Diensbaarheid teenoor verheerliking.

SKRIFLESING: Mark 9: 2 – 9

Ek het ‘n negentiende eeuse verhaal gelees van ‘n meisie wat op was vanuit Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders gewerk op die aartappellande.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ‘n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was goed ‘n paar kilometer heuwel – op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ‘n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “ Meneer, asseblief meneer, sal meneer my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien my broer in London het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in vet fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet?

“‘n Sjieling (10c), meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “ ‘n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ‘n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken ‘n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ‘n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan meneer my nie miskien help nie. Ek sal meneer, ‘n sjieling betaal …… (en sy wys vir hom die muntstuk)”

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hul groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue – oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom ……. dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ‘n sjieling betaal ook. Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ‘n sjieling ooreengekom.

‘n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie.

Of ‘n meer resente voorbeeld het ‘n paar winters gelede in Johannesburg afgespeel. ‘n Vrou in ‘n spogwoonbuurt in Johannesburg se kar wou die wintersoggend nie vat nie. (Gewoonlik battery probleme.) Sy wink ‘n swartman nader en vra: “Outa, wil jy nie gou vir my die kar stoot nie – ek is laat vir werk.” Vriendelik willig hy in en help haar om die kar aan die brand te stoot. Sy stop hom R1 in die hand en sê dankie. ‘n Week later vind sy uit dit is haar nuwe buurman en hy is ‘n advokaat in die Randse Hooggeregshof. Toe sy by die asbesheining kennis maak en om verskoning vra glimlag hy en antwoord: “Toemaar, Mevrou ons sukkel almal maar nog om aan die nuwe Suid Afrika gewoond te raak.”

Ware groot mense is nie bang om te dien nie. Die skopus van die preek is: Diensbaarheid teenoor verheerliking.

In die Markus Evangelie is Jesus Christus natuurlik vir ons die allerbeste voorbeeld. In ons gelese gedeelte word daar op die berg die grootheid en die koninklikheid van die Here Jesus openbaar. Wanneer sy klere skitterwit verander en sy aangesig verander en hy saam met Elia en Moses verskyn word die Gans Andersheid van Jesus Christus openbaar. Christus Jesus is nie van die skepping nie. Hy is nie van die stof van die aarde nie. Sy afkoms is Goddelik en hy sal eendag weer verheerlik word as die opgestane Seun van God. Eintlik was hierdie ‘n stuk profesie dat Jesus Christus, na sy lyding uit die dood sou opstaan. Dit was ‘n stuk heerlikheid – aankondiging van die uiteindelike heerlikheid wat vir die Seun van God wag. Die stem uit die wolk het dan ook duidelik aangekondig: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”

Petrus en Jakobus en Johannes was so aangedaan deur hierdie hemelse openbaring – dit was vir hulle iets van ‘n ander wêreld. Petrus, sonder woorde, sê: “ Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.

Eintlik wou Petrus hierdie hemelse ervaring vries. Hierdie oomblikke van heerlikheid moet nie verby gaan nie. Kom ons bou hutte, ‘n kasteel om hierdie heerlike ervaring vir ewig vas te vang. (Hulle kan nie ‘n foto neem nie – maar dalk kan hulle die Here Jesus oortuig om saam met Moses en Elia te bly.)

Dalk wou die dissipels die Here die lyding en die selfverloëning spaar – daarom wil hulle vir Hom op hierdie plek van aanbidding ‘n hut bou, saam met die hutte van Moses en Elia.      

Die Here het egter gekom om te dien en nie om gedien te word nie. Hy het gekom om vir ons ‘n tuiste (‘n kerk op die aarde en ‘n woning eendag in die hemel) te skep en nie dat ons vir Hom ‘n hut moet bou nie.

Daarom verdwyn die wolk en die stem verdwyn en die gedaante en klere van die Here Jesus word weer doodgewoon. Die Here Jesus verbied hulle vir eers om daaroor te praat – want, eers moet die Seun van die mens dien en ly.

Die Here Jesus het die siekes, die blindes, die kreupeles, die armes en die sondaars gedien. Hy het voete gewas en gesê ons moet soos kindertjies wees. Hy het gepraat van diens en selfverloëning en gehoorsaamheid.

Jesus Christus is ‘n Koning – maar Hy het gedien soos ‘n slaaf.

Ons is koningskinders – maar ons moet slawe vir mekaar wees.

Daarom word ‘n geestelike lewe van heerlikheid afgewys en ‘n geestelike lewe van gehoorsaamheid, gedienstigheid en dissipelskap bepleit.

Die Here Jesus het in doodgewone klere en in doodgewone omstandighede gedien. Daarom het so min mense Hom erken as die Messias. Maar deur Sy doodgewone diens het Hy die wêreld onherroeplik verander. Soos die meisie met die tas nie die hertog herken het nie, so het die mense in die tyd van die Here Jesus, Hom ook nie herken as die Messias nie.

Bid en vra die Here Jesus om ook vir u en my ‘n geaardheid van diensbaarheid te gee.

Verheerliking wag vir ons eendag. Maar nou moet diensbaarheid ‘n deel van ons karakter en lewe wees. Diensbaarheid is om uit te reik na ander mense en hulle te help. Ons moet nie in ons eie “bubble” sit en niks met ander mense te doen te wil hê nie. Gemaksones is gevaarlik, want jy wil alleen maar net oorlewe. Jy moet uit jou gemaksone beweeg en ‘n verskil maak in ander mense se lewe.

Verheerliking later, nou diensbaarheid!

Nie deur die septer nie, maar deur die kruis het die Here Jesus die wêreld verander. Sy heerlikheid het Hy verberg en vir sy dissipels gesê om vir eers nie daaroor te praat nie. Nie met heerlikheid nie, maar met nederige diens het Hy die wêreld verander.

Ons verwag ‘n koninklike geboorte, maar vind ‘n krip.

Ons verwag ‘n groot aanhang, maar vind verraad.

Ons verwag ‘n Halleluja – koor, maar vind ‘n kreet: “Kruisig Hom, kruisig Hom.”

Ons verwag koninklike klere, maar vind naaktheid.

Ons verwag eerbetoon, maar vind sweepslae.

Ons verwag ‘n rosekrans, maar vind ‘n doringkroon.

Ons verwag ‘n troon, maar vind ‘n kruis.

Daarom herken so min mense die Hertog van die hemel, die Hertog wat kom dien het. Mag ons Hom opnuut weer herken in sy vreemde gestaltes.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Dissipelskap vra toewyding en opoffering.

SKRIFLESING: Mark 8: 31 – 38 en Luk 14: 25 – 35

Die verhaal van John Griffith, operateur van die Spoorweë se valbrug oor die Mississippi rivier in die VSA, word vir die waarheid vertel.

Dit was die somervakansie van 1937 en John het dié dag sy agtjarige seun, Greg, saam met hom werk toe geneem.  Vir klein Greg was dit ‘n fassinerende ervaring om te sien hoe sy pa middae van 12h00 die meganisme aanskakel wat die valbrug waaroor ’n treinspoor geloop het, ophys sodat die skepe onder in die rivier kon deurvaar.  Die brug met die treinspoor kon in die middel oopmaak en na die kante opgelig word om die skepe onder deur te laat.  John en Greg is daarna na die observasie toring om dié skouspel dop te hou terwyl hulle middagete geniet.  So met die dophou van die skepe het die tyd verbygevlieg.

Skielik is John na sy werksituasie terug geruk toe hy ‘n trein veraf hoor fluit.  Hy het op sy horlosie gekyk – dit was 13h07.  Die Memphis-sneltrein met 400 passasiers het aangesnel gekom na die spoorwegbrug wat nog steeds opgehys was vir die skepe se deurtog.  Griffith is inderhaas weg na die beheertoring om betyds die brug te laat sak sodat die trein veilig die rivier kon oorsteek oor die treinspoor op die brug.

Net voor hy die hefboom trek om die brug weer in plek te plaas, kyk hy vir oulaas of daar geen skepe aankom nie.  Toe vang sy oog ’n beweging wat sy bloed laat stol.  Sy seun het blykbaar te  ver oorgeleun om na die skepe daar onder te kyk en oor die reling van die toring geval – reg in die massiewe ratte wat die brug laat werk.  Greg se linkerbeen is vasgevang en hy kon nie wegkom nie.  Sy pa kon hom nie betyds bereik nie.

Terwyl hy magteloos die trein sien nader snel, maak Griffeth die verskriklikste keuse van sy lewe.  Toe bedek hy sy oë met sy linkerarm en met die ander hand trek hy die beheerhefboom.  Die massiewe valbrug sal in plek sekondes voordat die Memphis-trein met sy honderde passasier die brug bereik.

Toe John Griffith sy kop optel, was sy gesig nat van sweet en trane.  Deur die vensters van die verbysnellende trein sien hy die passasiers sit – gesellig geselsend, besig om koerant te lees, na-ete koffie te drink, aan kaas en beskuitjies te peusel.  Niemand het eens in die rigting van die beheertoring gekyk nie.  Met pynverwronge stem het John Griffith geskreeu: “ Ek het my seun vir julle geoffer! En julle drink koffie!”

Sou God dit soms ook van ons ongeërgde dissipelskap sê?

DISSIPELSKAP BETEKEN NIE ’N GEMAKSONE NIE, MAAR OPOFFERING!  BEREKEN EERS DIE PRYS!

Ons dissipelskap is dikwels afgewater, omdat ons nie ons kan indink wat God vir ons opgeoffer het nie.  As dissipels van die Here weet ons nie meer wat opoffering beteken nie.

Ons verval in gemaksones.  Godsdiens word aangepas by mense se behoeftes en gemak.  Mense het verleer om volgens die eise van die Evangelie te lewe. As die Evangelie en die kerk hierdie gemaksones van die mens aanspreek, sal die Evangelie verkoop en die kerk groei, altans so glo die mens.

Die ooreiste mense van hierdie eeu soek ‘n godsdiens wat werk:

Godsdiens moet nie veeleisend wees nie …………… eeu van gemak.

Godsdiens moet vir my sekuriteit in hou ……………. dit moet vir my “’n alles in een polis” wees.

Godsdiens moet hoë rente verseker …………….. dit moet met my altyd goedgaan en natuurlik die belofte van die hemel.

Godsdiens moet lekker wees ………………………. emosioneel bevredig.

Die kerk is daar om my te dien. (gemaksugtigheid bevredig)

Vandag word kerke gebou met opgestopte stoele, liedere word gepubliseer wat die emosies van die mens bevredig en die Evangelieboodskap word afgewater sodat dit nie vir die mens aanstoot mag gee nie. Die probleem is dat mense geloof en godsdiens goedkoop maak en nie bereid is om iets daarvoor op te offer nie.

GODSDIENS MAG NOOIT ’N GEMAKSONE WEES NIE, DIT VRA ALGEHELE TOEWYDING EN OPOFFERING

Stefanus, is oor sy geloof met klippe gestenig. Petrus, het onderstebo aan ‘n kruis gesterf vir sy geloof in die Here Jesus Christus. Paulus, het vele ontberinge, vervolging en tronkstraf uitgedien, tydens sy verkondiging van die Evangelie. 

Ek wil ’n stukkie van die vroeë Europa se geskiedenis vir u vertel. Ek verwys na die jare 1522 tot 1573.

Die jare staan bekend as die Kontra – Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende die tyd het die Inkwisisie Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk.  Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kelders gedurende die middernagtelike ure.  Manne, vroue en jong meisies en seuns is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte.  Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek.  Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op brandstapels te laat sterf.

Volgens Crespin het daar in hierdie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf:  Parys 10468 en in die hele Frankryk 30 000.  Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante per nag per man uitgemoor kon word.  Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans, Tours en vele ander  het in vlamme opgegaan.

In Nederland het dit net so beroerd gegaan.  Op die helige Bartholomeus – nag is tienduisende Nederlandse Protestante doodgemaak.  Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke het met die Sein-rivier afgespoel en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed.  Die Heilige Bartholomeus – nag word beskou as die grootste misdaad in die moderne geskiedenis.  Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl hulle besig was met eredienste afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak.

Terwyl die Sein-rivier met bloedbevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf.  Die was die tyd van die groot Belydenisskrifte van die Protestantse kerke.  As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlammelig van die brandstapels.

Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy Eerste Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in dood?

En dan antwoord die Kategismus “My enigste troos in lewe en dood, is dat ek  met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.  Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.  Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie.  Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.  Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Dit is geloofsmoed.  In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue vir die Protestante kerk.  Daarom het Luther dan  ook die Psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste brug ist unser Gott.”  In hier die Psalm word verklaar dat God die enigste TROOS is, die enigste BRUG is, die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is.  As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.

God is alles of Hy is niks in jou lewe, daar is nie ’n middeweg nie, daar mag nie meer kompromieë wees nie. Daarom beteken dissipelskap opoffering, kruisdra en ’n lewe van algehele toewyding. Godsdiens is ’n duur saak, waarvan jy eers die koste moet bereken voor jy sê: “ja, Here!”  Wanneer godsdiens ’n gemaksone is, is dit goedkoop, as dit alles van my vra word dit ’n duur saak.

Om te dink of te doen alles wat die mense wil hê is egter gevaarlik. In vers 33 sê die Here aan Petrus dat hy nie moet dink aan wat die mense wil hê nie.  Wanneer ’n predikant of ’n kerk of ’n gelowige slegs dit doen en sê wat die mense wil hê, speel hy/sy in die hand van die duiwel – staan hy/sy in die pad van God.

In vers 31 het die Here Jesus aan sy dissipels aangetoon dat Hy baie sal moet ly en uiteindelik doodgemaak sal word.  Dit was egter vir Petrus eens te veel. Hy berispe die Here Jesus hieroor in vers 32.  Volgens Petrus was die Here te gewild om doodgemaak te word.  Inteendeel die storie het rondgeloop dat die Here Jesus die Messias is wat hulle van die Romeinse juk sou bevry.  Hoe kan die Here Jesus dan nou praat van ly en van doodgemaak word.

Daarom was dit vir die Here Jesus nodig gewees om Petrus te tugtig.  Petrus jy dink aan wat die mense wil hê en nie wat God wil nie.  Daarom sê die Here vir Petrus:  “Moenie in my pad staan nie, Satan.”

Die mense in die tyd van Jesus Christus het bevryding en glorie en minder Romeinse belasting gesoek.  Daarom was dit vir hulle onaanvaarbaar dat Jesus kon ly en doodgemaak word.  So het wat die mense wou hê in die pad van God gestaan.  Ja, hierdie mense het eintlik in die hand van die duiwel gespeel.

Wanneer die kerk trap in die slagyster om vir mense te doen wat hulle wil hê (GEMAKSONE) staan die kerk in die pad van die duiwel.

Ons moet as’t ware vra maar wat wil God hê? God se wil vir sy Seun was nie om ’n Politieke Bevryder te wees of om glorie aan die Joodse volk te bring nie. God se wil vir sy Seun was dat Hy moes ly en doodgemaak word, sodat hy die wêreld kon red.  Christus Jesus moes homself verloën, sy kruis, die kruis van die wêreld dra en sy Vader in die hemel navolg.

God se wil vir ons is nie om gemaklik agteroor te sit en God te vertrou om ons koninkryke te beskerm en ons emosionele lewe te “boost” nie.

God se wil vir ons is dat ons onsself moet verloën, ons kruis moet dra en die Here moet volg sodat God deur ons die wêreld kan heel. (Sien vers 34)

Bonhoeffer het in sy boek “Nachfolge” gesê: “Wanneer Christus ’n mens roep, Hy jou roep om te kom sterf. Vir die gelowige moet dit nie gaan oor glorie, gemaksug, emosionele “boost”, en ’n godsdiens van sekuriteite nie.

Dit moet gaan oor selfverloëning, oor kruis dra en navolging.

Met selfverloëning word bedoel om my eie opinies en idees oor sake en mense te verander.  Om altyd die minste te wees.  Dit beteken om nie meer die gewilde vriend van die wêreld te wees nie.  Dit beteken dat ek nou die wil van God doen, en nie meer die wil van die mense nie.  Ek vrees God meer as die mense.  Ek steur my nie meer daaraan om aanvaarbaar en gewild te wees onder die mense nie.

Om nederig en diensbaar voor God en my medemens te leef.  Om nie meer vir myself en my eie koninkrykie te leef nie.  Nou is ek nie meer die “heer” of die “dame” nie – nee, nou is ek die slaaf van Christus.

Nou gee ek myself weg vir ander, stukkie vir stukkie: my tyd, talente, besittings ens.

Met kruis dra word nie bedoel om die daaglikse angs, nood en ongerief van my eie natuurlike lewe te verduur nie,  Nee, dit beteken om die angs, nood en ongerief van ander te verduur.  Die kruis van die arme word my kruis, die kruis van die beproefde word my kruis en die kruis van die sosiaal uitgestote word my kruis.  Met ander woorde, kruis dra beteken om die kruis van my naaste op te neem en myself daarmee te vereenselwig.

Pascal het gesê: “It is so difficult to believe because it is so difficult to suffer.”

Met navolging word bedoel om te stap in die voetspore van die Here.  Ek moet daar wees waar die Here Jesus ook sou wees.  Waar sou die Here Jesus wees?

Hy sou op ’n stil plek wees om te bid.  Hy sou daar op my plaas wees tussen my werkers om die Skrifte vir hul uit te lê, Hy sou by die bejaarde en sieke wees, Hy sou daar by die beproefdes wees, Hy sou daar by die Kinderhuis wees, Hy sou daar by die gevangenis wees, Hy sou daar in die Adelaide se hospitaal wees, Hy sou daar in die plakkerskamp wees om vir mense raad te gee en hul nood te verlig.  Wie Christus navolg, is daar waar Christus sou wees.

U sien dus, wat die mense wil hê is anders as dit wat God wil hê? Mense wil hê: gemak, sekuriteite en die “boost” van my eie emosionele lewe. Die Evangelie moet my genees en niks verder nie.

God wil hê: Deur selfverloëning, kruisdra en navolging wil God my gebruik om die wêreld te help heel.  Daar is nie plek vir glorie, gemaksug of die vertroeteling van my eie emosies nie. Daarom moet ons nie bang wees vir mense of ons skaam wees vir God nie. Ons moenie die dinge sê en doen wat mense graag wil hê nie, want dan verloën ons die Here Jesus Christus. Daarom sê die Here Jesus in vers 38 dat die een wat hom skaam vir die Here, vir hom sal die Here skaam wanneer die wederkoms aanbreek. Vrees God meer as vir die mens.

Moet ons onsself verloën, ons kruisdra en Christus navolg asof dit ’n las is.  Nee, ons moet dit met blydskap doen.  Navolging, kruis dra en selfverloëning moet ons nie negatief ervaar nie, maar met blydskap.  Wanneer Paulus in die tronk sit vir die Here Jesus sê hy: “Wees bly in die Here, ek herhaal wees bly!”

Met blydskap moet ons leer om voluit vir die Here te lewe, al kos dit wat, ja, selfs my lewe!

Want Hy het mos alles vir my opgeoffer!

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om met eenvoud te lewe, bring lewensvreugde.

SKRIFLESING: Prediker 3: 9 – 15

Koos du Plessis skryf die volgende woorde:

“Eenvoud is die vreugde van die lewe.

Dit gee en neem net wat daar is.

Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.”

Die Here het die mens eenvoudig gemaak. Ons maak die mens en die wêreld ingewikkeld. Ons het vir ons ‘n moderne welvaartskultuur geskep. Die tipiese simptome daarvan is spanning, depressie, klagtes oor gejaagde programme, gevoelens van minderwaardigheid, angs en so gaan die lys aan.

Alles moet vinniger, beter, en op groter skaal gedoen word. Alles word ‘n “rat race” op ‘n muismeuletjie. Ons jaag, maar ons jaag na niks.

Almal streef na ‘n hoër lewenstandaard. Ons wil nie afsteek by ander mense nie. Daarom koop ons die nuutste modes en wil die nuutste modelle van alles hê. Iemand het een maal gesê: “ We buy things we do not want, to impress people we do not like …..”

Verder put ons elke dag die aarde se lewensbronne al meer uit. ‘n Joernalis het een dag vir Gandhi gevra of Indië na hulle onafhanklikheid sal probeer om dieselfde gemiddelde lewenstandaard as Engeland te bereik. Ghandi se antwoord was dat vir Engeland die helfte van die planeet se bronne geverg het om hulle lewenstandaard te bereik, hoeveel planete sou nodig wees om dieselfde lewenstandaard vir alle mense in Indië te verseker? Ghandi sê daarom: “ Earth provides enough to satisfy every man’s need, but not for every mans’s greed.

‘n Mens kan jou inderdaad afvra hoe die wêreld sou lyk indien daar net soveel motors per persoon in China was as in die VSA. Of net soveel rommel per persoon in Afrika as in Europa. Hulle beweer dat ‘n ontwikkelde Westerling tot tien keer groter ekonomiese impak maak op die ekologie as die mense van Afrika.

Ons werk harder, speel harder, bestee harder ………. maar aan die einde van die dag is ons armer in ons gees. Die tragiese ironie is dat armes ook alte dikwels deur hierdie materiële begeertes in besit geneem word. Foster sê: “Those who have it the least, love it the most.”

Prediker skryf vanuit ‘n bevoorregte agtergrond. Hy het die persoonlike ervaring van iemand wat alles in die lewe het en wat niks kort kom nie. Hy is iemand wat hard kon werk en selfs baie studie agter sy rug het. Hy het selfs boeke geskryf. Tog lei Prediker aan depressie. Alles voel vir hom na ‘n gejaag na wind.

Dan lees ons hoedat Prediker vreugde vind in die gewone, eenvoudige huishoudelike dinge in die lewe – om te eet, te drink, om vrug op jou arbeid te sien, om vreugde in jou lewensmaat te vind, om jou kinders te geniet, om jou liggaam te versorg ensovoorts.

Luister hoe klink Prediker 9: 12 – 13 – “ Ek het besef dat daar tussen hulle  niks beter is nie as om vreugde te ervaar en die goeie te geniet in die lewe ja, elke mens dat hy eet en drink en die goeie geniet by al sy inspanning.”

Prediker roep dis die mens op om eenvoudiger te lewe. Eenvoud is ‘n deug, nie ‘n straf nie. Om iets hiervan te verstaan moet ons, soos Prediker, weer leer hoe om die eenvoudige dingetjies te geniet, om die buitengewone in die gewone raak te sien, om die hand van God self daarin te bemerk.

Eintlik bedoel Prediker, dat die mens moet streef na minimalisme.

Minder is beter! Die duiwel hou van meer en beter. Daarom het hy ook vir Eva verlei in die paradys om groter en beter, soos God self te wees. Wanneer ‘n mens ‘n minimalis is, is jy tevrede met minder en kleiner. Dan kan jy eers werklik dankbaar wees, vir die erfporsie wat vir jou uitgesit is.

“Small is beautiful” sê Ernst Schumacher. Daarom moet ‘n mens weer opnuut leer om die “klein dingetjies” in die lewe raak te sien as God se voetspoor in die wêreld. ‘n Mens moet jou instel om vreugde te vind in die reuk van vars brood, in die glimlag van ‘n kind, in die varsheid van ‘n wandeling in die natuur en in die herfs se veelkleurigheid.

Foster gee in sy boek “Celebration of discipline” die volgende raad om ‘n eenvoudiger lewensstyl aan te kweek:

  • Koop dinge omdat hulle nuttig is nie oor hul status nie. Motors behoort byvoorbeeld vir hulle bruikbaarheid gekoop te word en nie vir hulle prestige waarde nie.
  • Moenie aan goed verslaaf raak nie.
  • Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee.
  • Leer om dinge te geniet, sonder om hulle te besit, byvoorbeeld geniet die veld, die natuur, die strand en openbare plekke. (Ons hoef nie alles te besit om dit te geniet nie.)
  •  Leer om met minder klaar te kom, byvoorbeeld minder skoene en minder klere.
  • Pas jou goed op om so lank as moontlik te hou. Gebruik dinge op.
  • Waardeer jou ou goed, moenie altyd nuwe dinge en nuwe modes najaag nie.
  • Maak die lewe so ongekompliseerd soos moontlik. Moenie die lewe ingewikkeld maak nie.
  • Leef dankbaar. Wees dankbaar vir elke stukkie “skewe broodkorsie” op jou tafel.

Geniet die lewe, waardeer die skepping, waardeer die seisoene, geniet mense, geniet jou lewensmaat en jou kinders. Geniet die lewe, sonder om alles te wil besit.

Wie so lewe sal dit eers regkry om die Koninkryk van God voor sy eie koninkryk te stel. Dan sal ek myself minder bekommerd oor dinge. Dan sal ek vry wees om die Here te dien.

Wanneer ek in die “Onse Vader bid: “Lord let your Kingdom come!”, moet ek terselfdertyd bid: “Lord let my kingdom go.”

Eenvoud is loutere vreugde.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die oplossing vir negatiwiteit!

SKRIFLESING: Num 13: 26 – 33

In Numeri 13: 26 – 33 word gepraat van die Israeliete wat ‘n koringkriekkompleks het.

‘n Mens kry mos baie soorte komplekse soos byvoorbeeld, ‘n minderwaardigheidskompleks, ‘n meerderwaardigheidskompleks, engtevrees, hoogtevrees ensovoorts.

Die volk Israel het hier in Numeri 13 aan die koringkriekkompleks gelei. ‘n Koringkriekkompleks is ‘n geneigdheid om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Twaalf spioene is gestuur om die land Kanaän te gaan bespied. Twee van hulle naamlik Josua en Kaleb was oppertuniste wat alles in ‘n positiewe lig gesien het. Hulle het ‘n minderheidsverslag ingebring wat aanbeveel het dat die land Kanaän wel ingeval kan word, omdat hulle weet dat die Here hulle sal help. Maar die ander tien verspieders het ‘n meerderheidsverslag opgestel; wat erg negatief was. Hulle was so negatief gewees, dat hul hulself vergelyk het met koringkrieke. Daar staan in Numeri 13: 33 die volgende: ”Daar het ons reuse gesien. Die Enakiete stam uit die reuse. “Ons was in ons eie oë soos koringkrieke; ons was soos muggies in hulle oë.”

Die vyand het vir hulle soos reuse gelyk. Daarom het hulle aanbeveel dat die land Kanaän nie ingeval moet word nie. Negatiwiteit is mos aansteeklik en gou-gou was die hele volk Israel negatief. Hulle was so negatief dat hulle vir Josua en Kaleb met klippe wou doodgooi. Hulle wou eerder die slegte nuus as die goeie nuus hoor. Tipies mens, ‘n koerant wat die swartste prentjie skilder verkoop baie beter as ‘n koerant met ‘n positiewe inslag.

Ook ons as Suid Afrikaanse Christene is besmet met hierdie koringkriekvirus en muggievirus. Ons kla, mor en steun elke dag oor alles en nog wat. Ons sien baie dae die toekoms van hierdie land in die slegste moontlike lig. Ons is negatief oor die ekonomie, oor die regering se hantering van Covid, die ANC se planne vir grondhervorming, oor die onderwys , oor ons skool opvoedingstelsel en die verval in munisipaliteite en so gaan die lysie aan.

Hierdie koringkriekvirus maak jou lam, dit maak jou negatief, dit maak jou angstig, dit maak jou depressief. Jy verleer om te leef en gelukkig te leef.

Wat is die oorsaak van hierdie koringkriekkompleks? Die teks gee vir ons presies vier oorsake vir hierdie koringkriekkompleks, naamlik om alles in ‘n negatiewe lig te sien.

Die eerste oorsaak is om net die negatiewe van die verlede raak te sien. Hulle het moontlik net die bitter water by Mara onthou en vergeet van die soet water by die oase. Hulle onthou van die oorlog met die Amelekiete en hoedat drieduisend Israeliete doodgemaak is oor die goue kalf. Hulle vergeet van die water uit die rots, manna en kwartels uit die hemel. Ons vergeet ook dikwels van hoe die Here ons deur droogtes en siektes en deur die dood bygestaan en versterk het. Ons vergeet die talle kere in die verlede hoe die Here ons probleme in die mis laat verdwyn het.

Die tweede oorsaak van hulle negatiwiteit is dat hulle negatief is oor hulle toekoms. Hulle het vergeet dat die Here aan hulle die belofte van ‘n beloofte land gegee het. Hulle het vergeet dat die Here vir hulle ‘n visie en ‘n plan het. Vir hulle het die lewe maar net om oorlewing gegaan. Ons as Christene vergeet ook dat ons in hierdie donker Afrika-kontinent nog steeds ‘n taak en ‘n plek het. Ons moet die Evangelie versprei, ons moet vir Afrika kos gee, ons moet Suid Afrika help opbou. Die Here het ook vir die Suid Afrikaner met sy Westerse agtergrond ‘n baie duidelike doel in hierdie kontinent. Ons is onmisbaar. Ons is net te verlam deur die koringkriekvirus om hierdie heerlike doel wat God met ons lewens het raak te sien.

Die derde oorsaak van hulle negatiwiteit was dat hulle negatief oor hulself gedink het. Die tien verspieders vergelyk hulself met koringkrieke. Hulle is die koringkrieke en die vyand was die reuse. Hoe maklik kan ‘n reus nie ‘n koringkriek doodtrap nie. Hierdie verspieders het vergeet dat hulle verbondskinders is, dat hulle in die oë van God spesiaal is. Hulle het vergeet dat hulle besny is, dat hulle deur God afgesonder is. So maklik vergeet ons ook dat ons vir God spesiaal is, omdat ons God se gedoopte kinders is. Ons vergeet dat die Here vir ons aangeneem het as sy eie kinders. Ons vergeet van 2 Kor 12: 10, wat sê as ek swak is, is ek sterk. Ons vergeet dat die Here vir die jongeling Dawid gebruik het teen die reus Goliat, ons vergeet dat die Here vir die hakkelende Moses gebruik het, ons vergeet dat die Here vir Paulus met sy doring in die vlees gebruik het.

Die vierde oorsaak van die negatiwiteit is dat hulle ‘n skewe beeld van God gehad het. Hulle het eenvoudig gedink dat God te klein is om hulle te help. Die reuse van Kanaän het selfs hulle God verdwerg. Hulle het vergeet van die God wat die tien plae gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat die Rooi See in twee verdeel het. Hulle het vergeet van die God wat ‘n vuurkolom en ‘n wolkkolom gestuur het. Hulle het vergeet van die God wat daagliks manna en kwartels gestuur het.

Hoe maklik vergeet ons nie ook wie GOD werklik is nie. Ons vergeet dat God almagtig, alwys, ewig, onveranderlik, goedertieren, barmhartig, mildelik, vriendelik, genadig, regverdig, alomteenwoordig ensovoorts is. Dikwels blaas ons ons probleme so op dat ons God verdwerg. Dit is doodeenvoudig …. ongeloof.

Ja, uit ‘n menslike oogpunt was die vyand soos reuse en die Israeliete soos koringkrieke. Die Kanaäniete het immers ysterwapens gehad, hulle het strydwaens gehad en in versterkte stede gebly en hulle was lank en fris gewees. Die Israeliete daarenteen het slegs houtwapens gehad, het geen strydwaens gehad nie en het in tente gebly. Verder is ‘n Jood nou nie juis fris en sterk gebou nie. Daarom het die meerderheidsverslag 10 teenoor 2 gewen. Die volk het ook hulle volmondige steun aan die meerderheidsverslag gegee.

Ja, die hele volk was besmet met die koringkriekvirus. Hulle het verkeerd terug gekyk na die verlede. Hulle het verkeerd gekyk na die toekoms, hulle het verkeerd gekyk na hulself gekyk en hulle het verkeerd na God gekyk.

Die volk Israel en ook ons vergeet egter so maklik van God.

Dit bring ons by die kuur van die virus. Die kuur is eenvoudig. Jy moet die oorsake uit die weg ruim.

Kyk terug na die verlede en dink aan die baie kere wat God jou gehelp het.

Kyk vorentoe en ontdek opnuut die plan wat God met jou lewe het.

Kyk na jouself as ‘n verbondsmens vir wie God baie lief het. Weet dat God jou wil gebruik met al jou foute en skete.

Die belangrikste is egter om te kyk na God. Kyk na die krag van die kruis en die opstandingsevangelie. Dan sal jy weet dat ons in die oë van God wel koringkrieke is, maar op God se skouer is ons reuse.  AMEN

(Die vierdeling van die preek het ek raakgelees by ‘n prediker, wie se naam ek vergeet het. Sommige aanhalings is ook die onbekende prediker se werk. Die begrip “koringkriekvirus” het ek ook by hom gekry.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moet ek ’n passasierskip of ’n handelskip wees?

SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9 en Mat 28: 16 – 20

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n passasierskip en ‘n handelskip. Hulle verskil hemelsbreed van mekaar want hulle take verskil. Die passasierskip is gemaak om passasiers te vervoer en die handelskip is gemaak om mee handel te dryf.

Omdat die passasierskip getaak is om passasiers te vervoer, is die skip dan ook gerieflik ingerig. Gewoonlik baie weelderig, met al die gemak wat passasiers oor ‘n lang seevaart verlang. ’n Handelskip is weer ongemaklik met min gerief, want die skip is nie gebou om te ontspan nie, maar om houers en vragte te vervoer.

Op ‘n passasierskip werk net die bemanning. Die honderde passasiers ontspan op die skip en word bedien. Op die handelskip is almal op die skip getaak met ‘n opdrag. Niemand word bedien nie.

Waarmee sal u die kerk vergelyk? Met ‘n passasierskip of ‘n handelskip?

Vir baie lidmate moet die kerk soos ‘n passasierskip wees. Die kerk moet gerieflik wees en deeglik na hul behoeftes omsien. Die dominee en die kerkraadslede moet soos die kelners op die passasierskip wees, wat rondhardloop om almal tevrede en versorg te hou. Dan is die kerk op haarself gerig. Dan leef die kerk bloot vir eiebelang en is na binne gerig.

Veel eerder moet die kerk soos ‘n handelskip wees. Die kerk is die Here se handelskip waarmee Hy die wêreld wil bereik. Die kerk as handelskip moet liefde, vriendelikheid, gasvryheid, liefdadigheid en al die gawes van die Gees vervoer en dit lewer aan die wêreld.  Daarom het die Here Jesus dan ook met sy hemelvaart vir die kerk sy visie, sy missie uitgespel, naamlik om dissipels te maak.

Daarom het die Here Jesus dan ook die gelykenis van die vyeboom vertel. Die Here Jesus kom by die vyeboom en vind ‘n pragtige blaredos, maar vind geen vrugte daaraan nie. Dit waarvoor die vyeboom aangeplant is, naamlik om vye te dra, daarin misluk die vyeboom. Die vyeboom is soos ‘n luukse passasierskip, met ‘n pragtige blaredos, waaronder die lidmate in die koelte sit. Maar die vrugte, die vye ontbreek. Daarom is die Here erg ontstel. Die vyeboom voldoen nie aan die doel waarom dit aangeplant is nie.

Die vyeboom  is bemes en nat gegooi en versorg, maar nog dra dit geen vrugte nie. So het die Here Jesus ook sy kerk geplant, bemes en natgegooi en versorg. Die Here het vir sy kerk die Woord, gegee en ampsdraers en gawes, maar nog steeds dra die Here se kerk nie vrug nie. In plaas van dissipels te maak, sit ons in die koelte van die vyeboom, sit ons op ‘n gemakstoel op die passasierskip.

Kyk die Here Jesus nie dalk ook vanoggend na sy vyeboom, sy kerk op Adelaide en wonder Hy of Hy nie maar die gemeente moet uitkap nie. Vir meer as 131 jaar het Hy al die vyeboom, die gemeente versorg en bemes en natgegooi, maar tog ontbreek die visie nog om dissipels te maak vir die Here. Ons is ingestel om almal binne die kerk gelukkig te hou, tevrede te hou, in die koelte te hou, dat ons vergeet het van ons oorspronklike visie, naamlik om dissipels vir die Here te maak.

Onderhou ons nie dalk vanoggend ‘n passasierskip in plaas van ‘n handelskip nie.

U sien in Mat 28: 19 gee die Here Jesus die volgende opdrag, naamlik: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” In die Grieks staan daar letterlik: “Maak dissipels al lopende en lerende.”

Die kerk is die enigste organisasie wat nie bestaan vir sy lede nie, maar vir sy nie-lede. Die kerk bestaan ter wille van die wêreld en die ongelowiges wat nog tot redding moet kom.

God se teiken is dus nie die kerk nie. Sy teiken is die wêreld: “ Gaan na die nasies toe.” Die kerk is die handelskip wat liefde verhandel aan die wêreld. Die kerk is die handelskip wat die liefde bring na die mense en die nasies. Die kerk is die draer van die liefde van Jesus Christus.

God werk in die wêreld. Wanneer die kerk in die wêreld werk, dan werk God in die kerk.

Johannes 3:16 sê nie: : “God het die kerk so lief gehad nie”, maar “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gestuur het.” Natuurlik beteken dit dat God vir jou en my ook lief het, maar dit beteken ook dat hy die ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook lief het, en dit is ons taak om van hulle dissipels te maak.

Ons moet nie vra: “ Hoe gaan dit met julle kerk nie.” Ons moet eerder vra: “Hoe gaan dit met die wêreld daar waar julle kerk is? Want God mik op die wêreld.

Is ons huwelike, ons gesinne, ons lewens, ons prioriteite, ons woorde, ons dade, ons geaardhede, ons persoonlikheid ‘n lewende getuie van Jesus Christus? Hierdie bose wêreld waarin ons lewe sal nie beter word deur dit net te kritiseer nie. Nee, ons moet dit eerder evangeliseer.

Dit help nie ek kla oor die arbeiders in my diens nie, ek moet hulle by die Woord uitbring. Het hulle ‘n Bybel? Herinner ek hulle aan eredienste in hulle taal. Gesels ek met hulle oor die Bybel? Hou ek in die oggende vir hulle godsdiens? Deur ons barmhartige dade maak ons ook dissipels vir die Here Jesus. Iemand se dade tel meer as sy woorde.

Leef ek elke dag korrek voor God, voor my huweliksmaat, voor my arbeiders en voor my medemens?

U sien ek moet self eers ‘n dissipel wees voor ek van ander dissipels kan maak.

Eintlik is dit nie so moeilik om dissipels van mense te maak nie. Ek moet net die saad saai, die regte voorbeeld stel, korrek lewe en bemoeienis maak met ander mense. God verander mense. God gebruik my lewe en getuienis om dissipels van mense te maak. Wat waar is, is dat ongelowige mense meer ons lewens lees as wat hulle die Bybel lees!

Is u en ek nog effektief? Maak ons nog dissipels?

Dra ons nog vye of gee ons net koelte vir die lidmate om onder te sit? ‘n Vyeboom word nie aangeplant vir sy koelte nie, maar vir sy vye. Die kerk is geplant nie om koelte te gee vir lidmate nie, maar om vye te dra, dissipels te maak.

Die kerk is nie ‘n passasierskip wat ons moet vervoer deur hierdie lewe na die hiernamaals nie. Nee, die kerk is die handelskip wat al God se Geestesgawes uitdeel aan die wêreld. Dit is om iets van die hemel nou alreeds waar te maak in hierdie wêreld.

Kom ons gemeente wees nie maar net vyebome wat koelte vir lidmate gee nie, maar eerder ‘n vyeboom wat vrugte dra, wat die opdragte van die Here uitvoer, en wat dissipels vir die Here maak. 

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)