God se raad vir afdae in jou gemoed. (1 Kon 19: 1 – 18)

GOD SE RAAD VIR AFDAE IN JOU GEMOED

Ons kry elkeen ons afdae in die lewe.

downloadDit is nou daardie dae wat ‘n mens se mondhoeke twintig oor agt staan. Jy wil uitgelos wees. Alles sien jy pessimisties en donker. Ons staan aan die vooraand van 2018. Ons het genoeg rede om pessimisties te wees. Dalk is daar in u gemoed vandag ‘n stuk bangheid en onsekerheid wat 2018 gaan oplewer. Die politiek is ongunstig, die ekonomie is swak, jou persoonlike lewe is vol onsekerhede en dan het jy nog jou daaglikse bekommernisse. Ons wens mekaar “Voorspoedige Nuwe Jaar” toe, maar ons weet in ons binneste dat elke nuwe jaar stel nuwe eise aan jou.

In 1 Kon 19 lees ons van ‘n pessimis. Ja, Elia daar onder die besembos met sy mondhoeke wat duidelik twintig oor agt staan. Elia was in stryd teen die Baälgodsdiens. In die Baälgodsdiens het dit net om vrugbaarheid gedraai. Vir hulle was vrugbaarheid van die veekuddes en die gesaaides en die wingerde van die grootste belang. Hulle was ook bekend vir prostitusie en onsedelikheid en het en die Baälpriesters het selfs prostitusie in hulle tempel bedryf.

e6263134c897b29aac183b97837f3f5e--bible-stories-holy-spiritElia het openlik die Baälpriesters in die openbaar aangevat en hulle selfs op die berg Karmel uitgedaag. Hulle het die altare vol brandoffers en hout gepak. Die Baälprofete het gedans dat die stof staan, maar hulle kon nie ‘n rokie laat opgaan nie. Elia het egter geweet dat Jahweh ‘n lewende God is, daarom het hy die toetsterrein moeiliker gemaak en selfs water op die hout gegooi. Elia het gebid en God het getoon dat Hy die enigste lewende God is en die brandoffers en hout het sopnat aan die brand geraak, Elia het vir hulle bewys dat Jahweh die enigste ware God is. Elia het toe opdrag gegee dat al die Baälprofete doodgemaak moet word om die prostitusie te stop. Koningin Isebel was woedend. Sy het vir hom ‘n dreigbrief geskryf: “Môre is dit jou beurt.” Wie sal nie geintimideer wees nie?

Elia het die woestyn ingevlug en onder ‘n besembos weggekruip. Sy mondhoeke het op twintig oor agt gestaan. Hy voel God en die wêreld het hom verlaat. Arme hy, staan alleen teenoor hierdie listige Isebel. Hy het het sy lewe gewaag daar op die berg Karmel vir die Here en nou lyk dit of God hom in die steek gelaat het. Hoe meer hy homself bejammer, hoe meer krul sy mondhoeke na onder. Die lewe het vir hom sinloos geraak. Sy enigste gebedsversoek was dat hy gewens het dat die dood gou mag kom, voor die listige koningin Isebel hom in die hande kry. Met ‘n swaarmoedige hart het hy aan die slaap geraak.

Maar God het vir Elia nie alleen gelaat op daardie “af-dag” van hom daar onder die besembos nie. Ook as ek pessimisties en swartgalleg en af voel, is God daar om my te help om weer op vaste grond te staan.

download (1)God het drie dinge gedoen om vir Elia op te beur. Ons kan dit op onsself ook van toepassing maak. Heel eerste lees ons in verse 6 en 7 dat die Here vir Elia fisies versorg het. ‘n Mens se siel, liggaam en verstand is ‘n eenheid. As die een siek is, tas dit ook die ander aan. Die eerste ding wat die Here gedoen het, was om Sy engel te stuur om vir Elia roosterkoeke te bak en vir hom ‘n kruik met water neer te sit. Eers moes Elia homself fisies versorg. Wanneer ‘n mens af voel, is jy geneig om slegs te eet en jouself nie liggaamlik te versorg nie. Wanner ‘n mens jouself dwing om reg te eet, te stort, jou hare te kam en jou liggaamlik te versorg, is dit die eerste tree van oorwinning. Die Here het dus vir Elia heel eerste fisies versorg.

Toe het die Here in die tweede plek met Elia se denke begin werk. Somtyds dink ons so verkeerd, want ons perspektief op dinge is verdraai. Ons dink ons is stoksiel alleen en niemand verstaan ons nie. Elia was soos die ou wat blomme geruik het en gevra het, waar is die begrafnis. Luister wat sê hy in vers 10: “Here, ek het alleen oorgebly en hulle soek om my ook dood te maak.” Toe sê die Here vir hom in vers 18: “Nee Elia, jy het nie alleen oorgebly nie. Daar is nog seweduisend saam met jou wat nie hul knie voor Baäl gebuig het nie.” Hierdie seweduisend is simbolies van die getal vier, die vier windrigtings plus drie, simbolies van God en duisend, simbolies van die volheid. Elia is beslis nie alleen nie. God moes net ‘n bietjie Elia se denke verander.

Dalk het u al die storie gehoor. Daar word vertel van die eiendomsagent wat by die oom gekom het wat sy plaas wou verkoop. Die oom was moeg om ver van winkels en die beskawing te wees. Hy was moeg om teen die elemente te baklei. Hy wou toe net verkoop. Die eiendomsagent skryf toe ‘n advertensie en vra die oom of dit reg klink: “ Goedgeleë bosveldplasie, lopende water, vrugbare grond en ver van die stad se gejaag.” Toe sê die oom: “Is dit my plaas? Dis wat ek nog altyd wou gehad het! Toemaar, ek wil nie meer verkoop nie!”

Hoe lui daardie kinderliedjie nou weer: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een …..” Sommer gou sal jou mondhoeke tien oor tien staan. Die Here het dus Elia se denke verander, deur hom daarop te wys dat hy nie alleen is nie, maar dat hy nog seweduisend ander volgelinge, bates en seëninge het.

Die derde ding wat die Here vir Elia gedoen het, was om vir hom werk te gee. Elia moes homself uit sy neerslagtigheid en swartgalligheid werk. Hy moes twee nuwe konings Gasael en Jehu gaan salf. Hy moes ook vir Elisa as sy opvolger salf. Die probleem van ‘n pessimis is dat die ou op die kantlyn staan en kritiseer, die optimus is die doener. Toe Elia begin doen, toe wyk sy neerslagtigheid.

Gaan werk, gaan doen, gaan verander jou wêreld. Spreek die dinge aan wat jou neerslagtig maak. Raak betrokke in jou gemeenskap. Maak ‘n verskil in ander mense se lewens. In my persoonlike lewe het ek al dikwels ervaar dat ek die oggend neerslagtig opstaan. Ek dwing myself dan om ‘n paar mense te besoek en vir hulle iets te beteken. Teen die aand voel ek goed oor myself. Ek het ‘n verskil gemaak. (Ek praat nie hier van depressie nie. Depressie is ‘n siekte en moet deur dokters en medisyne behandel word.)

Light.of.the.worldDoen iets, eerder as om niks te doen nie. ‘n Ou Chinese spreukwoord lui: “ Dit is beter om een kersie aan te steek as om teen die donker te vloek.” ‘n Anonieme spreuk lui: “ In die heelal is daar nie genoeg donkerte, om een klein vlammetjie uit te doof nie.” Moenie pessimisties op ‘n hopie gaan sit oor die droogte, oor jou finansiële posisie of oor die misdaad nie. Gaan doen iets daaraan. Dit is beter as om niks te doen nie.

Onthou die Here se voorskrif vir Elia was:

  1. Versorg jou fisies.

  2. Tel jou seëninge en verander jou denke.

  3. Spring aan die werk.

Mag die raad van God aan Elia, ook vir u deur 2018 dra.

(Die hooflyne van die preek kom uit my aantekeninge van ‘n preek wat ek gelees het. Die outeur het ek vergeet. Die preek het ek verwerk en aangepas)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Verwondering oor die Lig en die menswording. (Johannes 1:1 – 18)

VERWONDERING OOR DIE LIG EN DIE MENSWORDING

603009_420119601422209_860378653_n (1)In die foto is die drie Botha seuntjies van Theuns en Eleanor Botha, wat hul verwonder oor ‘n kersvlam.  Met seuntjiesoë en kinderlike  opregtheid is hulle in ‘n ander wêreld van “magic”. Kersfees is ook ‘n tyd van verwondering en “magic”. ‘n Tyd om jou te verwonder aan die Lig van die wêreld.

Die eerste opdrag wat God gegee het is “Laat daar lig wees …” En daar was lig. So begin die Ou Testament. Die  Johannes Evangelie in die Nuwe Testament begin ook met die woorde: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Insiggewend dat altwee die Testamante begin met die verwysing van lig. Die lig van die Ou Testament het skeiding gebring tussen dag en nag. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen hoop en wanhoop, tussen skuld en bevryding. Die Lig van die Nuwe Testament bring skeiding tussen regverdig en goddeloos. Die Lig is vir alle mense, om aan te neem. Hoe nader jy aan die lig lewe kom, hoe beter kan jy vir God en jou naaste sien. Hoe verder jy van die Lig lewe, hoe meer onsigbaar word God vir jou en later kan jy ook nie eers meer die gesig van jou naaste raaksien nie. Ons praat van ‘n Godsverduistering wat plaasvind, soortgelyk as ‘n sonsverduistering.

Hoe verder ‘n mens aan die lig van die kers sit, hoe minder kan jy vir God en ander mense raaksien. Hoe nader jy aan Jesus Christus, die Lig van die wêreld leef, hoe meer sien jy God se werke in jou lewe raak. Jy sien dan ook skielik die gesig van jou naaste baie duidelik. Daarom is die oproep in 1 Johannes om naby aan die Lig te leef. Ja, om die Lig aan te neem ! Om as’t ware die Lig te omhels.

In die begin van die Ou Testament lees ons van God wat die mens gemaak het na die beeld van God. Met ander woorde, die MENS LYK SOOS GOD. In Johannes 1 word gesê dat God  vlees geword het – Hy het soos die mens geword, behalwe in die sonde. Met ander woorde, die proses is nou omgekeer: dat GOD NOU LYK SOOS DIE MENS, behalwe in die sonde. Is dit nie Goddelike “magic” nie !

God het in Jesus Christus, soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike “magic” !

‘n Baie mooi verhaal om dit te illustreer is die volgende: Daar was eenmaal ‘n ateïs, wat nie in God geglo het nie. Sy vrou was ‘n gelowige. Hulle het in ‘n klein dorpie gebly in die Switse Alpe.

blue_jay_bird_in_the_snow-normalDit was ou Kersaand en dit het hewig gesneeu. Sy vrou het kerk toe gegaan, want dit was die gebruik om kersliedere te sing, die aand voor Kersfees. Hyself het egter verkies om by die huis te bly en sy aand voor die TV deur te bring. Skielik hoor hy ‘n “plons” teen die ruit, en vir ‘n tweede en derde keer. Toe kom hy agter dit is ‘n trekvoëltjie wat verdwaal het en êrens ‘n warm plekkie soek om te oornag. Hy gaan toe dadelik uit om die ou houtskuur se deur oop te maak. Met ‘n gewaai van arms en die namaak van voëlgeluide probeer hy om die voëltjie in te lok in die skuur.

old-stone-barn-in-winter-terence-john-clearyNie eers voëlkos kan die voëltjie oorreed om die warm skuur in te gaan nie. Na ‘n hele 10 minute se gesukkel, kom die wens by hom op om net vir 1 minuut soos die voëltjie te word, sodat hy die voëltjie die warm skuur kan binnelei. Op daardie oomblik lui die kerkklok. Net daar val hy op die sneeu neer en bid vir die eerste keer in sy lewe. Want toe hy die kerkklok hoor lui, besef hy vir die eerste keer waarom Christus na die wêreld gekom het en hoekom Hy kom mens word het. Hy het kom “mens word” met Kersfees om ons in die warm skuur van God se genade en liefde in te lei. Hy het kom word soos ons, behalwe in die sonde. Dit is die “magic” van Kersfees.

God het in Jesus Christus, soos die mens geword, die beeld van die mens aangeneem, sodat Hy met ons kan kommunikeer en ons kan help met ons daaglikse wanhoop, seer en hooploosheid. Hy het kom word die Lig van die wêreld. Goddelike “magic” ! 

Juis daarom moet ons die Kersfees die Lig laat skyn en dit nie onder ‘n maatemmer verberg nie. Tereg sê Johannes 1: 4 dat Jesus die Lig is en dat selfs nie eers die duisternis dit kon uitdoof nie. As’t ware skryf Johannes ‘n bibliografie aangaande Jesus Christus en begin Hy as’t ware sy Evangelie met die stelling ”en die duisternis kon dit nie uitdoof nie”, wat hy dan later in sy Evangelie bewys. Met Jesus se kruisiging het dit donker geword. Vir ‘n tydperk het dit gelyk of die duisternis, die duiwel gaan wen.

Oor ‘n tydperk van 3 dae was Jesus in die dood, asof in die hel, van God en mens verlaat. Maar op Paassondag met die breek van die eerste lig het Hy opgestaan uit die dood en lèèf Hy as die eerste Môrelig. Hy kom nooi ons as’t ware om in die LIG te leef. In vers 12 praat Johannes van almal wat Hom aangeneem het, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees. As’t ware om kinders van die Lig te wees. Uit een kers kan jy miljoende kerse aansteek. Uit die opstanding van die een Lig, is die lig in miljoende gelowiges wêreldwyd aangesteek.

Light.of.the.worldJesus se lig is so helder, dat daar geen donkerte groot genoeg is om Sy lig uit te doof nie. Maak nie saak hoe donker jy ‘n vertrek maak nie, daar sal nooit genoeg donkerte wees om die lig dood te maak nie. Die lig wen altyd die donkerte. Juis daarom moet ons lig en hoop bring in die wêreld wat ons leef. Jou kleinste daad van liefde en lig kan nooit ongedaan gemaak word nie.

Dit sneeubal voort in ander mense se lewe. So het Jesus se kruisdood en opstanding gesneeubal in miljoene mense se lewe. Daar is mos nie verniet aan Abraham beloof dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre aan die hemelruim of soos die sand van die see. In Christus Jesus het ons almal kinders van vader Abraham geword. So het die Lig na die hele wêreld gekom. Die wonder is dat ons die lig kan aangee na ander, deur self net die Lig te lewe.

Vers 16 sê aangrypend: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.” As’y ware kry ons rente op rente genade by die Here. Ons kry soveel genade, dit is soos ‘n glas wat reeds vol water is en nog water kry. Dit loop oor !

Dit kos niks om die water te deel nie, want daar is reeds te veel water vir my. Juis daarom moet ons die oorvloedige genade van die Here aangee.

Somtyds is ons ongehoorsaam en dan “briek” ons hierdie oorvloedige genade van die Here.

Windpomp-7Dit is soos om ‘n windpomp te “briek”. In die Noord – Kaap waar ek die voorreg was om predikant te wees vir bykans 14 jaar, was ‘n windpomp alledaagse woordgebruik. Om ‘n windpomp te “briek” is om te keer dat dit nog water gee. Dikwels doof ons die “lig van die Evangelie” uit of ons “briek die oorvloedige genade van God” in ons eie lewe en ook in ander mense se lewe met wie ons in aanraking kom. So kan ons dikwels die Gees se werking teenstaan. Johannes 3 praat mos van die Gees se werking is soos “wind”. Jy kan die wind nie sien nie, maar jy sien werking van die wind. So kan jy God se Gees nie sien, maar jy kan die Gees se werking sien in jou en ander se lewe.

Om die Evangelie nie aan te neem (vers 11 en 12) is om “die windpomp te briek” Dan ontbreek dit jou aan die koel soet ondergrondse water, wat uit jou siel kan borrel. Maar boeta, die wind kan ook ‘n windpomp se brieke afruk. Dan is daar geen keer aan die water nie. So het Saulus God ook “gebriek”, totdat God se Gees sy brieke afgeruk het op die pad van Damaskus. Toe was daar geen einde van lewende water in die lewe van Paulus. Wanneer God se Gees jou “brieke” afruk, dan verander jy sommer van naam ook – so ingrypend werk die Gees.

Wanneer die wind eers ‘n vuur gevat het, kan niemand so ‘n vuur keer nie. So het dit ook in die geskiedenis van al die groot geestelike herlewings gebeur. Dit steek die wêreld aan die brand. Daarom praat Johannes Calvyn nie verniet van die Christelike hart, as die “brandende hart” nie. Op Pinkstersondag het die Gees sommer in ‘n oomblik, 3000 harte aan die brand gesteek met die ewige liefde.

i-am-the-light-of-the-worldJesus is die Lig van die wêreld. Sy lig het die wêreld aan die brand gesteek. Sy Lig het onder ons kom woon en “kyk” ons kan sien ! Dit is die “magic” van Kersfees ….. ons kan “sien”.

Mag u die Kersfees, met kinderlike onskuld u verwonder aan die “magic” van Kersfees. Mag die “magic” u hele lewe verander.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG kerk Adelaide)

Dubbele Auschwitz in die Bybel (Eks 2 en Mat 3: 16 – 23)

DUBBELE AUSCHWITZ IN DIE BYBEL

In die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) was die Joodse volksmoord sekere een van die donkerste historiese gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis.

auschwitz-tour-krakow-tours-travelme-tailor-made-tours1Adolf Hitler het bedreig gevoel deur die Duitse Jode se ekonomiese welvaart en hulle gesien as ‘n bedreiging van die Duitse ekonomie. Daarom het hy besluit op die stelselmatige uitwissing van die Jode, deur hulle in konsentrasie kampe te stop en hulle te dood, onder andere deur middel van dodelike gaskamers. Auschwitz staan seker uit as een van grusaamste konsentrasiekampe.

Maar dit was nie die eerste Joodse volksmoord nie. Ons lees in die Bybel van ten minste twee ander Joodse volksmoorde. Telkens was dit omdat iemand bedreig gevoel het.

Die eerste Joodse volksmoord was die dood van alle Joodse seuntjies met geboorte in Eksodus 1 en 2. Ons lees dat na die dood van Josef, het daar ‘n nuwe Farao oor Egipte begin heers. Hy het niks van Josef geweet nie en hy het bedreig gevoel deur die hoë bevolkingsaanwas van die Jode. Hy het dit as ‘n bedreiging vir Egipte gesien, Daarom het hy die Jode harde handearbeid laat doen, deur stene te maak en die Egiptiese voorraadstede, Pitom en Rameses te bou. Hy het twee Joodse vloedvroue, met die naam van Sifra en Pua opdrag gegee om met geboorte van alle Joodse babatjies, die seuntjies dood te maak en die dogtertjies te laat lewe. Die Hebreeuse vloedvroue was egter ongehoorsaam aan die Farao en het as verskoning gebruik dat die Hebreeuse vroue baie sterk was en voor hulle nog by die vroue kom het hulle al klaar gekraam. Die getalle van die Jode en net almeer geword en die Farao het besluit op ‘n alternatiewe voorbehoedingsplan, deur te beveel dat die Egiptenare elke pasgebore Joodse seuntjie in die Nyl gooi om te verdrink.

6f75aa68e29cf4372d9c608cc449f973--bible-images-baby-mosesDan lees ons in Eks 2, van ‘n man uit die stam Levi, wat met ‘n Levitiese meisie getrou het. Sy het ‘n seuntjie in die wêreld gebring en hom vir 3 maande versteek. Toe sy hom nie langer kon versteek nie, het sy ‘n biesiemandjie gekry en dit met pik waterdig gemaak. Sy het hom in die mandjie tussen die riete van die Nyl weggesteek, terwyl sy suster ‘n oog gehou het. Dan lees ons hoedat een van die dogters van Farao afgegaan het om te swem in die Nyl. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en haar slavinne gestuur om te gaan kyk. Toe die Egiptiese prinses sien dit is ‘n Joodse seuntjie, het sy hom jammer gekry en besluit om hom aan te neem as haar eie seun. Die seuntjie se suster gaan toe af na die dogter van die Farao en vra haar of sy ‘n Hebreeuse moeder kan roep om die kind te kan laat drink, totdat hy gespeen is. Die dogter van Farao stem toe in en is bereid om selds daarvoor te betaal. Toe die seuntjie oud genoeg was het sy moeder hom na die dogter van Farao geneem. Wat hom aangeneem het as haar eie seun. Sy het hom “Moses” genoem, “want ek het hom uit die water gehaal.” So het Moses grootgeword in die Egiptiese paleis en alles geleer oor leierskap. Baie jare later sou Moses, sy volk uit Egipte lei na die beloofte land. Hy sou die redder en verlosser van die Joodse volk geword het, wat hulle van slaverny verlos het, om vir hulle ‘n nuwe toekoms te gee in die beloofte land Kanaän.

Dan lees ons van ‘n ander kindermoord, wat sterk ooreenkomste toon met Moses se verhaal. Ons lees dat met die geboorte van Jesus Christus het die sterrrekykers van die Ooste gekom om aan die Jesus Christus te kom hulde bring, want hulle het geweet dat Hy ‘n Koning sou word. Die eerste plek om ‘n Koning te soek, was natuurlik die paleis van Herodus. Herodus was so ontsteld dat ‘n Koning gebore is, dat hy wou voorkom dat sy eie posisie in gedrang kom. Hy het die sterrekykers gemaak vriendelik gevra, om as hulle die Koning gevind het, verby sy paleis terug te kom, sodat hy ook geskenke vir die Koning kan bring. Natuurlik wou hy die Jesus – Kind doodmaak. Die sterrekykers het toe ook die Jesus – Kind gevind en vir Hom geskenke gegee. God het die sterrekykers in ‘n droom gewaarsku om nie na Herodus terug te gaan nie en hulle het ‘n ander pad terug geneem na hulle land. Daar het toe ‘n engel van die Here aan Josef verskyn en hom gewaarsku om Maria en die Kindjie te neem en na Egipte te vlug, omdat Herodus van plan was die Kindjie te vind en dood te maak. Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate na Betlehem en die omgewing om alle seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. Dit het tot ‘n kindermoord op baie seuntjies gely. Daarom word daar gepraat van ‘n gekerm op Rama en dat Ragel treur oor haar kinders en dat sy nie vertroos wil word nie. Na die dood van Herodus het daar ‘n engel in ‘n droom aan Josef verskyn en vir hom opdrag gegee om terug te keer na Israel. Josef, Maria en die Jesus Kind het toe in die dorpie Nasaret gaan bly, waar Jesus groot geword het.

Baie jare later, sou die Jesus – Kind wat gered is, later Sy lewe gee om die hele wêreld te verlos van die slawerny van sonde. Hy sou die Messias word wat verlossing gee uit sondenood en uit die ewige dood.

Daarom is daar merkbare ooreenkomste tussen die verhaal van Moses en Jesus. Albei se lewe is as jong babas bedreig. Albei is gered van ‘n slagting onder jong seuntjies. Beide is gebore onder twee diktators wat bedreig gevoel het oor hulle posisies, naamlik Farao en Herodus. Beide was verlossers gewees. Moses het die volk Israel gered vanuit Egipte, die plek van slawerny. Jesus Christus het weer as Verlosser die wêreld gered van die slawerny van die sondenood en die ewige dood.

Daarom is die Kersverhaal nie heeltemal so romanties nie. Ons vergeet van die kindermoord en die baie moeders wat hulle seuntjies onder twee jaar oud verloor het. Daar was ‘n gekerm en ‘n gehuil met die geboorte van Christus. Ons almal verlang na ‘n perfekte Kersfees. Maar daar sal nooit ‘n perfekte Kersfees wees nie. Christus is juis gebore vir die onperfektheid van die wêreld. Christus Jesus se geboorte was onder trane en droefheid, sodat daar hoop kan wees vir ons droefheid en trane en onperfekte lewens. Die eerste Kersfees was onperfek, sodat daar hoop kan wees vir ons wrede en stukkende wêreld. Die geboorte van Christus Jesus was die begin die begin van Christus se “Auschwitz”. Daarom wanneer ons ook somtyds deur ons eie “Auschwitz” moet stap, weet ons, dat ons nie alleen is nie. Christus was alreeds daar gewees.

Die enigste stukkie perfektheid in die Kersverhaal is die liefde van God vir sondaarmense in hulle gebrokenheid. Ware liefde is altyd perfek. Daarom moet ons in hierdie Kersfeestyd en dwarsdeur 2018 altyd streef na die een perfektheid, naamlik die LIEFDE. Daarom sê Paulus ook dat die grootste van alles, die LIEFDE is. Al wat perfek was met die eerste Kersfees, was God se onvoorwaardelike liefde. Wil jy hierin deel?                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Die minderheid, is dikwels die sterkste. (Num 13) – Geloftefeesdiens

DIE MINDERHEID IS DIKWELS DIE STERKSTE (Geloftefeesdiens)

Negatiwiteit verkoop. Mense slurp negatiwiteit op, daarom verkoop koerante so goed. Dikwels by braaivleisvure kan mense net oor negatiewe goed gesels. Ons hele land is in ‘n greep van negatiwiteit. Daar is die staatskaping, die Zuma -sage, die Guptas, korrupsie, plaasmoorde, politieke onrus, die Steinhoff aandele wat geval het en nog baie ander negatiewe dinge wat ons gedagtes oorheers. Die gevaar is dat ons lewe beheers word deur negatiwiteit. Die meerderheid Suid- Afrikaners is negatief en die minderheid is positief. Dit werk altyd soos in die lewe.

In ons gelese gedeelte in Num 13: 26 – 33 lees ons hoedat Moses beveel het dat 12 verspieders, een uit elke stam, die land Kanaän moet verken. Hulle was soos verkenners of spioene wat moes terugkom en verslag doen van die positiewe en die negatiewe wat hulle in die land Kanaän gesien het.

003-moses-spiesNa 40 dae het hulle terug gekom en vertel, dat die land uiters vrugbaar is en het selfs van die vrugte van die land gewys. Dit was inderdaad ‘n land van melk en heuning. Maar het die meerderheid verspieders gesê, dat die land se inwoners baie groot en sterk is en dat hulle stede is versterk en groot. Hulle het ook die reuse gesien, wat nasate van Enak was. Die meerderheid verspieders het gesê, dit is onmoontlik om die land Kanaän in besit te neem. Hulle het gevoel soos sprinkane teen die reuse van daardie land en so was hulle ook in die oë van die Kanaäniete.

They picked up stones to stone Caleb and Joshua

Toe het Kaleb egter ‘n minderheidsverslag uitgebring en gesê dat die land wel verower kan word, deur die krag van die Here. Josua het ook vir Kaleb ondersteun, dat die land wel verower kan word, as die Here saam met hulle trek. Daar was dus ‘n meerderheidsverslag wat negatief was en ‘n minderheidsverslag wat positief was. Die hele volk het egter die negatiewe meerderheidsverslag geglo en het as’t ware in opstand gekom teen Moses en Aäron. Josua het egter gesê, dat die volk nie moet wegdraai van die Here nie. Die Here sal hulle help as hulle positief bly.

Slag van BloedrivierMet Bloedrivier, was die Voortrekkers ook in die verre minderheid en die Zoeloes in die meerderheid. Strategies gesproke het die Voortrekkers nie ‘n kans gehad nie. Tog het die Voortrekkers nie van God vergeet nie. Hulle het geweet met God se hulp, kan hulle ‘n oorwinning verseker. Op 16 Desember 1838 het die Voortrekkers onder leiding van Genl Andries Pretorius die Zoeloes beslissend verslaan. Daarom het hulle ook ‘n gelofte aan die Here afgelê, om as die Here hulle help, die 16 de Desember as ‘n Sondag deur te bring, wat ook vir hulle nageslag sal geld.

Die minderheid het die meerderheid gewen, omdat hulle aan die kant van God was. Net so moet ons as Christene, al is ons in die minderheid, glo dat ons ‘n verskil kan maak in hierdie land vol van negatiewe dinge. Ons moet nie verval in negatiwiteit nie, maar positief glo, dat ons deur die krag van God ‘n verskil kan maak.

Daarom het Josua ook gesê in Num 14: 8, dat die volk nie teen die Here in opstand moet kom nie.

racismDie fout wat ons dikwels maak is om God aan ons kant te wil hê. Ons gebruik God dus soos ‘n pion wat ons rondskuif vir ons eie belange. In baie lande se volksliedere word God as pion gebruik. Dink byvoorbeeld aan die Engelse vokslied: “God save the queen”. Ons voorouers het dikwels gepraat van “Volk, vaderland en God.” Hitler het God ook gebruik in sy ideologie, om miljoene mense dood te maak.

Wanner twee lande oorlog maak soos in die Anglo Boere Oorlog, het die Engelse en die Boere albei gebid dat God tog aan hulle kant moet wees. Dan gebruik ‘n mens God.

Ons moet nie probeer God aan ons kant kry nie, maar eerder moet ons kies om aan God se kant te wees. Wanneer ons aan God se kant is, sal ons die regte etiese keuses maak en sal God vir ons help.

Daarom het Josua gesê, dat die volk aan God se kant moet wees en dan sal God vir hulle die oorwinning gee. En die Here het ook vir hulle die oorwinning oor die Kanaäniete gegee.

Die Here gebruik minderhede en swak mense om oorwinnings te behaal in Sy naam.

  • Die hakkelende Moses het sy volk uit Egipte gelei.

  • Die seun Dawid het vir Goliat verslaan.

  • Die Gideonsbende van 300 man het die oormag van Moabiete verslaan.

  • Paulus, met die doring in die vlees het God magtig gebruik.

Belangrik is egter dat jy aan God se kant moet wees! Moenie God gebruik om aan jou kant te wees en jou belange en agendas te dien nie. In voorspoedsteologie word God dikwels as ‘n pion gebruik om jouself te verryk en vir jou persoonlike voordeel te bring. Dit gaan eerder daaroor wat God vir jou beteken, as wat jy vir God beteken.

Daarom vier ons Geloftedag, nie oor die Voortrekkers die Zoeloes oorwin het nie, maar oor die feit dat God in nood gehelp het.

Cool-Cute-3D-HD-PhotosDaarom moet ons soos Kaleb en Josua, positief bly, ten spyte van moeilike omstandighede. Ons moet vertrou dat as ons aan God se kant is, God ons sal help met elke moeilikheid en moeilike omstandighede. Positiewe mense is altyd in die minderheid. Maar dit is juis hulle wat die verskil maak in die samelewing. Negatiewe mense word verlam deur die probleme, maar positiewe mense maak ‘n verskil.

Die Voortrekkers het ten spyte van bedreiging, positief gebly en God vertrou vir ‘n oorwinning. Netso moet ons God ook vertrou in ons moeilikhede en Hy sal help ook as die nood op die hoogste is.

candle-11Wees jy die vlam van ‘n positiewe geloof. Daar is nie genoeg duisternis om daardie vlammetjie se lig uit te doof nie.

Suid-Afrika kort positiewe mense. Wees jy deel van die minderheid wat op God vertrou vir uitkoms! Sy hulp is naby vir elkeen wat Hom soek.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide) 

Geraamtes in die kas (Mat 1)

GERAAMTES IN DIE KAS

In die ou groot familie Bybels, was dit gebruik dat ons voorvaders hulle familiestamboom neergeskryf het. Van oupa- en ouma-grootjie tot die jongste kind. Families was erg gesteld op hulle familiestamboom. Net die goeie word vertel, maar die geraamtes en die slegte goed word verswyg.

skeleton-2504345_960_720Niemand praat oor geraamtes in die familieboom se kas nie. Dit word verswyg. Net die goeie word vertel. Dit is amper soos by begrafnissse. Net die goeie van die persoon word uitgelig, maar hy of sy se geraamtes word verswyg. Met die verhaal van Christus Jesus se stamboom is dit egter heeltemal anders.

In die boerdery word ‘n stoetery ook bepaal deur die stamboom van daardie diere. Daar word noukeurig rekord gehou van die stoetbul of stoetram. Natuurlik die diere met die beste stamboom, behaal ook die beste pryse op die vendusies. Dit is ook die verskil tussen ‘n brak en ‘n opregte hond. ‘n Brak het geen stamboom nie, maar ‘n opregte hond het ‘n stamboom en word geregistreer as opreg.

Snobisme kom algemeen voor in die mensdom. Daar word gou gesê, jy is nie van my familie of sosiale klas nie. Die mensdom sosialiseer moeilik met mense wat ‘n beskeie en nederige agtergrond het. In baie families is daar familie rusies as ‘n verliefde jongmens wil trou met ‘n persoon, wat volgens die ouers nie in hulle sosiale klas pas nie.

stamboom_kleurOns sou verwag, dat die geslagsregister of die familiestamboom van Jesus Christus onberispelik sou wees. Christus is tog die Seun van die Vader. Daarom moet Sy geslagregister uitstaande wees. Die teendeel is egter waar. Mattheus vertel vir ons die volle geslagregister van Jesus Christus. Hy noem slegs 5 vroue, waarvan 4 uit ‘n bedenklike agtergrond kom en 1 uit ‘n baie nederige agtergrond.

Die vroue is Tamar, Ragab, Rut, Batseba en Maria. Kom ons kyk na elkeen van hulle se storie.

  • Tamar, wat by haar skoonpa slaap

Ons lees dat Juda vir sy eersgebore seun Er ‘n vrou geneem het met die naam van Tamar. Er, was egter ‘n slegte man en God het hom laat sterf en Tamar as weduwee gelaat. Dit was toe Er se broer Onan se verantwoordelikheid om by Tamar, kinders te verwek vir Er. Hy het egter elke keer as hy met haar gemeenskap gehad het, sy saad op die grond laat val, sodat Tamar nie swanger geword het nie. Die Here het daarom ook Onan laat sterf en Tamar weer as weduwee gelaat. Die volgende broer wat toe ‘n nageslag moes verwek was Sela. Juda het egter gesê dat Sela te jonk is en dat hy bang is Sela sterf ook soos sy broers. Dan lees ons hoe Juda gegaan het na Timna om skape te skeer. Op pad terug het Tamar haarself as prostituut voorgehou en haar gesig bedek. Juda het toe afgedraai om by die prostituut gemeenskap te hê. Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. Hy het aangebied om haar te betaal met ‘n boklam. Maar Tamar wou ‘n pand hê, om te verseker dat Juda haar betaal. Juda het toe vir haar sy seëlring en staf gegee. Hy het met haar gemeenskap gehad en huis toe gegaa. Hy het toe sy vriend gestuur om die prostituut te betaal met die boklam wat hy belowe het. Sy vriend kon toe nêrens die hoer opspoor nie. Juda sê toe vir sy vriend dat hulle nie daaroor moet praat nie, anders word hy ‘n bespotting. Die hoer moet maar die seëlring en staf hou. Drie maande later word dit bekend dat Tamar swanger is. Die mense vertel toe vir Juda, dat sy skoondogter swanger is deur hoerery. Juda beveel toe, dat Tamar uitgebring en verbrand moet word. Toe hulle Tamar uitbring het sy gesê dat die een aan wie die seëlring en staf behoort die pa is. Juda was toe in die verleentheid. Hy was die pa. Hy erken toe dat hy verkeerd was deur sy seun Sela nie vir Tamar as man te gee nie. Juda het Tamar se lewe gespaar en sy het geboorte gegee aan ‘n tweeling, Peres en Serag. Peres het een van die voorvaders in die stamboek van Jesus Christus geword.

  • Ragab die prostituut

Ragab was die prostituut van Jerigo. Josua het 2 verspieders uit gestuur om Jerigo te verken. Hulle was as’t ware spioene. Toe die koning van Jerigo uitvind dat daar spioene in die stad is, het hy sy soldate gestuur om hulle te soek en dood te maak. Hulle het toe gevlug na Ragab die prostituut. Ragab het haar ontferm oor die twee verspieders en hulle met ‘n tou laat afsak tot buite die stad, waar hulle kon ontvlug. Sy het hulle egter laat belowe om wanneer hulle die stad Jerigo aanval, haar en haar familie te spaar. Met die aanval en vernietiging van die stad Jerigo, het die Joodse soldate die belofte nagekom en Ragab en haar familie gespaar. Later het Ragab die prostituut met Salmon getrou en so die moeder van Boas geword, ook een van die vroue in die geslagsregister van Jesus.

  • Rut die Moabiet

Die verhaal begin waar Naomi, saam met haar man en twee seuns uit Israel trek na Moab, aangesien daar ‘n droogte was in Israel en hulle broodsgebrek lei. Die Jode en die Moabiete was egter vyande van mekaar en die Jode het op die Moabiete neergesien. Naomi se twee seuns het met twee Moabitiese vroue, met name Rut en Orpa getrou. Ongelukkig sterf Naomi se man en albei haar seuns. Toe dit weer gereën het in Israel, besluit Naomi om terug te gaan na Israel. Haar Moabitiese skoondogter Rut, het egter soos ‘n neut aan haar vasgekleef en gesê, dat sy saam met Naomi ook Israel toe gaan. In Israel het hulle swaar gekry en moes Rut are in die land optel om hulle aan die lewe te hou. Naomi het egter geweet dat Boas, familie is van haar oorlede man is en dat hy regtens vir Rut as vrou moet neem. Hy moet as losser optree en met haar trou. Naomi het Rut beveel vir Rut om haar mooi te maak en haar lekker te laat ruik en in die aand by die voete van Boas te gaan lê. In Hebreeus beteken om te gaan lê by die “voete”, is om verleidelik te gaan lê ny ‘n man. Sy het as’t ware hom verlei. Die volgende oggend was Boas smoorverlief op Rut en het besluit om met haar te trou. Uit die huwelik is Obed gebore, ook een van die voorsate in Jesus se stamboom. So het ‘n volksvreemde Moabiet, wat beskou is as van ‘n laer klas deel gekry aan die stamboom van Christus.

  • Batseba die owerspelige

Batseba se naam word nie pertinent genoem in die geslagsregister van Jesus Christus nie. Sy word beskryf as die “vrou van Uriah”. Uriah was ‘n soldaat in Koning Dawid se weermag. Dawid het vir Batseba raakgesien op die dakvertrek, vanuit sy paleis terwyl sy besig was om te bad. Miskien was dit die bedoeling van Batseba om die koning te verlei. So het dit gekom dat Dawid en Batseba owerspel gepleeg het, terwyl Uriah op militêre diens was. Dawid maak toe ook ‘n plan om van Uriah ontslae te raak, deur hom in die voorste linies te laat veg, sodat hy maklik kan sneuwel. So is daar ook moord gepleeg, saam met die owerspel. Tog het die Here vir Dawid vergeef, na Dawid se diep berou in Psalm 51. Uit die verhouding tussen Dawid en Batseba is gebore koning Salomo en so word dit ook deel van die stamboekgeskiedenis van Jesus Christus.

  • Maria, die eenvoudige meisie, sonder agtergrond

Maria, was die moeder van Christus Jesus. Sy was ‘n eenvoudige meisie, sonder agtergrond wat in Nasaret in een van die onaansienlike dorpies in Israel gebly het. Sy was van geen hoë klas of aansien nie. So het die Here ‘n eenvoudige mens gebruik om Sy werk te doen.

  • Waarom het Mattheus die 5 vroue uitgesonder?

Jesus Christus se stamboek is nie rooskleurig nie.

skeleton-2504345_960_720Daar is baie geraamtes in die kas. Vier van die vyf vroue in ons gelese gedeelte het erge geraamtes in hul kas gehad of was van bedenklike afkoms gewees. Desnieteenstaande het God dit goed gevind om hulle deel van Jesus Christus se stamboek te maak, sodat daar hoop vir jou en my kan wees. Maak nie saak hoe groot jou sonde of watter geraamte daar in jou kas is nie. Christus Jesus het gekom vir sondaars. Hy het vir Tamar, Ragab, Rut en Batseba ten spyte van hulle sonde en bedenklike afkoms, so volledig aanvaar dat hulle deel van Christus Jesus se stamboom geword het. Straatbrakke het ook deel aan Jesus Christus se genade. Terwyl Christus op aarde was het Hy gemeng met die sondaars en prostitute en die tollenaars. Hy het selfs tuis gegaan in die tollenaar Saggeus se huis, wat een van die grootste sondaars in Jerusalem was.

Die Evangelie is teen enige vorm van snobisme. Ons stoot mense maklik weg met ons snobisme, maar Christus trek mense nader in Sy liefde en genade. Kersfees gaan oor God se onvoorwaardelike liefde vir sondaars. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)