SKRIFLESING: Lukas 16: 1 – 13
Geld maak gewoonlik vyande. Geld bring twis, tweestryd, jaloesie, naywer, wedywering, familietwiste ensovoorts. In hoeveel huwelike word daar nie oor geld gestry nie. In hoeveel families word daar nie oor erfporsies getwis nie.

Mammon bring spanning tussen werkgewer en werknemer en dit bring spanning tussen familielede onder mekaar. Koper en verkoper kibbel oor die prys en sakevennote probeer mekaar kul. Mammon is seer sekerlik dit waaroor die meeste twis van hierdie wêreld gaan. Mammon was die naam van die Siriese god van “rykdom en geld”. Mammon probeer God met dinge vervang.
Mammon plaas jou ook in ’n verkeerde verhouding met God. Sodra ’n mens Mammon nie meer net “gebruik” nie, maar “dien”, word die Mammon jou “god”. En verdring dit vir God, vir Wie ons eintlik moet dien.
Met geld en besittings kan jy vir jou baie vyande koop, ja, selfs ook vyandskap met God.
Daarom vertel die Here Jesus hierdie gelykenis van die oneerlike bestuurder: Hy begin die gelykenis deur te vertel dat ’n baie ryk man ’n sekere bestuurder in diens gehad het wat na sy goed moes omsien en moes bestuur. Maar hierdie bestuurder het lang vingers gehad. Hy het hom aan “witboordjie-misdaad” skuldig gemaak. Die bestuurder word dan ook aangekla by die ryk man. Daar waar ’n rokie is, moet ook ’n vuurtjie wees. Daarom gelas die ryk eienaar ’n kommissie van ondersoek na sy bestuurder se bestuur van sake.
Nou is die bestuurder in ’n penarie. Hy sit op hete kole. Wat nou gemaak? Hy weet die eienaar gaan hom ontslaan as die verslag uitkom. As bestuurder sal hy nie weer aangestel word nie en om handewerk te doen, daarvoor sien hy nie kans nie. Om te bedel, daarvoor skaam hy hom morsdood. Wat nou gemaak?
Heel moontlik het hy ’n paar nagte rondgerol en het sy gewete hom gepla. Hy het waarskynlik gedink aan die baie vyande wat hy langs die pad gemaak het. Hy was inhalig en gierig en met so ’n gesindheid maak jy net vyande. As hy ontslaan word, sal hy werklik net vyande oor hê. Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop.
Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop. Miskien het hierdie wete hom tot bekering gebring. Want dan lees ons van ’n totale hartsverandering by hom.

Hy besluit om nie meer toe te laat dat geld vyandskap vir hom veroorsaak nie. Nee, hy wil liewer met geld vriendskap veroorsaak.
“Gebruik geld om vriende te maak, nie vyande nie…” het nou sy lewensmotto geword. Daarom lees ons hoedat hy sy werkgewer se skuldenaars een vir een inroep en skulde verminder.
Die een skuldenaar skuld 100 bat olyfolie. Die bestuurder verminder dit na 50 bat. Die ander skuldenaar skuld 100 kor koring. Die bestuurder verminder dit na 80 kor koring. So verminder hy elke skuldenaar se skuld. Dit klink vir ons amper asof hy net verder met sy skelmstreke aangaan en sy werkgewer nog verder inloop deur skuld aan sy werkgewer verskuldig, af te skryf.
Dit is egter nie so nie. Talle kommentators meen dat hy slegs sy deel van die kommissie of profyt afgeskryf het. Met ander woorde, die gedeelte van die wins wat na hom moes gaan, het hy afgeskryf en in die proses het hy vir hom vriende gemaak. Daarom het sy werkgewer hom ook geprys oor die slim ding wat hy gedoen het om sy situasie te beredder.

In plaas van inhalig en gierig te wees, word hy nou vrygewig … en in die proses maak hy vir hom ’n klomp vriende. Vir die eerste keer het hy nou in sy lewe ook vriende gehad. Sy eertydse vyande word nou sy vriende. Hulle word ’n medemens vir hom. Daarom prys die Here hom en sê dat hy sy geld en sy besittings gebruik het om vir hom vriende te maak. Die Here noem hom slim, want dit is beter om met geld vriende te maak as om vyande te maak. [Natuurlik moet ons nou nie selfsugtig met ons geld probeer vriende maak, sodat hulle ons later weer moet uithelp – soos dit die bestuurder se plan was nie. As ek iemand help, moet dit nie vir toekomstige voordeel wees nie, maar omdat dit uit liefde gedrewe is.]
In plaas van met my geld en besittings vriende te maak, gaar ek dit op vir inflasie om dit namens my te bestee. Daarom sê die Here dan ook dat die mense van die wêreld slimmer optree as die mense van die lig, want hul gebruik eerder hulle geld om vir hulle vriende te maak.
Die bestuurder het ’n totale hartsverandering ondergaan. Eers was hy saakgerig, geldgierig, besittingsgerig … nou word hy mensgerig. Ewe skielik het hy sy eertydse kliënte nie meer onpersoonlik hanteer nie, maar menslik. In plaas van sy ou styl om sy sakebelange te versaaklik, het hy dit nou vermenslik. Hy het sy geld doelbewus gebruik om vriende te maak.
God se kinders hoef nie weg te vlug van geld nie. Geld is nie per se boos nie. God het niks teen rykdom nie. Inteendeel, ons lees dat Salomo, Dawid, Hiskia, Job en nog talle ander Bybelfigure baie ryk was. Daar moet ook ryk mense wees om die ekonomie aan die gang te hou en werkskepping te bevorder.
Lukas se Evangelie is ’n Evangelie aan die armes en die rykes. Vir Lukas hang die geloofwaardigheid van die kerk se lewe en getuienis onlosmaaklik saam met die manier waarop ons omgaan met die gawes wat aan ons toevertrou is.
Die Here het dit egter daarteen dat ons geld en besittings so selfsugtig besit dat ons hoe ver ons gaan, vyande maak. “Nee, wees vrygewig sodat julle nie vir julle vyande nie, maar vriende maak,” sê die Here.
Geld, wat is jou waarde? Want geld kan vir jou ’n luukse woonplek koop, maar nie ’n tuiste nie. Die grootste en luuksste bed, maar nie slaap nie. Die mooiste horlosie, maar nie tyd nie. Jy kan met geld vir jou al die boeke in al die biblioteke aanskaf, maar nie wysheid nie. Jy kan met geld vir jou ’n plek koop in die samelewing, maar nie respek nie. Dit kan medisyne koop, maar nie gesondheid nie. Jy sou met jou geld vir jou ’n eie privaatkliniek kon koop, maar nie gesondheid nie. Met geld kan jy vir jou seks koop, maar nie liefde nie. Met geld kan jy ’n kerk koop, maar nie ’n ontmoeting met die ewige God nie.
Winkelsentrums word ons kerke en bekendes ons gode. Soos Paris Hilton, kan jy beroemd wees bloot deur ryk te wees. President Jimmy Carter het gesê: “Menslike identiteit word nie meer gedefinieer deur wat ’n mens doen nie, maar deur wat ’n mens besit.”
Geld moet menseverhoudings voed en opbou, nie afbreek nie.
Geld moet mense verpersoonlik en nie versaaklik nie. Geld moet ander mense ruimte gee en nie inkort nie.
Ek maak vriende met geld …
- As ek ander menswaardige lone betaal
- As ek lewensgeleenthede skep
- As ek lewenskwaliteit verbeter
- As ek aalmoese uitdeel
- As ek ander mense se laste minder maak.
Wie so met sy geld vriende vir hom maak, skep vir homself / haarself ’n toekoms. Dit is wat hierdie bestuurder gedoen het: hy het vir homself ’n toekoms geskep.

Arthur Brooks vind dat godsdienstigheid een van die beste voorspellers van liefdadigheid by mense is. Die studie is onder Amerikaners gedoen. “Godsdienstige Amerikaners is nie net baie meer geneig om geld te gee en hul tyd vrywillig aan godsdienstige en sekulêre instellings te gee nie, hulle is ook meer geneig om hulp aan familielede te verleen, verkeerde kleingeld terug te gee, ’n hawelose persoon te help en om bloed te skenk.”
Eenmaal het die Here Jesus vir Homself ook ’n toekoms, ’n Koninkryk, geskep deur ons wat Sy vyande was, Sy vriende te maak. Ons lees daarvan in 2 Kor 8:9 – “ Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”
Net so kan ons as toehoorders ook vir ons ’n toekoms skep deur ons geld en besittings te gebruik om vriende in plaas van vyande te maak. So ’n lewenshouding bring ons in die regte verhouding met God en met ons medemens. Eers dan het ons waarlik ’n toekoms.

Daarom roep die Here Jesus ons op om elke dag ’n fundamentele keuse te maak tussen God en Mammon. God wil hê ek moet my besittings gebruik om vriende te maak. Mammon wil hê ek moet my besittings gebruik om vyande te maak.
God wil vry maak. Mammon wil verkneg.
In Augustus 2003 is ’n studie vrygestel wat aan die lig gebring het dat geld nie geluk kan koop nie. In 1975 het Richard Easterlin, navorser van die Universiteit van Suid-Kalifornië, begin om jaarliks 1500 persone te ondervra en uiteindelik bevind: “Baie mense verkeer onder die illusie dat hoe meer geld ons maak, hoe gelukkiger ons sal wees. Ons sit al ons hulpbronne in om geld te maak ten koste van ons gesin en ons gesondheid … Die probleem is dat ons nie besef dat ons materiële behoeftes toeneem met die hoeveelheid geld wat ons maak nie. Die studie het ontdek dat geluk verband hou met kwaliteittyd saam met geliefdes, goeie gesondheid, vriendelik wees, ’n optimistiese uitkyk te hê, selfbeheersing uit te oefen en ’n diep sin vir etiese waardes te hê.”

Wie Mammon aanbid en op Mammon vertrou vir die toekoms en lewensgeluk, sal nooit in die Koninkryk van God kan ingaan nie. Moenie op Mammon vertrou nie, maar vertrou op Jesus Christus vir u toekoms, dan sal u die Koninkryk van God beërwe. Wie geleer het om op Jesus Christus te vertrou, kry dit maklik reg om sy geld en besittings te gebruik om vriende te maak. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS
Gebaseer op ‘n preek wat ek eenmaal gelees het. Baie verwerk en bygewerk.
Jon A. Shields, “A Scandal of the Secular Conscience?” Books & Culture (January/February 2008).
http://www.BusinessDay.com, (28-08-2003)
Tim Smith.16 June 2013. Materialism
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.