Die Here worstel met ‘n hakskeen-byter


SKRIFLESING: Gen 32: 24 – 30

Sommige klein honderasse soos die Jack Russell-hondjies het die gewoonte om  hakskeenbyters te wees. Net sodra jy omdraai, byt hulle jou aan jou hakskeen. So het Jakob se naam ook beteken “hakskeenbyter”. Dit was hy dan ook inderdaad.

Die verhaal van Jakob is die verhaal van ’n man wat uit ’n disfunksionele gesin gekom het. Daar is twee seuns in die familie: Jakob is die jonger broer van Esau. Hulle is die seuns van Isak en Rebekka. Esau was ’n bedrewe jagter, ’n buitelugmens en hy was harig. Die Bybel sê dat Jakob ’n stil man was, wat homself eerder rondom die tente besig gehou het. Hy was ’n rustige ou. Jakob se pa, Isak, was baie lief vir Esau, maar het nie dieselfde oor Jakob gevoel nie. Jakob was meer van ’n mamma-se-seuntjie en daarom het Rebekka hom voorgetrek. Pa Isak was liewer vir Esau en ma Rebekka was liewer vir Jakob. Daarom was dit ’n disfunksionele gesin.

Jakob het die seën van sy pa so nodig gehad. Hy wou graag weet sy pa erken hom as sy seun. Daarom het hy dan ook sy broer bedrieg deur Esau se eersgeboortereg te koop vir ’n pot lensiesop.  Daarom het hy ook later sy blinde pa Isak bedrieg, deur harige velle oor sy arms te trek en hom voor te doen as Esau, sodat hy die eersgeboortereg by sy pa kon kry.

Jakob was inderdaad soos wat sy naam beteken, naamlik “hakskeenbyter”. Hy het kwaad en gefrustreerd in die wêreld gekom, omdat hy geglo het dat sy lewe nie gaan verloop soos dit moes nie. Hy was soos ’n Jack Russell-hondjie, wat as jy omdraai, jou aan die hakskeen byt. Hy het sy broer en sy pa aan hulle hakskene gebyt.

Toe hy sy pa en broer bedrieg het, moes hy vlug vir sy lewe. Jakob vlug dus ver na ’n ander land om ’n nuwe lewe te begin. Hy het baie probleme in die ver land. Hy is onder andere deur sy oom, Laban, mislei. Hy het twee vrouens. Jakob floreer egter in die ver land. Hy het gevlug met niks, maar versamel nou baie rykdom. En hy het baie kinders – elf kinders. In die antieke wêreld is dit alles wat ’n man nodig gehad het: hy het rykdom, hy het vrouens, hy het kinders. Maar Jakob is steeds onrustig; hy soek nog na iets. Hy wil geseën word. Dit is twintig jaar sedert Jakob die huis verlaat het, en nou besluit hy om terug te keer.

Maar om terug te keer, beteken dat hy sy broer Esau sal moet tegemoet gaan. Sy broer het 400 mans onder hom. Jakob is baie bang vir die weersiens met sy broer, want hy het mos sy broer bedrieg. Jakob verdeel sy troppe vee in groepe en stuur hulle trop vir trop met slawe na Esau, om Esau se guns te wen. Hy dink met dié geskenke sal sy broer bedaar en hom gunstig ontvang. Teen die aand stuur hy sy vroue en kinders en alles wat hy besit het, ook oor die Jabbokrivier. Net hy alleen het agtergebly duskant die Jabbok. 

Dwarsdeur daardie nag was hy in ’n worsteling met ’n Man.  Of die Man ’n engel was of dalk God self, weet ons nie. Sy stryd is nie teen vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk. Maar die Man kon nie vir Jakob oorweldig nie.

Chris van Wyk skryf: “Dat die Man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie.  Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word.  Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ’n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.”

Jakob het ’n fisiese herinnering ontvang deur hierdie worsteling, wat hy nie gewen of verloor het nie. Deur sy heup te ontwrig en hom ook ’n nuwe naam te gee, het God nie net sy krag gedemonstreer nie, maar ook vir Jakob die seën en erkenning gegee wat hy so verlang het om by sy pa te kry. Jakob se heup het mank geword. In stoeikuns word stoeiers altyd geleer dat jou heupe jou sterkste deel van jou liggaam is waarmee jy stoei. Deur Jakob se sterkste deel mank te maak, is ’n metafoor dat God ons sterkste deel van ons lewe dikwels mank maak, om Sy doel met ons lewe te bereik.

Lee Eclov skryf: “The real story of his life – the story worked out in the dark, behind the scenes – was not Jacob’s futile striving to win, but God’s relentless, grace-filled striving to pin Jacob down by his love”.

Die vraag is nou natuurlik waarom God nie vir Jakob kon oorweldig nie. God is mos almagtig. Die rede is eenvoudig dat God sy krag terug gehou het. Toe my seuns jonk was, het ek gereeld speels met hulle gestoei. Hulle het dit baie geniet. Maar ek het my krag terug gehou, sodat hulle kon wen en goed voel. So het God ook Sy krag terug gehou toe Hy met Jakob gestoei het. Daarom het God nie vir Jakob oorweldig met sy almag nie.

God het hom bevestig en geseën op ’n manier wat niemand anders kon nie. Jakob het nou ’n erenaam gekry, Israel, wat beteken: “God stry”. Jakob se naam het nou verander van “bedrieër” na “begenadigde”.

Chris van Wyk skryf verder insiggewend: “Waar Jakob voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry.  Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry.  Jakob se stryd met God het in ’n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.”

Dat die Man nie sy naam vir Jakob gee nie, getuig daarvan dat verhoed wil word dat God se naam misbruik word.

 Jakob noem die plek Pnuel (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar in sy donker stryd deur die nag het hy God se aangesig beleef.

Chris van Wyk skryf verder: “Hoog poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: ‘Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan.’ ’n Nuwe era het vir Jakob aangebreek.  Die Here het Hom verbind, nie net aan Jakob nie, maar ook aan Israel.  God was nou die strydros vir die volk.” Nou kon Jakob vir sy broer Esau trompop loop in die wete  dat God hom sou beskerm, want God gaan saam met hom.

Jakob het mank gebly aan sy heup, en die Israeliete eer tot vandag toe sy nagedagtenis met die gebruik om nie die heupsenuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie. Dit het hulle herinner aan God se verbond met Israel (dit is nou Jakob).

Calvyn skryf: “ … dat God teen ons veg met sy linkerhand en vir ons met sy regterhand. Want terwyl Hy ons ligweg teëstaan, verskaf Hy onoorwinlike krag waardeur ons oorwin.” God veg teen ons met die linkerhand (wat swakker is) en vir ons met die regterhand (wat sterker is). Hy veg teen ons om ons afhanklik en nederig te hou en hy veg vir ons om vir ons oorwinning te gee.”

Calvyn verbind ons versoekinge en beproewinge ook met ’n stryd in die teenwoordigheid van God se aangesig. Ons elkeen het ons swaarkry en probleme waarmee ons worstel en dan dikwels vir God bevraagteken.

Waarmee worstel jy vandag? Waarmee worstel jy elke aand met God in jou gebede?

Daarom skryf  Paulus in 2 Kor 12: 10 – “Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk”. Dit is juis in ons aanvegtinge dat ons sterk word deur ons swakhede.

Lee Eclov skryf: “To bless us, God must disable us”.

“The hardness of God is kinder than the softness of men, and His compassion is our liberation.” – C. S. Lewis

Dit was St. Augustinus in die vierde eeu wat gesê het: “God, U het ons vir U gemaak en ons harte is rusteloos totdat hulle hul rus in U vind.”

Jakob was nie langer ’n hakskeenbyter nie. Nee, sy erenaam was nou Israel. Hy hoef nie langer te stry nie. God sal vir hom en die latere Israel die stryder wees. 

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Kindle Edition. 

John Calvin’s Commentaries.

Mark Labberton. Wrestling With God. Preaching Today.

Justin Buzzard. Believe the Blessing. Preaching Today.

Lee Eclov. The Blessed Limp. Preaching Today.

Lee Eclov. Your Arm’s Too Short to Box with God. Preaching Today.

Chris van Wyk. Bybelskool.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s