God roep ons om getrou en ontvanklik te wees. (Mat 13: 1 – 9, 18 – 23)


GOD ROEP ONS OM GETROU EN ONTVANKLIK TE WEES

In moderne boerderypraktyke, is die effektiwiteit van die saaiproses baie belangrik.

farmer-on-farmland-with-tractor-and-sower-sow-cereal-crops-closeup-4k_hpokn1ax__S0000Hedendaagse saaimasjiene bepaal met rekenaarpresisie die diepte van die grond en die hoeveelheid saad per hektaar. Masjiene trek voortjies, die saadkorrel word op die regte diepte geplant en weer toegetrek in een beweging, sodat daar geen kans is dat die saad verkore kan gaan nie.

Maar God is ‘n anderste saaiboer. Hy saai roekeloos op alle plekke. Hy vermors as’t ware die saad omdat Hy so roeleloos vrygewig saai. Vir God gaan dit nie oor die produktiwiteit nie, maar om getrou te wees in die saaiproses. Die inset is vir God belangriker as die uitset. Vir die mens gaan dit oor die maksimum uitset, maar vir God gaan dit oor die maksimum inset. God is roekeloos vrygewig met die saaiproses.

In die gelykenis is ons tegelyk die saaiers en die grond.

Die gelykenis het dus twee fokus areas, naamlik:

a.) God roep ons om getrou te wees. (saaiers)

b.) God roep ons om ontvanklik te wees. (grond)

Ons gaan na elkeen van die twee fokus areas kyk.

Kom ons begin by die eerste:

a.) God roep ons om getrou te wees.

Die eerste perspektief is dat God die saaier is en van ons mede saaiers maak, wat die Woord moet saai. Hierdie gelykenis wil vir ons bemoedig om nie moedeloos te raak as ons min vrug sien op ons getuienistaak nie. God berei ons as’t ware voor dat daar verskillende menseharte is, wat verskillend op die Woord reageer. Ons moet net aanhou die Woord saai. God roep ons as’t ware op om getrou te wees in die saai van die Woord. Moeder Theresa van Kalkutta het dit raak beskryf: “God roep ons om getrou te wees, nie suksesvol nie.”

parable-of-the-sower-and-seedsOns sien elke dag hoe mense onder die verkondiging van die Woord, hulle rug op God draai. Hulle sak uit in die geloof. Hulle gaan minder kerk toe en later glad nie meer. Die Here Jesus sê ons moet nie daaroor moedeloos wees nie, maar weet dat dit so sal wees. Baie dikwels word die dinamika van alle gemeentes as volg beskryf. Een derde is aktief en is warm vir die Here. Die tweede derde is lou. Jy kan hulle met baie moeite betrokke probeer kry in die gemeente. Die laaste derde is heeltemal koud vir die Here. Hulle inset in die gemeente is zero. Hulle het al heeltemal van God vergeet of hulle rug op God gedraai. Hierdie tendens kom regdeur die statistieke van alle gemeentes na vore. Jy kry die tendens in elke gemeente. Juis daarom het die Here ons in die gelykenis aangemoedig om roekeloos die Woord te saai, ook by hulle wat heeltemal onverskillig lewe.

bd1bf35809400801bc977e7945bdcabaOns hoef nie altyd suksesvol te wees in die saai van die Woord nie, maar ons moet getrou wees en oral saai. Dit is ons taak om te saai, maar dit is God se taak om die saad te laat opkom en dit te oes. Martin Luther het by geleentheid gesê, dat sy taak is net om te saai. Terwyl hy sy Wittenbergse bier drink, werk God in die verborgenheid en kom die Koninkryk ook op plekke waar jy dit die minste verwag. Teleurstelling in mense is ‘n gegewe. Ons moet dit so aanvaar. Die Here sê so sal dit wees. Nie almal sal ewe ontvanklik vir die Woord wees nie.

‘n Stukkie agtergrond sal die moderne leser help. Daar was twee aanvare maniere om te saai. Die eerste manier was om eers te ploeg en dan te saai (soos vandag). Maar daar was ook ‘n manier van eers saai en daarna die saad inploeg. In hierdie gelykenis is die tweede manier van saai, waarskynlik die gebruik gewees. Dit is waarom die saaier nie geweet het waar die klippe en onkruid verborge lê nie en waarom die voetpaadjie later sou ontstaan nie. Die gelykenis wil die saaier aanmoedig om te saai, al weet hy nie wat die uitkoms van die oes gaan wees nie – aangesien die ploeg eers later in die grond sal kom. Die saaier kan nie vooraf bepaal waar die saad vermors gaan word nie.

Die tweede fokusarea van die gelykenis is:

b) God roep ons om ontvanklik te wees.

Soos daar in die gelykenis 4 verskillende grondsoorte is, so is daar 4 verskillende soorte harte wat op die Here se Woord (die saad) reageer.

the_parable_of_the_sower-1024x535

Daarom roep die gelykenis ons op om tegelyk saaier te wees en ook andersyds ontvanklike grond te wees vir die Woord van die Here.

Die Here verduidelik dat daar vier soorte grond is. Die eerste grond word ‘n voetpad en die voëls pik die saad op. Voëls word dikwels in verband gebring met die duiwel. Dit is mense wat die woord hoor en hulle dadelik verset teen die Woord en die saad word weggepik deur die duiwel. Daar kom eenvoudig niks van die Here se Woord tot reg in hulle lewe nie.

Die tweede grondsoort het net ‘n dun lagie goeie vogtige grond, maar direk daaronder lê die klipbank. Dit is verstaanbaar dat die saad in die vogtiger dun bolaag grond vinnig ontkiem het. Maar as die wortels die klipbank tref, het dit gou verwelk. Aanvanklik word die Woord van die Here met groot blydskap aangeneem, maar sodra die eise en bekommernisse van die lewe teenwoordig word, verwelk die bekering en toewyding aan die Here. ‘n Mens tref dit baie op geestelike kampe aan, dat jongmense vuur en vlam hulle harte vir die Here gee. Maar as hulle eers weer terug is by die huis en skool en hulle word gekonfronteer met probleme, dan sterf die bekering ‘n spoedige dood.

Die derde grondsoort is die saad wat tussen die onkruid gesaai word. Dit is mense wat die Woord van die Here aanneem en ‘n tyd lank goed groei. Maar dan kom die versoeking van wêreldse glans, glorie en rykdom en verstik die Woord van die Here. Die plante word geel en vrek later heeltemal.

Die vierde grondsoort is die vrugbare goeie grond, waarop die saad val en ‘n oes oplewer van dertig, sestig en honderdvoudig. Dit is iemand wat die Woord ontvang, aanneem en alles los en die Here volg. Dit is hulle wat volhard in die dinge van die Here. Binne die konteks van die teks sou ‘n dertigvoudige opbrengs al ‘n wonderwerk wees en ‘n klein gemeenskap sou daarmee gevoed kon word. ‘n Sestig en hondervoudige oes sou beteken vooruitgang en rykdom. Wie die Here aanneem deel in die geestelike vooruitgang en rykdom wat die Here vir ons wil gee.

Daarom daag die gelykenis ons tweeledig uit, naamlik om getroue saaiers te wees, maar om ook aan die ander kant ontvanklike grond te wees vir die Here se saad. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s