Woestynervarings is verrykende ervarings.


SKRIFLESING:  Eks 16: 1 – 18

Die woord “woestyn” wek by die meeste mense ’n negatiewe konnotasie op. Dit word geassosieer met sand, min water, min kos, sonsteek, verdwaling, lugspieëlings en uiteindelik die dood.

Ons lees hoe die volk Israel hier in Eksodus 16 letterlik deur ’n woestyn gaan, met al die gepaardgaande ontberings.

Figuurlik gesproke gaan ons elkeen van tyd tot tyd deur ’n “woestyn” – die woestyn van persoonlike krisisse. ’n Woestyn kan wees: ’n siekbed, dood van ’n geliefde, bekommernis oor ’n kind, droogte, finansiële probleme, werkloosheid of emosionele probleme. Hierdie dinge kan vir ’n mens soos ’n “woestyn” voel.

Die gevaar is nou natuurlik dat ’n mens net negatiewe konnotasies aan ’n woestyn toedig. In Eksodus word die woestyntyd van Israel as ’n baie besondere tyd, trouens ’n ideale tyd in die geskiedenis van Israel beskou. By terugskoue sou dit altyd blyk dat daar min tye in die geskiedenis van Israel was dat dit, geestelik beskou, so goed gegaan het met die volk as juis tydens die jare in die woestyn. Waarskynlik was dit, meer as enige ander tyd, die stadium waarin die Here en sy volk werklik na aan mekaar was.

Gelowiges wat deur diep krisisse gegaan het, stem gewoonlik saam dat hulle “woestyne” besondere tye was in hulle verhouding met God.

Baie gelowiges in die Bybel het hulle letterlik in ’n woestyn bevind. Dink aan Elia en Johannes die Doper. En dan natuurlik ook die Here Jesus Christus met Sy versoekinge in die woestyn vir 40 dae. So het “woestyne” met verloop van tyd simbool geword vir die moeilike tye in die lewens van gelowiges.

Eksodus 16 wil vir ons leer: Woestyntye is verrykende ervarings.

Die Sinai-woestyn het Israel letterlik van alles gestroop. Hulle is gestroop van hul huise, hul wingerde, hul tuine, hul veetroppe en hul geliefdes (’n hele geslag het in die woestyn omgekom.) Hulle het nomadies geword – hulle het net-net oorleef.

Elke krisis stroop ’n mens ook van selfvertroue, of besittings, van sekuriteit en soms ook van geliefdes. In ’n krisis het jy minder van iets oor as voor die krisis.

Maar ’n woestyn maak jou ook broos, afhanklik en naak. In die woestyn is jou sekerhede en waarborge tot die absolute minimum beperk. Alles word onseker. In ’n woestynsituasie sien ’n mens jou weerloosheid, menslike swakheid en verganklikheid helder voor die oë.

Jou maskers en jou bravade val heeltemal weg. Jou uiterlike beeld waaroor ’n mens tog so bekommerd is, val weg, sodat net die egte mens na vore kom. ’n Mens kan dus sê ’n woestyn stroop ’n mens van jou “image” en maskers. In ’n woestynsituasie word ’n mens rondgeslinger tussen hoop en wanhoop – ’n regte wipplank van emosies.  Dit maak jou huilerig, bekommerd, angstig en depressief. ’n Mens kan dus sê dat ’n woestynsituasie jou stroop van lewensgeluk.

’n Woestynsituasie stroop jou van alles wat jy besit, van jou maskers en van jou lewensgeluk. Dit laat my dink aan die herfs in die natuur. In die herfs word die bome gestroop van hulle groen blaredos – sodat uiteindelik net die kaal takke oorbly.

Moet ons nie ook bid:

Soos ’n boom in die winterkoue gestroop word van sy blare, wil u my nie ook stroop van my valse ydelheid, my hoogmoed, my “image” en my maskers, nie, sodat ek net nakend, broos en afhanklik kan oorbly, soos die takke van ’n boom in die winterkoue.

’n Mens leer die heel beste deur ervarings. Israel het ook deur ervaring daar in die woestyn geleer om met ’n nuwe toewyding aan God te leef.

Hulle het God se versorging ervaar in die bitter water wat soet geword het, in die daaglikse kwartels en manna en in die wolk- en vuurkolom.  Hulle het God se stem ook ervaar.

Ons kan so rondjaag in die gewoel van hierdie wêreld, dat ons niks meer kan hoor nie. Ons het bang geraak vir stiltes. Ons skakel liewer die radio of televisie aan. Maar die woestyn is net ’n plek van stilte – sodat ’n mens gedwing word om ’n slag weer na die stem van God te luister.

Die woestyn kan ’n harde plek wees, maar ook ’n wonderlike plek van ongelooflike eenvoud en skoonheid en stilte. Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Maar die heel beste van die woestyn – so het Israel ontdek – was God. Dit was die heel grootste verrassing. In die woestyn het Israel nie net hulleself beter leer ken nie, dit was die plek waar hulle ook die Here op ’n nuwe manier leer ken het. Daar het hulle ervaar dat God veral ook in die woestyn by hulle is. Daar het hulle ontdek dat God nie net ’n God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie.  In die woestyn het die volk Hom dit síén doen. In die woestyn het Israel die Here op ’n nuwe, dieper manier leer ken.

Wonderlik bevrydend is dit as ’n mens God in jou lyding leer ken.

Deur die eeue het Christene gevra of woestyne regtig nodig is? Hoekom moet daar woestyne wees? Is dit nodig dat ons deur al hierdie swaarkry iets moet leer? Sou ons nie ook daarsonder iets kon leer nie?

Ons het reeds gesê dat ’n mens eers in die woestyn jou dieper, werklike self leer ken – in jou swakheid, jou broosheid en afhanklikheid. Dit is sekerlik nie maklik om jouself so te leer ken nie, maar dit is nog altyd twintig keer beter as die verskriklike moontlikheid om oud te word en dood te gaan, sonder om jouself te leer ken soos jy werklik is.

Maar veel belangriker is die feit dat ’n mens ook vir God in die woestyn op ’n nuwe manier leer ken. Die waarheid is dat daar kante van God is wat ’n mens net in die woestyn kan leer ken. Dat Hy regtig kan troos, regtig kan sorg, regtig liefhet en kan voed en verkwik – dit leer ’n mens net as jy nood ken en dit regtig gesien het.

Ons sou kon sê dat die Here vir Israel in die woestyn eintlik ’n tweede keer vrygemaak het. Na die vlug uit Egipte en die wonderbaarlike verlossing by die Rietsee, was Israel vry van die gevare wat van buite gedreig het. Maar dit was in die woestyn waar die Here begin het om hulle ook van binne vry te maak: vry van hulleself, vry om regtig in God te glo en Hom te vertrou met hulle lewens.

Mag ons in ons “woestyne” van ons krisisse gestroop word, sodat ons God kan ontdek en vir Hom kan begin leef.

God gebruik “woestyne” in die lewens van Sy kinders. In Hosea 2 lees ons hoedat God sy volk in die woestyn die hof maak, en mooi dinge vir hulle sê, omdat God hulle liefhet.

Leer iets daaruit! Haal iets positiefs daaruit.

Ons het dus gesien dat die woestyn twee pluspunte het: Dit is ’n plek van stroping en ’n oefenskool vir nuwe toewyding aan God.

Mag dit ook u ervaring wees.                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s