Die ander vrou …

DIE ANDER VROU ……

Gen 21: 8 – 21 

Abraham is die vader van die geloof. Die verhaal van God se bemoeienis met die mens begin by Abraham. Die Here het vir Abraham uit Ur van die Galdeërs laat trek na ‘n vreemde land sonder enige sekuriteite. Slegs met belofte van land en ‘n baie groot nageslag. Abraham en Sara het oud geword en hulle was kinderloos.

egyptian-womanSara het toe maar op haar eie ‘n plan gemaak. Sy het voorgestel dat haar man by haar Egiptiese slavin Hagar gaan slaap, sodat Hagar ‘n kind kan verwek wat sy haar eie kind kan noem. So is Ismael gebore. Tot op die dag, toe die drie besoekers by Abraham se tent by die groot bome Mamre opdaag en voorspel dat Sara oor ‘n jaar haar eie kind sal hê. Dit was dan ook so. ‘n Jaar later is Isak gebore en het Sara haar eie bloedkind gehad.

Skielik was Hagar nie meer vir Sara slegs ‘n slavin gewees nie, maar die “ander vrou”. Daar het begin jaloesie ontwikkel tussen die twee vroue. Hulle het in mekaar ‘n bedreiging begin sien.

OT-014-medToe Hagar eendag vir Sara gelag het was die vonk behoorlik los en kon Abraham nie meer vrede handhaaf tussen Sara en Hagar nie. Sara wou van hierdie “ander vrou” ontslae raak deur ‘n onbillike versoek tot Abraham te rig dat Hagar en haar kind weggestuur moet word. Abraham se erfporsie moet na Isak gaan en nie na Ismael nie. Abaraham was voor ‘n onmoontlike keuse, maar die Here het vir hom verseker, dat God self sal kyk na Hagar en die kind Ismael. Met ‘n swaar hart het Abraham die kind Ismael, saam met kos en ‘n velsak water op Hagar se skouer getel en haar weggestuur na die dodelike Berseba woestyn.

Vir Sara was Hagar die “ander vrou”, die vyand, die bedreiging. Sy was immers ‘n Egiptiese vrou ook nog en daarom nie ingepas in haar nuwe status as moeder van die verbondskind Isak nie. Maar God oordeel anders oor Hagar, die “ander vrou”.

Hy sien haar radeloosheid en nood raak. Toe Hagar se water opraak het sy die seun Ismael onder ‘n doringboom neergesit en so ver gaan sit soos wat ‘n pyl uit ‘n boog skiet. Sy wou nie homsien sterf nie. ‘n Mens kan jou indink in hierdie “ander vrou” se onbeskryflike nood en leed. Uitgeworpe om in die Berseba woestyn te sterf, saam met haar kind. Dan lees ons hoedat die Engel van God uit die hemel vir Hagar kom vertroos met die belofte dat haar seun Ismael ‘n groot nasie sal word. God het haar oë oopgemaak en sy het ‘n waterput gesien.

Dan lees ons in vers 20 hoe hierdie seun Ismael opgegroei het en handig met die pyl en boog geword het. In die Paranwoestyn het hy opgegroei en sy moeder het hom met ‘n Egiptiese meisie laat trou. Uit Ismael se nageslag het daar ook 12 stamme gestam. Ismael se nageslag het later die ontstaan van die Moslems geword.

Sara was bekommerd om haar “eie’ te beskerm en het daarom die “ander vrou” weggestuur. Deur haar optrede het sy veroorsaak dat die Jode en Christene van Isak afstam en die Moslems van Ismael. Vandag is die spanning tussen die Christene en die Moslems die grootste brandpunt in die Midde Ooste en in die ganse wêreld.

Deur Sara se wegstuur van Hagar en die kind Ismael het sy onvrede gebring tot vandag. Die Bybel sê tereg ook daar sal nooit vrede tussen die twee groepe kom nie.

maxresdefaultDaarom kan die vernietiging van die Twin Tower Internasionale Handelsentrum deur die Moslems op 11 September 2001 direk toegeskryf word aan die haat tussen Christene en Moslems. Was Sara maar nie so jaloers en Hagar nie so uittartend met haar lag nie? Hoe sou die wêreld dalk nie anders gelyk het vandag nie?

ما_هي_الكتب_السماويةDaarom kan ons aflei dat die Jodedom en Christendom meestal afstam van Isak en die Arabiere, wat meestal Moslems is afstam van Ismael.

Wonderbaar is dat God hom ontferm het oor Isak en Ismael. God het dit beskik dat Isak nie geoffer word in Moria nie en dat Ismael nie in die woestyn van dors omkom nie. God is nie net bekommerd oor die “eie” nie, maar ook oor die “ander”. Dit is die kernboodskap van die Bybel, dat God Homself ook ontferm oor die “ander”, die vreemdeling, die weduwee, die bywoner en die randfigure. Daarom het Christus in die eerste plek vir die “wêreld” en nie vir die “kerk” gekom nie. Johannes 3: 16 sê mos dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eie Seun gegee het.

Was Sara miskien meer gasvry teenoor Hagar, was die wêreldgeskiedenis dalk anders. Daarom roep God ons op om ‘n gasvrye gemeente en gelowiges te wees, wat die wêreld welkom laat voel. Daarom moet ons ook nie in vyandskap teenoor die Moslems optree nie, maar eerder deur ons gasvryheid en geloofsintegriteit die Moslems te bring tot geloof in Jesus Christus. Die baie Moslems wat onlangs uit Sirië gevlug het na Europa, is so meestal so gasvry ontvang deur die Christene van Europese lande, dat baie van hulle tot geloof gekom het in Christus.

Pres. Donald Trump se ongasvrye manier waarop hy alle Arabiere en Moslems behandel (soos Sara vir Hagar en Ismael wegstuur) gaan nie verhoudinge in die wêreld verbeter nie. Wanneer jy olie op ‘n vuur gooi, stig jy eerder die vuur aan. Ons moet die misdaad beveg wat party ekstremistiese Moslemgroepe doen, maar ons moet nie die Moslems haat nie. God het gesê ons moet die wêreld liefhê, so ook ons Moslembure.

egyptian-womanDaarom is dit die Christen se plig, om nie die “ander” te verjaag nie. Deur Christelike gasvryheid moet ons die wêreld en die “ander” omhels. Dan eers is ons ‘n missionale kerk wat iets verstaan van die Missio Dei. Die Christen bou nie mure nie, maar brûe na die “ander”.

Dan kom die Koninkryk van die hemel tussen ons.                                   AMEN.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Geduld of ongeduld ?

GEDULD OF ONGEDULD?

Dieter, is ‘n middelklas besigheidsman wat gereeld per trein reis vir besigheid tussen Rotterdam en Amsterdam in Nederland. So was dit weer die Maandagoggend sy weeklikse treinrit. Dié week was dit egter anders. Op een van die stasies nog voor hulle uit Rotterdam weg is klim ‘n “weird” persoon op die trein en sit op die bank regoor Dieter.

Glasgow_UndergroundDaar is nie ‘n ander woord om die man te beskryf nie. Dit lyk en ruik of hy dae laas gebad, geskeer en skoon aangetrek het. Hy het ‘n oorring aan, sowel ‘n ring deur sy neus en tong. Verseker gebruik die man dwelms, dink Dieter. Dat hy nou langs een van die rotte van Rotterdam moes beland. Rotterdam is juis so vol van “junkies”. Hy soek ‘n ander plek op die oorvol trein, want die trein het sekuriteitskameras en hy wil tog nie op ‘n foto regoor die man afgeneem word nie. Maar daar is nie oop plekke op die trein nie. Hy bly maar sit, maar wroeg elke oomlik dat die man so voorbarig kon wees om langs hom te kom sit. Kon hy nie maar van ander vervoer gebruik gemaak het nie. Een vir een kom en gaan die stasies verby. Elke keer as die trein stop wens Dieter, die man wil liewer nou afklim, sodat hy salig verder kan ry. Meer nee, die man bly sit. “Ek hoop nie hy ry tot in Amsterdam saam met my nie”, dink hy. Later vra die “weird” man, vir Dieter ‘n vraag wat die volgende stasie se naam is. Dieter antwoord hom nie eers terug nie. Hy wil nie met die vreemdeling ‘n gesprek begin nie, want hulle is nie van dieselfde klas nie. Plaas hy het liewers besigheidsklas gereis, dan was hy nie nou in die nare posisie om regoor die man te sit nie. Dit sal hom leer om nie so suinig te wees nie.

Dan kom Amsterdam nader. Stadig beweeg die trein die besige Amterdam stasie binne. Die trein stop en die deure suis oop. Dieter gee die “weird” man eerste kans om te loop, want hy is te bang die man vat of skuur per ongeluk teen hom. Uiteindelik is die nare reis op ‘n einde. Of so het hy gedink?

Toe gebeur ‘n volgende nare ondervinding. Op die treinperon reg voor hom sak ‘n meisie flou op die grond. Dadelik loop daar bloed by haar mondhoeke en neus uit. Dieter se gedagtes loop wye draaie. Het sy nie miskien “Kongo – koors” of een of ander tropiese siekte nie. Sê nou maar sy het Vigs. Onmiddelik loop hy ‘n wye draai om haar en staan op ‘n veilige afstand nuuskierig en kyk wat met haar gebeur.

Toe gebeur iets wat hy in sy wildste drome nie kon voorsien het nie. Die vreemdeling wat saam met hom gereis het, wat hy as ‘n rot beskou het, snel sonder om te aarsel die meisie te hulp en vou haar met liefde om met sy arms. Hy dink nie eers twee keer aan die bloedspatsels op sy klere en gesig nie. Hy praat rustig en vertroostend met haar en haal ‘n half bottel warm Coke uit sy verslete sak en laat haar daarvan drink om haar bloedsuiker op te jaag. Hy kalmeer haar deur haar voorkop met liefde te streel. Toe sy klaar gedrink het, tel hy haar op en dra haar na die noodhulpkamer van die ondergrondse molstasie. So iets het Dieter nog nooit beleef nie. Die rot was beter as wat hy is. Die rot was eintlik ‘n verskuilde engel. Hy kry skaam oor sy afkeurende houding teenoor die man. En dan was hy gister nog in die kerk. Toe skielik onthou hy gister se preek van die dominee. Daar is gepreek oor die onkruid en die koring. Hy wou nou die onkruid uittrek en het hom lelik misgus. Die rot was nie onkruid nie, maar lewende koring wat voluit soos Christus gegroei het.

imagesIn Mat 13: 24 – 30, 36 – 43 vind ons een van die 8 Koninkryksgelykenisse van Mat 13. In die gelykenis van die onkruid en die koring word gepraat van “die koninkryk van die hemel”, in plaas van die Koninkryk van God. Mattheus het verkies om te praat van die “Koninkryk van die hemel”, om die onnodige gebruik van die woord “God” uit te skakel. Dit is gedoen uit die nodige respek vir die derde gebod en dit is so verstaan. As jy die totale gebruik van die naam van God kan beperk, is die kanse op misbruik baie minder.

images (1)Die gelykenis gaan oor ‘n man wat koring gesaai het op die land en toe kom ‘n vyand in die nag en saai onkruid (Grieks: zizania) tussen die koring. Die tipe onkruid kom nie in Suid – Afrika voor nie, maar is algemeen bekend in die Midde – Ooste as “drabok” of die engelse naam is “darnell grass”. Die biologiese naam is “Lolium temulentum”. In die vroeë stadium van ontwikkeling lyk drabok net soos koring.

Drabok se saad is matig giftig. Dit het dikwels gebeur in die antieke tyd dat vyande mekaar beveg het deur drabok in mekaar se koringlande te saai.

Daar was selfs ‘n Romeinse wet wat die saai van onkruid in jou vyand se land as ‘n misdaad geklasifiseer het en daarom ook strafbaar deur die Romeinse reg.

Die punt van die gelykenis is dat die Seun goeie saad saai, mense van die Koninkryk saai. Die Bose kom egter en saai onkruid, die aanhangers van die Bose. In die begin is dit baie verwarrend. Wat is goeie en wat is slegte mense? Wat is goed en wat is boos? Dikwels raak ons ongeduldig en wil sommer dadelik dat God die onkruid moet uitskoffel. Die slawe in die gelykenis wou ook sommer dadelik die skoffel inlê.

Waarom kan God nie sommer dadelik van al die slegte en bose mense en sommer van al die boosheid van die wêreld ontslae raak nie. Waarom talm God so lank om te kom. Waarom is God so geduldig met die bose. Skoffel uit! Natuurlik is die ander altyd die “bose” en ek altyd die een wat veilig “bewaar en vergewe moet word.

Daarom staan God se geduld hier regoor die mens se ongeduld.

Die Here kan die drabok nog verander in koring. Die Here is ‘n genadige God wat genadetyd gee vir mense om tot bekering te kom van die bose. In 2 Petrus 3: 9 staan daar:” Die Here stel nie die vervulling van Sy beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.” Die Here wil die drabok verander in koring. Ons vergeet dikwels dat ons ook drabok was, wat deur die Here in koring verander is.

Ons kan ons ook so maklik vergis met mense. Volgens ons waardeoordeel en subjektiewe maatstawwe kan ons mense verkeerd opsom. Hoe dikwels maak ons nie foute met mense nie. Ons beoordeel mense opgrond van die uiterlike en nie die innerlike nie. Somtyds verras mense ons deur hulle christelike optrede wat baie meer eg is as ons eie optredes. Dit is nie vir ons om die skoffel in te lê nie.

Jesus het in Sy eie lewe baie geduld en empatie gehad met die drabokmense van Sy tyd. Hy het gemeng met sondaars, tollenaars, prostitute en randfigure. Eerder as om hulle uit te ruk het hy eerder hulle opgeroep om deel van Sy Koninkryk te word. Jesus het hoop gehad vir die mense vir wie ons geen hoop het nie.

downloadDie fout wat ons ook dikwels maak is dat ons vergeet dat die skeiding tussen koring en drabok dikwels deur ons eie hart loop. Die Russiese Nobelpryswenner Aleksander Solzhenitsyn skryf aangrypend hieroor. Hy skryf aangrypend in sy boek: The Gulag Archipelago die volgende woorde: “ If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, and it were necessary only to separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through the heart of every human being. And who is willing to destroy a piece of his own heart?

Die diepste moeilikheid is nie die boosheid van ander mense nie, maar die boosheid in my eie hart. En as ek dit gesnap het kry ek meer begrip vir God se eindelose geduld met die drabok in hierdie wêreld.

Maar die gelykenis is ook duidelik dat genadetyd nie vir altyd is nie. Daar kom ‘n stadium in die groeiproses, wanneer die drabok begin verskillend lyk van die koring. Jy sien dit veral in die saadontwikkeling. Die goeie en die bose dra immers nie dieselfde saad nie. Die werke van die goeie en die bose verskil hemelsbreed.

Dan sê Jesus sal die engele kom en kom oordeel tussen die goeie en die bose. Daarom eindig die gelykenis met die duidelike oproep: “Wie ore het, moet luister.” Daar kom wel ‘n oordeel, en dit sal ons loon om nie God se goeie geduld, sy duur genade en sy vriendelike liefde te minag en onverstoord op ons onkruidpaaie aan te karing nie.

Juis daarom moet ons nie goedkoop omgaan met ons eie harte nie, maar dit gedurig ondersoek vir drabok. Ek moet meer begaan wees oor die drabok in my eie lewe as die drabokmense wat my grensloos frustreer en waarvan ek ontslae wil raak.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die kerk moet aansluit by die Missio Dei.

DIE KERK MOET AANSLUIT BY DIE MISSIO DEI.

Die meeste kerke en gelowiges sit met ‘n ongesonde soteriologie, van persoonlike saligheid wat voorop staan en van ons geestelike vampiere maak wat Jesus se bloed van geregtigheid, slegs gebruik vir persoonlike gewin. Wie so dink, maak van die geloofsgemeenskap ‘n narcistiese gemeenskap. Hierdie verskraalde Evangelie neer op veral drie punte (a) Jesus het aan die kruis gesterf, (b) Ons moet tot bekering en geloof kom, en (c) wanneer ons sterf gaan ons hemel toe. Willard gebruik die woorde “salvation cut off from life”. Daarmee bedoel hy dat die hemel  geskei word van die teenswoordige lewe. Die kerk word bloot sielesoekers wat weer die sukses en die ambisie van die sekulêre versoeking bevredig. Dan word God en al sy heerlikheid verduister deur die mens en sy behoeftes. Spirituele leiers kan so slagoffers word van ‘n verbruikers-teologie, wat ligjare verwyder is van ‘n Missio Dei – teologie. 

 Tereg verwys kan verwys word na die filosofiese skuif van Ptolomeus na Copernicus. Ptolomeus, ‘n 2 de eeuse Egiptiese sterrekundige het geglo die aarde is die vaste punt en die son en sterre draai rondom die aarde. In die 16 de eeu het Copernicus die orde omgegooi deur te bevestig dat die son die vaste punt is, waarom die aarde draai. In ‘n verbruikersteologie is die mens die vaste punt en God sien om na die mens se behoeftes.

Portrait of Nicolaus Copernicus

As ons egter Copernicaans dink, is God die sentrum en vaste punt, waarvan die mens sy bestaan te danke het. Dan dink ons Teo-sentries en nie meer homo – sentries nie. Hierdie is ‘n noodsaaklike omwenteling wat ons in spiritualeit nodig het. Die Triniteit  ‘n beweging, “a movement” van God na sy skepping en alles wat Hy onder sy heerskappy gestel het. God Drie – Enig beweeg van Homself uit en niks kan Hom keer nie. Dit is ‘n beweging wat regdeur die Heilige Skrif loop en vandag nog net so ‘n realiteit is en as sulks deur die kerk ervaar word. Die geloofsgemeenskap moet haarself verstaan as ‘n gestuurde gemeenskap wat leef uit die Missio Dei van die Triniteit. Van Genesis tot Openbaring is God die handelende, lewende kreatiewe skeppende God wat uitbeweeg in die wêreld.

In ons gelese gedeelte in Rom 8: 18 – 27 word verklaar en bevestig dat lyding deel is van die teenswoordige lewe, maar dat ons geroep word om saam met God die heerlikheid te verwag en te laat kom.

Ons lees van 3 sugte:

1 ste Sug is die sug van die skepping. Dit beteken elke stukkie materie lewend en dood is aan verganglikheid onderwerp. Dit sluit in menslike ellende, ekologiese ellende, materiële ellende ens. Die ganse kosmos verlang om heel gemaak te word.

Die 2 de sug, is die sug van God se kinders. As gelowiges het ons dit nie maklik om Geesvervuld in ‘n ontaarde en korrupte samelewing te lewe nie. God se kinders moet ook die sug hê dat ander mense deel word van God se Koninkryk.

Die 3 de sug, is die sug van die Heilige Gees. Saam met ons en die skepping pleit die Gees met versugtinge dat alles nuut gemaak sal word.

Jesus se bloed het volgens Joh 3:16 gevloei vir dié wêreld. Christus het die ganse kosmos kom verlos in die aanbreek van die nuwe hemel en aarde. Daarom is die nuwe hemel en nuwe aarde nie iets wat eers eendag gebeur nie. In Christus het die nuwe hemel en aarde reeds kom inbreek in ons werklikheid en in ons kontekste. Iets van die hemel moet nou alreeds sigbaar word op hierdie aarde. Daarom het die Here ons leer bid: Laat u wil geskied op die aarde, soos in die hemel.” Daarom moet ons sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Daarom bid ons in die Onse Vader gebed: “Laat U Koninkryk kom”.

Daarom moet ons onthou: Jesus u gaan voor. Ons volg in u spoor. Dit beteken dat Jesus Christus alreeds die verlossingswerk met ‘n “bulldozer” oopgestoot het. Ons kan net met die pikke en grawe die afrondingswerk doen.

missional-church_imageMaar sug ons nog oor die gebroke skepping en gebroke mensheid of het ons apaties dit maar net aanvaar. Dan moet ons weer ‘n slag die SUG van die Gees hoor en as dissipels met pikke en grawe voortgaan, met wat Christus reeds begin het. Daarom begin dissipelskap met mense wat opgewonde is oor die nuwe wêreld wat nou alreeds aangebreek het en wat ‘n droom en visie het van hoe die Koninkryk van God nou al kan deurbreek in hierdie wêreld. Dit is mense wat nie wag vir beter dae nie, maar nou alreeds die hemel begin vergestalt in hulle elke dagse lewe.

Spirituele formasie het alles te doen met die missionale konteks. Alle kontekste moet onder die heerskappy van Christus geplaas word. Christus Jesus moet geïnkarneer (embody) word in elke lewensfeer van die mens se bestaan. Dit het kosmiese implikasies.

Die Koninkryk van God is eerste en dan die kerk. Die Koninkryk van God is ewig, maar die kerk is tydelik. Daarom sê Johannes mos in Openbaring dat nie nuwe stad, nie ‘n tempel sal hê (bedoelende kerk as instituut). Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. ‘n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommer as oor haarself. Die kerk moet ook leer om soos ‘n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ‘n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ens aangespreek word.

missional-churchDaarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. Leclerc skryf: “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C. S. Lewis calls “little Christs.” Dit vra dat die gemeente as Koninkryksgemeenskap haarself solidêr sal skaar by die wêreld. God was en is by die wêreld en daarom moet die geloofsgemeenskap vierkantig in die wêreld staan. Ons sal God eerder in die wêreld besig vind, as in die kerk. Daarom moet ons wees en aansluit waar God reeds besig is om te werk in Sy Missio Dei. Gelowiges moet gelei word om as Koninkryksburgers, “frontline” dissipels te wees in werkskepping, billike arbeidspraktyke, produktiwiteit en sosiale verantwoordelikheid.

Daarom is ‘n missionale ingesteldheid, ‘n broodnodige korreksie op die kerk-gesentreerde spiritualiteit. Die missionale ontwaking is die enkele grootste gebeurtenis na die Reformatoriese tydvak in die geskiedenis van die Christelike kerk. Dit gaan hand aan hand met die nuwe verstaan van die Trinitariese God wat in beweging is deur sy Missio Dei. Juis daarom moet die kerk tot bekering kom van sy narcistiese selfbeheptheid en ingekeerdheid in haarself. ‘n Moeder leef immers vir haar kinders en nie vir haarself nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

In die Nagmaal word ons opnuut verander na die liggaam van Christus.

IN DIE NAGMAAL WORD ONS OPNUUT VERANDER NA DIE LIGGAAM VAN CHRISTUS.

Ds Frik Kleinhans vertel die volgende staaltjie: “Ek sit ‘n Sondagoggend vroeg ‘n entjie van die kerk in my motor en wag. Ek moet die oggend die Woord op die buurdorp deel. Omdat ek sukkel om oor die weg te kom, sorg ek dat ek altyd heelwat betyds is.

Daar kom ‘n ou man aangesukkel. Ek hou hom dop, want hy sleep ook soos ek met twee kieries voort. By elke vuilgoedblik buk hy en krap daarin. Ek neem my voor om, wanneer hy by my verby kom, vir hom ‘n geldjie te gee om vir hom iets te kan koop om te eet. Hy beweeg stadig. Die kerk se hekke gaan oop, maar ek wag eers vir hom.

ab16049e9f1a63f0387279864ed09231Dan steek hy vas sowat 100 meter van my.Hy gaan sit op die kerk se muurtjie. Hy haal opgefrommelde plastiek sakke uit sy “baadjie” se sakke. Ook ‘n bottel met water. Dan sien ek die hond naderkom. Net so stadig. Die ou man neem ‘n stuk papier uit sy sak en vryf dit glad oop en sit op die grond neer. Dan gooi hy daar water op sodat die hond kan drink. Bietjie bietjie. Toe neem hy self ‘n sluk of twee. Hy maak nog ‘n sak oop en haal iets wat lyk soos ‘n stuk brood uit. Hy vryf dit skoon teen sy vuil klere. Toe breek hy ‘n stukkie af en gee vir die hond, die eet graag. Daarna hap hy ook en hulle eet en drink saam.

En die nagmaal kry vir my betekenis.”

Daar het ‘n stuk gemeenskap ontstaan tussen die ou man en die hond. So het Christus ook die gestalte van mens aangeneem, sodat hy met almal wat ‘n hondelewe op hierdie aarde het mee kon assosieer en hulle deel van sy nuwe gemeenskap kan kom maak.

Jesus het Homself kom assosieer met blindes, kreupeles, sondaars, prostitute, tollenaars, kindertjies, hongeriges, melaatses, weduwees, treurendes, duiwelbesetens en vele ander randfigure. Die Kanaänietiese vrou het haarself nie verniet as ‘n hond geag, wat daarop geregtig is op die krummels wat van die baas se tafel afval.

Daarom het Jesus gekom en ‘n nuwe gemeenskap kom skep. Die Nagmaal wil vir ons dieselfde sê. Maar kom ons kyk eers na die geskiedenis van die Nagmaal.

In die begin was daar net een kerk op die aarde, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk. In die 13 de eeu het die Pous die sogenaamde Transsubstansiasieleer geproklameer. Dit het beteken dat die brood werklik die liggaam van Christus word en dat die wyn werklik die bloed van Christus word.

Dit word letterlik getransformeerde in die letterlike liggaam (lyk) en bloed van Christus. Ons as Gereformeerdes glo dat die brood en wyn slegs tekens is van die Here se liggaam en bloed en dat daar niks bonatuurliks gebeur nie.

communion_table_redux_by_joshmaule-d3isuwr-pngZwingli antwoord op die vraag oor die “transsubstansiasie” (verandering van substansie) dat nie die brood en wyn verander nie, maar dat die gemeente van Christus nogeens / weer / opnuut verander word in dié in die “liggaam van Christus”. Daarom dat ons veel, veel meer Nagmaal behoort te vier. Calvyn het gesê wat by die Nagmaal behoort te gebeur: is die teenwoordigheid van Christus nie in of onder die brood en wyn nie, maar in die optel van ons harte na Hom, die Immerteenwoordige in hemel en op aarde.

Daarom is die doel van Jesus se koms om vir hom ‘n Bruid voor te berei. Sy doel is om ‘n nuwe gemeenskap van geheiligdes te skep, te midde van ‘n ontaarde en vervreemde mensdom.

Daarom praat Jesus in 1 Kor 12: 12 – 31 in groot liefde van sy gemeente, as ‘n nuwe skepping. Hy gebruik die voorbeeld van die kerk as Sy liggaam en dat ons elkeen deel het daaraan. Hy wil hê dat die lede onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar en so deel van God se nuwe skepping word.

Daarom is die kerk die kanaal van Jesus se liefde. Deur die kerk wil hy dié wêreld bereik en omhels. Hierdie nuwe gemeenskap se vernaamste eienskap is die LIEFDE. As’t ware word liefde die suurstof van die kerk van Jesus. Soos ‘n liggaam nie sonder suurstof kan leef nie, kan die kerk ook nie bestaan sonder liefde nie.

Daarom is die NG Kerk Adelaide deel van God se nuwe skepping. Dit is deel van Sy liggaam. Daarom lê daar by ons die verantwoordelikheid om te leef soos ‘n nuwe gemeenskap. Daarom moet ek en jy leef soos ‘n nuwe skepsel. Ons moet leef soos nuwe mense.

Nie die brood en wyn moet verander nie, maar God se kerk. Nie die brood en wyn moet verander nie, maar die Christen.

Somtyds vra ‘n mens jouself af waarom jy nie groei in jou geestelike lewe nie. Waarom ervaar ek so min van die Heilige Gees in my lewe?

Bavinck het op hierdie vraag soos volg geantwoord. Hy sê ons ervaar so min van die krag van die Heilige Gees in ons lewe omdat ons die Heilige Gees nie ten volle wil toelaat in ons lewe nie. Dan gebruik hy die beeld van die sakdoek. As ‘n mens in ‘n boot staan, met jou sakdoek bo jou kop, kan jy tog nie verwag dat die wind daardie boot van jou sal kan beweeg nie. Maar as jy die seile van die boot hys, sal kort voor lank die wind met mening die seile laat bol en sal die boot met prag deur die water klief.

Die vraag is nou egter of jy vir die Heilige Gees ‘n sakdoek uithou en of jy bereid is om jou oop te stel vir God se Gees. Het jy met ander woorde al toegelaat dat die Heilige Gees in jou lewe begin werk en jou verander in ‘n nuwe skepsel?

Die Hebreeuse word vir heilig beteken om “afgesonderd” te wees. Deur die heiligmaking wil God vir jou afsonder vir Hom en vir Sy diens. God wil hê jy moet as ‘n koning, profeet en priester vir Hom lewe. Elke dag moet jy groei na die ware bedoeling wat God met jou lewe het. Dit beteken dus ten diepste om te word soos Christus. Ja, dit is waar, in hierdie lewe sal ons dit nie kan bereik nie. Maar ons moet ten minste die Heilige Gees toelaat om ons lewe elke dag heiliger te maak, sodat ons almeer ‘n nuwe skepsel word.

Wat ek bedoel, is dit: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Gal 5:16). Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing….” (Gal 5:22)

Wat beteken dit onder andere om as Christen in die week die brood te breek en die wyn te skink in jou elke dag se lewe?

Ek as Christen kan die brood breek, as ek tyd afstaan aan bejaardes, randfigure, moedeloses, siekes en elkeen wat oor my pad kom. My naaste beteken mos inderdaad, diegene wat op hierdie oomblik fisies die naaste aan my is.

Christenwees beteken om in die moment te wees by diegene wat God in jou fisiese nabyheid geplaas het.

Om brood te breek en wyn te skink vir ander beteken dat ek regverdig en billik optree teenoor ander, dat ek genade betoon en dat ek barmhartig is. Verder beteken dit om verantwoordelikheid vir mekaar en ander vreemdes te neem. Dit beteken om betrokke te wees en om om te gee.

page35_picture0Ek breek brood en skink wyn, wanneer ek nie kwaadpraat en skinder van ander nie. ‘n Gemeenskap wat brood breek en wyn skink is ‘n positiewe gemeenskap wat in die feestelikheid van die Nagmaal deel en dit laat oorspoel in die gemeenskap waarbinne hulle lewe. Gelowiges, wat die Nagmaal verstaan, verstaan dat die Nagmaal ons oproep om kreatief ‘n nuwe gemeenskap in hierdie gebroke wêreld te skep. In Suid Afrika met sy skewe en gebroke reënboog, word ons nie geroep om heeldag te kla wat verkeerd loop in die land nie, maar om ons hempsmoue op te rol en elke dag ‘n verskil te maak. Om elke dag iets nuuts tot stand te bring. Nagmaalsmense is mense wat verander word om die wêreld te verander. Verandering bring nuwe energie, nuwe geloofsenergie. Nagmaalsmense haas hulle van die Nagmaalstafel om God se nuwe skepping te laat kom, deur aktiewe dissipelskap. Die kerk het nie nominale Christene nodig nie. Nee, God het behoefte aan dissipels wat ‘n ware verskil maak. Het die Nagmaal vir jou al verander in ‘n dissipel? AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.

RESPEK EN SORG VIR GOD SE WONDERBARE SKEPPING

Johannes Calvyn het gesê dat die onsigbare God, homself sigbaar maak in baie gestaltes. Veral Sy skepping is ‘n vingerafdruk van God se teenwoordigheid. Calvyn het van God se skepping gepraat as die “Teatrum Gloria Dei”. God het die skepping gemaak as ‘n verhoogteater, waar God kan terugsit en waardeer wat Hy gemaak het. Psalm 8 is ‘n lofpsalm van Koning Dawid, waar hy ook die grootheid van God besing. Die “Message – vertaling” van Eugene Peterson vertaal vers 1 as volg: GOD, brilliant Lord, yours is a household name.”

maxresdefaultPsalm 8 het 10 verse. Vers 2 en vers 10 omarm as’t ware verse 3 tot 9. In beide verse word die refrein herhaal: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!” So begin en eindig hierdie lofpsalm van Koning Dawid. Die verdere indeling van die Psalm is as volg: Verse 3 – 4 vertel van die grootheid van die skepping en verse 5 – 9 verklaar die verantwoordelikheid van die mens teenoor die skepping. Die skopus van Psalm 8 sou ‘n mens kon opsom met die volgende: Respek en sorg vir God se wonderbare skepping.

Vers 3 tot 4 besing die grootsheid van God. Hulle wat met kinderlike oë na God se skepping kyk, kan nie anders as om Hom te besing nie. God se teëstaanders, hulle wat te groot vir hulle skoene geraak het, die ateïste staan stomgeslaan en kan nie God se skepping verklaar nie.

handreligionInderdaad is God se werk te sien in die makro-kosmos, asook in die mikro-kosmos. Jy het ‘n teleskoop nodig om die oneindige dieptes van die heelal te verken en jou te verwonder aan die sterre en planete. God is nog steeeds skeppend besig om aan nuwe sterre en planete geboorte te gee.

Maar jy het ook ‘n mikroskoop nodig om die mikroskopiese wêreld en die geboorte van nuwe selle waar te neem. God is die God van sterre en mikroskopiese atome. Ons woon op ‘n wonderskone planeet met soveel verskeidenheid, dat natuurwetenskaplikes nog steeds nuwe ontdekkings maak. God is die God van wiskunde, fisika, chemie, elektronika en elke wetenskap wat aan universiteite nagevors word. God het geskep, ons kan maar net ontdek en in verwondering staan.

As jong seun het Dawid lang tye in die veld deurgebring om skape op te pas. Hy was dus in diepe verwondering as hy die hemelruim in die aand dop gehou het. As veldkind het hy homself ook verwonder aan die natuur rondom hom. Maar Dawid was diep bewus van sy kleinheid en sy afhanklikheid. Daarom was hy verwonderend gewees oor die feit dat God soveel verantwoordelikheid aan die mens gegee het.

AAEAAQAAAAAAAANJAAAAJDNhMGNmZjRmLWVmZDYtNDEzYS04MWQyLWEwODEzNWQ0MmIyMQDit bring ons by verse 5 – 9, wat handel oor die verantwoordelikheid wat God aan die mens gegee het.

God het die mens gekroon as Sy verteenwoordiger, amper ‘n hemelwese.

Hierdie mens moet met verantwoordelikheid regeer oor alles wat God gemaak het. God wil hê ons moet sorgsaam wees met sy skepping. Dit is deur te sorg, dat jy ‘n mens is. Maar helaas vernietig ons die mooie skepping met ons selfsug en hebsug en gierigheid. Boere kla dikwels oor die bobbejane wat hulle vrugteboorde verwoes en oral skade maak. Hoe moet God nie voel, as die mens oral waar hy kom, skade maak in God se wonderskone skepping. Hoe meer die mens ontwikkel, hoe groter word die rommel wat hy weekliks weggooi. In die ou tyd was die rommel en asgate baie kleiner gewees, want mense het verbruiksartikels oor en oor gebruik. Ons lewe in ‘n era waarin alles netjies verpak word, om maar net die verpakkingsmateriaal weer weg te gooi. So gebruik ons die grondstowwe op, tot nadeel van opkomende geslagte. Ons besoedel die lug, die grond, die water en die see. Die osoonlaag beskadig ons, wat lei tot aardververwarming met katastrofiese gevolge vir die toekoms. Die hartseerste is dat die Amerikaanse president Donald Trump, Amerika wil onttrek uit die klimaatsakkoord wat Obama in Parys onderteken het. Trump wil Amerika weer groot en ryk maak, ten koste van die gevaar van klimaatsverandering.

Daarom gaan die Evangelie nie net oor die redding van siele nie. Die Evangelie gaan ook oor die redding van die skepping. Rom 8: 22 sê die volgende: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.” God se reddingswerk is kosmologies en daarom moet ons inval om die skepping te red en te beskerm.

Een van die nadele van kolonialisme was dat lande soos Brittanje, Afrika se hulpbronne verslind het, ten einde skatryk te word. Die diamant en goudstormloop van ‘n eeu terug is die beste voorbeeld. Dikwels word Afrika uitgebuit deur ander lande, soos wat die Chinese tans met Suid-Afrika doen.

downloadDie beoogde skaliebreking in die Karoo deur Shell is ook ‘n voorbeeld hoe die Karoo se grondwater besoedel kan word. Dit sal ook die skoonheid van die Karoo vernietig.

Kortstondige wins vir Shell, met permanente skade aan die natuur vir almal.

Christene is mense wat “recycle”, wat “groen” dink en wat spaarsamig met grondstowwe omgaan. Christene is ingestel op natuurbewaring. Christenboere oorbewei nie hulle veld nie. Christene mors nie hulle rommel in die strate nie. Christene bewaar die oseane vir die nageslag.

creation-1Alles kom neer op twee woorde RESPEK en SORG. Ons moet God se handewerk respekteer en daarvoor sorg. Daarom is ons na die beeld van God gemaak. Wie van die natuur steel, steel van God.

Vers 6b sê dat ons, ons outoriteit van God kry, want Hy het ons met aansien en eer gekroon. Sonder God is ons niks. Daarom moet ons, ons outoriteit oor die skepping met verantwoordelikheid beklee. Daarom moet ons nie net die Evangelie van verlossing aan mense bring nie, ons moet ook die Evangelie van verlossing aan die skepping bring, deur bome te plant en die skepping te genees van die wonde wat die mens dit toegedien het. Die skepping is gemaak, dat die mens en God dit moet geniet. Daarom moet ons die skepping met RESPEK en SORG waardeer en al die lof aan die Here bring. Ons eer die Here, as ons Sy skepping oppas. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Om lou te wees, is die ergste.

OM LOU TE WEES, IS DIE ERGSTE

Laodisea is die sewende en laaste brief aan die sewe gemeentes in Klein-Asië.

laodicea

Die drie sustergemeentes in Frigië was Kolosse, Laodisea en Hiërapolis. Hulle is waarskynlik gestig deur Epafras. Laodisea was ‘n bekende handelstad in die hoogbloei van die Romeinse Ryk. Laodisea het die banksentrum van Klein – Asië geword. Die Jode en Christene het voordeel getrek uit die voorspoed van die stad.

Die voorspoed het gelei tot ‘n misplaaste selfvertroue en die stad het ‘n meerderwaardigheidsgevoel gehad. Die inwoners het in materiële voorspoed, in uiterlike swier en fisiese gesondheid geleef.

Die stad Laodisea was skatryk. Na die geweldige aarbewing in 60 nC het Laodisea sonder die hulp van Rome self hulle stad heropgebou. Die stad was selfs mooier na die aardbewing. As handelstad en banksentrum het Laodisea gefloreer.

Laodisea het ook in swier geleef. Die stad was wêreld bekend vir die kosbare materiale en klere wat daar gemaak is. Veral die donkerkleurige wolprodukte wat daat vervaardig is, het van Laodisea ‘n modesentrum met die nuutste modes elke seisoen gemaak.

Behalwe vir Laodisea se tekstielbedryf en bankwese, was die stad ook bekend vir die mediese skool wat daar gevestig was. Dié skool het veral uitgeblink in oorsalf en oogpoeier.

Die brief begin deur die verklaar dat Christus die AMEN is en die geloofwaardige getuie, wat alles sien. Daarom gee die inleiding gesag aan die brief, deurdat die brief inderdaad van God en Christus kom.

Dan skryf Johannes, dat die gemeente van Laodisea, gedink het dat hulle ryk is en niks nodig het nie, maar hulle is eintlik arm, blind en kaal. Die ryk bankwese, oogsalf en die duur wolprodukte kan nie opmaak vir hulle geestelike armoede, blindheid en naaktheid nie.

calcium-3

Die gemeente van Laodisea het egter twee tekortkominge gehad, naamlik die aardbewing, asook die voortdurende tekort aan water. Laodisea het ‘n watertekort gehad. Hiërapolis het vuurwarm water gehad, as gevolg van die warmwaterbronne, wat daar was.

Kolosse weer het heerlike koel water gehad.

Om Laodisea se waterprobleme op te los is pypleidings gelê van Hiërapolis na Laodisea. Die water het oor ‘n kalkkrans gestort en die louwarmwater het in Laodisea aangekom. Dit was egter amper ondrinkbaar weens die louwarm temperatuur en die hoë kalkinhoud in die water. Dit was net goed gewees om uitgespoeg te word.

Water-supply-at-the-ancient-ruins-of-Laodicea

Daarom dreig Christus om Laodisea uit te spoeg, want hulle het louwarm in hulle geloof gewees. Was hulle maar soos die warm water van Hiërapolis of die koel water van Kolosse, maar nou is hulle lou.

Hulle word as’t ware aangemoedig om weer te “kook” vir die Here en hulle louheid in hulle godsdiens te laat staan.

As jy die Here wil dien, moet jy dit voluit doen en nie halfpad nie. Hierdie gemeente is geknou deur ‘n tevrede en selfgenoegsame ingesteldheid.

laodicea-church2-260x195

Die gemeente was soos ‘n groen boom met blare, maar het glad nie meer geestelike vrug gedra nie. Die ergste was dat hulle nie eers besef het hoe ellendig en beklaenswaardig hulle was nie. Hulle was geestelik heeltemal veragter.

Dan word Laodisea opgeroep om drie dinge te doen om hulle te verlos van hulle armoede, blindheid en naaktheid.

Eerstens, moet hulle goud koop wat deur vuur gelouter is. Nie materiële rykdom nie, maar geestelike rykdom moet hulle bekom, self al moet hulle gelouter word deur die vuur van martelaarskap.

laodicea

Tweedens moet hulle wit klere koop om hulle naaktheid te bedek. Nie die swart wolklere van Laodisea of die purperrooi wolklere van Kolosse of die pragtige gekleurde wolmateriaal van Hiërapolis moet hulle kleding wees nie.

Nee, die wit klere wat Christus voorsien moet hulle aantrek om hulle naaktheid te bedek. In die Joodse kultuur om naak te wees, was ‘n skande. Christus wil hulle, egter weer met waardigheid klee.

Derdens, word die blindes aangemoedig om oogsalf aan hulle oë te smeer om geestelik te kan sien, wat regtig in die lewe belangrik is. Hulle moet nie staatmaak op die oogsalf wat van verpoeierde Frigiese sandsteen gemaak is nie. Dit het die gemeente van “Laodisea” blind gemaak van selfvoldaanheid, sodat hulle nie hulle geestelike agteruitgang gesien het nie. Die Christene moet weer geestelike “wysheid” by Christus gaan koop om weer te kan sien wat regtig in die lewe belangrik is.

laodicea (1)

In vers 19 word daar gesê dat Christus bestraf en tug elkeen wat Hy liefhet. Die Here het die gemeente in Laodisea nog lief.Daarom keer Hy nie Sy rug op die gemeente nie. Nee, Hy roep hulle op om hulle te bekeer.

Christus, word voorgestel as dié Een van klop en die gelowige en die gemeente moet oopmaak. Dit beteken dat Christus buite die gemeente staan en verlang om in te kom. So kan ‘n gemeente baie agendas hê, wat Christus eintlik uitsluit uit sy eie eiendom, naamlik die gemeentes wat Hy tot Sy dood liefgehad het. Christus wil inkom en saam met Sy gemeente feesmaal hou. Om saam te eet, beteken innige verbondenheid met mekaar en met Christus. Wie oorwin, sal saam met Christus op die troon sit. Dit beteken, hulle sal saam met Christus oorwin en regeer.

Weereens kom die refrein, dat ook Laodisea moet luister na wat die Gees sê. Die Gees kan die bekering in die gemeente bewerk.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Swak, maar geestelik sterk.

SWAK, MAAR GEESTELIK STERK

Die sesde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Filadelfia geskryf. Die argitekte van Klein – Asië het ‘n moeilike taak gehad. Hulle moes in al hul berekeninge voorsiening maak vir die moontlikheid van aardbewings. Dit het algemeen in Klein – Asië voorgekom. In die jaar 17 nC is elf stede van Klein – Asië, ingeslote Filadelfia deur ‘n aarbewing vernietig. Filadelfia is deur Keiser Tiberius vir 5 jaar van enige belasting vrygestel. Daarom het die inwoners die naam Neosesarea as deel van hulle naam bygevoeg.

philadelphia (1)Daarom spreek vers 12 so bemoedigend: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly ….” Geen aardbewing kan die geestelike pilare in God se tempel beskadig nie.

God borg stabiliteit vir elkeen wat volhard in God. As jy ‘n geestelike pilaar is in die tempel en teenwoordigheid van God, sal God se naam op jou geskryf staan. Dit verwys na die heidense gebruik, waar uitsonderlike mense wat ‘n groot bydrae gemaak het aan die Griekse samelewing se name gegraveer is op die pilare wat spesifiek vir hulle gebou is in die Griekse tempel. So sal elke Christen ‘n ewige pilaar wees in die tempel van God. Daar sal met ander woorde ‘n naamsverandering kom. Die naam van Christus sal nou op die gelowiges as pilare van God se tempel geskryf staan.

Die stad Filadelfia wat “liefde vir die broer” beteken was op die hoofroete tussen Europa en die Ooste gewees. Filadelfia het duisende besoekers gelok na sy warmwaterbronne en mediese klinieke omdat die stad op die rand van ‘n vulkaniese formasie geleë was. Daar was altyd ‘n stuk spanning in Filadelfia, wanneer kom die volgende aardbewing. Die Griekse wyngod Dionusios is dan ook in die stad vereer.

FiladefiaIn 92 nC onder bewind van keiser Domitianus is ‘n wet uitgevaardig dat die wingerde van Filadefia vervang moet word met graanlande om kos vir die weermag te voorsien.

Dit was eerder om Italië se wynbedryf te bevorder, ten koste van Klein – Asië. Dit was ‘n ernstige ekonomiese terugslag vir die brose Filadelfia.

Filadelfia se Christelike gemeente was klein, swak en het nie groot aansien geniet nie. Diep onder die besef van hulle kwesbaarheid, was hulle egter onberispelik in hulle Christelike lewenswandel. Saam met Smirna, was dit die eniste twee gemeentes wat nie gewaarsku of tereg gewys is nie. Hoe sê Paulus: “As jy swak is, is jy sterk.” Daarom het hierdie gemeente geestelik uitgeblink as ‘n getroue gemeente wat volhard het in die Christelike geloof en hoop. Waarskynlik was die meewerkers van Paulus verantwoordelik vir die stigting van die gemeente. Hierdie gemeente het hulle nie van stryk laat bring deur die Jode, Romeine of oorheersende heidense kultuur nie. Heelwat later toe die Islam in Klein – Asië begin floreer het, het hierdie gemeente nog kragtig voortbestaan.

Tog het hierdie gemeente dit nie maklik gehad nie. Probleme met die Jode was ‘n daaglikse probleem. Veral die Joodse gemeenskap het die Christene uit die sinagoges verdryf en hulle as ketters gebrandmerk, omdat hulle in Christus geglo het. Dit het daartoe gelei dat die Jode die Christene beskinder en beswadder het by die Romeinse owerhede, wat op hulle beurt weer saam met die Jode, die Christene mateloos vervolg het.

keeper-of-the-keysDaarom het die apostel Johannes, onder leiding van die Gees geskryf dat God vir die Christene ‘n ewige deur na Sy Koningkryk oopsluit. God self het die sleutel en is daarom die Sleuteldraer.

Die deure wat deur die Jode toegesluit word, sal vervang word met ‘n oop deur na Christus se Koninkryk. Christus, wat die Seun van Dawid is sal self hierdie deur vir die Christene oopsluit en niemand sal dit kan toesluit nie.

Nog ‘n belofte wat aan die gemeente gemaak is, is dat God aan hulle die oorwinnaarskroon sal gee, as hulle aanhou om te volhard op die goeie pad wat hulle reeds is. Hierdie beeld kom uit die atletiekwêreld, waar die wenner ‘n oorwinnarskroon ontvang het.

Philadelphia

Hierdie brief aan die gemeente Filadelfia het vir elke gemeente wat nie groot of sterk is nie, die wonderlike vertroosting dat God nie oordeel op grond van die lidmaat getalle of finansiële state nie. God kyk na die geestelike rypheid en volharding van ‘n gemeente. Daarom kan God ‘n klein gemeente net so kragtig gebruik, as wat Hy ‘n makro gemeente gebruik. Dikwels vind ‘n mens in ‘n klein gemeente, ‘n groter betrokkenheid as in ‘n groot gemeente. ‘n Gemeente of lidmaat wat swak voel, is eintlik sterk, as daar na die Gees geluister word. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Met rykdom in die pot, is die dood ook in die pot van Sardis.

MET RYKDOM IN DIE POT, IS DIE DOOD OOK IN DIE POT VAN SARDIS.

Die vyfde brief wat die apostel Johannes geskryf het van die eiland Patmos, was aan die gemeente Sardis in Klein-Asië, wat vandag as Turkye bekend staan. Die vernaamste handelsroetes het deur Sardis gegaan en daarom was dit ‘n skatryk handelstad. Sardis het veral twee kenmerke gehad.

220px-British_Museum_gold_coin_of_Croesus

Eerstens was die stad baie ryk gewees. Die legandariese Koning Kroesus, koning van Lidia (560 – 546 vC) was deel van Sardis se geskiedenis. Volgens ‘n legende het alles waaraan hy geraak het in goud verander.

Die eerste muntstukke van Klein – Asië is ook in die tyd van Koning Kroesus gedruk. Sommige beskou Sardis as die begin van die moderne geldstelsel van munte. Behalwe dat Sardis ‘n uitstrewende landboustad was, het die stad ook ‘n uitgebreide tekstielbedryf gehad. Wol is na Sardis gebring en verwerk in gesogte gekleurde wol. Dit was ‘n kosmopolitiese bevolking met baie vreemde invloede.

sardis-fortifications-of-the-ancient-walls-on-t

Tweede eienskap van Sardis was dat dit militêr strategies baie goed geleë was. Die Akropolis is gebou op ‘n vertikale rotsgleuf, wat dit slegs van die suide toeganklik gemaak het vir die vyand. Later is die stad uitgebrei na die vrugbare vallei in die suide.

Desnieteenstaande die feitlik onmoontlikheid om die stad te verower is dit twee keer in die geskiedenis verower, as gevolg van wagte wat geslaap het. Dit is in 546 vC deur die Perse verower en in 214 vC deur Sirië verower.

Die Siriese koning het toe 2000 Joodse gesinne van Mesopotamië in Klein -Asië gevestig en daarom was daar ook heelwat skatryk Jode in Sardis gewees. Volgens Josefus se geskrifte het die Joodse sinagoge jaarliks groot bedrae oorbetaal aan die tempel in Jerusalem.

Ook toe die stad in 17 nC deur ‘n aardbewing vernietig is, is dit spoedig herstel, as gevolg van die rykdom van die stad.

Die feit dat Sardis baie ryk was en militêr feitlik onoorwinbaar was, het die inwoners en ook die Christene van Sardis ‘n valse gevoel van veiligheid gegee. Hulle het selfgenoegsaam en selfsugtig geword en het niemand nodig gehad nie.

Dit het veroorsaak dat die Christelike gemeente in Sardis skatryk was in materiële sin, maar geestelik dood was. Dit was en is ‘n verskriklike ding om te sê, ‘n gemeente is dood. Maar Sardis was geestelik dood, mossiedood.

ArtemisAerial

Die beskermgodin van Sardis was Artemis en sy is dan ook in die stad aanbid as die godin van lewe en onsterflikheid. Daar is begin bou aan die tempel vir Artemis, maar dit is nooit voltooi nie.

Johannes begin met die brief deur in vers 1 te sê “So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het.” Die sewe beteken die volheid van die Gees. Dit herinner ook aan Sagaria 4: 2, 10 waar die kandelaar 7 tuite en sewe lamppitte het. Die 49 ligpunte is onuitblusbaar en gee ‘n helder lig af, wat die teenwoordigheid van die Here simboliseer. Dit is in hierdie lig wat die Here vir Serubbabel gemotiveer het om die tempel te voltooi. Netso kan net die Heilige Gees in sy volheid die sluimerende en dooie Sardis weer opwek. Christus en die Gees, hou die sleutel vir die opwekking van Sardis.

In vers 2 spreek die Gees dan ook: “Word wakker ……” Die gemeente van Sardis is soos die stad Sardis wat twee keer verower is deur die Perse en Lidië, toe die wagte geslaap het. Die stad moet nie staatmaak op sy goeie strategiese ligging of sy rykdom nie. Sardis het sluimerend geestelik dood gegaan. Selfgenoegsaamheid maak dat jy nie meer waaksaam is nie.

Te veel voorspoed en rykdom, kan jou stadig maar seker geestelik doodmaak. Dit is soos ‘n padda wat in ‘n ketel koue water gegooi word en die water baie stadig verhit word. Die padda kom nie eers agter die water verhit nie. So lewend word hy stadig doodgebrand in die water wat verhit word. ‘n Tydsgees kan jou ook stadig maar seker geestelik doodmaak. Juis daarom moet ons ekstra versigtig wees vir die tydsgees van die dag.

Die oplossing word in 5 bevelsinne uiteengesit:

  1. Word wakker (Vers 3:2a)

  2. Versterk wat nog by julle oorgebly het. (Vers 3:2b)

  3. Onthou hoe julle die Evangelie ontvang en daarna geluister het. (Vers 3:3)

  4. Hou daarmee vol. (Vers 3: 3b)

  5. Bekeer julle. (Vers 3:3c)

    Maar alles in Sardis is darem nie net sleg nie. Deur elke gemeente loop daar ‘n breë en ‘n smal pad.

    Ook in Sardis was dat Christengelowiges wat nie afgodsvleis geëet het nie en nie onsedelikheid bedryf het nie en hulself nie gemeng het met die leer van Isebel en die Nikolaïete nie. Hulle reinheid het hulle nog nie verloor nie. Hulle was soos die wit wol wat in Sardis aangekom het en nog nie verkleur is in verkleurde wol nie. Sardis het hulle nog nie besoedel en gekleur in die tydsgees van die dag nie. Hule sal spierwit klere dra,

    white_dress_purity

    Die brief word afgesluit met die belofte, dat hulle wat rein gebly het en nog geestelik lewe sal die wit kleed van oorwinning dra. Dit is die klere wat Christus deur Sy dood en opstanding verdien het. Hulle wat oorwin se name sal ook nie uit die boek van die lewe gehaal word nie. In die hellenistiese tydperk het elke stad, ‘n stads – of staatsregister gehad. Jou naam het dan in hierdie stadsregister verskyn as inwoner. As jou naam in die stadsregister was het jy ook bepaalde burgerregte geniet. Mense wat gruwelike misdade begaan se name sou dan uit die stadsregister verwyder word. Johannes gebruik die beeld om aan ons te toon dat elkeen wat die oorwinning behaal se naam sal in God se boek van die lewe opgeteken staan en sy of haar naam sal nooit uit God se naamsregister verwyder word nie. God sal self getuienis gee, dat so ‘n gelowige aan Hom behoort.

    Dan word die brief weer afgesluit met die bekende refrein, dat elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê. Alleen die Gees kan heelmaak en nuutmaak. Daarom moet ons na die Gees luister. AMEN

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)