Veranderende geestelike seisoene, onveranderlike God

SKRIFLESING: Psalm 1: 3 en Openbaring 22:2

Ons kan maklik verstrik raak in ’n voorspoedsteologie, waar ons dink dat alles in die Christelike geloof gaan om “JOY”. Ons het almal al as jeugdiges tienerkampe bygewoon, waar ons op ’n geestelike hoogtepunt was en gedink het Christenskap gaan oor ewigdurende blydskap en vreugde en vrede en voorspoed. Dan gebeur daar somtyds traumatiese goed in jou lewe en jy voel gestroop van die “JOY”. Dikwels vra ’n mens dan die vraag, maar waar is God nou?

Dr. Riaan van der Merwe verduidelik dat ’n mens eerder moet praat van die vier geestelike seisoene in jou lewe. Elke mens ervaar geestelike lentes, somers, herfs en winters. Elkeen van die geestelike seisoene is baie nodig vir jou geestelike lewe. Ons kry nie net somervrugte soos perskes en appelkose nie, maar ook wintersvrugte soos lemoene en nartjies.

Die lente kan wees ’n nuwe geestelike herlewing, nuwe ontdekkings van hoe God met jou ’n nuwe pad wil stap, ’n tyd van geestelike ontwaking en ’n tyd wat jy baie naby aan God voel.

Die somer kan ’n plek in jou lewe wees waar jy gemaklik geestelik groei en waar jou geloof baie sterk is. Daar is ook nie eintlik swaarkry in jou lewe nie. Die lewe voel soos een lang somervakansie en die bome staan lowergroen. Jy verlustig jou in die Here se goedheid in jou lewe.

Die herfs kan ’n tyd wees waar jy gestroop word van jou sekerhede en daar ook by jou baie vertwyfeling oor baie dinge in jou geestelike lewe of in jou persoonlike lewe is. Jou eertydse sekerhede val af soos blare in die herfs. Jy wonder, jy twyfel, jy is onseker en jy vra dieper vrae. Jy word gestroop van jou geestelike hoogmoed en eiewaan en begin om dieper te leef.

Die wintertye in ’n mens se geestelike lewe is die ergste. Dit is wanneer jy geestelik en emosioneel van God afgesluit voel. Jy voel ver van God af. God voel selfs vir jou afwesig in jou lewe. Jy ervaar ’n diep dors, maar jy weet nie hoe om jou dors weer te les by God se fonteine nie. Wintertye is die krisistye in jou lewe. Dit is dikwels ook tye wanneer jy voel jy wil emosioneel tot rus kom by die Here, soos die natuur ook tot rus kom.

Daarom is die geestelike lewe nie maar net een lang “JOY”-tydperk nie. Dan is dit voorspoedsteologie. Dan maak net lente en somer saak in jou lewe. Die voorspoedsteologie kan nie die herfstye en die winterstye in jou lewe hanteer nie.

Somtyds het ’n mens ’n wintertydperk of  ’n stuk gewondheid nodig om jou in te lei in ’n dieper vlak van geestelikheid. Wintertye van vertwyfeling en hooploosheid is juis die tye wanneer ons gestroop word van ons eie selfversekering, sodat ons net aan God kan vashou met ons hele lewe. Jy word dan ook jou ware self: “Nothing is more important, for if we find our true self, we find God, and if we find God, we find our most authentic self” (David Benner).

Maar tog, juis daar in die herfstye en wintertye van ons lewe is God baie naby aan ons. Dan is Hy die naaste aan ons. Dikwels het ons juis winters in ons lewe nodig om te bevestig en te ontdek dat God dikwels agter die skerms werk. Wanneer jy rock-bottom is, sal jy daar vir God vind. Wanneer jy “at the end of your robe” is, soos wat Eugene Petersen in The Message vertaal het, sal God jou daar gryp. Wintersgeloof is die geloof van die Hebreërs-boek en die boek Lot in die Bybel. Dit kweek geloofshelde.   

Vir die lemoene en nartjies om ryp te word is dit nodig om winter te word. Hulle moet swaar kry as gevolg van die koue. So gaan ons ook deur verskillende fases in ons geestelike lewe.

Somtyds voel ons baie naby aan God en ander tye voel ons weer ver van God. Somtyds voel ons Godverlate soos die Psalmdigter Dawid dit in sommige van sy Psalms uitdruk. Prediker sê selfs in sy boek dat daar ’n tyd vir alles is. Juis daarom moet ons elke tyd en seisoen in ons lewe ontvang as geskenke van die Here en elke seisoen beskou as ’n leerkurwe in ons lewe.

Soos wat ’n skoenlapper deur verskillende fases in sy lewe gaan – van ’n eier, ’n wurm, ’n papie tot uiteindelik ’n skoenlapper gaan ons ook deur verskillende lewensfases is ons lewe. Elkeen van die fases of groeiseisoene is belangrik.

Vergelyk jou eie lewe met ’n boom. Die Bybel praat op baie plekke van bome. Die bekende Psalm 1 praat van die regverdige wat  soos ’n boom is wat by waterstrome geplant is. ’n Boom lyk nie heeljaar dieselfde nie. In die lente, somer, herfs en winter verander die boom gedurig van gedaante. So ook wissel ons geestelike lewe voor God. Tog is elke fase goed en nodig. In elke fase vind daar groei en rus plaas.

Daar is talle plekke in die Bybel waar daar van bome gepraat word. In die klassieke tale kom die woord “boom” meer as 300 keer voor. In Genesis 2 lees ons van die “boom van lewe en dood”, waarvan niemand mag eet nie. In ons gelese gedeelte, Psalm 1:3, word gesê dat die boom op sy tyd vrugte gee. Dit beteken, net wanneer die boom daarvoor bestem is, met ander woorde in die regte seisoen is, sal dit vrugte dra. Maar dit sal nie heeltyd, twaalf maande lank vrugte dra nie.

Maar in ons ander skrifgedeelte, Openbaring 22: 2, staan daar “en elke maand sy vrugte gee”. Dit staan direk teenoor Psalm 1: 3. Nou sal ons nog verbonde wees aan ons emosionele  geestelike lewe se seisoene. Dit sal wissel. Maar wanneer Openbaring se beloftes aanbreek, sal ons elke maand vrugte, heeljaar vrugte dra. Dan sal ons nie rondgeslinger word deur die emosionele seisoene nie.

Daarom moet ons nie ons geloofsekerheid koppel aan ons eie emosionele belewenis nie. God staan vas en seker. Ek mag maar soms twyfel. God kom versterk my geloof as ek soms twyfel. Dink aan die Johannes die Doper in die tronk en aan die twyfelende Thomas in die Bybel. Die Here het albei gehelp om weer te glo.  Al wat ek moet doen is om soos Andrew Murray gesê het, myself oor te gee aan God in elke seisoen van my lewe, wagtend dat God sy heilryke werk in my lewe sal doen.

Daarom moet ek in elke seisoen van my lewe nuuskierig wees wat God in my lewe wil bewerk of wil doen. Ek moet my geestelike lewe voor God as ’n wonderlike reis beskou. Telkens sal ek verstom staan oor hoe God in en deur my werk.

Ons lewe is soos die boomringe van ’n boom. Daar is dik en dun jaarringe. Daar is tye van oorvloed en skaarsste, tye van voorspoed en droogte. Ja, daar sal ook tekens wees van brand en waar takke afgeskeur of afgesny is. Maar al die kenmerke van die boom maak die boom uniek. So is ons elkeen ook bome wat uniek gevorm is deur die seisoene van ons lewe. Geen boom lyk soos ’n ander een nie. Daarom, as jy soms deur herfs- en winterseisoene gaan in jou geestelike lewe, weet dat jy God juis veral daar sal vind.  

So lyk elke mens se lewe anders as dié van ander. Ons is verskillend gevorm deur die seisoene van ons lewe. Koester jou lewensboom. Koester die merktekens van jou wonde. Dit het jou die mens gemaak wat jy vandag is. Verlang na Openbaring 22: 2, wanneer ons nie meer seisoenale vrugte sal eet nie, maar dat die vrugte elke maand beskikbaar sal wees. Ja, dan is alles volmaak, want dan is daar nie meer seisoene nie. Daar sal nie meer seisoene wees van herfs en winter, waar ons swaar kry, twyfel of krisistye in my lewe ervaar nie.

Alles sal een groot lang somer wees. Die koue fronte van die lewe kan my dan nie meer plattrek nie. Dan sal ons in God se somer leef.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Deur ons gebede kan God van plan verander

SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11 en 1 Samuel 1: 1 – 19

’n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ’n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”

Maar mag ’n mens so sê? Is ’n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ’n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ’n robot wat vooraf geprogrammeer is nie. Dan sou die mens soos ’n vooraf-opgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid as hulle lewenspad reeds vasgegiet is?

Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde, alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.

In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het Hiskia tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.

Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met vyftien jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met vyftien jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met tien trappe terug geskuif.

Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ’n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal. Daarom is ons lewe nie ’n deterministiese lewensbeskouing of bloot fatalisme, waar alles vooraf presies bepaal is en niks kan verander nie. Dan sou ons bloot robotte wees met ’n meganiese lewensbeskouing dat alles in die lewe presies geprogrammeer is.

Dan sou gebede nutteloos wees. Dan sou daar niks kom van vurige en aanhoudende gebed nie. Daarom gee KI die volgende pragtige definisie: “Die lewe is nie ’n aftelklok wat eenvoudig afloop nie; dit is ’n verhaal wat God dag vir dag ontvou.”

Daarom tel ons gebede. Daarom kan gebede sake verander. In ons ander gelese gedeelte lees ons dat Elkana twee vroue gehad het. Die een was Peninna en sy het vir Elkana baie kinders in die lewe gebring. Die ander vrou was Hanna en sy het geen kinders gebaar nie. Hulle het in Rama gebly en elke jaar ’n pelgrimstog na Silo se tenttempel onderneem. Wanneer hulle die offermaaltyd gedeel het, het Peninna baie dele gekry en Hanna net ’n enkele deel. Peninna het Hanna elke jaar so heftig gespot dat Hanna uiters emosioneel geraak en baie gehuil het. Tog het Elkana vir Hanna baie liefgehad en haar telkens van sy liefde verseker. Elke jaar was die spottery egter net erger.

Dan lees ons hoedat Hanna een jaar die tempel ingevlug het en baie hartseer was.  Sy het bitterlik gehuil. Die priester Eli het net haar lippe sien roer. Sy het nie hardop gebid nie, dus het Eli gedink dat Hanna dronk was in die tempel en hy het haar aangespreek daaroor. Sy vertel toe dat sy gebid het om ’n kindjie en dat sy ’n gelofte aan die Here gemaak het. Eli het begrip getoon en haar toe in vrede weggestuur.

Interessant, op Pinkstersondag toe die Gees uitgestort is, het die mense ook gedink dat die dissipels en vroue dronk is. Dit bevestig dat Hanna werklik in die Gees gebid het.

Hanna se gebed was maar stamelend. Sy het alleen gebid (nie in die openbaar nie). Sy het gebid teen alle Joodse gebruike in. Tog het die Here haar gebed verhoor.

Ons lees toe Elkana se familie weer terug was in Rama het hy met sy vrou Hanna gemeenskap gehad en sy het swanger geword. Met die jaarwenteling het sy haar seun Samuel in die lewe gebring. Hierdie Godvresende vrou Hanna het dan die seuntjie Samuel vir die Here grootgemaak.

Soos Samuel in die tempel grootgeword het, mag Richard en Cecilia ook vir Lianri in die huis van die Here, hier in die kerk, grootmaak sodat sy gewoond kan raak aan die ruimte en die gewydheid van die kerkgebou. Dat sy gewoond kan raak aan die liefde van die kerkgemeenskap wat toegewy is aan God. Dat sy die liturgie van die kerk kan leer ken en daarmee grootword. Dan sal sy ook deur die Woordverkondiging mettertyd meer van die Here leer. Dan sal die poorte van die Here se huis vir haar ’n wonderlike plek van toevlug, vrede en beskerming wees.   

As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ’n enkeling rimpels veroorsaak vir ’n heel nuwe toekoms.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.

Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ’n genadige God is.

Dit is daarom ’n wonderlike troos om te weet dat ons gebede nie nutteloos is nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan wel self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ’n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: “Toemaar, my strepie is klaar getrek” nie.

Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ’n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ’n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moes aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het mettertyd een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

In Openbaring 8:4 staan daar:  “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat deur God aanneemlik is.

Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ’n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ’n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe ál die verskil maak.

Bid vir jou kinders …

Bid vir jou eggenoot …

Bid vir jou familie …

Bid vir jou vriend …

Bid vir iemand wat jy ken …

Ja, God kan van plan verander en ’n getrekte strepie met ’n tree of tien verskuif.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Waarheen wys jou kompas?

Die vleesvrou en die geesvrou

SKRIFLESING: Luk 10: 38 – 42 en Joh 12: 1 – 8

In die ou dae is daar van geestelik en beestelik gepraat. In die Kerkjeugaksie moes die program van die jaar ’n sekere aantal geestelike aande hê en ’n aantal beestelike aande. Met geestelike aande is bedoel Bybelstudie of ’n geestelike onderwerp. Met beestelike aande is bedoel plesier, ’n ete of speletjies. Gewoonlik moes die program meer beestelike as geestelike aande hê om die jongmense te trek.

In ons gelese gedeelte hoor ons van twee susters, Marta en Maria. Marta word gewoonlik eerste in die Evangelies genoem en daarom was sy waarskynlik die oudste. Marta het haar eie huis in Betanië besit, wat in die Bybelse tydperk ’n ongewone verskynsel was. Die twee susters het ook ’n broer gehad met die naam Lasarus, vir wie die Here uit die dood opgewek het. Hierdie gesin was baie naby aan die Here Jesus. ’n Mens kan amper sê hulle was huisvriende.

In Lukas lees ons hoedat Jesus besoek gebring het aan Marta en Maria. Marta was die vleeslike vrou. Sy het haar  bekommer oor baie dinge wat gedoen moes word in die huis en ook oor die bediening van die kos. Maria was die geestelike vrou en sy het aan die voete van die Here Jesus gesit en geleer van al die wysheid en onderrig van die Here Jesus. Die feit dat sy aan die voete van die Here gesit het, was ook baie ongewoon. Vrouens is nie toegelaat om aan die voete van ’n rabbi te sit om onderrig te word nie. Slegs mans het daardie voorreg gehad. So het Jesus teen die Joodse gebruike in vir vroue gelyk geag as mans.

Dan lees ons van die ongeduld van Marta teenoor Maria. Sy kla as’t ware vir Maria aan by Jesus, sou Maria lui wees. Hoor wat sê Martha: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Marta is die besige by, wat net werk en besig bly en dan ook nog simpatie by die Here soek. Marta, as vleeslike persoon, is net met die alledaagse dinge besig. Die tyd dat die Here Jesus gekruisig moet word kom nader. Sy koester nie die laaste geleenthede met die Here nie.

Maria, aan die anderkant, sit aan die voete van die Here Jesus en is leergierig. Sy is die geestelike vrou. Vir haar kan die alledaagse wag. Sy is soos ’n spons wat alles insuig wat die Here vir haar leer. Calvyn het nie verniet gesê dat ’n mens ’n “teachable mind” moet hê nie. ’n Mens moet altyd bereid wees om te leer.

Dan antwoord die Here Jesus vir haar in Luk 10: 41 – 42:  “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

Die Here sê nie dat Marta verkeerd optree of dat sy nie met vleeslike dinge besig moet wees nie. Inteendeel, Marta ondersteun sy bediening en is gasvry. Hy beklemtoon net dat Maria haar besig hou met die noodsaaklikste, naamlik om geestelik te leer en te groei.

In Johannes 12: 1 – 8 lees ons opnuut van Marta wat as vleesvrou die ete bedien het. Maria het hier weer eens, as geesvrou, geestelik opgetree deur ’n halfliter egte, baie duur nardusolie op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog.  Jesus laat haar toe en sien dit in die lig dat sy hom salf met die oog op sy begrafnis wat binnekort plaasvind. Die mense sê mos: “Moenie vir my blomme gee vir my begrafnis nie. Gee dit vir my terwyl ek nog leef en dit kan waardeer”. Maria het Jesus vereer terwyl Hy nog by hulle was.

Ek is bevrees dat ons lewe ook so opgeslurp word deur die alledaagse vleeslike doenighede. Ons hardloop rond soos ’n springhaas om by alles uit te kom. Ons is in die aand stokflou, sonder om by die geestelike uit te kom.

Somtyds is ons kompasnaald op die verkeerde gerig. Ek wil net met die vleeslike en beestelike dinge besig wees. Ek het nie tyd vir die spirituele begeertes van my hart nie. Dan sê Augustinus so treffend, “… my hart sal onrustig bly tot dit rus vind in God”. Daarom moet my kompasnaald, die sin van my lewe, op die geestelike dinge gerig wees. Ek moet God begeer meer as enigiets anders. Met ’n diep dors na God, moet my geestelike kompasnaald altyd na God soekende bly wees. Ons sal soekende bly  wees, want ons bly sondige mense.

Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper inbeitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. Ek moet mediteer  oor die Woord. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is, het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ’n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons wat maar gewone mense is dit nie nodig nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is (net soos Marta). Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 – 34 hoe hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer, het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

God kan jou geestelike lewe daagliks op verskillende maniere aanraak. Soms kan ’n geestelike musiek YouTube-video jou innooi in ’n aanbiddingsmoment. Om lank en ver in die natuur te stap en alles fyn waar te neem en God in alles te sien, is ook aanbidding. Om elke jaar deur ’n Dagstukkiesboek te werk is betekenisvol. Jy kan doodeenvoudig ook net “Wandel in die Woord”, deur te mediteer wat die Here vandag vir jou openbaar deur die gelese gedeelte. Om God te soek in die gewone van elke dag is ook aanbidding. Om aan die einde van elke dag die vraag te vra waar jy vandag vir God gesien het, kan betekenisvol wees vir jou geloofslewe.   

Om op ’n Retreat te gaan na ’n Retreat-sentrum vir ’n naweek of ’n paar dae in absolute stilte, is ook baie sinvol vir baie mense se geloofslewe. 

Ek vind dit ook geestelik verrykend om vir lang tye in kloosters of katedrale te gaan sit met die kenmerkende skemerte, gekleurde glasvensters, absolute stilte en dan natuurlik die knielbankie by elke bank, waar jy op jou knieë kan gaan om te bid. Die absolute skoonheid van die katedraal vertel iets van wat die argitekte raakgesien het van die heerlikheid van God toe hulle die besondere geboue ontwerp het.

Soek God in die stilte. Soek God in die onverwagse. Soek God in die eenvoud. Soek God in die broosheid van die lewe. Jy sal God oral vind, as jy diep genoeg en lank genoeg kyk.

Ek wens ons Gereformeerdes het ook knielbankies gehad, waar ’n hele gemeente op hulle knieë kan gaan om God te aanbid. Nie alle gelowiges is gemaak vir charismatiese kerkmusiek wat jou emosies opwerk nie. Die meeste soek die Here in stilte, in skoonheid, in ’n goed-voorbereide preek en in lofgesange met gewydheid. Soek God in die gewydheid van ’n gewone erediens. Daar hoor jy in die besonder hoe God praat, want waar die Woord verkondig word, vind die besondere openbaring van God plaas deur Sy Woord en Gees, wat tegelyk werksaam is.

Ek moet my elke dag vleeslik besig hou met die alledaagse, maar die belangrikste is om ook elke dag geestelik besig te wees. Dan sal ek elke dag die rus en die vrede van die Here Jesus geniet. Wees “teachable”. Laat jou onderrig. Ons moet lewenslank aan die voete van die Here Jesus sit. As jy nie “teachable” is nie, kan jy nie geestelik groei nie. As jy nie tyd maak vir geestelike groei nie, is jy soos ’n boom met ’n swak ontwikkelde wortelsisteem. As die storm kom, dan waai die boom om.

Dien die Here prakties soos Marta gedoen het, maar ontwikkel ook geestelik soos wat Maria gedoen het.  

Dan sal jy geseënd genoem word.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Die honger na ‘n beter wêreld

SKRIFLESING: Mat 5: 6 en Mat 23: 23 en Rom 8: 18 – 25

Daar is min dinge in die lewe wat soveel respek afdwing as absolute billikheid en regverdigheid.

Mense wat die meeste respek afdwing, ondanks verskille, is mense wat onkreukbaar regverdig, billik en eerlik is – dikwels tot hulle eie nadeel. Sulke mense laat gewoonlik  ’n blywende indruk op ander se lewens.  Sulke mense se karakter word gevorm, deurdat hulle ’n droom het na ’n beter wêreld. 

Ons moet nie dink die hemel begin eers eendag nie. Dit begin alreeds waar ons die hemel waar maak in hierdie aardse gebroke wêreld. Ons moet nou alreeds iets van die hemel sigbaar maak, om in ’n beter wêreld te leef.

In die droom van Salomo in 1 Konings 3: 1 – 15 vra die Here vir Salomo hy kan vra wat sy hart begeer. Dan vra Salomo “’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk.” Salomo begeer geregtigheid bo alles. Die Here was so tevrede met Salomo se wens, dat Hy hom op die koop toe ook rykdom en aansien gegee het. Salomo wou van die lewe en van sy koningskap ’n beter wêreld skep, daarom het hy wysheid gekies.

Die vierde Saligspreking is gebou op die tweede Saligspreking. Eers as jy treur oor die ellende en die onregverdigheid in die samelewing, kan jy honger en dors na die ware geregtigheid en ’n beter wêreld. Dan kan jy honger en dors na die Messiaanse Ryk wat moet kom en vergestalting vind, sodat die ellende van hierdie wêreld minder kan word. In die Bybel is daar geen sprake van heil of genade of verlossing, sonder reg en geregtigheid nie. Die Lewende Bybel vertaal die vierde  Saligspreking met “’n brandende begeerte om te doen wat God wil hê.”

Sonder die honger na ’n beter wêreld, sal jy nooit kan kom om te soek vir reg en geregtigheid nie. Eers as jy treur en gebroke is oor die stukkendheid van die wêreld, kan jy honger na ’n beter wêreld.

En hoe kom die beter wêreld? Mat 23: 23 beskryf wat die verkeerde fokus en dan ook die regte fokus is: Ellende wag vir julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Julle gee tiendes van kruisement, anys en komyn, maar julle verwaarloos die gewigtiger sake van die wet: geregtigheid, barmhartigheid en trou. Juis hierdie dinge moes julle gedoen het, sonder om die ander na te laat.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gedink hulle lewe is reg omdat hulle die wetsgedeeltes nagekom het. Maar hulle het vergeet om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom.

Jacques Philippe skryf: “Gelukkig is diegene wie se diepste begeerte nie beperk is tot een of ander menslike ambisie nie, maar gesentreer is op ’n begeerte na heiligheid, die begeerte om God te behaag en Sy wil te doen, om God en naaste lief te hê met al die krag van hul harte. Hulle sal ontvang wat hulle begeer en sal vervul word.”

Ons is geneig om eiegeregtig te wees. Ons begeer geregtigheid wat ons pas en wat ons behoeftes bevredig. Daarom is ons so geneig om selfsugtig te wees. Daarom is die kerk en die Christen se getuienis dikwels nie sterk nie. Ons tree nie regverdig op teenoor mekaar en die samelewing nie. Ons honger nie daarna om goed te doen aan ander mense en aan die wêreld nie. Ons is net honger vir onsself.

Luther se bekende uitspraak Hoe heiliger, hoe sondiger word ook in dié lig verstaanbaar. Hoe nader ’n mens aan die Here kom (dit is wat heiligheid in sy wese is), hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie. Mense wat ver van God leef, vind gewoonlik min fout met hulle eie lewe. Dit verklaar ook waarom Paulus homself die allergrootste van sondaars kon noem. Inderdaad ’n sprekende voorbeeld van “hoe heiliger, hoe sondiger.”

’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou werknemers billik behandel. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou beste gee vir jou werkgewer. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld  as jy alle mense gelyk en regverdig behandel, ongeag hulle afkoms, ras, klas of stand in die samelewing. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy mense nie ekonomies uitbuit nie. ’n Mens is honger en dors na  ’n beter wêreld as jy jou vorms en belastingopgawe met eerlikheid invul en nie meedoen aan korrupsie of omkoopgeld nie. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld is as jy die naam van jou medemens beskerm teen skinder en laster. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy opkom vir hulle wat verdruk word of deur die samelewing misken word. ’n Mens is honger en dors na ’n beter wêreld as jy jou ontferm oor die armes en die randfigure in die samelewing.

Die Here Jesus het gesê dat as ons enigiets doen teenoor ons medemens wat van geregtigheid getuig, ons dit eintlik aan Jesus doen, want Jesus is die volmaakte beeld van geregtigheid. Dan honger ons na ’n beter wêreld.

In die Bybel waarsku die Here dikwels sommige konings van die Ou Testament dat hulle swak herders is vir die volk. Vergelyk maar net die woorde van die profeet Esegiël wat sê dat die herders van die volk mense misbruik, wegstamp en net die beste vir hulself wil hê. In die hedendaagse politieke landskap lees ons ook van staatskaping, nepotisme en korrupsie op groot skaal. Dit ontbreek ons landsleiers om in geregtigheid te heers. Dit plaas ons land op ’n afdraande pad. Daar is nie drome na ’n beter Suid-Afrika in ons regering nie. Daarom verval ons al meer in ’n stukkende,  mislukte staat. Inderdaad leef ons onder ’n skewe reënboognasie. Daar is geen of min ambisie by baie politici, om die honger na brood, werksgeleenthede, basiese regte en menswaardigheid te herstel.

Jacques Philippe skryf: “God maak geen uitsonderings nie, maar behandel almal met absolute gelykheid. Hierdie goddelike geregtigheid is ’n vereiste vir die mensdom, wat voor God moet staan in ’n verhouding van waarheid sonder verskonings.”

Antique balance scale showing riches on one side and poverty items on the other

Die ryk man in die gelykenis van Lasarus het sy dors te laat ontdek. In die hel het hy vir Abraham gevra dat Lasarus net sy tong moet kom natmaak. Maar helaas te laat. Vir ’n leeftyd het hy nie die regte van Lasarus raakgesien terwyl Lasarus buite sy poort gelê het nie. Die ryk man het nie ’n honger gehad na ’n beter wêreld vir Lasarus nie, nou het hy ’n ewige dors, wat erger is as hongerte.

In 1 Konings 21 lees ons ook van koning Agab wat die grond en wingerd van Nabot begeer het. Toe hy dit nie kon kry nie, het hy hom opgeruk en in sy slaapkamer toegesluit en niks geëet nie. Sy vrou Isebel het toe ’n plan gemaak en valse getuienis is teen Nabot ingebring deur twee boosdoeners. As straf is Nabot met klippe doodgegooi.  Agab kon toe besit neem van Nabot se grond. Oor hierdie onreg het die Here vir Agab gestraf. Agab het nie ’n honger en dors na geregtigheid gehad nie, maar was honger en dors na sy eie belange. Hy het geen begeerte na ’n beter wêreld gehad nie.

’n Mens kan nie gelyk na die aarde en hemel kyk nie. Net so kan ’n mens nie gelyk kyk na ’n wêreldse gesindheid van onreg en na hemelse geregtigheid nie. Jou hart kan nie verdeeld wees nie. Thérèse van Lisieux het gesê:  “I don’t want to be a saint by halves!”

As ’n mens net honger is na jou eie voorspoed, rykdom en aansien is jy soos ’n hond wat na sy eie braaksel toe terugkom om dit te eet. Dit bevredig nie. Dit stil nie die honger nie.  Eers as jy honger en dors na die regte van ander mense, word jy versadig, want dan vind jy sin in jou lewe. Dan is daar betekenis in jou lewe. Ons as Christene moet elke dag honger na ’n beter wêreld. Nie soseer ’n beter lewe vir onsself nie, maar ’n beter lewe vir ander en vir die honger van die wêreld.   Ons moet kan treur oor hierdie wêreld voordat ons ’n honger kan ontwikkel vir ’n beter wêreld.

Maar die saligspreking het ook betrekking op honger en dors na die geregtigheid wat God deur Sy Seun Jesus Christus skenk. In Joh 14: 4 sê Jesus dat elkeen wat die water drink wat Jesus gee, nooit weer dors sal kry nie. In Joh 6: 35 sê Jesus dat Hy die brood van die ewige lewe is en dat  elkeen wat na Hom toe gaan nooit weer honger sal kry nie. As ’n kind honger is, sal sy vader en moeder altyd vir hom of haar kos gee. Net so, as ons honger na God se swaar-verdiende geregtigheid, sal God ons altyd versadig met verlossing en saligheid. 

Woman in medieval clothing praying quietly inside stone chapel with arched windows

God se honger en dors na Sy kinders is baie groter as ons honger en dors na Hom. Hy het ’n onuitspreeklike liefde vir Sy kinders. Daarom het Jesus aan die kruis gesterf.

’n Mens kan nie jou verlossing koop of verdien nie. In die Middeleeue het die Rooms Katolieke Kerk van die mense geld of afkoopboetes gevra om van hulle sondeskuld ontslae te raak.

Wanneer ’n gasheer sy vriende nooi vir ’n ete, verwag hy nie dat sy vriende daarvoor betaal nie. Al wat hy wil hê is dat hulle met ’n aptyt na die ete toe kom om lekker te eet. Daarom betaal ons nie vir ons verlossing nie. Ons moet net met ’n aptyt van  honger en dors na Christus toe kom. Hy sal ons gratis voed met Sy geregtigheid en ons dors les met die ewige water.

Toe die verlore seun honger was, het hy na die varke gegaan. Toe hy egter wou sterf van honger, het hy na sy vader gegaan. Dit is die tipe desperaatheid waarvan die vierde saligspreking praat.

Ons fisiese lewe hang af van kos en water. Ons geestelike lewe hang af van geregtigheid. Daarna moet ons honger en dors. Dan is die beloning dat ons versadig sal word om die sin van die lewe te ervaar en te beleef. Die sin van die lewe is om te honger om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak.

Augustinus het gesê: “God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly totdat dit rus vind in Hom.” Ons sal rus vind en versadig word as ons Sy geregtigheid met ons hele hart najaag. As ons elke dag honger en soekend is na ’n beter wêreld, sal ons lewe betekenis en sin hê.  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.

Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3813). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.