SKRIFLESING: Mat 6: 25 – 34 en Luk 12: 22 – 34
Waaruit bestaan miswolke? Ons kry mos by ons gereeld mis. ‘n Miswolk bestaan uit water.

Hoeveel water sou julle sê is in ‘n miswolk van so dertig meter diep, genoeg om sewe straatblokke of Adelaide toe te maak? So ‘n honderd liter? “Vyftig” Nee, dit bevat minder as ‘n glas vol water. Klink ongelooflik nê? ‘n Enkele glas water kan die hele Johannesburg Internasionale Lughawe tot stilstand bring. Een glas water kan ons hele uitsig heeltemal versper. So is dit ook met bekommernis. ‘n Klein bietjie kommer, as jy dit toelaat om te vermeerder, kan soos ‘n digte miswolk oor jou hele lewe hang.

‘n Klein bietjie moeilikheid kan tot onhanteerbare sorge vergroot word. Jy kan so maklik verval in die groef om gedurig te tob en te kommer oor more en oor gister. ‘n Aartsbekommeraar het een maal gesê: “ ek het so baie moeilikhede, as daar vandag nog iets moet gebeur, sal ek eers oor twee weke daaroor kan begin kommer!”
Hier in 2020 in die midde van die COVID-19 pandemie, is daar baie dinge waaroor ons bekommerd is.
- Ons is bekommerd ons kry COVID-19
- Ek is bang ek of een van my geliefdes sterf van COVID-19.
- Ek vrees werkloosheid of dat ek my werk verloor.
- Ek is bekommerd oor my kinders se geleerdheid en hulle toekoms in hierdie land.
- Ek vrees misdaad teen my en my gesin.
- Ek vrees ‘n plaasaanval in ons distrik.
- Ek vrees onverantwoordelike wetgewing, wat my kan beroof van my plaas of van my pensioen.
Bekommernis kan ook ‘n goeie ding wees. Dit spoor hou aan. Dit gee jou adrenalien.
- Jy is bekommerd oor die oudag, daarom spaar jy.
- Jy is bekommerd oor plaasmoorde en daarom beveilig jy jouself en aktiveer boereverenigings om paraat te wees.
- Jy is bekommerd oor waarheen hierdie land heen gaan en daarom maak jy jou monde op.
- Jy bekommer jou of jy ‘n sekere taak sal kan doen, daarom berei jy jouself deeglik voor.
Bekommernis kan dus positief en kreatief wees. Daarom leer die Here vir ons mos om oor die regte dinge te bekommer, soos oor Sy Koninkryk en die wel wese van ander mense.

Dit kan egter gebeur dat jou bekommernis jou nie tot aksie aanspoor nie, maar eerder verlam. Dan word bekommernis destruktief. Jy word ‘n geestelike en emosionele kreupele. Jy tas in die duister rond. Jy is ‘n swerwer sonder rigting.
Dan kom gee die Here Jesus vir ons raad: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.” Jesus interpreteer hierdie soort kommer as ‘n selfbeheptheid, as ‘n ongesonde introspeksie waar jy niemand en niks as jouself raaksien nie. Jesus se terapie is om jou in die eerste plek van jouself te laat wegkyk. “KYK” sê Jesus. Kyk na die kraaie, kyk na die lelies! God voed die kraaie, God klee die lelies. Hoeveel meer kyk God nie na Sy kinders nie.
Jesus draai jou oë ook na ander mense wat regtig rede het om te kommer oor wat hulle gaan eet of aantrek: die armes. En Jesus vra dat jy sal gee. Die beste aksie stap wat jy kan neem teen honger- en klere- bekommernis is om van jou kos en jou klere uit te deel.
As jy dit doen, van jouself wegkyk na die voëltjies en die blommetjies en die armes en die hongeriges en die naaktes, dan is jy besig met Koninkryksdinge. Dan sal jou bekommernis soos mis voor die son verdwyn.
Ons is behep met geld, met ons goeie naam, ons posisie, ons motors, ons huise, ons plase, ons toekoms en. Dit neem ons hele gedagtewêreld op. Ons is heeltyd met onsself besig. Dit wat regtig saak maak in die lewe kyk ons heeltemal mis.
Ek moet nie vir geld of status of posisie leef nie. Dit gee geen sin aan my lewe nie. Ware lewensgeluk, die ware sin van die lewe is om ‘n lewe te leef vir ander. Die sin van die lewe is om my lewe as ‘n offer vir ander uit te giet.
- Ek moet leef om ‘n goeie lewensmaat vir my eggenoot te wees.
- Ek moet leef om ‘n goeie ouer vir my kinders te wees.
- Ek moet leef om ‘n goeie werkgewer vir my werknemers te wees.
- Ek moet leef om ‘n naaste vir ander mense te wees.
- Ek moet leef om ‘n verskil in ander mense se lewe te maak.
- Ek moet lewe om van hierdie skepping ‘n beter plek te maak.
- Ek moet leef om ‘n weerkaatsing van God se liefde te word.

Daar word vertel van die vrou wat jare lank aan erge depressie gelei het en vir jare op medikasie was. Een aand toe sy ‘n koerant koop by ‘n koerantverkopertjie, ontdek sy dat die kind in die koue wintersnag honger is en nie ‘n trui het nie. Sy het vir hom toe elke aand sop gebring en na ‘n week vir hom ‘n trui gebrei. Sy het toe begin heerlik slaap want sy het sinvol ‘n verskil in ‘n ander een se lewe gebring. Sy het begin met ‘n sopkombuis in haar buurt en binne weke het sy sommer weer haarself gevoel.
Middelpuntsoekende krag, wat die eie ek soek werk altyd vernietigend. Middelpuntvliedende krag beweeg weg van die eie ek, na ander en skep lewe en vreugde. Gebruik die dae wat God vir jou gee, tot voordeel van ander – as ‘n offer vir ander mense, maar bowenal as ‘n offer vir God. Dit bring geluk, dit bring ‘n kommervrye en sinvolle lewe.
Dit is waar ons verlammende bekommernisse vandaan kom, naamlik van verkeerde prioriteite. Wanneer my prioriteite rondom myself en my goed en my posisie en my goeie naam draai, dan word ek siek van bekommernis. My bekommernis maak my lam en kreupel.

“Eerste dinge eerste.” sê Jesus. Eers God se Koninkryk, God se eer, jou medemens se behoeftes, en dan kan jy lekker slap. Jesus se terapie werk. Die son begin skyn. Die digte mis klaar op. Jou moeilikheid is toe kleiner as ‘n glas water. Die ergste wat jy verwag, gebeur toe nooit nie, want jy sien die voëls en die veldblomme, jy erken die hand van God in jou lewe, en jy raak besorg om hulle wat kommer het, te versorg.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)