Gee ons vandag ons daaglikse brood …

SKRIFLESING:  Mat 6: 9 – 14

                           Heidelbergse Kategismus: Sondag 50, Vraag 125   

Vraag: Wat is die vierde bede?

Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: (1)Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, (2) sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, (3) en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. (4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

Dit is ’n voorreg om ’n aardse pa te hê. Dit is egter ’n troos om jou hemelse Vader te ken, want God staan PA vir Sy kinders. Dit is nie soos sommige aardse vaders, wat aandring op vaderskaptoetse voor hulle eers onderhoud betaal nie. God ontken nooit Sy vaderskap van Sy kinders nie.

God is ook nie onbetrokke of ’n afwesige vader nie – soos die deïsme leer nie. God is die liefdevolle, versorgende God wat PA staan vir Sy kinders. Dit is die refrein, die goue draad wat deur die hele Bybel loop.

As ek aan God dink, dink ek aan ’n klomp voëltjies in ’n nes, wat met oop bekke skreeu om kos. Dan kom die ouer en hy voed hulle. Voëltjies is afhanklik van hul ouers. So is ons ook afhanklik van God.

Die moderne mens hou nie van die beeld nie. Die mens wil selfversorgend en selfvoorsienend wees. Kinders droom daarvan, jongmense werk daarvoor, grootmense beplan daarvoor en bejaardes vrees om dit te verloor.

Dan kom leer die Here vir ons om te bid vir ons daaglikse brood in die “Onse Vader” gebed. Die eerste drie bedes gaan oor om groot oor God te dink en die vierde bede handel oor om God ook in die klein dingetjies soos daaglikse brood, raak te sien.

God is betrokke in die alledaagse. God gee om. God sien raak. Jy is vir God belangrik.

Vraag 125 antwoord:  (1) Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is.

Die vierde bede bestaan in Afrikaans uit ses woorde: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

GEE – Dit word nie as ’n eis gestel nie, maar as ’n gebed. Ons demand nie. Ons mense het nie “regte” voor God en ons medemense nie, ons het net voorregte. Daar is nie plek vir humanisme in die Bybel nie. Die vierde bede is ’n bede van afhanklikheid.

ONS – Ek moet nie bid vir “my” brood nie, maar ek moet bid vir “ons” brood. In die kapitalistiese stelsel sorg elkeen net vir homself en sal ek vir my brood veg, ten koste van ’n ander een se brood.

Daarom moet die werkgewer bid vir sy werknemer, die ryke vir die arme en die winkelier vir sy klant. Dit maak my ook aanspreeklik vir ander mense se brood op hulle tafel. Daarom moet ek ook bekommerd wees as ander mense nie brood op hulle tafel het nie. Daarom mag ek my oë nie sluit vir die ellendes van hierdie wêreld nie.

VANDAG – Ons is mense wat voorsiening wil maak vir môre en oormôre ook. Ons is soos die miere wat voorsiening maak vir die winter ook. Dit is nie verkeerd nie, die natuur leer ons immers daarvan. Maar dit word ’n fout as ek my heeldag bekommer oor die dag van môre. Dan lewe ek so in die toekoms, dat ek nie die hede kan waardeer nie. Bekommernis oor môre steel die vreugde van vandag. Die Here het vir die volk Israel in die woestyn ook geleer van afhanklikheid, deurdat hulle kwartels en manna net vir een dag op ’n slag moes optel. Slegs die dag voor Sabbat mag hulle vir twee dae voedsel bymekaar maak. Sou die Israeliete vir meer as een dag optel, het dit vrot geword en dan het daar ’n stank uit daardie tent uitgekom en is hulle in verleentheid gestel omdat hulle nie by God se verordeninge gehou het nie.

ONS – Gods brood het ons brood geword. Alles behoort mos aan die Here. Omdat ons God se kinders is, behoort Sy brood ook aan ons. Ons is nie bedelaars of vreemdelinge wat moet bedel by God om brood nie. Nee, ons is God se kinders wat brood kan vra, juis omdat ons Sy kinders is. In ons doop is ons daaglikse brood gewaarborg, want ons behoort deur die doop aan God.

DAAGLIKSE – Ons is daagliks van God afhanklik. Ek is elke dag, elke uur, elke minuut, elke sekonde van God afhanklik. Ek is nie net in nood van God afhanklik nie. Ek is in goeie én slegte tye van God afhanklik. Ek leef daagliks uit God se hand.

BROOD – Ek moet nie weelderigheid van God afbid nie. Ek bid om die noodsaaklike en nie vir oordaad en weelde nie. Die gebed leer ons nie bid vir konfyt ook nie. As ek konfyt kry, is dit genade omdat God vrygewig is. My brood vir vandag sluit in my huis, my gesondheid, my klere, politieke vrede, my salaris, my vriende, my lewensmaat, asook my saligheid. (Brood vir die lewe). Ek moet nie vra vir rykdom of armoede nie, maar om my beskeie deel. Dit is genoeg vir my.   

(2) Sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is.

Omdat God vir ons ons daaglikse brood gee, moet ons elke dag vir God dank en loof vir ons lewe, ons gesondheid, ons klere en alles wat ons van God ontvang. Ons moet die Here ook baie spesifiek dank. Toe my dogter Unine ’n klein dogtertjie was, het sy altyd met die tafelgebed baie spesifiek vir alles op haar bord gebid. Sy het gebid: “Dankie vir my vleis, pampoen, rys, boontjies ….”

Dikwels bestaan ons lewe net uit KLA, in plaas van DANK. Deur die dekades, word boere veral beskryf as mense wat maklik kla. Daarom is daar die grappie: “Watter maand kla die boere die minste?” Dan die antwoord: “Februarie-maand, want dié maand het die minste dae.” Daarom moet ons doelbewus dankbaarheid soek, selfs in die moeilikste omstandighede.

“As ’n mens vir my ’n skottel sand gee,” sê Holmes, “en vir my sê daar is ysterdeeltjies in, kan ek dit met my oë soek en met my lomp vingers daarna soek en dit nie opspoor nie. Maar laat ek ’n magneet neem en daardeur vee, en die mees onsigbare deeltjies sal nader getrek word, deur die blote krag van aantrekking! Die ondankbare hart, soos my vinger in die sand, ontdek geen genade nie. Maar laat die dankbare hart die dag oordink, en soos die magneet die yster vind, so sal dit gereeld ’n paar hemelse seëninge vind.”

(3) En dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie.

As die Here iets nie seën nie, loop dit op niks uit nie. Die landbouer kan maar ploeg, maar as die Here die oes nie seën nie, is die ploeg tevergeefs. Jy kan baie kos in jou huis hê, maar as jy nie die eetlus het nie, baat dit jou niks nie. Jy kan heelweek geestelike werk doen, maar as die Here dit nie seën nie, gaan dit geen vrug dra nie. Daarom moet ons altyd bid vir die Here se seën op alles. Beethoven het elke oggend gebid: “Here, help.” In die aand het hy gebid: “Soli Deo Gloria.”

(4) Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

Dit is so belangrik. Ons hulp kom nie van mense nie, maar van God. Ek moet nooit my vertroue in myself of ander mense stel nie. Ek moet my vertroue buite myself stel op die Here Jesus. Die water het wyn geword by die bruilof in Kana, omdat Maria haar vertroue in Jesus gestel het. Deur God se krag en ingryping vul Elisa ook die vate olie van die weduwee.

Ook in Suid-Afrika se netelige politieke situasie, kan ons alleen maar ons vertroue op die Here Jesus stel. Ons kan alleen maar die Here vertrou met die bloedige oorlog in die Oekraïne en dat die oorlog nie verder sal uitkring nie.

Jesus se gebreekte liggaam het ons brood (geestelike brood) geword. God het voorsien en versorg: brood vir die liggaam en brood vir die gees.

Mag God gee dat ons ons totale afhanklikheid sal besef.

AMEN 

(Preekinhoud aantekeninge is jare gelede van ‘n preekbundel geneem, waarvan ek die skrywer vergeet het. Ek het inhoud bygewerk.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Skaakmat!

SKRIFLESING:  Rom 4: 25, 1 Kor 15: 54 – 58

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs”. Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin – deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem. Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai” – Dit is volbring, is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word. Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: “Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.” Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: “Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.”

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra, as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor. Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : “Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmat-posisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef: Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande – die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.”

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop vir ’n kort rukkie rond. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood; Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie; Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! Dit is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood. Jesus se opstanding is God se “amen” en die mens se “halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Tetelestai – Dit is volbring!

SKRIFLESING:  Johannes 19:30

Meestal spog mense oor hoeveel jare diens hulle gehad het by ’n firma of ’n onderneming. Party het 20, of 30, of 45 jaar diens gehad. Elkeen wat aftree, kry gewoonlik ’n groot feestelike afskeid. Jesus se bedieningstyd was ’n skrale drie jaar. Daar was hoogtepunte en laagtepunte. Uiteindelik is Hy uit Sy diens ontslaan deur aan ’n kruis van skande te hang, om die skande van die mensdom weg te neem. 

In die oorspronklike Grieks word die drie Afrikaanse woorde “Dit is volbring” in een woord saamgevat naamlik “Tetelestai”. Die woord is in Jesus se tyd algemeen gebruik.

“Tetelestai” is die sesde kruiswoord, wat oorwinning beklemtoon. Dit is die hoogtepunt van die kruisiging, want hiermee sê Jesus dat Sy werk afgehandel is. Hy het betaal vir die sonde van die mensdom.

Ds Jean Strydom en Weila-Marie Strydom het in hulle boek Sewe kruiswoorde van die Here, wat in 2010 verskyn het, ’n interessante verdeling gemaak van die gebruik van die woord “Tetelestai”.  Hulle pragtige verduideliking word hieronder opgesom.

“Tetelestai” was gebruik deur:

  • Kunstenaars
  • Diensknegte
  • Priesters
  • Handelaars

Kom ons kyk na die vier gebruike.

  1. Kunstenaars

Wanneer ’n kunstenaar sy kunswerk voltooi het, het hy teruggestaan en gesê: “Tetelestai” – dit is voltooi! In die Ou Testament leer ons dat God net praat deur beelde, simbole, die verskyning van engele, die Tien Gebooie, wette, profetiese voorspellings en wysheidsliteratuur. Maar ons ken God net gedeeltelik deur die Ou Testamentiese Openbaring.

In die Nuwe Testament ontdek ons God in Johannes 1 as die vleesgeworde Woord, wat die menslike natuur aangeneem het. Hierdie vleesgeworde Woord is Jesus Christus. In Jesus word die kunswerk van God se openbaring voltooi. God se hart vir die mensdom word geskilder in Jesus se sewe kruiswoorde aan die kruis. God het so lief gehad, dat Hy sy Seun aan die kruis laat sterf het. Dit was die finale kwasstrepe, wat openbaar hoe groot en wyd God se liefde strek. Die kunswerk van die Godsopenbaring is voltooi –  “Tetelestai”.

2. Diensknegte

Wanneer ’n meester aan ’n dienskneg ’n opdrag gee en die taak is voltooi, sal die dienskneg vir sy meester sê: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

So het die Vader ook Sy Seun met ’n opdrag na die wêreld gestuur. Die opdrag was om die wêreld te red van sonde en die nuwe Koninkryk te vestig. Vir die Here Jesus Christus het dit gevra om ’n lydenspad te stap. Jesus Christus was die groot dienskneg wat Sy dissipels se voete gewas het. Die lydenspad het geëindig met ’n wrede dood aan ’n kruis vir die wêreld se sonde. Aan die kruis kon Jesus uitroep: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

3. Priesters

Die Jode moes eers hulle offerandes na die priesters bring om seker te maak daar is geen foute of gebreke aan hulle offers nie.  Nadat die priesters die offer deeglik ondersoek het en geen fout kon vind nie, het hy die Hebreeuse ekwivalent vir die Griekse woord “Tetelestai” gebruik, wat beteken “die offer is perfek.” Jesus aan die kruis was die perfekte en volmaakte sondelose offer. Selfs sy vyande het erken Hy het geen foute nie. Pilatus het bevestig dat hy geen skuld in hierdie man sien nie (Luk 23:4). Judas het ook in Mat 27:4 erken dat hy ’n onskuldige man verraai het. Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”,  was dit die bevestiging dat die perfekte offer gebring is.

4. Handelaars

Vir die handelaars het die woord “Tetelestai” verwys na die betaling van iets wat geskuld word.

As jy iets koop, sou die handelaar jou geld neem en aan jou ’n bewys van betaling, ’n kwitansie, uitreik. Op die kwitansie sou staan: “Tetelestai – ten volle betaal.” Tetelestai is dus ’n rekenkundige term wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van ons opgestapelde sonde nou ten volle deur Jesus betaal is. Ons het geen skuld meer nie. The slate is clean! Toe Jesus aan die kruis uitroep:  “Tetelestai”, het Hy bedoel al ons sondes is ten volle betaal.

Vir die dissipels en volgelinge was die Vrydag van Jesus se kruisiging ’n swart Vrydag. Christus het gesterf. Eers later, na Paassondag, sou die vroeë kerk in perspektief die dag waarop Jesus gesterf het as ’n Goeie Vrydag beskou.

In die sestiende eeu het Oliver Cromwell beveel dat ’n Engelse soldaat vir ‘n lafhartige misdaad geskiet word. Die teregstelling sou met die aandklok plaasvind. Maar op die vasgestelde tyd het geen geluid uit die kloktoring gekom nie. Ondersoek het aan die lig gebring dat die meisie wat verloof was aan die veroordeelde man, in die kloktoring geklim het en aan die bel van die reusagtige klok vasgeklou het om te keer dat dit slaan. Hulle het haar daar gekry met haar hande bloeiend en aan flarde geskeur. Die Engelse soldaat is toe uit genade vrygelaat, vanweë die dapper optrede van sy verloofde.

Almal van ons is sondaars onder die doodsvonnis. Maar Christus het namens ons ingegryp. Kyk na Sy gekneusde en bloeiende spyker-deurboorde hande aan daardie kruis.

Die doodsklok lui nie vir ons nie. Ons is vrygespreek.

Tetelestai – Dit is volbring!

AMEN

BRONNELYS

Strydom, Jean & Strydom, Weila-Marie, 2010. Sewe kruiswoorde van die Here.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die doop is ’n waarborg.

SKRIFLESING:  Gal 3: 27

Die ongebore embrio is met ’n naelstring aan die moeder verbind. Met geboorte word daardie naelstring geknip. Met die doop word ’n nuwe naelstring gevorm tussen die dopeling en God. Daarom is die doop ’n belangrike geleentheid in ’n dopeling se lewe. ’n Mens word nie met jou belydenisaflegging deel van die kerk nie, maar met jou doop. Jou doopdatum is die datum waarop jy ingeskryf word in die geskiedenis van die Here se kerk op aarde. So word jy deel van God se verbond, wat met Abraham begin het. Vandag word Francois Loots ingeskryf in God se genadeverbond. Vandag is die belangrikste datum in sy lewe. 

Die doop is God se waarborg oor jou lewe. Met jou doop waarborg die Here dat Hy vir jou gesterf het en al jou sonde afgewas het. Daarom staan daar in Gal 3: 27 die volgende: “…. want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ’n kleed aangetrek.” Wanneer jy in Christus gedoop is, het jy Christus aangetrek soos ’n kleed wat jou naaktheid, jou sonde bedek. Dit is ’n waarborg dat jy deur Christus se verlossingswerk gered is en nie deur jou eie toedoen nie. Tereg het Charles Spurgeon gepredik: “It is not your hold of Christ that saves you, but his hold of you.”

Wanneer jy ’n nuwe voertuig koop, kry jy ’n fabriekswaarborg vir omtrent 100 000 km of drie jaar. Dit beteken dat die fabriek sal instaan vir enige foute wat die voertuig opdoen in daardie tyd. Die Here Jesus staan ook in vir ons foute en sondes, maar met ’n belangrike verskil, naamlik dat dit ’n lewenslange waarborg is – dat Hy ons sonde weggeneem het of dan ons sondes met Sy “kleed” bedek het.

Die doop beklemtoon dat God alleen die inisiatief neem in ons verlossing en alleen die verlossingswerk doen. Ons kan God nie help nie. Dit het baie skeef geloop toe Abraham en Sara vir God probeer help het.

Die teken  van die verbond voor die doop was die besnydenis. Abraham was die eerste man wat besny is en God het vir hom en Sara ’n groot nageslag belowe soos die sand van die see of die sterre aan die hemelgewelf. Maar alreeds in hulle negentigerjare en nog geen kind op pad nie, het hulle begin twyfel aan God se waarborg van ’n groot nageslag. Hulle maak toe hulle eie plan. Sara moedig vir Abraham aan om by haar slavin Hagar te gaan slaap. Hagar verwek toe die seun Ismael. Maar God staan by Sy waarborg. Hy maak sy belofte waar deur vir Abraham en Sara die seun Isak te gee. Maar toe ontstaan daar twis en jaloesie tussen Sara en Hagar. Abraham is gevolglik gedwing om Hagar en die seun Ismael die woestyn in te stuur. Dit het skeiding gebring en was ook die beginpunt van die eeue-lange Midde-Oosterse konflik. Die Bybel voorspel ook daar sal nooit vrede tussen die kinders van Isak en die kinders van Ismael kom nie. Dit gebeur as ’n mens God se werk uit God se hande neem. Jy verbrou altyd.

Verwarring oor die doop bestaan as jy God nie meer in die sentrum plaas nie, maar die mens in die sentrum plaas. Dan word die mens mede-verlosser van homself. Die mens se keuses word dan die roem en nie meer Christus se algenoegsame verlossingskrag nie.

In die ou kerklike taal is die doop altyd tereg ’n “seël” genoem. ’n Seël het ook die betekenis van ’n waarborg. ’n Koninklike brief het ’n koninklike seël  opgehad om die oorspronklikheid en outentiekheid van die brief te bevestig. Dokumente is met ’n seëlring in was gedruk, verseël. Graaddokumente het ook die seël van die Universiteit op om te bevestig dit is eg en nie ’n vervalsing nie.

Jy kry ook die seël op posstukke. Die seël beteken die posgeld is ten volle betaal. Die posstuk kan afgelewer word. Netso het die Here vir al my sonde betaal. Die doop is daarvan ’n seël.

So is die doop ’n waarborg en seël dat Christus volledig vir al my sondes gesterf het en dat ek nie die Here hoef te help om my te verlos nie.

Wedergeboorte, bekering en heiligmaking is nie my aandeel aan my verlossing nie. God bewerk al die geestelike gawes wat nodig is om Hom te dien en tot eer van Sy naam te leef.

Die doop is nie ’n kinderwyding nie. Die doop is nie die toewyding van kindertjies aan die Here nie. Dit is nie die mens wat handel nie, maar God self wat handel. Nee, die doop is ’n SEëL en WAARBORG wat Jesus vir ons kom voorsien het aan die kruis. Kindertjies word volledig ingelyf in die gemeente as  gelowiges, as deel van die verbond.

Die doop is die seël wat waarborg dat die Here instaan vir al ons sondes. Hierdie seël van verlossing word vanoggend in Francois Loots se lewe bevestig. Die ouers Dawie en Leani kan nooit die waarborg wees nie. Julle kan nie instaan vir sy sonde nie. Net die Here kan instaan vir sy sonde. Dit waarborg Hy in die doop.

Dawie en Leani, julle moet vir Francois getrou deel maak van die kerk, sodat hy deur die kerk geleer kan word om lewenslank nié aan sy geloof vas te hou nie, maar aan die inhoud van die geloof, naamlik die sekerheid dat Jesus vir Francois ook gesterf het.

Die heilige doop kan net eenmaal bedien word, anders twyfel jy aan God se beloftes. Wat God eenmaal belowe het, kan nie betwyfel word nie.

In sommige Anglikaanse kerke is daar die gebruik om wanneer die erediens begin, die volgende ritueel te volg. Die priester ontmoet die ouers en die dopeling in die voorportaal van die kerk, waar daar ’n doopvont staan. Nadat die dopeling gedoop is, dra die priester die kindjie vorentoe na die liturgiese ruimte en stel die dopeling bekend as ’n nuwe lidmaat van die gemeente.

Die dopeling word nie privaat gedoop nie, want dit is ’n inlywing in die verbondsgemeente. Die verbondsgemeente dra medeverantwoordelikheid saam met die ouers om die jong verbondskinders te laat opgroei in die Christelike leer en leefwyse.

Die doop is ’n wonderlike troos. In tye van onsekerheid of aanvegtinge kan jy onthou: maar jy is mos gedoop! Ek was eenkeer ’n besoeker by ’n Anglikaanse kerk. Buite die hoofingang was daar ’n bakkie water gemonteer teen die muur. Ek vra toe wat die doel daarvan is. Die priester antwoord dat as iemand kerk toe kom en jy beleef aanvegtinge, kan jy jou vinger natmaak met die water en dit teen jou voorkop druk om te onthou dat jy mos gedoop is en daarom nie bang hoef te wees nie.

Martin Luther het erge aanvegtinge van depressie gehad. Eenmaal toe hy so ’n aanvegting beleef, het hy op sy houttafel uitgekerf: “Maar ek is mos gedoop.”

Daarom is die doop ’n heerlike troos.  Baba Francois Loots is opgeneem in God se ewige genadeverbond. Herinner hom telkens dat hy gedoop is.

Dit is ’n ewige troos.                                                                           AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Van kop tot tone ’n halleluja.

SKRIFLESING:  Psalm 150

Daar is nie een mens op hierdie aarde wat nie een of ander tyd van sy lewe nagedink het oor die sin van die lewe nie. ’n Mens dink daaroor in die krisistye van die lewe, en tydens wonderlike ervarings, met die geboorte van ’n kind, wanneer huweliksklokkies lui of by die kluitklap op die kis.

Is ek maar net ’n klein stukkie plasma in die groot heelal? ’n Klein asemteugie wat kom en gaan? Dan is dit ’n kwessie van fluit-fluit, ou kêrel, maar jou storie is uit. Die digter van Psalm 150 het gelukkig die antwoord op die vraag: “Hoekom leef ek?” Hoekom het die Here my gemaak, verlos en die ewige lewe aan my geskenk? Psalm 150 wil vir my sê: “Wie geleer het om te loof, het geleer om te leef.” Dit beteken dat jy van kop tot tone ’n halleluja moet wees. Die Psalmis eindig met die Halleluja-koor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (“loof Hom” in 2020-vertaling), wat “Prys die Here” beteken, voor.

Alles wat was – die verlede, alles wat is – die hede, alles wat nog kom – die toekoms, is daar net om een goeie rede, naamlik om God te prys en God te loof.

God is die middelpunt van al ons lofprysing.

God is nie daar ter wille van jou nie. Nee, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om God te prys en te loof.

Dit is die sin van die lewe!

Dit is waarom jy leef!

Luther praat van die TEATRUM GLORIA! Alles in die skepping wys na Hom.

Die massas materie in die donkerste uithoeke van die heelal. Die sonnestelsels, die melkwegstelsels, die planete, die komete, ruimte, tyd en energie. Die kleinste wurmpie en die kleinste miertjie op een van die kontinente, wys na God. Die herfsblare en die lentebloeisels vertel van God. Die koraalriwwe in die see en die blou pieke van die berge wat hulle vingers in die lug steek, getuig van God. Die glorie van die sonsondergang, die gekwetter van voëls en die gebruis en gebreek van die branders is God se werk. Die eerste skree van ’n pasgebore baba en die rustigheid van ’n bejaarde  is alles daar ter wille van God. Alles is daar om God te loof en te prys.

Die doel van die uitverkiesing is nie om mense se baste te red nie. Dit is om akteurs vir God se vrolike blyspel van die nuwe hemel en nuwe aarde te kies.

Die Duitse skrywer Wilhelm Fischer vergelyk die skepping met ’n magtige pyporrel. Die groot pype met die basklanke het hulle unieke dreungeluid. Die klein pypies, sommiges so groot soos ’n stopnaald, het piepfyn klankies.

As hulle op hul eie sou speel, sou dit bra eentonig wees; as hulle egter saamspeel, is dit ’n magtige simfonie. So is die skepping.

God is die groot Meester wat voor die magtige pyporrel sy plek inneem. Mensekind, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om deur God bespeel te word. Die bladmusiek is die Woord van God. Die dirigent is die Heilige Gees, wat ons opnuut vars, nootvars en nootvas, laat sing.

Prys ons nog die Here? Nie ’n vlietende oomblik of ’n los gedagte nie – maar is ons ganse lewenstyl gekenmerk deur hierdie lofuiting aan God?

Hierdie vraag “Of ons nog die Here prys?” word spesifiek aan die kerk gevra. Trouens Psalm 150 begin by die volk van God as die digter sê: “Prys God in sy heiligdom.” Die heiligdom is die tempel van ouds, waar die volk van God bymekaar gekom het.

Ons – die kerk van die Here Jesus Christus – kan God nog sinvoller as die digter van Psalm 150 prys. Vir ons is vers 2 ’n profetiese vers: Ons prys God oor sy kragtige daad in Jesus Christus, want Hy het Sy Seun vir ons gegee.

Psalm 146 tot Psalm 150 is die vyf lofprysingspsalms in die Psalmboek. Ons gelese gedeelte is die hoogtepunt en die afsluiting van die vyf lofprysingspsalms.

In die kerk moet ons so speel, so sing, so bly wees dat ons die wêreld aantrek. Die wêreld moet aangetrokke voel tot die kerk. Dit moet wees soos metaal wat na ’n magneet aangetrek word. Ja, die kerk is ’n prysende gemeenskap en nooi so ander om mee te doen.

Lofprysing veroorsaak dat die persoon vergeet van hulself, hul persoonlike belange, en om jou aandag te vestig op God, om Hom met jou hele hart te prys, om jou dankbaarheid, jou bewondering vir sy goedheid en barmhartigheid te betuig.

Miskien sê u dat u eers ’n bietjie moet wag totdat u omstandighede beter is. Miskien dink u: Op die oomblik ly ek nog te veel en lyding en lof pas nie bymekaar nie. Lyding en lof kan mos nie onder een dak woon nie. Dan moet u van die volgende kennis neem. Die Psalmdigter sing Psalm 150 nadat hy die Godverlatenheid van Psalm 22 beleef het, nadat hy deur die donker dieptes van Psalm 23 gegaan het en nadat hy geskreeu het na God soos die dorstiges waarvan Psalm 42 praat. Hy sing hierdie psalm “ten spyte van …”

Psalm 150 kan vergelyk word met die negende simfonie van Beethoven – musikaal verskil dit hemelsbreed. Maar albei sing lof vanuit die dieptes … ten spyte van lyding en smart. In die eerste bewegings van die negende simfonie hoor ’n mens Beethoven se droefheid oor sy doofheid – maar uit dieselfde musiek kom lof aan God.

Daar is ’n mooi aanhaling: “ Two persons look through the bars of a jail. The one sees the stars, the other the mud.”

Iemand het as volg opgemerk: “Ek wonder of ons nie eerder soos molle is nie? Ons doen alles, behalwe om God te prys. Ons maal in die modder rond. Ons soek sin en betekenis in die lewe. Ons oë het blind geword vir die wêreld van lig en lof. Ek sou eerder ’n voëltjie wil wees wat kan vlieg en die blou lug, en die skitterende son, tegemoet wou loop. Wat kan kwetter en kan sing. ’n Voëltjie vry om God te prys, om God te loof, om God te bewonder, om God te geniet.”

Ja, ons moet ’n halleluja van kop tot tone wees.                                                      AMEN

(Ek gee erkenning dat ek meer as 30 jaar gelede aantekeninge geneem het van ‘n preek van ‘n prediker wie se naam ek vergeet het, wat ek ryklik in dié preek gebruik het. )

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)