Gierigheid word genees deur barmhartigheid

SKRIFLESING:  Mat 6: 19 – 21 en 6: 25 – 34 en Mat 5: 7

Gierigheid maak dat mense in borrels lewe.

Mense moet kan sien wat ons het, maar hulle moet nie deel van ons borrel wees nie. Soos ons lewenstandaard toeneem, skuif ons na beter, luukser borrels. As ons regtig vaardig is, kan ons bankwese, vermaak en werk alles van die huis af doen, in die eensaamheid van ons eie borrels. Dit blyk dat ek in alles wat ek koop en geniet ander mense kan vermy of so min as moontlik met hulle kontak hoef te hê.

Lande spandeer vandag saam wêreldwyd meer aan verdediging as aan die bekamping van hongersnood en armoede. Kom ons wees eerlik. Die geld wat lande aan verdediging bestee, gaan nie om lande te beskerm nie. “Ons globale prioriteite is daarop gefokus om groter, slegter, en meer intimiderende borrels op te rig.” (JF Cook)

Soos ons meer en meer goed opgaar, moet ons meer aan sekuriteit spandeer. Ons kan selfs aan ander, wat ons goed bewonder, vroom verduidelik dat God ons geseën het.

Toe ons kinders was, het ons seepborrels geblaas uit ’n botteltjie met ’n seepborrelstokkie. Die borrels is pragtig. Hulle skep die illusie dat hulle sterk glassfere is. Hulle verlei ons ​​om hulle te vang, om hulle aan te raak, om hulle vas te hou so lank as wat ons kan. Maar hulle is tydelik. Hulle kan nie hul eie rigting beheer nie. Enige verbygaande briesie waai hulle van koers af. (JF Cook) ’n Groter borrel kan dalk verder in die wind dryf, maar ook dit sal bars en so sal alles tot niks raak, net soos Prediker dit beskryf. Ons borrels is onbetroubaar en kan maklik bars om tot niks te kom.

Miljoene mense kry swaar en honderdduisende sterf selfs sodat sommiges ’n groter, ’n beter, ’n veiliger en ’n meer indrukwekkende borrel kan bekostig. God se wêreld is groot genoeg vir almal, maar as gevolg van mense se inherente gierigheid is die wêreld te klein vir almal.  Gierigheid is die begeerte om meer te besit as wat ek nodig het, as gevolg van die vrees dat ek te min gaan hê. Natuurlik is gierigheid om van my hart ’n afgodefabriek te maak, soos Johannes Calvyn tereg gesê het.

Geld het kragtige verslawende eienskappe…Wanneer gierigheid ’n verslawing word, flikker die rooi gevaarliggies. Sodra ons begin om ons vriende, familie en ideale op te offer aan die strewe na geldgierigheid, begin dinge skeef loop. (The Science of Sin, bl. 86).

Al vier die evangelieskrywers maak melding van Judas Iskariot se gierigheid, as ’n waarskynlike rede hoekom hy vir Jesus verraai het.  

Die Westerse samelewing gebruik kapitalisme as ekonomiese instelling wat ’n samelewing met gelyke geleenthede en regverdigheid verkondig. Dit is in orde mits dit nie ’n verskoning word om gierigheid te bevorder nie. Dan word dit ’n instelling wat uit die aard daarvan ongelykheid kweek.

En die rykes is nie noodwendig gierig as hulle hul rykdom vir die regte middele gebruik en dit ook vrygewig deel met die armes en mense in nood nie.

Die Amerikaanse skrywer en filosoof James Ogilvy verskaf ’n presiese verduideliking van hoekom Thomas Aquinas korrek is: “Gierigheid verander liefde in wellus, ontspanning in luiheid, honger in vraatsug, eer in trots, regverdige verontwaardiging in woede, en bewondering in afguns. As dit nie vir gierigheid was nie, sou ons minder van die ander ondeugde gely het.”

Gierigheid verhard my hart teenoor ander mense en in die proses verontmenslik ek eintlik.

Gierigheid is ’n sonde-toestand van die hart. Gierigheid aanbid goed wat tydelik is. Gierigheid leef nie in die hede nie. Dit lewe in die toekoms met die vrees dat ek nie in die toekoms genoeg sal hê nie.  Jesus praat van die sonde van gierigheid, meer as van enige ander sonde, omdat dit so na aan die hart van die mens lê.

Daarom sê Mat 6: 19 – 21 die volgende: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel.  Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Mat 6: 25 – 34 waarsku ook teen gierigheid:   “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?  Let op die voëls van die hemel: Hulle saai nie en hulle maai nie, en hulle versamel niks in skure nie. Tog sorg julle hemelse Vader vir hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg?  En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie.  Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in ’n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoegword. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

Die “geregtigheid” waarvan die skrifgedeelte melding maak, verwys na die liefde, trou, reg en vrede wat God gee en wat Hy ook van mense verwag om aan mekaar te bewys.Wat is die middel vir gierigheid? St Thomas Aquinas sê dat die teenoorgestelde deug daarvan iets is wat hy vrygewigheid (liberalitas) noem. Die kern van hierdie Latynse woord is die idee van “om vryheid te bring”. Met ander woorde, die vrygewige persoon is nie verslaaf aan sy of haar goed nie; die persoon wat vrygewig is, gee of deel eerder as om iemand te wees wat altyd net kry.

Mat 19:24 stel dit baie duidelik. “Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Die verduideliking hiervan is interessant. Die antieke stede is altyd gebou met poorte wat nie hoog genoeg is vir ’n kameel om in te gaan nie. Dit is so gebou om moontlike aanvalle op die stad met kamele te voorkom. Sou die kameel by die poort (die naald) kom, moet die bagasie eers afgelaai word van die kameel en dan moet die kameel kruip om deur die poort van die stad te kom. So moet ’n gierigaard eers leer om dinge weg te gee (af te pak) voor hy in die Koninkryk van God kan ingaan.

Daarom vra Mat 5: 7 om die sonde van gierigheid dood te maak deur barmhartigheid te betoon.

Mat 5: 5 in The Message van Eugene Peterson lui as volg: “You’re blessed when you’re content with just who you are—no more, no less. That’s the moment you find yourselves proud owners of everything that can’t be bought.”

Soos wat ’n mens met asemhaling “inasem” en “uitasem” om aan die lewe te bly, moet ’n mens ook leer om te ontvang (inasem) en ook weer weg te gee (uitasem). Anders kan jy ’n gierigaard wees wat net “inasem” en nooit “uitasem” nie. Dan gaan jy ’n geestelike dood sterf.

Moenie in ’n seepborrel lewe nie. Eendag gaan dit bars.              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Christian, Book 1. Unknown. Kindle Edition.

Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.

Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Peterson, Eugene H.. The Message: The Bible in Contemporary Language . The Navigators. Kindle Edition.

Geestelike luiheid word afgeleer met dade van geregtigheid

SKRIFLESING:  Spreuke 6: 6 – 11 en Mat 5: 6

In die Suid-Amerikaanse reënwoude kry jy ’n dierespesie wat hulle die luidier noem.

Hy is die simbool van luiheid omdat hy so min en so stadig beweeg. Die volgende doodsonde verwys na die luidier, in Afrikaans vertaal is dit luiheid.

Luiheid, asook acedia (dit is geestelike luiheid) as doodsonde het te doen met gelowiges wat lui raak in hulle geestelike lewe en hulle geestelike gawes en talente wat God vir hulle gegee het, nie ontwikkel nie. Luiheid is as jy jou toewyding aan God verloor het.

Die agtergrond van dié sonde kan jy vind in die kloosterlewe, waar sommige monnike se aandag afgelei word deur klein dingetjies en hulle lui raak om te bid of om die Woord te lees. Hulle raak lui om die goeie goed in die lewe te doen. Hulle versorg nie meer die armes nie en besoek nie meer die siekes en oues van dae nie. Acedia verwys na ’n traagheid om goed te doen. Hulle aandag word afgelei deur onbenullighede. Hulle word apaties, hulle verloor hulle empatie vir die dinge en mense wat regtig saak maak in die lewe. Dikwels word ons fokus in die lewe ook weggeneem deur onbenullighede.

Luiheid of acedia is ’n geestelike apatie, as jy verveeld is oor al die goedheid van God en ook apaties is oor die nood en behoeftes van jou medemens. Ons kan onsself afvra tot watter mate ons hierdie ondeug in die kamers van ons harte genooi het.

“Acedia will lead to distractions; at the slightest noise.” (V Kevin)

Mense se lewens word dikwels opgeneem deur afleidings, wat hulle fokus wegneem. In die tye waarin ons nou lewe, neem sosiale media ook dikwels ons fokus weg van dié dinge wat prioriteit is. Mense kan so verslaaf raak aan sosiale media dat hulle elke dag baie ure verloor, wat hulle andersins beter kon spandeer het. Daarom moet ’n mens sosiale media se baas wees en nie omgekeerd nie.

Luiheid ontstaan wanneer daar nie meer fokus in jou lewe is nie. Evagrius beskryf luiheid as ’n gebrek aan fokus en ’n weiering van selfdissipline.

Die beroemde Sokrates het gesê dat “die onondersoekte lewe nie die moeite werd is om te leef nie” en het mense aangemoedig om altyd seker te maak dat hulle gefokus is op die goed wat regtig saak maak in die lewe en hulle aandag nie te laat aflei deur randsake van mindere belang nie.

In Johannes se brief aan Laodisea, skryf hy ook dat die gemeente lui geword het. Hulle ly aan acedia, hulle het louwarm water geword wat sleg is om te drink. Hulle kook nie meer vir die geestelike dinge nie. Dit staan so geskrywe: “Maar omdat jy louwarm is – nóg warm nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg.”

Gebed en luiheid, of dan acedia,meng net nie, dit is soos olie en water. Jou luiheid begin by jou gebedslewe. Wie sy / haar gebedslewe afskeep, gaan later al die ander geestelike dissiplines ook afskeep.

’n Luiaard is onverskillig of apaties teenoor Goddelike dinge en God. Om daaruit te kom, moet ons begin om die Psalms te sing, want dit help ons in ons verhouding met God. Ons kan die Psalms gebruik om ons dankbaarheid en lof uit te spreek.

Dit is geestelike dissiplines soos gebed, Bybelstudie, meditasie, kerkbesoek, die goed doen aan ander en om barmhartig te wees wat die wapens is om luiheid en acedia te beveg. Die duiwel sidder as ons begin bid.

“Vlytigheid is ’n deug wat direk in teenstelling is met die fisiese manifestasies van luiheid soos ledigheid of luiheid, aangesien dit basies die gewoonte beteken om harde werk te doen.” (V Kevin) Harde werk bring vir jou brood op die tafel en vooruitgang in die lewe.

Netso, as jy vlytig is in jou geloofslewe en die geloofsdissiplines soos gebed en Bybellees beoefen, sal jy geestelik groei en vol van God raak. Dit is al manier om acedia te beveg.

John Henry Newman het eenkeer gesê dat die geheim van Christelike ritme is om soggens op te staan, te bid, ’n dag se pligte uit te voer, en met  ontspanning saam met jou familie klaar te maak, ’n mens se naggebede op te sê en in die bed te kom.

’n Ou Jesuïet-leuse lui as volg – doen wat jy veronderstel is om te doen. Dan is jy nie ’n luiaard nie. Bly in ’n roetine. ’n Luiaard het nie ’n roetine nie.

Evagrius van Pontus het geskryf: “Wat luiheid genees, is volharding …… Besluit vir jouself oor ’n vasgestelde hoeveelheid werk elke dag en week, en moenie daarvan afwyk voordat jy dit voltooi het nie.”

Thomas Aquinas vertoon briljante insig as hy die teenpool van luiheid beskryf as loutere vreugde. Die vreugde om werk tot voltooiing te bring. Die vreugde van geloofsgroei, as ek my geestelike ritmes en dissiplines hou.

Die basiese geestelike kwessie vir luiaards is dat hulle verwag om vreugde met God te bereik sonder te veel moeite. Hulle neem aan dat ervaring van God iets spontaans is, sodra hulle in die “regte” charismatiese omgewing kom. Daarenteen beleef jy eers die Christelike vreugde as jy die pad stap van geestelike dissiplines en toewyding.

Luister wat sê die volgende skrifgedeeltes oor luiheid en acedia.

In Spreuke 6: 6 – 11 staan daar: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys.  Hy wat nie ’n aanvoerder, opsiener of heerser het nie, berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel.  Hoe lank, luiaard,  gaan jy nog bly lê? Wanneer gaan jy opstaan uit jou slaap? ‘n Bietjie slaap, ’n bietjie insluimer, ’n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos ’n rondloper, jou armoede daar aan,  jou gebrek soos ’n skaamtelose man.”

In 2 Thessalonians 3: 11 – 12 staan daar: “ Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien.”

Die gelykenis van die talente (Matteus 25:14-30; Lukas 19:11-25) stel voor dat diegene wat Jesus volg, die talente en gawes, wat ookal hulle gekry het, ten volle moet gebruik. Sou hulle dit nie gebruik nie, sal hulle soos die laaste slaaf met een talent veroordeel word.

Die teenpool van die doodsonde van luiheid of acedia is opgesluit in die volgende saligspreking in Mat 5:6 naamlik: “Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Om luiheid en acedia teen te werk, moet jy honger en dors om alles wat reg is te doen. Dan sal jou brood genoeg wees om daarvan versadig te word.

Die luidier in die Suid-Amerikaanse reënwoude is die simbool van luiheid. ’n Luidier in fisiese werk of in ons geestelike lewe mag ons nooit wees nie.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle uitgawe.

Kevin, Vost. Sewe Doodsondes. Sophia Institute Press. Kindle uitgawe.

Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Gegroet Mary Press. Kindle uitgawe.

Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Christian, Book 1. Unknown. Kindle Edition.

Tilby, Angela. The Seven Deadly Sins: Their origin in the spiritual teaching of Evagrius the Hermit. SPCK. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 4088). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition

Jaloesie word afgeleer deur te treur

SKRIFLESING:  1 Samuel 8:7 en Mat 5: 4 en Psalm 16: 6

Skuil daar ’n Groenoog-monster in jou geestelike lewe?

Die essensie van afguns of jaloesie is om die goeie lewe wat God my gegee het te verwerp en obsessief te wees oor wat God vir iemand anders gee.

“Jaloesie of afguns het die vermoë om my hart en verstand af te lei van die daaglikse brood wat God elke oggend in my hande sit, en my eerder te laat fokus op die gawes, status, talente en vreugdes wat God aan ander gee. Dit is nie net ’n verwerping van die goeie wat God aan my gegee het nie; dit is ’n begeerte om iemand te word wat ek nie is nie, nooit gemaak is om te wees nie, en dit nie sal geniet om te word as my jaloesie ooit sou slaag nie.” (JV Cook)

Thomas Aquinas beskryf afguns of jaloesie as hartseer (tristitia) oor die goed wat ’n ander besit en van God ontvang het.

Toe die volk in die beloofde land was, het hulle ’n Teokrasie gehad, wat beteken God is die alleen-Koning oor Israel. Maar die volk het gesien die omliggende volke het almal konings. Toe word hulle jaloers. Hulle wou ook soos die ander volke ’n koning hê. Hulle is gewaarsku dat konings maklik hulle magte misbruik en belasting vra. Die volk Israel het egter jaloers gebly en by Moses gemurmureer. Dan sê die Here in 1 Samuel 8: 7 vir Samuel:  “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees.”

Dit is ’n uitstekende voorbeeld in die Ou Testament waar ’n hele volk jaloers is op iets wat ander volke het. In dié geval wou hulle ’n koning kry. Hulle eerste koning is Saul, wat later opgevolg is deur Dawid en Salomo en vele ander. Die meeste van Israel se konings was nie Godvresend nie en het die volk verkeerd gelei. Die volk het later hulle identiteit verloor. Die Ryk het in twee geskeur en die volk het selfs in ballingskap gegaan omdat die aardse konings hulle verkeerd gelei het.

Dink aan die eerste koning van Israel, wat jaloers was op die opgang wat Dawid gemaak het as die toekomstige koning van Israel. Hy het met sy hele weermag  vir Dawid agtervolg. Baie van koning Dawid se Psalms wat hy geskryf het, het hy geskryf in sy benoudheid toe hy vir Saul se jaloesie gevlug het.

Dink terug, aan die begin van die skepping was Eva jaloers op God. Sy wou soos God wees. So het die duiwel haar versoek. Sy het geëet en ook vir haar man Adam gegee en hy het geëet. Hulle jaloesie het veroorsaak dat hulle uit die Paradys verban is. Die hele skepping en mensdom het toe in sonde en gebrokenheid verval, as gevolg van die afguns wat Eva en Adam openbaar het teenoor God.

Jakob was op Esau se geboortereg jaloers. Daarom steel hy dit deur hom te verlei vir ’n pot lensiesop. Dan bedrieg hy ook sy pa om die eersgeborene se reg te kry.  Oor sy jaloesie word hy ook uitgeban en moes hy vlug vir die toorn van Esau.   

Dieselfde jaloesie veroorsaak dat Rusland die Oekraïne binnegeval het en die oorlog duur nou al meer as 90 dae. Vladimir Putin wil die Oekraïne inpalm vir sy siek ideologiese filosofie en vir die ekonomiese voordeel wat dit vir Rusland inhou. Jaloersheid veroorsaak altyd oorloë.

“Afguns is ’n dodelike sonde omdat dit ons inspireer om vir God te sê: “Die lewe wat U vir my gegee het, is net nie goed genoeg nie.” (JV Cook)

Sokrates het afguns “die kanker van die siel” genoem. Dit is die enigste dodelike sonde wat niks anders as pyn bied nie.

In die gelykenis van die boer wat vir hom werkers gehuur het om in sy wingerd te werk, kan ’n mens duidelik die jaloesie raak lees. Die boer het vroegoggend vir hom werkers gekry. Na ’n paar uur nog werkers. Later het hy nog werkers gehuur. Die laaste werkers het hy kort voor uitvaltyd gehuur. Toe dit uitvaltyd is, het hy almal dieselfde dagloon betaal. Die wat eerste begin werk het, was toe jaloers op die wat later begin werk het en dieselfde dagloon gekry het. Die boer was vrygewig en wou gehad het almal moet versorg wees. Hulle was nie bly oor die boer se vrygewigheid nie. Die boer het toe in Mat 20: 14 – 16 gesê: “ ‘Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

So is ons ook dikwels jaloers as die Here ander mense meer seën as vir ons.

Nie lank nadat Jesus die storie van die werkers in die wingerd vertel het nie, het die ma van twee van Jesus se dissipels met hom kom praat. Haar versoek was in Mat 20: 20 en verder as volg: “ Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. Hy het vir haar gevra: ‘Wat wil jy dan hê?’ Sy antwoord Hom: ‘Beveel dat in u koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit.’” Kan ’n mens glo dat iemand so arrogant en jaloers is om die beste plekke te kry! Dit is as’t ware nepotisme wat hier kop uitsteek.

Onder die sewe doodsondes beklee jaloersheid of afgunstigheid, ’n unieke posisie: dit is die enigste sonde wat nooit genotvol is nie. (Untangling Envy, p36).

“Wanneer ons nederig is, erken ons ons plek in die hiërargie van God se heelal. Ons besluit nie wie watter spesifieke gawes, talente, vaardighede, deugde, prestasies of suksesse ontvang nie.” (V Kevin)

As jy bid vir die persoon op wie jy jaloers is en vir die Here dank vir die seën wat Hy uitgestort het op die persoon, sal jy ervaar dat jy jou afguns en jaloesie kan teenwerk. Miskien is die mees praktiese teenmiddel teen afguns “grootheid van hart”. Grootheid van hart is ’n teenmiddel teen afguns en jaloesie.

Die beste manier om jaloesie te beveg is om nie na mense te kyk wat meer as jy het nie, maar na mense wat minder as jy het. Die mense wat minder as jy het, is by verre meer as hulle wat meer as jy ontvang het. Daarom, deur te treur oor dié wat minder as jy het, word jy genees van jaloesie. Daarom is die tweede saligspreking in Mat 5:4 as volg: “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Oscar Wilde het geskryf: “Where there is sorrow there is holy ground.” Daar waar daar getreur word oor ander, verskuif die fokus weg van jou jaloerse gedagtes na die een wat minder as jy het. Dan word jy genees van afguns en jaloesie.

Waarmee ek my altyd vertroos om nie jaloers te raak nie, is die pragtige woorde van Psalm 16: 6 wat so lui: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval,  ja, my erfenis is vir my mooi.”

Wat kan ’n mens meer vra. Dan is daar mos nie plek vir jaloesie en afguns nie.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Socrates (469-399 BC), in Stobaeus, Greek Anthology III.38.48.

Kevin, Vost. Sewe Doodsondes. Sophia Institute Press. Kindle uitgawe.

Cunningham, Lawrence S.. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle uitgawe.

Crusius, J and Mussweiler,T.  Untangling Envy

Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Christian, Book 1. Unknown. Kindle Edition.

Oscar Wilde, De Profundis (1905; repr., Mineola, N.Y.: Dover, 1997), 38.

Cook, Jeff V.. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Hoogmoed word oorwin deur arm van gees te word

SKRIFLESING:  Daniël 3 en Mat 5: 3

Die storie word vertel van ’n man wat ’n droom gehad het waarin ’n engel vir hom twee deure gewys het. Op die een deur het gestaan HEL en op die ander deur HEMEL. Nuuskierig wou die man weet hoe lyk dit in elkeen van hierdie vertrekke. Die  man het heel eerste na die deur gegaan wat die Hel was. Die deuropening was ook baie breed, want daar gaan baie mense in. Binne sien hy ’n skokkende ongelukkige gesig. Uitgeteerde mense het om vure gesit met drie-poot potte, waarin daar heerlike sop was. In hulle hande was daar baie lang lepels wat nie hulle monde kon bykom nie. Die lepels was ook swaar en lomp. Al die kos het op die grond beland. Almal in die vertrek was brandmaer en uitgeteer, want hulle kon nie hulle kos na hulle mond bring nie.  Diegene in die hel kon nooit eet van die smaaklike sop in die drie-poot potte nie. Die engel het verduidelik dat die mense in die hel lang ure spandeer het om hulself te voed, maar keer op keer misluk het. Dit was ’n marteling. Hierdie mense het geen hoop gehad nie.

Hy draai toe om en maak die deur ongemerk toe. Hy gaan toe na die deur waarop geskryf gestaan is: HEMEL. Dit was maar ’n baie nou deur. Jy kom met moeite daar in. Weer het hy mense gesien wat sit by dieselfde drie-poot potte, ook met heerlike sop daarin. Ook was daar die vreeslike lang en swaar lepels wat nie by jou mond kon uitkom nie. Maar in hierdie kamer was daar ’n vreugde anders as enigiets wat die man nog ooit gesien het. Hy en die engel was vasgevang in die lag. Daar is selfs gesing en vir lang ure is daar gevier terwyl die sop voor hulle gestaan en kook het. Die hemel is gevul met vreugde en die hel was ’n tronk van ellende. Toe hy na die engel kyk, het die dromer gevra waarom diegene in die hemel gelukkig was terwyl diegene in die hel dit nie was nie. “Diegene in die hemel het geleer om mekaar te voed, deur die lepel in die ander se mond te sit, ” het die engel gesê.

Die koninkryk van die hemel is altyd diens wat na ander gebuig is. Die gesindheid van die hel is dat alles net vir my bestaan, en as’t ware ingebuig is na my ​​– om my te dien, my te bevoordeel – omdat ek kwansuis so betekenisvol is. Dit noem ons hoogmoed.

John Milton se klassieke “Paradise Lost” begin met Satan wat uit die hemel, uit die teenwoordigheid van die Here, in ’n donker wêreld val. Terwyl hy rondkyk, bevestig hy sy teenwoordigheid deur te sê: “Dit is beter om in die hel te heers as om in die hemel te dien.”

“Hoe het die Christelike tradisie daarby uitgekom om hoogmoed so negatief te beskou? Waarom het Lucifer—die engeldraer van Lig—die paradigmatiese figuur van hoogmoed geword? Sekerlik, ’n deel van die antwoord is te vinde in die feit dat die hoogmoedige persoon totaal toegewyd is aan die self, of, om dit anders te stel, die hoogmoedige persoon staan buite die gemeenskap van ander, totaal aangewese op die self. Daardie totale vertroue in die self is perfek vasgevang in Lucifer se kreet van ‘non serviam!’—‘Ek sal nie dien nie!’” (LS Cunningham)

Hoogmoed is om altyd op te eis wat sogenaamd joune is. Dit is ’n inwaartse sieklike gekeerdheid na jouself en jou eie trots. Hoogmoed is die natuurlike liefde vir myself en ’n minagting vir ander. Beheptheid met die “self” is die uitstaande kenmerk van ’n disintegrerende siel. Ons maak van onsself eintlik ons eie god.

Soos die kindersprokie met die woorde: “Spieël, spieël aan die muur, wie is die mooiste in die land?” In eenvoudigste terme is hoogmoed die sonde van ’n persoon wat glo dat hy/sy beter is as ander mense op alle denkbare maniere.

Hoogmoed lei ons altyd in isolasie, want ’n mens kan nie liefhê as jy alleen is nie. ’n Liefdelose lewe is ’n lewe van hel. Jesus het die hel dikwels gekenmerk as ’n plek van alleenheid. En alleenheid is die teenpool van die koninkryk van die hemele.

Net soos ’n klein dosis gif ’n rot sal doodmaak omdat knaagdiere nie kan opgooi nie, so sal ’n klein giftige geloof in my eie “ek” en trots ook my menslike siel doodmaak. Hoogmoed maak ons alleen (ons het niemand nodig nie) en ons is nie gemaak om alleen te wees nie.

Vir Jesus gaan die koninkryk van die hemel altyd daaroor dat mense bymekaar moet kom. Daarom bely ons: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Ons het mekaar nodig.

Jeff Cooke skryf aangrypend: “The life of heaven focuses on the good of others. It picks up the spoon not to fill its own belly but to offer a bite to the other starving stomachs in the room. This is the best life possible because it is the very type of life that is going on within God. The Father gives us his Son. The Son gives us his life. The Spirit gives us understanding of all that is true and praiseworthy. This reckless self-giving is the activity of heaven.”

Die Bybel is vol voorbeelde van die doodsonde van hoogmoed. Die beste voorbeeld vind ’n mens in Daniël 3 van koning Nebukadnesar van Babilonië wat vir hom homself ’n beeld van goud gemaak het met die volgende mates, naamlik 27 meter in lengte en 2,7 meter in breedte. Die hele koninkryk moes voor die beeld buig. Hy het aan narcisme, ’n verhewe hoogmoed en selfliefde gelei. Hy het na die hele stad Babilon met al sy briljante bouwerk gekyk en vir homself gesê, dit is sy werk. Nebukadnesar het toe ’n aaklige droom gekry. Daniël het die droom vir hom uitgelê. Nebukadnesar het ’n geestelike ineenstorting gekry waarin hy voor God verneder is. Hy het onder andere soos ’n dier geword en gras geëet, sodat hy hom moes bekeer van sy hoogmoed.

Ons sal maklik sê: “Maar ek is nie hoogmoedig nie”. Maar elkeen van ons het ’n stukkie hoogmoed in ons. Dikwels kan ons dagdroom van iemand wat ons graag wil wees, sodat die ander mense ons kan bewonder. Dikwels is ons selfbeeld gekoppel aan hoeveel “Likes” ek op sosiale media kry. Ek kan oor my plaas uitkyk en soos Nebukadnesar spog dat dit alles my werk, my koninkryk, is. Ek kan maklik hoogmoedig raak oor my besittings, my status, my geld, my geleerdheid, my kinders, my kleinkinders of oor die leer van die lewe wat ek self uitgeklim het en waarvan ek ’n sukses gemaak het.

Jesus het ons geleer dat daar geen deug of beloning is om vrome dade te verrig om deur ander gesien te word nie. Dit is soos om vir armes te gee en op die trompet te blaas dat almal kan sien hoe vroom jy is. Dit is hoogmoedig. (Matteus 6:2)

Jesus het gewaarsku oor die verleiding van begeerte om spesiale erkenning te soek. Lukas skryf van Jesus by ’n bruilofsfees en let op die gejaag van die mense na die mees gesogte plekke. (Luk. 14:8–11).

Om van die hoogmoed van die Fariseërs en die skrifgeleerdes in Jesus se tyd nie eers te praat nie. Hulle het neergekyk op die siekes, die armes, die sondaars en die mense wat in erge sonde verval het. Jesus het die Fariseërs en skrifgeleerdes beskryf as witgepleisterde grafte. As ons ook enigsins neerkyk op enige persoon, maak ons ons ook aan die doodsonde van hoogmoed skuldig.

En dan die ander teenpool is die voorbeeld van Christus se eie nederigheid voor God en mense. Jesus het met alle mense gemeng en was ’n vriend van die tollenaars en sondaars. Jesus het hom so gemeng met die sondaars en laer stand, dat hulle Hom genoem het ’n “vraat” en “’n wynsuiper.” Hy het Sy dissipels se voete gewas deur die gedaante van ’n slaaf aan te neem.

 Die persoon wat deur ydelheid versoek word, is altyd kwesbaar vir teleurstelling as hulle die eer wat hulle gesoek het, nie verkry het nie.

Vir Evagrius (die monnik wat die doodsondes gelys het) is hoogmoed die mees voor die hand liggende gevolg van ydelheid, en die gevaarlikste versoeking van almal, aangesien dit die siel van God skei. Daarom moet ons oë altyd op God gerig wees. Ons moet as’t ware in God tot ruste kom, dan eers sal ons hoogmoed oorkom.

Daar is ’n verskil tussen “hoogmoed” en “trots.”  Jy kan trots wees op jou werk. Jy kan trots wees op jou kinders. Jy kan trots wees op wat jy bereik het in die lewe. Maar hoogmoed en ydelheid is as jy op ander mense neersien en van hulle minder dink as jouself.

Die teenoorgestelde van trots is nederigheid. “Nederigheid is die aantreklikste van deugde. Om nederig te wees, is om te verstaan dat ’n mens nie heeltemal selfversorgend is nie, dat jy afhanklik is van die aanmoediging van ander en van hul liefde en dat jy in staat is om dankbaar te wees. Inderdaad, die wonderlikste gevolg van nederigheid is dankbaarheid. Om nie dankbaar te kan wees nie, is ’n gepaste beskrywing van die een wat hoogmoedig is. Eenvoudig gestel, die hoogmoedige persoon is ’n ongelowige.” (LS Cunningham)

“Soms is dit nie ’n vloek om te weet dat jy arm en leeg is nie. Soms is dit ’n seën. Die Saligsprekinge begin juis hier. Jesus het nie die uitnodiging aan sy gehoor begin met ’n boodskap om ‘vol’ te maak nie”. Jesus het eerder diegene wat arm en leeg was op die mees betekenisvolle manier denkbaar bevestig: “Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Mat 5: 3) Dit was nie ’n aanmoediging om arm van gees te word nie; dit was gerig aan diegene wat reeds arm van gees was, wat hulle tot die hoogste status moontlik verhef het.” (JF Cook)

Ek het een keer met ’n swart manlike psigiatriese pasiënt (hy was groot en sterk gebou) in St Marks in Oos-London gesels. Hy het gesê nou verstaan hy wat dit beteken “om arm van gees te wees.” Dit is om leeg te wees en net na God te kyk vir hulp. Dit is om afhanklik te wees van die aanmoediging van ander pasiënte.

Soos Eugene Petersen Mat 5: 3 dit vertaal:  “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.”

Teenoor hoogmoed en ydelheid, staan ’n diep afhanklikheid van God en van ander mense. Arm van gees staan teenoor ydelheid van gees!                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

John Milton’s classic Paradise Lost begins Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beatitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Tilby, Angela. The Seven Deadly Sins: Their origin in the spiritual teaching of Evagrius the Hermit. SPCK. Kindle Edition.

Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues (seven deadly sins, envy, procrastination, anger … mindfulness, pride, Christian, Book 1). Unknown. Kindle Edition.

Cunningham, Lawrence S.. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.

Kevin, Vost. Seven Deadly Sins (Kindle Location 1723). Sophia Institute Press. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.”

Peterson, Eugene H.. The Message: The Bible in Contemporary Language. The Navigators. Kindle Edition.”  

NIE  RUIMTEVLUG NIE, MAAR TROONBESTYGING

SKRIFLESING:  Handelinge: 1: 6 – 14

Die Hemelvaart is die perfekte kerklike feesdag, want die wêreld kon dit nog nie steel nie. Die wêreld het Kersfees gesteel, sodat gelowig en ongelowig dit vier met kersbome, kersvaders, liggies, geskenke en so meer. Die wêreld het Goeie Vrydag gesteel met “hot cross buns.” Paasfees is gesteel met paaseiers wat gesoek word. Hemelvaart is die enigste kerklike feesdag wat nie ’n kommersiële konnotasie het nie.

Hemelvaart was voor 1994 ’n amptelike vakansiedag. Na 1994 het Hemelvaart sy plek verloor as vakansiedag. Dit is die stiefkind van die kerklike vakansiedae.

Nogtans moet ons nie die belangrikheid van Hemelvaart vergeet nie. Hemelvaart is nie ’n ruimtevaart nie, maar die troonbestyging van die Here Jesus Christus. Hy sit nou aan die regterkant van die Vader.

Die Hoëpriester was verantwoordelik vir die organisering om die offerdiere te offer. Hy het altyd GESTAAN as hy sy werk doen. Jesus Christus was die allerhoogste Hoëpriester wat self Sy lewe geoffer het, om ons sonde weg te neem. Omdat Hy Sy werk klaar gedoen het, kon Hy opvaar na die hemel en gaan SIT aan die regterkant van die Vader. Let op Jesus STAAN nie meer nie, Hy SIT nou, Sy werk is afgehandel (Ted Olsen).

Wanneer Jesus aan die regterhand van die Vader gaan sit, is dit die eerste keer dat menslike vlees, die stof van die aarde, op die troon van God is, so is die Hemelvaart van Jesus na die troon ook die hemelvaart van die mensdom na die troon (Ted Olsen). Onthou, Jesus het ook ’n menslike natuur gehad. Juis die menslike natuur van Christus het opgevaar na die hemel.

Die Hemelvaart is die oomblik wanneer die Koning terugkeer om te regeer. Vir ons het dit soos ’n vertrek gelyk. Vir Jesus was dit ’n terugkeer na Sy Vader. Daarom is die Hemelvaart nie ’n treurige geleentheid nie. Nee, dit is ’n fees, want Jesus Christus keer terug na Sy troon, om oor ons te regeer. Hy het sy taak op aarde volbring en daarom keer die Koning triomfantelik terug na Sy troon. Dit is die oomblik wanneer die Koning terugkeer om te regeer. Vir ons het dit soos ’n vertrek gelyk. Vir Jesus was dit ’n terugkeer na sy Vader.

Daarom is die vir ons ’n blye dag, want Jesus het teruggegaan om as Koning oor ons te regeer. ’n Koning lei, beskerm en waak oor Sy onderdane. ’n Koning dra Sy onderdane op die hande. ’n Koning bevorder sy Koninkryk en bevorder die regspraak tussen mense.

Om die hemelvaart van Jesus as nie belangrik te beskou nie, bring ons by ’n wesenlike gevaar van ons geloof, naamlik dat ons kan dink dat Jesus se werk op aarde na Sy opstanding, afgehandel is. Die Apostoliese geloofsbelydenis praat hoofsaaklik in die verlede tyd, maar as dit kom by die artikel oor die hemelvaart, staan daar: “ … en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het”. Hierdie artikel praat in die teenwoordige tyd. Dit is ’n artikel wat vir ons stel wat Jesus nou doen, en nog gaan doen. Dit is ’n artikel wat bely dat Jesus aan die regterhand van Sy Vader sit om te heers oor die kerk en die wêreld. Daarom dien ons die lewende Heer wat ook nou by ons is en ons beskerm as Koning. Hy is tot vandag toe nog ons Koning.

Die vraag kan gevra word of Jesus nie weg is met Sy Hemelvaart nie.

Dan moet ons onthou die Here Jesus het twee nature, naamlik ’n Goddelike natuur en ’n vleeslike natuur. Dit is dié tyd waarvan Calvyn gesê het, waarin Christus “op ’n manier afwesig is en op ’n manier ook weer teenwoordig is”. Na Sy vleeslike natuur het Jesus opgevaar na die hemel. Na Sy Goddelike natuur is Jesus nog steeds by ons. Sou Jesus nie opgevaar het na die hemel nie, sou Jesus nie by alle mense gelyk op verskillende plekke kon wees nie. Sou Jesus nog in Sy vlees by ons wees en in Jerusalem wees, sou triljoene mense Hom wou besoek. Daar sou soveel bote en vliegtuie en treine en rye mense wees dat dit onmoontlik sou wees om enigsins ooit by Hom uit te kom. Daarom is Jesus in Sy Goddelike natuur nog steeds by ons, om elke dag en te alle tye by almal te wees. Daarom kry ons die versekering van Jesus in Mat 28: 20 – “ En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.”

Daarom is die tyd na Jesus se hemelvaart nie ’n “alleentyd” of ’n “verlate tyd” nie. Ons het God nader aan ons as in die Ou Testament. Jesus is in Sy Godheid by ons, verder het ons die Woord en die Heilige Gees. Daarom is ’n persoonlike intieme verhouding met die Here Jesus moontlik.

Die hemelvaart is vol hoop en moontlikhede omdat ons leef ná die eerste koms van Jesus.  Ons leef as’t ware in die tussentyd, tussen Jesus se Hemelvaart en Sy Wederkoms.  Dit is ’n tyd van wag, van lyding, van vervolging en van onderwerping aan ’n sinlose bestaan (Rom 8:20 – 22) – omdat ons nog uitsien na die tweede koms (Wederkoms) van Christus.

Die hemelvaart is die punt waarop jy verheerlik word omdat Christus verheerlik is met die Hemelvaart. Net soos die Kruis ’n geskenk vir ons en vir die wêreld was, net soos die Opstanding ’n geskenk vir ons en vir die wêreld was, net soos Pinkster ’n geskenk vir ons en vir die wêreld was, is die Hemelvaart ’n geskenk vir ons en vir die wêreld (Ted Olsen). Deur Christus se troonbestyging is ons nou ook koningskinders van God.

Die Hemelvaart sê ook vir ons God is in beheer. Al lyk dit asof die wêreld buite beheer is, Jesus sit op die troon. Hy het die troon bestyg. Hy regeer as Koning. Die tyd na die Hemelvaart is die tyd van die kerk; dit is ook die eindtyd. Dit is die tyd waarin God in Sy geduld die kerk in die wêreld instuur om aan die wêreld  die boodskap van die evangelie te bring. In Woord en daad moet die Evangelie gebring word. Daarom kan ons hierdie tyd die tyd van die Woord en Gees noem. Ons leef in die missionale tyd, waarin die kerk moet uitreik na die wêreld.     

Met hemelvaart kom gee die Here vir die kerk werk om te doen. Hiermee moet ons elke dag besig wees.                                                     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

F.W. Boreham, A Bunch of Everlasting (Reprint Wentworth Press, 2019) p. 66

Marva J. Dawn and Eugene H. Peterson, The Unnecessary Pastor: Rediscovering the Call (Eerdmans, 2000), p. 140

Patrick Schreiner, The Ascension of Christ (Lexham Press, 2020), p 74-75

Ted Olsen is Editorial Director for Christianity Today and a member of Church of the Savior, an Anglican congregation in Wheaton, Illinois.

Burger, Coenie. 2011 Waar is Jesus nou? CUM

Wettiese godsdiens (water) verander in genade (wyn).

SKRIFLESING:  Johannes 2: 1 – 12

Die reuse-vlagpaal met die Suid-Afrikaanse vlag daarop vir R22 000 000 het die Suid-Afrikaners woedend. ’n Vlag is nie broodnodig nie. Daar is soveel honger mense en soveel slaggate op Suid-Afrikaanse paaie. Gebruik die geld liewers beter, word daar geëis.  

Jesus se eerste wonderwerk is om water in wyn te verander. Kon die Here nie ’n meer noodsaaklike, broodnodige wonderwerk verrig het nie? Kon Hy nie klippe in brood verander vir die armes nie? Waarom dan nou water in wyn, wat mense kan dronk maak op ’n huweliksonthaal? En het jy opgelet hoeveel wyn Jesus uit water maak? Ses klipkanne, wat elkeen tussen 90 en 100 liter water hou. Dit is meer as ’n halwe ton wyn! Is dit nou nie uitspattig baie nie? Is die versoeking om dronk te word, nie groter nie?

Maar agter hierdie wonderwerk sit daar ongelooflik wonderlike teologiese betekenisse. Hierdie wonderverhaal het soveel bevrydende teologie. Dit het verskillende invalshoeke, hoe om dit reg te verstaan.

Voor ons by die invalshoeke kom, so ’n kort verduideliking van die Joodse huweliksluitings. Die huwelik het gewoonlik ’n paar dae geduur en die lengte is ook bepaal deur die welvaart van die bruidegom.

Die bruid het op haar bruilofsdag wit klere aangetrek, wat ryklik geborduur is. Sy is ook met juwele versier met ’n bruidsgordel om haar middel vasgemaak, haar gesig bedek met ’n sluier en ’n krans op haar kop. Die bruidegom, geklee in sy beste kleed en ’n mooi kopdoek op sy kop, het dan na die bruid se ouerhuis gegaan. Hy is vergesel deur sy vriende, deur musikante en sangers. As dit in die aand was, het hulle met fakkels gekom. Die bruidegom het sy bruid van haar ouers ontvang en hulle het haar afgegee met seëninge. Daarna het die bruidegom die hele partytjie terug begelei na sy eie huis of sy pa se huis. Daar is vrolik musiek gemaak en vriende en ander mense het aangesluit. Dan het die huweliksluiting plaasgevind by die bruidegom se huis of by sy pa se huis. Die aand, na die huweliksluiting, is die bruid en bruidegom – vergesel deur die bruid se ouers – na hulle huwelikskamer begelei. Die volgende oggend het die bruilof voortgegaan en die bruilof kon ’n hele week aanhou.

Die feit dat Maria baie besorgd was oor die wyn wat opgeraak het, is vermoedelik omdat dit ’n familietroue was en sy haar verantwoordelik gevoel het dat alles reg verloop. Daarom het sy haar uit radeloosheid na Jesus gewend om in te gryp. Dit gebeur ook in ons lewens dat ons ons in radeloosheid altyd wend na Jesus om ons te help.

Wat kan ons teologies leer uit hierdie eerste wonderteken wat Jesus verrig het? Dit bring ons by die vier invalshoeke.

Die eerste invalshoek is dat die waterkanne wat daar gestaan het, gebruik is vir die reinigingswette van die Jode. Daar was ’n magdom wette wat gegaan het rondom reiniging. Een daarvan was onder andere dat jou voete gewas moes word wanneer jy gaan aanlê om te eet. Die wette was verpligtend vir ’n goeie Jood om godsdienstig rein te wees. Die groot hoeveelheid water wat beskikbaar was, getuig van hoe swaar en beperkend die Joodse wette was op die Jode. Wanneer Jesus nou die water in wyn verander, kom maak Hy ’n einde aan die beperkende Joodse wette. Die water verander in wyn. ’n Wettiese godsdiens verander in ’n godsdiens van genade. Nie meer deur die nakoming van wette sal jy gered word nie. Nee, jy sal nou gered word deur die genade van die Here Jesus. Soos water in wyn verander, word wette verander in genade. Daarom is een van die genade-tekens van die Nagmaal ook die wyn. En Jesus se genade word in oormaat gegee. Jy kan sê dit word in tonnemaat gegee. Dit word oorvloedig gegee.

Die tweede invalshoek is dat die nuwe beter is as die oue. Die seremoniemeester was so onkant gevang deur die kwaliteit van die nuwe wyn dat hy vir die bruidegom gesê het in vers 10: “’n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.” Die nuwe wyn is beter as die ou wyn. Die nuwe bedeling van genade is beter as die ou bedeling van wette. Die Nuwe Testament is beter as die Ou Testament.  Die Here Jesus het ’n nuwe kwaliteit van lewe kom stel. Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê en dan lewenskwaliteit in oorvloed, volgens Johannes 10.

Die derde invalshoek is dat Jesus die blydskap kom verleng en verdiep. Wanneer die wyn by ’n Bybelse huwelik opraak, was dit ook vir die gaste ’n teken dat die huwelik nou verby is en dat hulle moet huis toe gaan. Om ’n onbekende rede het die wyn opgeraak by die huwelik in Kana.

Dorpies is stapsgewys ver van mekaar. Dit is vir die bruidegom ’n groot verleentheid dat die wyn op sy groot dag opgeraak het. Dit was ’n skande vir hom en sy familie. So voortydig moet die vreugde ophou. Dan kom verander die Here Jesus die water in wyn. Die bruilof kan aangaan. Die vreugde kan voortgaan. So het die Here Jesus ook gekom, sodat die verlossingsvreugde kan voortgaan. Die verlossing wat die Here aangebring het, is vreugde vir ons. Jesus het deernis met die situasie van die bruidegom. Hy wil die bruidegom uit sy verleentheid verlos en daarom verander Hy die water in wyn. Jesus bring herstel van vreugde. Nou kan die bruilofsfees voortgaan. Jesus het letterlik ’n skande in ’n seën verander.

Die vierde invalshoek is dat die Here deur die verandering van water in wyn, ’n nuwe gemeenskap van gelowiges vestig. Jesus se voorganger, Johannes die Doper, se boodskap was: “Bekering.” Johannes die Doper het ’n asketiese lewenstyl gevoer van geen wyn en genot. Baie sou dink dat Jesus alleen die mense nog verder in die woestyn sal inlei. Maar Jesus doen die teenoorgestelde. Hy skep ’n gemeenskap wat op ’n lawaaierige bruilof van die nuwe wyn drink. Daarom lei die Here ons nie die woestyn in nie, maar neem Hy ons na die kerk wat in die wêreld staan. Hy roep sy nuwe geloofsgemeenskap om nuwe wyn te wees vir die wêreld waarbinne die kerk staan. Baie van die apostels het Bybelboeke geskryf, maar die Here Jesus het sommer met Sy eerste wonderteken ’n vreugdevolle gemeenskap kom skep. Daarom wil Hy hê ons moet in gemeenskap met mekaar lewe – daarom het Jesus die kerk gestig.   

Baie gelowiges wil vandag, sonder die kerk en onafhanklik, hulle geloof leef. Maar wyn is nie gemaak om alleen te drink nie (so ontstaan alkoholisme maklik). Wyn is gemaak om saam met ander te drink. Geloof word nie alleen gevier nie, geloof word saam met ander gevier, rondom die nuwe wyn wat die Here Jesus gegee het.

Wat ook wonderlik is, is dat die Here Jesus, trou aan Sy geaardheid, hierdie eerste wonderteken nie in Jerusalem of Betlehem of Rome verrig nie, maar in ’n klein plattelandse gemeenskap soos Kana. In die hele verhaal is die Here Jesus op die agtergrond. Hy het net opdrag gegee dat die klipkanne vol water gemaak word en verder dat die hoofkelner daarvan moet proe. Daar is geen dramatiese ophef gemaak van die wonderwerk nie. Jesus bly as’t ware in die kombuis, in die agtergrond. Hy doen dit nie voor die gaste nie. Hy doen dit in beskeidenheid. Juis in Jesus se beskeidenheid blyk Sy groot krag.

Jesus het water in wyn verander. Ons kan bly wees dat die eerste wonderteken wyn uit water was. Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring. Sonder vreugde kan niemand sinvol leef nie. Jesus het deur die wyn, gemeenskap tussen mense geskep. Sonder sinvolle gemeenskap met ander mense, sal ons alleen in die woestyn van alleenheid ronddwaal. Wyn bring geselskap, vreugde en blydskap.

Jesus het water in wyn verander om genade te bring, sodat die geloofsgemeenskap se vreugde kan voortgaan. Hy kom herstel die vreugde van die bruilofsfees. So wil die Here ook my en jou lewe kom aanraak.                               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tegniek en wetenskap is geen waarborg vir seën nie.

SKRIFLESING:  Deut 11: 10 – 17

Die tegniek en die wetenskap is wonderbaarlik. ’n Mens kan jou nie ’n lewe indink sonder die tegniek en wetenskap nie. Dit maak die lewe soveel makliker en veiliger. Die donker Middeleeue is deurbreek met die nywerheidsrewolusie en skielik is die wêreld op die snelbaan van tegnologie geplaas.  Maar soos die mensdom gevorder het met tegnologie, het die mens ongelukkig al meer los van God begin beweeg. Tegnologie het die mens minder afhanklik van God gemaak en meer selfversekerd. Tegnologie het die afgod geword van die moderne tyd.

In die antieke Egipteland was daar ook ’n groot tegnologiese deurbraak gemaak met die ontwikkeling van kanale en leivore, vanuit die magtige Nylrivier. In vers 10 van ons gelese gedeelte is die Hebreeuse vertaling vir “natgelei” die volgende: “met jou voet natgelei”. Dit beteken leivoortjies is met die voete in ’n groentetuin getrap, om groentetuine nat te lei. Die tegnologie van kanale en leivore maak, het die Egiptenare minder afhanklik van die reën gemaak. Hulle kon vir hulleself water verseker, as gevolg van hulle tegnologie. Dit het die Israeliete beleef toe hulle in Egipteland slawe was. Die Egiptenare se tegnologie het God minder noodsaaklik gemaak vir die Israeliete in Egipte.

Die Hollandse prediker RT te Velde skryf dat in vers 11 van ons gelese gedeelte, word egter vir die Israeliete gesê hulle trek na ’n nuwe land, waar hulle nie op die tegnologie van kanale en leivore kan staatmaak nie. Daar staan letterlik: “Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ’n land met berge en valleie; dit drink reënwater uit die hemel.” Die Nylrivier is nie meer daar nie, nog minder kanale en leivore. Julle sal net van God afhanklik wees om vir julle reën uit die hemel te gee. Die Here sal vir hulle sorg en nie die tegnologie van besproeiing nie. Daarom staan daar verder in vers11: “Dit is ’n land waarvoor die Here jou God bly sorg. Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar.”

Dit is “’n land met berge en valleie.” Moenie bekommerd wees nie. Die water stroom af na die valleie om die valleie vrugbaar te maak. Die lelies groei in die valleie. Dit sou nooit daar gewees het as dit nie was vir die heuwels nie. Egipte het nie heuwels en valleie nie. Die beloofde land het wel heuwels en valleie, waarteen die reën afloop wat die klipperige veld vogtig maak. Onder die klippe pak die vogtigheid saam en daaronder groei die gras uit, genoeg vir die skape om daar te wei, “groen weivelde,” soos daarna in Psalm 23 verwys word.

Die klem verskuif nou van “tegnologie” na “Godsafhanklikheid.” Vers 10 handel oor die vertroue in tegnologie in Egipte en vers 11 handel oor die noodsaak om van God afhanklik te wees in die beloofde land.

Die beloofde land Kanaän se rykdom was nie soos dié van Egipte, die beloning van menslike tegnologie en arbeid nie, maar geheel en al afhanklik van God wat uit vrye genade en op Sy tyd reën en uitkoms gee. In Egipte was tegnologie die uitkoms, maar in Kanaän was God die uitkoms. Die selfstandige mens in Egipte staan teenoor die afhanklike mens in Kanaän.

Die gedeelte wil vir ons leer om nie alleen ons vertroue in die tegnologie te plaas en daarvan ’n afgod te maak nie. Ons enigste vertroue moet wees in Christus Jesus onse Heer.  Die Here – en nie tegnologie nie – sorg in die eerste plek vir ons. Ons moenie van die tegnologie en wetenskap ’n afgod maak nie.

Die Here sorg in die beloofde land met reën. Daar kom slegte dae. Moenie een dag in die jaar uitkies en sê dit was ’n slegte dag nie, maar neem die hele jaar, dan sal jy God se getroue versorging raaksien. Daarom staan daar in vers 12 jy moet na die hele jaar kyk. Vers 12 sê die volgende oor die beloofde land: “Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar.” Sien God se goedheid en seën raak in die volle tydperk van jou lewe en moenie net  na enkele slegte periodes in jou lewe kyk nie.

“Voete trap om leivore te maak” in Egipte beteken om in eie vermoëns gered te word. Maar in die beloofde land hoef ons nie voete te trap nie. Ons verlossing en seën kom van bo (van die Here af), net soos reën wat mildelik uitgegiet word.

Ons weet ook in die Nagmaal, dat ons nie meer slawe is in Egipte nie, maar vrygekooptes wat leef in die nuwe land, waar God vir ons Sy reën (Sy seëninge) op die regte tyd gee. In vers 14 staan daar dat ons die koring en nuwe wyn kan insamel, as gevolg van die reën. Daarom kan ons die brood (die koring) en die nuwe wyn eet en drink, want ons is nie meer slawe in Egipte (die plek van slawerny) nie. 

Tegniek en wetenskap het nie die laaste sê nie. Die seën kom nie van die tegniek nie, maar van die lewende Heer, wat sy reën oor ons gebied.

Daarom moet ons nie afhanklik wees van tegniek nie, maar van God afhanklik wees. Dan het ons die volle seën.                                            Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Mans, waardeer julle vroue.

SKRIFLESING:  Spreuke 31: 10 – 31

Moedersdag kan ingewikkeld wees. Daar bestaan subtiele dog sigbare spanning tussen viering en hartseer. Vir baie is dit ’n dag van vreugde en gesinstyd, maar vir party is dit ’n dag van pyn, verlange en hartseer. Sommige vroue smag daarna om ’n kind te hê. Sommige vroue het ’n miskraam gehad. Ander het kinders aan die dood afgestaan. Sommige het pynlike ervarings van moeders wat hulle verwaarloos het.

:

’n Vinnige blik op ons kultuur wys dat geïdealiseerde beelde van moederskap nie bestaan nie, en die Skrif openbaar dieselfde. Rut is kinderloos en weduwee gelaat op ’n jong ouderdom. Ragel, Hanna en Sarah was onvrugbaar. Eva en Maria het seuns verloor onder haglike omstandighede.  Natuurlik  is daar bevoorregte gesinne met sterk huwelike en gelukkige kinders. Die punt is dat daar nie ’n een-grootte-pas-almal reis van vrouwees is nie, en ons maak vroue seer in ons kerke deur een pad te vereer ten koste van ander. So, kom ons wees sag met mekaar op hierdie Moedersdag. Kom ons vier fees met die vroue wat gelukkige gesinne het. Kom ons onthou die vroue, mans, meisies, en seuns wat deur hul ma seergemaak word. Kom ons onthou die moeders wat hul kinders verloor het. Kom ons onthou die vroue wat daarna verlang om vrouens en moeders te wees, maar nie is nie.

Kom ons dink aan bejaarde ma’s, wie se volwasse kinders hulle weggegooi het en geen belangstelling in hulle toon nie en hulle nie eers skakel nie. Moedersdag is nie eenvoudig nie. In die viering van Moedersdag kan ’n mens maklik die seer in sekere vroue oopkrap. Daarom moet ons baie sensitief wees met die viering van Moedersdag.

Daarom moet ons eerder Moedersdag vier vir alle vroue, omdat die meeste vroue ’n natuurlike moederlike instink het van versorging.

Moeders het ook die ingebore eienskap om hulle kinders wat tydelik die pad byster geraak het, net soos die verlore seun in die Bybel, met ope arms te ontvang. Daar is die verhaal van ’n seun wat die pad byster geraak het: “’n Jong man wat moeg was vir die reëls en vaste roetine van die huis, het besluit om te vertrek, om na ’n plek te gaan waar hy kon vry wees. Hy het egter keelvol geraak daarvoor, want hy het besef dit is nie wat hy gedroom het dit sou wees nie. Hy het besluit om aan sy ma te skryf en vir haar te sê dat hy met die trein gaan terug ry huis toe. Hy het vir haar gesê as sy hom nog wil hê, moet sy ’n wit sakdoek bo in die boom in hul erf ophang wat maklik gesien kan word voor die trein by die klein tuisdorpstasie stilhou. Hoe verstom was die rondloper jong man toe hy vind dat sy ma elke beskikbare sakdoek gebruik het om aan die verskillende takke van die boom te hang. Hy kon nie verstaan hoe sy ma hom kon aanhou liefhê nie. Dit was vir hom ’n raaisel dat sy ma se liefde toegeneem in plaas van afgeneem het.” Moeders se liefde is soos die liefde van God vir die swerwende kind.

Ek het Spreuke 31: 10 – 31 gekies as ons skriflesing vanoggend. Wat belangrik is, is dat die Skriflesing oorspronklik nie vir vroue nie, maar vir mans geskryf is. Die gedig is vir mans geskryf om hulle vroue te waardeer.

 Dr Almatine Leene skryf byvoorbeeld: “Dié gedeelte is dus as ’n man se aanmoediging en dankie-sê bedoel. En beslis nie as ’n soort lys wat “deurgewerk” moet word ten einde vas te stel of ’n bepaalde vrou as “knap” beskryf kan word nie. Ons vind hier byvoorbeeld ’n opdrag aan mans om hul eie en ander vroue te prys. Daar is geen opdrag aan vroue nie.”

Rachel Held Evans skryf in haar boek “A year of Biblical womanhood” dat Joodse mans hierdie gedeelte van buite moes leer, en dat hulle een keer per week hul vrou aan die etenstafel met die woorde van hierdie gedig moes prys. Dit was deel van die Joodse gebruik.

As ’n mens Spreuke 31: 10 – 31 letterlik op alle vroue van toepassing moes maak, sou vroue heeltemal uitgebrand het van “verantwoordelikhede.” Daarom moet vroue nie skuldig voel as hulle nie aan al die eienskappe van ’n knap vrou in Spreuke 31 voldoen nie. Watter vrou sal nie uitbrand as sy in die oggende vroeg (nog in die nag) moet opstaan en in die aande laat gaan slaap as gevolg van verpligtinge nie? In vers 18 b staan daar “snags gaan haar lamp nie dood nie.” Vandag lewe ons in ’n tyd van die professionele vrou wat hard moet werk om die pot aan die kook te hou. Sy kan mos nie alleen die verantwoordelikheid van die huishouding op haar neem nie. Haar man sal haar ook moet help met huishoudelike pligte soos om kos te maak en die kinders te versorg.

Wat die skriflesing wel onderstreep, dat elke vrou uniek is en unieke moederlike eienskappe bring na die huwelik en gesin. Daardie unieke moederlike eienskappe moet deur haar man en kinders waardeer word. Elke vrou het unieke talente wat sy na die huwelik en gesin bring. Dit verskil van ander vroue. Daarom moet dit waardeer word deur haar man en kinders. Daarom vier ons Moedersdag, sodat haar man en kinders vir haar kan dankie sê vir die spesiale unieke moeder wat sy is.

Spreuke 31: 10 – 31 is nie ’n bloudruk hoe alle vroue moet wees nie. Dit sou mos nie werk nie, want elke vrou is uniek. Daarom moet elke man en kind die uniekheid van die moederfiguur in die gesin respekteer.

In vers 28 staan daar dat sy deur haar kinders en haar man geëer word: “ Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof.” Daarom gaan Spreuke 31 nie oor wat die deugsame vrou moet doen nie, maar oor haar kinders en man wat haar waardeer oor haar unieke vrouwees.

Haar man waardeer ook dat sy vrou vir hom voordeel bring. Daarom staan daar in vers 12: “Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.”

’n Vrou moet nie oor haar skoonheid geëer word nie, maar oor haar verhouding met die Here. Daar staan in vers 30: “Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; ’n vrou wat vir die Here ontsag het,sy moet geprys word.”

Maar God het ook vroulike eienskappe. Ja, dit is eienskappe wat ’n man nie besit nie! En as God dan met vroulike eienskappe beskryf word, is dit ’n bevestiging dat daar wel hoë waardering vir die vrou of moeder is. Immers, God sélf gebruik op baie plekke in die Bybel hierdie soort taal om sy liefde en sorg vir die mens uit te beeld. In Jesaja 49 vers 15 beaam God self sy liefde vir sy kinders deur van ’n moederlike beeld gebruik te maak: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm   oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie.” En dan is daar natuurlik die teks uit Psalm 131 vers 2 wat sê dat ons by God tevredenheid gevind het soos wat ’n kindjie by sy moeder kry.

Hierdie eienskappe van God kan ’n mens net by ’n vrou kry. Dit is die moederlike kant van God. God openbaar Homself op ’n vaderlike én moederlike wyse aan ons. As Vader ontferm Hy Hom oor ons; ons vind beskerming in sy Vaderarms en sekuriteit in sy vaderhuis. Aan moederlike kant word God  as volg beskryf deur ’n prediker: “En soos ’n moeder vergeet God ons nooit nie; Hy troos ons net soos ’n ma kan, en ja, waar kan ’n gebroke en hartseer ou kinderhartjie die beste getroos word? Nêrens anders nie as teen die moederbors! En waar kan jy, as Christen, veiliger voel en meer tevredenheid kry as teen God se bors? Nêrens anders nie!”

Spreuke 31 is nie ’n lysie wat vroue moet afmerk om te bepaal of hulle knap en deugsaam is nie. Dan sal jy aan ’n swak selfbeeld ly. Dit is eerder ’n vermaning aan vaders en kinders om die unieke goedheid en versorging van hulle vrouens en moeders raak te sien en te waardeer.

Die moederlikheid van vrouens en moeders is uniek. Dit word gevier met Moedersdag.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Jenell Williams Paris, “When Mother’s Day Is Hard,” ChristianityToday | Reviewed March 2022

Die Lig. Die Spreuke 31-vrou? Wat van (arme) ék?  Oktober 12, 2020

NHKA, Spreuke 31: 10-31 – Kan ons ’n vrou se waarde werklik meet? 4 Julie, 2019

Huis – Paleis – Pondok – Varkhok

SKRIFLESING:  Jak 2: 1 – 13

Toe ek ’n kind was, het ons met ’n uittelrympie grappenderwys mense se kamtige woonplekke aan hulle toegeken. Iemand met vier knope aan ’n hemp sal byvoorbeeld gestuur word om tussen die varke te gaan woon, terwyl iemand met ses knope sy woonplek in ’n paleis sal hê. In laasgenoemde geval sal die ses knope só afgetel word: Huis — Paleis — Pondok – Varkhok – Huis — Paleis!

As Jakobus sy brief skryf, dan spreek hy die gelowiges van sy tyd aan wat mense op grond van die uiterlike beoordeel. Dit was die rede vir baie spanning, konflik en verdeeldheid in die gemeente aan wie Jakobus skryf. Jakobus se brief is vandag nog net so aktueel in die kerkgemeenskap, asook in die wêreld.

In die Joodse sinagoge het die mense gesit volgens hulle rangorde, en lede van dieselfde ambag het saam gesit. Jou stand in die samelewing, jou rykdom, en jou geleerdheid, het bepaal waar jy in die sinagoge sit. Die sinagoge was ook nie ’n plek vir vrouens nie. Jakobus beskou hierdie stand van sake as onwenslik in Christelike gemeentes. Die woord ἐκκλησία, wat met “Kerk” vertaal word, is vir Christelike byeenkomste verkies. Dit het geïmpliseer dat diegene wat dit bywoon, uit die res van die mensdom verkies is, en deur Christus verenig is, Hy wat geen onderskeid maak tussen mense nie. Dit was ’n radikale anderse orde as die ou Joodse bedeling van onderskeid.

Jakobus spreek hom baie duidelik uit teen diskriminasie en partydigheid. Dit is juis dit was meestal tot oorlog en diskriminerende politieke stelsels lei.

Ons oordeel elke dag mense volgens die uiterlike en ons kom dit nie eens agter nie. Jakobus trek nie ’n streep deur die gelowiges se opregte geloofsverhouding nie. Dikwels sondig jy in onkunde, omdat jy ’n kind van jou tyd is.

Ons voorouers was die mees Godvresende gelowiges wat jy kon kry. Hulle was opreg in hulle geloof. Maar hulle het nie besef dat Apartheid verkeerd en sondig is nie. Hulle het mense op grond van die uiterlike, hulle velkleur, geoordeel en hulle in lokasies geplaas en van regte ontneem. Daardie mense is verneder en as minderwaardig behandel. Hulle is van geriewe en voorregte ontneem. Dit het oneindige pyn, verwydering, trauma, opstand en armoede tot gevolg gehad.

Nou sit ons hier in 2022 met ’n korrupte ANC-regering, wat dieselfde doen as die destydse regering. Hulle klassifiseer en oordeel ook mense op grond van hulle velkleur. Ras speel vandag ’n groter rol as bekwaamheid of kundigheid. Daarom val al die wieletjies van Suid-Afrika af. Dit is weer ’n geval van om op grond van die uiterlike te oordeel. Ook word Suid-Afrika leeg besteel en as iets verkeerd loop, is dit Jan van Riebeeck se skuld. Twee LUR’s van die Vrystaat het onlangs ook vir Jan van Riebeeck die skuld gegee vir deesdae se slaggate op die paaie. Die vorige apartheidsregering word verantwoordelik gehou vir dinge wat vandag verkeerd loop en verkeerd bestuur word. Weer word daar geoordeel, sonder om verantwoordelikheid te aanvaar vir vandag se foute.

In die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke geswyg oor die offensiewe optrede van Adolf Hitler. Slegs enkele Duitse teoloë het standpunt teen Adolf Hitler geneem, soos Dietrich Bonhoeffer. Eers na die oorlog het die Duitse kerke in die Barmenverklaring hulle uitgespreek teen die Duitse siening dat nie-Duitsers die “Untermensch” is en dat veral die Jode uitgeroei moes word.

In die huidige oorlog in Oekraïne, is die Russies-Ortodokse kerke ook doodstil oor die geweld en bloedvergieting van onskuldige, weerlose mense. Dit is die uitwissing van ’n volk wat plaasvind en die Russies-Ortodokse Kerk staan Vladimir Putin nie teen nie. Dit is ’n kwessie van: dit is die gees van die tyd in Rusland.     

Laat ons nie wees soos die tipiese mens wat altyd gou is om sy medemens te oordeel nie: As hy arm is, is hy sleg en lui. As hy ryk is, is hy oneerlik. As hy nie vir liefdadigheid gee nie, is hy suinig. As hy dit wel doen, is dit vir die vertoon. As hy aktief godsdienstig is, is hy ’n huigelaar. As hy geen belangstelling in godsdiens toon nie, is hy ’n geharde sondaar. So oordeel ons mekaar heeldag, sonder om mekaar se omstandighede te ken.

Ons is nie net geneig om mekaar na die uiterlike te oordeel nie, maar ook na die innerlike. Ons kan maklik iemand afkraak, sonder dat ons sy/haar omstandighede ken. Ons dink miskien iemand is innerlik sleg, om dalk later uit te vind ons was verkeerd. Veral ons as Christene is geneig om volgens die uiterlike te oordeel, as gevolg van ons vaste waardesisteme. Ons kan maklik iemand as innerlik sleg uitmaak, as gevolg van ons vasgegote waardes.

Ek het as kind in ’n baie streng militêre huis grootgeword. My hare moes altyd baie kort wees, ek mag geen jeans gedra het nie en moes altyd netjies lyk. Toe ry ek later op ’n dag as jongman op ’n bus. Die bus was baie vol en ek beland toe ongelukkig (of gelukkig) langs ’n man met baie lang hare en ’n woeste baard. Die ou het verslete jeans aangehad. My oordeel van hom was onmiddellik: die man is sleg en nie van my soort nie. Ek soek net ander plek in die bus. Tot ons aan die gesels raak. Dit was een van die verrykendste gesprekke in my lewe. Hy was ’n diepsinnige mens, wat ’n wonderlike getuienis gehad het as Christen. Hy was ook intellektueel by verre my meerdere. Ek was agterna skaam en teleurgesteld in myself. My waardesisteem het my in die steek gelaat.

Jesus Christus het nooit geoordeel nie. Hy het gemeng met die sondaars. Hy het selfs oornag in Saggeus se huis, die hooftollenaar, die baasskelm van Jerusalem. Jesus het die owerspelige vrou huis toe laat gaan, sonder om haar te veroordeel. Jesus het so gemeng met die sondaars, dat hulle Hom “’n vraat” en “’n wynsuiper” genoem het.    

Leer om ander mense met ander waardesisteme te verdra in ’n gees van geestelike verdraagsaamheid. Op Strydenburg, my vorige gemeente, het die Rooms-Katolieke priester gereeld op ’n Saterdagaand by my kom kuier. Ons teologiese wêrelde was ver van mekaar verwyderd soos die ooste en die weste en ons kon lekker verskil. Maar ons het heerlike vriende geword, ten spyte van ons teologiese verskille.

Sê nou maar net ’n ryk man en ’n arm man stap tegelyk by jou in die sitkamer in. Hoe gaan jy maak? Jakobus se oproep is om hulle gelyk te behandel. Ek moet nie onderskeid maak op grond van rykdom, geleerdheid, ras of geslag nie. Dikwels maak ons onderskeid tussen die ryk man en die arm man. Dan argumenteer Jakobus in hoofstuk 2: 6 as volg: “Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie?”

In die Bybel reik God juis uit na die armes, gemarginaliseerdes en randfigure. In die boek Esegiël staan daar uitdruklik hoe die Here uitreik na die siek en kreupel skape om hulle na veiligheid te dra.

God is nie partydig nie. God het nie “witbroodjies” en “swart skape” nie. Vir God is die eerste laaste en die laaste is eerste. Daarom staan daar in Luk 13:30 die volgende: “En kyk, wie laaste is, sal eerste wees, en wie eerste is, sal laaste wees.” Soortgelyk is ook Mat 19:30 en Mat 20: 16. Die Jode het gewoonlik as hulle fees gevier het, hulle hande op die volgende persoon se skouer gesit en dan in die rondte gedans, sodat ’n sirkeldans gevorm is. In die sirkeldans is die laaste persoon eerste en die eerste persoon laaste. Daar is geen hiërargie nie. So is dit ook in God se nuwe Koninkryk. Daarom het Jesus die voete van Sy dissipels gewas, deur die laaste, ’n slaaf, te word vir die ander. Daarom moet ons mekaar dien.

Daarom waarsku Jakobus ons om mekaar nie sommer net te oordeel nie. Daarom staan daar in Jak 2:13 – “Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.”

Dit is vir ons as mense amper onmoontlik om nie te oordeel oor ander mense nie. Dit sit in ons gene, en is deel van ons erfsonde. Daarom moet ons die pad van heiligmaking volg, deur gedurig my gees te ondersoek en te bely waar ek sondig oordeel. Luther het gesê: “Hoe heiliger, hoe sondiger.” Daarmee het hy bedoel hoe meer ek in Christus groei, hoe meer sien ek my eie sonde raak. Dan sien ek ook makliker raak wanneer ek ’n gees van oordeel het. 

Huis – Paleis – Pondok – Varkhok

Moenie oordeel volgens uiterlike maatstawwe nie, sê Jakobus. Moet glad nie oordeel nie. Die oordeel kom God toe.

Mag ons genadig in ons oordeel wees – en met genade kyk – soos wat God kyk. Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)