SKRIFLESING: 1 Kor 15: 35 – 58
Dr. Donald Gray Barnhouse was ’n bekende predikant in Philadelphia en sy eerste vrou is aan kanker oorlede terwyl sy nog in haar dertigs was. Al drie sy kinders was jonger as twaalf. Dr. Barnhouse het die moed gehad om self die begrafnispreek te lewer. Op pad na die begrafnis het ’n groot vragmotor verby hulle gery. Die vragmotor het ’n skaduwee oor hul motor gegooi. Hy het vir een van sy kinders gevra: “Wil jy liewer deur daardie trok of sy skaduwee omgery word?” “Deur die skaduwee, natuurlik!” antwoord die twaalfjarige dogter. ’n Skaduwee kan jou nie seermaak nie.” Met daardie antwoord het dr. Barnhouse aan sy drie moederlose kinders gesê: “Julle ma is nie deur die dood oorval nie, maar deur die doodskaduwee.” By die begrafnis het hy oor Psalm 23:4 gepraat: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Afrikaanse 1953 vertaling)
Die dood gooi net ’n skaduwee oor ons, want die dood is nie in staat om ons finaal te verslaan nie. Ons glo in die ewige lewe na die dood. Daarom skryf Paulus in 1 Korinthiërs 15: 55 die volgende: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Louena Engelbrecht leef by die Here. Louena Engelbrecht was die dogter van Hendrik en Lena Engelbrecht. Sy is gebore op 26 Junie 1944 en sy het op Tamboekiesfontein grootgeword. Later het hulle na Weltevrede getrek. Sy was in Adelaide op skool. In Standerd 6 het sy na Grens Hoërskool in Oos-London gegaan en daar haar matriek verkry. Sy is daarna na die landboukollege op Grootfontein waar sy ’n landboudiploma verwerf het. Sy het ook haar Springbokkop gekry om wol en bokhaar te klas. Sy het daarna vir omtrent ’n jaar in die destydse Suidwes-Afrika gaan werk. Sy het teruggekom om haar ma by te staan en het begin met haar eie boerdery. Sy het vir baie jare vele boere gehelp met die skeer van skape en bokke. Sy was ook lank lid van die Post Retief Boerevereniging en het ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel. Sy het vir lank vir Post Retief Buiteklub tennis gespeel en later vir die Winterbergklub. Sy was passievol oor die boerdery en baie lief vir diere. Sy kon dit nooit oor haar hart kry om haar vee op die vendusies verkoop te kry nie! Dus het sy altyd iemand anders gevra om haar vee namens haar te verkoop. Sy het ’n besondere liefde gehad vir Dexter-beeste.
Later was sy vir baie jare die kurator by Adelaide se museum en het seker gemaak die geskiedenis word bewaar. Sy was besonder bekwaam om die familiegeskiedenis van die families in die Winterberg-distrik uit te lê. Sy was ’n goeie mens en het dikwels mense gehelp sonder dat ander daarvan weet. Haar humorsin was uitstekend en jy kon haar terg en met haar ’n grappie maak en sy kon dit vat. Baie lief vir gesels was sy. Sy was nooit getroud nie, maar sy het haar eie alleenheid ook geniet. Saam met haar swetterjoel katte was sy baie gelukkig op haar eie. Sy het die afgelope tyd egter begin siek word en al hoe swakker geword, sodat sy nie meer kon loop nie. Sy is toe opgeneem in Huis Corrie Dreyer. Die afgelope meer as twee maande was sy in hospitale in Port Elizabeth en het afgesterf op laat Sondagmiddag, 9 Januarie 2022.
Die skaduwee van die dood het oor haar geval, maar die dood het haar nie oorval nie. Die angel van die dood het haar nie gesteek nie. Die Here Jesus het met Sy dood en opstanding die angel uit die dood kom haal.
Louena is deur die dood bevry van haar siekte en meegaande aardse sorge en bekommernisse. Volgens ons skrifgedeelte is die dood die metamorfose, wat Louena nuut maak en vir haar ’n geestelike onsterflike liggaam gee, vry van enige pyn en bekommernis. Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond plant? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd ’n welige oes sal oplewer. ’n Menslike begrafnis is ’n heel ander saak. Dit wek veel dieper emosies vanweë ons gehegtheid aan die liggaam wat in die graf gelê is. Maar vir Christene word hierdie hartseer getemper deur die wete dat die wat in die Here sterf veilig by Hom is, en dat ons eendag met hulle herenig sal word, nie net in ons gees nie, maar ook in nuwe en verheerlikte liggame.
Hierdie metamorfose in iemand nuuts word uitgedruk in ons skrifgedeelte in 1 Kor 15: 42 – 44 wat so lees: “So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies:Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word, is ’n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ’n geestelike liggaam.” Ons word totaal omskep in iemand nuuts.
Die volgende paar beelde of metafore het ek raakgelees oor die metamorfose wat die dood teweegbring, sodat jy ’n nuwe geestelike wese word:
Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat DL Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewendig wees as nou.”
’n Dogtertjie wie se bababoetie pas dood is, het haar ma gevra waarheen haar boetie gegaan het. “Om by Jesus te wees,” antwoord haar ma. ’n Paar dae later, terwyl sy met ’n vriendin gepraat het, het die ma gesê: “Ek is so hartseer dat ek my baba verloor het.” Die dogtertjie het haar gehoor, en onthou wat haar ma vir haar gesê het, opgekyk en gevra: “Ma, is iets verlore as jy weet waar dit is?” “Nee, natuurlik nie.” “Wel, hoe kan boetie dan verlore gaan as hy by Jesus is?” Haar ma het dit nooit vergeet nie. Dit was die waarheid.
Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte doppe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke opgetel en weggevlieg.” So is dit met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke opgeneem en weggevlieg het.
Arthur Brisbane het eenkeer in ’n tekening ’n “skare” bedroefde ruspes voorgestel wat die lyk van ’n kokon na sy laaste rusplek dra. Die arme benoude ruspes, geklee in swart, het gehuil, en die hele tyd het die pragtige skoenlapper vrolik bo die aarde gefladder, vir ewig bevry van sy aardse dop. Nodeloos om te sê, Brisbane het die gemiddelde ortodokse begrafnis in gedagte gehad en probeer om die idee oor te dra dat wanneer ons geliefdes sterf, dit dwaas is om net die kokon te onthou en ons aandag op die oorblyfsels te konsentreer, terwyl ons die helder skoenlapper vergeet. Die dood is slegs ’n metamorfose.
Die dood is nie so verskriklik nie. Ons ervaar net die doodskaduwee, maar nie die dood nie, want Christus het die dood klaar oorwin. Die dood is ’n verlossende metamorfose in iemand nuuts. AMEN
[Beelde is direk vertaal uit Bible Illustrations (AMG International Inc)]
Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.