Die Here worstel met ‘n hakskeen-byter

SKRIFLESING: Gen 32: 24 – 30

Sommige klein honderasse soos die Jack Russell-hondjies het die gewoonte om  hakskeenbyters te wees. Net sodra jy omdraai, byt hulle jou aan jou hakskeen. So het Jakob se naam ook beteken “hakskeenbyter”. Dit was hy dan ook inderdaad.

Die verhaal van Jakob is die verhaal van ’n man wat uit ’n disfunksionele gesin gekom het. Daar is twee seuns in die familie: Jakob is die jonger broer van Esau. Hulle is die seuns van Isak en Rebekka. Esau was ’n bedrewe jagter, ’n buitelugmens en hy was harig. Die Bybel sê dat Jakob ’n stil man was, wat homself eerder rondom die tente besig gehou het. Hy was ’n rustige ou. Jakob se pa, Isak, was baie lief vir Esau, maar het nie dieselfde oor Jakob gevoel nie. Jakob was meer van ’n mamma-se-seuntjie en daarom het Rebekka hom voorgetrek. Pa Isak was liewer vir Esau en ma Rebekka was liewer vir Jakob. Daarom was dit ’n disfunksionele gesin.

Jakob het die seën van sy pa so nodig gehad. Hy wou graag weet sy pa erken hom as sy seun. Daarom het hy dan ook sy broer bedrieg deur Esau se eersgeboortereg te koop vir ’n pot lensiesop.  Daarom het hy ook later sy blinde pa Isak bedrieg, deur harige velle oor sy arms te trek en hom voor te doen as Esau, sodat hy die eersgeboortereg by sy pa kon kry.

Jakob was inderdaad soos wat sy naam beteken, naamlik “hakskeenbyter”. Hy het kwaad en gefrustreerd in die wêreld gekom, omdat hy geglo het dat sy lewe nie gaan verloop soos dit moes nie. Hy was soos ’n Jack Russell-hondjie, wat as jy omdraai, jou aan die hakskeen byt. Hy het sy broer en sy pa aan hulle hakskene gebyt.

Toe hy sy pa en broer bedrieg het, moes hy vlug vir sy lewe. Jakob vlug dus ver na ’n ander land om ’n nuwe lewe te begin. Hy het baie probleme in die ver land. Hy is onder andere deur sy oom, Laban, mislei. Hy het twee vrouens. Jakob floreer egter in die ver land. Hy het gevlug met niks, maar versamel nou baie rykdom. En hy het baie kinders – elf kinders. In die antieke wêreld is dit alles wat ’n man nodig gehad het: hy het rykdom, hy het vrouens, hy het kinders. Maar Jakob is steeds onrustig; hy soek nog na iets. Hy wil geseën word. Dit is twintig jaar sedert Jakob die huis verlaat het, en nou besluit hy om terug te keer.

Maar om terug te keer, beteken dat hy sy broer Esau sal moet tegemoet gaan. Sy broer het 400 mans onder hom. Jakob is baie bang vir die weersiens met sy broer, want hy het mos sy broer bedrieg. Jakob verdeel sy troppe vee in groepe en stuur hulle trop vir trop met slawe na Esau, om Esau se guns te wen. Hy dink met dié geskenke sal sy broer bedaar en hom gunstig ontvang. Teen die aand stuur hy sy vroue en kinders en alles wat hy besit het, ook oor die Jabbokrivier. Net hy alleen het agtergebly duskant die Jabbok. 

Dwarsdeur daardie nag was hy in ’n worsteling met ’n Man.  Of die Man ’n engel was of dalk God self, weet ons nie. Sy stryd is nie teen vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk. Maar die Man kon nie vir Jakob oorweldig nie.

Chris van Wyk skryf: “Dat die Man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie.  Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word.  Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ’n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.”

Jakob het ’n fisiese herinnering ontvang deur hierdie worsteling, wat hy nie gewen of verloor het nie. Deur sy heup te ontwrig en hom ook ’n nuwe naam te gee, het God nie net sy krag gedemonstreer nie, maar ook vir Jakob die seën en erkenning gegee wat hy so verlang het om by sy pa te kry. Jakob se heup het mank geword. In stoeikuns word stoeiers altyd geleer dat jou heupe jou sterkste deel van jou liggaam is waarmee jy stoei. Deur Jakob se sterkste deel mank te maak, is ’n metafoor dat God ons sterkste deel van ons lewe dikwels mank maak, om Sy doel met ons lewe te bereik.

Lee Eclov skryf: “The real story of his life – the story worked out in the dark, behind the scenes – was not Jacob’s futile striving to win, but God’s relentless, grace-filled striving to pin Jacob down by his love”.

Die vraag is nou natuurlik waarom God nie vir Jakob kon oorweldig nie. God is mos almagtig. Die rede is eenvoudig dat God sy krag terug gehou het. Toe my seuns jonk was, het ek gereeld speels met hulle gestoei. Hulle het dit baie geniet. Maar ek het my krag terug gehou, sodat hulle kon wen en goed voel. So het God ook Sy krag terug gehou toe Hy met Jakob gestoei het. Daarom het God nie vir Jakob oorweldig met sy almag nie.

God het hom bevestig en geseën op ’n manier wat niemand anders kon nie. Jakob het nou ’n erenaam gekry, Israel, wat beteken: “God stry”. Jakob se naam het nou verander van “bedrieër” na “begenadigde”.

Chris van Wyk skryf verder insiggewend: “Waar Jakob voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry.  Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry.  Jakob se stryd met God het in ’n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.”

Dat die Man nie sy naam vir Jakob gee nie, getuig daarvan dat verhoed wil word dat God se naam misbruik word.

 Jakob noem die plek Pnuel (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar in sy donker stryd deur die nag het hy God se aangesig beleef.

Chris van Wyk skryf verder: “Hoog poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: ‘Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan.’ ’n Nuwe era het vir Jakob aangebreek.  Die Here het Hom verbind, nie net aan Jakob nie, maar ook aan Israel.  God was nou die strydros vir die volk.” Nou kon Jakob vir sy broer Esau trompop loop in die wete  dat God hom sou beskerm, want God gaan saam met hom.

Jakob het mank gebly aan sy heup, en die Israeliete eer tot vandag toe sy nagedagtenis met die gebruik om nie die heupsenuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie. Dit het hulle herinner aan God se verbond met Israel (dit is nou Jakob).

Calvyn skryf: “ … dat God teen ons veg met sy linkerhand en vir ons met sy regterhand. Want terwyl Hy ons ligweg teëstaan, verskaf Hy onoorwinlike krag waardeur ons oorwin.” God veg teen ons met die linkerhand (wat swakker is) en vir ons met die regterhand (wat sterker is). Hy veg teen ons om ons afhanklik en nederig te hou en hy veg vir ons om vir ons oorwinning te gee.”

Calvyn verbind ons versoekinge en beproewinge ook met ’n stryd in die teenwoordigheid van God se aangesig. Ons elkeen het ons swaarkry en probleme waarmee ons worstel en dan dikwels vir God bevraagteken.

Waarmee worstel jy vandag? Waarmee worstel jy elke aand met God in jou gebede?

Daarom skryf  Paulus in 2 Kor 12: 10 – “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk”. Dit is juis in ons aanvegtinge dat ons sterk word deur ons swakhede.

Lee Eclov skryf: “To bless us, God must disable us”.

“The hardness of God is kinder than the softness of men, and His compassion is our liberation.” – C. S. Lewis

Dit was St. Augustinus in die vierde eeu wat gesê het: “God, U het ons vir U gemaak en ons harte is rusteloos totdat hulle hul rus in U vind.”

Jakob was nie langer ’n hakskeenbyter nie. Nee, sy erenaam was nou Israel. Hy hoef nie langer te stry nie. God sal vir hom en die latere Israel die stryder wees. 

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Kindle Edition. 

John Calvin’s Commentaries.

Mark Labberton. Wrestling With God. Preaching Today.

Justin Buzzard. Believe the Blessing. Preaching Today.

Lee Eclov. The Blessed Limp. Preaching Today.

Lee Eclov. Your Arm’s Too Short to Box with God. Preaching Today.

Chris van Wyk. Bybelskool.

Die Here moet geleef word in die ouerhuis

SKRIFLESING: Deut 6: 4 – 9

Toe ek ’n kind was, was die Sondagskool altyd na die erediens. Die katkisant het elke Sondag drie punte gekry: een vir sy teenwoordigheid, een vir in die kerk wees en een vir meelewing in die klas. Baie ouers het hulle kinders voor kerk by die kerkgebou afgelaai en dan eers na Sondagskool weer kom oplaai. Die pa’s het gewoonlik die Sondagkoerant in die motor sit en lees terwyl hulle vir hul kinders gewag het. Die  kinders moes dan alleen in die kerk sit, sonder hulle ouers. 

Vir die arme kinders was die boodskap baie duidelik. Kerk toe gaan is nie belangrik nie. Ek moet net aangeneem word en dan kan ek ook Sondae by die huis rondlê. Omdat die ouers godsdiens nie ernstig opgeneem het nie, het hulle ’n geslag grootgemaak wat dink die erediens en die godsdiens is nie belangrik nie.

Die grootste persentasie geloofsoordrag vind deur ouers en grootouers plaas. Hulle is verantwoordelik vir ongeveer 82% geloofsoordrag. Dan speel vriende en onderwysers ook ’n geringe rol in geloofsoordrag en die kerk is maar verantwoordelik vir ’n skamele 1%.

In Deut 6: 4 – 9 word die belangrikheid van geloofsoordrag onderstreep. Daar staan geskryf vanaf vers 6: “En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ’n teken om jou hand en laat dit ’n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.”

’n Mens leer deur herhaling. Daarom moet godsdiens nie net gereserveer word  vir Sondag nie. Jy moet gedurig met jou kinders daaroor praat, as jy by die huis is en as jy op die pad is. As jy gaan lê en as jy opstaan. Die Jesus-taal moet gedurig in jou huis en as jy op pad is, gepraat word.

Die Joodse mans het die gebruik gehad om ’n gebedsriem van leer om die hoof (tefillen shel rosh) en ’n gebedsriem rondom die arm (tefillien shel jad) te dra. In die gebedsriem was boksies waarin skrifgedeeltes geplaas is. Die gebedsriem van ’n regshandige persoon is aan die linkerarm gedra en dié van ’n linkshandige persoon om die regterarm.. Die betekenis daarvan was om die Joodse gelowige daaraan te herinner dat hy vers 5 deurentyd in sy lewe moet onthou en leef, naamlik: “Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.” Jy moet deurentyd voor die aangesig van God lewe. So moet jy jou kinders en kleinkinders ook deurentyd voor die aangesig van God grootmaak.

Verder staan daar in vers 9 dat jy die wet moet opskryf op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. Godsdiens is nie ’n privaatsaak nie. My kinders moet kan sien dat ek my geloof ook buite die huis en in die publieke sfeer van die dorp en stad uitleef.

Die groot vraag is wat leer die kinders by jou as hulle na jou lewe kyk? Sien hulle dat hulle ouers die verkeersreëls gehoorsaam? Wat sien en leer hulle by jou as jy met ander mense praat wat jou mindere is? Sien hulle in jou lewe respek vir ander mense? Leer hulle by jou om ander mense te vergewe? Leer hulle by jou om ordentlik te wees of ongeskik te wees? Ons kan die mooiste Bybelverhale vir hulle vertel en huisgodsdiens hou en hulle Sondagskool laat loop, maar as hulle dit nie ook in ons leefwyse raaksien nie, beteken alles net mooi niks!

Daarom, om ’n funksionele gesin te wees, waar geloofsoordrag plaasvind, is die vraag wat Mark Holmen in sy boek Faith begins at Home vra “What are you passing on?”hier van toepassing.  Jou huis is daarom in ’n sekere sin dié kerk.

Die noodkreet van hierdie preek is: Kom ons sorg dat ons kinders die Here ken! Kom ons maak ’n geslag groot wat die Here ken!

Let op dat dit in die skrifgedeelte nie soseer oor hulle (die kinders se) geloof gaan nie, maar jou geloof! Jou geloof beïnvloed jou kinders se geloof. Jou geloof kleur jou kinders se geloof.

Hierdie geloofsdeling is oral sigbaar:

  • Wanneer jy met God besig is op persoonlike vlak – moet jou kinders kan sien dat jy die Here liefhet.
  • Wanneer jy in jou huis met jou kinders praat – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy op reis gaan met jou kinders – moet jy die Here lief hê.
  • Wanneer jy gaan slaap en wanneer jy opstaan – moet jou kinders kan sien dat jy die Here liefhet.
  • Wanneer jy in die openbaar is waar jou kinders jou kan sien in interaksie met ander mense – moet hulle kan sien dat jy die Here liefhet.   

Chris van Wyk skryf tereg: “Jou geloof gee af op jou kinders. En dit is die beste manier waarop hulle geloof sien, en geloof leer. Gesinsvernuwing begin dus met ’n besluit wat jy neem: ek wil die Here lief hê in alle omstandighede, in my persoonlike lewe, en in my huis en in die wêreld daarbuite.” 

Die doop is ’n lewenslange waarborg dat God vir die dopeling sal instaan en die inisiatief sal neem in Hannes se verlossing. Hannes moet net antwoord op die toesegginge van die verbond. Soos wat ’n voertuig onder versekering ingebring word vir sy dienste  by die handelaar wat die waarborg uitgereik het, moet julle as ouers vir Hannes bring na die kerk waar die evangelieboodskap aan hom bedien sal word.

Hannes is ’n nuwe loot wat groei uit die verbond wat God met Abraham gesluit het. Sy ouers Hannes en Charleé is reeds in die Here se wingerdstok. Kinders van gelowige ouers groei reeds in die wingerdstok. Wanneer onbekeerdes gedoop word, word hulle egter ingeënt op die wingerdstok.

Die sap van die verbond vloei deur die wingerdstok en deur die lote Hannes en Charleé om ook die nuwe loot – klein Hannes – te bereik. Christus se voedingsap voed ook klein Hannes. As julle julle  verbondstaak nakom, Hannes en Charleé, sal klein Hannes ook saam met julle die nuwe geestelike wyn produseer wat van Christus se wingerdstok afkomstig is. God sal deur hom werk en God sal deur klein Hannes Homself verheerlik.

Vir die volgende agtien jaar het julle die heerlikste verantwoordelikheid om vir klein Hannes ’n wonderlike Christelike voorbeeld te stel, sodat hy ook eendag kan ontwikkel in ’n Godsman, wat tot in sy ouderdom ’n pad met die Here stap.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Jesus se blydskap oor eensgesindheid

SKRIFLESING: Fil 2: 2 – 7, Fil 4: 2 en Johannes 17: 20 – 21

Leonardo da Vinci se skildery “Die laaste Avondmaal” word beskryf as een van die belangrikste godsdienstige kunswerke van alle tye. Da Vinci het dit 500 jaar gelede (1495 – 1498) teen die eetsaalmuur van die Santa Maria delle Grazie kerk in Milaan geskilder.

’n Mens kan sien dat hy die Evangelies goed bestudeer het alvorens hy dit geskilder het. Die skildery bevat ’n lang tafel met Jesus en sy dissipels. Jesus is vreedsaam geskilder. Die dissipels is egter vol spanning, verwarring en onderlinge verdeeldheid. Die dissipels vorm vier kleiner groepies. Die dissipels naaste aan Jesus se emosies is intenser. Daar was geen vreedsaamheid of eensgesindheid rondom die tafel nie. Hulle gesigte is vol vrees, agterdog en onsekerheid. Daar was ook jaloesie onder die dissipels. Kort voor die ete het hulle nog gedink wie is die belangrikste. Wie gaan aan Jesus se regterkant en Jesus se linkerkant sit. Dit is mos die ereposisies. Hulle het ook gewonder wie gaan die voete was. Dit is mos ’n slaaf se werk, en daarvoor sien hulle nie kans nie.

Vyfhonderd jaar na hierdie kunswerk, lyk die lewe nie anders nie. Van eensgesindheid is daar geen sprake nie. Daar is oral onmin, tweespalt, groepvorming en agterdog tussen broer en broer. Dit gaan so in die ekonomiese omgewing, in die godsdiens, en selfs in die kerk van alle plekke. Daar is gedurig hofstryde tussen die politici, sakemanne en selfs ook in die kerk. Net in die Afrikanerdom is daar vier tradisionele kerke, wat getuig van die versplintering van die kerklike landskap. Daar is onenigheid binne elke kerklike denominasie. Ons het almal Adamsbloed, elkeen volg sy eie kop.

“Het jy al ooit daaraan gedink dat een van die groot wonders van die wêreld ’n struktuur van skeiding is? Die Groot Muur van China strek oor 4 000 myl, wat “hierdie kant” van “daardie kant” skei.

“Dit behoort ons nie te verbaas nie. Ons was nog altyd goeie muurbouers. Die meeste van ons mure is egter van ’n meer subtiele soort. Rasse mure. Klasse-verskil mure. Sosio-politieke mure. Ekonomiese mure. En hier is die tragedie: miskien meer as enige ander instansie het die kerk dikwels die botoon gevoer.” (Mark Buchanan)

Andersins is daar ook inspirerende stories: Karl Barth en Dietrich Bonhoeffer in Nazi-Duitsland, wat geweier het om Hitler se rasse-agenda te aanvaar; Desmond Tutu en Beyers Naudé in Suid-Afrika, wat ’n verdeelde nasie teruglei het na eenheid; Billy Graham in Atlanta, wat persoonlik die kordon verwyder het wat die swartes en die blankes geskei het tydens een van sy saamtrekke. Daar is beslis ook goeie stories in die kerk se geskiedenis. Daar is net nie genoeg van hulle nie.

Prof Mark Buchanan skryf tereg: “Van die mure wat die kerk bou en onderhou is goed, selfs nodig. Ons het duidelikheid nodig – definisie, afbakening, mure, om so te sê – oor kernleerstellings. Ons het duidelikheid nodig oor kern-etiese kwessies: die definisie van die huwelik, Bybelse standaarde oor seksuele gedrag, hoe ons met mekaar praat, ensovoorts. Die probleem is dit: God se mense spring dikwels oor die mure wat God self vestig, en rig mure op wat God self platgestoot het.”

Paulus vermaan vir Euodia en Sintige oor eensgesindheid. Paulus gee geen aanduiding waaroor hulle van mekaar verskil het nie. Die feit dat hulle name genoem word impliseer dat hulle waarskynlik leiersfigure in die kerk was. Hulle verdeeldheid het negatief ingewerk op die gemeente van Fillipi. Daarom dat Paulus dan ook die volgende gesê het in Fil 2: 2 – 7. Ek haal aan: Maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander. Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:  Hoewel Hy in die gestalte van God was,   het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,  deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem  en aan mense gelyk te word.”

Jesus se gebed in Johannes 17: 20 – 21 lees as volg: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

Opmerklik is dat Jesus die eensgesindheid van God Drie-Enig voorhou as voorbeeld van intieme eensgesindheid. Die Here Jesus verlang dat die kerk ook eensgesind sal wees, so intiem soos die eenheid in God Drie-Enig. Dan verder bid die Here Jesus dat die kerk ook eensgesind sal wees in God Drie-Enig. Die kerk moet as’t ware aansluit by die eenheid wat daar bestaan in die Drie-Enige God.

Aangesien God alle dinge deur Christus met Homself sal versoen, word die kerk ’n massiewe instrument om die eenheid te laat kom in hierdie wêreld  – ten minste is dit veronderstel om dit te doen!

God se missie in hierdie wêreld is om alles te verenig onder Jesus se naam. Sy passie en hartklop is versoening. Christus se verlossingswerk vernietig mure van skeiding. Die brandende hart van God is vrede tussen alle mense.

Met ander woorde, ’n eenheid wat nie realiseer onder God se mense nie, is ’n weiering om deel te wees van die sending (Missio Dei) waarmee God in die wêreld besig is. God wil versoen, sodat Hy alles onder die son in Sy naam kan verenig. Hy het immers vir die hele skepping gesterf.

Jesus se gebed vir die kerk in Johannes 17 is ’n gebed dat die kerk eensgesind sal staan teenoor selfsug, eersug en eiebelang.

Paulus moedig hulle aan om eensgesind te wees op grond van die goeie dinge wat reeds onder hulle plaasgevind het. Hulle moet op die goeie in mekaar konsentreer. Deur die goeie in mekaar raak te sien en nie die slegte nie, groei ons tot eensgesindheid. Paulus skryf ons moet een van liefde, een van hart en een in strewe wees. Paulus roep hulle as’t ware op om sy blydskap volkome te maak, deur eensgesind te wees.

Die fees en vreugde van hierdie laaste Avondmaal het verby die dissipels gegaan. Hulle was elkeen besig met hulle eie agendas.

Die eensgesindheid moet begin by die Nagmaalstafel. Daarvandaan moet dit oorspoel na die huwelik, die gesin, die familie, die wyk, die gemeente en werksplek. Die eenheid moet sigbaar wees in die Nagmaalstafel, die eetkamer, die kombuistafel, die huweliksbed, die werkbank, die vergadertafel en waar ookal mense bymekaar kom.

Prof Mark Buchanan skryf verder: “Die kerk is ook nie veronderstel om ’n gemeenskap van konformiteit te wees, waar ons noodwendig oor alles hoef saam te stem nie – waar ons almal dieselfde lyk, dieselfde klink en dieselfde dink. Efesiërs 4 is eintlik ’n portret van ryke diversiteit. God gee verskillende gawes aan die kerk en roep elke persoon in die kerk tot ’n ander rol. Maar hierdie diversiteit is gewortel in eenheid. Ons almal is lief vir en dien Jesus. Ons gemeenskaplike grond – een God, een geloof, een doop, een hoop – is baie wyer as ons verskille.”

Deur eensgesind te wees, kan ons nou al die blydskap onder ons en in die hemel werklikheid maak.

Suid-Afrika se ou leuse was: EENDRAG MAAK MAG.

 Prediker 4: 9 – 12 lees as volg oor saamspan en eensgesindheid: “Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ’n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê,  kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word?  As iemand die een wil oorweldig –  twee kan teen hom standhou.   ’n Driedubbele koord  word nie maklik gebreek nie.”

Kom ons wees eensgesind in ons huwelike.

Kom ons wees eensgesind in ons gesinne en families.

Kom ons wees eensgesind in die gemeente.

Kom ons wees eensgesind in ons werksplek en samelewing.

En daar sal vreugde, uitbundige vreugde wees.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Mark Buchanan, United. He is an Associate Professor of Pastoral Theology at the Ambrose Seminary in Calgary, Alberta.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die vreemde en onvoorwaardelike liefde van God

SKRIFLESING: Rom 5: 6 – 11  en 1 Johannes 4: 7 – 21

Ons sien gewoonlik net die slegte in mekaar raak, nooit die goeie nie. Ek lees die verhaal van drie mans wat in die Noord-Afrikaanse stad Alexandrië stap. Twee van hulle was ongelowig en die een was ’n Christen-monnik. Hulle het verby ’n waterafvoersloot geloop en afgekom op ’n hond wat alreeds ’n week dood was. Die een ongelowige merk toe op: “Mensig, maar die hond stink.” En die ander ongelowige merk toe op: “Kyk net hoe val die hond se pels gate in.” Die gelowige het egter die mooie in die dooie hond raakgesien en gesê: “Ja, maar kyk net daardie pragtige stel tande wat die hond het. Dit is nog spierwit.”

Daarom is dit vandag wonderlik as die een mens nog in die ander mens iets positiefs kan opmerk. Dit is wonderlik as ons kan leer om minder krities en meer waarderend na mekaar te kyk.

Tog het ook die gelowige monnik, heel menslik, die hond voorwaardelik gewaardeer. Die monnik het die dooie hond waardeer op grond van sy stel mooi wit tande, wat ten diepste voorwaardelike liefde is. Voorwaardelike liefde beteken dat ek ander mense liefhet omdat hulle sekere positiewe eienskappe of kenmerke vertoon. Ek het ander mense lief op grond van die mooie in hulle.

God se liefde is egter nog meer oneindig dieper as dié van die gelowige monnik. God se liefde is totaal vreemd, totaal onlogies. God se liefde het lief daar waar daar geen rede is om lief te hê nie. God se liefde is totaal en al onvoorwaardelik.

Daarom sê Rom 5: 8 – 9 dat God ons liefgekry het toe ons nog sondaars was, toe ons nog magteloos was, toe ons nog goddeloos was, toe ons nog ver van God was. Toe ons nog lyke van die sonde was, toe ons geruik het van die sonde, toe het God ons liefgekry. Ons was so verrot van die sonde, so gedisintegreer dat God ons nie eens kon liefgekry het op grond van ons tande of ons wit skedel nie.

God het nie stroopsoet, gewaste en “bekeerde” kindertjies in hulle pajamas leer liefkry nie. Nee, God het stoute, vuil en “onbekeerde” kindertjies wat nog in die strate kattemaai, leer liefkry. Daarom het God die mense lief vir wie ons sommerso ons rug draai. God het ’n  besondere liefde vir die arme, die verontregte, die misdadiger, die moordenaar, die prostituut, die molesteerder, die verkragter, die korrupte amptenaar, die alkoholis, die dwelmslaaf, vir elke mens wat die spoor byster geraak het.

Volgens Martin Luther het Jesus selfs van sy geboorte af saam met sondaars gestaan. Luther het geskryf: “Christus is die soort mens wat nie skaam is vir sondaars nie – trouens, Hy sit hulle selfs in sy stamboom! Nou, as die Here dit hier doen, so behoort ons niemand te verag nie.”

Die grootste gevaar in jou geestelike lewe kan wees dat jy nie jou eie goddeloosheid besef nie en nie weet hoe nodig jy vir Christus het nie.

Die moderne wêreld hou nie meer van die woord “sonde” nie. Dit laat hulle aan God herinner. Hulle praat eerder van “foute”. Mense maak foute, wat menslik is, en kan daarvoor slegs om verskoning vra. Maar foute hoef jy nie voor God reg te stel nie. Die Bybel praat egter “sondetaal”. Sondetaal moet voor God bely word. Sondetaal vra bekering en ’n terugkeer na God.

Die feit dat God vir stoute, vuil en “onbekeerde” kindertjies wat nog in die strate kattemaai, leer liefkry het, gee vir ons ook ’n ontsaglike troos. God het my lief ten spyte van my stoutste optrede en vuilste gedagte en mees “onbekeerde” gedrag. God het my onvoorwaardelik lief. Daarom stel Hy nie eers aan my ’n rits voorwaardes voordat ek Sy kind word nie.  Dr. Manie Malan het geskryf dat hy ’n broertjie dood het aan vroom mense wat hulle werke wil vertoon, en dat hy  eerder gebroke mense soek wat opreg treur oor hulle sondes.

Newton, die bekeerde slawehandelaar en die skrywer van “Amazing Grace”, skryf: “Alhoewel my geheue vervaag, onthou ek twee dinge baie duidelik: Ek is ’n groot sondaar, en Christus is ’n groot Verlosser.”

By privaatskole word net skoongewaste, stroopsoet skoliere wat kwalifiseer, toegelaat. In God se Koninkryk word die stoute, ongewaste en “onbekeerde” skorrie-morrie vir wie God leer liefkry het en vir wie Christus gesterf en gered het, toegelaat.

Selfs al sondig ek as gelowige, God se liefde bly net so sterk. Want God is soos ’n pa, wat sy kinders baie liefhet.

Daarom, as ’n mens aan die Nagmaalstafel sit, omdat jy dink dat jou lewe “oraait” is en jy daarom kwalifiseer, dan eet en drink jy ’n oordeel oor jouself. Aan God se tafel sit net armoedige bedelaars wat weet hoe armoedig hulle voor God en hulle medemens lewe. Daarom is kerkbanke altyd bedelaarsbanke. Nagmaalgangers is mense wat weet dat hulle eers “skorrie-morries” was, maar dat God hulle liefgekry het toe hulle nog ver van God was. Dit is mense wat weet dat God hulle lewe onherroeplik verander het. Dit is mense wat weet hulle is nuwe mense op grond van die feit dat God hulle onvoorwaardelik liefhet.

Daarom is ons tegelyk goddeloos en geregverdig. Die sonde maak ons nog steeds goddeloos, maar deur die bloed van Christus is ons tegelyk geregverdig.

Daarom is die week voor Nagmaal altyd ’n “huil”-week, ’n voorbereidingsweek waartydens ons moet gaan nadink oor wat ons eers was en hoe ons nog steeds party dae soos skorrie-morries leef wat mekaar byt en verskeur.

Wanneer ons Nagmaal vier, is dit egter ’n “lag-en-bly-wees”-dag, want ons vier die fees van bedelaars, van mense wat weet hoe armoedig en wees hulle voor God is. Dit is die fees van genade, want ons weet God het ons onvoorwaardelik lief. Sy vriendelike oë het sag op ons gerus en sy milde hande het ons sag omvou. Sy sterwe het die kombers geword wat al ons ongeregtighede, al ons vuilheid, toevou en bedek.

Christus se geregtigheid het die bruilofskleed geword wat ons sonde bedek. Daarom leef ons uit die vreemde en onvoorwaardelike liefde van God. Dit is liefde en genade wat ons nie verdien nie. Christus het uit vrye genade dit ryklik aan ons kom skenk. Dit is ons roemtaal!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Koos Prinsloo het gewoeker met sy talente (geleenthede)

SKRIFLESING: Mat 25: 14 – 30

In ons gelykenis lees ons van ’n man wat weggegaan het en sy sakebelange toevertrou het aan sy slawe. Hy het vir hulle talente toevertrou. ’n Talent is die grootste geldeenheid in die Bybelse tyd. ’n Talent is sowat 6 000 denarius. Daarom is vyf talent ’n onvoorstelbare groot bedrag. Vir een slaaf het hy vyf talente gegee, vir een slaaf twee talente en vir nog een slaaf, een talent. Die eerste twee slawe het hulle geleenthede gebruik en die geld verdubbel. Vir die slawe het die man gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

Vir die doel van vanoggend se troosdiens gaan ons die talente vertaal met geleenthede. Die Here het vir Oom Koos ook geleenthede in sy lewe gegee en hy het dit gebruik en daarvan ’n sukses gemaak.

God het vir Oom Koos die geleentheid van ’n huwelik gegee. Oom Koos het die geleentheid gehad om kinders groot te maak en die Here het vir hom kleinkinders gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om ’n familieman te wees. Die Here het vir hom werksgeleenthede en besigheidsgeleenthede gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om die gemeenskap te dien. Die Here het vir hom die geleentheid van baie menseverhoudings gegee. Die Here het vir hom die geleentheid gegee om as Christen sout van die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Van al hierdie talente (geleenthede) het Oom Koos ’n sukses gemaak. Van sy huwelik het hy ’n sukses gemaak. Hy en Tannie Naomi was vir 52 jaar getroud. Hy het sy drie kinders Johan, Ronel en Fanie liefgehad en hy het met hulle in ’n goeie verhouding gestaan. Hy het ook in ’n goeie verhouding gestaan met sy skoonkinders Esna, Jacques en Samantha. Hy was in ’n goeie verhouding met sy ses kleinkinders. Met sy sterwe was Tannie Naomi en sy drie kinders by. Ek het ook lank by die sterfbed gesit, waartydens ek die harmonie en vrede van gesonde verhoudinge kon beleef.  Dit was vir my werklik mooi en aangrypend.

Oom Koos het sy geleentheid as familieman gebruik om sy familie bymekaar te hou. Hy het almal geken en in almal belang gestel. Hy het hulle gereeld gekontak en as hulle verby ’n familielid se huis gery het, het hy altyd ’n besoek gebring. Hy was soos ’n Vaderfiguur vir sy familie.

Oom Koos het sy geleenthede gebruik by Katco en later as besigheidsman met sy eie besighede. Hy kon genoegsaam vir hom en sy gesin sorg, sodat hulle altyd  genoeg gehad het.

Oom Koos het sy geleenthede gebruik as gemeenskapsleier deur die Belastingbetalersvereniging te verteenwoordig in die munisipale strukture. Hy het die gemeenskap gedien en was vir hulle ’n spreekbuis.

Ook sy geleentheid om Christen te wees, het hy gebruik. Hy was een van die gemeente se gereeldste kerkgangers. Ook Pinksterbidure het hy nie gemis nie.

Oom Koos het min vyande gehad. Hy was ’n ware heer, wat altyd met almal ’n geselsie aangeknoop het. Hy het sy geleenthede gebruik om goeie verhoudinge met ander te bou en in stand te hou. Hy was voorwaar ’n mens-mens.

Van Oom Koos sal die Here sê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

So het ons elkeen talente (geleenthede) van die Here ontvang. Die geleentheid van ’n huwelik, van kinders, van kleinkinders, van werksgeleenthede en van verhoudings. Ons moet met dié geleenthede woeker en daarvan ’n sukses maak.

Dan sal daar ook aan die einde van ons lewe gesê word: “Mooi so, goeie en getroue slaaf, oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Deel in jou eienaar se vreugde!”

So sal daar aan die einde van elke lewe wat in Christus geleef is, vreugde wees. Vreugde wees in die Vaderhuis.

In die hemel is daar nie hartseer nie. Hartseer kan nie in die hemel bestaan nie. Die hemel is net ’n plek van vreugde. Oom Koos ervaar nou intense vreugde. Psalm 23: 5 – 6 sê dat ek aan die einde van my dag (lewe), sal aansit aan die feesmaal van die Here en dat ek in die huis van die Here sal wees. Gewoonlik aan die einde van die lang, harde werksdag in die Bybelse tyd, het die familie by die huis bymekaar gekom en feesmaal gehou. Daar is geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en ontspan. So het Oom Koos ook aan die einde van sy werksdag gekom in sy lewe. Hy kan nou in die huis van die Here feesmaal hou en deel in die vreugde van ’n lewe goed gelewe.

Daarom moet ons nie langer oor Oom Koos huil nie. Ons moet huil oor mekaar, wat elkeen verlies ervaar het. Ons moet mekaar ondersteun en bystaan.

Oom Koos se wens op sy sterfbed vir sy familie en gesin was: “Wees lief vir mekaar”. Daar is niks soos familie nie. Koester dit as kosbaar en besonders.

Ons eer die nagedagtenis van Oom Koos Prinsloo.

Amen

Preekgedagte gekry by Rev Alison Gerber, Pastor of Second Congregational Church in Peabody MA

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)