Elke mens het ’n roeping en lewensdoel.

SKRIFLESING:  Jeremia 1: 4 – 10

Elke mens is geskape met ’n lewensdoel. Ongelukkig ontdek die meeste mense nooit in hulle lewe hul lewensdoel nie. Mense ontken, soos Moses en Jeremia,  die vermoëns waarmee God hulle geskape het. Hulle soek verskonings om nie hulle roeping en lewensdoel uit te leef nie. Moses se verskoning toe die Here hom geroep het, was dat hy hakkel. Jeremia se verskoning toe die Here hom geroep het, was dat hy te jonk is om saam met die oudstes by die stadspoort te sit en dat hy nie kan praat nie. Maar voor ons geboorte, toe ons nog in die baarmoeder was, het God vir ons al elkeen ’n unieke genetiese samestelling, vermoëns en talente gegee. Dit alles het die Here vir ons gegee om ons lewensdoel en roeping te kan uitleef.

So het die Here ook met die profeet Jeremia gedoen. In Jeremia 1:  4 – 5 staan daar: “Die woord van die Here het tot my gekom: ‘Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het  uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.”Die Here het vir Jeremia ses elemente gegee om te profeteer oor Israel, naamlik die elemente van breek, uitroei, vernietig, platslaan, bou en vestig.

Die boek Jeremia handel oor God se worsteling met die ongehoorsaamheid van die volk en van Jerusalem. Jeremia profeteer daar sal ’n tyd wees van breek, uitroei, vernietig en platslaan. Daar sal ook ’n tyd van herstel en genade wees, daarom word geprofeteer: bou en vestig. Dit is min of meer die opsomming van Jeremia se roeping wat hy toe wel met oorgawe en passie uitgeleef het. Jeremia word daarom ook beskryf as een van die  groot profete van die Ou Testament.

Dit was nie vir Jeremia maklik om die oordeel oor die volk te profeteer nie. Daarom was sy verskoning dat hy te jonk is en nie kan praat nie. Hy moes dapperheid aan die dag lê om die werk as profeet aan te pak. Dit is soos in die tyd van die ontdekkingsreise as ’n skip die veilige hawe verlaat en die ontdekkingsreisiger op ’n vreemde, nuwe roete gaan en nie weet waarnatoe dit gaan lei nie.

Almal het nie noodwendig ’n geestelike roeping nie. Daar is ook die mens gerigte roepings soos dié van dokter, onderwyser, maatskaplike werker of verpleegster.  Dit kan waarskynlik ook in jou geval ’n sekulêre roeping wees soos dié van ’n sakeman, ’n boer, ’n  kunstenaar, ’n klerk of sekretaresse.  Onthou: alles onder die son, wat binne Sy wil is, behoort aan die Here. Daarom is al bogenoemde en ander beroepe ’n spesifieke roeping vir mense met spesifieke talente en vaardighede wat die Here al van moederskoot in hulle gevorm het.

Ek het die geestelike roeping van die Here ontvang om predikant te word. Hierdie roeping het ek al van Sub B (Graad 2) gehad. Deur die jare het dit al sterker geword, en uitgeloop op ’n sewejarige opleiding in die teologie. Nou, na 30 jaar in die bediening, is my roeping nog sterker as toe ek begin het as predikant. Maar so het ’n boer ook ’n roeping om met die veld, die diere of die besproeiingsgrond te werk. Sy roeping is nie minderwaardig teenoor dié van die predikant nie.

Geestelike en sekulêre beroepe  is alles heilig voor God. Die Here gebruik alle beroepe om Sy Koninkryk te bou. Daarom is jou roeping heilig.

Ons is dikwels soos Jeremia in ’n gemaksone, met ’n klomp verskonings waarom ons nie ons roeping en lewensdoel uitleef nie. Ons elkeen is van ons moederskoot bestem om in ’n rigting te ontwikkel waar ons lewensin en betekenis kan vind.

Jy kan ook deur ’n stokperdjie of gemeenskapsbetrokkenheid ’n roeping uitleef. Daar is so baie dinge wat vir mense vreugde gee. Onthou iets wat vreugde bring, is ’n roeping. As dit nie vir jou vreugde bring nie, moet jy dit los. Wat vreugde bring, bring lewensin.

Iemand het geskryf: “The meaning of life is to give life meaning.” Daarom moet ons die dinge aanpak wat vir ons vreugde gee in die lewe. Dit is ons roeping.

Dalk het jy ’n liefhebbery of stokperdjie, soos skilder, krale ryg, tapisseries maak of houtsneewerk, wat vir jou ’n vreugde is. Dalk het jy ’n sterk gemeenskapsbetrokkenheid, waar jy die roeping het om die geluk van die gemeenskap te bevorder. Dalk is jou vreugde om te dien op die ACVV, dalk help jy met die ouetehuis, of dien jy op die kerkraad of boerevereniging. Dalk dien jy op ’n munisipale raad of is jy betrokke by die dierebeskerming-organisasie. Dalk het jy die roeping om die dorp skoon te maak en te verfraai. Dalk is jou roeping om meer bome te plant. Doen wat vreugde vir jou verskaf, want die Here het dit al in jou moederskoot vir jou vasgelê, sê ons teks.

Daar is iemand wat al my preke en ook ons KLOKTORING proeflees. Sy gebruik haar talente tot voordeel van die gemeente en tot eer van God. Dít is haar roeping in ons gemeente. So help sy God se Koninkryk bevorder.

’n Roeping maak altyd ’n verskil in die wêreld. Net so het Jeremia se roeping ’n verskil gemaak in die geloofslewe van Israel.

Selfs in die moeilikste omstandighede kan jy jou roeping uitleef. In die Auschwitz konsentrasiekamp, beskryf Victor Frankl, het sekere gevangenes gedroom van ’n lewensdoel vir wanneer die oorlog verby is en hulle vrygelaat gaan word. Feitlik almal van hulle het oorleef. Die wat hulself oorgegee het aan sinloosheid en hooploosheid het feitlik almal in die konsentrasiekamp gesterf. Jou roeping of jou lewensdoel moet jou dryf, selfs wanneer dit met jou swaar gaan.

Die gevoel dat jou lewe betekenisvol vir jou gesin, familie en vir ander mense is, verskaf die grootste vreugde.  Daarom moet jou roeping en lewensdoel altyd wees om ander mense te dien. Of jy winkelrakke pak, of ’n skoonmaker is, of ’n onderwyser of ’n dokter is, jy dien ander mense. Dít is lewensvreugde.

Jeremia het betekenisvol geprofeteer en met sy roeping Israel se geskiedenis bepaal. Hy het ook troos gebring. Mag ons ook ons roeping en lewensdoel uitleef soos Jeremia. Dan kan ons tot seën wees vir baie.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

My familie-lewe moet ’n tuin wees.

SKRIFLESING:  Spreuke 15: 17, Spreuke 21: 9 en Hooglied 4: 12 – 5:1

Die Here het, om die eensaamheid van die mens weg te neem, die mens in verhoudinge geplaas. Heel eerste het Hy die huwelik tussen man en vrou georden. Hy het vir hulle kinders gegee en so is die huwelik, gesin en familie geskep. Dit is dan ook jou mees primêre verhoudings. Maar vir verhoudinge om te slaag, moet daaraan tyd spandeer word. Daarom is tydsbestuur van jou lewe en verhoudinge so belangrik. 

Tydsbestuur bly die meeste van ons se probleem. Daar word vertel van die dosent wat op ’n dag vir sy klas studente ’n demonstrasie wou gee oor tydsbestuur. Hy het ’n groot glasfles geneem en dit eers vol groot klippe gepak. Hy vra toe vir die klas of die fles versadig is. Tot hulle verbasing, gooi hy daarna ’n klomp gruis in en skud die fles. Daarna gooi hy nog fyn sand by en skud die fles en laastens gooi hy ook nog water in. Alles pas mooi in die fles.

Toe hy dieselfde inhoud van klippe, gruis, sand en water gebruik en die eksperiment omkeer en eers die water, toe die sand, toe die gruis en laastens die klippe inpak, toe pas amper die helfte van dieselfde inhoud nie in die fles nie. Net so, verklaar die dosent, moet ’n mens altyd in jou lewe begin met die groot klippe, die belangrikste prioriteite in jou lewe, en dan sal daar nog plek wees vir die alledaagse nietighede. Hierdie illustrasie wil vir ons kom sê dat ons huwelike, ons gesinne, ons familie die eerste en hoogste prioriteit in ons lewe moet wees. As ons huwelikslewe en ons gesinne en families gelukkig is, sal ons die vreugde ervaar om met oorgawe ook al ons ander pligte en verantwoordelikhede na te kom.

Maar wie sy lewe verspil op nietighede, mis die groot belangrike prioriteite in sy lewe. As ’n mens die Bybel goed bestudeer, kom ’n mens agter dat verhoudinge vir die Here baie belangrik is. Jou verhoudinge met God, met jou lewensmaat, kinders, jou familie, jou vriende en met die mense op jou pad, is vir God van kardinale belang. (In hierdie volgorde.)

Mense wat ’n vol, vervulde huweliks- en gesinslewe gelewe het, sterf baie makliker en mooier as mense wat hulself nog op hulle sterfbed kwalik neem omdat hulle hul lewensdae gemors het op nietighede. Daarom leer die Here Jesus vir ons om na die lewe te kyk vanuit die perspektief van die dood. Eers as jy jou verganklikheid besef en erken, kan jy leer om vreugdevol en sinvol verhoudings te bou. ’n Vervulde lewe is ’n lewe van goeie verhoudinge, van gesonde huwelike, gesinne en families.

Die huwelik, gesin en familie behoort altyd die veilige hawe en tuiste te wees, waar ’n persoon kan voel hy of sy is geborge en veilig.

Die duiwel is altyd daarop uit om verdeeldheid te skep in huwelike, gesinne, families en tussen vriende. Daarom is daar soveel gebrokenheid in hierdie wêreld. Die duiwel loop soos ’n brullende leeu rond om verhoudings te verskeur.

Daarom moet ’n mens na die Here toe vlug met jou huwelik, gesin en familie. Die Here wil die Beskermheer wees van jou huweliks- en gesinslewe. Maar dan moet ons binne die wil en wet van die Here leef.

Spreuke 15: 17 lees dat ’n mens nie rykdom moet najaag nie, maar eerder goeie verhoudinge: “ ’n Porsie groente met liefde daarby is beter as ’n vetgevoerde beesmet haat daarby”. Die najaag van rykdom waarborg nie goeie verhoudinge nie.

In verhoudinge moet jy die gawes van die Gees beoefen, onder andere die gees van sagmoedigheid en vredeliewendheid, want hoor wat sê koning Salomo in Spreuke 21: 9 – “Om op die hoek van ’n dak te woon,is beter as om ’n huis te deel met ’n bakleierige vrou.”

Die heiligheid van die huwelik word beskryf in Hooglied 4: 12, naamlik: “My beminde bruid is ’n tuin wat toegemaak is, ’n tuin met ’n muur om, ’n fontein wat afgekamp is.” (Afrikaanse 1983-vertaling) Salomo bedoel daarmee dat die huwelik heilig is en toegesluit is sodat geen derde party kan inmeng in die huweliksverhouding nie. Die huwelik het ’n muur om en ’n hek wat gesluit is. Die huwelik is sakraal. In die Rooms Katolieke kerk is die huweliksluiting ook ’n sakrament wat voor die Here gesluit word. Ons lewensmaat is net aan ons geleen. Omdat ons nie weet hoe lank hierdie tyd is nie, moet ’n mens die mooiste daarvan probeer maak. “Geniet jou vrou …” sê Prediker. Waar huwelike en gesinne verbrokkel, verbrokkel die samelewing.

Binne hierdie geslote tuin, is daar die ruimte om kinders groot te maak, waar hulle veilig en geborge kan voel. Daarom, in die veiligheid van die huwelik word kinders groot met die sekuriteit dat hulle ouers vir mekaar lief is. Dit is die veilige ruimte. Daarom is gesinne die boustene van God se Koninkryk.  Daarom praat ons van verbondsgesinne, wat in die verbondsgemeente saamleef. Gesonde gesinne is die boustene van die Christelike samelewing. Daarom moet ons in hierdie post-moderne samelewing weer nuwe respek kry vir die huwelik as ’n instelling van God; en die gesin as die ruimte waarbinne kinders leer om in verhoudinge te leef, om eendag as volwasse mense in goeie verhoudinge te staan met ander.

Johannes Calvyn het gesê, kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee.  Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kindertjies grootmaak in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kindertjies moet die liefde van God beleef om geborgenheid te ervaar. Die kindertjies moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef.  

Salomo praat van die huwelik as ’n tuin. Daarom is die gesin ook ’n tuin. ’n Tuin kort voortdurende werk. Die gras moet gesny word. Die bome moet gesnoei word. Grond moet omgespit word. Die tuin moet water kry. Net so moet daar aan die verhoudinge in die huwelik en in die gesin gewerk word. Verhoudinge kom nie vanself nie. Hoe meer jy energie insit in ’n verhouding, hoe nader beweeg jy na jou lewensmaat of kind.

’n Tuin kan ’n oase, ’n lushof word. Die gesin en familie kan alleen ’n oase word, as almal aan die verhoudinge binne die gesin en familie werk. Al is jy ongetroud,  het jy ’n familie en ’n vriendekring. Dan hoef niemand meer eensaam te wees nie. Dit was tog God se oorspronklike bedoeling, dat ons nie eensaam moet wees nie.

Kom ons werk in 2022 daaraan om van ons huwelike, gesinne, families en vriendekringe ’n oase en ’n lushof te maak.                                                                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die skietlood van sosiale geregtigheid.

SKRIFLESING:  Amos 4: 1 – 5, Amos 5: 4 – 6 en Amos 5: 18 – 24

Watse pretbederwer is Amos tog nie! Hoor wat sê hy:  “As jy wil sonde doen, moet jy kerk toe gaan. En as jy miskien nog meer sonde wil doen, gaan na die Nagmaal.”

Sondig en sondig lustig voort in die kerk, want so hou julle mos daarvan. Dit was die gevolgtrekking wat Amos gemaak het oor die toestand van die geloofslewe van Israel. Amos sê eintlik maar: Israel, julle is geestelik bankrot, al is julle sulke getroue kerkgangers.

God wil deur die profeet Amos die skietlood, die waterpas, aanlê teen die geloofslewe van hierdie gemeente, en teen die geloofslewe van elke gelowige afsonderlik.

Wil u die preek onthou – onthou dan die beeld van ’n muntstuk. ’n Muntstuk bestaan uit twee kante, naamlik ’n kopkant en ’n stertkant. Egte godsdiens het twee kante: Liefde tot God en liefde tot my medemens. Ja, ons het ons Here lief, maar ai, dis so moeilik om my naaste lief te hê.

Kom ek vertel eers vir u die agtergrond van die gelese gedeelte. ’n Groot godsdienstige fees was aan die gang daar in Israel toe Amos hom op die preekstoel waag. Dan lees ons hoe Amos in die eerste drie hoofstukke van sy preek, al Israel se buurvolke aanval. Ja Amos verkondig God se oordeel teen die Noorde, die Ooste, die Suide en die Weste. Dan trek Amos die net nouer. Ook Edom, die broedervolk van Israel en Juda, die noordelike stam, loop deur. Net Israel nie. In hulle feesgeroes het Israel seker hande saamgeslaan en uitgeroep: Alle volke word veroordeel, behalwe ons. Hoe anders dan: Ons is dan so godsdienstig… Ons het ons heiligdomme by Bet-el, Gilgal en Berseba. Ons bring ons offers in die môre en ons tiendes elke derde dag en dit terwyl daar dié is wat sê ons hoef dit al om die derde maand te bring. Ons gee selfs vrywillige offers. Ons hou ons feestye gereeld. Ons bring vetgemaakte kalwers en ons sing ons liedere voor God. Met ons harpmusiek plesier ons God. Voorwaar, Israel kon sê: “Ons het God lief met ons hele hart, verstand en wil.”

En natuurlik, geliefdes, het ek en u ook die Here lief. Ons kan net soos Israel sê, ons het die Here lief met ons hart, siel en verstand.

Daarom kom ons mos kerk toe, gee ons dankoffers, dien die Here op die kerkraad en onderhou ’n mooi kerkgebou vir die Here se eer. Ja, ons het die Here lief.

Dan preek Amos die tweede gedeelte van sy preek. Die feesrumoer word al stiller tot jy ’n speld kan hoor val, want hoor wat sê Amos: “ Daar kom dae oor hierdie godsdienstige volk dat hulle met hakke opgetel sal word en met dorings van agter aangejaag sal word”. Waarom klink Amos so kwaai? Israel het God lief – maar nie hul naaste nie.

Ons het God lief, maar die doen van reg aan die naaste, ontbreek. U sien dus, die rooi flikkerligte daar in die gemeente van Israel was ’n gebrek aan naasteliefde. Israel het sy mede-broeder in die grond vertrap, soos wat ’n mens ’n gogga vertrap in die grond.

En gemeente ek praat nie nou van politieke of maatskaplike onreg nie, ook nie van die Joodse vervolging onder Nazi-Duitsland nie. Nee, ek praat van alledaagse onreg wat ek en jy teen ons mede-broer en -suster pleeg, terwyl ons kerkmense is.

Ons het God lief, maar ons laat dit na om in liefde reg te laat geskied aan ander. Adrio König sê, as Amos op hierdie preekstoel van Adelaide sou geklim het, sou dit so iets klink: “Kom na die kerk, as julle wil sonde doen, na die Nagmaalstafel as julle nog meer sonde wil doen. Bring julle kollekte vroegmôre, julle maandelikse dankoffer elke derde dag. Gee julle Tiendemaand-dankoffer en deel basaarlyste uit en laat mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, gemeente van Adelaide,” sê die Here my God.   

Maar wat sê God van sulke valse godsdiens – ’n godsdiens wat net vir God liefhet, maar nie my naaste nie. Kom ons lees weer Amos 5: 21: “Ek haat, Ek verafsku julle Kersfees en Paasfees en ek het niks aan julle Nagmaalsfeeste nie. Al bring julle vir my maandelikse dankoffers en tiendemaanddankoffers, dit is nie vir my aanneemlik nie. En ek kyk nie eers na julle basaar se baie tafels nie. Gee pad voor my met die rumoer van julle liedere. En julle orrelmusiek wil ek nie hoor nie”.

Verskriklike woorde, gemeente!

U sien dus, dit gaan om die muntstuk. Hierdie muntstuk is eers eg as die kopkant en die stertkant bymekaar pas. So nie, is dit vals.

Godsdiens is eers eg as die kopkant bestaan uit liefde tot God en die stertkant bestaan uit die doen van reg aan jou naaste. Om jou naaste lief te hê beteken inderdaad om reg te laat geskied aan jou naaste. So nie, is ons godsdiens vals.

Maar luister wat sê God in Amos 5:4 – “Vra na my wil, dan sal julle lewe.”

Moenie in die kerk gaan raad soek nie, moenie na die Nagmaal gaan of verbygaan na die verootmoedigingsdiens nie. Want sê God: Bet-el, wat beteken die huis van God, sal word die huis van niks. En Gilgal sal in ballingskap gaan. In die Hebreeuse taal klink dit amper so iets: “God sal met Gilgal se gal werk.”

Eintlik sê God: Moenie die kerk se drumpel deurloop en moenie die Nagmaal bywoon as jy nie eers jou naaste leer liefkry het nie. Soek my wil, en my wil is dat jy jou naaste sal liefhê sodat jy kan lewe. Maar gemeente, dit is nou maar eenmaal so dat ek en jy nie op ons eie in staat is om ons wil na Sy wil te verander nie.  Nee, daarvoor moet ons bid vir die werk van die Heilige Gees in ons lewe.

Dit is vreeslik, gemeente, as God in Sy toorn losbrand. Want God kan dit nie verdra dat ons die reg van mense in die grond vertrap nie. God sê dit is vir Hom ’n bitter saak in vers 7 van hoofstuk 5.

Hoe vertrap ek die regte van ander mense? Tieners en jongmense kan dalk met hul opstandigheid hulle ouers nie eer nie. Ons  kan met ons tonge mense beskinder en beswadder. Ons het elkeen ’n begraafplaas, waar ons mense begrawe wat deur ons beskinder is. Ons ontneem mense geleenthede deur hulle nie in hul nood by te staan nie. Ons ontneem hulle die reg om te lewe. Dikwels vertrap ons ons lewensmaat se emosionele behoeftes deur hom of haar nie te waardeer nie. Om jou werkgewer se tyd te steel of jou werknemer nie te betaal wat hom toekom nie, vertrap jy die ander mens. Wanneer ’n mens onregverdige wins maak of onbillike rente vra, is dit ’n gruwel in die oë van die Here. Jy steel as jy nie sorg vir ordentlike huisvesting en geriewe vir jou werkers op die plaas nie. Jy vertrap regte as jy valse getuienisse in bring om jou kollega in ’n slegte lig te stel. Amos sê ons pleeg onreg as ons altyd die verkeerde begeerte het om voor in die koor te sing en nie ruimte maak vir ander mense nie. Subtiel vertrap ons die reg van ander mense deur hulle te gebruik en te hanteer soos wat ’n mens ’n kitsbank hanteer. Ons kan inderdaad praat van jou kitsbankwerknemers, kitsbankouers, kitsbankkassier of kitsbank lewensmaat.

Ons is te bang om in die oë van die armes en verontregtes te kyk, omdat ons bang is om ’n mens met behoeftes raak te sien. Ja, die grootste behoefte van die randfiguurmense, naamlik om raakgesien en respekteer te word, kyk ons mis. Om van mense kitsbanke te maak, wat net vir jou nut daar is, is sosiale onreg. Dit is om op die reg van elke mens om as mens behandel te word, te trap. Christus Jesus het mense nie as kitsbanke behandel nie. Christus het in die oë van hierdie wêreld gekyk en die nood raakgesien. Christus is in beroering gebring deur die nood van ander. As hemelkoning het Christus hom nie verhewe teruggetrek in die kerk of op die berge nie.

Nee, as Christus by die sinagoge uitgestap het, het Hy Sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mat 25: 35 – 40). As iemand dors het, of iemand is honger of naak of behoeftig, dan sê Christus: Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.

Christus in die oë van die bedelaar, die kassier wat jou help of jou bediende. In daardie oë van die mens wat stink en vuil is, moet jy dieper kyk – behandel hom soos jy Christus sou behandel het.

Dan die triomfantelike vers 24 van hoofstuk 5: “… maar laat die reg en geregtigheid aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom.” Die beelde wat Amos hier gebruik kom uit sy ervaring as boer. Watergolwe wat skielik in ’n droë loop afkom na ’n stortbui, spoel al die gemors wat daarin opgegaar is gedurende die droë maande, weg.

So moet die reg ook wees. Dit moet alle vooroordeel en verkeerde gesindhede en haat wegspoel. Ook in ons landsopset. Dit is nie die taak van die kerk om politieke stelsels uit te werk nie. Dáár moet die geregtigheid wees wat uit wedergebore kinders van God se hart vloei om die gemors van rassevooroordeel, seksisme, minagting en verkeerde gesindhede weg te spoel. Maar Amos sê, die reg moet nie net soos ’n watergolf kom en verdwyn nie. Dit moet soos ’n  standhoudende stroom water aanhoudend vloei. Dit moet oorgaan in hande-uitreiking.

Christus sê: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense. Jy moet ’n verskil maak in hierdie wêreld”. U sien dus: God vra nie hoe lief het jy my nie? God sal sien hoe lief jy Hom het in die manier waarop jy jou naaste behandel.

Moenie kerk toe kom, moenie Nagmaal toe kom, moenie jou dankoffer gee nie, moenie tot my bid nie. Gaan maak eers reg met jou medemens. Kom dan kerk toe, kom dan Nagmaal toe en bring dan jou dankoffers. Dan kan jy eers werklik bid.

Weer eens die les van die muntstuk. Die muntstuk is eers eg as die muntstuk bestaan uit ’n egte kopkant en ’n egte stertkant. Egte godsdiens is liefde tot God en liefde tot jou medemens. Kom gerus kerk toe en sondig nie meer nie. Kom gerus Nagmaal toe, maar as jy by die kerkdeur uitstap, omhels hierdie stukkende wêreld in God se liefde. Die Christusbeeld sonder arms daar in ’n Europese oorlogsbegraafplaas sê vir ons: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Deur jou wil ek die wêreld, hierdie stukkende wêreld, in my liefde heel.”                   AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Goeie nuus vir die Here se twyfelaars.

SKRIFLESING:  Gen 17: 1 – 11 en Gen 17: 15 – 27

’n Paar dekades gelede was daar ’n besoekende Engelse minister,  Macmillan,  wat ’n toespraak in Suid-Afrika gemaak het wat destyds absoluut opslae gemaak het. Hy het naamlik gepraat van “the winds of change”, wat volgens hom oor Suid-Afrika gewaai het. En vandag is “change” ook juis ’n tipiese eienskap van die kerk. Alles verander. Niks bly dieselfde nie. ’n Mens kan vandag van niks meer seker wees nie. Politiek verander, politieke stelsels kom en gaan, regerings kom aan bewind en  kom weer tot ’n val. Bekende name van bekende bakens en plekke verander, modes verander, die vorm van karre verander, kommunikasiestelsels verander, gewoontes en kulture van mense verander, ons as mense verander, ja, alles verander. Selfs die gebruike in die kerk verander. Ons leef in ’n snel-veranderende wêreld, en juis dit maak ons dikwels baie onseker.

Tog is daar een onveranderlike, naamlik die beloftes van God. Dit is die een absolute waarheid, wat vasstaan bo alles.

Ja, God se beloftes loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis. Daar is bykans 7 000 van God se beloftes in die Bybel. Op een of ander manier is hulle almal aan mekaar verbind. Christus is natuurlik nie net die sentrum van God se beloftes nie, maar alles kom ook in Hom bymekaar.

Een so ’n belofte is natuurlik God se belofte in Genesis 17. Aan ’n stokoue man Abram wat 99 jaar oud is, wie se 90-jarige vrou Sarai haar lewe lank onvrugbaar was, word ’n kind van hul eie beloof. Ja, God maak ’n belofte dat Hy aan Abram ’n groot nageslag sal skenk. Natuurlik het God die belofte van ’n groot nageslag al heelwat vroeër ook aan Abram gemaak.    

Daarom het Abram op 86 al ’n plan gemaak om God te help met sy belofte deur vir hom ’n nageslag te verwek, deur ’n kind by een van Sarai se slavinne, naamlik Hagar, te verwek. Die kind se naam is Ismael.

Toe God aan Abram verskyn en aan hom ’n kind op 99-jarige ouderdom beloof, kon Abraham nie anders as om ’n laggie van twyfel te gee nie. Hy is bykans 100 en sy vrou 90 en sy was nog nooit vrugbaar nie. Abram het sekerlik gedink God weerspreek Homself. God bedoel seker dat Ismael vir hom ’n groot nageslag sal verseker. In plaas van aan God se beloftes vas te hou, hou hy aan Ismael vas. Maar dan verseker God vir hom dat Hy vir Abram ’n kind wil gee by Sarai.

Abram twyfel, Abram wil al laggende probeer om God te aanbid. Maar wat God belowe het, het God belowe. Om Abram te help, gee God selfs ’n verbondsteken, naamlik die besnydenis. As Abraham en sy manlike nageslag na hulle liggame kyk, herinner dit hulle aan God se beloftes. God wil hul twyfel in sekerheid verander. God gee aan hulle ’n nuwe identiteit: Abram word nou Abraham en Sarai word nou Sara.

Uit Abraham en Sara is Isak gebore, wat beteken “hy lag”. In Isak het die onmoontlike gebeur.

Maar hierdie belofte het soos ’n goue draad deur die geskiedenis geloop en is vervul in Christus Jesus. In Christus het ons deel gekry aan hierdie verbond en het ons die doop ontvang as teken van die nuwe verbond, naamlik dat ons in Christus gered en verlos is.

Hierdie verbond wil vir ons sê dat in die verlossingsplan God die aktiewe is en ons mense die passiewe:

  • By die verbondsluiting in Gen 15: 12 was Abraham die slapende en het God alleen in die gedaante van ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deurbeweeg.
  • Abraham was kinderloos. God het vir hom ’n kind gegee op ’n hoë ouderdom.
  • Die besnydenis is as teken gegee vir seuntjies van agt dae oud. Wat weet hulle dan en wat verstaan hulle hiervan?

God is die handelende een. God red en ons is passiewe toeskouers. Ons ontvang net die genade. God kom verbind Hom aan ons. Hy neem ons aan.

Tog maak ons dieselfde fout as Abraham wat na Ismael gekyk het in plaas van na God se beloftes. Ons wil “the winds of change” aanbring, en die Here help, soos Abraham ook vir God wou help.

Ons wil onsself aan God verbind deur ’n handjie by te sit.

  • Ons roem oor ons groot geloof.
  • Ons roem daarin dat ons die Here aangeneem het.
  • Ons roem in ons bekeerdatum.
  • Ons roem in ons goeie werke.
  • Mense wil weer gedoop word as bevestiging van hulle aandeel aan hulle eie verlossing.

Maar al bogenoemde goed is alles gawes van die Here aan ons. Hy skenk vir ons die geloof, die Here neem vir ons aan, die Here wek die bekering in ons harte. Dit is nie die mense se trou nie, maar God se trou, wat vasstaan.

As ons somtyds wil twyfel aan ons kindskap van die Here, is dit omdat ons ons sekerheid soek in ons eie goeie kwaliteite. Nee, ons sekerheid lê buite onsself in wat God vir ons gedoen het.

Wanneer ’n mens op ’n boot is en die boot skud gevaarlik rond in die stormwind, dan moet jy die anker uitgooi. Maar jy gooi nie die anker op die boot se dek nie, jy gooi dit buite die boot in die dieptes van die see. Dit is geanker buite die skip. Netso, moet ek my saligheid nie in myself soek nie, maar buite myself in wat Jesus Christus vir my gedoen het. Nie my emosies is my anker nie, maar Jesus Christus is my anker.

Johannes 3: 16 lees as volg: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Die vetgedrukte gedeelte verduidelik dat nie die onderwerp van die sinsnede my red nie. Nee, die objek van die sinsnede is my redding. Die woordjie “in” is in die Grieks in die instrumentele datief geskryf wat beteken: Christus is die instrument waardeur ek gered is.

Daarom hoef ek nooit te twyfel in my geloof, of bekering of aanneming van die Here nie, want dit is nie ek wat dit doen nie, maar God self wat dit bewerk in ons lewens.

Daarom moet ons versigtig wees vir ons emosies, aangesien ons emosies so wisselvallig kan wees. Wanneer ons sekerheid soek, moet ons dit soek in die beloftes van God se Woord wat vasstaan. Somtyds gaan ’n mens deur twyfel in jou lewe. Dan wonder ’n mens byvoorbeeld of God ’n mens se gebed verhoor het, of jy wonder waarom jy so swaar moet kry.

In sulke tye moet ons vashou aan God se ewige beloftes. Ek moet aan die teksverse van die Bybel vashou, soos wat ’n mens aan ’n reddingstou vashou. Ek voel nie elke dag dieselfde nie, maar God is elke dag dieselfde.

Daarom hou ek, deur my twyfel, aan Jesus Christus vas!      AMEN

(Erkenning word gegee aan Dr Andries Cilliers vir gedeeltelike gebruik van sy preekskets. Die res is my persoonlike inspirasie en werk)

[Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide]

Ons moet God se geure en kleure wees.

SKRIFLESING: Mat 5: 13 – 16

Eugene Peterson in The Message, vertaal Mat 5: 13 – 16 as volg: “Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage. Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world.

God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.”.

Dr. Chris van Wyk lig twee sake uit. Die sout-metafoor word vertaal met “God-flavors” en die lig-metafoor word vertaal met “God-colors”. Ons moet met ander woorde God se geure en kleure wees in hierdie wêreld. Ons moet geur en kleur gee aan hierdie wêreld.

 Ons roeping in die lewe kom daarop neer dat:

  • mense God moet kan proe in hoe ons lewe en hoe ons optree.
  • mense God moet kan sien in hoe ons optree.

Dit is twee van ons vernaamste sintuie, naamlik om te kan proe en te  kan sien.

  1. ) Die eerste oproep is, dat ons  “God-flavors” sal versprei:

Ons praat van “sout van die aarde mense”. Dan bedoel ons dit is goeie mense. Maar voordat ek dit kan word, moet ek eers “sout vir die aarde” word.

Sout is iets alledaags en baie goed bekend. In die antieke wêreld het sout selfs meer funksies as vandag gehad. Hier is ’n paar eienskappe van sout:

Sout gee smaak. Deur ’n bietjie sout by kos te gooi, kry die voedsel smaak. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld.

Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om vleis te bewaar. Biltong en snoek is ’n lekkerny, omdat dit gesout word! Sout preserveer. As gelowiges is ons soos sout wat die lewe preserveer. Die wêreld word ’n veiliger plek waar mense wat die dinge van die Here doen, hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.

Sout genees bederf en verrotting. In die ou tyd is wonde met sout uitgewas om infeksie te verhoed. Na jou tand getrek is, kan jy jou mond gereeld met soutwater uitspoel.  Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ’n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit skoon te maak. Sout se krag lê daarin dat dit ’n verskil maak in ’n wêreld waar bedorwenheid en verrotting so maklik plaasvind. Christene moet die agteruitgang van die samelewing keer en help stuit, deur hulle getuienis.

Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout kry sy bestaansreg net as dit gebruik word. Sout moet oplos voordat dit voordeel en smaak kan bring.

In die destydse Palestina was die kwaliteit van sout wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed nie Die swak sout gaan af, en het geen krag nie. Dit word weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van die Fariseërs en Skrifgeleerdes te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ’n manier bedryf het wat sy krag verloor het, deur mensgemaakte, wettiese prosedures voorop te stel.

’n Mens kry tot vandag toe mense wat die dien van die Here verwar met tradisie. Ten diepste is dit ’n selfgesentreerde vorm van godsdiens eerder as die uitgiet van jou lewe in diens van ander.

2.) Die tweede oproep is dat ons “God-colors” sal versprei:

Lig is ’n basiese element van die lewe. Met die skepping het God lig geskep. Die duisternis was voor die lig. Maar God het lig in die duisternis geskep, sodat daar dag en nag kan wees. Christus het ook gekom as Lig vir die wêreld wat in sonde-duisternis verkeer.

Ferdinand Deist skryf treffend oor die ligmetafoor: “Waar Hy ook al gaan, bring Hy lig, bring Hy lewensruimte en lewensvreugde. Elkeen wat met Hom in kontak kom, se lewe kry nuwe sin en betekenis: Saggeus, Nikodemus, Maria, Magdalena, Petrus,  Thomas, almal. Oral is Jesus besig om God se skeppingslig aan te steek.” Daarom,  as ons die waardes van God se Koninkryk uitlewe, verdryf ons ook die duisternis uit ons huise en uit die wêreld uit.

Mense kom na lig toe. Soos ’n kers motte aantrek, trek lig ook mense nader. Lig skep gemeenskap tussen mense. Jesus Christus het ook bedoel dat Sy lig die nasies van die wêreld moet nadertrek.

Jesus se lig moet ook ons huise verlig. In die Bybelse tyd was daar net een-vertrek huise. Die lig het in die hele huis geskyn. Daar was nie donker plekkies in die huis nie. So moet Jesus se lig ook lig kom gee in ons huise, huwelike en gesinne. Natuurlik sê ons skrifgedeelte dat Jesus se lig bedoel is vir die hele wêreld. Dit is ’n verskriklike slegte advertensie vir die Christendom as Christene nie sigbaar in die wêreld is nie. Spurgeon het treffend opgemerk dat Christus in die woonvertrek moet skyn, eerder as die gastekamer. Daarmee bedoel hy dat Christus elke dag gelewe moet word en nie slegs by spesiale geleenthede om ons beter te laat vertoon nie. Ons is nie geheime diens-agente van die Here nie.

Gerard Hennig skryf dat ’n dissipel sy dissipelskap net so min kan wegsteek as wat ’n lig sy strale kan wegsteek. ’n Christen hoort in die middel van die wêreld soos ’n lamp in die middel van ’n vertrek. 

Mag ons soos Eugene Petersen skryf, “God-flavors” en “God-colors” op hierdie aarde en in die wêreld wees.                                                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Nie reëls nie, maar verhoudings.

SKRIFLESING: Eksodus 20 en Mat 23: 23

Wanneer het ’n mens ontsag vir God en Sy wil? In die ou dae het mense geglo dat jy niks op die Bybel mag sit nie. Die Bybel moet altyd bo lê. Daar is geglo jy moet elke Sondag met ’n pak klere of met ’n hoed na die erediens toe gaan. Jy moet Sondag stil deurbring en nie lawaai maak nie. Jy mag nie swem op ’n Sondag nie. Jy mag nie brei of met ’n naald op ’n Sondag werk nie, anders steek jy dit in die oë van die Here. Ontsag vir God in die ou dae het beteken om sekere dinge nie te doen nie.

Wanneer die Bybel praat oor ontsag, praat die Bybel oor verhoudinge.

Daar word vertel van Petrov die getroue kerkganger. Hy was ’n brandarm houtkapper, ’n godvresende mens wat gereeld in die kerk op die dorp was. Skielik het hy opgehou om kerk toe te gaan. Hy het baie katte gehad. Die mense het begin skinder oor  die katte wat hy in die woud ingeneem het. En dat die katte nie weer terugkom nie. Hulle het geglo hy is met satansdinge besig. Die kerkraad het ’n waarskuwingsbrief geskryf, hom onder sensuur geplaas en hom later afgesny. Hy het in afsondering gesterf. Na sy dood het dit geblyk dat hy in werklikheid melaatses versorg het en vir hulle katte geneem het sodat die melaatses iets het om te streel en dit het vir hulle vreugde gebring. Hy het ook vir die melaatses huisvesting gebou. Na sy dood het die brief by die predikant uitgekom via die prokureur. Dit het onder andere gelui dat hy vergifnis vra vir sy gedrag, want hy wou nie die ander mense aansteek met melaatsheid nie. Dit is ontsag vir God, naamlik om vir die melaatses te sorg ten spyte van die gevolge.

Die Tien Gebooie gaan oor om ontsag vir God en jou medemens te hê. Dit begin met ’n bevrydingswoord in Eksodus 20 : 2 – “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.” Eers die bevryding en dan verwag die Here van ons om in die regte verhouding met God en ons naaste te leef.

Die eerste gebod gaan daaroor dat jy net met die enigste God ’n verhouding moet hê. Daar mag geen verhouding met ’n ander god wees nie. Die tweede gebod beveel ’n persoonlike intieme verhouding en nie die buiging voor afbeeldings van die Here nie.  Die derde gebod is dat jou verhouding met die Here so moet wees dat jy ontsag vir sy Naam het en dit nie moet misbruik nie, maar eerder uitbrei. Die vierde gebod beveel dat jy jou verhouding met die Here moet versterk deur die bywoning van eredienste op die Sabbat (nou, die Sondag). Op Sondag moet jy tyd maak vir ander mense. Op Sondag moet jy kuier met ander mense. Die vyfde gebod sê dat jy ’n goeie verhouding met jou ouers moet hê en dat hulle raad gewig moet dra in jou lewe.    Die sesde gebod is dat jou verhoudinge  so moet wees dat jy nie ander mense met daad of met woorde mag vermoor nie. Die sewende gebod sê dat jou verhouding met jou lewensmaat van diepte en getrouheid moet getuig. Die agste gebod beveel dat jou verhouding met ander mense so moet wees dat jy nie hulle goed sal vat nie. Die negende gebod beveel dat jy jou verhouding met ander mense sal eer deur nie valse dinge van hulle te versprei nie. Die tiende gebod beveel dat jou verhouding met ander mense so sal wees dat jy nie hulle goed of prestasies sal begeer nie.

Mat 23: 23, die ander opsomming van die wet, handel ook oor verhoudings. Dit lees as volg: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.” Weereens beklemtoon die Here Jesus dat nie die dinge wat jy doen die Here eer nie, maar eerder die dinge in die verhoudings van reg, barmhartigheid en trou.

Die bergpredikasie gaan ook oor die regte verhoudinge, soos sagmoedigheid, barmhartigheid, regverdigheid en so meer. Eers dan het jy ontsag vir God.

’n Ware verhaal in die Tweede Wêreldoorlog handel oor ’n kerk wat in die oorlog geannekseer is as ’n mediese hospitaal. Die pasiënte het op die kerkbanke gelê en daarom het die kerkbanke gedien as beddens. Verskeie Bybels is toegedraai met linne en as kopkussings gebruik. Die Nagmaalstafel het gedien as operasietafel en met die Nagmaalsbeker is urine en bloed opgevang. Die Nagmaalsborde het gedien as borde om die chirurgiese instrumente  op te plaas. Die konsistorie was die lykshuis.

Is die kerk onteer? Nee, beslis nie. Godsdiens gaan nie oor dinge en reëls nie, maar oor verhoudinge. Dit is waarom die Here Jesus na die wêreld toe gekom het. Hy het gekom om te dien en om verhoudinge te skep. Daarom het Hy ook die kerk gestig, sodat daar verhoudinge kan wees met mekaar en met God.

Godsdiens gaan nie oor dinge en sinlose reëls en wette nie. Jesus Christus het gekom en die Ou Testamentiese reëls kom vervul. Jesus Christus het op ’n Sondag siekes gesond gemaak, tot die argwaan van die Farisieërs en skrifgeleerdes. Hy het op ’n Sondag koring gepluk op die lande.

Daarom kan jy saam met jou kinders swem op ’n Sondagmiddag, want daardeur bou jy verhoudinge met jou kinders.  Jy eer die Here, as jy verhoudinge bou.

Moenie reëls en wette verafgod nie. Die nuwe Testament leer vir ons dat verhoudinge meer belangrik is as die hou van reëls en wette.

Mense onthou nie noodwendig wat jy vir hulle gedoen het nie, maar hulle onthou hoe jy hulle laat voel het.  

Die hele Christelike lewe gaan oor verhoudinge.                                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Om in jou element te wees, beteken om ’n opofferende lewe te leef .

SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 31

Het u al gesien hoe ’n hond ’n rob jaag op die seestrand? Dit is te potsierlik. Iemand het dit so mooi as volg beskryf.

Die pogings van die rob om weg te hardloop van die hond was potsierlik, bespotlik en lagwekkend. Met patetiese inspanning het hy die water probeer haal. Elke maal as die hond naderkom, het dit vir ’n oomblik gelyk asof hy weer na die sandduine toe wou uitwyk, om dan maar weer te besluit dat dit veiliger is water toe! Met flappende voorvoete wat dreig om onder hom dubbeld te vou, het hy die vlak water bereik. Die geringste klammigheid het ’n verbasende metamorfose veroorsaak, sy sanderige robvel het skielik skitterend geblink en ’n ongelooflike soepelheid het oor sy liggaam gekom. Weg was die potsierlike lompheid. Toe hy die diep water bereik, was die gedaanteverwisseling volkome. Met grasieuse hale het hy die water deurklief en ’n satynswart streep deur die water gevorm, diepsee toe!

Toe was die hond weer verleë en potsierlik. Hy ploeter in die vlak water rond en hardloop vir elke brander weg, want hy is ontuis daarin. Die rob, egter, het die water in beweeg, baldadig en behendig soos ’n saamgeperste bondel energie wat skielik ontplof het. ’n Swemmende rob is ’n sonderlinge gesig. Dis byna asof ek ’n juigkreet vanuit die water kon hoor – die rob was weer in sy element!

Robbe is nie gemaak vir sandduine en skoorsoekende honde nie. Robbe is gemaak vir die water. Dit is die omgewing waarin hulle tuis voel en die beste aard. Daar kom hulle ongelooflike swemvermoë ten volle na vore. Daar bestaan hulle nie maar net nie – daar leef hulle.

Die parallel kan ’n mens deurtrek na die verlore seun. By sy vader was hy “in die water, in sy element.” Toe hy egter wegloop, sy vader verlaat, was hy te bespotlik en potsierlik. Hy het by ’n varkplaas beland waar hy gewens het hy kon van die varke se kos eet. Varke is inderdaad vir die Jode onrein en so het hierdie verlore seun in der waarheid onrein geword.

Eers nadat hy teruggekeer het na sy vader, was hy weer in die water, in sy “element”.

Buite Christus om, is ons soos ’n rob wat dit op die seestrand waag – te potsierlik en bespotlik. Ons is buite ons element. Ons ontdek telkens weer dat daar in die ver land van sonde vir ons net vodde en varkkos wag.

Dan ervaar ons die skrynende verlange om terug te keer na die Here, waar daar lewe, lig en vreugde is. Daarom bely Augustinus: “Ons is vir God geskape en ons vind nêrens in die groot heelal rus, voordat ons rus gevind het in Hom nie.”

By Hom word ons “nuwe mense”. Daarom sê Christus in Johannes 15: 4 – 5 die volgende: Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.  Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”

In Christus is ons in ons “element”.

Waar wil u wees in 2022? Wil u soos die rob buite u element wees of wil u die rob wees binne u element? Wil u grasieus lewe in 2022? Dan moet u en ek in Christus wees.

Wat beteken dit om “in Christus” te wees?” Dit is om ’n opofferende lewe te lewe.

Twee ploegskare is van dieselfde ru-yster gemaak. Een is aan ’n boer verkoop wat dit voortdurend gebruik het. Die ander een het op die rak van die hardewarewinkel gebly, onverkoop totdat dit met roes bedek was. Die boer het sy ou ploegskaar saamgebring om nog een soos dit te kry. Die gebruikte ploegskaar het soos ’n silwer spieël geblink, terwyl die ongebruikte een heeltemal opgeroes was.   “Hoe is dit,” vra die geroeste een, “dat jy so blink geword het en ek so lelik geword het, ten spyte van my maklike lewe hier op die winkelrak? Eens was ons eenders.” Die blink ploegskaar sê: “Maar ek het my lewe opgeoffer in die landerye.”

Is u “in Christus?” As u “in Christus” is, dan moet u en ek ’n opofferende lewe leef. Ek moet soos die blink ploegskaar wees, wat myself offer vir die Here.

Offer ek myself in my binnekamer? Offer ek myself deur kerk toe te gaan? Offer ek myself deur die wyksbyeenkomste by te woon?  Offer ek myself deur my dankoffer gereeld te gee? Offer ek myself deur  die armes te help? Offer ek myself deur ’n voorbeeldige lewe te leef?

Is ek vanoggend ’n silwer blink ploegskaar of is ek ’n geroeste ploegskaar?

Die verlore seun het homself nie geoffer nie. Hy wou nie vir sy vader werk nie. Hy wou sy lewe verkwis deur ’n maklike lewe te leef in ’n ver land sonder enige opofferings vir sy vader.  Daarom het hy geroes van die los lewe wat hy geleef het.

Daar is ’n verskil tussen ’n bydrae en totale toewyding. ’n Hoender en ’n vark het eendag verby ’n kerkgebou gestap toe hulle die Sondagoggend-preek op die buite-bulletinbord opgemerk het, “Help die Armes.” Hulle het aangestap met die pad toe die hoender skielik met ’n voorstel gekom het. “Sê my, broer vark, hoekom gee ons nie vir al die arm mense ’n lekker ontbyt van ham en eiers nie?” Die vark het ’n oomblik gedink en geantwoord: “Dit is reg vir jou om te sê, want vir jou is dit net ’n bydrae, maar vir my is dit totale toewyding!”

Jesus het in Sy sending geslaag omdat Hy totaal toegewyd was aan die taak voor Hom. Hy was bereid om alles prys te gee, selfs Sy lewe. Niemand slaag regtig in die lewe totdat hy die punt bereik waar hy bereid is om sy lewe af te lê nie. Jesus het gesê: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen.”

Almal kla so oor die kerk wat leeg is en kyk na die ander op ’n beskuldigende wyse. Die arme predikant voel later as’t ware skuldig. Gypsy Smith is eenkeer gevra hoe om ’n herlewing te begin. Hy het geantwoord: “Gaan huis toe, sluit jouself toe in jou kamer en kniel in die middel van jou vloer. Trek ’n krytmerk reg rondom jouself en vra God om die herlewing binne daardie krytmerk te begin. Wanneer hy jou gebed verhoor het, sal die herlewing daar wees”.

Die verlore seun het opgeroes as gevolg van sy sonde in die vreemde land weg van sy vader af. Wie weg van Christus lewe, sal roes. Wees eerder in Christus. Dan sal jy soos ’n rob in die see wees. Dit vra egter van jou ’n opofferende lewe.

Is jy bereid om in 2022 jou lewe te offer aan Christus?            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die dood is ’n metamorfose in iemand nuuts.

SKRIFLESING: 1 Kor 15: 35 – 58

Dr. Donald Gray Barnhouse was ’n bekende predikant in Philadelphia en sy eerste vrou is aan kanker oorlede terwyl sy nog in haar dertigs was. Al drie sy kinders was jonger as twaalf. Dr. Barnhouse het die moed gehad om self die begrafnispreek te lewer. Op pad na die begrafnis het ’n groot vragmotor verby hulle gery. Die vragmotor het ’n skaduwee oor hul motor gegooi. Hy het vir een van sy kinders gevra: “Wil jy liewer deur daardie trok of sy skaduwee omgery word?” “Deur die skaduwee, natuurlik!” antwoord die twaalfjarige dogter. ’n Skaduwee kan jou nie seermaak nie.” Met daardie antwoord het dr. Barnhouse aan sy drie moederlose kinders gesê: “Julle ma is nie deur die dood oorval nie, maar deur die doodskaduwee.” By die begrafnis het hy oor Psalm 23:4 gepraat: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Afrikaanse 1953 vertaling)

Die dood gooi net ’n skaduwee oor ons, want die dood is nie in staat om ons finaal te verslaan nie. Ons glo in die ewige lewe na die dood. Daarom skryf Paulus in 1 Korinthiërs 15: 55 die volgende: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Louena Engelbrecht leef by die Here. Louena Engelbrecht was die dogter van Hendrik en Lena Engelbrecht. Sy is gebore op 26 Junie 1944 en sy het op Tamboekiesfontein grootgeword. Later het hulle na Weltevrede getrek. Sy was in Adelaide op skool. In Standerd 6 het sy na Grens Hoërskool in Oos-London gegaan en daar haar matriek verkry. Sy is daarna na die landboukollege op Grootfontein waar sy ’n landboudiploma verwerf het. Sy het ook haar Springbokkop gekry om wol en bokhaar te klas. Sy het daarna vir omtrent ’n jaar in die destydse Suidwes-Afrika gaan werk. Sy het teruggekom om haar ma by te staan en het begin met haar eie boerdery. Sy het vir baie jare vele boere gehelp met die skeer van skape en bokke. Sy was ook lank lid van die Post Retief Boerevereniging en het ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel. Sy het vir lank vir Post Retief Buiteklub tennis gespeel en later vir die Winterbergklub. Sy was passievol oor die boerdery en baie lief vir diere. Sy kon dit nooit oor haar hart kry om haar vee op die vendusies verkoop te kry nie! Dus het sy altyd iemand anders gevra om haar vee namens haar te verkoop. Sy het ’n besondere liefde gehad vir Dexter-beeste.

Later was sy vir baie jare die kurator by Adelaide se museum en het seker gemaak die geskiedenis word bewaar. Sy was besonder bekwaam om die familiegeskiedenis van die families in die Winterberg-distrik uit te lê. Sy was ’n goeie mens en het dikwels mense gehelp sonder dat ander daarvan weet. Haar humorsin was uitstekend en jy kon haar terg en met haar ’n grappie maak en sy kon dit vat. Baie lief vir gesels was sy. Sy was nooit getroud nie, maar sy het haar eie alleenheid ook geniet. Saam met haar swetterjoel katte was sy baie gelukkig op haar eie. Sy het die afgelope tyd egter begin siek word en al hoe swakker geword, sodat sy nie meer kon loop nie. Sy is toe opgeneem in Huis Corrie Dreyer. Die afgelope meer as twee maande was sy in hospitale in Port Elizabeth en het afgesterf op laat Sondagmiddag, 9 Januarie 2022.

Die skaduwee van die dood het oor haar geval, maar die dood het haar nie oorval nie. Die angel van die dood het haar nie gesteek nie. Die Here Jesus het met Sy dood en opstanding die angel uit die dood kom haal.

Louena is deur die dood bevry van haar siekte en meegaande aardse sorge en bekommernisse. Volgens ons skrifgedeelte is die dood die metamorfose, wat Louena nuut maak en vir haar ’n geestelike onsterflike liggaam gee, vry van enige pyn en bekommernis.  Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond plant? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd ’n welige oes sal oplewer. ’n Menslike begrafnis is ’n heel ander saak. Dit wek veel dieper emosies vanweë ons gehegtheid aan die liggaam wat in die graf gelê is. Maar vir Christene word hierdie hartseer getemper deur die wete dat die wat in die Here sterf veilig by Hom is, en dat ons eendag met hulle herenig sal word, nie net in ons gees nie, maar ook in nuwe en verheerlikte liggame.

Hierdie metamorfose in iemand nuuts word uitgedruk in ons skrifgedeelte in 1 Kor 15: 42 – 44 wat so lees: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies:Wat gesaai word in verganklikheid,  word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word,  is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam.” Ons word totaal omskep in iemand nuuts.

Die volgende paar beelde of metafore het ek raakgelees oor die metamorfose wat die dood teweegbring, sodat jy ’n nuwe geestelike wese word:   

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat DL Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewendig wees as nou.”

’n Dogtertjie wie se bababoetie pas dood is, het haar ma gevra waarheen haar boetie gegaan het. “Om by Jesus te wees,” antwoord haar ma. ’n Paar dae later, terwyl sy met ’n vriendin gepraat het, het die ma gesê: “Ek is so hartseer dat ek my baba verloor het.” Die dogtertjie het haar gehoor, en onthou wat haar ma vir haar gesê het, opgekyk en gevra: “Ma, is iets verlore as jy weet waar dit is?” “Nee, natuurlik nie.” “Wel, hoe kan boetie dan verlore gaan as hy by Jesus is?” Haar ma het dit nooit vergeet nie. Dit was die waarheid.

Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte doppe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke opgetel en weggevlieg.” So is dit met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke opgeneem en weggevlieg het.

Arthur Brisbane het eenkeer in ’n tekening ’n “skare” bedroefde ruspes voorgestel wat die lyk van ’n kokon na sy laaste rusplek dra. Die arme benoude ruspes, geklee in swart, het gehuil, en die hele tyd het die pragtige skoenlapper vrolik bo die aarde gefladder, vir ewig bevry van sy aardse dop. Nodeloos om te sê, Brisbane het die gemiddelde ortodokse begrafnis in gedagte gehad en probeer om die idee oor te dra dat wanneer ons geliefdes sterf, dit dwaas is om net die kokon te onthou en ons aandag op die oorblyfsels te konsentreer, terwyl ons die helder skoenlapper vergeet. Die dood is slegs ’n metamorfose.

Die dood is nie so verskriklik nie. Ons ervaar net die doodskaduwee, maar nie die dood nie, want Christus het die dood klaar oorwin. Die dood is ’n verlossende metamorfose in iemand nuuts.                                                     AMEN

[Beelde is direk vertaal uit Bible Illustrations (AMG International Inc)]

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

God omring my van alle kante.

SKRIFLESING: Psalm 139: 1 – 24

Verbeel jou dat jy al vyf dae ronddobber op die oop see in ’n rubberbootjie.

Daar is water oral rondom jou. Sovêr jy kan sien is dit net see. Boonop is daar digte miswolke rondom jou en jy kan omtrent nie sien nie. Alles is nat. Die water omsluit jou van alle kante.

Daar is baie dinge wat jou kan omsluit en omring:

Jou program kan ’n gejaagde program wees, waar jy altyd in ’n haas is om dinge af te handel. Dit omsluit en omring jou. Jy sukkel om kop bo water te hou van al die verantwoordelikhede. Jy voel kompleet of jou liggaam jou siel êrens langs die pad verloor het. Jy voel soos ’n siellose liggaam.

Jou eensaamheid kan jou omring. Dink aan die bejaardes wat dikwels hulle dae in eensaamheid deurbring in hulle ouetehuiskamer. Jy word omring deur niks, deur leë dae.

Jou onsekerheid kan jou omring in hierdie “nuwe” Suid-Afrika. Alles in ons land is op ’n breekpunt en het onseker geword. Ons is onseker van die ekonomie, die politiek en die maatskaplike verval van ons land.  Dit lê soos ’n swaar klip op my. Daarom verlaat baie mense die land, omdat hulle nie meer met die onsekerhede kan saamleef nie.

Dalk word jy omring deur siekte, wat jou soos ’n donker wolk omsluit. Dit vul jou gedagtes en lewe. Jy sien as’t ware hoe die einde van jou lewe naderkom en jy is bevrees vir die onbekende.

Watter donker dinge storm op jou af in 2022? Watter dinge omsluit jou van alle kante?

Psalm 139 vertel van ’n man wat van alle kante omsluit was. Maar hy was nie omsluit van dinge nie, maar deur Iemand. Hierdie Iemand is die Here.

Eers was hy bang. Die Here weet van alles. Die Here ken selfs ons gedagtes en Hy ken ons hart en niere (gewete). Jy kan nêrens vir die Here wegkruip nie, selfs nie eers onder ’n skulpie nie.

’n Mens is soos ’n vis in ’n ronde glas visbak. Die vis kan nêrens wegkruip nie. So kan ons ook nie vir God wegkruip nie. Soos ’n X-straalfoto kan die Here al jou bangheid, afgode, vrees en twyfel raaksien. God ken jou vingerafdrukke en die iris van jou oog. Selfs jou bankrekening is vir God geopenbaar. Ek kan nie vir God wegkruip nie.

Nog voor ek by ’n plek kom, is God alreeds daar. Ek kan nie vir God weghardloop nie. Waar ek nog moet kom, daar is God alreeds. Daarom is God se alomteenwoordigheid vir my ’n troos in my onsekerhede.

Ek hoef nie bang te wees nie! Is ’n vis bang vir water? Nee, dit is lewegewend.

Iemand het eendag die verhaal vertel van ‘n klein baba-vissie wat in ‘n toestand is, en op en af en heen en weer swem, gespanne en bekommerd. Hy is desperaat. ‘n Groter vis kom verby en vra hom wat aangaan, en hoekom hy so te kere gaan. Die baba-vissie sê: “Ek het gehoor ons het water nodig om te lewe. Ek weet nie waar om water te kry nie! Help! Ek sal doodgaan, as ek nie dringend by die water uitkom nie!” Toe antwoord die groter vis: “Maar jy IS in die water! Jy het die hele oseaan tot jou beskikking! Ontspan… laat gaan …”.  

Ons het nodig om deur die Here omring te word, net soos dit vir ’n vis nodig is om deur lewegewende water omring te word. Ek kan nie een enkele oomblik sonder God wees nie. Dan is ek soos ’n vis op droë grond wat na sy asem smag.

Waar is die Here? Hy is in die hemel, op die plafon, agter die deur, in die kamer, by die skool, in die skaapkraal, op die hoogste berg en tot aan die uithoeke van die wêreld. 

Luther het gesê: God is nader aan jou as wat jou klere aan jou lyf is. Hy is binne ons.

Daarom is die Vader – Alomteenwoordig.

Daarom is die Seun – Immanuel by ons.

Daarom is die Heilige Gees – die Trooster wat met almal is op alle plekke.

Die skrifgedeelte sê ook dat God my geken het toe ek nog in my moeder se skoot was. God het ’n duidelike sonar van my gehad. Soos die baarmoedervloeistof die baba omring, word ek van voor my geboorte deur God omring.

Al ons lewensdae is opgeskryf in God se boek.

Christene van die vierde eeu na Christus het mekaar met die volgende seëngroet herinner aan die teenwoordigheid van die Here:

“Die Here is voor jou …..

Om die weg gelyk te maak.

Die Here is langs jou …..

Om jou in Sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou ….

Om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou …..

Om jou te dra as jy mag val.

Die Here is rondom jou ….

Om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou ….

Om jou te seën.

Die Here is binne jou …..

Om jou te inspireer en te lei.

Van nou af tot in ewigheid.”

Die boodskap van Psalm 139 is dat God ons ken van binne en buite. Hy ken selfs ons niere, wat beteken Hy ken ons gewete. Ons is geregistreer op God se databasis. God weet van ons in 2022. God is met ons in 2022.

Hierdie Psalm 139 beskryf baie mooi die alomteenwoordigheid van God. Wat beteken dit dat ons bely dat God alomteenwoordig is? Die voorvoegsel “alom” is afgelei van die Latynse betekenis “alles”. Daarom beteken God se alomteenwoordig dat God oral en in alles teenwoordig is. Daarom is God ook teenwoordig in alles van jou lewe, soos jou swaarkry, siekte en bekommernis, alleenheid en jou persoonlike menslike lyding.

’n Mens kan God se alomteenwoordigheid wel nie sien nie, maar dit is daar. Oral rondom jou is daar geluide, seine en radiogolwe. Jy kan dit nie sien nie, maar as jy ’n instrument soos ’n radio of selfoon aanskakel, dan kan jy dit skielik sien en hoor. So is God se alomteenwoordigheid ’n werklikheid, wat ons nie kan sien nie. Maar Geesvervulde gelowiges kan God se alomteenwoordigheid op ’n besondere manier beleef en ervaar. So het koning Dawid wat die Psalm geskryf het, God se alomteenwoordigheid ook op ’n besondere wyse beleef en sy ervaring in Psalm 139 uitgedruk.

Psalm 139 word met ’n gebed afgesluit in verse 23 en 24, naamlik: Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.” Koning Dawid onderwerp hom aan die Here wat alles sien en weet in Sy alomteenwoordigheid, en vra as’t ware vir God om hom te help om hom op die regte pad te hou, deur hom te weerhou van afgode.

Mag ons ook in 2022 beleef dat God alomteenwoordig is, ook in ons menslike lyding. Mag ons in 2022 die regte pad loop, wetende dat die almagtige God alsiende is in alles wat ons doen, sê en dink.

Moenie in 2022 deur dinge omring wees nie. Nee, beleef eerder dat God jou van alle kante omring. Daarom kan jy God se geborgenheid beleef.                AMEN

(Preek is gedeeltelik afkomstig van ‘n preekskets wat ek eenmaal gelees het. Dit is verwerk en bygevoeg.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.

Kersfees gee vir ons ’n agenda.

SKRIFLESING: Jesaja 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30

Kersfees is verby. Die kersboom en kersversierings word weggepak. Die familie en die vriende keer weer terug na hulle bestemmings. Binne dae, begin elkeen weer te werk en die nuwe jaar aan te pak. Kersfees 2021 is verby, die kersboom is in die kas.

Maar dan verstaan ons Kersfees verkeerd. Kersfees is die begin van Epifanie, wat beteken die verskyning van die Here. Die Here Jesus het met Kersfees verskyn omdat Hy na die mensdom gekom het met ’n uitgewerkte agenda. God het ’n “love affair” met die wêreld, daarom het Hy Sy Seun gestuur. Hierdie uitgewerkte agenda van Jesus Christus begin met Kersfees en sal eers met die Hemelvaart van die Here Jesus afgesluit word. Dié tydperk word genoem die genadejaar van die Here, of soos die 2020-vertaling praat van die “aangename tyd”

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genadejaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar in Luk 4:18 – 19 die volgende: “ Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Dit was en is nog steeds God se agenda.

Daar staan in Luk 6: 37 die volgende: “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.”

Daarom het Jesus tydens Sy 33 jaar op aarde, die agenda wat met Kersfees gegee is, uitgeleef. Hy het met sondaars gemeng en in Saggéüs die hooftollenaar, die hoofsondaar, se huis tuis gegaan. Hy het siekes gesond gemaak en aan melaatses gevat. Hy het die owerspelige vrou beskerm teen die Fariseërs wat haar met klippe wou doodgooi. Hy het toegelaat dat ’n prostituut sy voete was met kosbare nardusolie en dit met haar hare afdroog. Hy het gemeng met die sondige wêreld, want dit was sy agenda, sy werksplan.

Met Sy hemelvaart het Hy hierdie agenda en werksplan aan Sy kerk oorgegee. Daarom is dit die taak van die kerk om tot met die wederkoms van onse Here Jesus Christus die taak, die agenda en die werksplan van God voort te sit.

Ons kan die Kersfeesboom wegpak, maar ons moet voortgaan met die agenda, die rede waarom Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het. Daarom kan ons nooit ophou om die rede vir Kersfees te vier nie.

Daarom moet ons nie op boemelaars neersien nie … hulle lewe van ons menslikheid. Daarom moet ons nie ’n ongetroude moeder verwerp nie … hulle soek net vergifnis. Daarom moet ons nie van gevangenes vergeet nie … hulle wil besoek word. Daarom moet ons nie op armes neersien nie … hulle soek ons respek. Daarom moet ons nie siekes vergeet nie … hulle lewe van ons belangstelling. Daarom moet ons nie van sterwendes vergeet nie … want hulle lewe van ons deernis. Daarom moet ons nie ons vyande vergeet nie … want hulle soek ons vergifnis.

Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die genadejaar (die aangename jaar) van die Here Jesus Christus.

Howard Thurman het aangrypend geskryf en dit só reg verstaan:

When the song of angels is stilled,

When the star in the sky is gone,

When the kings and princes are home,

When the shepherds are back with their flock,

The work of Christmas begins:

to find the lost,

to heal the broken,

to feed the hungry,

to release the prisoner,

to rebuild the nations,

to bring peace among the brothers,

to make music in the heart.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)