Waarheen wys jou kompas?


Die vleesvrou en die geesvrou

SKRIFLESING: Luk 10: 38 – 42 en Joh 12: 1 – 8

In die ou dae is daar van geestelik en beestelik gepraat. In die Kerkjeugaksie moes die program van die jaar ’n sekere aantal geestelike aande hê en ’n aantal beestelike aande. Met geestelike aande is bedoel Bybelstudie of ’n geestelike onderwerp. Met beestelike aande is bedoel plesier, ’n ete of speletjies. Gewoonlik moes die program meer beestelike as geestelike aande hê om die jongmense te trek.

In ons gelese gedeelte hoor ons van twee susters, Marta en Maria. Marta word gewoonlik eerste in die Evangelies genoem en daarom was sy waarskynlik die oudste. Marta het haar eie huis in Betanië besit, wat in die Bybelse tydperk ’n ongewone verskynsel was. Die twee susters het ook ’n broer gehad met die naam Lasarus, vir wie die Here uit die dood opgewek het. Hierdie gesin was baie naby aan die Here Jesus. ’n Mens kan amper sê hulle was huisvriende.

In Lukas lees ons hoedat Jesus besoek gebring het aan Marta en Maria. Marta was die vleeslike vrou. Sy het haar  bekommer oor baie dinge wat gedoen moes word in die huis en ook oor die bediening van die kos. Maria was die geestelike vrou en sy het aan die voete van die Here Jesus gesit en geleer van al die wysheid en onderrig van die Here Jesus. Die feit dat sy aan die voete van die Here gesit het, was ook baie ongewoon. Vrouens is nie toegelaat om aan die voete van ’n rabbi te sit om onderrig te word nie. Slegs mans het daardie voorreg gehad. So het Jesus teen die Joodse gebruike in vir vroue gelyk geag as mans.

Dan lees ons van die ongeduld van Marta teenoor Maria. Sy kla as’t ware vir Maria aan by Jesus, sou Maria lui wees. Hoor wat sê Martha: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Marta is die besige by, wat net werk en besig bly en dan ook nog simpatie by die Here soek. Marta, as vleeslike persoon, is net met die alledaagse dinge besig. Die tyd dat die Here Jesus gekruisig moet word kom nader. Sy koester nie die laaste geleenthede met die Here nie.

Maria, aan die anderkant, sit aan die voete van die Here Jesus en is leergierig. Sy is die geestelike vrou. Vir haar kan die alledaagse wag. Sy is soos ’n spons wat alles insuig wat die Here vir haar leer. Calvyn het nie verniet gesê dat ’n mens ’n “teachable mind” moet hê nie. ’n Mens moet altyd bereid wees om te leer.

Dan antwoord die Here Jesus vir haar in Luk 10: 41 – 42:  “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”

Die Here sê nie dat Marta verkeerd optree of dat sy nie met vleeslike dinge besig moet wees nie. Inteendeel, Marta ondersteun sy bediening en is gasvry. Hy beklemtoon net dat Maria haar besig hou met die noodsaaklikste, naamlik om geestelik te leer en te groei.

In Johannes 12: 1 – 8 lees ons opnuut van Marta wat as vleesvrou die ete bedien het. Maria het hier weer eens, as geesvrou, geestelik opgetree deur ’n halfliter egte, baie duur nardusolie op Jesus se voete uit te giet en sy voete met haar hare af te droog.  Jesus laat haar toe en sien dit in die lig dat sy hom salf met die oog op sy begrafnis wat binnekort plaasvind. Die mense sê mos: “Moenie vir my blomme gee vir my begrafnis nie. Gee dit vir my terwyl ek nog leef en dit kan waardeer”. Maria het Jesus vereer terwyl Hy nog by hulle was.

Ek is bevrees dat ons lewe ook so opgeslurp word deur die alledaagse vleeslike doenighede. Ons hardloop rond soos ’n springhaas om by alles uit te kom. Ons is in die aand stokflou, sonder om by die geestelike uit te kom.

Somtyds is ons kompasnaald op die verkeerde gerig. Ek wil net met die vleeslike en beestelike dinge besig wees. Ek het nie tyd vir die spirituele begeertes van my hart nie. Dan sê Augustinus so treffend, “… my hart sal onrustig bly tot dit rus vind in God”. Daarom moet my kompasnaald, die sin van my lewe, op die geestelike dinge gerig wees. Ek moet God begeer meer as enigiets anders. Met ’n diep dors na God, moet my geestelike kompasnaald altyd na God soekende bly wees. Ons sal soekende bly  wees, want ons bly sondige mense.

Bybelstudie en gebed moet soos die hamer en beitel wees waarmee ek al dieper inbeitel in die kosbaarhede van God se Woord. Dit is baie belangrik dat ek tyd maak om met die Here te gesels. Ek moet mediteer  oor die Woord. In Dan 6: 11 lees ons hoedat Daniël drie maal per dag tot die Here gebid het. Ons lees dit was sy gewoonte om na sy binnekamer te gaan om tot die Here te bid. Ja, selfs toe hy vervolg is, het hy voortgegaan met hierdie goeie gewoonte van hom.

In Mark 1:35 lees ons weer hoedat die Here tyd gemaak het om met sy Vader te praat. Ons lees hoedat Hy die môre vroeg toe dit nog nag was opgestaan het, buitentoe gegaan het na ’n eensame plek en daar gebid het. Hoeveel te meer het ons wat maar gewone mense is dit nie nodig nie.  Baie keer is ons verskoning dat ons te besig is (net soos Marta). Maar kyk hoe besig was die Here Jesus. Ons lees in Mark 1: 32 – 34 hoe hy duiwels uitgedryf het, siekes gesond gemaak het en gepreek het. Die mense het sommer so saamgedrom daar waar hy gepreek en opgetree het. Maar te midde van sy besige program het hy tyd gemaak vir sy stiltetyd soos ons reeds in Mark 1: 35 gesien het. Martin Luther, die groot kerkhervormer, het gesê: “Hoe besiger my dag, hoe meer moet ek bid.” Soos ek elke dag tyd maak om aan te trek en kos te maak en te werk, so moet ek tyd maak vir my stiltetyd. My stiltetyd moet vir my belangriker wees as my etes van elke dag.

God kan jou geestelike lewe daagliks op verskillende maniere aanraak. Soms kan ’n geestelike musiek YouTube-video jou innooi in ’n aanbiddingsmoment. Om lank en ver in die natuur te stap en alles fyn waar te neem en God in alles te sien, is ook aanbidding. Om elke jaar deur ’n Dagstukkiesboek te werk is betekenisvol. Jy kan doodeenvoudig ook net “Wandel in die Woord”, deur te mediteer wat die Here vandag vir jou openbaar deur die gelese gedeelte. Om God te soek in die gewone van elke dag is ook aanbidding. Om aan die einde van elke dag die vraag te vra waar jy vandag vir God gesien het, kan betekenisvol wees vir jou geloofslewe.   

Om op ’n Retreat te gaan na ’n Retreat-sentrum vir ’n naweek of ’n paar dae in absolute stilte, is ook baie sinvol vir baie mense se geloofslewe. 

Ek vind dit ook geestelik verrykend om vir lang tye in kloosters of katedrale te gaan sit met die kenmerkende skemerte, gekleurde glasvensters, absolute stilte en dan natuurlik die knielbankie by elke bank, waar jy op jou knieë kan gaan om te bid. Die absolute skoonheid van die katedraal vertel iets van wat die argitekte raakgesien het van die heerlikheid van God toe hulle die besondere geboue ontwerp het.

Soek God in die stilte. Soek God in die onverwagse. Soek God in die eenvoud. Soek God in die broosheid van die lewe. Jy sal God oral vind, as jy diep genoeg en lank genoeg kyk.

Ek wens ons Gereformeerdes het ook knielbankies gehad, waar ’n hele gemeente op hulle knieë kan gaan om God te aanbid. Nie alle gelowiges is gemaak vir charismatiese kerkmusiek wat jou emosies opwerk nie. Die meeste soek die Here in stilte, in skoonheid, in ’n goed-voorbereide preek en in lofgesange met gewydheid. Soek God in die gewydheid van ’n gewone erediens. Daar hoor jy in die besonder hoe God praat, want waar die Woord verkondig word, vind die besondere openbaring van God plaas deur Sy Woord en Gees, wat tegelyk werksaam is.

Ek moet my elke dag vleeslik besig hou met die alledaagse, maar die belangrikste is om ook elke dag geestelik besig te wees. Dan sal ek elke dag die rus en die vrede van die Here Jesus geniet. Wees “teachable”. Laat jou onderrig. Ons moet lewenslank aan die voete van die Here Jesus sit. As jy nie “teachable” is nie, kan jy nie geestelik groei nie. As jy nie tyd maak vir geestelike groei nie, is jy soos ’n boom met ’n swak ontwikkelde wortelsisteem. As die storm kom, dan waai die boom om.

Dien die Here prakties soos Marta gedoen het, maar ontwikkel ook geestelik soos wat Maria gedoen het.  

Dan sal jy geseënd genoem word.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar