SKRIFLESING: 1 Kor 13
Dr Johan Pienaar skryf die volgende.

Hy vertel dat net buite die ingang van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park daar in die veld ’n klein en baie ou begraafplaas is. Hy het die begraafplaas besoek en op twee interessante grafstene langs mekaar afgekom. Een is van ’n Johan (gebore 1911) en langs hom lê Valerie (gebore 1910). Lees ’n mens verder, staan op albei grafstene: “Deur ’n weerligstraal gedood op Mount Aux Sources op 18 Desember 1932”. Beide was in hulle twintigs en is deur dieselfde weerligstraal doodgeslaan.
Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet …. so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.
Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke – of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.
So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer. Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.
Daar word vertel van die man wat geantwoord het op ’n vraag of hy en sy vrou soms baklei: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.” Dit is kosbare raad om te volg.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente. Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was. Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b “ …. maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.
Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.
Ons elkeen het ’n boekie van die kwaad waarin ons alles in ons geheue neerskryf wat ander mense teen ons doen. Die Here begin elke dag met ’n skoon bladsy vir ons. Maar ons boekie van die kwaad vir ander mense word elke dag dikker.

1 Kor 13:7 lees: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” Die liefde bedek alles. Jy gooi die sondes van ander mense toe, soos wat jy ’n doekie gooi oor vuil skottelgoed wat jy eers later wil was. Die liefde het geloof in ander mense se potensiaal om te verbeter. Jy skryf nie mense af nie. Die liefde het hoop dat mense kan verbeter. Die liefde verduur alles, met ander woorde is verdraagsaam met ander se foute, wetende dat jyself ook baie foute het.
Slegte verhoudinge met bure, familie of ander mense tap jou energie. Jy kan nie jou potensiaal bereik as daar ’n klomp negatiewe energie in jou sit nie. Jy tob dan oor die negatiewe, in plaas van die positiewe te bedink. Slegte verhoudinge bring spanning in jou lewe en is swak vir jou gesondheid. Slegte verhoudinge versuur jou lewe en geluk.
Daarom is verGIFnis so belangrik in die liefde. As jy nie ’n lewe van verGIFnis kan lewe nie, gaan die gif jou doodmaak. Dit is so goed jy bind ’n lyk aan jou vas (die mens wat jy nie kan vergewe nie), en sterf later van lyksiektes.
In verse 8 – 9 word beskryf dat alles sal verbygaan, maar die liefde sal ewig staan. Profesieë, tale en kennis sal verbygaan. Dit is verganklik. Die liefde staan vir ewig.
In vers 11 beskryf Paulus dat toe hy ’n kind was, hy nog op ’n kinderagtige manier met mense omgegaan het. Ons almal weet hoe wreed kinders kan wees op die speelgrond. Maar nou is Paulus volwasse. Hy is klaar met dié dinge, die kinderagtigheid van liefdeloosheid. Hy is nou volwasse in die liefde. Die vraag vanmôre is: is ons nog kinderagtig in die liefde of openbaar ons volwassenheid in die liefde?
Vers 12 sê ons staar nog in ’n “geheimenisvolle beeld, soos in ’n spieël”. Antieke spieëls was van gepoleerde metaal, maar die spieëlbeeld wat hulle gereflekteer het, was nooit heeltemal helder nie.1 Ons verstaan nie die lewe met al die goed wat konflik gee nie. Somtyds weet ons ook nie of ons of die ander party reg is nie. Maar eendag sal ons weet. Daarom moet ons nou vrede najaag, want ons ken nie ten volle nie. Ons ken nie die volle storie nie. Ons verstaan nie die ander party ten volle nie. Daarom is liefde die enigste oplossing om konflik op te los.

1 Kor 13: 13 sluit af met: “En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie – maar die grootste hiervan is die liefde.” Al is jy ’n geloofsreus, wat elke Sondag in die kerk sit … of al is jy die mees positiewe, hoopvolle mens wat ander inspireer … , maar jy het nie liefde nie, is jy NIKS. Die liefde is die belangrikste.
Die vraag vanmôre met die Nagmaal is, met watter buurman, of familielid of mens in die gemeenskap moet jy dinge gaan regmaak?
Onthou die twee grafte by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park. Moenie dat dit te laat word nie. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
VERWYSINGS
- Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3843). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
Dankie dat jy my herinner het aan n vergifnis wat ek moet doen. Ek het al màar dink baie terug aan die seer wat veroorsaak is.
LikeLike