SKRIFLESING: Johannes 13: 1 – 13 en Handelinge 9: 36 – 43
Die handdoek is die simbool van diens. Met die voetewas van die dissipels het die Here ’n handdoek om Hom vasgemaak om te dien.
Die teenoorgestelde van diens is egoïsme en onbetrokkenheid. Diens maak ’n einde aan die wêreld se behoefte en begeerte dat daar ’n “rangorde” moet wees. Ons is baie soos hoenders. In die hoenderhok is daar geen vrede voordat dit nie duidelik is wie die belangrikste is nie. En wie die onbelangrikste is nie en wie ander status tussenin het nie. Die gefladder hou eers op as die rangorde uitgesorteer is. ’n Groep mense kan nou eenmaal nie lank genoeg bymekaar wees nie of ’n “rangorde” moet duidelik bepaal word.

Is dit nie vreeslik as mense baklei oor wie die belangrikste is nie. Die twaalf dissipels van die Here het gedurig onder mekaar gevra wie die belangrikste is. Toe leer die Here Jesus vir sy dissipels ’n les in Johannes 13. Johannes 13 speel af terwyl die kruisdood van Jesus baie naby is. Dertien mense was byeen. Jesus en sy twaalf dissipels het daar in die bokamer vergader vir ’n maaltyd.
Hierdie maaltyd was dan ook die geleentheid waartydens die eerste Nagmaal ingestel is. In plaas daarvan dat die dissipels hulle bekommer het oor die naderende kruisdood van Jesus, was hulle eintlik met hulself besig. In die ander Evangelies lees ons dan ook van die twee selfsugtige vrae wat in hul gemoed geleef het. Wie is tog die belangrikste? Wie sal die naaste aan die regterkant van die Here sit? (Die regterkant was die ere-posisie in daardie tyd.) Wie sal tog bereid wees om homself neer te buig om die voete van die ander te was? Wie sal met ander woorde die slawewerk doen? Die twee selfsugtige vrae daar rondom die eerste Nagmaalstafel het eintlik gegaan oor wie die waardigste is en wie die onwaardigste is. Wie die belangrikste is en wie die onbelangrikste is. Wie bedien sal word en wie sal dien. So dikwels dink ons net soos die dissipels. Ons almal wil graag belangrik wees, maar niemand wil dien nie. Dan lees ons in vers 1 van Jesus se gesindheid. Ja, Jesus het liefgehad tot die uiterste toe. Hy het liefgehad met ’n besondere liefde. Die liefde wat wil gee, sonder om iets terug te wil ontvang.

Die self-gesentreerde dissipels rondom die self-opofferende Messias. ’n Kontras wat die hele Evangelie-boodskap weerspreek. So weerspreek ons elke keer die Evangelie wanneer ons eie belang en die “eie ek” voorop stel. Maar Jesus lees hulle gedagtes. Hy ken hulle hoogmoedige gesindheid. Daarom wil Hy vir hulle iets van ware dissipelskap leer. Ons lees in vers 5 hoe hy sy bokleed uittrek, op sy knieë gaan en die voete van die dissipels was. Die gebruik in daardie tyd was dat ’n nie-Joodse slaaf die voete van almal gewas het voor ’n maaltyd. Hier het Jesus dus die werk van ’n slaaf kom doen. Hierdie voetewassing deur Jesus het ook heengewys na Jesus se kruisdood. Soos Jesus die voete van sy dissipels gewas het, so het Jesus aan die kruis ons sonde met sy bloed afgewas. In albei gevalle was die Here bereid om te dien.

Gelowiges, maar nou vra die Here dat ons mekaar ook sal dien. Ons moet Christus se voorbeeld navolg. En, geliefdes, hoe dien ons mekaar? Deur met my alles in diens te tree vir my medemens. My geld, talente, besittings, geestelike gawes, my hande, my voete, my tyd – ja, my alles moet gebruik word in my medemens se belang. Dit is ook mos hoe Christus gedien het. Ook Hy het sy alles, tot sy lewe, in diens van ons gestel. Christus het eenmaal die groot kruis van diensbetoon na Golgota gedra, maar nou verwag Hy dat u en ek ook bereid sal wees om ons klein kruisies van diensbetoon te dra in hierdie wêreld. Verse 34 en 35 som as’t ware die hele teksgedeelte op: Christus wil vir ons sê:
* Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
* Soos Ek julle bedien het, moet julle mekaar dien.
Wie so ’n dissipel van die Here is, is geloofwaardig. Met ander woorde, die egtheid van ons geloof word getoets aan die mate waarop ons diens heenwys na Christus. Christus het jou BEDIEN aan die kruis, daarom moet ons mekaar DIEN.

Nog ’n mooi voorbeeld in die Bybel van diens is die verhaal van Tabita of ook Dorkas wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal, Jood en Griek, het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”
Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.
Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas was haar Griekse naam. Sy was letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend as ’n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid getref nie.
In die Bybel was ’n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ’n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend. ’n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.

Toe Tabita tot sterwe kom, was daar hartseer onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek bymekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.
Tabita het ’n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde: “Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”
God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ’n goeie spoor na te laat. Ja, om ’n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.
Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ’n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te maak nie, maar onvoorwaardelik te dien.
Ware heiliges is mense soos Tabita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is óf ons lewe van so ’n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien, as ons ’n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.

Dit gaan nie daaroor dat ons alle vorms van leierskap of gesag moet afskaf nie. Die punt is eerder dat Jesus ’n heel ander betekenis aan leierskap gegee het. Om te kan lei, moet jy bereid wees om te kan dien. Daarom staan daar in Mat 20: 25 – 28 die volgende: “Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee.”
Daarom word die geestelike gesag van Jesus nie deur ’n posisie of ’n titel bepaal nie, maar deur ’n handdoek.
Ons moet versigtig wees vir selfvoldane diens wat begaan is oor “’n groot storie” en begaan is oor indrukwekkende winste op die geestelike telborde, sê Richard Foster. Diens moet in nederigheid en sonder selfvertoon geskied.

Van al die geestelike dissiplines bevorder diens die groei van nederigheid die meeste. Die skrywer Law verstaan dat dit die dissipline van diens is wat ’n mens nederig maak.
Die voortreflikste diens is die diens wat in die verborgenheid plaasvind. Selfs openbare leiers kan diens verrig wat nie in die algemeen bekend is nie. As ons net dien daar waar ons raakgesien word, is ons beslis oppervlakkige mense.
Daar is ook die diens om ander mense se reputasie te beskerm, soos Bernard van Clairvaux dit stel, naamlik die diens van “mensliewendheid”. Daarom is dit ’n diens om jouself vry te hou van skinderpraatjies en kwaadpratery. Die apostel Paulus leer ons om nie van iemand kwaad te praat nie. Die dissipline om stil te bly, kan wonders in ons lewens verrig.

Daar is ook die diens van gasvryheid. In die Bybelse tyd was gasvryheid baie hoog gereken. Ons voorouers, veral in die Voortrekkertyd, was ook bekend vir hulle gasvryheid. Toe daar nog nie motors was nie en die mense met perdekarre gery het, het hulle by elke huis langs die pad gekuier en gehoor wat hulle vir die mense kan saambring uit die dorp.
Daar is ook die diens van luister. Ons praat te veel en luister te min na mekaar. Net soos ons na die Woord moet luister, moet ons na mekaar luister. Ons hoef nie die regte antwoorde te ken om goed te luister nie. Die regte antwoorde verhinder ons om somtyds goed te luister.

Daar is ook die diens om mekaar se laste te dra. Daarom is die kerk as gemeenskap van gelowiges daar om mekaar te ondersteun in voorspoed en in swaarkry.
Diens kan nie in “absentia” gelewer word nie. Dit vereis ons persoonlike betrokkenheid. Soos Franciskus van Assisi moet ons die melaatse aanraak en na die een in nood uitreik. Die dissipline van diens vra van ons om te dien sonder onderskeid.
Daarom moet ons elke dag begin deur te bid: “Here Jesus, soos dit U behaag, stuur vandag iemand wat ek kan dien, na my toe.”
Mag dit ook u bede wees.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.