Suur druiwe is om reg en geregtigheid na te laat

SKRIFLESING: Jesaja 5: 1 – 7

Jesaja begin deur te sê dat hy ’n lied wil sing. Hy wil ’n liefdeslied sing oor ’n pragtige verhouding. Dan gebruik hy die verhouding van ’n landbouer en sy wingerd om die verhouding tussen God en sy volk te beskryf.

Het u al gesien hoe trots ’n wynboer op sy wingerde kan wees? Dit is sy liefde, sy lewe.

Dan vertel Jesaja dat hy ’n boer ken wat ’n wingerd op ’n baie vrugbare stuk grond aangelê het. Die boer het alles gedoen om ’n kampioenwyn te vervaardig. Die wingerd is op ’n vrugbare heuwel aangelê. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder. Hy het ’n muur gebou rondom die wingerd om dit te beskerm. Hy het selfs ’n wagtoring gebou om die wingerd te beskerm teen skelms. Hy het ’n parskuip uit klip gemaak. Hy het die grond beplant met veredelde wingerdstokke.

Die lied verwys na God wat sorgsaam ’n verhouding met Israel bou, sodat daar reg en geregtigheid in die samelewing sou wees. Vir God is “reg” en “geregtigheid” die vernaamste elemente wat Hy in ’n samelewing soek.

Die grootste gedeelte van Jesaja se gemeente was wingerdboere en daarom het hulle die storie so geniet. Maar dan die anti-klimaks! Die wingerd lewer suur druiwe op. Dit maak geen sin nie. Al die moeite is dan verniet.

Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg in die samelewing; dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes. Die mense het mekaar uitgebuit. Hulle het die armes uitgebuit en onregverdige hoë rentes gehef op lenings. Hulle skale het skeef gemeet, tot eie voordeel.

In die Hebreeus word dit baie treffend gestel:

onreg – reg

mišpah מִשְׂפָּח – mišpat מִשְׁפָּט

geregtigheid – hulpgeroep

sědaqâ צְדָקָה – sě’aqâ צְעָקָה

Die woorde klink so naby aan mekaar, maar is tog se ver van mekaar verwyder.

Jesaja 5: 8 – 10 verwys direk na uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie.

Indien Jesaja hulle sou vra wat ’n mens met so ’n wingerd moet doen wat suur druiwe produseer, sal hulle heel waarskynlik almal saam skree:  Kap dit uit! Gebruik die stokkies as brandhout. Dit maak lekker kole.

Dan kom die skok! Daardie boer is die Here en die wingerd is julle, die volk van Juda. Van julle het die Here verwag dat julle vrugte sou dra van reg en geregtigheid. Maar die Here sien net onreg en onregverdigheid.

Dink nou ’n oomblik na. In ons verhouding met die Here voel ons dikwels die Here is die Een wat seermaak en ons is diegene wat seerkry. Hier is dit net andersom. God kry seer. God huil. God is die “boer” wat teleurgesteld, mismoedig en hartseer kan word, omdat Hy nie reg en geregtigheid in die samelewing waarneem nie.

Dit is belangrik hier om te sien dat die volk se ontrou nie daarin gelê het dat hulle vir God afgesweer het nie. Die wingerd is nie nutteloos omdat dit geen oes opgelewer het nie. Dit is nutteloos omdat dit onbruikbare en suur druiwe opgelewer het. Die volk Israel het wel ’n verhouding met God, deurdat hulle die uitwendige godsdienstige rituele nakom, maar daar is geen reg en geregtigheid teenoor die naaste nie.

Suur druiwe is om op my eie belange en voordeel te fokus. Die onreg van die hulpeloses en die hulpgeroep van die verontregtes gaan by God se volk verby. In plaas van omgee en versorg is daar armoede, uitbuiting en verwaarlosing.

As gelowiges en kerk, lê ons verlorenheid nie daarin dat ons vir God die rug toegekeer het nie. Dit lê veel eerder daarin dat ons probeer om as’t ware agter God se rug te leef. Ons ontrouheid lê nie daarin dat ons God minag nie, maar eerder dat ons nie erns maak met ons verhouding met ons naaste nie. Daarom hoor ons nie dikwels as God met ons praat nie. Ons is nie sensitief vir sy soeke na geregtigheid nie.

Daar word vertel dat, toe die troepe van Mahomet II in 1493 die stad Kontantinopel omsingel het, almal geweet het dat die slag bepalend sou wees vir die vraag of die Balkanlande die volgende paar eeue onder Christen- of Moslem- oorheersing sou lewe. Die aand voor die verwagte inval, het die kerkraad van een van die stad se grootste Christelike kerke bymekaar gekom. Op hulle agenda vir die aand was die volgende punte van bespreking: (1) Watter kleur was die oë van die maagd Maria? (2) Is engele manlike of vroulike wesens? (3) Wat gebeur as ’n vlieg in die doopwater val – word die vlieg heilig of word die water besoedel? Hulle het hulle met onsinnighede besig gehou, in plaas daarvan om vir die behoud van die stad te bid. So kan ons onsself ook besig hou met geskille oor uitwendige godsdienste rituele, sonder om die reg en geregtigheid van God in die samelewing na te jaag.

’n Ander ware verhaal is dié van Mohandas Gandhi: Toe Mohandas Gandhi met sy politieke bedrywighede begin het, het hy ook ’n sterk geestelike soeke beleef. Hy was destyds in Suid-Afrika en wou êrens in Natal ’n NG Kerk besoek. Dit sou bepalend wees vir die geestelike oriëntasie van ’n man wat een van die grootste leiers van die 20ste eeu sou word. Maar hy is toegang daar geweier omdat die kerk nie gekleurdes wou binnelaat nie. Gandhi het toe by ’n Hindoe-tempel geholpe geraak. Vandag is Indië ’n Hindoe-land met ’n reuse-bevolking. ’n Mens kan nie help om te wonder nie, oor wat sou gebeur het as die kerk meer sensitief was vir die stem van God en minder sensitief was vir die politieke ideologie van die dag. 

Verstaan ons waarom God huil?

Eintlik is Jesaja 5: 1 – 7 nie ’n liefdeslied nie, maar eerder ’n begrafnislied. Die Here huil oor Sy volk nie meer die geregtigheid in die samelewing najaag nie. Daar word getreur oor die begrafnis van die reg en waardes, waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie.

Chris van Wyk skryf: “Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.”

Ons gesprekke verraai dikwels wat diep binnekant ons harte aangaan. Hoeveel gesprekke is daar nie al oor eeue in die kerk gevoer oor kleredrag in die kerk nie. Hoeveel keer hoor ’n mens nie van hoe mense praat van die uiterlike gebruike van die kerk wat behoue moet bly, of tot elke prys moet verander nie.

Sê die Bybel nie dat onsself moet verander nie, dat ons harte moet verander nie? Wat was volgens Jesaja en natuurlik die Here Jesus self die belangrikste: die uiterlike vorm of die hartsgesindheid? Vergelyk byvoorbeeld die onderhouding van die openbare vasgebruike, teenoor die gesindheid van jou hart. Hoor wat sê die Here Jesus in Mat 23: 23 wat vir Hom die belangrikste is: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Mense kla dikwels oor wat die kerk nie vir hulle doen nie. Maar die Bybel praat eerder van die reg en geregtigheid wat ek moet laat kom in die samelewing. Ek moet nie bedien word nie, maar ek moet self die reg laat kom. Die kerk is die liggaam van Christus. En in die kerk kyk die een lid nie wat die ander vir hom kan doen nie, maar hoe hy/sy die verontregte en minderbevoorregte kan help.

Dra ons soet of  suur druiwe? Waaroor praat ons? Oor uiterlike dinge van min belang, of oor dit wat werklik die geregtigheid laat kom? Daar is soveel onreg en ongeregtigheid in die samelewing. Is ons daaroor bekommerd of oor uitwendige godsdienstige rituele?

Die kerk van die Here moet die Suid-Afrikaanse samelewing transformeer, deursuur en sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees.

Waar die reg en geregtigheid kom, daar is God. Daarom moet ons die reg en geregtigheid najaag. Ons moet ons toelê daarop om ander se belange te bevorder. Ons moet ’n hart hê vir die minderbevoorregtes.

Eers dan is ons soet druiwe, waaroor die Here sal glimlag.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Chris van Wyk. 2011. Jesaja 5. Bybelskool.

Rethie van Niekerk. 2016. Preek oor Jesaja 5. Somerstrand-gemeente.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Moenie God manipuleer nie

SKRIFLESING: Jeremia 14: 1 – 12 en 15: 1 – 4

Ons dink klein oor God. So klein, dat ons dikwels vir God ’n handvatsel gee, om te gebruik soos wat ons nodig ag. Dan spreek God in die skrifgedeelte, dat Hy moeg word om so gebruik en gemanipuleer te word.

In Jeremia 14 lees ons van ’n droogte, ’n verskriklike droogte. Die slawe word gestuur om water te gaan haal, maar die putte is droog. Die boere is moedeloos, omdat die grond niks oplewer nie. Die takbok lam in die veld, maar die lam word weggegooi omdat daar nie kos is nie. Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind terwyl hulle oë dof word, omdat daar nie gras is nie.

Wat doen ’n mens as daar ’n droogte op hande is? Jy roep ’n nasionale biddag vir reën uit. Almal groot en klein, oud en jonk gaan in afhanklikheid met die nodige eerbied na die tempel toe. Die mense vas, hulle bring offers en hulle bely hulle skuld.

Nou het die volk hulle kant gebring. Nou moet die Here weer sy kant bring. Hy moet vir hulle reën stuur, sodat die droogte gebreek kan word.

Maar God antwoord anders. God het besluit om nie vir hulle reën te stuur nie. Die droogte moet voortduur. Hoekom maak God dan so? God sê mos Hy verhoor gebede. Hoekom het God nie geluister tydens die Nasionale Biddag vir Reën nie?

Vir God was die Nasionale Biddag vir Reën ’n belediging. Sy volk roep hom net aan as daar probleme en moeilikheid is. Hulle maak van God ’n noodwiel. As alles goed gaan, kom hulle baie goed sonder God oor die weg. Maar as daar moeilikheid is, dan moet God help. So maak hulle God ondergeskik aan hulle agendas. Israel dink klein oor God. Hulle sit vir God ’n handvatsel aan.

Dit laat ’n mens dink aan die volgende storie: ’n Man het van sy boot afgespoel en was besig om te verdrink. Uit desperaatheid bid hy tot God om hulp en beloof selfs om ’n sendeling te word as die Here hom spaar. Nie lank daarna nie, kom ’n stuk dryfhout verbygespoel en die drenkeling gryp net betyds daaraan vas. Veilig op die dryfhout sê die man: “Here, U weet natuurlik dat ek nie ernstig was oor die sendelingstorie nie, nè?” Op daardie oomblik kom daar ’n fratsgolf en spoel hom weer van die dryfhout af. Waarop die man sê: “Lyk my ’n mens kan nie eens hier rond ’n grappie maak nie.”

Nood leer inderdaad bid. Sommige mense kom net kerk toe as hulle in die nood is of as daar ’n biddag vir reën is. Dan is ons baie veeleisend. As’t ware stel ons God voor ’n keuse: “Verhoor ons gebed of …” En as God ons gebede nie verhoor nie, dan vra ons baie maklik: “Waarom?” Of ons verwyt God of ons beskuldig God of ons verloor ons geloof in Hom. Of mense sê: “God is dood” of “Hy bestaan nie.”

So maak ons God “klein” in ons geloofslewe. Hy moet maak presies soos ons versoek, of anders …

Ja, somtyds verhoor God nie ons gebede nie, veral as ons probeer om hom te manipuleer. Gebed is nie ’n goedkoop saak nie. Net soos wat ’n ouer nie toelaat dat sy kind hom manipuleer nie, net so laat God ook nie toe dat ons Hom  manipuleer nie.

Die Woord van God is veeleisend. Dit verg ons aandag. God verdra dit nie dat ons ons gebede in telegramstyl aframmel nie of dat dit kortgeknip word soos ’n lastige besoeker vir wie ons die deur net ’n skrefie oopmaak om so vinnig moontlik van hom ontslae te raak nie.

Tony Campolo skryf oor rituele. Hy sê rituele werk vormend op ’n kind se emosionele  sekuriteit en lojaliteit aan gesinswaardes. Kinders wat met die regte gereelde rituele grootword, omhels die regte soort gedragspatrone. Hiermee word bedoel gesinsrituele, maar ook godsdienstige rituele. Godsdienstige rituele maak dat jou aanbidding van God eg is. Jy aanbid God in die goeie én slegte tye.

Maar as jy geen godsdienstige rituele het nie, gaan jy God net manipulerend aanroep in jou swaar tye of as jy in die nood is. Dan gebrúík jy slegs God. Dit word dan ’n verbruikersgodsdiens.

God laat Hom nie in ons agendas en selfsugtige plannetjies indwing nie. Anders sou dit beteken dat God slegs ’n middel word waardeur ek my doel kan bereik. God besluit egter vrymagtig.

Miskien is dit goed om ’n slag weer te besef dat God meer is as ons gedagtes oor Hom. Die Joodse geleerde Martin Buber het beklemtoon dat die stam van die Hebreeuse woord vir God eintlik ’n stotter-woord is. Ons kan net oor God stotter. Oor God mag ons nie, kan ons nooit te glad en te maklik praat nie. Ons moet waak om te familiêr met God te raak. Dan raak ons blind vir die misterie van God.

Die Nederlandse kultuurfilosoof C.A. van Peursen praat van God as die Verborge Aanwesige en skryf sy Naam as G_d, om mense te herinner dat ’n mens God nie kan vasvang in woorde nie.

Karl Barth skryf: “ Ons kan nie oor God praat nie – dit is ons verleentheid. Ons moet oor God praat – dit is ons opdrag.”

God is groter as ons denke oor Hom. Daarom moet ons tog nie dink dat ons gebede God gevange kan neem nie. God is vrymagtig om self Sy wil te laat geskied. As ons ’n biddag vir reën hou, moet ons God nie daarmee probeer manipuleer nie. Wanneer ons ’n biddag hou, moet dit in opregtheid wees en ons hele lewe moet daarvan getuig dat ons Hom opreg dien.

God wil nie net in tye van nood, ’n noodwiel wees nie. Hy wil die stuurwiel van my lewe wees. Sy huis is nie ’n brandweerstasie net vir tye van nood nie. God is nie slegs maar ’n middel waarmee ek my doel kan bereik nie.

Nee, my hele lewe in goeie en in slegte tye – moet aan God geoffer wees, soos die volgende verhaal getuig: Daar was eendag, tydens die vreeslike vervolging deur die Spaanse Inkwisisie, ’n Jood wat met sy vrou en kind ontsnap het deur in ’n klein bootjie oor die stormagtige see na ’n naby-geleë eiland te vaar. Terwyl hulle van die bloeddorstige verskrikking weggevaar het, het ’n storm opgekom en ’n bliksemstraal het sy vrou op die bootjie getref. Die volgende oomblik het ’n geweldige warrelwind die kindjie in die see geslinger. Alleen, verskrik, byna nakend en kaalvoet, het die man op ’n rotsagtige eiland uitgespoel, sy hande in die lug opgesteek en so met God gepraat: “ God van Israel, ek het na hierdie plek toe gevlug sodat ek U in vrede kan dien, sodat ek U gebooie kan gehoorsaam en U Naam kan verheerlik. U egter, doen alles om my van my geloof te beroof. Maar as U dink dat U deur enigeen van hierdie dinge vir my sover sal kry om U pad te verlaat, dan maak U ’n fout. U kan my beledig. U kan my straf. U kan dit wat vir my die dierbaarste is, van my wegneem. U kan my tot die dood laat martel – Ek sal altyd in U glo. Ek sal U altyd liefhê, selfs ten spyte van Uself.”

’n Mens wonder waar kom so ’n belydenis vandaan? Nie uit hierdie wêreld nie.  Dit kan alleen vanuit die hemel self aangesteek wees.

Die vreemde verse van Jeremia 14 herinner ons: Moenie probeer om net die seën en die voorspoed van God te soek nie. God laat Hom nie manipuleer nie. Die lewe in oorvloed is slegs te vinde in ’n verhouding met God self.

Dink groot oor God!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Preek is gebasser op ‘n preek wat ek gelees het. Skrywer nie bekend. Ek het heelwat bygevoeg en bygewerk.

Helmut Thielicke, Leadership, Vol. 2, no. 1.

Dan Meyer. People of the Table.

Die Here kan ’n leuen gebruik

SKRIFLESING: Josua 2: 1 – 19

Die verhaal van Ragab is die merkwaardige verhaal van die prostituut van Jerigo, wat deel word van die stamboek van die Here Jesus Christus.

Die verhaal begin so. Josua het twee verkenners na die stad Jerigo gestuur om die stad te gaan verken. Die koning van Jerigo ontvang toe informasie van die twee manne van Israel wat die stad binnegekom het en dat hulle ingegaan het by Ragab, die prostituut van Jerigo, se huis. Die koning eis toe onmiddellik dat Ragab die twee Israelitiese manne uitlewer aan hom.

Ragab versteek dadelik die twee verkenners. Dan vertel sy ’n leuen aan die boodskapper van die koning: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie.  Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” (Josua 2: 4 – 5) Ragab versteek toe die twee manne op die dak onder vlasstingels. Die koning het soldate gestuur om die Israeliete agterna te sit en hulle het die stadspoort gesluit.

Ragab het opgeklim na die dak en voor die verspieders gaan slaap, vir hulle gesê dat sy hulle God ken en dat God Sy volk beskerm. Sy het vertel van wat sy weet van die verlossing uit die Rietsee, deur die Israeliete droogvoets te laat deurtrek, en van die verlossing uit Egipte. Sy het vertel van Israel se oorwinnings oor ander konings en volke. Sy vertel van haar mense in Jerigo se vrees vir die Israeliete. Dan bely sy in vers 11: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Dan vra sy vir die verspieders om te beloof dat hulle haar en haar familie sal red. Die verspieders beloof toe dat hulle sal sorg dat sy en haar familie nie sal omkom nie.

Sy het hulle daarna met ’n tou laat afsak deur die venster, want haar huis was binne die stadsmuur en die verspieders het vir drie dae gaan wegkruip in die bergland. Hulle het ook vir haar gesê dat sy ’n karmosynrooi gevlegte tou moet vasmaak aan die venster waardeur sy hulle vrygelaat het, wanneer Jerigo aangeval word. Sy en haar hele familie moes in haar huis wees. Dan sou haar en haar familie se lewens gespaar word.

Inderdaad het die verspieders woord gehou en met die inval van Jerigo is sy en haar familie gespaar van die dood en gevangenskap.

Sy het in Israel met Salmon getrou en uit die huwelik is Boas gebore. Boas was weer die vader van Obed by Rut en het so die oupagrootjie geword van Dawid. Uit die geslagslyn is Christus Jesus gebore. Ragab die prostituut van Jerigo (die laagste onder die heidene van Jerigo) is verhef tot die geslagslyn van Jesus Christus.

In die gedeelte is die volgende opvallend: die leuen wat Ragab vertel aan die boodskapper van die koning. Sy vertel ’n leuen deur te sê die twee manne van Israel was by haar, maar hulle het alreeds die stad verlaat. Sit hulle agterna. Tog veroordeel die skrifgedeelte nie haar leuen nie. Haar leuen speel as’t ware ’n rol in God se heilsweg.  

Een verklaarder meen “waarheid” is nie om noodwendig te spreek in “ooreenkoms met die werklike feite” nie. Maar waarheid moet in diens staan van ons “lojaliteite ten opsigte van die Here en ons naaste.” (B Holwerda)

Dit sou beteken dat om sekere feite van sekere mense te weerhou, juis in diens staan van die wet, naamlik liefde tot God en my naaste. Dink ook aan die vroedvroue wat God meer gehoorsaam was as die Farao en nie die babaseuntjies vermoor het nie, maar die leuen vertel het dat die Joodse mammas te sterk is en dat nog voor hulle by die kindjie kom, die kindjie al klaar gebore is.

Met ander woorde as rowers jou huis aanval, mag jy ’n leuen vertel en sê jou vrou en kinders is nie tuis nie. Die hoër doel is om hulle lewens te red. In oorlog mag jy vlugtelinge versteek en die leuen vertel dat jy hulle nie gesien het nie, want daardeur spaar jy mense se lewens.

Wanneer leuens staan in ’n hoër en edel doel, is dit toelaatbaar. Om dan nie die leuen te vertel nie, sou beteken dat God oneer word en my naaste benadeel word.

Maar wanneer ek leuens vertel in diens van die bose, soos om myself te bevoordeel of om ander se kriminele aktiwiteite te beskerm, sal dit ’n leuen van die bose wees. Dit het dan nie ’n hoër en edele doel nie.

’n Mens kan as’t ware onderskei tussen ’n heilige leuen en ’n bose leuen. Ongelukkig moet jy die onderskeid maak, want ons lewe nie in ’n swart-en-wit antwoord wêreld nie. Ons lewe in ’n grysgebied, waar daar ’n oorlog is tussen wat heilig en wat boos is.   

Ons lees van Ragab se sterk geloof in die God van Israel. Waarskynlik was sy die enigste gelowige in Jerigo. Sy het dalk as sy mark toe gaan of gaan om water te skep by die put, brokkies nuus gekry van die oorwinnings van die Israeliete en hoe God hulle help in nood. Dit alles het soos ’n legkaart inmekaar geval, dat sy in vers 11 kon bely: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Juis daarom is sy gered. Deur haar geloof. Haar geloof het in dade oorgegaan  en daarom het sy die twee verspieders gered.

In Jakobus 2 word Abraham die vader van die geloof wat uit Ur van die Galdeërs weggetrek het, vergelyk met Ragab, die heiden wat uit Jerigo weggetrek het. Albei het  alles agtergelaat wat bekend was. Albei het hulle land, hulle stad, hulle huise, alles, verlaat en weggetrek net oor hulle geloof in God. So staan geskryf in Jakobus 2: 25 – “Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie?” Abraham het as Joodse gelowige alles agtergelaat en Ragab het as gelowige uit die heidendom alles agtergelaat en so smelt die twee strome saam in die verbond. 

Rooi is die kleur van verlossing in die Bybel. Met die uittog uit Egipte het die Here opdrag gegee dat die rooi bloed van lammers aan die deurkosyne van die Jode geverf moet word om hulle te vrywaar van die dood. In Ragab se verhaal is dit ’n rooi tou wat redding bring en in die Nuwe Testament is dit die kosbare rooi bloed van Jesus wat verlossing bring vir almal wat glo.

So het Ragab, die prostituut, deur ’n leuen deel van die verbondsvolk geword en deel van die stamboom van die Here Jesus Christus en boonop ’n geloofsheldin geword – omdat sy aksie by haar geloof gevoeg het.

Hoe nodig het ons dit nie vandag, dat gelowiges daad by hulle geloof voeg nie.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.

Pro Regno. 2016. Josua 2. Ragab se geloof getuig van die Here se oordeel én genade

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Kom uit jou gemaksone

SKRIFLESING: Jakobus 1: 22 – 26

Rekkies is baie handig. My gunsteling rekkie is die ou dik Poskantoorrekkies. ’n Mens gebruik ’n rekkie om dinge bymekaar te hou, omrede die rekker kan rek. Die rekker rek om die goed bymekaar te hou. Indien dit nie rek nie, het die rekker geen doel nie.

Is kinders van die Here nie ook soos rekkies nie? Ons bestaansdoel is om nie net hoorders van die Here se Woord te wees nie, maar ook daders. Daarom moet ons onsself rek uit ons gemaksones sodat ons effektief kan wees. Dit is egter vir die mens baie moeilik om uit sy / haar gemaksone te beweeg. Die Bybel leer ons nêrens dat ons hier op aarde geplaas is om in ons gemaksone ewe knus te lewe nie! Die Bybel daag ons uit. Die Here daag ons uit, om buite ons gemaksone die wil van die Here na te jaag. Die doen van die wil van God kom nie natuurlik nie. Jy moet jouself rek vanuit die verkeerde gemaksone van die sonde.

Min mense hou van verandering. Mark Twain het gesê dat die enigste een wat wel van verandering hou, ’n nat baba is wanneer die doek geruil word.

Die Bybel is vol Bybelkarakters wat voortdurend soos ’n rekker rek uit hulle gemaksone. Dink byvoorbeeld aan Abraham wat moes trek uit Ur van die Chaldeërs, weg van sy familie en die wonderlike verbondsplan wat in die Bybel ontvou, net omdat Abraham bereid is om die vreemde aan te pak. In Abraham kon al die nasies van die aarde geseën word.

Moses moes die volk uit Egipte, uit hulle gemaksone vir 40 jaar, lei na die beloofde land. Hulle moes alles in Egipte wat gemaklik is, agterlaat en die vreemde en die ongemaklike aandurf. Hulle rekker is tot die uiterste gerek. Hulle moes 40 jaar van manna en kwartels leef. Die wolkkolom het bedags vir hulle skaduwee gegee en die vuurkolom het snags vir hulle lig gegee. Hulle moes dikwels water uit ’n rots drink. Hulle het in tente gebly, in pleks van huise van steen soos in Egipte.

Petrus en Johannes moes die gemaksone van hulle skuite agterlaat en “vissers van mense” word. Dit was ’n totale omwenteling van hulle lewe. Van die bekende viswaters na die onbekende.

En gemak kan ’n gevaarlike ding wees. Die Here werk nie sommer in situasies van gemak nie. Want dit is in situasies van ongemak waar die Here meestal verandering teweegbring. In ongemaklike, uitdagende situasies bring die Here verandering in gedrag, verandering in verhoudings en ook verandering in denke. En dit is waar groei plaasvind! In jou gemakstoel groei ’n mens net in die breedte. Dit is wat die apostel Jakobus ook by ons wil tuisbring.

In ons gelese gedeelte skryf Jakobus in hoofstuk1: 22 as volg – “Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.” ’n Mens kan ’n hoorder van die Woord wees, sonder om te verander. Jy bly in die veilige gemaksone om slegs te hoor, maar jy word nie ’n dader nie. Om te hoor is maklik, maar om uitgedaag te word om te verander, is ’n perd van ’n ander kleur. Oor doeners en daders het ek die volgende gelees.

Die Deense teoloog Søren Kierkegaard het dit so raak beskryf.

Stel jou voor as die ganse kon praat – dan sou hulle dit so gereël het dat hulle ook hul aanbidding gehad het.  Die ganse het elke Sondag, as die boer se gesin kerk toe gaan, ook in die skuur bymekaar gekom vir ’n preek. Dan het een van die ganse op ’n emmer gespring en sy lyf predikant gehou en al kwakende gepreek dat ganse vlerke het om te vlieg en dat hulle hulle vlerke moet oefen om na verre lande te vlieg. Die gemeente van ganse het al kwakende “Amen” gesê en vertel dit was ’n goeie preek. Daarna het hulle uitgestrompel en hulle na die mielies gehaas en skoon vergeet om deur die week hulle vlerke te oefen. Die volgende Sondag was hulle weer bymekaar in die skuur en die gans-dominee het weer op die emmer gespring en gepreek dat hulle hulle vlerke moet oefen om te kan wegvlieg na verre lande. Die gemeente van eende het weer al kwakende “Amen” gesê en vertel dit was ’n goeie preek. Daarna het hulle weer uitgestrompel en hulle gaan dik vreet aan die mielies, sonder om hulle vlerke te oefen. So het dit aangegaan, week vir week en maand vir maand. Kersfees het nader gekom en hulle het al dikker en vetter geword. Die vetstes van hulle het daardie Kersfees in die potte van die dorp se inwoners beland. Hulle het net gehoor, maar nie gedoen nie. Hulle was hoorders, maar nie daders nie. Hulle het maar net in hulle gemaksone gebly.

Jakobus sê as’t ware jy moet uit jou gemaksone klim van slegs ’n hoorder te wees en inderdaad ’n dader van die Woord word. Anders, sê Jakobus, is jy soos iemand wat in ’n spieël kyk hoe hy lyk en omdraai en vergeet hoe hy gelyk het (vers 23 – 25). Die Wet en die Woord is inderdaad vir ons soos ’n spieël. Jy kyk daarin en sien jou sonde raak. Jy word opgeroep om jou lewe te verander. Maar as jy vergeet hoe jy gelyk het, hoe kan jy jouself verander? Jakobus roep juis sy lesers op om hulle gedrag te verander, deur uit die gemaksone van die sonde te klim.

Sonde is altyd ’n gemaksone. Sonde is maklik. Om uit sonde te kom, vra inspanning. Dit vra die moeilike pad van verset teen sonde. Om te sondig is maklik. Maar om jou rug op sonde te draai, is die moeilike pad. Jy moet die gemaksone van die sonde verlaat en die rekker rek, buite die gemaksone.

Sonde is om luilekker met die verkeerde dinge besig te wees. Sonde vra geen inspanning nie. Goeie werke vra inspanning, omdat goeie werke teen ons sondige natuur is. Ons sondige natuur vat altyd die maklikste pad van geen verset. Jy moet gerek word uit jou sondige natuur. Dit is waartoe Jakobus sy lesers oproep.   

Dan word daar in vers 26 een voorbeeld genoem van ’n gemaksone-sonde, naamlik die verkeerde gebruik van die tong. Mense kan maklik skinder, sonder om eers agter te kom hulle skinder. Of mense se taal kan so vuil en slordig wees, dat hulle nie eers agterkom dat hulle onwelvoeglik praat nie. Mense vloek so maklik, dat hulle nie eers weet hulle vloek nie. Hulle is in die gemaksone van om die tong nie in bedwang te hou nie. Dit vra van hulle om gerek te word uit die maklike misbruik van die tong, sodat hulle tong in toom gehou kan word.

Ds. T.J. Cloete gebruik die volgende metafoor om gemaksones te verduidelik: “Die kreef se vyand is visse en seekatte, maar die kreef kan nie groei indien hy nie die besluit neem om sy dop af te gooi nie.

Die kreef gooi sy dop tot 25 keer af in die eerste jaar. Ja, die dop beskerm die kreef, maar om te groei moet hy dit afgooi. Indien die kreef dit nie afgooi nie, dan is hy sy eie gevangene – die dop word sy doodskis! Dit is ook so dat die dop die kreef beskerm en daarom kan dit vir die kreef aanloklik wees om dit te behou.  Ja, dit verg moed om dit af te gooi – ontbloot te wees vir die vyand – en te groei. Dit het tyd geword dat jy uit jou gemaksone wat jou so beskerm, moet kom. Jy moet die besluit neem: Bly in my gemaksone en sterf geestelik of gooi die ou dop af en groei geestelik.”

Carolyn Gregoire skryf so mooi: “Humans are creatures of comfort. Our comfort zone is our natural, neutral state – a place where stress and anxiety are minimal, where we know what’s coming next and we can plan accordingly.”

Wie nie bereid is om gerek te word nie, sal ook nie geestelik groei nie. Die Here Jesus wil ons uitdaag om gerek te word, sodat ons nuwe geestelike wesens kan word.

Jakobus wil sy lesers aanmoedig om hulle geloof in dade sigbaar te maak. Die Evangelie moet nie net gehoor word nie, dit moet gedoen word, dit moet geleef word.

Daarom wil die Evangelie jou rek, om buite jou gemaksone die goeie en die regte te doen. Mag u en ek gerek word uit ons sondige gemaksones, om tot nuwe geestelike lewe te kom.                                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die twee poorte

SKRIFLESING: Psalm 9: 14 – 15 en Hebreërs 12: 22

In Psalm 9: 14 – 15 lees ons van twee poorte. Die poort van die dood staan teenoor die Sionspoort. Volgens ou Joodse geskrifte verwys die Psalm waarskynlik na Dawid se oorwinning oor Goliat. Toe Dawid voor Goliat gestaan het, was hy letterlik voor die poort van die dood. Al het Dawid sy vertroue in God gestel, moes hy tog ook bang gewees het. Om dapper te wees, beteken nie om nie bang te wees nie.

’n Mens ervaar baie Goliatte  in jou lewe. Maar die laaste Goliat in jou lewe is die dood. Dit is die grootste Goliat. Almal is vir hierdie Goliat bang.

Tannie Rae was met reg ook bang vir die sterwensproses. Almal ervaar sterwensangs in die poort van die dood. ’n Mens weet nie hoe lank jy gaan staan voor hierdie laaste Goliat in jou lewe nie. Soms kan ’n mens jare leef onder die skaduwee van Goliat. Mense kan jare lank siek wees van kanker of een of ander ongeneeslike siekte. Soms is die sterwensproses kort, as die siekbed van korte duur was.  Die Here was Tannie Rae genadig en sy was nie lank in die poort van die dood nie.

Dawid het met een klip in sy slingervel vir Goliat, die reus, verslaan. Daarom besing Dawid in verse 14b en 15 die lof van die Here:  “U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –  sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion. Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.”

Die Here het as’t ware vir Dawid weggeruk uit die poort van die dood en hom geplaas in die poort van Sion. Dawid kon terugkeer na die stad Jerusalem en het in die tabernakel gejuig oor God se reddingsdade. Psalm 9 is Dawid se lofrede omdat die Here hom gered het van Goliat en die Filistyne. Die poort van Sion verwys daarna om binne-in die stad Jerusalem te wees. Jerusalem is die Godstad, waar Dawid die paleis gebou het en Salomo die tempel gebou het.

Waar Dawid eers in die poort van die dood gestaan het, staan hy nou in die poort van Sion, naamlik Jerusalem, waar hy regeer het as koning.

Soos die Bybel ontwikkel, het hierdie Sionstad later ’n al meer geestelike betekenis gekry.  Die Sionstad word nou die nuwe Jerusalem van Openbaring, waarheen al God se geredde kinders gaan. Sterwe beteken om deur die poorte van Sion, die poorte van die nuwe Jerusalem, in te gaan.

In Hebreërs 12: 22 staan daar: “ Nee, julle het aangekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, by die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike byeenkoms, ……”

Hebreërs 12: 22 word voorafgegaan deur ’n gedeelte waar die berg Sinaï vergelyk word met die Sionsberg. Die berg Sinaï, wat die wet simboliseer, word beskryf in die volgende terme: Brandende vuur, duisternis, donkerte, stormwind en selfs as ’n dier die berg aanraak, moet hy gestenig word. Selfs Moses was beangs. Sinaï staan vir redding deur die nakom van wette en rituele. Daarteenoor staan die Sionsberg, as simbool van redding deur genade. Die Here Jesus het verlossing gebring. Hy het die satan en die sonde wat soos ’n Goliat voor ons gestaan het, verslaan op Golgota. Daarom kan ons in die poorte van Sion sit.

Tannie Rae is nie meer in die poort van die dood nie, maar in die poort van Sion.

Ek het eenmaal gelees van ’n laat 1700’s verhaal van ’n wewenaar wie se enigste dogtertjie oorlede is. Dit het in Engeland afgespeel. Dit was die tyd toe begraafplase nog ’n opsigter gehad het en die doodskiste met slotte gesluit is en die sleutel van die doodskiste gegee is vir die opsigter van die begraafplaas om te bewaar. Die man en die predikant het, nadat hulle die dogtertjie begrawe het en die sleutel van die kis vir die opsigter  gegee het, alleen terug gestap. Die man het verskriklik gehuil. Die predikant sê toe vir die man: “Broer, die loper wat jou dogtertjie se kis oopsluit, hang en kinkel alreeds aan die sleutelring van die Here Jesus Christus.”

Waarskynlik het die predikant Openbaring 1: 17 – 18 in gedagte gehad. In Openbaring 1: 17 – 18 staan daar geskrywe: “Toe ek Hom sien, het ek voor Sy voete neergeval soos ’n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”

Die woord “Hades” word voorgestel as ’n plek onder die aarde waarheen mense wat sterf, afdaal. Dit is die “doderyk” of “onderwêreld” genoem. Soms is dit ook as ’n tronk voorgestel. Daarom het Jesus die sleutel wat die tronk van die dood oopsluit en ons inlaat in ons hemelse woning.

Die Here Jesus het die sleutel wat vir ons die Sionspoorte oopsluit. Ons kan in Sion bly.

Wat belangrik is, is dat Jesus die sleutel het wat die dood oopsluit. Nie ons goeie werke of dade kan vir ons die hemel oopsluit nie. Jesus Christus se soendood is die sleutel wat die dood oopsluit. Daarom is Hy die Weg en die Waarheid en die Lewe. Met Jesus se opstanding uit die dood het Hy die slotte van ons dood kom oopsluit.

Tannie Rae Meyer is ’n Sionsganger. Almal wat in Christus is, is ’n Sionsganger.

Laat ons almal met Sionsgesange opgaan na Sion.              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)