SKRIFLESING: Psalm 31
Karl Barth het by geleentheid vir ’n aantal melaatses gepreek. Melaatses se hande word dikwels vervorm om eerder soos kloue te lyk.

Karl Barth begin toe sy preek met die vraag of God hande het. Dan antwoord Barth dat God wel hande het en wel ook gans anders, veel beter en behendiger, sterker hande as hierdie kloue van ons.
Ons is nou wel nie melaats nie, tog verander die sonde ons hande dikwels in kloue. Met ons kloue baklei ons, en met ons kloue gryp ons. Met ons kloue klou ons aan ons aardse goed vas. Ons kloue is nie oop om te deel nie.
Hoe vang ’n mens ’n aap? Jy plaas ’n ysterpot met ’n smal opening buite. Jy prop ’n klomp vrugte en lekkernye binne die pot. Dan wag jy. Die ape sal naderkom. Totdat een sy hand insteek in die pot. Hy gryp dan na die kos, maar omdat sy hand nou in ’n klou gevorm is, kan hy nie sy hand uitkry nie. Hy is so gierig, hy los nie die kos nie. Al klouende aan sy kos met sy klou, kan jy nou die aap vang. So vang die sonde ons ook. Sonde maak van ons hande kloue.

God se hande is die hande van ons Heiland Jesus Christus wat gesê het: “ Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is”. Die Here het kindertjies geseën met Sy hande. Die Here het siekes aangeraak met Sy hande en hulle genees. Hy het die brood en vis geneem met Sy hande en dit vermeerder. Sy hande is vermink aan die kruis vir ons sondes.
Die Here se hande is soos vaderhande, wat sterk is. Die Here se hande is soos moederhande, was sag, teer en moederlik is. Die Here se hande is soos vriendehande, altyd getrou en behulpsaam.
Die Here het gesê dat niemand ons sal uitruk uit Sy hand nie. Luister wat skryf Rom 8: 38 – 39 in die volgende woorde: “Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” So veilig is ons in die hande van die Here.
In hierdie Godshande is ek geborge, opgetel en is ek gered.
Die vraag is egter: Leef ek in God se hande of probeer ek met my kloue vir my ’n paadjie oopbaklei in die lewe? Miskien is ons grootste probleem dat ons nie in oorgawe in God se hande leef nie.
Die Psalmdigter Dawid het in Psalm 31 baie bedreigd gevoel. Waarskynlik druk hy sy emosies hier uit op die tydstip toe koning Saul hom agtervolg het met sy hele weermag om hom dood te maak. Dit het hom emosioneel en fisiek afgetakel. Hy beskryf in die Psalm dat hy in die nood is, dat sy oë swak geword het, hy is vol verdriet en kommer. Hy kry swaar en sy kragte is geknak. Sy liggaam teer uit en hy het die spot van sy teenstaanders en bure geword. Dawid beskryf dat hy so goed as dood is en mense span saam om sy lewe te neem.
Dawid skryf in vers 6 dat hy die uitkoms van sy lewe in God se hande plaas: “In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.”
Dawid beleef moeilike tye, swaar tye, maar hy gee hierdie tye oor in God se hande. In vers 15 – 16 (a) staan daar: “Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: ‘U is my God, my tye is in u hand’.”
Die tye van 2022 met die nadraai van Covid, asook die Russiese inval van Ukraïne het die hele wêreld op hol. Die aanval op ’n kernaanleg in Ukraïne, laat ons almal vrees vir ’n kernoorlog. Blykbaar stop niks vir Vladimir Putin nie. As China en Noord-Korea toetree tot die oorlog, het ons ’n volskaalse wêreldoorlog. Suid-Afrika se neutrale posisie is ook kommerwekkend, sou ons Rusland ondersteun. Ons kan hierdie uiters kommerwekkende wêreldsituasie net in God se hande plaas.
Die bitter en die soet van 2022 kan ons maar net in God se hande plaas. Is 2022 in jou kloue of is dit in God se hande?

Ortodokse Joodse gesinne bid elke dag: “In U hande gee ek my lewe oor.” Daar is opgeteken dat van die bekendste gelowiges deur die loop van eeue se laaste woorde was: “In U hande gee ek my lewe oor.” Policarpus, Johannes Huss, Melanchton en Martin Luther onder andere het so gebid, terwyl hulle besig was om te sterf.
Wil u nie ook elke dag u tye, u lewe in die hand van die Here plaas nie? Wat is saliger as om eendag op jou sterfbed te bid: “Here in u hande gee ek my lewe oor.”

Wanneer jy in 2022 bang is, dink daaraan: Dieselfde hand wat oneindige miljoene melkwegstelsels gemaak het en vashou, hou jou vas. Die hand wat ons planeet in ons melkwegstelsel geplaas het as ’n spikkeltjie tussen miljoene sterre, hou jou vas. Dieselfde hande wat die ragfyn vlerkies van ’n vlieg en die helderkleurige voëls gemaak het, hou jou vas.
Luther het ’n soortgelyke getuienis gelewer toe hy gesê het: “Ek het baie dinge in my hande gehou, en ek het dit alles verloor; maar alles wat ek in God se hande gegee het, dit besit ek nog.”1
Ons paar uurtjies hier op die aarde is in God se hande!
Ek kan maar aan God vashou, want God hou aan my vas.
Kinders soek die versorgende hande, die vertroostende hande van hulle ouers. Hande wat optel, vertroos, speel, koester en omgee. Netso word ons vasgehou deur Vaderhande wat ons optel, vertroos, koester en vir ons omgee. In bitter en soet tye.
Vader, my tye is in U hande! In U hande gee ek my lewe oor. In U hande gee ek ook 2022 oor. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
VERWYSING
- Anoniem. Die beste preekillustrasies: Meer as 2000 stories in een (bl. 998). AAA SMARTWORLD. Kindle uitgawe.