SKRIFLESING: Josua 2: 1 – 19
Die verhaal van Ragab is die merkwaardige verhaal van die prostituut van Jerigo, wat deel word van die stamboek van die Here Jesus Christus.
Die verhaal begin so. Josua het twee verkenners na die stad Jerigo gestuur om die stad te gaan verken. Die koning van Jerigo ontvang toe informasie van die twee manne van Israel wat die stad binnegekom het en dat hulle ingegaan het by Ragab, die prostituut van Jerigo, se huis. Die koning eis toe onmiddellik dat Ragab die twee Israelitiese manne uitlewer aan hom.

Ragab versteek dadelik die twee verkenners. Dan vertel sy ’n leuen aan die boodskapper van die koning: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Toe die stadspoort teen donker moes sluit, het die manne uitgegaan. Ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie. Sit hulle gou agterna, want u kan hulle inhaal.” (Josua 2: 4 – 5) Ragab versteek toe die twee manne op die dak onder vlasstingels. Die koning het soldate gestuur om die Israeliete agterna te sit en hulle het die stadspoort gesluit.

Ragab het opgeklim na die dak en voor die verspieders gaan slaap, vir hulle gesê dat sy hulle God ken en dat God Sy volk beskerm. Sy het vertel van wat sy weet van die verlossing uit die Rietsee, deur die Israeliete droogvoets te laat deurtrek, en van die verlossing uit Egipte. Sy het vertel van Israel se oorwinnings oor ander konings en volke. Sy vertel van haar mense in Jerigo se vrees vir die Israeliete. Dan bely sy in vers 11: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Dan vra sy vir die verspieders om te beloof dat hulle haar en haar familie sal red. Die verspieders beloof toe dat hulle sal sorg dat sy en haar familie nie sal omkom nie.

Sy het hulle daarna met ’n tou laat afsak deur die venster, want haar huis was binne die stadsmuur en die verspieders het vir drie dae gaan wegkruip in die bergland. Hulle het ook vir haar gesê dat sy ’n karmosynrooi gevlegte tou moet vasmaak aan die venster waardeur sy hulle vrygelaat het, wanneer Jerigo aangeval word. Sy en haar hele familie moes in haar huis wees. Dan sou haar en haar familie se lewens gespaar word.
Inderdaad het die verspieders woord gehou en met die inval van Jerigo is sy en haar familie gespaar van die dood en gevangenskap.
Sy het in Israel met Salmon getrou en uit die huwelik is Boas gebore. Boas was weer die vader van Obed by Rut en het so die oupagrootjie geword van Dawid. Uit die geslagslyn is Christus Jesus gebore. Ragab die prostituut van Jerigo (die laagste onder die heidene van Jerigo) is verhef tot die geslagslyn van Jesus Christus.
In die gedeelte is die volgende opvallend: die leuen wat Ragab vertel aan die boodskapper van die koning. Sy vertel ’n leuen deur te sê die twee manne van Israel was by haar, maar hulle het alreeds die stad verlaat. Sit hulle agterna. Tog veroordeel die skrifgedeelte nie haar leuen nie. Haar leuen speel as’t ware ’n rol in God se heilsweg.
Een verklaarder meen “waarheid” is nie om noodwendig te spreek in “ooreenkoms met die werklike feite” nie. Maar waarheid moet in diens staan van ons “lojaliteite ten opsigte van die Here en ons naaste.” (B Holwerda)
Dit sou beteken dat om sekere feite van sekere mense te weerhou, juis in diens staan van die wet, naamlik liefde tot God en my naaste. Dink ook aan die vroedvroue wat God meer gehoorsaam was as die Farao en nie die babaseuntjies vermoor het nie, maar die leuen vertel het dat die Joodse mammas te sterk is en dat nog voor hulle by die kindjie kom, die kindjie al klaar gebore is.
Met ander woorde as rowers jou huis aanval, mag jy ’n leuen vertel en sê jou vrou en kinders is nie tuis nie. Die hoër doel is om hulle lewens te red. In oorlog mag jy vlugtelinge versteek en die leuen vertel dat jy hulle nie gesien het nie, want daardeur spaar jy mense se lewens.
Wanneer leuens staan in ’n hoër en edel doel, is dit toelaatbaar. Om dan nie die leuen te vertel nie, sou beteken dat God oneer word en my naaste benadeel word.
Maar wanneer ek leuens vertel in diens van die bose, soos om myself te bevoordeel of om ander se kriminele aktiwiteite te beskerm, sal dit ’n leuen van die bose wees. Dit het dan nie ’n hoër en edele doel nie.
’n Mens kan as’t ware onderskei tussen ’n heilige leuen en ’n bose leuen. Ongelukkig moet jy die onderskeid maak, want ons lewe nie in ’n swart-en-wit antwoord wêreld nie. Ons lewe in ’n grysgebied, waar daar ’n oorlog is tussen wat heilig en wat boos is.
Ons lees van Ragab se sterk geloof in die God van Israel. Waarskynlik was sy die enigste gelowige in Jerigo. Sy het dalk as sy mark toe gaan of gaan om water te skep by die put, brokkies nuus gekry van die oorwinnings van die Israeliete en hoe God hulle help in nood. Dit alles het soos ’n legkaart inmekaar geval, dat sy in vers 11 kon bely: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hier onder.” Juis daarom is sy gered. Deur haar geloof. Haar geloof het in dade oorgegaan en daarom het sy die twee verspieders gered.
In Jakobus 2 word Abraham die vader van die geloof wat uit Ur van die Galdeërs weggetrek het, vergelyk met Ragab, die heiden wat uit Jerigo weggetrek het. Albei het alles agtergelaat wat bekend was. Albei het hulle land, hulle stad, hulle huise, alles, verlaat en weggetrek net oor hulle geloof in God. So staan geskryf in Jakobus 2: 25 – “Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie?” Abraham het as Joodse gelowige alles agtergelaat en Ragab het as gelowige uit die heidendom alles agtergelaat en so smelt die twee strome saam in die verbond.

Rooi is die kleur van verlossing in die Bybel. Met die uittog uit Egipte het die Here opdrag gegee dat die rooi bloed van lammers aan die deurkosyne van die Jode geverf moet word om hulle te vrywaar van die dood. In Ragab se verhaal is dit ’n rooi tou wat redding bring en in die Nuwe Testament is dit die kosbare rooi bloed van Jesus wat verlossing bring vir almal wat glo.
So het Ragab, die prostituut, deur ’n leuen deel van die verbondsvolk geword en deel van die stamboom van die Here Jesus Christus en boonop ’n geloofsheldin geword – omdat sy aksie by haar geloof gevoeg het.
Hoe nodig het ons dit nie vandag, dat gelowiges daad by hulle geloof voeg nie.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom (Wubbels, Lance). Destiny Image. Kindle Edition.
Pro Regno. 2016. Josua 2. Ragab se geloof getuig van die Here se oordeel én genade
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.