Om te “vergewe en te vergeet” …….

SKRIFLESING: Mat 18: 21 – 35, Rom 6: 23 en Ef 4: 31 – 32

‘n Mens leef nie van brood alleen nie, maar ook van die vergifnis van jou medemens. Elke dag sien ons op straathoeke hoe bedelaars om brood bedel, maar ook elke dag kom daar mense na ons toe om te bedel om vergifnis.

Daarom het die Here Jesus ons geleer in die “Onse Vader” gebed om te bid vir ons daaglikse brood, maar ook om te bid om vergifnis. Daarom sê ons met elke ete vir die Here dankie vir ons daaglikse brood, maar kom vra ons ook elke Sondag vir die Here om vergifnis in die kerk om ons sondes vir ons te vergewe. Die Here gee brood en vergifnis. Maar Hy verwag van sy kinders om ook brood en vergifnis uit te deel. Om vir ‘n ander mens nog brood te gee is maklik, maar om vir ander mens vergifnis te gee is nie so maklik nie.

In baie gelowiges se hart sit hierdie harde wet: ‘n Oog om ‘n oog en ‘n hand om ‘n hand. Elkeen moet boet vir sy skulde. Die Here wil egter vir ons ‘n sagte wet leer, naamlik om jou skuldenaars te vergewe, ja om van jou vyand jou vriend te maak.

Natuurlik is om te vergewe nie so maklik nie. Dit sit nie in elkeen se broek of rok om ‘n ander een van harte te vergeef nie.

Daarom sorteer die “deug” om iemand te kan vergeef onder die deugde wat van ‘n mens moed vra. Om jou skuld te kan bely is nie so maklik nie. Niemand wil graag sê ek is die skuldige nie. Ons verplaas liewer die skuld op ‘n ander een. So speel ons vroteier. Ons plaas die sakdoek agter iemand anders se rug. Adam en Eva het net so vroteier gespeel. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang en so gaan die bose kringloop aan.

Gelukkig het God hierdie bose kringloop kom deurbreek toe Hy aan die kruis kom sterwe het. Hy het die vroteier geword wat in die middel kom staan het. Die skande en die stank van die hele wêreld se sondes het op Hom neergekom. Hy het die vroteier van die wêreld geword, waarvoor almal hulle koppe weggedraai het. Die Bybel sê hy was die sondebok op wie die skuld neergekom het.

Dit was gebruik in die Joodse tradisie om ‘n bok simbolies te belaai (te besprinkel) met die skuld van die Israeliete in die kamp en dan die bok alleen die woestyn in te stuur en as’t ware die sonde van die volk weg te dra. Later is die bok selfs van ‘n hoë krans in die woestyn afgestoot om ‘n einde te maak aan die sondes van die volk.

Die Here Jesus was dus die vroteier, die sondebok, die Lam sonder gebrek wat geslag is om die bose kringloop van skuld te verbreek om versoening en vergifnis moontlik te maak.

Aan die kruis het die Here Jesus ‘n nuwe kringloop laat begin, naamlik die kringloop van vergifnis. Aan die kruis het hy geprewel: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Helmut Thielicke, die bekende Duitse teoloog en skrywer, sê dat die Here Jesus as’t ware vir ons daar aan die kruis ‘n aflosstokkie van vergifnis aangee, met die opdrag om daarmee te hardloop en dit aan te gee, na ons skuldenaars. Daarom leer Hy ons om te bid: “ Vergewe ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Ons moet met die aflosstokkie van vergifnis hardloop en dit aangee vir ons huweliksmaats, ons kollegas, ons politieke opponente en vyande. As ek nie bereid is om dit te doen nie, word ek gediskwalifiseer, net soos ‘n atleet wat die stokkie laat val of weier om die stokkie aan te gee aan die volgende atleet.

Ons maak egter baie keer soos daar die amptenaar wat deur die koning vergewe is en wie se skuld alles afgeskryf is, maar dan omdraai en nie  eers sy mede-amptenaar se skuld vir hom kan vergeef nie. Ons wil die wonderkuur, die entstof net vir onsself hou. Ons wil die vergifnis van die Here graag vir onsself ontvang, maar ons is nie bereid om daardie wonderkuur met ons medemens se deel nie. Ons is nie bereid om ander te vergeef nie. Dan beland ons net soos daardie amptenaar in ‘n tronk. Ons kan nie slaap nie, ons bly bitter en bestee ons lewensenergie aan wraakgedagtes, ons tob oor die verlede, en vertroetel ons emosionele wonde. Ons ontwikkel selfs maagsere.

Wie nie vergewe nie, laat toe dat die bitterheid soos suuruitjies sy hart oorneem. Later word so ‘n mens ‘n verbitterde mens, wat dink die wêreld skuld hom alles. Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.

Om iemand nie te vergewe nie, beteken om daardie persoon soos ‘n lyk aan jou vas te bind met kettings. Uiteindelik sterf jy ook aan lyk siektes. Vergewe hom, bind hom los van jou, sodat ook jy vry kan gaan.

Wie egter geleer het om te vergewe word vry van hierdie sielkundige tronk. Ons kan weer slaap. Ons kan pragtige verhoudinge ontwikkel en goeie tye weer saam beleef met dié wat ons vergewe het. Ons voel selfs fisies beter en gesonder.

Wanneer jy iemand vergewe, dan kanselleer jy in ‘n sekere sin skuld. Die een wat vergewe, verwyder alle beperkings of hindernisse wat daar op die verhouding geplaas is. Die een wat vergewe en die een wat vergifnis ontvang het, kan van nuuts af met mekaar ‘n verhouding ontwikkel, want die stuk seer en pyn is bely en uitgepraat.

Wanneer Luther sê ek moet “’n Christus” vir ‘n ander een word, bedoel Hy ek moet soos Christus kan vergewe. Wie nie kan of wil vergewe nie doen ‘n groot onreg aan sy medemens. Hy laat sy medemens alleen buite in die koue van verwerping staan. Hy laat toe dat die skuldgevoelens, sy medemens verteer. Hy weier om sy medemens te vergewe, want hy maak die ander een se gees dood. Die Here wil nie kasty nie, nee Hy wil vergewe sodat mense vry kan word. Die gelowiges moet ook sy medemens vergewe, sodat hulle vry kan wees.

Dikwels sê mense dat hulle liewer nie wil vergewe nie, want dit sal nie die pyn en seerkry wat hulle beleef wegneem nie. Die wonder is egter as ek werklik iemand van harte vergewe, is dit so goed ek los die tou van ‘n klok. Die klok sal nog ‘n paar keer beier, maar geleidelik sal die klok sagter word en uiteindelik stil word. Netso, as ek vergewe van harte sal die pyn wat ek ervaar het geleidelik stiller word. Maar eers moet ek vergewe, eers moet ek die tou los …. Die wonder van vergifnis is dat nie net die skuldenaar nie, maar ook die een wat vergeef, albei uiteindelik vry word.

Hoe nodig het ons dit nie ook in ons land met sy rassespanning. Deur vergifnis, kan ons in vrede, liefde en respek met mekaar saamwoon.

Om vir iemand kos te gee, is om brood vir sy liggaam te gee. Om vir iemand vergifnis te gee, is om brood vir sy gees te gee.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Terapie vir ons bekommernis ……..

SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34 en Luk 12: 22 – 34

Waaruit bestaan miswolke? Ons kry mos by ons gereeld mis. ‘n Miswolk bestaan uit water.

Hoeveel water sou julle sê is in ‘n miswolk van so dertig meter diep, genoeg om sewe straatblokke of Adelaide toe te maak? So ‘n honderd liter? “Vyftig” Nee, dit bevat minder as ‘n glas vol water. Klink ongelooflik nê? ‘n Enkele glas water kan die hele Johannesburg Internasionale Lughawe tot stilstand bring. Een glas water kan ons hele uitsig heeltemal versper. So is dit ook met bekommernis. ‘n Klein bietjie kommer, as jy dit toelaat om te vermeerder, kan soos ‘n digte miswolk oor jou hele lewe hang.

‘n Klein bietjie moeilikheid kan tot onhanteerbare sorge vergroot word. Jy kan so maklik verval in die groef om gedurig te tob en te kommer oor more en oor gister. ‘n Aartsbekommeraar het een maal gesê: “ ek het so baie moeilikhede, as daar vandag nog iets moet gebeur, sal ek eers oor twee weke daaroor kan begin kommer!”

Hier in 2020 in die midde van die COVID-19 pandemie, is daar baie dinge waaroor ons bekommerd is.

  • Ons is bekommerd ons kry COVID-19
  • Ek is bang ek of een van my geliefdes sterf van COVID-19.
  • Ek vrees werkloosheid of dat ek my werk verloor.
  • Ek is bekommerd oor my kinders se geleerdheid en hulle toekoms in hierdie land.
  • Ek vrees misdaad teen my en my gesin.
  • Ek vrees ‘n plaasaanval in ons distrik.
  • Ek vrees onverantwoordelike wetgewing, wat my kan beroof van my plaas of van my pensioen.

Bekommernis kan ook ‘n goeie ding wees. Dit spoor hou aan. Dit gee jou adrenalien.

  • Jy is bekommerd oor die oudag, daarom spaar jy.
  • Jy is bekommerd oor plaasmoorde en daarom beveilig jy jouself en aktiveer boereverenigings om paraat te wees.
  • Jy is bekommerd oor waarheen hierdie land heen gaan en daarom maak jy jou monde op.
  • Jy bekommer jou of jy ‘n sekere taak sal kan doen, daarom berei jy jouself deeglik voor.

Bekommernis kan dus positief en kreatief wees. Daarom leer die Here vir ons mos om oor die regte dinge te bekommer, soos oor Sy Koninkryk en die wel wese van ander mense.

Dit kan egter gebeur dat jou bekommernis jou nie tot aksie aanspoor nie, maar eerder verlam. Dan word bekommernis destruktief. Jy word ‘n geestelike en emosionele kreupele. Jy tas in die duister rond. Jy is ‘n swerwer sonder rigting.

Dan kom gee die Here Jesus vir ons raad: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.” Jesus interpreteer hierdie soort kommer as ‘n selfbeheptheid, as ‘n ongesonde introspeksie waar jy niemand en niks as jouself raaksien nie. Jesus se terapie is om jou in die eerste plek van jouself te laat wegkyk. “KYK” sê Jesus. Kyk na die kraaie, kyk na die lelies! God voed die kraaie, God klee die lelies. Hoeveel meer kyk God nie na Sy kinders nie.

Jesus draai jou oë ook na ander mense wat regtig rede het om te kommer oor wat hulle gaan eet of aantrek: die armes. En Jesus vra dat jy sal gee. Die beste aksie stap wat jy kan neem teen honger- en klere- bekommernis is om van jou kos en jou klere uit te deel.

As jy dit doen, van jouself wegkyk na die voëltjies en die blommetjies en die armes en die hongeriges en die naaktes, dan is jy besig met Koninkryksdinge. Dan sal jou bekommernis soos mis voor die son verdwyn.

Ons is behep met geld, met ons goeie naam, ons posisie, ons motors, ons huise, ons plase, ons toekoms en. Dit neem ons hele gedagtewêreld op. Ons is heeltyd met onsself besig. Dit wat regtig saak maak in die lewe kyk ons heeltemal mis.

Ek moet nie vir geld of status of posisie leef nie. Dit gee geen sin aan my lewe nie. Ware lewensgeluk, die ware sin van die lewe is om ‘n lewe te leef vir ander. Die sin van die lewe is om my lewe as ‘n offer vir ander uit te giet.

  • Ek moet leef om ‘n goeie lewensmaat vir my eggenoot te wees.
  • Ek moet leef om ‘n goeie ouer vir my kinders te wees.
  • Ek moet leef om ‘n goeie werkgewer vir my werknemers te wees.
  • Ek moet leef om ‘n naaste vir ander mense te wees.
  • Ek moet leef om ‘n verskil in ander mense se lewe te maak.
  • Ek moet lewe om van hierdie skepping ‘n beter plek te maak.
  • Ek moet leef om ‘n weerkaatsing van God se liefde te word.  

Daar word vertel van die vrou wat jare lank aan erge depressie gelei het en vir jare op medikasie was. Een aand toe sy ‘n koerant koop by ‘n koerantverkopertjie, ontdek sy dat die kind in die koue wintersnag honger is en nie ‘n trui het nie. Sy het vir hom toe elke aand sop gebring en na ‘n week vir hom ‘n trui gebrei. Sy het toe begin heerlik slaap want sy het sinvol ‘n verskil in ‘n ander een se lewe gebring. Sy het begin met ‘n sopkombuis in haar buurt en binne weke het sy sommer weer haarself gevoel.

Middelpuntsoekende krag, wat die eie ek soek werk altyd vernietigend. Middelpuntvliedende krag beweeg weg van die eie ek, na ander en skep lewe en vreugde. Gebruik die dae wat God vir jou gee, tot voordeel van ander – as ‘n offer vir ander mense, maar bowenal as ‘n offer vir God. Dit bring geluk, dit bring ‘n kommervrye en sinvolle lewe.

Dit is waar ons verlammende bekommernisse vandaan kom, naamlik van verkeerde prioriteite. Wanneer my prioriteite rondom myself en my goed en my posisie en my goeie naam draai, dan word ek siek van bekommernis. My bekommernis maak my lam en kreupel.

“Eerste dinge eerste.” sê Jesus. Eers God se Koninkryk, God se eer, jou medemens se behoeftes, en dan kan jy lekker slap. Jesus se terapie werk. Die son begin skyn. Die digte mis klaar op. Jou moeilikheid is toe kleiner as ‘n glas water. Die ergste wat jy verwag, gebeur toe nooit nie, want jy sien die voëls en die veldblomme, jy erken die hand van God in jou lewe, en jy raak besorg om hulle wat kommer het, te versorg.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Klaagliedere moet lofliedere word ……

SKRIFLESING: Fil 4: 4 – 7

Ons lees in die Bybel van die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ‘n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ‘n volk of nasie om in rou te gaan, wanneer ‘n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ‘n klomp negatiewe emosies.

Tans is ons land in die COVID-19 pandemie. Dit laat ‘n bloedspoor na van lewensverlies, isolasie, eensaamheid, werksverlies, ekonomiese ineenstorting, die toemaak van besighede en die ontwrigting van die onderwys en so meer. Hierdie pandemie gaan volgens die wetenskaplikes nog ten minste tot einde volgende jaar met ons wees, behalwe as ‘n entstof ontwikkel kan word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg. Hy was ‘n Duits Luterse predikant, maar ook ‘n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die 30 jarige oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg, was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ‘n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

As dit nog nie erg genoeg was nie het daar in 1637 ‘n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy twee kollega predikante het ook gesterf.  Toe moes hy die werk van 3 predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ‘n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eisenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en gevra om hulle belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die 30 jarige oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ‘n Mens sou ‘n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf, Soveel ellende vra ‘n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: Kom dank nou almal God.

1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ‘n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,             

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige god, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddelik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ‘n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was nou die dag vir ‘n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ‘n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Toe het Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgang in lofliedere – ook wanneer ons in die midde van ‘n pandemie is.

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, in ‘n pandemie soos hierdie.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

My enigste hoop en troos in die lewe, is dat ek aan Jesus Christus behoort!

SKRIFLESING: Ps 46: 1 – 12

Sonder HOOP kan geen mens leef nie. ‘n Mens kan 40 dae sonder kos lewe. ‘n Mens kan 3 dae sonder water oorleef. ‘n Mens kan as jy fiks is, 8 minute sonder suurstof oorleef. ‘n Mens kan egter nie ‘n sekonde sonder HOOP lewe nie!

Ons leef in ‘n skewe reënboogland. Die nuwe Suid Afrika het toe nie uitgedraai as ‘n beter land nie. Kapings, moord, verkragtings, korrupsie en die ineenstorting van standaarde en moraliteit het alledaagse nuus geword. Daar vind weekliks plaasaanvalle plaas en boere word vermoor. Dan sê die Suid Afrikaanse president wêreldwyd op TV, daar is geen plaasaanvalle nie. Die Regering wil boere se plase afvat sonder vergoeding. COVID-19 het ons land in ‘n ekonomiese afgrond ingestuur. Dit sal jare of dekades neem om die skuld af te betaal wat aangegaan is om COVID-19 te beveg. Ons werkloosheid staan amper op 30%. Verder word alles afgebrand en monumente wat vir ons betekenis het, word getuimel. Niks word beter nie, ons sak elke dag net verder in die moeras van ellende.

Daarom het mense in hierdie skewe reënboog land ‘n ontsaglike behoefte aan HOOP. Mense soek iets wat weer vir hulle hoop en troos kan bring.

Inplaas van hulle enigste hoop te soek by Jesus Christus, skep mense hulle eie hoop en troos. Ons probeer krisis situasies af te weer deur my eie hoop te skep. Ek neem ekstra versekering uit, ek installeer diefwering, ek skaf ‘n groot hond aan, ek begin finansieel my in ‘n beter posisie te plaas. Natuurlik is dit goed om voorsorg te tref, dit is immers verantwoordelik.

Die gevaar is egter as my voorsorgmaatreëls my troos en my hoop word. Ek troos my, ek het voorsiening gemaak vir my oudag, ek het my genoegsaam teen inflasie en teen inbrekers verskans. Ons skep vir ons, ons eie troos en hoop. Ons verskans en beveilig onsself.

Elke dag is ons besig om vir ons troos en hoop te skep. Binne hierdie troos en hoop is daar weinig plek vir God. Ons materialisme word ons hoop en troos. My versekering word my hoop en troos. My sekuriteite by die huis of die plaas word my hoop en troos.

Daar moet egter, maar net nie ‘n blaartjie roer, dan begin ons te bewe. Iets moet net êrens in die wêreld of in ons persoonlike lewe verkeerd gaan, dan stort die kaartehuis van ons lewe in duie.

Ons modern Christene het verleer wat dit beteken om net op Jesus te vertrou.

Ek wil hierdie boodskap begin deur ‘n stukkie van vroeë Europa se geskiedenis vir u te vertel. Dit was swaar tye in Europa se kerkgeskiedenis. Dit was ‘n tyd toe Protestantse Christene al hul sekerhede, hulle besittings en lewens verloor het. Al wat vir hulle oorgebly het om aan vas te hou was die ewige Rots: Jesus Christus. Hulle HOOP en TROOS was net Christus Jesus ALLEEN.

Ek verwys na die jare 1522 tor 1573. Die jare staan bekend as die Kontra – Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende die tyd het die inkwisisie Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk. Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kerkers gedurende die middernagtelike ure. Manne, vroue, en jong seuns en meisies is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte. Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek. Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op die brandstapels te laat sterf. SINGENDE het hul gesterf op die brandstapels.

Volgens Crespin het daar in daardie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf: Parys 10 468 en in die hele Frankryk nagenoeg 30 000. Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante hulle per nag, per man uitgemoor het. Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans en vele ander het in vlamme opgegaan.

Op die heilige Bartholomeus – nag is tienduisende Protestante doodgemaak. Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke het met die Sein – rivier afgespel en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed. Die Heilige Bartholomeus-nag word beskou as een van die grootste misdade in die modern geskiedenis.

Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl hulle besig was met eredienste, die kerke afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak. Ja, terwyl die eredienste aan die gang was het hulle die kerke toegespyker en aan die brand gesteek. Al singende het die gemeentes gesing, totdat die geknetter van die vlamme die laaste stem stilgemaak het.

Terwyl die Sein-rivier met bloedbevlek is, stede in vlamme opgaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het, is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf. Dit was die tyd van die groot belydenisskrifte van die Protestantse kerke. As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlammelig van die brandstapels. Sommige dele van die belydenisskrifte is by die tronkvenster uitgegooi, waarna dit oor die hele Europa versprei het en die mense dit gelees het.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy eerste vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

En dan antwoord die Kategismus: “My enigste troos (my enigste hoop) in lewe en dood, is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed. In hierdie tyd was Ps 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue van die Protestantse kerk. Daarom het Luther dan ook die Psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste burg ist unser Gott.” In hierdie Psalm word verklaar dat God die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is, die enigste HOOP is. As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God mag nooit my bykomende troos of my bykomende burg of my bykomende toevlug of my bykomende beskermer of my bykomende hoop wees nie.

Hy moet jou ENIGSTE TROOS, jou ENIGSTE BURG, jou ENIGSTE TOEVLUG, jou ENIGSTE BESKERMER en jou ENIGSTE HOOP wees.

Aan God moet jy hang, al wankel ook alles rondom jou. Aan God moet jy vasklou, deur twyfel heen.

Kom ons kyk wat Ps 46 vir ons vers vir vers sê:

In vers 5 staan daar al kom die natuurrampe en die ekologiese krisisse (aarde gee pad, die see druis en skuim, die berge skud) tem God dit tot ‘n rustige nuttige riviertjie in die Godstad.

Vers 6 sê God is in die Godstad, die stad sal nie wankel nie. God sal kom help, nog voor die môre kom. (Net voor dagbreek het die vyand gewoonlik aangeval. Daarom was die nood gewoonlik net voor dagbreek op sy hoogste. Daarom help God nog voor die môre kom.)   

In vers 9 en 10 staan daar, die geskiedenis kan maar voortgaan. Diktators kan heers en magshebbers hul magte misbruik. Koninkryke kan kom en wankel. God bly in beheer. Hy laat oorloë ophou en spiese verbreek hy.

Nie die natuur of die geskiedenis, niks kan my vreugde en geloofsmoed breek nie.

Bedaar en erken dat Ek die Here is, sê die Here. Wees getroos sê die Here, ek is daar!. Daarom kan jy maar getroos lewe en getroos sterwe.

Nie jou beleggings, jou diefwering of jou alarmstelsel of jou hond of jou roer, kan jou troos wees nie. Jou enigste troos is die Here Jesus Christus. 

Hoor wat sê Hab 3: 17 – 19: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”

Wanneer Habakuk en die volk Israel niks meer het om aan vas te hou nie en net God oorbly, ontdek hulle dat God die enigste en ware HOOP en TROOS vir hulle het.

As jou troos jou beleggings is, is jy nog nie getroos nie.

As jou burg jou diefwering is, is jy nog nie geborge nie.

As jou toevlug jou sekuriteite is, het jy nog geen toevlug nie.

As jou beskerming jou roer is, het jy nog geen beskerming nie.

Wanneer die wêreldekonomie in duie stort en dit met my swaar gaan, is ek nie op moedverloor se vlakte nie. Ek het Jesus Christus!. In Hom kan ek getroos wees, ook as ek deur moeilikhede moet gaan.

WANT MY ENIGSTE TROOS IN LEWE EN IN STERWE IS DAT EK MET LIGGAAM EN SIEL NIE AAN MYSELF BEHOORT NIE, MAAR AAN MY GETROUE SALIGMAKER JESUS CHRISTUS!

Behoort u al so volledig aan Jesus Christus, dat u dit kan sê?

Moeder Theresa, die katolieke non van Kalkutta het eenmaal gesê: “You won’t learn that Jesus is all you need, untill Jesus is all you have.”  Jy leer eers dat Jesus al is wat jy nodig het, die dag wanneer Jesus al is wat jy oorhet.

In die Anglo – Boere oorlog op die plaas Doornbult, buite Hopetown, het die vroue en die kinders in die aande Hollandse gesange gesing uit die wit Engelse konsentrasiekamptente. Niks kon hulle breek nie, want hulle enigste troos was en is Jesus Christus. Alles kan maar wankel, maar hulle het Hom oor as hul enigste ROTS en BURG en HOOP.     

Eers dan is ek werklik vry! Vry om te lewe en om te sterwe. Dan maak niks meer saak nie, solank ek vir die Here kan lewe. Dan het ek geloofsmoed! Geloofsmoed om enige bedreiging vierkantig in die oë te kan kyk. Dan kan ek getroos lewe en getroos sterwe. Dan kan ek hoopvol lewe en hoopvol sterwe. Daarom kan ons hoopvol lewe in hierdie skewe reënboogland van ons, want ons het die Here Jesus in ons harte en niemand, niemand kan Hom van ons wegneem nie.

Daarom moet gemeentes, eilande van HOOP wees. Mag ook die gemeente Adelaide ‘n eiland van HOOP wees in hierdie verwarde wêreld.

Mag ons ook in hierdie tyd van COVID-19 ‘n draer van hoop wees, deur vir ander mense hoop te gee. Ja, selfs as my situasie hopeloos geword het, kan en nog ‘n draer van hoop wees, deur vir ander hoop te bring.

Ek kan voorwaar hoopvol lewe en hoopvol sterwe! Ek kan getroos lewe en getroos sterwe, want ek behoort aan Jesus Christus!

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)