SKRIFLESING: Jes 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30
“Die Christen moet van kop tot tone ’n halleluja wees.” (Augustinus van Hippo)

Lofprysing is die hart van Christus se weg. Jesus het die wêreld binnegekom op ’n hoë jubeltoon: “Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees.” (Luk 2: 10)
“Die Jubeljaar of hersteljaar dui in die Ou Testament op elke 50ste jaar wanneer die armes in Israel vrygelaat is, hulle skuld afgeskryf is en hulle as wettige eienaars na hulle grond kon terugkeer (Lev 25: 8-17, 23, 54). Verder moes die Joodse slawe vrygelaat word. Daar was besonder interessante gebruike in hierdie verband. Omdat die grond in beginsel aan die Here behoort het, kon dit nooit regtig verkoop word nie (Lev 25:23). Al wat verkoop is, is die opbrengs van die land. Dit het beteken dat die koopprys bepaal is in die lig van die aantal oeste wat oor is voor die volgende Jubeljaar. Grond het dus al goedkoper geword soos die Jubeljaar nader gekom het.” (www.bybelkennis)
Die Here Jesus het sy openbare bediening begin deur die Genadejaar (Jubeljaar) aan te kondig. (Luk 4: 18,19) Daarom is Jesus se koms na hierdie wêreld een groot vreugde en blydskap.
Die Here se eerste koms is die Genadejaar en Sy tweede koms is die wederkoms, die Oordeelsjaar. In Luk 4: 16 – 30 het die Here Jesus die profeet Jesaja in Jes 61: 1 – 2 woordeliks aangehaal, maar het opgehou net voor die laaste gedeelte van vers 2 wat lui: “…ons God se dag van wraak,…” Hy het met ander woorde Jesaja aangehaal tot en met die Genadejaar, toe opgehou lees en die boekrol toegemaak en gaan sit om te preek. Hy het nie die gedeelte van die oordeel gelees nie, omdat dit eers later kom. Jesus het nie die Joodse gebruik gevolg om Sy preek met oordeel af te sluit nie. Juis daarom was dit een van die redes waarom die skrifgeleerdes en die Jode Hom verwerp het.
Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die Genadejaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar:
…. om die Evangelie aan die armes te verkondig (hulle wat armoedig voor God is)
….. vrylating vir gevangenes (hulle wat gevange gehou word deur hul sondes)
….. herstel van die gesig van die blindes (hulle wat nog blind vir die Here is)
….. Hy het gekom om die Genadejaar aan te kondig.
Geliefdes, daarom skilder die Nuwe Testament nie vir God as ’n harde ongenaakbare despoot nie, maar as ’n liefdevolle God.
Stephan Joubert beskryf dit duidelik: “Terwyl ons mekaar afskryf, skryf God ons in genade op.” Ons kan so maklik met ’n veroordelende vingerwysing mekaar afskryf en veroordeel. Ons weeg mekaar en as ons iemand te lig beskou, ignoreer ons dié persoon of smeer sy naam swart. Met veroordelende harte weeg en beoordeel ons mekaar. Vir genade is daar geen plek nie.

Daarom is my werk nie om vir u te vertel wat u moet doen en nie moet doen nie. Ek moet nie die oordeel van God aan u verkondig nie, dit is God se werk met die Wederkoms. Nee, my taak is om elke Sondag aan u ’n ander kant , ’n ander faset van God te verkondig. Om God se liefde in al sy veelkleurigheid en vrolikheid aan u te verkondig. My taak is nie om u met prediking te veroordeel nie, maar om vir u elke Sondag te verkondig dat God vryspreek en liefhet.
Daarom het die Here Jesus ook die owerspelige vrou in Joh 8 nie veroordeel nie, maar aan haar genade betoon omdat dit die Genadejaar van die Here Jesus is. Wanneer die kerk iemand vermaan of tugtig, is dit nie om iemand te veroordeel nie, maar om so iemand reg te help (op te help). Daarom geskied die kerklike tug altyd in liefde.
Die Genadejaar strek vanaf Christus se geboorte tot en met Sy wederkoms. Daarom leef ons hier in die jaar 2023 nC in die Genadejaar van die Here. Eers as die horlosie en die kalender van hierdie wêreld gaan staan, hou die Genadejaar van God op. Tot dit egter gebeur, moet die kerk van die Here die Genadejaar verkondig.
Daarom preek ons Gereformeerde dominees so min oor die hel en oordeel van God: omdat ons nog in die Genadejaar van die Here lewe. Dit is die GENADEJAAR! U as Nuwe-Testamentiese gemeentes, Adelaide en Fort Beaufort, lewe binne in die Genadejaar. Wat ’n voorreg!

Daarom is dit my vreugde om elke Sondag aan u die GENADEJAAR van die Here te verkondig. Om elke Sondag ’n ander kant of faset van God se liefde, genade en deernis aan u te verkondig. U moet elke Sondag verwonderd staan voor God se ongelooflike liefde.
Wanneer die Evangelie so gebring word dat dit jou bang maak, is daar ’n probleem. ’n Bangmaak-evangelie het in homself die kiem van dwaalleer. Die woord EVANGELIE beteken immers “goeie tyding” of “goeie boodskap” en daarom wil die Evangelie jou vry maak, jou los maak. Ja, die Evangelie wil vir jou vreugde en blydskap bring. Die toets van suiwer Woordverkondiging is of die Woord werklik “vry maak” om ’n nuwe verloste lewe te lewe.
Mense word nie verander deur bangmaak-prediking nie, maar deur liefdevolle prediking, waarin hulle telkens verstom staan voor die wonder van God se liefde vir die wêreld.
Jubel in die Here, Gemeente! Julle is bevoorreg om in die Genadejaar van ons Here Jesus Christus te lewe. Omdat ons in die Genadejaar van die Here lewe en die Here aan ons, soos aan die owerspelige vrou in Joh 8, genade betoon, moet ons ook aan mekaar genade betoon.
Daarom staan daar in Luk 6: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word.”
Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die Genadejaar van die Here Jesus Christus.
Gemeente, dank God dat ons nog in die GENADEJAAR van ons Here Jesus Christus leef. GOD SE GENADE IS DAAROM GROTER AS SY OORDEEL.
Om vry te wees van angs en bekommernis, is die basis van ons jubeling. Omdat ons weet dat Hy vir ons omgee, kan ons ons bekommernisse op Hom werp. “God het ons droefheid in dans verander,” skryf Richard Foster.
Blydskap is die hart van alle geestelike dissiplines. Sonder ’n gees van vreugde en blydskap verander die dissiplines in die somber gees van die Fariseërs en Skrifgeleerdes, wat alles uit plig gedoen het. Elke dissipline moet gekenmerk word deur innerlike blydskap en dankbaarheid.

Vreugde en blydskap maak deel uit van die vrug van die Gees. (Gal 5:22) Vreugde is die motor wat alles laat loop. Blydskap gee vonk aan al die gawes van die Gees. ’n Mens moet iets uit vreugde en blydskap doen of dit laat vaar.
In Luk 11: 27 – 28 staan daar: “Terwyl Hy dit sê, het ’n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: ‘Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!’ Maar Hy antwoord: ‘Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’” Daarom, om blydskap voort te bring, moet gehoorsaamheid deel van ons alledaagse lewe word. Blydskap word nie gevind in die sing van sekere soorte musiek, sosialisering met die regte soort mense of selfs in al die charismatiese gawes van die Gees nie. Vreugde en blydskap word gevind in gehoorsaamheid.

As daar lyding en bekommernisse is, staan daar in Fil 4: 4 die volgende: “Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
Paulus laat egter nie die saak daar vaar nie. Gebed en vertroue alleen is nie genoeg om vir ons blydskap te bring nie. Hy noem in Fil 4: 8 ook die dinge waarop ons onsself moet instel, naamlik: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”
Die Here Jesus het in Sy 33 jaar op aarde in blydskap geleef, in so ’n mate dat die Fariseërs hom valslik daarvan beskuldig het dat Hy ’n dronklap en ’n vraat is. Jesus Christus het ’n humorsin gehad – jy kan net luister na sommige van sy gelykenisse.
So moet ons ook van kerklike feesdae dae van blydskap maak – deur dit spesiaal te vier. Ons moet iets groots maak van Kersfees, Aswoensdag, Palmsondag, Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en ook ander feesdae.
Mag ons altyd blymoedig wees. Mag ons altyd die positiewe soek, sodat ons dankbare mense kan wees. “Die Christen moet van kop tot tone ’n halleluja wees.” AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.
http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-joodse-feeste
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.