SKRIFLESING: Mat 6: 9 – 14
Heidelbergse Kategismus: Sondag 50, Vraag 125
Vraag: Wat is die vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: (1)Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, (2) sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, (3) en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. (4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.
Dit is ’n voorreg om ’n aardse pa te hê. Dit is egter ’n troos om jou hemelse Vader te ken, want God staan PA vir Sy kinders. Dit is nie soos sommige aardse vaders, wat aandring op vaderskaptoetse voor hulle eers onderhoud betaal nie. God ontken nooit Sy vaderskap van Sy kinders nie.
God is ook nie onbetrokke of ’n afwesige vader nie – soos die deïsme leer nie. God is die liefdevolle, versorgende God wat PA staan vir Sy kinders. Dit is die refrein, die goue draad wat deur die hele Bybel loop.
As ek aan God dink, dink ek aan ’n klomp voëltjies in ’n nes, wat met oop bekke skreeu om kos. Dan kom die ouer en hy voed hulle. Voëltjies is afhanklik van hul ouers. So is ons ook afhanklik van God.
Die moderne mens hou nie van die beeld nie. Die mens wil selfversorgend en selfvoorsienend wees. Kinders droom daarvan, jongmense werk daarvoor, grootmense beplan daarvoor en bejaardes vrees om dit te verloor.
Dan kom leer die Here vir ons om te bid vir ons daaglikse brood in die “Onse Vader” gebed. Die eerste drie bedes gaan oor om groot oor God te dink en die vierde bede handel oor om God ook in die klein dingetjies soos daaglikse brood, raak te sien.
God is betrokke in die alledaagse. God gee om. God sien raak. Jy is vir God belangrik.
Vraag 125 antwoord: (1) Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is.
Die vierde bede bestaan in Afrikaans uit ses woorde: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

GEE – Dit word nie as ’n eis gestel nie, maar as ’n gebed. Ons demand nie. Ons mense het nie “regte” voor God en ons medemense nie, ons het net voorregte. Daar is nie plek vir humanisme in die Bybel nie. Die vierde bede is ’n bede van afhanklikheid.
ONS – Ek moet nie bid vir “my” brood nie, maar ek moet bid vir “ons” brood. In die kapitalistiese stelsel sorg elkeen net vir homself en sal ek vir my brood veg, ten koste van ’n ander een se brood.

Daarom moet die werkgewer bid vir sy werknemer, die ryke vir die arme en die winkelier vir sy klant. Dit maak my ook aanspreeklik vir ander mense se brood op hulle tafel. Daarom moet ek ook bekommerd wees as ander mense nie brood op hulle tafel het nie. Daarom mag ek my oë nie sluit vir die ellendes van hierdie wêreld nie.
VANDAG – Ons is mense wat voorsiening wil maak vir môre en oormôre ook. Ons is soos die miere wat voorsiening maak vir die winter ook. Dit is nie verkeerd nie, die natuur leer ons immers daarvan. Maar dit word ’n fout as ek my heeldag bekommer oor die dag van môre. Dan lewe ek so in die toekoms, dat ek nie die hede kan waardeer nie. Bekommernis oor môre steel die vreugde van vandag. Die Here het vir die volk Israel in die woestyn ook geleer van afhanklikheid, deurdat hulle kwartels en manna net vir een dag op ’n slag moes optel. Slegs die dag voor Sabbat mag hulle vir twee dae voedsel bymekaar maak. Sou die Israeliete vir meer as een dag optel, het dit vrot geword en dan het daar ’n stank uit daardie tent uitgekom en is hulle in verleentheid gestel omdat hulle nie by God se verordeninge gehou het nie.

ONS – Gods brood het ons brood geword. Alles behoort mos aan die Here. Omdat ons God se kinders is, behoort Sy brood ook aan ons. Ons is nie bedelaars of vreemdelinge wat moet bedel by God om brood nie. Nee, ons is God se kinders wat brood kan vra, juis omdat ons Sy kinders is. In ons doop is ons daaglikse brood gewaarborg, want ons behoort deur die doop aan God.
DAAGLIKSE – Ons is daagliks van God afhanklik. Ek is elke dag, elke uur, elke minuut, elke sekonde van God afhanklik. Ek is nie net in nood van God afhanklik nie. Ek is in goeie én slegte tye van God afhanklik. Ek leef daagliks uit God se hand.
BROOD – Ek moet nie weelderigheid van God afbid nie. Ek bid om die noodsaaklike en nie vir oordaad en weelde nie. Die gebed leer ons nie bid vir konfyt ook nie. As ek konfyt kry, is dit genade omdat God vrygewig is. My brood vir vandag sluit in my huis, my gesondheid, my klere, politieke vrede, my salaris, my vriende, my lewensmaat, asook my saligheid. (Brood vir die lewe). Ek moet nie vra vir rykdom of armoede nie, maar om my beskeie deel. Dit is genoeg vir my.
(2) Sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is.
Omdat God vir ons ons daaglikse brood gee, moet ons elke dag vir God dank en loof vir ons lewe, ons gesondheid, ons klere en alles wat ons van God ontvang. Ons moet die Here ook baie spesifiek dank. Toe my dogter Unine ’n klein dogtertjie was, het sy altyd met die tafelgebed baie spesifiek vir alles op haar bord gebid. Sy het gebid: “Dankie vir my vleis, pampoen, rys, boontjies ….”
Dikwels bestaan ons lewe net uit KLA, in plaas van DANK. Deur die dekades, word boere veral beskryf as mense wat maklik kla. Daarom is daar die grappie: “Watter maand kla die boere die minste?” Dan die antwoord: “Februarie-maand, want dié maand het die minste dae.” Daarom moet ons doelbewus dankbaarheid soek, selfs in die moeilikste omstandighede.

“As ’n mens vir my ’n skottel sand gee,” sê Holmes, “en vir my sê daar is ysterdeeltjies in, kan ek dit met my oë soek en met my lomp vingers daarna soek en dit nie opspoor nie. Maar laat ek ’n magneet neem en daardeur vee, en die mees onsigbare deeltjies sal nader getrek word, deur die blote krag van aantrekking! Die ondankbare hart, soos my vinger in die sand, ontdek geen genade nie. Maar laat die dankbare hart die dag oordink, en soos die magneet die yster vind, so sal dit gereeld ’n paar hemelse seëninge vind.”
(3) En dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie.
As die Here iets nie seën nie, loop dit op niks uit nie. Die landbouer kan maar ploeg, maar as die Here die oes nie seën nie, is die ploeg tevergeefs. Jy kan baie kos in jou huis hê, maar as jy nie die eetlus het nie, baat dit jou niks nie. Jy kan heelweek geestelike werk doen, maar as die Here dit nie seën nie, gaan dit geen vrug dra nie. Daarom moet ons altyd bid vir die Here se seën op alles. Beethoven het elke oggend gebid: “Here, help.” In die aand het hy gebid: “Soli Deo Gloria.”
(4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.
Dit is so belangrik. Ons hulp kom nie van mense nie, maar van God. Ek moet nooit my vertroue in myself of ander mense stel nie. Ek moet my vertroue buite myself stel op die Here Jesus. Die water het wyn geword by die bruilof in Kana, omdat Maria haar vertroue in Jesus gestel het. Deur God se krag en ingryping vul Elisa ook die vate olie van die weduwee.
Ook in Suid-Afrika se netelige politieke situasie, kan ons alleen maar ons vertroue op die Here Jesus stel. Ons kan alleen maar die Here vertrou met die bloedige oorlog in die Oekraïne en dat die oorlog nie verder sal uitkring nie.
Jesus se gebreekte liggaam het ons brood (geestelike brood) geword. God het voorsien en versorg: brood vir die liggaam en brood vir die gees.
Mag God gee dat ons ons totale afhanklikheid sal besef.
AMEN
(Preekinhoud aantekeninge is jare gelede van ‘n preekbundel geneem, waarvan ek die skrywer vergeet het. Ek het inhoud bygewerk.)
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)