Waarom talm God so lank?

Waarom talm God so lank?

Waarom talm God so? Waarom vat God sy eie tyd? Waarom werk God nie haastiger? In ‘n wêreld gekenmerk deur lyding word die vraag gereeld gevra deur gelowiges en ongelowiges.

1378771556459

Deel van die antwoord is dalk om te kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde “chronos” en “kairos”. “Chronos is soos horlosietyd, 24 ure in ‘n dag, 60 minute in ‘n uur en 60 sekondes in ‘n minuut. Ons gebruik “chronos” tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. “Kairos” tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ‘n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die foto was ‘n tyd gelede sensasionele nuus, toe die verskynsel vir die eerste keer op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon ons hierdie foto sien wat in ‘n spesifieke oomblik verewig is.

Dit is ‘n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123km/h by standaard -atmosferiese toestande. So ‘n deurbraak veroorsaak ‘n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël tog nog onsigbaar bly. In die “kairos” geval was die weerstoestande op die oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte oomblik en tydstip op die regte plek.

Kairos” tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar uitkom. Dit kan natuurlik ‘n goeie of ‘n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.

‘n Mooi voorbeeld van ‘n Kairos oomblik in een van ons lidmate se lewe is in die lewe van Zelda Meyer toe sy jare gelede in die poskantoor op Fort Beaufort gewerk het. Rowers het die poskantoor aangeval en hulle gyselaar gehou. Hy het van haar sleutels geeis. Met voorbedagte rade om haar summier dood te skiet het die rower die vuurwapen oorgehaal om die doodskoot te gee. Die patroon het in die “kairos” oomblik uitgeval en al wat sy gehoor het is die “kliek” van die vuurwapen teen haar kop. Was dit toevallig. Nee, ons as Christene glo dit is Godsvallig. God wou op daardie oomblik haar lewe red, want hy het nog werk vir haar. God het in die “kairos” oomblik bevestig dat Hy ingegryp het. Die meeste wonderwerke is “kairos” momente.

Aristoteles, ‘n antieke Griekse filosoof sê dat “kairos” die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype (in retoriek) plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê “kairos” oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys, as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God helder en duidelik Homself openbaar.

Die wonderverhaal van die opwekking van Lasarus uit die dood is so ‘n “kairos” moment. Lasarus is van Betanië en die broer van Maria en Martha. Maria was die vrou wat Jesus se voete met reukolie gesalf het en met haar hare afgedroog het. Jesus was lief gewees vir Lasarus.

Daar was ‘n besondere band gewees tussen Jesus en Lasarus. Toe Lasarus siek geword het, het die susters ‘n boodskap gestuur na Jesus, bedoelende dat Jesus vir Lasarus moet kom gesond maak. Dan lees ons hoedat Jesus talm om na Lasarus te gaan.

Jesus het letterlik twee dae getalm voordat hy plan gemaak het om na sy vriend Lasarus toe te gaan. Letterlik het Jesus geen spesiale of haastige planne gemaak om so gou as moontlik by Lasarus uit te kom nie. Dit lyk as’t ware of Jesus nie omgee of die erns van die situasie besef nie.

Sy optrede ontstel vir Maria en Martha, asook die Jode wat hulle ondersteun het. Toe Jesus wel twee dae later daar opdaag, kan ‘n mens die verwyt in Maria, se stem hoor: “As U hier was, sou my broer nie sterf het nie.” Martha kom nie eers uit nie, waarskynlik is sy kwaad vir Jesus. Die afstand tussen Jerusalem is skaars 3 km. Dit is minder as twee uur se stap en Jesus het niks gedoen nie. Lasarus is toe alreeds 4 dae dood gewees. Waar was God? Waar was Jesus toe ons om nodig gehad het?

Dit is ook die vrae wat ons dikwels vra, as God talm ons gebede te verhoor? Waarom vat Jesus so lank? Hoekom doen die Here nie iets nie? Ons verwyte kan dikwels krake van twyfel saai in ons geloofslewe. Die Here was nie daar gewees toe ek Hom nodig gehad het nie.

Ons lees in ons teksgedeelte hoedat Jesus aan die huil gegaan het. Sy huil is in die Griekse teks, baie meer aggressief gestel as in die Afrikaanse teks. Hy het letterlik “gesnork” soos ‘n perd wat ontsteld was. God huil oor Lasarus en Hy is vir die “dood” kwaad wat sy vriend weggeneem het.

Hulle neem Jesus al huilende na Lasarus se graf. Hy beveel dat die klip weggerol word.

Toe bid Jesus tot Sy Vader wat in die hemel is dat ‘n wonderverhaal hier moet afspeel terwille van die mense, sodat hulle mag glo dat die Vader vir Jesus gestuur het.

Jesus roep toe met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Dan staan daar het die oorledene uitgekom, nog met die grafdoeke aan sy lyf en gesig. Jesus beveel hulle om die grafdoeke te verwyder.

Die vraag is nou. Waarom stel Jesus uit om te help. Waarom talm hy twee dae voor hy ‘n 3 km reis aanpak om ‘n vriend te help.

Ons moet die volgende Joodse gebruike goed verstaan. Iemand is in die Joodse gebruik eers op dag 3 of 4 as dood verklaar, omdat die dood en ‘n koma so naby aan mekaar is. In daardie tyd was die mediese wetenskap ook nog onderontwikkel en was dit algemene gebruik om eers op dag 3 iemand as dood te verklaar.

img4edf4b53ceb12

Gewoonlik teen daardie tyd het die reuk van die dood gewoonlik ook begin ruik. Sou daar in daardie tyd doodsertifikate uitgereik word sou dit eers op dag 3 of 4 gewees het. Dit verklaar Martha se woorde: “Here hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus het met ander woorde getalm om na Lasarus te kom, sodat hy wou hê Lasarus moet amptelik dood verklaar word. Jesus wou Lasarus uit die dood opwek en nie maar net gesond gemaak het nie. Hy wou aantoon dat Hy die Prins van die Lewe is. Dat Hy inderdaad die Seun van die lewende God is. Daarvoor het Jesus “kairos” tyd nodig gehad en nie “chronos” tyd nie. Jesus verskyn nie in die “chronos” tyd nie, maar in die “kairos” tyd.

Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon, dat ons Jesus, dikwels sal vind werk op ‘n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord “kairos” (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

‘n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die “kairos” moment, die volmaakte tydstip sal Hy kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die “chronos”. God werk in die “kairos”. Daarom verstaan ons God aldag nie so reg nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Exstra nos …….. Buite myself lê die verlossing ……

Exstra nos ……..  Buite myself lê die verlossing ……

Geestelike lewe of spirituele lewe of geestelike ontwaking kom nie uit myself nie. Geestelike lewe is soos die geboorte van ‘n baba. Die baba is passief en die moeder doen al die werk.

‘n Geboorte is altyd ‘n pynlike proses. Die moeder is aktief betrokke in die geboorteproses en die vroedvrou of dokter staan haar by. Die baba self is heeltemal passief. Die geboorte is ook ‘n vreugdevolle gebeurtenis. Nuwe lewe word gebring. In ons gelese gedeelte vergelyk Jesus die wedergeboorte ook as ‘n geboorte. Nie ‘n geboorte van onder (jou eerste geboorte nie), maar as ‘n geboorte van bo (onder leiding van die Heilige Gees). Ons is die nuwe geestelelike baba en ons word uit God gebore, met die Heilige Gees as die vroedvrou wat die geboorte laat plaasvind. Sonder die wedergeboorte, die tweede geboorte van bo, kan geen mens God sien nie.

Dit is wat Jesus probeer verduidelik aan Nikodemus in die nag toe hy na Jesus gesluip het, dat niemand moet weet van sy gesprek met Jesus nie. Jesus verduidelik dat die nuwe geboorte van die Gees as vroedvrou en met water (bedoelende die totale reinigingswerk van Jesus) moet plaasvind.

Daarom is jou redding altyd buite jouself. Jy sal nooit redding vind binne jou eie storie nie. Jou storie moet altyd invloei in die storie van Jesus Christus se geboorte, kruisiging en opstanding. Die verlossing lê met ander woorde buite jouseld (EXSTRA NOS).

Deur die inspirasie van die Gees word nuwe geestelike lewe gebore. Die Gees is altyd aktief werksaam.

Soos die wind, kan jy die Gees nie met jou eie oë sien nie, maar jy kan sien wat die Gees kan doen. Die Gees bring verandering en genesing en heling. Die Gees bewerk die nuwe geestelike geboorte van die mens. Juis daarom moet ons altyd onder die leiding van die Gees lewe.

Die Gees laat jou kontemplatief leef. Ek het êrens die volgende werkende definisie van kontemplasie nagelees: “Kontemplasie begin daar waar ‘n mens in intense liefde jou gedagtes op God rig. Die materiële, aardse dinge word onbelangrik. Jy leef daarby verby. ‘n Mens besef ook jy kan nie meer op jou eie bestaan nie. Jy verlang na die goddelike, na dit wat groter as jyself is. Dit is ‘n aandagte houding van liefde teenoor God wat vir jou in ‘n verhouding laat deel en jou geestelike lewe lei.”

  Nikodemus se vraag kom uit sy eie verwardheid hoe ‘n mens gered moet word.

Nikodenis was ‘n vooraanstaande Joodse Farisieër met ‘n Griekse naam en daarom het hy ‘n bepaalde status in die gemeenskap geniet. Tog was hy verward. Kom die verlossing vanuit jouself, jou goeie lewe en die onderhouding van die Torah. Wat moet ek doen om gered te word. Nikodemus het toe nog nie gesnap dat jou verlossing van buite jouself kom nie. Jou verlossing kan jy net veranker aan Jesus Christus. Daarom sal ‘n skeepskaptein altyd as ‘n storm woed en daar onsekerheid is oor die veiligheid van die boot en bemanning die anker uitgooi na buite, weg van die skip en die diep blou water.

So moet ons onsself ook veranker aan Jesus Christus wat altyd dieselfde is en bly. Wie sy sekerheid soek in homself, sy bekering of sy geloof sal altyd soos Nikodemus onseker wees. Geloofsekerheid is om seker te wees van die “OBJEK” van jou geloof, naamlik Jesus Christus. Jou verlossing moet jy altyd vasmaak aan Iemand buite jouself – die Christus, ons Verlosser.

Johannes gebruik die voorbeeld van die koperslang op die paal in verse 14 – 15 as voorbeeld van hoe die verlossing werk. Die storie in die Ou Testament gaan so. Die volk Israel was in die woestyn soos gewoonlik weer ongehoorsaam aan God. Die Here stuur toe ‘n plaag slange die laer in en oral word mense doodgepik. Orals krioel slange uit.

Die volksleiers gaan toe na Moses en vra om vir hulle in te tree by God. Moses praat met God en die Here gee opdrag dat ‘n koperslang gemaak moet word en op ‘n paal gesit moet word reg in die middel van die laer. Elkeen wat gepik word, moet dan net na die koperslang op die paal kyk en dan sal jy nie sterf nie. Sommige het die storie nie geglo nie en het gesterf. Ander het gedoen soos Moses beveel het en is genees van hul slangbyt.

Die slang op die paal is ‘n vooruitverwysing na Christus wat verheerlik sou word op ‘n paal, ‘n kruishout, sodat elkeen wat in Hom glo nooit verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (vers 16) Met ander woorde die verlossing kom nie van onder, van jou eie menslike werk nie, maar van bo, vanuit God geinspireer.

Martin Luther het ons opnuut met sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg, die kerk van alle tye, daaraan herinner dat verlossing buite jouself lê. Christus se geregtigheid het ons geregtigheid geword. Hy het dit daarteen gehad dat mense met die aflaatstelsel of goeie werke probeer opklim na God se guns toe. Nee, God het in Jesus Christus afgeklim na ons en ons enkel alleen uit GENADE gered, sonder enige bydrae van ons kant af.

So bewerk God deur sy Gees die wedergeboorte in mense se lewens, wat selfs dikwels nie eers vra nie. God se Gees kan werk deur ‘n ligte briesie, deur ‘n ligte wind of sterkwind of selfs deur ‘n orkaan of tornado. God werk met elke mens verskillend. Daarom moet ek elke dag die werking van die Gees soek in my lewe en dit “plot” en dan sal ek ervaar dat God werk in goeie en slegte goed. Hy laat alles tot my beswil meewerk.

Soos wat ‘n mens ‘n groot wêreldkaart of streekskaart ophang en in jou huis met duimspykers aandui waar jy oral was, kan ‘n mens God ook “plot” in elke detail van my lewe. Oral langs my lewensweg het die Heilige Gees, God teenwoordig kom maak in my lewe.

Soms kan ons egter aan geestelike atrofie lei. Atrofie is soos wanneer jou arm lank in gips was en die dokter haal dit af, is jou hand baie swak, omdat die spiere nie oefeninge gekry het nie. Dit is ook waarom volstruise nie kan vlieg nie. Mense kan die werking van die Gees teenstaan en aan geestelike atrofie lei – hulle sien met ander woorde nie meer vir God in hulle lewe raak nie. Hulle ervaar nie meer die vars bries van die Heilige Gees nie. Daarom soos wat koringare meegee aan die beweging van die wind, moet ons onsself ook meegee aan die beweging van die Gees. Ons moet as’t ware saam met die Gees (wind) dans.

isenheim2

Johan Cilliers verwys na die bekende skilder Matthias Grünewald se aangrypende skildery van Johannes die Doper op die altaar in die kloosterhospitaal van Isenheim. Hande speel ‘n belangrike rol in die skildery. Daar is die biddende hande van Maria Magdalena en Maria, asook die hande van Johannes die Evangelis wat Maria vashou, die groteske verwronge hande van die Gekruisigde Jesus en dan sentraal die prominente wysvinger van Johannes die Doper wat na Jesus wys, as die Seun van God en met sy ander hand hou hy ‘n Bybelperkament vas. Johannes die Doper se hele wese sit in die wysvinger: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. So moet ons hele wese ook daarop gerig wees dat ons verlossing buite onsself is en daarom slegs in Christus Jesus gevind kan word.

In Strydenburg het ek eenmaal ‘n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ‘n kamer, ‘n leë kamer met geen meubels en die vloer was van grond. Hy het op ‘n ou verflenterde kombers gelê in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ‘n doodsroggeling tel hy sy een hand met ‘n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …….” Toe ek omkyk was dit ‘n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis.

Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself, na die Christus van die Bybel. ‘n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Wanneer vishoeke, verander word in kruishoeke ….

Wanneer vishoeke, verander word in kruishoeke ….

Ons lewe in ‘n harde wêreld waar mense daagliks vishoeke uitgooi om hulle medemens te vang. In die korporatiewe wêreld wil mense die leer van sukses klim.

Om bo uit te kom, stel hulle dilwels vishoeke met aas om hulle mededingers te uit oorlê en in ‘n slegte lig te stel. In die politieke arena, gooi politici hulle aas met vishoeke uit om hulle opponent in die slegte moontlike lig te stel. In die ekonomiese wêreld skep handelaars dikwels vishoeke met aas om kliënte aan te moedig om dinge te koop wat hulle eintlik nie kan bekostig nie. Mense skinder om mense uit hulle goeie naam te trek en hulle in ‘n swak lig te stel. In die mikroleningbedryf word mense aangemoedig om maklik geld te leen teen ‘n buitengewone rentekoers om vir hulle vir altyd slagoffers te maak van die skopper. Wanneer jy jou geld terugbetaal het, wat die skopper self namens jou trek, is jy in so ‘n slegte posisie, dat jy gedwing word om weer teen die hoë maandelike rentekoers te leen. Skoppers in die mikroleningsbedryf hou self hul kliënt se bankkaart in hulle besit, teen alle wette in. Mense gooi vishoeke uit en plant slagysters om ander in ‘n slegte lig te sien. In die Bybel lees ons dikwels van Farisieërs wat vishoek – vrae vir die Here gevra het om hom uit te lok om verkeerde antwoorde te gee, sodat hulle rede het om hom te vervolg. Hulle vra, was daarop gemik om hom uit te vang. Dikwels kan mense met die mooiste aanbiedinge en beloftes kom, net om van jou ‘n slagoffer te maak.

Natuurlik is die duiwel die bobaas visvanger. Hy het ‘n vishoek en ‘n stukkie aas wat elke soort mens sal uitvang. Vir elke mens het die duiwel sy eie aas. Dit kan aas wees van skinder, kwaadpraat, seksuele sondes, gierigheid, trots, hoogmoed, onvergewensgesindheid of enigiets anders. Hy wil ons uittrek om buite “God se wil vir ons lewe” te leef. Tereg word gepraat van die bose drie-eenheid, naamlik die duiwel, die sondige wêreld en ekself. In hierdie viswater is daar baie vishoeke, wat ons elke dag verlei om die aas van versoeking te vat.

In Mat 4: 1 – 11 lees ons ook hoedat die duiwel vir Jesus probeer versoek en vir hom vishoeke uitgooi met drie verskillende vorme van aas. Die aas lyk aantreklik, want sien die duiwel stap nie met horings by jou in nie, maar as ‘n vriendelike heer. Die duiwel versoek Jesus in die woestyn, direk na sy doop met water wat Hy van Johannes gekry het. As’t ware toets die duiwel vir Jesus of die Vader se kompliment dat Jesus die Seun van God waar is.

Jesus word onder die Gees, die woestyn ingelei, die plek waar die geeste is om in stryd met die bose geeste te gaan. Woestyne is gesien as gevaarlike plekke waar die geeste bly. Gewoonlik het die mense blou klere en geklee met amulette en simbole die woestyn ingegaan om hulle te beskerm. Waarskynlik het Jesus daarsonder die woestyn ingegaan, want ons teks meld niks daarvan nie. Die getal 40 speel ‘n belangrike rol in die Bybel. Direk na die deurtog van die Rooi See is die volk 40 jaar versoek in die woestyn. Moses het 40 dae gevas op Sinaï – berg voor hy die wet terug gebring het. Elia het 40 dae gevas op Berg Horeb.

Daar is ‘n verskil tussen beproewings en versoekings. Beproewings gebruik die Here om die beste in jou na vore te bring.Versoeking gebruik die duiwel om die slegste in jou na vore te bring. Die duiwel wil Jesus laat misluk. God is in Jesus, Jesus is in die kerk en die kerk is in die wêreld. Die duiwel wil soos ‘n skerpskutter vir Jesus uithaal uit die heilsplan van God met die wêreld.

venus-fly-trap04In die tropiese woude vind ‘n mens die bekende Venus Fly Trap. Dit is ‘n soort plant wat ‘n karnivoor is. Natuurlik kry ‘n mens baie ander soorte narnivoriese plante. Dit is plante wat op vleis lewe.

Die Venus Fly Trap lok insekte deur middel van kleur en reuk nader. Die insekte sit dan vas in die klewerige slymlaag van die plant en word ingesuig en die plant se kake gaan toe om sy slagoffer. Die plant stel ‘n “trap” vir insekte. So het die duiwel ook vir Jesus in die woestyn drie verskillende “traps” of slagysters gestel. Elkeen van die drie versoekings was op verskillende vlakke gewees. Ons kan dus as’t ware sê dat Jesus aan ‘n totale aanslag van versoekings blootgestel was.

wilderness2

Woestyne is eensame plekke. Daar is min versterkinge. Woestyne is plekke waar die geeste praat en het die bose geeste nie probeer om van Jesus besit te neem nie. Die Duiwel gebruik die oomblik van Jesus se broosheid. As iemand lê, trap op hom. Wanneer Jesus op Sy kwesbaarste is, kom die duiwel met ‘n totale aanslag.

Ten diepste is ‘n versoeking, dat die duiwel jou probeer “iets” te wil wees. Eva wou soos God wees, daarom het sy van die verbode vrug geeet. Feitlik elke sonde en versoeking kan terug gelei word na die mens wat iets anders wil wees, as waartoe God die mens geskep het. Wat wil die duiwel hê moet jy wees? Ryk, vooraanstaand, gewild, populêr, almal moet van my hou, suksesvol en so kan die lysie aanhou.

Jesus word versoek om “iemand” ander te wees, as waarvoor die Vader vir hom gestuur het. Die duiwel wil van Jesus (a) ‘n Brood Messias, (b) ‘n Sensasie Messias en (c) ‘n politieke Messias maak. (Andrie du Toit se onderskeiding.) Interresant dat die versoekings opwaarts loop van die vlaktes waar die klippe lê, na die tempel se hoogste punt en uiteindelik by die hoogste punt van die berg.

Die heel eerste versoeking gaan daaroor dat die duiwel vir Jesus versoek om in sy hongerte van klippe brode te maak. Hy wil as’t ware van Jesus ‘n Brood Messias maak wat net gekom het vir die liggaamlike nood van mense. Mense kan dikwels net ingestel wees op hulle liggaamlike behooeftes, dat hulle slegs vleeslike mense is, sonder om hulle eie spiritualiteit te herken en te verstaan. Duidelik weerstaan die Here die duiwel met die volgende woorde in vers 4: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” In geen onduidelike taal onderstreep die Here dat die mens ten diepste ‘n spirituele mens is.

Die tweede versoeking is daarop gemik om van Jesus ‘n Sensasie Messias te maak. Deur die eeue was die mensdom nog altyd ingestel op sensasie. Sensasie verkoop. Mense dagdroom oor sensasie. Die versoeking was dat Jesus van die heilige stad se tempel moet afspring en sy engele moet opdrag gee om hom te dra. Weereens weerlê Jesus die versoeking met die woorde in vers 7: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” Jesus weier om ‘n Sensasie Messias te wees. Hy sou eerder die lydende Messias word wat sy dissipels se voete sou was.

Die derde versoeking is daarop gemik om van Jesus ‘n Politieke Messias te maak. Die versoeking gaan daaroor dat die duiwel die Here na ‘n baie hoë berg

geneem het en al die Koninkryke in al hul prag en praal vir Jesus gewys het en hom versoek het om neer te val en hom (die duiwel) te aanbid, dan sal die duiwel dit alles vir die Here gee. Weereens weerstaan Jesus die versoeking om ‘n Politieke Messias te wees en die gewildheid van die massas na te jaag. In vers 10 staan daar geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” In sy drie jaar se openbare optrede was daar telkens die politieke versoeking om die Jode van die Romeinse juk te bevry. Dit het Jesus nie gedoen nie. Sy taak was nie politieke bevryding nie, maar geestelike bevryding.

Telkens kom die versoeking na ons om iemand anders te wees, as waarvoor God ons bedoel het om te wees. John Ortberg sê om moet onderskei, oor waarom ons ‘n ANDER MENS wil word. Dikwels is dit juis die versoeking in ons lewe.

Hoewel Jesus na 40 dae fisies op sy swakste is, is Hy spiritueel op sy sterkste en kan hy die totale aanslag van die duiwel weerstaan. Daarom moet ons hieruit leer dat ‘n mens spiritueel in jou binneste moet groei om die aanslae van buite te weerstaan. Kontemplatiewe spiritualiteit is ‘n beweging na binne en nie na buite nie. Eers wanneer jy innerlike vrede en rus het, kan jy na buite sterk, dapper en onverskrokke optree. Hy weerstaan die duiwel, elke keer met die Woord van God, vanuit sy innerlike sterkte.

Die moderne mens is geneig om baie liggaamlik ingestel te wees om aardse behoeftes van liggaam, mag, aansien, rykdom en besittings. Die uiterlike liggaam en voorkoms is jou “image”, jou persoonlike “idol”. Om versoekinge te weerstaan is om nie jou aptyt te bevredig na verskillende liggaamlike dinge nie. Dit is om spiritueel ingestel te wees op die influistering van die Gees. Ons enigste ware vryheid is om nie slawe van ons aptyt te wees nie. Om te kan NEE sê, maak ons vry van ons liggaamlike verslawings.

Die woestyn ervarings was ‘n voorbereiding vir Jesus wat nog vir Hom voorlê.

Wonde wat opgedoen word deur die stryd teen die Bose kan altyd geheel word – God het sy engele gestuur om Jesus te versorg. Wonde egter wat ek self opdoen deur aan versoekings te voldoen – loop dikwels lewenslank saam met my. (Uit die mond van ‘n ou kerkvader) Luther haal ook Taulerus aan : In goeie tye gebruik seevaarders roeispane, maar in tye van versoeking soek hulle hul troos in die anker. Ons enigste anker en troos is Jesus Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Om grense oor te steek na skuurpapiermense….

Alle grense wat daar bestaan is die gevolge van sonde. Reg aan die begin het Adam en Eva gesondig en hulle is uitgesit uit die Paradys, met engele as wagte van die eerste grenslyn. Met die toring van Babel was die straf van die mense dat daar skeidslyne gekom het tussen tale en kulture. Mense het mekaar nie verstaan nie en elkeen het weg getrek om die hele aarde te bewoon, soos wat God se oorspronklike opdrag was.

Daar is grense in die politiek, die ekonomie, geslagverskille, godsdiensverskille, taal en kulturele spanningsvelde. Daar is bykans nie ‘n sfeer in die samelewing waar daar nie een of ander grens bestaan tussen mense nie. Hoe banger jy is of hoe onsekerder jy is, hoe meer geneig is jy om ‘n grens of muur rondom jou te bou.

Skuurpapiermense-WEB2In elkeen se lewe is daar natuurlik ook die sogenaamde “Skuurpapiermense”, dit is nou die mense met wie ‘n mens moeilik oor die weg kom. Hulle skuur gedurig aan jou. Somtyds is dit iemand by die werk, of in die gemeenskap waar jy bly of iemand wat saam met jou in jou huis bly en somtyds kan ek self ook daardie skuurpapiermens wees. (Braam van der Schyff van Impetus gebruik die term van skuurpapiermense.)

In ons gelese gedeelte van Joh 4: 1 – 42 lees ons hoedat Jesus grense oorsteek na skuurpapiermense en nuwe verhoudinge bou. Jesus en sy dissipels het weggevlug uit Judea oor die jaloesie van die Farisieërs omdat Jesus meer dissipels maak as hulle. Hulle was toe op pad Galilea toe. Hulle het toe ‘n kort pad gevat deur die land van Samaria, waar die Samaritane gebly het. Hulle kom toe op die warmste van die dag by die dorpie Sigar. Net buite die dorp rus Jesus toe by die put, terwyl sy dissipels dorp toe is om kos te koop.

Toe gebeur die ondenkbare. Jesus maak homself onrein om ‘n Samaritaanse vrou en haar dorp rein te maak.

vrou-put-heqiDaar was drie dinge wat teen dié vrou getel het. Eerstens was dit haar afkoms. Sy was ‘n Samaritaan en Jesus was ‘n Jood. Die Jode het van die Samartiane as “honde” gepraat en daar was voordurende spanning tussen die twee groepe. Die twee groepe het ook nie met mekaar gemeng nie. Die tweede was haar geslag. In die antieke tyd was dit onbetaamlik vir ‘n man om met ‘n vrou in ‘n openbare plek soos die put te praat. Vroue was benede mans gesien en was besittings van mans. Die derde rede was dat sy reeds 5 keer geskei was en dat die 6 de man ook ‘n saambly verhouding was. In die Samaritaanse huwelikswet was daar ‘n bepaling dat ‘n vrou net drie keer mag skei. Daarna moes sy ongetroud bly. Sy was dus ‘n uitgeworpene in haar dorpie. Sy was ‘n regte skuurpapiermens. Niemand het van haar gehou nie. Dit verklaar ook waarom sy op die hittigste van die dag, 12h00 vir haar en haar diere gaan water skep. Al die vernaamste en goeie mense van goeie karakter het vroegoggend as dit nog koel is gaan water skep. Sy moes haar beurt afwag en heel laaste, wanneer die op sy warmste is gaan water skep. Sy was ook alleen – ‘n verworpene! (Tussen 10h00 en 12h00 was dit ook etenstyd – almal het geeet. Sy moes op hierdie ongerieflike tyd haar kans waag by die put).

Dan ontmoet sy Jesus. Hulle begin oor ‘n alledaagse item soos “water” te gesels. Jesus vra vir haar ‘n beker water. Onmiddelik reageer die skuurpapiervrou op ‘n sarkastiese toon op Jesus se vriendelike versoek. “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” (vers 9) Sien u hoe die vrou die grense wat in die destydse samelewing gegeld het as ‘n stuk verontwaardiging gebruik.

Maar Jesus gaan aan met die gesprek. Hy laat Hom nie van stryk bring nie, want Hy is die een wat grense oorsteek, selfs met die grofste skuurpapier of die hardkoppigste mens.

Jesus bied vir haar water aan, as sy daarvan sou drink sal sy nooit weer dors kry nie. Natuurlik bedoel Jesus dat “hyself” die lewende water is. Let op die woordspel. Die water wat by die put geskep word, vra menslike inset. Jy moet “skep”. Die water wat Jesus gee is ‘n fontein wat opborrel, dit is verniet en jy hoef nie daarvoor te delf nie. Verlossing is nie mensgemaak om te delf nie, maar word aan ons gegee uit vrye genade, dit borrel op na ons toe.

Maar die Samaritaanse vrou soek ‘n nuwe twispunt. Dit is ‘n eeue oue twispunt naamlik waar moet ‘n mens aanbid. Sy wil van godsdiensverskille weereens ‘n grens maak. Die Jode sê ‘n mens moet God in Jerusalem aanbid en die Samaritane sê die berg Gerisim (Deut 12:5) is die plek van aanbidding. Jesus ontlont die twispunt deur te sê dat God in Gees en waarheid aanbid moet word. Jesus sê as’t ware dat God nie aan ‘n bepaalde plek gebonde is nie, maar deur Sy Gees op alle plekke, in Jerusalem, op die berg Gerisim en ook hier by die put van Sigar teenwoordig is. (Gaan lees ook Ps 139) So steek Jesus ook die grens oor wat destyds bestaan het, waar jy God moet aanbid.

So breek Jesus die grense af, sodat die vrou Jesus nie meer as net ‘n profeet sien nie, maar opreg wonder of Hy nie dalk die Christus die Messias is nie. Dan gebeur die ondenkbare. Sy hardloop terug na Sigar, die dorp wat haar verwerp het en so word sy ‘n draer van die goeie boodskap. Die Samaritane gaan soek Jesus by die put. Die dorp steek ‘n grens oor om ‘n Jood by hulle waterput te ontmoet. Dan nooi die dorpelinge vir Jesus om in hulle dorp te bly. Jesus bly daar twee dae. So ondenkbaar as wat een van ons vir twee aande in Khayelitsha se plakkersgedeelte sal oornag. Baie van die dorp se mense kom tot bekering en so breek Jesus grense af tussen mense.

Nog ‘n voorbeeld in die Bybel is die verhaal van Saggeus, wat ook ‘n skuurpapiermens was.

ingenooi kleurNiemand het van hom gehou nie. Hy is gebore met ‘n Joodse naam Sagaria, maar het later sy naam verander na ‘n Griekse naan Saggeus. (Die “us” aan die einde is ‘n tipiese Griekse naamvorm). Hy was kort. Dalk het die Jode hom gespot oor sy kortheid en toe word hy Griek en samel vir die Romeinse owerheid tolgeld in. Hy was so min of meer gewild soos SANRAL met hul tolpaaie in Gauteng was. Maar die ergste was ook dat hy ‘n tipiese verneuker was en meer geld geeis het as wat hy mag en die res in sy eie sak gesit het. Hy was die grofste denkbare skuurpapiermens. En toe kies Jesus juis om in die mees ongewildste persoon in Jerusalem se huis tuis te gaan. Jesus se liefde en die feit dat hy bereid was om grense oor te steek verander Saggeus in ‘n goeie, eerbare en regverdige man.

Die barmhartige Samaritaan is ook ‘n goeie voorbeeld van ‘n Samartiaan wat ‘n Joodse man gehelp het wat onder rowers vir dood agter gelaat is. Die priester en profeet het verbygestap omdat hulle bang is hulle word onrein, as die man dalk dood sou wees en dan kan hulle nie hulle diens in die tempel nakom nie. Die reinigingswette was grense wat hulle instand moes hou. Die Samaritaan het die kulturele grens oorstap en vir die man ‘n redder geword.

Daar word ook die verhaal vertel vanuit die Middeleeue van ‘n priester wat ‘n vrou bygestaan het wie se seun selfmoord gepleeg het. In die Middeleeue het mense geglo dat as jy selfmoord pleeg jy nie hemel toe kan gaan nie. Daarom was dit die gebruik in die Middeleeuse dorpies dat dié sulkes wat hulle eie lewe geneem het, buite die dorp se kerkhof begrawe moet word. (Gelukkig sien ons dit vandag anders. God se genade het nie grense nie, ook hulle wat selfmoord pleeg word vergeef en is veilig in Jesus se arms.) Maar om terug te kom by die verhaal. Die moeder het ontroosbaar gehuil oor die verwerping van haar seun. Die priester het haar jammer gekry en gesê: “Mevrou kom ons begrawe hom buite die kerkhof soos die wet bepaal. Ek sal later ‘n plan maak.” Hy is toe so ‘n paar meter buite die kerkhof begrawe. ‘n Week later toe die vrou blomme op haar seun se graf wou opsit, kom sy agter haar seun is nou begrawe binne die kerkhof. Want sien die priester het die heining van die kerkhof verskuif om ook die seun in te sluit in die kerkhof. Tog het hy daardeur geen van die dorp se wette gebreek nie. So het Jesus ook buite die stad Jerusalem tussen die uitgeworpenes gesterf, sodat hy die grense van genade kan verlê om ons ook in te sluit in sy genade.

Wanneer ons grense instand wil hou, wat mense uitsluit, kan ons nie deel wees van God se Missio Dei nie. God breek mure af en steek grense oor, omdat sy hart van liefde brand.

Dan kan ek saam met Johannes Kerkorrel sing: “Gee jou hart vir Hillbrow, Khayelitsha, die bergie onder die brug, die straatkind by die verkeerslig, die mede-gelowiges wat anders as ek lyk, want Jesus is die Messias.”

Dan is ons plus-minus besig om God se wil te doen. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG kerk Adelaide.)