SKRIFLESING: Mat 6: 13 en Jak 1: 12 – 15
Luister na die verhaal van Ds. Walter Luthi, ’n Duitse teoloog: Hy vertel van die geslepe ou jakkals wat ’n plattelandse dorpie geteister het. Elke nag het hy hoenders, duiwe en lammers gevang.
’n Paar opgeskote seuns het besluit hulle sal hom vang, ’n tou om sy nek bind en met hom deur die strate paradeer. So sal hulle die onbetwiste helde van die dorp wees. So gesê, so gedaan. Met ’n gelukskoot kom hulle op die lê-plek af. Dadelik kommandeer hulle die jongste onder hulle, die skraalste, om by die gat in te kruip, natuurlik om die jakkals te vang en uit te bring. Vol bravade duik die seun in die gat in. Triomfantelik roep hy: “Ek het hom. Ek het hom. Ek het hom!” Maar toe begin die grond te bewe en die stof slaan op. Doodsbenoud roep die seun: “Hy het my! Hy het my! Hy het my! Eina! Hy het my!” So gaan dit ook met versoekinge. Jy dink nog jy beheer dit, dan beheer dit jou.
Soos wat om honger te raak en te eet, alledaags is – net so is versoekinge deel van die daaglikse lewe. Ons kan ons lewe amper nie daarsonder voorstel nie. Soos wat ons bid om ons daaglikse brood, net so moet ons bid om bewaar te word van die versoekinge. Hierdie sesde bede erken die feit dat ons daagliks in ’n worstelstryd is teen allerlei versoekinge.

Laat ons onsself nie mislei nie. Versoekinge is ’n realiteit waaraan ons nie kan ontkom nie. Selfs die heiligste onder ons kom in versoeking. Hoe heiliger jy leef, hoe hewiger die versoekinge. Ons word gedurig aangeval. Luther het dan ook versoekinge vertaal met aanvegtinge.
As ons aan versoekinge dink, dan dink ons onwillekeurig aan versoekinge wat op seksuele gebied lê. Maar daar is veel meer, oneindig meer: soos byvoorbeeld om oneerlik te wees in die eksamen, of om ’n leuen te vertel, of om mekaar af te kraak en te beskinder en nog meer. Ons het gesê versoekinge kan vertaal word met “aanvegtinge.” Maar wie val ons aan?
Beslis nie God-Drie-Enig nie. Hy wil net goed doen aan sy kinders. Jakobus sê vir ons baie duidelik in Jak 1: 13 dat God niemand kan versoek nie. Beproewinge kom van God om ons sterker te maak, maar versoeking kom van die duiwel om ons af te breek en te laat sondig.
Die Heidelbergse Kategismus sê die bose-drie-eenheid val ons gedurig aan. Dit is die volgende:
- Satan,
- die wêreld
- en ons sondige natuur
Versoekinge kom gekamoefleer na jou. Sonde kom nie in kapsules na jou, waarop “sonde” geskryf staan nie, maar as “sjokolade”, by wyse van spreke. Die gif van sonde word in ’n sjokoladestafie vir jou aangebied. Dit is moeilik om dit te weerstaan.

Eva en Adam het die vrug begeerlik gevind nadat die duiwel hulle verlei het om dit te eet. Die duiwel het gesê dat hulle soos God sal wees om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hulle het geëet en in sonde verval.
Die verhaal van Josef en Potifar se vrou is ook ’n mooi voorbeeld van ’n versoeking wat weerstaan is. Potifar se vrou bied haar liggaam op ’n skinkbord aan vir Josef vir seksuele genot. Potifar is weg. Niemand sal weet nie. Dit is vir hom ’n kompliment, wat sy manlike ego streel. As hy toegee, sal Potifar se vrou hom met geskenke oorlaai en bevoordeel. Maar wat doen hy? Hy vlug weg van haar. Potifar se vrou skeur die klere van sy lyf af en hy word valslik deur haar beskuldig. Potifar gooi Josef in die tronk. Omdat hy die Here se wil gedoen het en die versoeking weerstaan het, het die Here hom later verhoog tot die tweede hoogste in die Egiptiese Ryk. Net die Farao was hoër as hy.

Versoekinge kom in die helderste kleure, smake en in die mooiste gedaantes na jou. ’n Versoeking kan skielik oor jou weg kom, of dit kan jou algaande kondisioneer. As ’n mens ’n padda onmiddellik in warm water sit, sal hy dadelik uitspring. Maar as ’n mens hom in koel water sit en die temperatuur geleidelik verhit tot by kookpunt, sal die padda so gekondisioneerd wees, dat hy nie eers sal agterkom die temperatuur styg nie. Die padda sal doodbrand in die warm water.
’n Ongeoorloofde seksuele verhouding kan begin by ’n flirtasie, later word dit ’n verhouding en nog later owerspel. Versoekinge is soos jakkalsies wat ons grootmaak. In die begin heel onskuldig, maar later verwoes dit jou lewe. Dit kan byvoorbeeld lelike gedagtes wees, want wie sal nou seerkry? Maar later word dit kwaadpraat en skinder.
Mag ons maar besef hoe broos ons is en hoe maklik ons in versoeking val. Juis daarom leer die Here Jesus ons om daagliks te bid: “Laat ons nie in die versoeking kom nie.”
Martin Luther het by geleentheid gesê dat hy met die vyfde bede “Vergeef ons oortredinge” gaan lê en slaap, maar met die sesde bede “Laat kom ons nie in die versoeking nie” opstaan.
Dit gaan oor ’n worstelstryd. Ons moet ons afhanklikheid besef. Maar nou vra die Here Jesus nie van ons iets wat Hy nie self al deurgemaak het nie. Hy is drie maal in die woestyn versoek met die begeerlikste beloftes, maar Hy het dit al drie keer van die hand gewys. Hy het aan Sy Vader getrou gebly. Die Here Jesus het dan ook die bose oorwin. Die “bose” kan nie besit van ons neem nie. Hy kan ons wel verlei, maar nie besit nie. Ons behoort mos immers vir tyd en ewigheid aan Jesus, ons getroue Saligmaker en Verlosser. Christus het alreeds die “bose” volledig oorwin en verslaan. Alleen in Christus en deur die krag van die Gees kan ons versoekinge oorwin.
Met die sesde bede vra ons dat ons tog nie uit die kragveld van Sy genade en Gees sal beweeg nie.
Iemand het die volgende beeld gebruik: Wanneer ’n groot skip deur die golwe van ’n stormagtige see klief, skep hy ’n vaarwatergebied wat ’n sterk suigkrag uitoefen. Kleiner skepe en bote ontdek dat hulle hier as’t ware in die krag van die groot skip kan vaar. Hulle ontdek dat hulle meegesleur word, en dat hulle in sy vaarwater veilig is teen die deinings van die stormsee. Wie buite die vaarwater van die groot skip beweeg, loop gevaar om in die storm onder te gaan en op die seebodem te beland. Wie buite die vaarwater van die moederskip beweeg, ontdek aan die een kant sy eie broosheid, aan die ander kant die felle woede van die see. Wie binne die vaarwater bly, ontdek die krag van die moederskip en bly behoue. Christus, ons hoëpriester, het die stormsee van versoeking deurklief. Hy het alles ervaar wat ons versoeking sou kon noem: die storm, die stryd, en die drang van menswees. Hy het nie ondergegaan nie. In die proses laat Hy vir ons die vaarwater van sy vergifnis na, die suigkrag van Sy oorwinning. Wie in hierdie vaarwater bly, is veilig, word meegeneem in die triomf. Wie daarbuite wil gaan, wie self die felle aanslag van die bose-drie-eenheid wil trotseer, sal ontdek dat hy / sy nie eens ’n oomblik bo die water kan uithou nie.
Versoekinge moet veral in die gedagtes beveg word. Ons moet die negatiewe gedagtes in die gevangenis werp – en nie meer daaraan dink nie. Ons moet eerder aan Christus en die goeie dinge dink.
Mag ons daagliks hierdie bede bid en daagliks daaraan herinner word dat ons in ’n gevegsituasie is. Dank God vir hierdie oorwinning in Jesus Christus.

Vandag is Pinkstersondag. Mag ons elke dag in die veilige vaarwater van God se Gees wees. Deur die Gees se werking kan ons die versoekinge weerstaan. Deur die krag van die Gees kan ons die gawes van die Gees in Gal 5 uitleef.
God het Sy Gees vir ons geskenk om ons nuut te maak met nuwe begeertes. Daarom moet ons in die Gees lewe. Om in die Gees te lewe, beteken om gehoorsaam te wees aan die opdragte van die Woord.
Daarom bewaar die kragveld van die Gees ons van versoekinge.
Leef Geesvervuld!
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)