Kan ‘n jakkals van snaar verander


Skriflesing: Luk 9: 51 – 55 en Hand 8: 4 – 8, 14 – 17

Kan ’n mens regtig verander? Ons het mos ’n spreekwoord wat as volg lui: “ ’n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie.”

Kan ’n mens regtig verander met betrekking tot:

  • afleer van ou gewoontes wat sondig is
  • selfsug, na offervaardigheid
  • hoogmoed, na nederigheid
  • vyandskap, na liefde?

Ons gaan egter stilstaan by die laaste: Kan vyandskap en vooroordeel tussen mense regtig verander in liefde en vrede?

Telkemale lees ons in die Bybel van die vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. In die tyd van Jesus was die vyandskap alreeds ’n vete van meer as 1000 jaar en dit het al hoe erger geword. Kom ek verduidelik aan u ’n bietjie van die vete:

  • Die Samaritane het die Jode verag omdat hulle die tempel nie op die regte plek volgens die voorskrifte van Moses gebou het nie en die Jode het die Samaritane afgeskryf, omdat hulle nie in Jerusalem aanbid nie. (Dink aan die Samaritaanse vrou se vraag in Johannes 4.)
  • Die Jode het die Samaritane as onrein, as minderwaardig beskou. Daarom het Jood en Samaritaan nie ’n beker gedeel nie. (Vergelyk die Samaritaanse vrou se verbasing in Johannes 4.)
  • Die Jode en Samaritane het nie by openbare plekke gemeng nie. (Verbasing van Jesus se dissipels in Joh. 4, toe hulle Jesus by die put sien, saam met die Samaritaanse vrou.)
  • Die Jode het die Samaritane ook verag omdat hulle volgens Joodse standaarde nie rassuiwer gebly het nie, maar met ander nasies ondertrou het. Wat die Jode betref was die Samaritane min of meer melaats.

Dit was dus ook die gebruik dat die Jode ’n ompad om die land van Samaria geloop het as hulle op pad was om in Jerusalem te gaan aanbid.

Tog, volgens Luk. 9, gaan Jesus op sy tog na die Paasfees in Jerusalem nie met ’n ompad langs verby Samaria nie. Hy steek sommer kortpad deur Samaria. Maar toe Hy in ’n Samaritaanse herberg vir Hom en sy dissipels verblyf vir die nag wou laat reël, het die Samaritane geweier dat Hy in hulle dorp oornag. Jesus was immers ’n Jood op pad na die verkeerde tempel.

Onmiddellik was Jesus se dissipels woedend. “Here,” vra Jakobus en Johannes “wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Die twee Seuns van die Donder, twee van die verregses in Jesus se groepie, was gereed vir aksie. Rassekonflik was nou baie naby.

Die probleem was dat die dissipels se Joodse afkoms vir hulle swaarder geweeg het as hulle Christenskap.

  • Jesus moes ’n politieke Bevryder word.
  • Jesus moes ’n republiek stig.
  • Daarom baklei hulle so oor wie die belangrikste is – wie die kabinetsposte gaan kry.
  • Hulle Christenskap was vol politieke agendas.

Daarom kan ’n mens verstaan waarom die twee Seuns van die Donder dan vuur en oordeel oor hulle vyande wou afbid. ’n Mens kan inderdaad vra: “Kan die dissipels verander? Wat moet gebeur dat die haat, vooroordeel en vyandskap in hulle harte moet verdwyn? Kan mense regtig verander?”

Nee, mense kan nie verander nie, hul kan hoogstens verbeter. Maar Christene kan radikaal verander, omdat Christus hul verander.

Die Seuns van die Donder wou vuur afbid op hul teenstaanders, maar op Pinksterdag bid God vuur op hulle. Op Pinksterdag het die Heilige Gees soos tonge op hulle neergedaal en hulle harte verteer. So kry hulle die onmoontlike reg, naamlik om hul eertydse vyande lief te kry.

In Handelinge breek die vervolging van Christene uit sodat hulle moet vlug. So beland Filippus in ’n Samaritaanse dorp. Daar vertel hy vir die mense van Jesus van Nasaret. En daar gebeur die wonderlikste dinge: Lammes en kreupeles word gesond en versteurde mense word normaal. Hier gebeur nou presies die teenoorgestelde van dit wat die vuurvreters in Luk. 9 wou doen. Die letterlike vuur wat hulle uit die hemel wou afroep, word vervang met geestelike vuur uit die hemel. Pleks dat die Samaritane verteer word, word hulle gesond!

So verkrummel ’n 1000 jaar se vyandskap. ’n Duisend jaar se mites en vooroordeel oor mekaar verbrokkel. Vyandskap word vervang met broederskap.

Wat het gebeur? Die krag van die Heilige Gees het oor hulle gekom! Wanneer die Heilige Gees met ’n mens werk, vind daar bevrugting plaas, word ’n nuwe lewe verwek en ’n nuwe mens gebore: ’n Mens wat na God lyk en soos God optree. Iemand soos Jesus.

Dit is waarom die Jesusgroepie in Handelinge 8 so anders optree as in Lukas 9. Toe die Heilige Gees oor hulle gekom het, het die haters verander in sendelinge en die geweldbidders in mense wat seën.

Toe verander die haat van ’n 1000 jaar binne ’n oogwink in vrede en blydskap. Is ons Christene? Verstaan ons wat dit beteken om in hierdie land deur die Heilige Gees oorskadu te word?

Begryp ons dat ’n mens ’n naloper van Jesus kan wees, sonder om ’n navolger van Jesus te wees? Johannes, Jakobus en Petrus het honderde kilometers al agter Jesus aangeloop, sonder dat hulle regtig sy volgelinge geword het. Hulle het met hulle eie agendas agter Jesus aangeloop.

Die Rooms Katolieke kerk het sedert die dertiende eeu die Transsubstansiasie-leer geformuleer en bely, waarin hulle glo dat die brood letterlik verander in die “liggaam van Christus” en die wyn letterlik verander in die “bloed van Christus”. Sou daar na die Rooms Katolieke Nagmaal (ook genoem – die Mis) brood en wyn oorbly, word dit fisies begrawe in die kerk se tuin. Met ander woorde in die Rooms Katolieke Nagmaal gaan dit oor  brood en wyn wat verander in Christus se liggaam en bloed.

In die Protestantisme glo ons egter dat die brood en wyn net TEKENS is van Jesus se liggaam en bloed. Dit is nie die tekens wat verander met die gebruik daarvan nie. Dit is ons as gelowiges wat die Nagmaal gebruik, wat verander moet word om al meer soos Christus te lyk. Die brood en wyn wil ons transformeer om al meer soos die beeld van Christus te lyk. Dit is nie die tekens wat verander nie, maar óns wat moet verander. Daarom moet ’n mens voor elke Nagmaalsgeleentheid nadink oor jou eie sonde.

Glo u regtig in Pinkster? Glo u regtig in die Heilige Gees? Het die Heilige Gees al regtig oor u lewe gekom en u lewe verander?

Bid ons vuur op mekaar, of het God se vuur (Heilige Gees) ons al so verander dat ons ons vyande liefhet en seën? Dit is nie maklik nie, maar wie het gesê om ’n Christen te wees, is maklik? Is jy ’n naloper of ’n navolger? Bid jy vuur of seën op jou teenstaanders?

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

ERKENNING: Verskeie teologiese bronne, naslaanwerke, asook KI (Kunsmatige Intelligensie) is gebruik. Waar KI woordeliks aangehaal word, word dit ALTYD volgens etiese standaarde in aanhalingstekens gekwoteer. Sommige van die foto’s is deur KI geskep.

Lewer kommentaar