Moenie God manipuleer nie


SKRIFLESING: Jeremia 14: 1 – 12 en 15: 1 – 4

Ons dink klein oor God. So klein, dat ons dikwels vir God ’n handvatsel gee, om te gebruik soos wat ons nodig ag. Dan spreek God in die skrifgedeelte, dat Hy moeg word om so gebruik en gemanipuleer te word.

In Jeremia 14 lees ons van ’n droogte, ’n verskriklike droogte. Die slawe word gestuur om water te gaan haal, maar die putte is droog. Die boere is moedeloos, omdat die grond niks oplewer nie. Die takbok lam in die veld, maar die lam word weggegooi omdat daar nie kos is nie. Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind terwyl hulle oë dof word, omdat daar nie gras is nie.

Wat doen ’n mens as daar ’n droogte op hande is? Jy roep ’n nasionale biddag vir reën uit. Almal groot en klein, oud en jonk gaan in afhanklikheid met die nodige eerbied na die tempel toe. Die mense vas, hulle bring offers en hulle bely hulle skuld.

Nou het die volk hulle kant gebring. Nou moet die Here weer sy kant bring. Hy moet vir hulle reën stuur, sodat die droogte gebreek kan word.

Maar God antwoord anders. God het besluit om nie vir hulle reën te stuur nie. Die droogte moet voortduur. Hoekom maak God dan so? God sê mos Hy verhoor gebede. Hoekom het God nie geluister tydens die Nasionale Biddag vir Reën nie?

Vir God was die Nasionale Biddag vir Reën ’n belediging. Sy volk roep hom net aan as daar probleme en moeilikheid is. Hulle maak van God ’n noodwiel. As alles goed gaan, kom hulle baie goed sonder God oor die weg. Maar as daar moeilikheid is, dan moet God help. So maak hulle God ondergeskik aan hulle agendas. Israel dink klein oor God. Hulle sit vir God ’n handvatsel aan.

Dit laat ’n mens dink aan die volgende storie: ’n Man het van sy boot afgespoel en was besig om te verdrink. Uit desperaatheid bid hy tot God om hulp en beloof selfs om ’n sendeling te word as die Here hom spaar. Nie lank daarna nie, kom ’n stuk dryfhout verbygespoel en die drenkeling gryp net betyds daaraan vas. Veilig op die dryfhout sê die man: “Here, U weet natuurlik dat ek nie ernstig was oor die sendelingstorie nie, nè?” Op daardie oomblik kom daar ’n fratsgolf en spoel hom weer van die dryfhout af. Waarop die man sê: “Lyk my ’n mens kan nie eens hier rond ’n grappie maak nie.”

Nood leer inderdaad bid. Sommige mense kom net kerk toe as hulle in die nood is of as daar ’n biddag vir reën is. Dan is ons baie veeleisend. As’t ware stel ons God voor ’n keuse: “Verhoor ons gebed of …” En as God ons gebede nie verhoor nie, dan vra ons baie maklik: “Waarom?” Of ons verwyt God of ons beskuldig God of ons verloor ons geloof in Hom. Of mense sê: “God is dood” of “Hy bestaan nie.”

So maak ons God “klein” in ons geloofslewe. Hy moet maak presies soos ons versoek, of anders …

Ja, somtyds verhoor God nie ons gebede nie, veral as ons probeer om hom te manipuleer. Gebed is nie ’n goedkoop saak nie. Net soos wat ’n ouer nie toelaat dat sy kind hom manipuleer nie, net so laat God ook nie toe dat ons Hom  manipuleer nie.

Die Woord van God is veeleisend. Dit verg ons aandag. God verdra dit nie dat ons ons gebede in telegramstyl aframmel nie of dat dit kortgeknip word soos ’n lastige besoeker vir wie ons die deur net ’n skrefie oopmaak om so vinnig moontlik van hom ontslae te raak nie.

Tony Campolo skryf oor rituele. Hy sê rituele werk vormend op ’n kind se emosionele  sekuriteit en lojaliteit aan gesinswaardes. Kinders wat met die regte gereelde rituele grootword, omhels die regte soort gedragspatrone. Hiermee word bedoel gesinsrituele, maar ook godsdienstige rituele. Godsdienstige rituele maak dat jou aanbidding van God eg is. Jy aanbid God in die goeie én slegte tye.

Maar as jy geen godsdienstige rituele het nie, gaan jy God net manipulerend aanroep in jou swaar tye of as jy in die nood is. Dan gebrúík jy slegs God. Dit word dan ’n verbruikersgodsdiens.

God laat Hom nie in ons agendas en selfsugtige plannetjies indwing nie. Anders sou dit beteken dat God slegs ’n middel word waardeur ek my doel kan bereik. God besluit egter vrymagtig.

Miskien is dit goed om ’n slag weer te besef dat God meer is as ons gedagtes oor Hom. Die Joodse geleerde Martin Buber het beklemtoon dat die stam van die Hebreeuse woord vir God eintlik ’n stotter-woord is. Ons kan net oor God stotter. Oor God mag ons nie, kan ons nooit te glad en te maklik praat nie. Ons moet waak om te familiêr met God te raak. Dan raak ons blind vir die misterie van God.

Die Nederlandse kultuurfilosoof C.A. van Peursen praat van God as die Verborge Aanwesige en skryf sy Naam as G_d, om mense te herinner dat ’n mens God nie kan vasvang in woorde nie.

Karl Barth skryf: “ Ons kan nie oor God praat nie – dit is ons verleentheid. Ons moet oor God praat – dit is ons opdrag.”

God is groter as ons denke oor Hom. Daarom moet ons tog nie dink dat ons gebede God gevange kan neem nie. God is vrymagtig om self Sy wil te laat geskied. As ons ’n biddag vir reën hou, moet ons God nie daarmee probeer manipuleer nie. Wanneer ons ’n biddag hou, moet dit in opregtheid wees en ons hele lewe moet daarvan getuig dat ons Hom opreg dien.

God wil nie net in tye van nood, ’n noodwiel wees nie. Hy wil die stuurwiel van my lewe wees. Sy huis is nie ’n brandweerstasie net vir tye van nood nie. God is nie slegs maar ’n middel waarmee ek my doel kan bereik nie.

Nee, my hele lewe in goeie en in slegte tye – moet aan God geoffer wees, soos die volgende verhaal getuig: Daar was eendag, tydens die vreeslike vervolging deur die Spaanse Inkwisisie, ’n Jood wat met sy vrou en kind ontsnap het deur in ’n klein bootjie oor die stormagtige see na ’n naby-geleë eiland te vaar. Terwyl hulle van die bloeddorstige verskrikking weggevaar het, het ’n storm opgekom en ’n bliksemstraal het sy vrou op die bootjie getref. Die volgende oomblik het ’n geweldige warrelwind die kindjie in die see geslinger. Alleen, verskrik, byna nakend en kaalvoet, het die man op ’n rotsagtige eiland uitgespoel, sy hande in die lug opgesteek en so met God gepraat: “ God van Israel, ek het na hierdie plek toe gevlug sodat ek U in vrede kan dien, sodat ek U gebooie kan gehoorsaam en U Naam kan verheerlik. U egter, doen alles om my van my geloof te beroof. Maar as U dink dat U deur enigeen van hierdie dinge vir my sover sal kry om U pad te verlaat, dan maak U ’n fout. U kan my beledig. U kan my straf. U kan dit wat vir my die dierbaarste is, van my wegneem. U kan my tot die dood laat martel – Ek sal altyd in U glo. Ek sal U altyd liefhê, selfs ten spyte van Uself.”

’n Mens wonder waar kom so ’n belydenis vandaan? Nie uit hierdie wêreld nie.  Dit kan alleen vanuit die hemel self aangesteek wees.

Die vreemde verse van Jeremia 14 herinner ons: Moenie probeer om net die seën en die voorspoed van God te soek nie. God laat Hom nie manipuleer nie. Die lewe in oorvloed is slegs te vinde in ’n verhouding met God self.

Dink groot oor God!

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Preek is gebasser op ‘n preek wat ek gelees het. Skrywer nie bekend. Ek het heelwat bygevoeg en bygewerk.

Helmut Thielicke, Leadership, Vol. 2, no. 1.

Dan Meyer. People of the Table.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s