Die dood is die saaisak, om saad te saai vir God se somer


SKRIFLESING:  1 Kor 15: 35 – 58

Prof Johan Cilliers vertel dat sy oupa begrawe lê op ’n familieplaas in die omgewing van Kuruman. Sy ouers vertel hom dat op ’n stadium, lank nadat die familieplaas verkoop is, die familie besluit het om ’n besoek te bring aan die familie-kerkhof, wat in ’n rustige uithoek van die plaas geleë was. Groot was hulle skok om te sien hoe verwaarloos dit was. Die ergste was die gesig van ’n jong boom wat in die middel van sy oupa se graf gegroei het. Die boom was so groot dat die voëls al kon nesmaak en die boom het al ’n skaduwee oor die graf gegooi. Dit kon mos nie. Hoe kon ’n boom in die middel van ’n graf opkom? Hulle ontsteltenis het later plek gemaak vir verwondering. Is dit nie juis die simbool dat die liggaam wat dood is, ’n wederopstanding beleef in ’n nuwe gedaante nie? Daar kom lewe uit die dood. Dit is immers die roemtaal van Paulus in 1 Kor 15: 35 – 58.

Die hele natuur sing uit die lewendmakende herskeppingswonder van die natuur. Al die plante, gras, bome en struike wat jou tuin so mooi maak, was eers ’n ander gedaante. Dit moes van gedaante verander om te kan lewe. Daarom beskryf Paulus dat ons van gedaante moet verander, soos wat ’n koringkorrel in die grond val en sterf en in ’n nuwe gedaante, in die gedaante van ’n plant, opkom. So wonderbaarlik soos dit is, so wonderbaarlik is die opstanding uit die dood.

Luther het dikwels na die begraafplaas as God se saailand verwys. Met die dood word die mens se ou liggame gesaai in die grond, sodat dit in ’n nuwe geestelike liggaam verrys.

Luther het aangrypend hieroor geskryf in ’n reeks preke oor 1 Korintiërs 15, tydens die Adventstyd van Desember 1532. Luther skryf dat tydens die saaityd dit lyk of die saad verlore gaan, uitgelewer word aan wind en weer en die wurms van die aarde en die voëls van die lug, maar laat die somer net kom en jy sien hoe dit groei.

Martin Luther skryf voorts: “ Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklike dóód nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek van somerbelofte …”  (Johan Cilliers)

“God is groter as enige saaier op aarde. Die saad wat Hy saai, is die mense. Hy dra ’n saadsak, gevul met mense-saad van Adam tot op die laaste dag. Wanneer ons mense sien sterf, is dit God wat Sy hand in die saaisak sit en ’n handvol om Hom op die grond gooi.” (Johan Cilliers)

So het Jesus Christus met sy kruisdood ook in die grond geval en gesterf. Maar Hy het ’n groot oes ingebring. Daarom staan daar in Joh 12: 24 die volgende: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.” Daarom is Christus die eersteling van die oes. Jesus is die eerste saad wat gesaai is en opgestaan het uit die dood, om vir ons die pad voor te berei na God se ewige somer.

Uitdruklik verklaar Paulus dat ons liggame van vlees en bloed nie deel kan kry aan die Koninkryk van God, mits ons verander in nuwe geestelike liggame nie. Paulus verklaar ook dat die nuwe baie beter is as die oue. Paulus verduidelik dit as volg in 1 Kor 15: 42 – 44, naamlik: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid;   wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word,   is ’n geestelike liggaam.   As daar ’n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam.”

Dit is ons blye versekering, ons is God se somersaad. Ons is bedoel om in God se somer te blom. God se somer wat geen einde het nie. 

Daarom moet ’n kerkhof of ’n begraafplaas ons nie morbied laat nie. Sê eerder saam met Kohlbrugge, ’n predikant uit die vorige eeu: “Daarom, wanneer ek sterwe ……. en iemand vind my skedel, laat hierdie skedel dan aan hom verkondig: ek het geen oë nie, nogtans sien ek Hom; ek het geen brein of verstand nie, nogtans ken ek Hom; ek het geen lippe nie, nogtans kus ek Hom, ek het geen tong nie, nogtans prys ek Hom ….. Ek is ’n harde skedel, nogtans is ek gesmelt in sy liefde; ek lê hier op God se akker, nogtans is ek in die paradys.”

Eugene Peterson stel dit so mooi in The Message: “Death is swallowed by triumphant Life! Who got the last word? Oh, death? Oh, death, who’s afraid of you now?”

Op daardie eerste Paasoggend is die dood van sy oorwinning beroof.

Jerry Sittser vertel dat in die herfs van 1991 ’n motor wat deur ’n dronk bestuurder bestuur is, in sy baan ingeslinger en kop-aan-kop  in sy minibus vasgery het. Sittser en drie van sy kinders het oorleef, maar Sittser se vrou, vierjarige kind en ma is in die ongeluk dood. Oor die jare het Sittser ’n paar diepgaande besinnings oor verlies, hartseer en lyding aangebied. In sy boek “A Grace Revealed” deel Sittser die volgende storie oor hoe sy seun David op die tragiese ongeluk gereageer het. Sy seun het eenkeer terwyl hulle op pad skool toe was, skielik gevra: “Dink Pa dat Ma ons nou sien?” Jerry Sittser het stilgebly om te dink. “Ek weet nie, David. Ek dink miskien sien sy ons. Hoekom vra jy?” David antwoord: “Ek sien nie hoe sy kan nie, Pa. Ek het gedink die hemel is vol geluk. Hoe kan sy dit verduur om ons so hartseer te sien?”

“Ek dink sy sien ons wel,” het Jerry Sittser uiteindelik gesê. “Maar sy sien die hele storie, insluitend hoe dit alles goed gaan uitdraai. En dit is vir haar pragtig. Dit gaan ‘n goeie storie wees, David.”

Sittser het in die nadenke daaroor in sy boek bygevoeg: “Ek sal nie waag om die aantal kere wat ek gevra is, te skat nie: “Hoe spreek die Christendom die probleem van lyding aan?” … Die Christelike antwoord op lyding [is] Christus se lyding [en] Christus se opstanding …. God ken pyn in Homself; God ken vreugde in Homself. Hy ken die hele storie as een, insluitend hoe dit alles uitdraai, wat inderdaad heerlik is.”

So ken God ons sterwe en ons hartseer, maar Hy weet ook hoe dit alles gaan uitdraai. God weet die dood loop uit op die ewige lewe.

Die dood is ons vyand, maar, soos die wet, is dit ook ’n skoolmeester wat ons na Christus lei. Die dood se harde les ontbloot die ware aard van sonde. Inderdaad, die wet en die dood is vreemde bondgenote in hierdie geheimsinnige werk om ons na Christus te lei. In die hande van God spoor die wet en die dood ons aan om na Christus te draai vir verligting van die dood se angel.

Daarom is die dood soos die Begrafnisformulier dit stel, ’n herinnering dat jou eie dood ook kom en dat jy daarom in gebondenheid met die Here moet leef. Jy hoef egter nie in vrees te lewe nie. Die dood is oorwin. Die dood is die saaisak om saad te saai vir God se somer. Jy is God se saad, geroepe tot die ewige heerlikheid.

Ook Oom Rex het deel aan hierdie heerlikheid. Lewenslank was hy ’n boer  wat reg onder die Winterberg geboer het. Sy vee was sy trots en veral vir beeste was hy baie lief. Hy was ook ’n goeie kenner van beeste. Waar Oom Rex geboer  het op Zwakfontein, is een van die mooiste gedeeltes in ons distrik. Die teoloog Karel Barth het op ’n stadium aan die Switserse Alpe besoek gebring en gesê: “Dit is so mooi hier, jy het nie ’n eskatologie nodig nie.” (Eskatologie is die vakrigting wat die eindtyd en hiernamaals bestudeer.) Waar Oom Rex geboer het, het jy amper ook nie ’n eskatologie nodig nie. So mooi is dit daar. Maar ja, Oom Rex het die hemel nodig. Daarom het hy soos saad in die grond geval om ’n nuwe geestelike liggaam in die hemel te verkry.

Ek sal Oom Rex onthou as die stil, beskeie man wat nie baie gepraat het nie. Hy het as’t ware eers gedink voor hy praat. Hy was nederig van geaardheid en opreg. Toe sy oorlede vrou, Tannie Lettie, siek geword het van Altzheimers het hy haar geduldig en teer versorg. Die laaste paar maande van haar lewe was Tannie Lettie in Huis Corrie Dreyer. Daar het hy haar gereeld gaan besoek en lang rukke by haar gaan sit. Hulle is geseënd met twee kinders, Louis en Elmarie, asook twee skoonkinders, Christené en Niel. En dan natuurlik Oupa Rex se oogappels, sy vier kleinkinders Lee-Marié, Chrisli, Cornel en Simoné.

Vir Oom Derick, die broer van Oom Rex, is hierdie ’n swaar slag. Vir ’n leeftyd het hulle saam gespeel, skoolgegaan, geboer en ook saam oud geword. Sy skoonsuster Elza gaan hom ook mis.

Maar ons moet die tydelike met die ewige verwissel. Daarteen kan ons nie baklei nie. Ons moet die wêreld nie te lief kry nie. Dit het Oom Rex se tyd geword om die ewige binne te stap. Nou het hy geen pyn en lyding meer nie.

Die saad het reeds geval en ontkiem. Oom Rex het reeds sy nuwe volmaakte geestelike liggaam.

Daarom kan ons getroos wees.                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)  

BRONNELYS:     

Cilliers, Johan, 2022. Ons sal sterwe. Ons sal lewe. Wellington: Barnabas Uitgewers. 

Stone, Dave. Death Is Life.

Jerry Sittser, A Grace Revealed (Zondervan, 2012), pp. 138-139

John Koessler, “Death: Our Enemy and Teacher,” on his blog A Stranger in the House of God (6-30-10)

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3849). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition. 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s