SKRIFLESING: Jak 2: 1 – 13
Toe ek ’n kind was, het ons met ’n uittelrympie grappenderwys mense se kamtige woonplekke aan hulle toegeken. Iemand met vier knope aan ’n hemp sal byvoorbeeld gestuur word om tussen die varke te gaan woon, terwyl iemand met ses knope sy woonplek in ’n paleis sal hê. In laasgenoemde geval sal die ses knope só afgetel word: Huis — Paleis — Pondok – Varkhok – Huis — Paleis!

As Jakobus sy brief skryf, dan spreek hy die gelowiges van sy tyd aan wat mense op grond van die uiterlike beoordeel. Dit was die rede vir baie spanning, konflik en verdeeldheid in die gemeente aan wie Jakobus skryf. Jakobus se brief is vandag nog net so aktueel in die kerkgemeenskap, asook in die wêreld.
In die Joodse sinagoge het die mense gesit volgens hulle rangorde, en lede van dieselfde ambag het saam gesit. Jou stand in die samelewing, jou rykdom, en jou geleerdheid, het bepaal waar jy in die sinagoge sit. Die sinagoge was ook nie ’n plek vir vrouens nie. Jakobus beskou hierdie stand van sake as onwenslik in Christelike gemeentes. Die woord ἐκκλησία, wat met “Kerk” vertaal word, is vir Christelike byeenkomste verkies. Dit het geïmpliseer dat diegene wat dit bywoon, uit die res van die mensdom verkies is, en deur Christus verenig is, Hy wat geen onderskeid maak tussen mense nie. Dit was ’n radikale anderse orde as die ou Joodse bedeling van onderskeid.
Jakobus spreek hom baie duidelik uit teen diskriminasie en partydigheid. Dit is juis dit was meestal tot oorlog en diskriminerende politieke stelsels lei.
Ons oordeel elke dag mense volgens die uiterlike en ons kom dit nie eens agter nie. Jakobus trek nie ’n streep deur die gelowiges se opregte geloofsverhouding nie. Dikwels sondig jy in onkunde, omdat jy ’n kind van jou tyd is.
Ons voorouers was die mees Godvresende gelowiges wat jy kon kry. Hulle was opreg in hulle geloof. Maar hulle het nie besef dat Apartheid verkeerd en sondig is nie. Hulle het mense op grond van die uiterlike, hulle velkleur, geoordeel en hulle in lokasies geplaas en van regte ontneem. Daardie mense is verneder en as minderwaardig behandel. Hulle is van geriewe en voorregte ontneem. Dit het oneindige pyn, verwydering, trauma, opstand en armoede tot gevolg gehad.
Nou sit ons hier in 2022 met ’n korrupte ANC-regering, wat dieselfde doen as die destydse regering. Hulle klassifiseer en oordeel ook mense op grond van hulle velkleur. Ras speel vandag ’n groter rol as bekwaamheid of kundigheid. Daarom val al die wieletjies van Suid-Afrika af. Dit is weer ’n geval van om op grond van die uiterlike te oordeel. Ook word Suid-Afrika leeg besteel en as iets verkeerd loop, is dit Jan van Riebeeck se skuld. Twee LUR’s van die Vrystaat het onlangs ook vir Jan van Riebeeck die skuld gegee vir deesdae se slaggate op die paaie. Die vorige apartheidsregering word verantwoordelik gehou vir dinge wat vandag verkeerd loop en verkeerd bestuur word. Weer word daar geoordeel, sonder om verantwoordelikheid te aanvaar vir vandag se foute.

In die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse kerke geswyg oor die offensiewe optrede van Adolf Hitler. Slegs enkele Duitse teoloë het standpunt teen Adolf Hitler geneem, soos Dietrich Bonhoeffer. Eers na die oorlog het die Duitse kerke in die Barmenverklaring hulle uitgespreek teen die Duitse siening dat nie-Duitsers die “Untermensch” is en dat veral die Jode uitgeroei moes word.

In die huidige oorlog in Oekraïne, is die Russies-Ortodokse kerke ook doodstil oor die geweld en bloedvergieting van onskuldige, weerlose mense. Dit is die uitwissing van ’n volk wat plaasvind en die Russies-Ortodokse Kerk staan Vladimir Putin nie teen nie. Dit is ’n kwessie van: dit is die gees van die tyd in Rusland.
Laat ons nie wees soos die tipiese mens wat altyd gou is om sy medemens te oordeel nie: As hy arm is, is hy sleg en lui. As hy ryk is, is hy oneerlik. As hy nie vir liefdadigheid gee nie, is hy suinig. As hy dit wel doen, is dit vir die vertoon. As hy aktief godsdienstig is, is hy ’n huigelaar. As hy geen belangstelling in godsdiens toon nie, is hy ’n geharde sondaar. So oordeel ons mekaar heeldag, sonder om mekaar se omstandighede te ken.

Ons is nie net geneig om mekaar na die uiterlike te oordeel nie, maar ook na die innerlike. Ons kan maklik iemand afkraak, sonder dat ons sy/haar omstandighede ken. Ons dink miskien iemand is innerlik sleg, om dalk later uit te vind ons was verkeerd. Veral ons as Christene is geneig om volgens die uiterlike te oordeel, as gevolg van ons vaste waardesisteme. Ons kan maklik iemand as innerlik sleg uitmaak, as gevolg van ons vasgegote waardes.
Ek het as kind in ’n baie streng militêre huis grootgeword. My hare moes altyd baie kort wees, ek mag geen jeans gedra het nie en moes altyd netjies lyk. Toe ry ek later op ’n dag as jongman op ’n bus. Die bus was baie vol en ek beland toe ongelukkig (of gelukkig) langs ’n man met baie lang hare en ’n woeste baard. Die ou het verslete jeans aangehad. My oordeel van hom was onmiddellik: die man is sleg en nie van my soort nie. Ek soek net ander plek in die bus. Tot ons aan die gesels raak. Dit was een van die verrykendste gesprekke in my lewe. Hy was ’n diepsinnige mens, wat ’n wonderlike getuienis gehad het as Christen. Hy was ook intellektueel by verre my meerdere. Ek was agterna skaam en teleurgesteld in myself. My waardesisteem het my in die steek gelaat.

Jesus Christus het nooit geoordeel nie. Hy het gemeng met die sondaars. Hy het selfs oornag in Saggeus se huis, die hooftollenaar, die baasskelm van Jerusalem. Jesus het die owerspelige vrou huis toe laat gaan, sonder om haar te veroordeel. Jesus het so gemeng met die sondaars, dat hulle Hom “’n vraat” en “’n wynsuiper” genoem het.
Leer om ander mense met ander waardesisteme te verdra in ’n gees van geestelike verdraagsaamheid. Op Strydenburg, my vorige gemeente, het die Rooms-Katolieke priester gereeld op ’n Saterdagaand by my kom kuier. Ons teologiese wêrelde was ver van mekaar verwyderd soos die ooste en die weste en ons kon lekker verskil. Maar ons het heerlike vriende geword, ten spyte van ons teologiese verskille.

Sê nou maar net ’n ryk man en ’n arm man stap tegelyk by jou in die sitkamer in. Hoe gaan jy maak? Jakobus se oproep is om hulle gelyk te behandel. Ek moet nie onderskeid maak op grond van rykdom, geleerdheid, ras of geslag nie. Dikwels maak ons onderskeid tussen die ryk man en die arm man. Dan argumenteer Jakobus in hoofstuk 2: 6 as volg: “Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie?”
In die Bybel reik God juis uit na die armes, gemarginaliseerdes en randfigure. In die boek Esegiël staan daar uitdruklik hoe die Here uitreik na die siek en kreupel skape om hulle na veiligheid te dra.
God is nie partydig nie. God het nie “witbroodjies” en “swart skape” nie. Vir God is die eerste laaste en die laaste is eerste. Daarom staan daar in Luk 13:30 die volgende: “En kyk, wie laaste is, sal eerste wees, en wie eerste is, sal laaste wees.” Soortgelyk is ook Mat 19:30 en Mat 20: 16. Die Jode het gewoonlik as hulle fees gevier het, hulle hande op die volgende persoon se skouer gesit en dan in die rondte gedans, sodat ’n sirkeldans gevorm is. In die sirkeldans is die laaste persoon eerste en die eerste persoon laaste. Daar is geen hiërargie nie. So is dit ook in God se nuwe Koninkryk. Daarom het Jesus die voete van Sy dissipels gewas, deur die laaste, ’n slaaf, te word vir die ander. Daarom moet ons mekaar dien.
Daarom waarsku Jakobus ons om mekaar nie sommer net te oordeel nie. Daarom staan daar in Jak 2:13 – “Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel.”

Dit is vir ons as mense amper onmoontlik om nie te oordeel oor ander mense nie. Dit sit in ons gene, en is deel van ons erfsonde. Daarom moet ons die pad van heiligmaking volg, deur gedurig my gees te ondersoek en te bely waar ek sondig oordeel. Luther het gesê: “Hoe heiliger, hoe sondiger.” Daarmee het hy bedoel hoe meer ek in Christus groei, hoe meer sien ek my eie sonde raak. Dan sien ek ook makliker raak wanneer ek ’n gees van oordeel het.
Huis – Paleis – Pondok – Varkhok
Moenie oordeel volgens uiterlike maatstawwe nie, sê Jakobus. Moet glad nie oordeel nie. Die oordeel kom God toe.
Mag ons genadig in ons oordeel wees – en met genade kyk – soos wat God kyk. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
Baie Baie dankie Ds Paul. Pragtige en ware Boodskap.
LikeLike