Die kerk moet aansluit by die Missio Dei.


DIE KERK MOET AANSLUIT BY DIE MISSIO DEI.

Die meeste kerke en gelowiges sit met ‘n ongesonde soteriologie, van persoonlike saligheid wat voorop staan en van ons geestelike vampiere maak wat Jesus se bloed van geregtigheid, slegs gebruik vir persoonlike gewin. Wie so dink, maak van die geloofsgemeenskap ‘n narcistiese gemeenskap. Hierdie verskraalde Evangelie neer op veral drie punte (a) Jesus het aan die kruis gesterf, (b) Ons moet tot bekering en geloof kom, en (c) wanneer ons sterf gaan ons hemel toe. Willard gebruik die woorde “salvation cut off from life”. Daarmee bedoel hy dat die hemel  geskei word van die teenswoordige lewe. Die kerk word bloot sielesoekers wat weer die sukses en die ambisie van die sekulêre versoeking bevredig. Dan word God en al sy heerlikheid verduister deur die mens en sy behoeftes. Spirituele leiers kan so slagoffers word van ‘n verbruikers-teologie, wat ligjare verwyder is van ‘n Missio Dei – teologie. 

 Tereg verwys kan verwys word na die filosofiese skuif van Ptolomeus na Copernicus. Ptolomeus, ‘n 2 de eeuse Egiptiese sterrekundige het geglo die aarde is die vaste punt en die son en sterre draai rondom die aarde. In die 16 de eeu het Copernicus die orde omgegooi deur te bevestig dat die son die vaste punt is, waarom die aarde draai. In ‘n verbruikersteologie is die mens die vaste punt en God sien om na die mens se behoeftes.

Portrait of Nicolaus Copernicus

As ons egter Copernicaans dink, is God die sentrum en vaste punt, waarvan die mens sy bestaan te danke het. Dan dink ons Teo-sentries en nie meer homo – sentries nie. Hierdie is ‘n noodsaaklike omwenteling wat ons in spiritualeit nodig het. Die Triniteit  ‘n beweging, “a movement” van God na sy skepping en alles wat Hy onder sy heerskappy gestel het. God Drie – Enig beweeg van Homself uit en niks kan Hom keer nie. Dit is ‘n beweging wat regdeur die Heilige Skrif loop en vandag nog net so ‘n realiteit is en as sulks deur die kerk ervaar word. Die geloofsgemeenskap moet haarself verstaan as ‘n gestuurde gemeenskap wat leef uit die Missio Dei van die Triniteit. Van Genesis tot Openbaring is God die handelende, lewende kreatiewe skeppende God wat uitbeweeg in die wêreld.

In ons gelese gedeelte in Rom 8: 18 – 27 word verklaar en bevestig dat lyding deel is van die teenswoordige lewe, maar dat ons geroep word om saam met God die heerlikheid te verwag en te laat kom.

Ons lees van 3 sugte:

1 ste Sug is die sug van die skepping. Dit beteken elke stukkie materie lewend en dood is aan verganglikheid onderwerp. Dit sluit in menslike ellende, ekologiese ellende, materiële ellende ens. Die ganse kosmos verlang om heel gemaak te word.

Die 2 de sug, is die sug van God se kinders. As gelowiges het ons dit nie maklik om Geesvervuld in ‘n ontaarde en korrupte samelewing te lewe nie. God se kinders moet ook die sug hê dat ander mense deel word van God se Koninkryk.

Die 3 de sug, is die sug van die Heilige Gees. Saam met ons en die skepping pleit die Gees met versugtinge dat alles nuut gemaak sal word.

Jesus se bloed het volgens Joh 3:16 gevloei vir dié wêreld. Christus het die ganse kosmos kom verlos in die aanbreek van die nuwe hemel en aarde. Daarom is die nuwe hemel en nuwe aarde nie iets wat eers eendag gebeur nie. In Christus het die nuwe hemel en aarde reeds kom inbreek in ons werklikheid en in ons kontekste. Iets van die hemel moet nou alreeds sigbaar word op hierdie aarde. Daarom het die Here ons leer bid: Laat u wil geskied op die aarde, soos in die hemel.” Daarom moet ons sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees. Daarom bid ons in die Onse Vader gebed: “Laat U Koninkryk kom”.

Daarom moet ons onthou: Jesus u gaan voor. Ons volg in u spoor. Dit beteken dat Jesus Christus alreeds die verlossingswerk met ‘n “bulldozer” oopgestoot het. Ons kan net met die pikke en grawe die afrondingswerk doen.

missional-church_imageMaar sug ons nog oor die gebroke skepping en gebroke mensheid of het ons apaties dit maar net aanvaar. Dan moet ons weer ‘n slag die SUG van die Gees hoor en as dissipels met pikke en grawe voortgaan, met wat Christus reeds begin het. Daarom begin dissipelskap met mense wat opgewonde is oor die nuwe wêreld wat nou alreeds aangebreek het en wat ‘n droom en visie het van hoe die Koninkryk van God nou al kan deurbreek in hierdie wêreld. Dit is mense wat nie wag vir beter dae nie, maar nou alreeds die hemel begin vergestalt in hulle elke dagse lewe.

Spirituele formasie het alles te doen met die missionale konteks. Alle kontekste moet onder die heerskappy van Christus geplaas word. Christus Jesus moet geïnkarneer (embody) word in elke lewensfeer van die mens se bestaan. Dit het kosmiese implikasies.

Die Koninkryk van God is eerste en dan die kerk. Die Koninkryk van God is ewig, maar die kerk is tydelik. Daarom sê Johannes mos in Openbaring dat nie nuwe stad, nie ‘n tempel sal hê (bedoelende kerk as instituut). Geestelike formasie vra waagmoed en ‘n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ‘n profetiese gemeenskap word, wat nie narcisties die kerk preserveer om maar net instand gehou te word nie. Dit vra om te “engaged” met die wêreld. Die kerk is daar om die wêreld te verander en nie om haarself instand te hou nie. ‘n Goeie moeder is meer oor haar kinders bekommer as oor haarself. Die kerk moet ook leer om soos ‘n goeie moeder meer bekommerd te wees oor haar kinders in die wêreld as oor haarself. Storey sê: “God’s love affair was not about the church, but the world.” Die kerk moet ‘n nuwe droom en visie kontekstualiseer, waarin armoede, werkloosheid, onreg ens aangespreek word.

missional-churchDaarom moet die kerk mense dissipel, om ware navolgers te wees van Christus. Deur geestelike formasie word mense geskaaf tot “Christ-shaped” dissipels wat soos Jesus leef en optree. Maar die hele geloofsgemeenskap moet “Gospel-shaped” word wat ‘n transformerende geloofsgemeenskap moet word wat werk met die agenda van die lewende Christus. Leclerc skryf: “Spiritual formation refers to the transformation of people into what C. S. Lewis calls “little Christs.” Dit vra dat die gemeente as Koninkryksgemeenskap haarself solidêr sal skaar by die wêreld. God was en is by die wêreld en daarom moet die geloofsgemeenskap vierkantig in die wêreld staan. Ons sal God eerder in die wêreld besig vind, as in die kerk. Daarom moet ons wees en aansluit waar God reeds besig is om te werk in Sy Missio Dei. Gelowiges moet gelei word om as Koninkryksburgers, “frontline” dissipels te wees in werkskepping, billike arbeidspraktyke, produktiwiteit en sosiale verantwoordelikheid.

Daarom is ‘n missionale ingesteldheid, ‘n broodnodige korreksie op die kerk-gesentreerde spiritualiteit. Die missionale ontwaking is die enkele grootste gebeurtenis na die Reformatoriese tydvak in die geskiedenis van die Christelike kerk. Dit gaan hand aan hand met die nuwe verstaan van die Trinitariese God wat in beweging is deur sy Missio Dei. Juis daarom moet die kerk tot bekering kom van sy narcistiese selfbeheptheid en ingekeerdheid in haarself. ‘n Moeder leef immers vir haar kinders en nie vir haarself nie. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s