Watter grond vind God se Woord in jou hart?

SKRIFLESING: Matteus 13:1–9, 18–23

In moderne boerderypraktyke is die effektiwiteit van die saaiproses baie belangrik.

Hedendaagse saaimasjiene bepaal met rekenaarpresisie die diepte van die grond en die hoeveelheid saad per hektaar. Masjiene trek voortjies, die saadkorrel word op die regte diepte geplant en weer bedek in een beweging, sodat daar geen kans is dat die saad verlore kan gaan nie.

Maar God is ’n anderste saaiboer. Hy saai “roekeloos” op alle plekke. Hy vermors as’t ware die saad omdat Hy so roekeloos vrygewig saai. Vir God gaan dit nie oor die produktiwiteit nie, maar om getrou te wees in die saaiproses. Die inset is vir God belangriker as die uitset. Vir die mens gaan dit oor die maksimum uitset, maar vir God gaan dit oor die maksimum inset (vir sondaars). Vir die maksimum inset vir sondaars, het die Vader Sy enigste Seun gegee. Die Vader het Sy alles gegee.  God is roekeloos vrygewig met die saaiproses.

In die gelykenis is ons tegelyk die saaiers en die grond.

Die gelykenis het dus twee fokus-areas, naamlik:

Ons gaan na elkeen van die twee fokus-areas kyk.

Kom ons begin by die eerste:

a.) God roep ons om getrou te wees.

Die eerste perspektief is dat God die saaier is en van ons medesaaiers maak wat die Woord moet saai. Hierdie gelykenis wil vir ons bemoedig om nie moedeloos te raak as ons min vrug sien op ons getuienistaak nie. God berei ons as’t ware voor dat daar verskillende menseharte is, wat verskillend op die Woord reageer. Ons moet net aanhou die Woord saai. God roep ons as’t ware op om getrou te wees in die saai van die Woord. Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak beskryf: “God roep ons om getrou te wees, nie suksesvol nie.”

Ons sien elke dag hoe mense onder die verkondiging van die Woord hulle rug op God draai. Hulle sak uit in die geloof. Hulle verwater in die geloof. Die Here Jesus sê ons moet nie daaroor moedeloos wees nie, maar weet dat dit so sal wees. Baie dikwels word die dinamika van alle gemeentes as volg beskryf. Een derde is aktief en is warm vir die Here. Die tweede derde is lou. Jy probeer hulle met baie moeite betrokke kry in die gemeente. Die laaste derde is heeltemal koud vir die Here. Hulle inset in die gemeente is zero. Hulle het al heeltemal van God vergeet of hulle rug op God gedraai. Hierdie tendens kom regdeur die statistieke van alle gemeentes van alle kerk-denominasies na vore. Jy kry die tendens in elke gemeente. Juis daarom het die Here ons in die gelykenis aangemoedig om roekeloos die Woord te saai, ook by hulle wat heeltemal onverskillig lewe.

Ons hoef nie altyd suksesvol te wees in die saai van die Woord nie, maar ons moet getrou wees en oral saai. Dit is ons taak om te saai, maar dit is God se taak om die saad te laat opkom en dit te oes. Martin Luther het by geleentheid gesê dat sy taak net is om te saai. Terwyl hy sy Wittenbergse bier drink, werk God in die verborgenheid en kom die Koninkryk ook op plekke waar jy dit die minste verwag. Teleurstelling in mense is ’n gegewe. Ons moet dit so aanvaar. Die Here sê so sal dit wees. Nie almal sal ewe ontvanklik vir die Woord wees nie.

’n Stukkie agtergrond sal die moderne leser help. Daar was twee aanvaarbare maniere om te saai. Die eerste manier was om eers te ploeg en dan te saai (soos vandag). Maar daar was ook ’n manier van eers saai en daarna die saad inploeg. In hierdie gelykenis is die tweede manier van saai waarskynlik die gebruik. Dit is waarom die saaier nie geweet het waar die klippe en onkruid verborge lê nie en waar die voetpaadjie later sou ontstaan nie. Die gelykenis wil die saaier aanmoedig om te saai, al weet hy nie wat die uitkoms van die oes gaan wees nie – aangesien die ploeg eers later in die grond sal kom. Die saaier kan nie vooraf bepaal waar die saad vermors gaan word nie.

Wat belangrik is in die gelykenis van die saaier, is dat die saaiers van die Woord nie krediet moet neem wanneer die saad ontkiem, groei en vrug dra nie. Dit kan so maklik waar word dat kerke onder mekaar kompeteer wie die meeste siele gewen het vir die Koninkryk van God. Die mens kan saai, maar dit is net God wat kan laat opkom. God werk deur Sy Gees en Woord om bekering te laat plaasvind.  Sonder menslike toedoen, slegs deur die uitverkiesende genade van die Here, kan die saad groei en oes dra in jou lewe. God werk alleen, maar Hy gebruik mense as saaiers van die blye Evangelie.  

Rom 9: 14 – 15 lees as volg: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig?  En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: ‘Hoe lieflik  is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!’ ”

Getrouheid in die verkondiging en lewe van die Evangelie vra geduld, nie onmiddellike resultate nie. Inteendeel, die resultate behoort aan God, want dit is Hy wat die geloof bewerkstellig.

In 1813 het Adoniram en Ann Judson in Birma, vandag die moderne Mianmar, aangekom. Adoniram het baie jare  daaraan bestee om die taal van die inheemse volk aan te leer en die evangelie te verkondig. Dit was stadige, moeisame en geduldige werk. Eers in 1819, omtrent ses jaar ná hul aankoms, het hy die eerste Birmaanse bekeerling, Maung Naw, gedoop.

Judson het aangehou om die Woord te verkondig en te vertaal, met baie min resultate. Hy is later tydens ’n oorlog gevange gehou, maar het ná sy vrylating met die vertaalwerk en sendingwerk voortgegaan. Uiteindelik het hy die hele Bybel in Birmaans vertaal.

Dit het al gebeur in die Sendinggeskiedenis dat ’n sendeling sy of haar hele lewe opoffer en nie in hulle lewenstyd enige vordering sien nie. Dan gebeur dit dikwels dat na hulle dood, die vrug van hulle lewenstaak eers sigbaar raak.

Onthou, ons almal is saaiers van die Woord. Dit is nie net predikante en ampsdraers in die kerk nie. Die gewone gelowige kan deur sy of haar getuienis of lewe ook ’n saaier wees van God se Woord.

Die tweede fokus-area van die gelykenis is:

b) God roep ons om ontvanklik te wees.

Soos daar in die gelykenis vier verskillende grondsoorte is, so is daar vier verskillende soorte harte wat op die Here se Woord (die saad) reageer.

Daarom roep die gelykenis ons op om tegelyk saaier te wees en ook andersyds ontvanklike grond te wees vir die Woord van die Here.

Die Here verduidelik dat daar vier soorte grond is. Die eerste tipe grond word ’n voetpad en die voëls pik die saad op. Voëls word dikwels in verband gebring met die duiwel. Dit is mense wat die woord hoor en hulle dadelik verset teen die Woord en die saad word weggepik deur die duiwel. Daar kom eenvoudig niks van die Here se Woord tot reg in hulle lewe nie.

Die tweede grondsoort het net ’n dun lagie goeie vogtige grond, maar direk daaronder lê die klipbank. Dit is verstaanbaar dat die saad in die vogtige dun bolaag-grond vinnig ontkiem. Maar as die wortels die klipbank tref, verwelk dit gou. Aanvanklik word die Woord van die Here met groot blydskap aangeneem, maar sodra die eise en bekommernisse van die lewe ’n werklikheid word, verwelk die bekering en toewyding aan die Here. ’n Mens tref dit baie op geestelike kampe aan, dat jongmense vuur en vlam hulle harte vir die Here gee. Maar as hulle eers weer terug is by die huis en skool en hulle word gekonfronteer met probleme, dan sterf die bekering ’n spoedige dood.

Die derde grondsoort is die saad wat tussen die onkruid gesaai word. Dit is mense wat die Woord van die Here aanneem en ’n tyd lank goed groei. Maar dan kom die versoeking van wêreldse glans, glorie en rykdom en verstik die Woord van die Here. Die plante word geel en vrek later heeltemal.

Die vierde grondsoort is die vrugbare goeie grond, waarop die saad val en ’n oes oplewer van dertig-, sestig- en honderdvoudig. Dit is iemand wat die Woord ontvang, aanneem en alles los en die Here volg.

Dit is hulle wat volhard in die dinge van die Here. Binne die konteks van die teks sou ’n dertigvoudige opbrengs al ’n wonderwerk wees en ’n klein gemeenskap sou daarmee gevoed kon word. ’n Sestig- en honderdvoudige oes sou beteken ongekende geestelike vooruitgang en  groei in God se Koninkryk.

Daarom daag die gelykenis ons tweeledig uit, naamlik om getroue saaiers te wees, maar om ook aan die ander kant ontvanklike grond te wees vir die Here se saad.

Mag ons GETROU in ons getuienis en ONTVANKLIK in ons harte wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die dag toe ek vir God gelag het

SKRIFLESING: Genesis 17:17 en Genesis 18: 10 – 15

Die dag toe ek gedoop is in 1964 het die mense gelag toe die dominee my gedoop het. Want sien, ek het vier doopname: Paul Coenraad Pieter Arnoldus Odendaal. So baie name vir so ’n klein babatjie. Deur die jare het die mense my gespot oor my baie name. Maar ek is tot vandag toe trots op my doopname. Dit is ek.

Somtyds kan ’n mens lag oor iets wat blyk onmoontlik te wees. Ek was ‘n stil, skaam en teruggetrokke seuntjie. Ek het amper nooit gepraat nie. Toe ek in Sub B kom, het ek vir my ouers en vriende vertel ek wil ’n dominee word. My ma het laggend gesê sy eet haar hoed op as ek ’n predikant word. My maats en onderwysers het gelag en het natuurlik gedink dit is dagdromery en dat ek nie oor die persoonlikheidseienskappe  beskik om eendag ’n predikant te word nie. Dit is nou 50 jaar later en ek is nou alreeds vir meer as 30 jaar predikant. Hulle het gelag en wat volgens hulle menslik onmoontlik was, het waar geword.  Baie het ook getwyfel of ek Grieks en Hebreeus sou baasraak, maar deur God se genade het ek dit gemaak.

Mense lag oor dit wat onmoontlik lyk. So was dit ook met die verhaal van Abram en Sarai. Toe die Here met Abram ’n verbond gesluit het en hulle name verander het na Abraham en Sara, het Abraham gelag oor God se belofte van ’n groot nageslag. Abraham het by homself gedink, ek is 100 jaar en Sara 90 jaar. God het ’n goeie humorsin. Ons lees in  Genesis 17:17 dat Abraham op sy knieë geval het en gelag het.

Een hoofstuk later ontvang Abraham drie besoekers by die bome van Mamre en hy berei vir hulle ’n feesmaal voor. Hy het hulle nie herken as hemelse besoekers nie. Sara het afgeluister. Toe hulle vir Abraham sê dat sy vrou Sara oor ’n jaar  ’n seun sal hê, het Sara ook volgens  Genesis 18: 10 – 15 gelag, van agter die tentdoeke.

Dan vra die Here vir Abraham in vers 13 en 14 waarom Sara lag. Die Here vra of iets dan te buitengewoon vir die Here is. Sara skrik en vertel ’n leuen: “Ek het nie gelag nie.” Dan antwoord die Here: “Nee, jy het gelag.”

Somtyds lag ons ook as die Here vir ons iets belowe. Of ons skud in ongeloof ons koppe en sê dit is nie moontlik nie. In die doopbelofte beloof die Here vir die dopeling dat Hy ’n God sal wees vir die dopeling en dat die dopeling ingesluit is in al die beloftes van God.

Somtyds glo ons nie in die doopbeloftes nie of ons kan selfs daaroor lag. Die meeste gelowiges neem nie God se doopbeloftes ernstig op nie. Martin Luther het ernstige episodes van diepe depressie beleef. Tydens een van sy donker episodes van depressie het hy op sy houttafel die volgende woorde  uitgebeitel: “Maar ek is mos gedoop.” Daarin het hy sy troos gevind. So moet ons vashou aan God se doopbeloftes aan ons.

In tye van diepe aanvegtinge, wat oor enige gelowige se lewe kom, moet ons onsself herinner: “Maar ons is mos gedoop”. Baie Anglikaanse kerke het die gebruik om by die kerkdeur ’n bakkie water te plaas. Dan kan die kerkgangers hulleself herinner dat hulle mos gedoop is en dat God se beloftes ewig en onverganklik is.   

Somtyds kom ons by kruispaaie in ons lewe waar dit onmoontlik lyk om by ’n oplossing uit te kom. Ons almal het al daardie ervarings gehad. Ons lag vir God. Dit is onmoontlik om uit hierdie situasie te kom. Nie eers God kan help nie. Of dalk twyfel ons aan God se bestaan. Of twyfel of God in staat is om ons te kan help. Ons situasie is te hopeloos.

Dan vra God vir ons waarom ons lag, waarom ons twyfel, waarom ons moed opgee. Vers 14 weerklink dan: “Is iets te buitengewoon vir die Here?” Waarom lag julle vir my, sê God.

Wanneer ons in situasies beland wat skeefgeloop het, lag ons dikwels vir God. Die Here is nie in staat om ons te help nie. Maar dan getuig die Bybel hoe verkeerd ons oor God oordeel.

Dit is God wat vir die Abraham voorsien het van ’n offer in die plek van sy seun Isak. Dit is God wat die Rooi See oopgemaak het. Dit is God wat vir Dawid beskerm het teen Saul. Dit is God wat Goliat se kop in die hande van Dawid gegee het. Dit is God wat Daniël beskerm het in die leeukuil. Dit is God wat vir Sadrag, Mesag en Abednego beskerm het in die vuuroond. Dit is God wat sy volk telkens verlos van die ballingskap waarin hulle hulself gedompel het as gevolg van hulle sonde. Dit is Jesus wat die water by die bruilof in Kana in wyn verander het. Dit is Jesus wat mense genees het, kos vermeerder het, sondes vergeef het en vir mense hoop en sin gebring het.

Ons moenie lag en dink die Here kan ons nie help nie. Hy is in staat om baie meer te doen as wat ons onsself kan voorstel.

Dikwels is ons lewe soos ’n tapisserie. Die agterkant van die tapisserie is vol knope en vlegsels en selfs slordig en messy. Maar die voorkant van die tapisserie  is in volmaakte skoonheid en harmonie. Ons moenie dink as ons lewe messy is, in ’n warboel, dat God nie daarin is nie. Hy laat alles ten goede meewerk vir hulle wat op Hom vertrou.

In my persoonlike lewe is ek ook getuie daarvan dat ek dikwels in doodloopstrate was, waar ek geen uitkoms gesien het nie. Dit is eenvoudig angswekkend. Dan wil ’n mens as’t ware in ongeloof lag en sê, hier kan selfs God nie help nie.

Om dan net verras te word deur God. Ek kan persoonlik daarvan getuig, maar dit is so intiem persoonlik vir my, dat dit ’n kosbaarheid is tussen my en God.

Ons moet onsself daaraan herinner, en ook ons kinders, dat ons aan die Here behoort en dat die Here ons in alles sal help. As die onmoontlike vir ons voorlê, moet ons nie soos Abraham en Sara lag vir God nie, maar met geloofsmoed glo dat God ons sal dra en help, ons lewe lank.

Moenie vir God lag in donker tye nie. Jy sal telkens verras word deur God. Net soos Abraham en Sara verras is deur die geboorte van die seun Isak. God verras ons telkens. Wat ’n heerlike versekering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Een van hart en een van gees

SKRIFLESING: Ps. 133: 1 – 3

Twee broers het saam op ’n familieplaas gewerk. Die een was ongetroud en die ander een getroud, met kinders. Hulle het dit wat hulle geproduseer het en die wins wat hulle gemaak het, presies om die helfte gedeel. Een dag het die alleenloper vir homself gesê: “Dis nie reg dat ons alles om die helfte deel nie. Ek is ’n alleenloper en my behoeftes is min. Daar is my arme broer egter, met ’n vrou en al die kinders”. In die middel van die nag het hy dus gereeld ’n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur gaan neersit.

Sonder dat hy dit geweet het, het sy broer dieselfde gedink: “Dis nie reg om alles om die helfte te deel nie. Ek is getroud en my vrou sorg vir my. My kinders sal na my omsien op my oudag. My broer het niemand nie, en wie gaan in die toekoms na hom kyk?” Hy het toe ook gereeld ’n sak koring uit sy skuur geneem, in die middel van die nag die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur geplaas. Albei het jarelank met die gebruik voortgegaan om ’n ekstra sak koring in mekaar se skuur te gaan pak. Wat hulle nie kon verstaan nie, was waarom hulle sakke koring nie minder word nie. Wel, een nag het dit so gebeur dat hulle dieselfde tyd na mekaar se huise toe afgesit het met ’n sak koring op hul skouer.  In die donker het hulle in mekaar vasgeloop, met die sakke koring nog so op hul skouers. Hulle was baie verbaas, maar geleidelik het die waarheid tot hulle deurgedring. Hulle het hulle sakke op die grond gegooi en mekaar omhels. Skielik is die naghemel verlig en het ’n stem uit die hemel gesê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want, waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.” Die kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet.

Die Here het vandag ook vir Sy gemeente in Ps. 133 ’n wens, naamlik dat ons eensgesind met mekaar moet saamleef. In ons huwelike, in ons gesinne, in ons kerk en in ons gemeenskap moet ons mekaar liefhê en eensgesind saamleef. Daarom sê die Spreuke-digter in 17:1 : “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.”

In ons teksgedeelte word gepraat van broers. Dit kan beteken bloedbroers of vriende of broers in die geloof. Want is dit nie waar dat elke mens op jou pad eintlik maar jou broer en suster moet wees nie?

Die Psalmdigter sê dit is vir hom goed, dit is vir hom mooi as mense eensgesind kan saamleef. In Hebreeus staan daar eintlik hoe “goed” en “aangenaam” dit is as mense in liefde kan saamwoon.

Die Psalmdigter gebruik twee illustrasies om die aangenaamheid van eensgesindheid tussen broers te beskryf. Die eerste illustrasie kom uit ’n godsdienstige plegtigheid en die tweede beeld kom uit die natuur.

Die eerste illustrasie in vers 2 beskryf die eensgesindheid tussen broers in die beeld van ’n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van die hoëpriester. ’n Hoëpriester word gesalf met olie. Olie het in die algemeen die betekenis van vreugde, dit verskaf geur en dit verlig pyn. So word broederskap tussen mense beleef.

Dit bring vreugde – teenoor die hartseer van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verskaf geur – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verlig pyn – met ’n ware broer kan ek my pyn deel. Hy sal verstaan en my onderskraag.

Die tweede illustrasie kom uit die natuur, waar die harmonie tussen broers met die dou van die Hermonberg vergelyk word. Dou is as teken van goddelike seën beskou, dit is ’n goddelike gawe van lewe en vrugbaarheid. Na die hitte van die dag is die dou in die nag verfrissend en as ’n besondere seën beskou.

Beide die olie en die dou drup. Die olie drup af oor Aäron se baard, dit drup af oor sy klere en selfs die dou van die Hermon drup af oor die berge van Sion. Dit simboliseer die oorvloedige seën wat broederskap en eensgesindheid tussen mense bring. Baie van ons menslike spanning en stres is te wyte aan swak menseverhoudings tussen mense. Ons stres omdat ons nie met mekaar oor die weg kom nie. Ons wil nie as broers saamwoon en eensgesind saamleef nie. Ons is krities teenoor alles en almal. Ons is kleingeestig teenoor mekaar. Skinder en vetes maak ons af as kleindorpie-politiek.

Wie skinder en krities is teenoor alles en almal, is so goed soos die rower in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. So iemand beroof ’n ander een van sy menswaardigheid en lewe. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense.

Esopus was in diens van die filosoof  Xantus. Een dag wou Xantus sy vriende onthaal, en beveel vir Esopus om die beste produkte op die mark vir aandete te laat gaarmaak. Esopus laat maak die kok toe net ’n klomp tonge gaar, en laat dit voorsit met verskillende souse. Die aand bestaan die voorgereg, hoofgereg, bykosse en poeding uit tong. Xantus was woedend :”Het ek jou nie gesê om die beste produkte op die mark te koop nie?”

“En het ek nie gedoen wat u beveel het nie?” het Esopus gevra. “Daar is tog niks beter as die tong nie: Dis die gom van ’n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap, en die medium van die waarheid en die rede. Deur die tong word stede opgerig en regerings gevestig en geadministreer: met die tong onderrig mense, redeneer en word vergaderings gelei. Dis die instrument waarmee ons sing en God aanbid en prys.” “Nou ja,” het Xantus geantwoord, “ek sien ek kan jou nie antwoord nie, maar gaan nou môre mark toe en koop die slegste goed wat jy kan kry. Ek gaan dieselfde vriende oornooi, en wil hulle ’n bietjie op ’n ander manier vermaak en vir hulle ’n poets bak.” Maar toe aandete voortgesit word, het Esopus presies dieselfde disse as die vorige aand laat maak.

“Het ek jou nie gesê om vir vanaand se onthaal die slegste produkte op die mark te soek nie?” het Xantus uitgeroep. “Hoe is dit dan dat jy dieselfde geregte laat maak het? Jy het dan net gisteraand gesê dat die tonge die beste produk op die mark is?”

Heel kalm het Esopus verduidelik: “ Die tong is die beste ding in die wêreld, maar ook die slegste. Want dis ook die instrument van twis en tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder en leuens – selfs van godslastering.” Sy baas – en die se vriende – moes saamstem met Esopus se redenasie, en met sy illustrasie van die groot waarheid oor die voordeel en die gevaar van die tong.

As ons so ons tonge verkeerd gebruik, het ons nie meer deel aan die seën van die Here nie. Die Here wil ons seën, maar dan veral daar waar ons in broederskap met mekaar saamleef.

Geliefdes, u mag nooit toelaat dat haat in julle harte posvat nie. Wanneer iets tragies en afskuweliks gebeur, soos wanneer iemand vermoor word of iemand besteel word, is ’n mens geneig om die “ander mense” en “ander volke” te wantrou. Goeie mense kry ons onder elke volk in die wêreld. Ja, die meerderheid van die Duitse volk in die Tweede Wêreldoorlog het niks geweet van die gaskamers nie. Inteendeel, sommige Duitsers het hul lewe gewaag om ander Jode te red.

Daarom mag ons nie onsself toelaat om mense van ander volke te haat nie – want dan sou ons in die hande van die duiwel speel. Die duiwel wil die harmonie tussen mense versteur. Hy wil die eensgesindheid tussen mense versteur. Hy wil hê ons moet mekaar wantrou. Wie homself toelaat om te haat, is die ellendigste van alle mense. Sy eie haat gaan hom verslind.

Die Here wil hê dat u en ek in eensgesindheid moet saamleef met my lewensmaat, my kinders, my vriende, my volksgenote en ook met die een wat nie my volksgenoot is nie. Dan sal die salfolie en die dou van die Here oor ons lewens en oor ons dorpe drup. Dan sal die genade van die Here weer ons gekneusde gemoedere genees en ons dorpe weer heel. Waar ons eensgesind saamleef, kom die Evangelie in werking. Waarlik, die Kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet. As die Here afkyk uit die hemel oor ons huwelike, ons gesinne, ons gemeentes en ons dorpe, mag Hy ook sê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.”

Wie deel is van die kerk het geen keuse nie, u móét liefhê! U moet die vrede met u naaste najaag. U moet werk daaraan om eensgesind met ander te leef. Dan sal die seën van die Here oor u drup.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)