Van pitte na springmielies.


SKRIFLESING:  2 Kor 5: 11 – 21

’n Jakkals verander van hare, maar nie van snare nie. Mense laat staan nie sommer hulle sondige gewoontes nie. Mense verander nie maklik nie. Hulle leer nie maklik verkeerde gewoontes af nie. Vir kinders moet ’n mens tot vervelens toe sê om die regte ding te doen en die verkeerde te laat staan en dan doen hulle nog steeds die verkeerde.

Die Bybel en die Gereformeerde Leer sê dat die mens so verdorwe is, dat daar nie eers in die mens die moontlikheid bestaan om ten goede te verander nie. Daar bestaan nie eers ’n vonkie in die mens om te verander nie. Net Christus Jesus kan my verander. Ja, die Heilige Gees werk deur die Woord om mense se lewens te verander.

Kom ek verduidelik dit vir julle aan die hand van springmielies. Neem ’n bietjie ’n mieliepit in jou hand. Ons kan so ’n bietjie met die kêreltjie gesels. Sê vir die mieliepit dat hy moet verander en sagter en eetbaar word. Byt ’n bietjie die mieliepit. Hoe smaak hy? Vir my smaak hy nie juis na iets nie. Hy is maar redelik hard en oneetbaar. ’n Mens kan moontlik selfs jou tande op hom breek. Soos hierdie mieliepit, so is die mens in wie se lewe die Here Jesus nog nie is nie. Die Bybel sê so ’n mens is ’n ou mens. Sy lewe is smaakloos en hard soos hierdie pit. So ’n mens hou daarvan om sonde te doen. So ’n mens baklei nog, is ongehoorsaam aan die Here en doen allerhande lelike dinge.

Maar wat gebeur as ek nou vir hierdie mieliepit hitte gee? Ja, hy spring en word ’n springmielie. Nou is hy wit, sag en eetbaar. Die mieliepit het van gedaante verander. Net so werk die Heilige Gees deur die Woord om ook ons lewe te verander en nuwe mense te word. Ons word ook nuut en sag en aangenaam vir die wêreld. Ja, mielies word springmielies, as gevolg van die hitte. Ja, ou sondige mense word nuwe mense deur die liefde van die Here Jesus Christus. Luister wat staan in 2 Kor 5: 17 – “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.” Met ander woorde soos mieliepitte “pop” en springmielies word, so word ons deur die Gees in Jesus Christus nuut gemaak.

Sonder die hitte kan die mielies nie verander nie. Net so kan die mens nie verander sonder die kragtige werking van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees werk deur die Woord om ons lewens te verander.

Somtyds bly daar aangebrande pitte in die pot agter. Hoe smaak daardie pitte? Ja, hulle is nog steeds hard en smaak baie bitter. So kan daar ook in die kerk onbekeerde mense wees wat elke Sondag onder die geklank van die Here se Woord sit, maar nooit verander nie. Hoekom verander hulle nie? Omdat God nog nie in hulle hart gewerk het nie. Daarom moet ons bid dat die Here ons almal se harte sal verander om aan hom gehoorsaam te wees.

Ons kan nie ons eie lewe verander nie, ook kan ons nie ’n ander een se lewe verander nie. Maar ons kan bid dat die Here dit sal doen deur die werking van Sy Gees en Sy woord.

Is jy vandag nog ’n klipharde pit, dalk al selfs aangebrand, bid dat die Heilige Gees jou lewe mag verander deur Sy Woord. Daar was in die vroeër eeue ’n man met die naam Augustinus. Hy het ’n wilde en roekelose lewe gelei. Hy was soos ’n klipharde mieliepit. Maar sy moeder Monica het gereeld vir haar seun Augustinus gebid. Toe op ’n dag, “spring” Augustinus deur die genade van die Here en hy verander in ’n springmielie, in ’n Christen. Hy en sy buite-egtelike seun word op dieselfde dag gedoop. Hy word een van die grootste kerkvaders van alle tye.

Kom ons bid vir mekaar, soos Monica vir haar seun Augustinus gebid het. Ons bid gedurig vir goed wat God vir ons moet gee of moet doen. Die belangrikste is om te bid dat die Here ons harte mag aanraak en ons harte mag sag maak soos springmielies. Dat ons so sal verander in ons gedrag dat ons aangenaam vir mekaar sal smaak.

As u vanoggend daardie oortuiging het dat die Heilige Gees u alreeds laat “spring” het, dank God daarvoor. Dit beteken die Here het die bekering en die wedergeboorte in jou hart laat plaasvind. Dit is God wat jou gekies het uit genade om ’n nuwe mens te word. Jy is ’n voorwerp van die Here se ontferming.

’n Mieliepit kan nie sonder hitte spring nie. ’n Mens kan ook nie uit homself verander nie. Die Dordtse Leerreëls sê dit is vir die mens onmoontlik om uit homself te verander. Ek verander alleen maar na ’n nuwe mens danksy die genadige verkiesing van die Here. Omdat die Here my in Sy genade kom aanraak het, kan ek verander en ’n nuwe mens word. Marelize, net die Here kan jou verander. Jouself kan jy nie verander nie. ’n Mens kan jouself verbeter, maar net die Here kan jou verander. Wat ’n wonderlike wete is dit nie.

Is jy ’n aangebrande mieliepit of ’n springmielie?

Is jy ’n ou mens of ’n nuwe mens?

As jy ’n aangebrande ou mens is, bid dat die Here jou sal verander! As jy reeds ’n nuwe mens is, dank God dat Hy jou laat “spring” het na Hom toe. Jy is ’n nuwe mens omdat God jou verander het. 

Marelize, jy verklaar vanoggend dat jy nie maar net ’n mieliepit is nie, maar een wat “gespring” het. Jy bely vanoggend dat die Here Jesus in jou gewerk het om  van jou ’n nuwe mens te maak. Jy verklaar dat jy antwoord op die Here se doopbelofte jare gelede toe jy ’n babatjie was. Deur die jare het pa Eli en ma Melissa en jou grootouers jou van die Here geleer. Toe jy gedoop is, het jy ’n lidmaat van die kerk geword. Nou, 17 jaar later, aanvaar jy verantwoordelikheid om ’n getroue lidmaat van die kerk te wees.

’n Persoon wat “in Christus geheilig” is, is soos die waterspinnekop, wat ’n baie eienaardige insek is. Die waterspinnekop woon op die bodem van modderige poele en het die kenmerkende krag om na die oppervlak van die poel op te klim en homself daar met ’n klein borreltjie lug te omring.

So omhul deur lug, sak dit af na die slyk en modder en oorlewe daar totdat die lug opgebruik is. Dan styg dit weer na die oppervlak en die proses word herhaal. Diegene wat “geheilig is in Christus” vind dus geestelike verjonging in daaglikse Bybellees en Christelike gemeenskap, onbesmet en ongebonde deur die vyandige omgewing rondom hulle.

Marelize, mag jy ook elke dag geestelike verjonging ervaar in jou Bybelstudie, Bybel lees en bid. Ons word ouer in ons liggame. Die enigste plek waar ons kan verjong is in ons geestelike lewe. Iemand wat in Christus is, is geestelik jonk en veerkragtig. Versorg elke dag jou geestelike lewe.

Net soos jy gedissiplineerd is met jou perdry, net so moet jy getrou wees in jou daaglikse wandel met die Here.

Marelize, mag die Here vir jou die pad gelyk maak. Mag jy die seën van die Here ervaar op jou lewenspad. AMEN

(Die beeld van die springmielies het ek by iemand raak gelees.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s