SKRIFLESING: 2 Konings 20: 1 – 11 en 1 Samuel 1: 1 – 19
’n Mens hoor gedurig dat mense sê: “As jou strepie getrek is, is hy getrek en jy kom nie by hom verby nie!” of ’n mens hoor: “Wat gebeur, sal gebeur. As jou tyd daar is, is jou tyd daar.”
Maar mag ’n mens so sê? Is ’n mens se lewenspad en sterfdag al regtig voor ons geboorte bepaal? Is ons lewe gegiet in ’n vaste glybaan sonder enige uitkomkans?

Sou dit so wees, dan is die mens niks meer as ’n robot wat vooraf geprogrammeer is nie. Dan sou die mens soos ’n vooraf-opgewende wekker wees, wat besig is om af te tik na sy dood. Dan sou gebed waardeloos wees, want ons lewe en ons sterfdag is vasgepen. Wat baat dit my dat ek bid dat God my moet beskerm of my moet gesond maak? Wat baat dit my om vir my kinders te bid as hulle lewenspad reeds vasgegiet is?

Nee geliefdes. God se wil staan nie vas nie. As God se wil onveranderlik vas gestaan het, sou God nie meer die aktiewe en kreatiewe God gewees het nie. Wat wel waar is, is dat daar niks buite God se wil om kan geskied nie. Met ander woorde, alles gaan deur die tregter van God se wil. God kan egter van plan verander. Hy kan Sy wil buig. Hy kan van gedagte verander. Juis daarom nooi God vir ons uit om met hom in die gebed te worstel. Om met Hom te kommunikeer. Ja, God kan Sy wil verander, sodat alles vir ons ten goede kan meewerk.
In ons gelese gedeelte lees ons van koning Hiskia, wat die Here gedien het. Hiskia het die krag van gebed geken. Hy het geweet God luister en God kan van plan verander.

Toe koning Sanherib van Assirië vir Israel bedreig het, het Hiskia tot God gebid vir uitkoms en God het vir hom en Israel gehelp. In ons gelese gedeelte was hy ernstig siek, siek tot die dood toe. Die profeet van die Here het aan hom bekend gemaak dat dit die wil van God is dat hy moet sterf en dat hy daarom moet afskeid neem van sy familie. Hiskia aanvaar dit nie sommer net so nie. Hy bid tot God en vra dat God hom moet genees.
Jesaja kom sê vir hom dat “sy strepie getrek is.” Hiskia bid tot God en vra vir God om aan hom genade te betoon. “deur sy strepie verder aan te skuif.” God besluit toe om van gedagte te verander en Hiskia se lewe met vyftien jaar te verleng. Jesaja was nog skaars by die binneplein van die stad toe God vir hom terugstuur na Hiskia met die opdrag om aan Hiskia te sê dat God sy “strepie” met vyftien jaar gaan aanskuif. As teken hiervan het God die skaduwee wat vorentoe beweeg, met tien trappe terug geskuif.
Hierdie stukkie geskiedenis toon dat God nog steeds met ons besig is. Alles tik nie maar volgens ’n meganiese plan af nie. God neem ons gebede in ag wanneer Hy die gang van sake bepaal. Daarom is ons lewe nie ’n deterministiese lewensbeskouing of bloot fatalisme, waar alles vooraf presies bepaal is en niks kan verander nie. Dan sou ons bloot robotte wees met ’n meganiese lewensbeskouing dat alles in die lewe presies geprogrammeer is.
Dan sou gebede nutteloos wees. Dan sou daar niks kom van vurige en aanhoudende gebed nie. Daarom gee KI die volgende pragtige definisie: “Die lewe is nie ’n aftelklok wat eenvoudig afloop nie; dit is ’n verhaal wat God dag vir dag ontvou.”
Daarom tel ons gebede. Daarom kan gebede sake verander. In ons ander gelese gedeelte lees ons dat Elkana twee vroue gehad het. Die een was Peninna en sy het vir Elkana baie kinders in die lewe gebring. Die ander vrou was Hanna en sy het geen kinders gebaar nie. Hulle het in Rama gebly en elke jaar ’n pelgrimstog na Silo se tenttempel onderneem. Wanneer hulle die offermaaltyd gedeel het, het Peninna baie dele gekry en Hanna net ’n enkele deel. Peninna het Hanna elke jaar so heftig gespot dat Hanna uiters emosioneel geraak en baie gehuil het. Tog het Elkana vir Hanna baie liefgehad en haar telkens van sy liefde verseker. Elke jaar was die spottery egter net erger.
Dan lees ons hoedat Hanna een jaar die tempel ingevlug het en baie hartseer was. Sy het bitterlik gehuil. Die priester Eli het net haar lippe sien roer. Sy het nie hardop gebid nie, dus het Eli gedink dat Hanna dronk was in die tempel en hy het haar aangespreek daaroor. Sy vertel toe dat sy gebid het om ’n kindjie en dat sy ’n gelofte aan die Here gemaak het. Eli het begrip getoon en haar toe in vrede weggestuur.
Interessant, op Pinkstersondag toe die Gees uitgestort is, het die mense ook gedink dat die dissipels en vroue dronk is. Dit bevestig dat Hanna werklik in die Gees gebid het.
Hanna se gebed was maar stamelend. Sy het alleen gebid (nie in die openbaar nie). Sy het gebid teen alle Joodse gebruike in. Tog het die Here haar gebed verhoor.
Ons lees toe Elkana se familie weer terug was in Rama het hy met sy vrou Hanna gemeenskap gehad en sy het swanger geword. Met die jaarwenteling het sy haar seun Samuel in die lewe gebring. Hierdie Godvresende vrou Hanna het dan die seuntjie Samuel vir die Here grootgemaak.

Soos Samuel in die tempel grootgeword het, mag Richard en Cecilia ook vir Lianri in die huis van die Here, hier in die kerk, grootmaak sodat sy gewoond kan raak aan die ruimte en die gewydheid van die kerkgebou. Dat sy gewoond kan raak aan die liefde van die kerkgemeenskap wat toegewy is aan God. Dat sy die liturgie van die kerk kan leer ken en daarmee grootword. Dan sal sy ook deur die Woordverkondiging mettertyd meer van die Here leer. Dan sal die poorte van die Here se huis vir haar ’n wonderlike plek van toevlug, vrede en beskerming wees.
As ons geen toekoms het nie, kan die gebed van ’n enkeling rimpels veroorsaak vir ’n heel nuwe toekoms.

In die verhaal van Jona en Ninevé wou God aanvanklik vir Ninevé verdwelg oor hulle sonde. Toe die stad tot bekering kom, het God van plan verander en die hele stad Ninevé gespaar. Natuurlik was Jona ongelukkig, omdat hy geweet het dat God barmhartig is en maklik van plan verander.
Ook in die verhaal van Israel se trek deur die woestyn, lees ons telkens hoe God sy volk wou straf oor hulle sonde, maar dan telkens van plan verander het, omdat Hy ’n genadige God is.
Dit is daarom ’n wonderlike troos om te weet dat ons gebede nie nutteloos is nie. God luister daarna en God is selfs bereid om van plan te verander, as dit maar net in ons beswil is.

Ons is dus nie slegs robotte of opgewende wekkers wat afloop nie. Nee, ek kan wel self my lewe verkort as ek verkeerd eet, of rook of onverskillig met ’n motorvoertuig ry. Daarom kan ek nie onverskillig bestuur en sê: “Toemaar, my strepie is klaar getrek” nie.
Die wêreldgeskiedenis en my persoonlike geskiedenis is ’n wonderlike interaksie tussen die wil van die mens en die wil van God. Die mens se wil is geneig om die verkeerde en die bose te soek. Die mens se wil kan dus teen God se wil indruis – natuurlik met vernietigende gevolge. God se wil is ingestel om alles tot die beswil van die mens te laat plaasvind. God se wil het daarom die mens se wil kom deurkruis, met die kruis op Golgota, sodat die mens verlos kan wees van sonde en van die oordeel. Daarom is ons deur God se goeie wil, verloste gelowiges. So seëvier God se wil oor ons eie sondige wil.

Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ’n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou vir hom gebid, dat God tog haar seun Augustinus se lewe moes aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het mettertyd een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.

In Openbaring 8:4 staan daar: “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat deur God aanneemlik is.
Daarom gee die lewensgeskiedenis van Hiskia vir ons nuwe troos en hoop vir ons eie lewe. My lewe is nie onderworpe aan ’n vooraf vasgepende orde waaroor daar geen beheer is nie. Ek is nie maar op pad na my “strepie” nie. God hoor my gebede. God neem my in ag. My lewe is ’n wonderlike stuk avontuur, waarin God se betrokkenheid in my lewe ál die verskil maak.
Bid vir jou kinders …
Bid vir jou eggenoot …
Bid vir jou familie …
Bid vir jou vriend …
Bid vir iemand wat jy ken …
Ja, God kan van plan verander en ’n getrekte strepie met ’n tree of tien verskuif.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.
