Deur aanvaarding word mense weer heel !


SKRIFLESING: Luk 19: 1 – 10

Elke mens wil graag deur ander mense aanvaar word. Saggeus was ook so ‘n mens wat graag aanvaarding en liefde gesoek het.

Ongelukkig is hy van kleins af eenkant toe gestoot. Waarskynlik was sy voorkoms een van die redes, waarom hy nooit gewild was nie. Want sien dié Bybel maak pertinent melding van sy kortheid. Hy was abnormaal kort.
Dit gaan dikwels op ‘n Sondagskoolpiekniek soos kinders wat twee spanne moet kies vir sokker of vir ‘n groepspel. Daar word vir elke span ‘n kaptein aangewys. Elke kaptein kry dan elke keer ‘n beurt om iemand vir sy span te kies. Die gewildstes, die atletiese, die beste en die vinnigste word altyd eerste gekies. Die laaste outjies voel dan gewoonlik heel gebelg en die heel laaste outjie moet dan gewoonlik die amptelike tellinghouer wees.
So was Saggeus gewoonlik ook die laaste in alles. Dalk het hy nog ‘n bynaam ook gehad, wat hom seer gemaak het.

Verwerping is iets wat elke mens van tyd tot tyd in sy lewe ervaar. Kinders ervaar dit, grootmense ervaar dit en bejaardes ervaar dit. Ja, soos die ou wat smoorverlief op ‘n meisie is en dan antwoord die meisie vir hom: “Al is daar ook ‘n atoomoorlog en al die mans is dood, dan wil ek nog steeds niks met jou te doen hê nie.” Hoe moet die arme man voel?
Wat doen ons as ons verwerp word of verwerp voel? Sosioloë sê mense tree gewoonlik op een van die volgende twee negatiewe wyses op.
• Hulle verval in selfbejammering, voel na suur druiwe, is verbitter, het wraakgedagtes en probeer om ander mense te “spite” of terug te kry.
• Ander weer verander hulle klere, sedes en selfs beginsels net om deur ander aanvaar te word.
Saggeus het ook verander. Hy het as Jood aanvaarding by die Romeine gesoek en dit ook gekry. Hy het sy Joodse naam Sagaria verander na Saggeus, omdat die meeste Romeinse name geëidig het op “-us”.
Hy het ‘n beroep in die tolbedryf gekies. Met ander woorde hy was ‘n “ontvanger van inkomste”, wat geld vir die Romeinse owerheid ingesamel het. Die Jode het nie van die Romeine gehou nie en daarom was om belasting vir die vyand te betaal ‘n bitter pil om te sluk.
Saggeus het dit egter met soveel oorgawe gedoen, dat hy spoedig bevorder is tot die hooftollenaar. So kon hy sy volksgenote terugkry wat hom so verwerp en met minagting gespot het. Ja, hy het ook gans en al te veel geld ingesamel as wat hy moes en die res het hy in sy sakgesteek. Tot watter laagte sal ‘n mens nie daal, net om êrens “iets te wees nie.
Alhoewel Saggeus ‘n ryk en magtige man geword het, was daar altyd ‘n gemis in sy lewe. Saggeus wou êrens behoort. Tog was hy nie welkom gewees in die sinagoge nie en daarom het hy ook gevoel dat die God van sy voorvaders hom ook verwerp het.
Ja, Saggeus het ver van God gevoel en ver van sy eie mense. Saggeus was alleen, bitter alleen.

Op ‘n dag hoor Saggeus van ‘n bekende en omstrede rabbi wat Jerusalem sou besoek. Hy het besluit dat hy graag vir hierdie rabbi sal wil sien. Daarom het hy in ‘n wildevyeboom geklim, net om vir Jesus te sien aangesien die skare groot was en hy kort van figuur.
Dan verskyn Jesus in die skare. Die mense drom saam, almal wil immers hierdie omstrede rabbi van nader leer ken. Immers almal praat van hom, wie sal hom nie wil ontmoet nie.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 2a97da55e8d32ecca6ebeff1c77d27f4-zacchaeus-childrens-bible-2.jpg

Saggeus sit in die boom. Tevrede dat hy darem ten minste vir Jesus op ‘n afstand kan sien. Meer het hy in elk geval nie verwag nie. Hoekom sal ‘n bekende rabbi soos Jesus met hom wil praat? Want hy het ‘n ongewilde beroep, pers mense af en steel selfs geld. Vir Saggeus was die ontmoeting op ‘n afstand genoeg gewees. Meer het hy immers nie verdien nie.
Dan stop Jesus reg onderkant die boom en sê hy wil vanaand in Saggeus se huis tuisgaan. Jesus ken Saggeus by die naam, Jesus sien hom raak en Jesus wil by hom tuisgaan. Ek dink Saggeus het skoon van verbasing en blydskap uit die boom geval. Dit is so goed soos hy het die “lotto gestrike”. Die totaal ondenkbare, die hoogs onwaarskynlike het gebeur. Jesus het die verwerpte, die uitgestotene, die randfiguur, die vyand, die dief en afperser raakgesien.
Die wonderlike is dat Jesus nie eenkeer vir Saggeus aangespreek het oor sy sonde en afpersing nie. Nee, Jesus het Saggeus net aanvaar met die “liefde van Jesus.”
Die aanvaarding wat van Jesus uitgegaan het na Saggeus het vir Saggeus heeltemal verander. Nie die oordeel nie, maar die liefde van Jesus het van Saggeus ‘n nuwe mens gemaak. Met blydskap verklaar Saggeus dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee en waar hy van iemand iets afgepers het, sal hy dit vir hom vierdubbel teruggee. Saggeus se geldgierige hart, word nou ‘n hart vol van Jesus se liefde. Om bevry te word van aardse goed en skatte is dikwels die moeilikste en laaste gedeelte van jou bekering. Saggeus se bekering begin by die gedeelte, naamlik “Mammon” wat die heel moeilikste is. Daaruit blyk dit hoe opreg en grondig Saggeus hom bekeer het van sy verkeerde weë.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is maxresdefault-1.jpg

Daar word vertel van die gesin wat op pad was terug van ‘n piekniek. Op pad terug kry hulle ‘n klein katjie, eintlik ‘n “vlooitaxi” wat verskrik en verwaarloos is. Die katjie is uiters aggressief en vertrou niemand nie, omdat hy verwerp is deur sy eienaar. Ja, sy nekhare rys en hy kap met sy naels. Die pa wou eers die kat net so laat staan, maar sy kinders hou so aan dat die pa toe maar ingee en die katjie huistoe vat. Met ‘n groot gesukkel het hulle by die huis die katjie gebad, ontsmet en warm melk gegee. ‘n Paar weke later na baie liefde en aandag het die eens aggressiewe katjie ‘n liefdevolle en teer katjie geword wat spin en homself teen jou bene kom skuur vir liefde. Die liefde en aanvaarding van die gesin teenoor die katjie het die katjie se persoonlikheid van aggressief na liefdevol verander.
In ons wêreld is daar ook baie seerkry mense, met bitter wonde van verwerping, maar deur aanvaarding en liefde word hulle heel en nuut. Ja, Jesus is ook verwerp aan die kruis, sodat ons nooit verwerp hoef te voel of iemand anders hoef te verwerp nie.
Saggeus het aanvaarding by Jesus gekry en toe het hy begin om mense lief te hê deur hulle te aanvaar en te help. So het hy genees geword van sy eensaamheid en verwerping.
Augustinus het gesê: “Die enigste vorm van suiwer liefde is dié wat niks terugverwag nie.” Saggeus is deur Jesus se liefde genees van sy verwerping, sodat hy sy liefde kan uitdeel aan ander. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s