Die waarde van oumense neem in God se oë toe.

SKRIFLESING:  Luk 2: 25 – 40

Hoe ouer ’n mens word, hoe meer voel en ervaar jy dat jy op die rand gestoot word. Dit is asof jy nie meer so nodig is nie. In die SANW en sommige ander beroepe word jy gedwing om al op 60 jaar af te tree.

Deesdae kry ’n man of vrou baie moeilik op die ouderdom van 50 jaar plus ’n vaste betrekking in die arbeidsektor. Maatskappye soek jong mense, nie middeljariges of ouer mense nie.

Oumense sê ook dat hulle voel dat hoe ouer hulle word, hulle menings al minder tel. Mense luister al minder na hulle en behandel hulle selfs soos kinders.

In die oë van die sondige wêreld is dit waar dat ’n mens se waarde afneem hoe ouer jy word. Miskien is dit so omdat ons so materialisties ingestel is. Hoe ouer mense word, hoe meer verloor hulle waarde. Maar hoe ouer meubels, antieke ware, antieke motors, ensovoorts word, hoe hoër styg hulle gesogtheid en hulle verkoopprys.

In die antieke tyd is grysheid gesien as ’n seën en is oumense hoog aangeslaan. Om grys te word in die ou tyd, was om ’n sekere statigheid te bekom. Grysaards het by die stadspoorte bymekaar gekom om regspraak te beoefen. Vandag is dit net mooi andersom. Die jeug en jeugdigheid is alles. Om grys te word, beteken “diskwalifikasie” en daarom is mense vandag so lief om hulle hare te kleur en plooie te verdoesel.

Maar God ag groot waarde aan oumense. God doen ook groot dinge deur oumense. Dwarsdeur die Bybel lees ons hoedat God bejaarde mense gebruik het om groot dinge te doen.

Dink aan Abraham en Sara wat in hulle bejaardheid die kind Isak verwag het. Dit was eintlik lagwekkend en daarom het Sara gelag. Uit hierdie lagwekkende bejaarde situasie is die volk Israel gebore, ja, sodat ons almal vandag kinders van Abraham is.

Al die aartsvaders, Abraham, Isak, Jakob en ander, was in hulle bejaardheid besondere instrumente in die hand van die Here.

Selfs Moses het as ’n bejaarde man sy volk uit Egipte-land uitgelei, deur die woestyn, die beloofde land in. Tog stort hyself inmekaar en sterf voor hy sy voet in die beloofde land sit.

Simeon was ’n bejaarde man, maar God het aan hom beloof dat hy die Messias sal sien voor hy sterwe. Hy was getrou in die tempeldiens en daarom was hy dan ook daar om die Kindjie Jesus te aanskou. Oor dié Kind het hy ’n loflied gesing, maar ook profetiese woorde gespreek in vers 35. Anna was ’n bejaarde vrou, ’n profetes van 84 jaar oud, maar het nog elke dag die Here gedien. Sy het nooit van die tempel weggebly nie en God dag en nag gedien.

Daarom dien bejaardes veral as geestelike getuies van die wonderdade wat God al in hulle lewe gedoen het. Vergelyk Hebreërs se heldegalery van geloofshelde wat die ander aanmoedig in die geloof.

Oupas en oumas speel ’n groot rol in hulle kleinkinders se lewe. Timoteus is nie net deur sy moeder gevorm nie, maar ook deur sy ouma Loïs. Inteendeel, sy ouma Loïs word genoem voor sy ma Eunice.

Gedurende die verouderingsproses neem die intellek en skerpheid van die brein af, maar die kreatiwiteit en ervaring maak dat mense hulle grootste werke op ’n gevorderde ouderdom skep. Van die grootste teologiese werke deur die loop van eeue is deur bejaarde kerkvaders geskryf.

Die grootste mentors in my lewe was almal bejaarde mense. Ek dink aan twee van my oud-professore, naamlik prof. EPJ Kleynhans wat vir my Kerkreg gegee het en prof. Mias de Klerk wat vir my Praktiese Teologie gegee het. Hulle lesings was soos preke. Jy het vasgenael na hulle geluister. Dit was ’n belewenis.

Op Strydenburg was daar ’n Oom Jan van Wyk van 94 wat ’n baie groot mentor in my lewe was.   

Nelson Mandela het op die ouderdom van 79 opgetree as die president van Suid-Afrika. Op ’n stadium was hy naas Coca Cola die tweede bekendste ikoon in die wêreld.

Mense behaal doktorsgrade op 90 jaar plus.

’n Mens word oud soos wat jy geleef het. As jy ’n vriendelike, opgewekte en dankbare mens was in jou jeugjare, sal jy ook só oud word. As jy ’n verbitterde mens is, sal jy ook eendag ’n verbitterde onvergenoegde oumens wees.

Ek het eendag ’n Engelse oom in Huis Corrie Dreyer besoek, wat op sy laaste was. Hy sê aan my dat sy ou liggaam nie meer kan nie. Maar in dieselfde asem sê hy dat hy soos ’n “springchicken” voel. Sy liggaam is oud, maar sy gees is jonk.   

’n Mens word oud sodat jy kan dien, bid, ander ondersteun, en om daar vir ander te wees. Sommiges het die wanopvatting dat oud word beteken ek moet agteroor sit sodat ander my moet bedien. Nee, selfs in my bejaarde ouderdom moet ek ander kan dien, soos Abraham, Moses, Simeon en Anna. Die Here kan en wil my nog steeds gebruik.

Talmage vertel die verhaal van ’n jong man wat na ’n 90-jarige man gekom het en vir hom gevra het: “Hoe het jy dit reggekry om so lank te lewe en so ’n goeie karakter te wees?”  Die ou man het die jongeling na ’n boord geneem en na ’n paar groot bome vol appels gewys en gesê: “Ek het hierdie bome geplant toe ek ’n seuntjie was, en nou wonder jy waarom ek dit in my ouderdom oes?” Ons maak op ons oudag bymekaar wat ons in ons jeug plant. Saai vir die wind, en jy maai die warrelwind. Plant in die vroeë lewe die regte soort Christelike karakter, en jy sal in jou ouderdom ’n mens van karakter en integriteit wees.

As ek in Huis Corrie Dreyer is, kan ek dien, ander mense moed inpraat, mense opbeur en ander help. Ek is daar om te dien en nie om bedien te word nie.

In Amerika is daar tuistes waar bejaardes hulle eie inrigtings bestuur en onderhou. Sommige maak kos, ander herstel klere, ander werk in die tuin en so het elkeen sy funksie in die tehuis. Daar is amper geen werkers nie. Daar is ook ouetehuise in Amerika waar hulle ouetehuise en kleuterskole langs mekaar bou. As dit pouse-tyd is gaan die kindertjies na die ouetehuis toe. Dan gee die bejaardes ekstra aandag aan die kindertjies deur vir hulle te lees en met hulle te speel. Die bejaardes voel ook minder eensaam en voel hulle beteken iets vir die samelewing.

Daarom moet ’n mens jou waardigheid behou, te midde van ouderdom en aftakeling. ’n Mens se waardigheid lê in jou gees en nie in jou liggaam nie.

Ek wil nie jonger wees nie. Hoeveel armer sal ek nie aan lewenservaring wees nie! Bejaarde Christene is geneig om bedagsaam, vriendelik, geduldig en liefdevol te wees. Deur jare van navolging van Christus het hulle meer en meer na Sy beeld gegroei. Fisiese gesondheid kan misluk, of die sig word swak, die gehoor verswak, maar daar is geen rede om moed te verloor nie. Hoekom? Die innerlike natuur word elke dag vernuwe.

Vir diegene wat die verbygaande jare vrees, is ’n interessante moontlikheid deur Charles L. Allen voorgestel. Hy skryf: “Sê nou net die proses was omgekeer. Jy sou op ’n hoë ouderdom begin lewe en elke dag ’n bietjie jonger wees. Nou, dit sou verskriklik wees. Elke dag sou jy ’n bietjie minder weet as wat jy die vorige dag geweet het.”

In die oë van die wêreld verloor oumense dikwels waarde. Maar in God se oë styg oumense in waarde. Jy word in ’n besondere sin al meer bruikbaar in die Here se diens.

Kom ons dank God vir die bejaardes, ook dié in ons gemeenskap. Mag hulle soos Abraham, Simeon en Anna nog steeds bruikbare instrumente wees. Ja, geloofshelde om ander te inspireer.                                    AMEN  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die Here soek vrugte van bekering.

SKRIFLESING:  Luk 13: 6 – 9

’n Arm Duitse meisie het aangekondig dat sy ’n klavierkonsert gaan gee. Om mense te lok om te kom, het sy in die advertensies genoem dat sy die student van die beroemde Hongaarse professor, Franz Liszt, was. Maar dit was ’n leuen. Tot haar ontsteltenis het sy verneem die professor gaan haar dorp die dag voor die konsert besoek. Wat moes sy nou doen? Sy het hom gaan ontmoet, haar skuld beken en hom gevra om haar te vergewe. Die professor het geantwoord: “Jy het ’n fout gemaak. Almal van ons maak foute. Die enigste ding wat jy nou kan doen, is om te bekeer; en ek glo dat jy reeds berou het. Sit en speel.” Aan die begin het sy met baie vrees gespeel. Die professor het ’n paar van haar foute reggestel en gesê: “Nou kan jy regtig sê dat ek jou geleer het. Gaan speel môreaand by jou konsert, en die laaste stuk sal nie deur jou gespeel word nie, maar deur jou onderwyser.” Jy is soos hierdie meisie. Jy het gesondig. Daar is niks anders wat jy kan doen as om jou te bekeer nie. Dan sal jy die rol van jou lewe speel onder toesig van Christus self. Die laaste en die beste stuk sal deur Hom gespeel word.

Die gelykenis van die vyeboom gaan oor die Here wat vrugte van bekering soek by die mens. Wat voorop staan, is die geduld van God met die wederstrewige sondaar, wat hom / haar nie wil bekeer nie.

Willie Jonker het in 1957 in ’n preek geskryf van die onverdiende ontferming van God.   Dit is nie ’n vyeboom wat êrens in die wildernis opgeskiet het nie. Hy staan geplant, deur die sorg van sy eienaar daar waar die grond sag en vrugbaar is, in die wingerd. Die wingerd is die trots van die eienaar. Die vyeboom is in ’n begunstigde posisie. Met reg kan die eienaar van hom vrug verwag. Wie is hierdie vyeboom? Dit is die mens wat deur God bevoorreg is om aan die verbond te behoort. Christus dink by die vertelling van die gelykenis aan Israel, die volk van God, wat in die bevoorregte posisie is, wat die wet en profete het en wat die menswording van Christus aanskou. Van sulke mense kan daar met reg vrug verwag word, die vrug van geloof. Die vrug wat God soek, is nie ons goeie werke of ons geld nie, maar harte wat in geloof aan Hom oorgegee is.  

Dié vrug verwag God van elke kerkmens, van elke gedoopte mens wat deur Gods genade gebore is op die akker van die Kerk en in God se verbond, sê Jonker. Maar helaas, die vyeboom wat hier geskets word, is die beeld van die kerkmens wat ten spyte van die voorregte, nog steeds onvrugbaar bly. God het oor ’n lang tydperk (drie jaar) tevergeefs vrugte van bekering verwag by die kerkmens. Die kerkmens wat maklik toegang het tot die Woord, deur middel van die Bybel, die eredienste en digitale preekuitsendings en die toegang tot geestelike literatuur en geestelike boeke – se hart bly verhard. Die Here roep dikwels deur een of ander beproewing of gebeurtenis hard tot ons uit, maar steeds dra ons geen vrugte van bekering nie. Inteendeel, in plaas van vrug te dra, maak die vyeboom die grond waarin dit staan onvrugbaar (vers 7). Elke kerkmens wat nie bekeer nie, maak dit vir ander moeiliker om Christus te vind.  Jonker skryf: “Hy (die onbekeerde sondaar) verlaag die geestelike temperatuur in die Kerk, hy smoor die getuienis van die Kerk na buite en hy trek ander eerder weg van Jesus af as wat hy vir hulle iets beteken.”

So is die toestand van die vyeboom. So is die toestand van die onbekeerde kerkmens.  Die eienaar wil die vyeboom uitkap na drie jaar, maar die tuinier vra vir nog ’n jaar van genade. Die tuinier wil die grond omspit en mis gee. Die tuinier wil nog ekstra moeite doen.   Die tuinier laat nie die vyeboom aan sy eie lot oor nie. Hy bewerk die boom opnuut en wel met noukeurigheid en sorg. So is God se geduld met die ongehoorsame kerkmens;  altyd vol werksame liefde, skryf Jonker.  Hy gee die ongehoorsame verbondskind nog ’n kans, sonder om hom aan homself oor te laat.      

Maar hierdie geduld het ’n grens. Die tuinier kan die vyeboom nie vir altyd in sy tuin duld as hy onvrugbaar bly nie. Die pleitstem tot bekering hou op ’n dag op. As dit nie so was nie, sou dit swakheid aan Gods kant wees, en sou sy Woord wat dreig met ondergang vir elke onbekeerde, onwaar wees. (Aldus Jonker) Genadetyd hou op. Miskien bring ’n skielike dood ’n einde aan die geleentheid tot bekering.

Bekering is ’n 180° grade omdraai op die verkeerde pad. Die Griekse woord is “metanoia”, wat beteken omdraai. Die Heidelbergse Kategismus beskryf dit is die “inkeer, omkeer en terugkeer” na God. Soos wat die verlore seun by die varkhok tot inkeer gekom het en verlang het na sy vaderhuis, so begin bekering met ’n opregte begeerte om terug na God te gaan. Dit is om ’n daadwerklike omkeer te maak en terug te keer na God.

God het, toe Hy die wêreld geskep het, beveel dat alles vrugbaar moet wees en vrug moet voortbring. ’n Vyeboom kan daarom net vye en nie perskes voortbring nie. Ons moet daarom ons eie lewe ondersoek na die tipe vrug wat ons voortbring.

Tommy Lessing vertel van die verhaaltjie wat hy gelees het van die tipe vrug wat ons moet dra. Die persoon vertel dat wanneer hulle broers stout was en na hulle kamers gestuur was, het hulle ’n geheim gehad. Net buite die venster het ’n ou vrugteboom gestaan. Die seuns sou saggies die venster oopmaak, in die boom klim en in die veld agter die huis gaan speel. Na ’n rukkie sou hulle weer terug in die boom klim, na binne glip en die venster toemaak.

Eendag het hulle gehoor dat hulle pa vir hulle ma sê dat hy beplan om die boom af te kap, want dit het in jare geen vrugte gedra nie. Die seuns het paniekbevange hulle spaargeld geneem, winkel toe gehardloop waar hulle appels en ’n tolletjie swart gare gekoop het. Daardie aand het hulle by die venster uitgeklim en die appels orals aan die boom vasgemaak. Die volgende oggend het hulle gretig gewag vir hulle pa se reaksie. Gou was hulle bly om hom te hoor roep: “Maria, kom kyk! Dis ’n wonderwerk! Die boom is vol appels!” Die seuns het hulself gelukgewens, maar toe hoor hulle hoedat hulle pa sê: “Dit is regtig ’n wonderwerk … want dit is ’n peerboom.”  (Die ouers het darem die wysheid en goeie humor gehad om die boom te laat oorleef.)  

Net soos ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie, kan ’n vyeboom ook nie appels dra nie. Ons lees in Gal 5: 22 watter vrugte die Here aan die vyeboom soek,  naamlik: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Die dooie werke waarvan ons onsself moet bekeer staan in Gal 5: 19 – 21, naamlik: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.”

Soos wat God met Sy skepping beveel het dat alles vrugbaar moet wees en moet vrugte dra, so gebied God ook in Sy herskepping dat ons vrugte moet dra van bekering. Daarom is die gelykenis van die vyeboom vir ons ’n oproep om voortdurend tot bekering te kom.

Die baie vals profete van vandag verkondig net God se liefde, sonder die oproep tot bekering. So word baie sondes goedgepraat deur die oorbeklemtoning van God se liefde ten koste van die feit dat God ook ’n regverdige regter is wat oordeel oor sondes. Sondes kan nie maar net goedgepraat word, omdat God liefde is nie. Ons moet ook rekenskap gee van ons dade.

Bekering is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Verbondsbekering is om elke dag opnuut tot bekering te kom. Dit is om my elke dag opnuut te laat snoei deur die Woord en die Gees. Dit is al hoe ’n mens die vorm van die boom en die drakrag van vrugte kan verseker.

Mag ons elkeen elke dag in gehoorsaamheid tot bekering kom. Mag die vyeboom van God vrugte dra op sy tyd.    

Luister ons na God se dringende stem?                                                 AMEN     

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die tong is ’n sleutel.

SKRIFLESING:  Jak 3: 1 – 18

Wat is die verskil tussen ’n wilde perd en ’n mak perd?

’n Wilde perd laat homself nie inperk deur ’n stang of stiebeuel en leisels nie. Hy wil maak soos hy goeddink. ’n Mak perd laat hom weer inperk deur ’n stang. Juis omdat die wilde perd hom nie wil laat inperk nie, is hy onbruikbaar. ’n Mak perd wat ingeperk is, is bruikbaar.

Is ons bruikbaar vir Christus? Om bruikbaar te wees vir Christus moet ek ook bereid wees om ingeperk te word. Ek moet ook ’n stang in die mond kry.

Die boodskap vanoggend is: Die tong is ’n sleutel.

Jakobus beskryf die tong as ’n vuurhoutjie wat die hele wêreld aan die brand kan steek. Om af te breek met die tong is makliker as om op te bou. Jakobus wil nie hê dat ons tonge skinder, en vuiltaal of liefdelose woorde uiter nie. Ek moet nie ’n karikatuur maak van my politieke opponent of persoonlike vyand nie.

’n Wetenskaplike het uitgevind dat gif uit die vel van ’n klein Suid-Amerikaanse boompadda baie giftiger is as enige ander bekende gif. Reënwoud-Indiane gebruik die gif van die vel van die kokoi-padda om hul blaasgeweerpyle te vergiftig. Daar is ’n gif wat selfs dodeliker is – die gif van ’n bose tong.  Is jy as ’n Christen in staat om jou tong te beheer? Indien wel, is jy ’n volwasse Christen. “Want in baie dinge laat ons almal struikel. As iemand nie in woord struikel nie, is hy ’n volmaakte man en in staat om ook die hele liggaam in toom te hou” (Jak 3:2).

George Morrison het hierdie pragtige gedeelte geskryf wat handel oor die gevare van ’n onnadenkende tong: “Een van die eerste dinge wat vir sosiale vrede sorg, is ’n waaksame en liefdadige stilte. Geen man of vrou wat nie geleer het om ’n toom op sy lippe te sit, kan ooit ’n vredemaker wees nie. Dink aan die oneindige skade wat deur ’n kwaadwillige of  ’n onnadenkende tong aangerig kan word; dink aan die ontelbare harte wat dit verskeur; dink aan die gelukkige vriendskappe wat dit verkoel. En soms is daar nie eers kwaadwilligheid in dit nie – net die dwase begeerte om te praat, want boosheid word bewerk deur gebrek aan gedagte sowel as gebrek aan hart. Al wat ek weet, is dat een van die magtigste dinge wat vir sosiale vrede sorg, ’n wyse en liefdadige stilte is. Om nie alles te glo wat ons hoor nie, om nie alles wat ons hoor te herhaal nie, tensy ons deur die gewete geroep word om dit te verkondig.

Iemand beskryf dat ons elkeen ons eie persoonlike begraafplaas het, waar ons mense met ’n geskinder of woorde doodgemaak het.

Daar is geen twyfel dat laster seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”

Eenkeer het ’n jong man na daardie groot filosoof Sokrates gekom om in redenering onderrig te word. Die oomblik toe die jong man voorgestel word, het hy begin praat, en daar was vir ’n geruime tyd ’n onophoudelike stroom woorde. Toe Sokrates ’n woord kon inkry, het hy gesê: “Jong, ek sal jou ’n dubbele fooi moet hef.”

“ ’n Dubbele fooi, hoekom is dit?”

Die ou wyse het geantwoord: “Ek sal jou twee lesse moet leer. Eerstens hoe om jou tong in toom te hou, en dan, hoe om dit te gebruik.” Wat ’n kuns vir ons almal om te leer, veral vir Christene.

Het jy al ooit opgelet dat daar gewoonlik ’n gebrek aan goeie, vriendelike woorde vir die afwesige persoon is wanneer sy naam in ’n gesprek genoem word? Daar mag woorde van kritiek en foutvindery wees, maar hoe min is die woorde van lof! Die goue reël stel voor dat ons van die afwesige praat soos ons wil hê ander van ons moet praat.

’n Vrou wat sleg gevoel het oor haar geskinder het eendag by die priester raad gevra oor hoe om dit onklaar te maak. Hy het vir die vrou gesê om op ’n winderige dag op die straathoek te staan en ’n verekussing stukkend te sny. Sy het dit gedoen. Hy sê toe vir haar om nou al die vere bymekaar te maak. Sy kon nie. Hy antwoord toe dat netso ’n mens nie ’n skinderstorie kan stop nie. Dit saai onomkeerbare verwoesting oral waar dit gaan.

Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, om hulleself beter te vertoon.

As jy by iemand is wat van ander skinder, weet verseker hy of sy gaan van jou ook skinder.

Die tong is ontembaar, dit is soos ’n wilde dier wat jy nooit heeltemal mak kry nie. Dit behou daardie wilde streep. Die tong saai gif tussen mense en maak dat daar verwydering tussen mense kom.

Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bevestig met my woorde.

Jakobus skryf dat ’n mens dikwels soos ’n tweegatjakkals is, wat God in die kerk loof, maar buite die kerkgebou ander mense beskinder.

Die gelowige se tong is in diens van Christus. Soos die mak perd ’n stang in die bek het, so word ons ingebreek deur die Woord en die Gees om ’n lewe van selfbeheersing te leef. Ons woorde moet van selfbeheersing getuig.

Ons tong moet ons stuur, soos die roer van ’n skip, om goed van ander te praat en nie sleg nie. Ons tonge moet ons soos ’n skip se roer na rustige waters stuur. Jakobus sê dit is die bewys van ons geloof. By ’n heilige God pas heilige onderdane wie se tonge geheilig is.

Wanneer ons die tong reg gebruik, sal ons wysheid bekom.

Daarom moet jy jou doelbewus instel om in alles wat jy doen ’n keuse vir Christus uit te oefen. Ek moet ’n wag voor my mond sit en ’n keuse uitoefen om altyd die regte woorde te uiter.

Is jou tong bruikbaar vir God?

Is jou lewe beheers?

’n Christen se lewe is ’n beheerste lewe, deur die krag van die Heilige Gees.

Jou tong is ’n sleutel. Dit kan goedheid of boosheid oopsluit.

Hoe gebruik ek en jy ons tonge?                      AMEN       

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Hoe lyk God se hande?

SKRIFLESING:  Psalm 31

Karl Barth het by geleentheid vir ’n aantal melaatses gepreek. Melaatses se hande word dikwels vervorm om eerder soos kloue te lyk.

Karl Barth begin toe sy preek met die vraag of God hande het. Dan antwoord Barth dat God wel hande het en wel ook gans anders, veel beter en behendiger, sterker hande as hierdie kloue van ons.

Ons is nou wel nie melaats nie, tog verander die sonde ons hande dikwels in kloue. Met ons kloue baklei ons, en met ons kloue gryp ons. Met ons kloue klou ons aan ons aardse goed vas. Ons kloue is nie oop om te deel nie.

Hoe vang ’n mens ’n aap? Jy plaas ’n ysterpot met ’n smal opening buite. Jy prop ’n klomp vrugte en lekkernye binne die pot. Dan wag jy. Die ape sal naderkom. Totdat een sy hand insteek in die pot. Hy gryp dan na die kos, maar omdat sy hand nou in ’n klou gevorm is, kan hy nie sy hand uitkry nie. Hy is so gierig, hy los nie die kos nie. Al klouende aan sy kos met sy klou, kan jy nou die aap vang. So vang die sonde ons ook. Sonde maak van ons hande kloue.

God se hande is die hande van ons Heiland Jesus Christus wat gesê het: “ Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”. Die Here het kindertjies geseën met Sy hande. Die Here het siekes aangeraak met Sy hande en hulle genees. Hy het die brood en vis geneem met Sy hande en dit vermeerder. Sy hande is vermink aan die kruis vir ons sondes.

Die Here se hande is soos vaderhande, wat sterk is. Die Here se hande is soos moederhande, was sag, teer en moederlik is. Die Here se hande is soos vriendehande, altyd getrou en behulpsaam.

Die Here het gesê dat niemand ons sal uitruk uit Sy hand nie. Luister wat skryf Rom 8: 38 – 39 in die volgende woorde: “Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” So veilig is ons in die hande van die Here.

In hierdie Godshande is ek geborge, opgetel en is ek gered.

Die vraag is egter: Leef ek in God se hande of probeer ek met my kloue vir my ’n paadjie oopbaklei in die lewe? Miskien is ons grootste probleem dat ons nie in oorgawe in God se hande leef nie.

Die Psalmdigter Dawid het in Psalm 31 baie bedreigd gevoel. Waarskynlik druk hy sy emosies hier uit op die tydstip toe koning Saul hom agtervolg het met sy hele weermag om hom dood te maak. Dit het hom emosioneel en fisiek afgetakel. Hy beskryf in die Psalm dat hy in die nood is, dat sy oë swak geword het, hy is vol verdriet en kommer. Hy kry swaar en sy kragte is geknak. Sy liggaam teer uit en hy het die spot van sy teenstaanders en bure geword. Dawid beskryf dat hy so goed as dood is en mense span saam om sy lewe te neem.

Dawid skryf in vers 6 dat hy die uitkoms van sy lewe in God se hande plaas: In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.”

Dawid beleef moeilike tye, swaar tye, maar hy gee hierdie tye oor in God se hande. In vers 15 – 16 (a) staan daar: “Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God, my tye is in u hand’.”

Die tye van 2022 met die nadraai van Covid, asook die Russiese inval van Ukraïne het die hele wêreld op hol. Die aanval op ’n kernaanleg in Ukraïne, laat ons almal vrees vir ’n kernoorlog. Blykbaar stop niks vir Vladimir Putin nie. As China en Noord-Korea toetree tot die oorlog, het ons ’n volskaalse wêreldoorlog. Suid-Afrika se neutrale posisie is ook kommerwekkend, sou ons Rusland ondersteun. Ons kan hierdie uiters kommerwekkende wêreldsituasie net in God se hande plaas.

Die bitter en die soet van 2022 kan ons maar net in God se hande plaas. Is 2022 in jou kloue of is dit in God se hande?

Ortodokse Joodse gesinne bid elke dag: “In U hande gee ek my lewe oor.” Daar is opgeteken dat van die bekendste gelowiges deur die loop van eeue se laaste woorde was: “In U hande gee ek my lewe oor.” Policarpus, Johannes Huss, Melanchton en Martin Luther onder andere het so gebid, terwyl hulle besig was om te sterf.

Wil u nie ook elke dag u tye, u lewe in die hand van die Here plaas nie? Wat is saliger as om eendag op jou sterfbed te bid: “Here in u hande gee ek my lewe oor.”

Wanneer jy in 2022 bang is, dink daaraan: Dieselfde hand wat oneindige miljoene melkwegstelsels gemaak het en vashou, hou jou vas. Die hand wat ons planeet in ons melkwegstelsel geplaas het as ’n spikkeltjie tussen miljoene sterre, hou jou vas. Dieselfde hande wat die ragfyn vlerkies van ’n vlieg en die helderkleurige voëls gemaak het, hou jou vas.

Luther het ’n soortgelyke getuienis gelewer toe hy gesê het: “Ek het baie dinge in my hande gehou, en ek het dit alles verloor; maar alles wat ek in God se hande gegee het, dit besit ek nog.”1

Ons paar uurtjies hier op die aarde is in God se hande!

Ek kan maar aan God vashou, want God hou aan my vas.

Kinders soek die versorgende hande, die vertroostende hande van hulle ouers. Hande wat optel, vertroos, speel, koester en omgee. Netso word ons vasgehou deur Vaderhande wat ons optel, vertroos, koester en vir ons omgee. In bitter en soet tye.

Vader, my tye is in U hande! In U hande gee ek my lewe oor. In U hande gee ek ook 2022 oor.                                   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSING

  1. Anoniem. Die beste preekillustrasies: Meer as 2000 stories in een (bl. 998). AAA SMARTWORLD. Kindle uitgawe.