Die drie filters

SKRIFLESING: Jakobus 3: 1 – 12

Die pen is magtiger as die swaard. Die tong is ook magtiger as die swaard.

Jakobus, waarskynlik die broer van Jesus, skryf sy boek oor die onderlinge onvrede en twis wat daar waarskynlik in die gemeente in Jerusalem was. Daar was verskillende vorme van verdeeldheid in die gemeente en die groepe het hulle tonge verkeerd gebruik en daarom waarsku Jakobus oor die gebruik van die tong.

Skinder is een van die vernaamste verkeerde gebruike van die tong.

In Antieke Griekeland het Socrates ’n groot reputasie van wysheid gehad. Eendag het iemand die groot filosoof kom besoek en wou ’n skinderstorie aan hom vertel. Socrates het hom gekeer en vir hom gesê voor hy dit vertel, moet hy dit wat hy wil vertel, eers laat toets deur die “drie filter”-toets.

Heel eerste, is dit wat hy wil sê die WAARHEID? Die besoeker was nie seker of dit die waarheid is nie.

Tweedens, is dit wat hy wil sê OPBOUENDE woorde? Die besoeker het gesê dit is alles behalwe opbouend.

Derdens, is dit wat hy wil sê enigsins vir hom NUTTIG? Nee, sê die besoeker, dit is nie nuttig nie.

Socrates het toe die besoeker geantwoord, jy wil iets van my vriend sê en jy weet nie of dit die waarheid is nie, tweedens is dit is nie opbouend nie en derdens hou die inligting vir my geen nut in nie. Jy kon nie een van die drie filters slaag nie.  Hoekom wil jy dit dan vertel? 

“Skinder is ’n slegte ding. In die begin lyk dit dalk lekker en pret, maar op die ou end vul dit ons harte met bitterheid en vergiftig dit ons ook!” (Pous Francis)

Daar is geen twyfel dat skinder seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”

Dirkie Smit vertel in sy boek Wat sien ons in die spieël? die volgende storie:

’n Vrou het by ’n wyse man om raad gaan aanklop. Sy wou graag iets wat sy gesê het, ongedaan maak. Eers, het hy geantwoord, sal sy moet teruggaan, ’n sak vol hoendervere neem, dit in die wind uitstrooi, en dan na hom terugkom. So gesê, so gedaan. Met haar terugkeer sê hy sy moet wéér teruggaan, elke veer gaan soek en dit in die sak terugsit, en dan weer na hom kom. Toe sy sê dit is tog onmoontlik omdat die wind dit teen daardie tyd al die wêreld vol gewaai het, was sy antwoord: “Net so onmoontlik is dit vir jou – vir enigeen – om die gevolge van wat jy gesê het, ongedaan te maak.”

Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, deur hulleself beter te vertoon.

As jy nie iets moois van iemand kan sê nie, bly liewer stil. “I have noticed that nothing I never said ever did me any harm.” (V.S.A. President Calvin Coolidge 1872–1933)

Met kragtige metafore skets Jakobus die mag van die tong: ’n Klein stang in ’n perd se bek stuur die hele dier. Dit beteken die perd is mak en bruikbaar vir sy eienaar. ’n Wilde perd sal nie ’n stang in sy bek duld nie. Met die stang kan jy die perd stuur op veilige paaie of op gevaarlike paaie. Jou tong stuur jou lewe.

Groot skepe word aangedryf deur sterk winde, tog word hulle deur ’n klein roer gestuur. Net so is die tong maar ’n klein orgaan, maar dit het ’n kragtige invloed op jou hele lewe.

’n Klein vlammetjie steek ’n groot vuur aan. So kan die tong baie skade aanrig. Dit kan ander mense se lewens verwoes en vernietig.

Vanaf vers 9 spel Jakobus die dubbelslagtigheid of gespletenheid van die tong uit: Daarmee loof ons die Here en vervloek mense wat na die beeld van God geskape is. Dikwels kom seën en vervloeking uit dieselfde mond. Jakobus  vergelyk dit met ’n fontein wat nie vars en bitter water kan lewer, of ’n vyeboom wat nie olywe kan dra nie. In ons woordeskat leef ons met hierdie gespletenheid dat uit die mond goeie en slegte goed kan kom.

Met ons woorde kan ons mekaar bou of breek. Menige mens is al afgebreek deur wat ’n ouer of ’n onderwyser vir jou gesê het. As jy gedurig negatiewe goed hoor, gaan jy dit later glo.

In ons Afrikanerkultuur van destyds het ouers moeilik vir hulle kinders gesê dat hulle lief is vir hulle. Waarderende woorde was min. So het een geslag dit oorgedra na ’n volgende geslag. Gelukkig het hedendaagse ouers verander en bevestig hulle graag hul liefde vir hul kinders en kleinkinders met waarderende woorde.

Mense floreer of kwyn oor woordgebruik. Mense floreer as jy hulle bemagtig met  eerlik opbouende woorde.   Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bekragtig met my woorde. Moenie suinig wees met jou erkenning nie.

Die goeie nuus is egter dat die tong wat vir die mens onmoontlik is om te tem, deur Christus se Gees herskep kan word. Wanneer my tong Geesvervuld is, sal my woorde soos salf en olie wees. Dit sal genees en opbou en die Here verheerlik.

Dan sal my tong net spreek wat WAARHEID is, wat OPBOUEND is en wat NUTTIG is. Dan sal ek my tong kan beheer, want ek is Geesvervuld.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Moenie op jou eie kragte vertrou nie

SKRIFLESING: Rigters 16: 3 – 32

Grootmense en kinders is versot op die verhaal van Simson. Simson se krag, spoed, dapperheid, intelligensie met raaisels en vindingrykheid as hy jakkalse se sterte aan mekaar vasmaak, is ’n trefferverhaal. Daarom word daar vir die rolprentteaters van die wêreld mense soos Tarzan, Rambo en Superman geskep. Dan wens ons ons was ook so sterk soos Tarzan, so paraat soos Rambo en so beweeglik soos Superman. Ja, elkeen van ons wens ons het krag gehad. Tog bly Tarzan, Rambo en Superman maar slegs maaksels van die silwerdoek.

Tog met Simson is dit anders. Hy is werklik, want hy was een van die Here se rigters oor sy volk Israel. Hy was ’n besondere rigter. Sy naam beteken “sonskyn”.  Ja, sy naam beteken “sonskyn” omdat hy ’n sonnige geaardheid gehad het. Hy was vrolik, vol grappe met ’n aansteeklike lag. ’n Sin vir humor het hy beslis gehad. Simson staan egter bekend vir sy krag. Vir ’n leeu stuit hy nie. (Hy was soos Paul Kruger). Hy was voorts ’n man met baie moed. Hy sou sommer man-alleen ’n duisend man trompop loop.

Hy was slim en vindingryk, want waar kry jy nou ’n beter plan as om jakkalse se sterte aan mekaar vas te maak met ’n brandende fakkel tussenin. Die jakkalse sal eenvoudig amok saai in die vyande se gesaaides. Sy raaisels getuig van intelligensie. Hy was ook baie avontuurlustig. Graag het hy die grens oorgesteek om amok onder die Filistyne te saai. Voorts was hy ’n begenadigde, want hy was ’n Nasireër. ’n Nasireër was afgesonder vir die Here. Jy mog nie wyn drink en ook mog sy hare nie gesny word nie. Jy mog ook nie aan ’n lyk of dooie karkas vat nie.  Daarom het die Here vir hom besondere krag en gawes gegee. In die Bybel lees ons van drie lewenslange Nasireërs naamlik Simson, Samuel en Johannes die Doper.

Simson was ’n jongman wat ’n rolmodel in sy tyd was. Daar was seker baie jongmanne wat gewens het hulle kon soos Simson wees. Ja, enige land sal graag so ’n soldaat in sy verkenningskommando wil opneem. Ja, menige moeder sal wens haar dogter moet ’n man soos Simson kry. Daarom was hy dan ook ’n haan onder die henne. Simson was suksesvol. Toe val Simson in die slagyster van die eeue, hy kry ’n grootkop.

Hy begin op sy eie kragte te steun en kry ’n oormaat selfvertroue. In plaas van weg van versoekinge te vlug, gaan soek hy versoekinge. Hy gaan hou vakansie onder die Filistyne. Hy gaan baljaar onder die meisies van die vyand. Hy dink: “Ek is sterk genoeg om die versoekinge te kan weerstaan.” So breek hy ook een na die ander sy Nasireërbeloftes.

Simson se groot fout was dat hy sy gawes vertroetel het en daarop vertrou het, maar die Gewer van die gawes vergeet het. Hy was bewus van sy krag en het hom daarop verlaat. In hoofstuk 15: 16 spog Simson: “Met die kakebeen van ’n donkie lê daar ’n hoop, twee hope. Met die kakebeen van ’n donkie het ek duisend man verslaan.” En toe Delila hom die laaste keer wakker maak, sê hy: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Elke keer is dit net: Ek …, ek ….

Simson vertrou op sy krag en hy vergeet van die Here. Hy het so op sy krag vertrou, dat hy nie eers agtergekom het dat die Here van hom gewyk het nie.

In Simson sien ons ook die moderne mens wat vertrou op sy finansiële krag, sy militêre krag, die krag van sy verstand en rede en so gaan die lysie aan. Die mens van die 21ste eeu ly aan ’n ongelooflike grootheidswaan. Die moderne mens kan alles doen, hy het God amper nie meer nodig nie.

Ons verafgod ons eie vermoëns. Ons word ons eie Simson. Ons kan miskien nie ’n duisend man alleen doodslaan nie, maar ons kan ons wêreld beheer. In ons wêreld mag jy nooit jou swakheid openbaar nie. Nee, jy moet altyd sterk en in beheer wees. Ek moet self my probleme oplos, self my eie toekoms skep.

Maar Paulus sê as jy swak is, is jy sterk, as jy sterk is, is jy swak. Ook Simson het dit ervaar. Delila is sy ondergang. Verniet dink hy dat hy weer sal uitstap soos die vorige kere en homself losruk. Toe sy hare af is, toe is hy swak. Hy dog nog hy is sterk, toe is hy swak.

The Blinding of Samson,” painted
by Rembrandt, 1636

Sy oë word uitgesteek. Sy naam beteken “sonskyn”, maar hy het die laaste dae van sy lewe in duisternis gelewe. Hy kon ’n leeu doodslaan en met ’n donkie se kakebeen ’n duisend mense doodslaan. Nou moet hy soos ’n donkie maal. Sy lewensverhaal eindig tragies. Die eens sterk Simson het swak geword. Sy vertroue op sy eie krag was sy ondergang.

Wanneer Simson uiters bewus is van sy swakheid, roep hy God aan. Hoor hoe bid hy nou: “Here, my Heer, dink tog aan my! Maak my asseblief nog net hierdie keer sterk, o God, sodat ek my vir een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.” Nou is Simson bewus daarvan dat hy sonder God net mooi niks is nie. Hy sien vir die eerste keer in sy lewe nie sy gawes, sy krag raak nie, maar hy sien die Gewer van sy gawes raak.

Toe hy swak is, toe maak die Here hom sterk. Met hierdie laaste daad van hom het hy meer bereik as in sy ganse lewe as Rigter. Toe hy God vertrou het, het hy meer bereik as al die twintig jaar wat hy op sy eie krag vertrou het.

Ons moet leer om minder op ons finansiële krag, ons sekuriteitstelsels, ons wetenskap, ons tegnologie, en ons vermoëns te steun. Ons moet minder steun op die krag van skoonheid, sukses, en geleerdheid. Ons moet ophou om onsself as sterk mense te sien wat altyd in beheer is. Want juis ons vertroue op ons eie kragte en vermoëns is ons ondergang.

Die groot komponis Beethoven was doof. Bewus van sy swakheid het hy elke oggend gebid: “Here, help asseblief vandag.” In die aand het hy gebid: “Dank die Here vir hierdie dag.” Op sy musiekstukke het hy aan die einde geskryf: “Soli Deo Gloria” – “Aan God al die eer.”

Paulus die groot apostel was ook gedurig bewus van sy swakheid.

As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk. Met swak mense, met krom stokke, kan God ’n reguit hou slaan.                      AMEN

(Hierdie is ‘n verwerking van ‘n preek wat ek eenmaal gelees het. Outeur onbekend.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Alles gebeur rondom ‘n tafel

SKRIFLESING: Psalm 128

Vir baie jare het mense geglo dat jy lidmaat word van die kerk met jou belydenisaflegging. Hulle het geglo dat ’n dooplidmaat ondergeskik is aan die lidmaat wat openbare belydenis van geloof afgelê het. Dit is egter ’n reuse-misverstand en ’n onderskatting van die ryke betekenis van die doop.

Deur die doop word jy deel van die verbond en ook deel van die Christelike kerk. Deur jou doop is jy ’n volwaardige lidmaat van die kerk. By jou belydenisaflegging neem jy net die verantwoordelikheid van jou lidmaatskap op. Vanoggend word Chané deel van die Christelike kerk en word al die honderde beloftes van die Bybel ook oor haar lewe bevestig.

In die Ou Testament was die besnydenis die teken van die verbond en in die Nuwe Testament is die doop teken van die verbond. ’n Ander woord vir verbond is ’n ooreenkoms. Dit beteken dat die Here belowe om die eerste inisiatief te neem op ons verlossingsweg.  

In die Ou Testament het die besnydenis jou deel van God se volk gemaak en die Pasga-tafel was die tafel waar Joodse gelowiges elke Vrydagaand saam met hulle kinders die pasga geëet het en waartydens die boodskap van die verlossing uit Egipte oorvertel is en ook gevier is. Die kindertjies was deel van hierdie geloofstafel.

In die Nuwe Testament gee die doop die dopeling deel aan die Nagmaalstafel. By die Nagmaalstafel word met die dopeling gedeel dat Jesus Christus ons uit die slawerny van sonde verlos het deur aan die kruis vir ons sondes te sterf.

So het die besnydenis die kind toegang gegee tot die Pasga-tafel en gee die doop die dopeling toegang tot die Nagmaalstafel.

Die tafel speel in die Bybel ’n sentrale rol. Dit is daar waar daar werklik gemeenskap van gelowiges plaasvind. Dit is ook die plek van geloofsoordrag.

My wonderlikste herinneringe as kind was rondom my ouma se kombuistafel, met die houtstoof en die heerlike koffie wat daarop geprut het. Daar is vir ure rondom die tafel gekuier. In my ouerhuis het ons ook in die aande saam aandete geëet en heerlik gekuier as my pa van die werk af kom. Die oumense het ook die gesinstafel in die aand gebruik om gesinsgodsdiens te hou. Dit was ’n getroue tradisie. As jy in die aand in Strydenburg rondgeloop het, kon jy hoor hoe daar by elke huis gesange en psalms gesing word.

Maar met die koms van televisie in 1976 het alles verander. Mense sit nou eerder met hulle kos op ’n skinkbord voor die televisie, om tog nie die gunsteling-sepie te mis nie. Kommunikasie tussen die gesinslede het nou beperk geword. Dit was ook die einde van aandgodsdiens in die Afrikaanse gemeenskap. Na 1996 het selfone op die mark gekom. Dit het die finale doodsklok vir die gesinstafel ingelui. Skielik het selfone aan tafels die plek ingeneem van sinvolle kommunikasie aan die tafel.

Tafelgemeenskap as gesin, of as familie of ook rondom die Nagmaalstafel, is van kardinale belang vir die bou van sinvolle kommunikasie. Vir kinders is die geborgenheid van die gesinstafel ’n kosbare sekuriteit. Dit is die plek waar daar waardevolle gesprekke gevoer word, wat belangrik is vir kinders se opvoeding.

As ons as gesinne ten minste eenmaal per dag ’n ete saam geniet, sonder gejaagdheid en sonder selfone, sal dit ’n waardevolle bousteen wees vir ons gesinne en vir geloofsvorming. Gesinne moet ’n afspraak met mekaar maak om kwaliteittyd met mekaar deur te bring rondom die etenstafel, sonder die stoornis van televisie en selfone. Die tyd rondom die kombuistafel is heilige tyd. Daardie 45 minute vir aandete is heilig. Die televisieprogram  kan maar wag of opgeneem word. Die selfoon kan maar op stil gestel word. In daardie 45 minute skenk ons 100% aandag aan mekaar. Dit laat huwelike oorleef en dit gee sekuriteit aan kinders. Dit skep kwaliteittyd in verhoudings. Dit word kosbare herinneringe. Kos is nie gemaak om alleen geëet te word nie. Kos moet in samesyn en saamkuier genuttig word.

Prof. Anna Fishel  van die Harvard Medical School skryf in The Washington Post as volg: “Kids who eat dinner with their parents experience less stress and have a better relationship with them. This daily mealtime connection is like a seat belt for traveling the potholed road of childhood and adolescence and all its possible risky behaviors.” Sy verduidelik dan ook dat baie wangedrag van kinders te wyte is aan die feit dat daar nie ’n kombuistafel-kultuur tuis was nie.

Baie geloofsverhale in die Bybel speel af rondom ’n ete. ’n Ete bring samesyn en versterk die gemeenskap van gelowiges.

Ons kan ons kinders nie in privaatheid grootmaak nie. Nie net die ouers nie, maar ook die gemeenskap en gemeente moet verantwoordelikheid neem vir die Christelike voorbeeld en opvoeding van ons kinders.  

Eugene Peterson het geskryf oor die Christelike gemeenskap: “Daar kan geen volwassenheid in die geestelike lewe wees nie, geen gehoorsaamheid om Jesus te volg nie, geen heelheid in die Christelike lewe nie, behalwe die omhelsing van die gemeenskap van gelowiges. Ek is nie myself alleen nie.”

Daarom moet ons ons kinders in die gemeenskap van gelowiges grootmaak. Die bywoning van eredienste en ander kerklike byeenkomste vorm ’n blywende indruk op kinders se lewens. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig. Dit is die plek waar ons ondersteuning kry en geesteskos vir ons siele.

In die Anglikaanse kerk is die doopvont in die ingangsportaal van die kerk. Wanneer die erediens begin, doop die priester in die ingangsportaal die dopeling. Daarna dra die priester die dopeling die gang af tot heel voor die gemeente en stel die nuwe lidmaat voor aan die gemeente. Dan neem die gemeente ook verantwoordelikheid vir die geestelike voorbeeld en opvoeding van die dopeling.

Jesus waarsku ons om nie ’n struikelblok te wees vir ’n kindjie nie. In Lukas 17: 2 staan daar: “Dit is beter vir hom dat ’n maalklip om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie geringes laat struikel.”

Daarom moet ons as ouers, as grootouers en as gemeente nie kindertjies laat struikel in die geloof nie. Ons moet dit vir ons kinders maklik maak om te glo. Daarom moet ons voorbeeldig lewe, sodat ons kinders ons goeie gedrag, in rekenaartaal, kan “copy” en “paste” in hulle lewe.

Ouers is verantwoordelik vir 82% van die geloofsoordrag by kinders. Verder beïnvloed hulle vriende, onderwysers en familie hulle. Die kerk het maar ’n verantwoordelikheid van ’n skrale 1 % van geloofsoordrag. Daarom is en bly die ouers die primêre agente van geloofsoordrag en geloofsvorming. Die kerk se taak is primêr om ouers toe te rus om hulle taak as verbondsouers te kan uitvoer. Daarom bemagtig ons die ouers in ons gemeente om deur middel van die Odos-reeks kinders te leer van die verskillende Bybelkarakters en Bybelverhale.

Charel en Donné, die vernaamste en belangrikste plek in julle huis is julle etenstafel. Daar word daar gesels en gesinsbinding versterk. Mag Chané se mooiste herinneringe wees van julle viering as gesin rondom die etenstafel.

Die Here het sy Kerk gestig rondom die eerste Nagmaalstafel. Mag julle etenstafel ook tot stigting wees van julle verhoudinge. Maak tyd vir mekaar rondom die etenstafel.                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gebruik geld om vriende te maak, nie vyande nie

SKRIFLESING: Lukas 16: 1 – 13

Geld maak gewoonlik vyande. Geld bring twis, tweestryd, jaloesie, naywer, wedywering, familietwiste ensovoorts. In hoeveel huwelike word daar nie oor geld gestry nie. In hoeveel families word daar nie oor erfporsies getwis nie.

Mammon bring spanning tussen werkgewer en werknemer en dit bring spanning tussen familielede onder mekaar. Koper en verkoper kibbel oor die prys en sakevennote probeer mekaar kul. Mammon is seer sekerlik dit waaroor die meeste twis van hierdie wêreld gaan. Mammon was die naam van die Siriese god van “rykdom en geld”. Mammon probeer God met dinge vervang.

Mammon plaas jou ook in ’n verkeerde verhouding met God. Sodra ’n mens Mammon nie meer net “gebruik” nie, maar “dien”, word die Mammon jou “god”. En verdring dit vir God, vir Wie ons eintlik moet dien.

Met geld en besittings kan jy vir jou baie vyande koop, ja, selfs ook vyandskap met God.

Daarom vertel die Here Jesus hierdie gelykenis van die oneerlike bestuurder: Hy begin die gelykenis deur te vertel dat ’n baie ryk man ’n sekere bestuurder in diens gehad het wat na sy goed moes omsien en moes bestuur. Maar hierdie bestuurder het lang vingers gehad. Hy het hom aan “witboordjie-misdaad” skuldig gemaak. Die bestuurder word dan ook aangekla by die ryk man. Daar waar ’n rokie is, moet ook ’n vuurtjie wees. Daarom gelas die ryk eienaar ’n kommissie van ondersoek na sy bestuurder se bestuur van sake.

Nou is die bestuurder in ’n penarie. Hy sit op hete kole. Wat nou gemaak? Hy weet die eienaar gaan hom ontslaan as die verslag uitkom. As bestuurder sal hy nie weer aangestel word nie en om handewerk te doen, daarvoor sien hy nie kans nie. Om te bedel, daarvoor skaam hy hom morsdood. Wat nou gemaak?

Heel moontlik het hy ’n paar nagte rondgerol en het sy gewete hom gepla. Hy het waarskynlik gedink aan die baie vyande wat hy langs die pad gemaak het. Hy was inhalig en gierig en met so ’n gesindheid maak jy net vyande. As hy ontslaan word, sal hy werklik net vyande oor hê. Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop.

Sy geldgierigheid het vir hom baie vyande gekoop. Miskien het hierdie wete hom tot bekering gebring. Want dan lees ons van ’n totale hartsverandering by hom.

Hy besluit om nie meer toe te laat dat geld vyandskap vir hom veroorsaak nie. Nee, hy wil liewer met geld vriendskap veroorsaak.

“Gebruik geld om vriende te maak, nie vyande nie…” het nou sy lewensmotto geword. Daarom lees ons hoedat hy sy werkgewer se skuldenaars een vir een inroep en skulde verminder.

Die een skuldenaar skuld 100 bat olyfolie. Die bestuurder verminder dit na 50 bat. Die ander skuldenaar skuld 100 kor koring. Die bestuurder verminder dit na 80 kor koring. So verminder hy elke skuldenaar se skuld. Dit klink vir ons amper asof hy net verder met sy skelmstreke aangaan en sy werkgewer nog verder inloop deur skuld aan sy werkgewer verskuldig, af te skryf.

Dit is egter nie so nie. Talle kommentators meen dat hy slegs sy deel van die kommissie of profyt afgeskryf het. Met ander woorde, die gedeelte van die wins wat na hom moes gaan, het hy afgeskryf en in die proses het hy vir hom vriende gemaak. Daarom het sy werkgewer hom ook geprys oor die slim ding wat hy gedoen het om sy situasie te beredder.

In plaas van inhalig en gierig te wees, word hy nou vrygewig … en in die proses maak hy vir hom ’n klomp vriende. Vir die eerste keer het hy nou in sy lewe ook vriende gehad. Sy eertydse vyande word nou sy vriende. Hulle word ’n medemens vir hom. Daarom prys die Here hom en sê dat hy sy geld en sy besittings gebruik het om vir hom vriende te maak. Die Here noem hom slim, want dit is beter om met geld vriende te maak as om vyande te maak. [Natuurlik moet ons nou nie selfsugtig met ons geld probeer vriende maak, sodat hulle ons later weer moet uithelp – soos dit die bestuurder se plan was nie. As ek iemand help, moet dit nie vir toekomstige voordeel wees nie, maar omdat dit uit liefde gedrewe is.]

In plaas van met my geld en besittings vriende te maak, gaar ek dit op vir inflasie om dit namens my te bestee. Daarom sê die Here dan ook dat die mense van die wêreld slimmer optree as die mense van die lig, want hul gebruik eerder hulle geld om vir hulle vriende te maak.

Die bestuurder het ’n totale hartsverandering ondergaan. Eers was hy saakgerig, geldgierig, besittingsgerig … nou word hy mensgerig. Ewe skielik het hy sy eertydse kliënte nie meer onpersoonlik hanteer nie, maar menslik. In plaas van sy ou styl om sy sakebelange te versaaklik, het hy dit nou vermenslik. Hy het sy geld doelbewus gebruik om vriende te maak.

God se kinders hoef nie weg te vlug van geld nie. Geld is nie per se boos nie. God het niks teen rykdom nie. Inteendeel, ons lees dat Salomo, Dawid, Hiskia, Job en nog talle ander Bybelfigure baie ryk was. Daar moet ook ryk mense wees om die ekonomie aan die gang te hou en werkskepping te bevorder.

Lukas se Evangelie is ’n Evangelie aan die armes en die rykes. Vir Lukas hang die geloofwaardigheid van die kerk se lewe en getuienis onlosmaaklik saam met die manier waarop ons omgaan met die gawes wat aan ons toevertrou is.

Die Here het dit egter daarteen dat ons geld en besittings so selfsugtig besit dat ons hoe ver ons gaan, vyande maak. “Nee, wees vrygewig sodat julle nie vir julle vyande nie, maar vriende maak,” sê die Here.

Geld, wat is jou waarde? Want geld kan vir jou ’n luukse woonplek koop, maar nie ’n tuiste nie. Die grootste en luuksste bed, maar nie slaap nie. Die mooiste horlosie, maar nie tyd nie. Jy kan met geld vir jou al die boeke in al die biblioteke aanskaf, maar nie wysheid nie. Jy kan met geld vir jou ’n plek koop in die samelewing, maar nie respek nie. Dit kan medisyne koop, maar nie gesondheid nie. Jy sou met jou geld vir jou ’n eie privaatkliniek kon koop, maar nie gesondheid nie. Met geld kan jy vir jou seks koop, maar nie liefde nie. Met geld kan jy ’n kerk koop, maar nie ’n ontmoeting met die ewige God nie.

Winkelsentrums word ons kerke en bekendes ons gode. Soos Paris Hilton, kan jy beroemd wees bloot deur ryk te wees. President Jimmy Carter het gesê: “Menslike identiteit word nie meer gedefinieer deur wat ’n mens doen nie, maar deur wat ’n mens besit.”

Geld moet menseverhoudings voed en opbou, nie afbreek nie.

Geld moet mense verpersoonlik en nie versaaklik nie. Geld moet ander mense ruimte gee en nie inkort nie.

Ek maak vriende met geld …

  • As ek ander menswaardige lone betaal
  • As ek lewensgeleenthede skep
  • As ek lewenskwaliteit verbeter
  • As ek aalmoese uitdeel
  • As ek ander mense se laste minder maak.

Wie so met sy geld vriende vir hom maak, skep vir homself / haarself ’n toekoms. Dit is wat hierdie bestuurder gedoen het: hy het vir homself ’n toekoms geskep.

Arthur Brooks vind dat godsdienstigheid een van die beste voorspellers van liefdadigheid by mense is. Die studie is onder Amerikaners gedoen. “Godsdienstige Amerikaners is nie net baie meer geneig om geld te gee en hul tyd vrywillig aan godsdienstige en sekulêre instellings te gee nie, hulle is ook meer geneig om hulp aan familielede te verleen, verkeerde kleingeld terug te gee, ’n hawelose persoon te help en om bloed te skenk.”

Eenmaal het die Here Jesus vir Homself ook ’n toekoms, ’n Koninkryk, geskep deur ons wat Sy vyande was, Sy vriende te maak. Ons lees daarvan in 2 Kor 8:9 – “ Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: dat Hy wat ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.”

Net so kan ons as toehoorders ook vir ons ’n toekoms skep deur ons geld en besittings te gebruik om vriende in plaas van vyande te maak. So ’n lewenshouding bring ons in die regte verhouding met God en met ons medemens. Eers dan het ons waarlik ’n toekoms.

Daarom roep die Here Jesus ons op om elke dag ’n fundamentele keuse te maak tussen God en Mammon. God wil hê ek moet my besittings gebruik om vriende te maak. Mammon wil hê ek moet my besittings gebruik om vyande te maak.

God wil vry maak. Mammon wil verkneg.

In Augustus 2003 is ’n studie vrygestel wat aan die lig gebring het dat geld nie geluk kan koop nie. In 1975 het Richard Easterlin, navorser van die Universiteit van Suid-Kalifornië, begin om jaarliks 1500 persone te ondervra en uiteindelik bevind: “Baie mense verkeer onder die illusie dat hoe meer geld ons maak, hoe gelukkiger ons sal wees. Ons sit al ons hulpbronne in om geld te maak ten koste van ons gesin en ons gesondheid … Die probleem is dat ons nie besef dat ons materiële behoeftes toeneem met die hoeveelheid geld wat ons maak nie.  Die studie het ontdek dat geluk verband hou met kwaliteittyd saam met geliefdes, goeie gesondheid, vriendelik wees, ’n optimistiese uitkyk te hê, selfbeheersing uit te oefen en ’n diep sin vir etiese waardes te hê.”

Wie Mammon aanbid en op Mammon vertrou vir die toekoms en lewensgeluk, sal nooit in die Koninkryk van God kan ingaan nie. Moenie op Mammon vertrou nie, maar vertrou op Jesus Christus vir u toekoms, dan sal u die Koninkryk van God beërwe. Wie geleer het om op Jesus Christus te vertrou, kry dit maklik reg om sy geld en besittings te gebruik om vriende te maak.                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS

Gebaseer op ‘n preek wat ek eenmaal gelees het. Baie verwerk en bygewerk.

Jon A. Shields, “A Scandal of the Secular Conscience?” Books & Culture (January/February 2008).

http://www.BusinessDay.com, (28-08-2003)

Tim Smith.16 June 2013. Materialism

Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.