My versorg; Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Dan sal die regverdiges Hom antwoord, ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed, of dors en iets te drinke gegee? En wanneer het ons U as ’n vreemdeling gesien, en as gas verwelkom, of nakend, en U geklee? En wanneer het ons U siek of in die tronk gesien, en U besoek?’ Maar die Koning sal vir hulle sê, ‘Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al vir een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’”
Vraatsug teenoor vrygewigheid. Wat kies jy? Jesus het vir ons die voorbeeld gestel.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.
Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.
Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.
Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Book 1. Unknown. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.