Suur druiwe is om reg en geregtigheid na te laat


SKRIFLESING: Jesaja 5: 1 – 7

Jesaja begin deur te sê dat hy ’n lied wil sing. Hy wil ’n liefdeslied sing oor ’n pragtige verhouding. Dan gebruik hy die verhouding van ’n landbouer en sy wingerd om die verhouding tussen God en sy volk te beskryf.

Het u al gesien hoe trots ’n wynboer op sy wingerde kan wees? Dit is sy liefde, sy lewe.

Dan vertel Jesaja dat hy ’n boer ken wat ’n wingerd op ’n baie vrugbare stuk grond aangelê het. Die boer het alles gedoen om ’n kampioenwyn te vervaardig. Die wingerd is op ’n vrugbare heuwel aangelê. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder. Hy het ’n muur gebou rondom die wingerd om dit te beskerm. Hy het selfs ’n wagtoring gebou om die wingerd te beskerm teen skelms. Hy het ’n parskuip uit klip gemaak. Hy het die grond beplant met veredelde wingerdstokke.

Die lied verwys na God wat sorgsaam ’n verhouding met Israel bou, sodat daar reg en geregtigheid in die samelewing sou wees. Vir God is “reg” en “geregtigheid” die vernaamste elemente wat Hy in ’n samelewing soek.

Die grootste gedeelte van Jesaja se gemeente was wingerdboere en daarom het hulle die storie so geniet. Maar dan die anti-klimaks! Die wingerd lewer suur druiwe op. Dit maak geen sin nie. Al die moeite is dan verniet.

Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg in die samelewing; dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van verontregtes. Die mense het mekaar uitgebuit. Hulle het die armes uitgebuit en onregverdige hoë rentes gehef op lenings. Hulle skale het skeef gemeet, tot eie voordeel.

In die Hebreeus word dit baie treffend gestel:

onreg – reg

mišpah מִשְׂפָּח – mišpat מִשְׁפָּט

geregtigheid – hulpgeroep

sědaqâ צְדָקָה – sě’aqâ צְעָקָה

Die woorde klink so naby aan mekaar, maar is tog se ver van mekaar verwyder.

Jesaja 5: 8 – 10 verwys direk na uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie.

Indien Jesaja hulle sou vra wat ’n mens met so ’n wingerd moet doen wat suur druiwe produseer, sal hulle heel waarskynlik almal saam skree:  Kap dit uit! Gebruik die stokkies as brandhout. Dit maak lekker kole.

Dan kom die skok! Daardie boer is die Here en die wingerd is julle, die volk van Juda. Van julle het die Here verwag dat julle vrugte sou dra van reg en geregtigheid. Maar die Here sien net onreg en onregverdigheid.

Dink nou ’n oomblik na. In ons verhouding met die Here voel ons dikwels die Here is die Een wat seermaak en ons is diegene wat seerkry. Hier is dit net andersom. God kry seer. God huil. God is die “boer” wat teleurgesteld, mismoedig en hartseer kan word, omdat Hy nie reg en geregtigheid in die samelewing waarneem nie.

Dit is belangrik hier om te sien dat die volk se ontrou nie daarin gelê het dat hulle vir God afgesweer het nie. Die wingerd is nie nutteloos omdat dit geen oes opgelewer het nie. Dit is nutteloos omdat dit onbruikbare en suur druiwe opgelewer het. Die volk Israel het wel ’n verhouding met God, deurdat hulle die uitwendige godsdienstige rituele nakom, maar daar is geen reg en geregtigheid teenoor die naaste nie.

Suur druiwe is om op my eie belange en voordeel te fokus. Die onreg van die hulpeloses en die hulpgeroep van die verontregtes gaan by God se volk verby. In plaas van omgee en versorg is daar armoede, uitbuiting en verwaarlosing.

As gelowiges en kerk, lê ons verlorenheid nie daarin dat ons vir God die rug toegekeer het nie. Dit lê veel eerder daarin dat ons probeer om as’t ware agter God se rug te leef. Ons ontrouheid lê nie daarin dat ons God minag nie, maar eerder dat ons nie erns maak met ons verhouding met ons naaste nie. Daarom hoor ons nie dikwels as God met ons praat nie. Ons is nie sensitief vir sy soeke na geregtigheid nie.

Daar word vertel dat, toe die troepe van Mahomet II in 1493 die stad Kontantinopel omsingel het, almal geweet het dat die slag bepalend sou wees vir die vraag of die Balkanlande die volgende paar eeue onder Christen- of Moslem- oorheersing sou lewe. Die aand voor die verwagte inval, het die kerkraad van een van die stad se grootste Christelike kerke bymekaar gekom. Op hulle agenda vir die aand was die volgende punte van bespreking: (1) Watter kleur was die oë van die maagd Maria? (2) Is engele manlike of vroulike wesens? (3) Wat gebeur as ’n vlieg in die doopwater val – word die vlieg heilig of word die water besoedel? Hulle het hulle met onsinnighede besig gehou, in plaas daarvan om vir die behoud van die stad te bid. So kan ons onsself ook besig hou met geskille oor uitwendige godsdienste rituele, sonder om die reg en geregtigheid van God in die samelewing na te jaag.

’n Ander ware verhaal is dié van Mohandas Gandhi: Toe Mohandas Gandhi met sy politieke bedrywighede begin het, het hy ook ’n sterk geestelike soeke beleef. Hy was destyds in Suid-Afrika en wou êrens in Natal ’n NG Kerk besoek. Dit sou bepalend wees vir die geestelike oriëntasie van ’n man wat een van die grootste leiers van die 20ste eeu sou word. Maar hy is toegang daar geweier omdat die kerk nie gekleurdes wou binnelaat nie. Gandhi het toe by ’n Hindoe-tempel geholpe geraak. Vandag is Indië ’n Hindoe-land met ’n reuse-bevolking. ’n Mens kan nie help om te wonder nie, oor wat sou gebeur het as die kerk meer sensitief was vir die stem van God en minder sensitief was vir die politieke ideologie van die dag. 

Verstaan ons waarom God huil?

Eintlik is Jesaja 5: 1 – 7 nie ’n liefdeslied nie, maar eerder ’n begrafnislied. Die Here huil oor Sy volk nie meer die geregtigheid in die samelewing najaag nie. Daar word getreur oor die begrafnis van die reg en waardes, waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie.

Chris van Wyk skryf: “Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.”

Ons gesprekke verraai dikwels wat diep binnekant ons harte aangaan. Hoeveel gesprekke is daar nie al oor eeue in die kerk gevoer oor kleredrag in die kerk nie. Hoeveel keer hoor ’n mens nie van hoe mense praat van die uiterlike gebruike van die kerk wat behoue moet bly, of tot elke prys moet verander nie.

Sê die Bybel nie dat onsself moet verander nie, dat ons harte moet verander nie? Wat was volgens Jesaja en natuurlik die Here Jesus self die belangrikste: die uiterlike vorm of die hartsgesindheid? Vergelyk byvoorbeeld die onderhouding van die openbare vasgebruike, teenoor die gesindheid van jou hart. Hoor wat sê die Here Jesus in Mat 23: 23 wat vir Hom die belangrikste is: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Mense kla dikwels oor wat die kerk nie vir hulle doen nie. Maar die Bybel praat eerder van die reg en geregtigheid wat ek moet laat kom in die samelewing. Ek moet nie bedien word nie, maar ek moet self die reg laat kom. Die kerk is die liggaam van Christus. En in die kerk kyk die een lid nie wat die ander vir hom kan doen nie, maar hoe hy/sy die verontregte en minderbevoorregte kan help.

Dra ons soet of  suur druiwe? Waaroor praat ons? Oor uiterlike dinge van min belang, of oor dit wat werklik die geregtigheid laat kom? Daar is soveel onreg en ongeregtigheid in die samelewing. Is ons daaroor bekommerd of oor uitwendige godsdienstige rituele?

Die kerk van die Here moet die Suid-Afrikaanse samelewing transformeer, deursuur en sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees.

Waar die reg en geregtigheid kom, daar is God. Daarom moet ons die reg en geregtigheid najaag. Ons moet ons toelê daarop om ander se belange te bevorder. Ons moet ’n hart hê vir die minderbevoorregtes.

Eers dan is ons soet druiwe, waaroor die Here sal glimlag.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Chris van Wyk. 2011. Jesaja 5. Bybelskool.

Rethie van Niekerk. 2016. Preek oor Jesaja 5. Somerstrand-gemeente.

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s