SKRIFLESING: Psalm 139: 1 – 24
Verbeel jou dat jy al vyf dae ronddobber op die oop see in ’n rubberbootjie.

Daar is water oral rondom jou. Sovêr jy kan sien is dit net see. Boonop is daar digte miswolke rondom jou en jy kan omtrent nie sien nie. Alles is nat. Die water omsluit jou van alle kante.
Daar is baie dinge wat jou kan omsluit en omring:
Jou program kan ’n gejaagde program wees, waar jy altyd in ’n haas is om dinge af te handel. Dit omsluit en omring jou. Jy sukkel om kop bo water te hou van al die verantwoordelikhede. Jy voel kompleet of jou liggaam jou siel êrens langs die pad verloor het. Jy voel soos ’n siellose liggaam.
Jou eensaamheid kan jou omring. Dink aan die bejaardes wat dikwels hulle dae in eensaamheid deurbring in hulle ouetehuiskamer. Jy word omring deur niks, deur leë dae.
Jou onsekerheid kan jou omring in hierdie “nuwe” Suid-Afrika. Alles in ons land is op ’n breekpunt en het onseker geword. Ons is onseker van die ekonomie, die politiek en die maatskaplike verval van ons land. Dit lê soos ’n swaar klip op my. Daarom verlaat baie mense die land, omdat hulle nie meer met die onsekerhede kan saamleef nie.
Dalk word jy omring deur siekte, wat jou soos ’n donker wolk omsluit. Dit vul jou gedagtes en lewe. Jy sien as’t ware hoe die einde van jou lewe naderkom en jy is bevrees vir die onbekende.
Watter donker dinge storm op jou af in 2022? Watter dinge omsluit jou van alle kante?
Psalm 139 vertel van ’n man wat van alle kante omsluit was. Maar hy was nie omsluit van dinge nie, maar deur Iemand. Hierdie Iemand is die Here.
Eers was hy bang. Die Here weet van alles. Die Here ken selfs ons gedagtes en Hy ken ons hart en niere (gewete). Jy kan nêrens vir die Here wegkruip nie, selfs nie eers onder ’n skulpie nie.

’n Mens is soos ’n vis in ’n ronde glas visbak. Die vis kan nêrens wegkruip nie. So kan ons ook nie vir God wegkruip nie. Soos ’n X-straalfoto kan die Here al jou bangheid, afgode, vrees en twyfel raaksien. God ken jou vingerafdrukke en die iris van jou oog. Selfs jou bankrekening is vir God geopenbaar. Ek kan nie vir God wegkruip nie.
Nog voor ek by ’n plek kom, is God alreeds daar. Ek kan nie vir God weghardloop nie. Waar ek nog moet kom, daar is God alreeds. Daarom is God se alomteenwoordigheid vir my ’n troos in my onsekerhede.
Ek hoef nie bang te wees nie! Is ’n vis bang vir water? Nee, dit is lewegewend.
Iemand het eendag die verhaal vertel van ‘n klein baba-vissie wat in ‘n toestand is, en op en af en heen en weer swem, gespanne en bekommerd. Hy is desperaat. ‘n Groter vis kom verby en vra hom wat aangaan, en hoekom hy so te kere gaan. Die baba-vissie sê: “Ek het gehoor ons het water nodig om te lewe. Ek weet nie waar om water te kry nie! Help! Ek sal doodgaan, as ek nie dringend by die water uitkom nie!” Toe antwoord die groter vis: “Maar jy IS in die water! Jy het die hele oseaan tot jou beskikking! Ontspan… laat gaan …”.
Ons het nodig om deur die Here omring te word, net soos dit vir ’n vis nodig is om deur lewegewende water omring te word. Ek kan nie een enkele oomblik sonder God wees nie. Dan is ek soos ’n vis op droë grond wat na sy asem smag.
Waar is die Here? Hy is in die hemel, op die plafon, agter die deur, in die kamer, by die skool, in die skaapkraal, op die hoogste berg en tot aan die uithoeke van die wêreld.
Luther het gesê: God is nader aan jou as wat jou klere aan jou lyf is. Hy is binne ons.
Daarom is die Vader – Alomteenwoordig.
Daarom is die Seun – Immanuel by ons.
Daarom is die Heilige Gees – die Trooster wat met almal is op alle plekke.

Die skrifgedeelte sê ook dat God my geken het toe ek nog in my moeder se skoot was. God het ’n duidelike sonar van my gehad. Soos die baarmoedervloeistof die baba omring, word ek van voor my geboorte deur God omring.
Al ons lewensdae is opgeskryf in God se boek.
Christene van die vierde eeu na Christus het mekaar met die volgende seëngroet herinner aan die teenwoordigheid van die Here:
“Die Here is voor jou …..
Om die weg gelyk te maak.
Die Here is langs jou …..
Om jou in Sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou ….
Om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou …..
Om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou ….
Om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou ….
Om jou te seën.
Die Here is binne jou …..
Om jou te inspireer en te lei.
Van nou af tot in ewigheid.”
Die boodskap van Psalm 139 is dat God ons ken van binne en buite. Hy ken selfs ons niere, wat beteken Hy ken ons gewete. Ons is geregistreer op God se databasis. God weet van ons in 2022. God is met ons in 2022.

Hierdie Psalm 139 beskryf baie mooi die alomteenwoordigheid van God. Wat beteken dit dat ons bely dat God alomteenwoordig is? Die voorvoegsel “alom” is afgelei van die Latynse betekenis “alles”. Daarom beteken God se alomteenwoordig dat God oral en in alles teenwoordig is. Daarom is God ook teenwoordig in alles van jou lewe, soos jou swaarkry, siekte en bekommernis, alleenheid en jou persoonlike menslike lyding.
’n Mens kan God se alomteenwoordigheid wel nie sien nie, maar dit is daar. Oral rondom jou is daar geluide, seine en radiogolwe. Jy kan dit nie sien nie, maar as jy ’n instrument soos ’n radio of selfoon aanskakel, dan kan jy dit skielik sien en hoor. So is God se alomteenwoordigheid ’n werklikheid, wat ons nie kan sien nie. Maar Geesvervulde gelowiges kan God se alomteenwoordigheid op ’n besondere manier beleef en ervaar. So het koning Dawid wat die Psalm geskryf het, God se alomteenwoordigheid ook op ’n besondere wyse beleef en sy ervaring in Psalm 139 uitgedruk.
Psalm 139 word met ’n gebed afgesluit in verse 23 en 24, naamlik: “Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad.” Koning Dawid onderwerp hom aan die Here wat alles sien en weet in Sy alomteenwoordigheid, en vra as’t ware vir God om hom te help om hom op die regte pad te hou, deur hom te weerhou van afgode.
Mag ons ook in 2022 beleef dat God alomteenwoordig is, ook in ons menslike lyding. Mag ons in 2022 die regte pad loop, wetende dat die almagtige God alsiende is in alles wat ons doen, sê en dink.
Moenie in 2022 deur dinge omring wees nie. Nee, beleef eerder dat God jou van alle kante omring. Daarom kan jy God se geborgenheid beleef. AMEN
(Preek is gedeeltelik afkomstig van ‘n preekskets wat ek eenmaal gelees het. Dit is verwerk en bygevoeg.)
Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.